Die straf op die Judeërs in Egipte
1Die woord van die Here wat gekom het tot Jeremia vir al die Judeërs wat in Egipte gewoon het, in Migdol, in Tagpanges, in Memfis en in die Patrosstreek:
2So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Julle het gesien watter rampe Ek alles oor Jerusalem en al die stede van Juda gebring het; hulle is vandag puinhope en daar woon niemand in hulle nie. 3Dit het gebeur omdat julle en julle voorvaders gesondig het en My in my eer gekrenk het toe julle vir ander gode wierookoffers gebring en hulle gedien het, gode van wie julle nie voorheen geweet het nie. 4Ek het my dienaars die profete almal na julle toe gestuur, vroeg en laat, en vir julle gesê: Moenie die afskuwelike dinge doen nie. Ek haat dit. 5Maar julle het nie geluister nie, nie gehoor gegee en julle van julle sonde bekeer en opgehou om wierookoffers vir ander gode te bring nie. 6Daarom het my gramskap en my toorn ontvlam. Dit het gebrand in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem, en die stede het puinhope geword, verlate soos hulle vandag is.
7So sê die Here die almagtige God, die God van Israel: Waarom bring julle die groot ramp oor julleself, oor elke man en vrou, elke kind en suigling uit Juda, sodat daar niks van julle oor is nie? 8Julle tart My met wat julle doen, julle offer aan ander gode hier in Egipte waar julle kom woon het. So roei julle julleself uit en sal die mense op die hele aarde julle name as voorbeelde gebruik wanneer hulle mekaar iets slegs wil toewens of wil verneder. 9Het julle vergeet van die sonde wat julle voorvaders en die konings van Juda en hulle vrouens gedoen het en wat julle self en julle vrouens gedoen het in Juda en op die strate van Jerusalem? 10Julle het tot vandag toe nie berou daaroor nie, julle het nog nie eerbied vir My nie, julle leef nog nie volgens my wet en my voorskrifte wat Ek vir julle en julle voorvaders gegee het nie.
11Daarom, so sê die Here die Almagtige, die God van Israel, gaan Ek julle swaar straf en die hele Juda uitroei. 12Ek gaan dié wat van Juda oor is en wat besluit het om hier in Egipte te kom woon, heeltemal vernietig. Julle sal almal deur die oorlog en deur hongersnood afgemaai word in Egipte. Van klein tot groot sal sterf deur oorlog en deur hongersnood. Julle name sal gebruik word wanneer mense ander wil vervloek, wil bang maak, iets slegs wil toewens of wil verneder. 13Ek sal dié wat in Egipte woon, straf soos Ek dié in Jerusalem gestraf het: met oorlog, met hongersnood, met pes. 14Daar sal nie een vrykom van dié wat van Juda oor is en wat in Egipte gaan woon het nie, nie een om na Juda toe terug te gaan nie, hoe hulle ook daarna verlang om terug te gaan en daar te gaan woon. Hulle sal nie teruggaan nie, nie vrykom nie.
15Die mans, wat almal geweet het dat hulle vrouens vir ander gode offer, en al die vrouens wat teenwoordig was, 'n hele menigte, trouens, almal wat daar in Egipte in Patros gewoon het, het toe vir Jeremia gesê: 16“Ons gaan nie luister na wat jy vir ons sê in die Naam van die Here nie. 17Ons sal bly doen wat ons beloof het: ons sal vir die hemelkoningin wierookoffers bring en drankoffers uitgiet net soos ons, ons voorvaders, ons konings en ons amptenare in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem gedoen het. Ons het daardie tyd genoeg te eet gehad, ons was voorspoedig, en geen ramp het ons getref nie. 18Dit is vandat ons opgehou het om vir die hemelkoningin wierookoffers te bring en drankoffers uit te giet dat ons aan alles gebrek het en dat ons sterf deur oorlog en deur hongersnood.”
19Die vrouens het bygevoeg: “Dink jy ons het sonder die medewete van ons mans vir die hemelkoningin wierookoffers gebring en drankoffers uitgegiet en vir haar offerkoekies gebak wat soos sy lyk?”
20Toe sê Jeremia vir al die mense, vir die mans en die vrouens, vir almal wat hom so geantwoord het: 21“Het die Here nie juis gedink aan die wierookoffers wat julle in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem gebring het nie, julle en julle voorvaders, julle konings en julle amptenare, het Hy nie juis dít in ag geneem nie? 22Hy kon julle gruweldade, die afskuwelike dinge wat julle gedoen het, nie langer verdra nie. Daarom het julle land 'n puinhoop geword, iets wat mense met afgryse vervul en wat as voorbeeld genoem word wanneer mense ander iets slegs toewens, 'n land sonder inwoner, soos dit vandag is. 23Dit is omdat julle die wierookoffers gebring het en teen die Here gesondig het, omdat julle ongehoorsaam was aan die Here en nie geleef het volgens sy wet, sy voorskrifte en sy verordeninge nie, dat die ramp julle getref het soos dit vandag is!”
24Jeremia het verder vir al die mense, ook vir al die vrouens, gesê: Hoor die woord van die Here, alle Judeërs in Egipte! 25So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Julle en julle vrouens het gedoen wat julle beloof het. Julle het gesê julle sal bly by julle belofte om vir die hemelkoningin wierookoffers en drankoffers te bring. Hou by julle belofte, hou daarby, doen wat julle beloof het, doen dit!
26Maar hoor die woord van die Here, alle Judeërs wat in Egipte woon: Ek lê 'n eed af by my groot Naam: Nooit sal my Naam weer deur 'n enkele Judeër genoem word nie, niemand van julle almal in Egipte sal weer sê: “So seker as die Here my God leef” nie. 27Ek sal noulettend na julle kyk, ten kwade, nie ten goede nie, en elke Judeër in Egipte sal omgebring word: deur oorlog, deur hongersnood, totdat daar niemand oor is nie. 28Dié wat aan die oorlog ontkom en uit Egipte na Juda toe terugkom, sal min wees. Almal wat van Juda oor is en in Egipte kom woon het, sal tot die besef kom wie se woord bly staan, Myne of hulle s'n. 29Ek sal vir julle 'n teken gee dat Ek julle gaan straf in hierdie plek, sê die Here, straf sodat julle sal besef dat my woorde vasstaan, julle ten kwade. 30So sê die Here: Ek gaan die farao, koning Gofra van Egipte, oorgee in die mag van sy vyande, in die mag van dié wat sy lewe soek, net soos Ek vir koning Sedekia van Juda oorgegee het in die mag van sy vyand, die man wat sy lewe gesoek het, koning Nebukadnesar van Babel.