Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 185

Jeremia 38–42, Psalm 55

Bybelteks(te)

Jeremia word weer in 'n put gesit

1Sefatja seun van Mattan, Gedalja seun van Pasgur, Jukal seun van Selemja, en Pasgur seun van Malkija het gehoor wat Jeremia vir die hele volk sê, toe hy vir hulle gesê het: 2So sê die Here: Elkeen wat in hierdie stad woon, sal deur oorlog of deur hongersnood of deur pes omkom, maar elkeen wat oorloop na die Galdeërs toe, sal lewe. Hy sal sy lewe red, al sal hy net met sy lewe daarvan afkom.

3Die Here het verder gesê: Hierdie stad sal beslis in die mag van die koning van Babel oorgegee word en hy sal dit inneem.

4Die koning se amptenare het vir hom gesê: “Hierdie man moet doodgemaak word, want hy maak die soldate wat nog in die stad oor is en die hele volk moedeloos deur so met hulle te praat. Hierdie man wil nie die volk help nie, hy wil hulle benadeel.”

5Toe sê koning Sedekia vir sy amptenare: “Hy is in julle mag, ek kan julle nie keer nie.”

6Hulle vat toe vir Jeremia en gooi hom in die koning se seun Malkija se put in die binneplaas van die paleiswag. Hulle het vir Jeremia met toue laat afsak in die put waarin nie water was nie, net modder, en hy het in die modder ingesak.

7Maar Ebed-Melek, 'n Kussiet wat ontman was en in die paleis gewerk het, het gehoor dat Jeremia in die put gesit is. Die koning het toe in die Benjaminpoort gesit, 8en Ebed-Melek het uit die paleis uit na die koning toe gegaan en vir hom gesê: 9“U Majesteit die Koning, die mense het die profeet Jeremia sleg behandel: hulle het hom in 'n put gegooi en hy sal daar van honger omkom, want daar is nie meer brood in die stad nie.”

10Die koning het toe die Kussiet Ebed-Melek beveel: “Vat drie man van hier af saam en trek die profeet Jeremia op uit die put voordat hy sterf.”

11Ebed-Melek het toe drie man saamgevat en hy is na die paleis se klerekas toe waar hy stukke klere, vodde, gevat het. Hy het dit na Jeremia toe in die put laat afsak met toue 12en vir hom gesê: “Sit die stukkende klere, die vodde, onder jou armholtes onder die toue.”

Jeremia het dit gedoen 13en hulle het hom met die toue uit die put getrek. Daarna het hy in die binneplaas van die paleiswag gebly.

Sedekia vra raad by Jeremia

14Koning Sedekia het die profeet Jeremia na hom toe laat haal. Die koning het by die derde ingang van die huis van die Here gesit en vir Jeremia gesê: “Ek wil jou iets vra, maar jy moet my die waarheid vertel.”

15Maar Jeremia het koning Sedekia geantwoord: “As ek dit doen, sal u my beslis doodmaak, en as ek u raad gee, sal u nie na my luister nie.”

16Sedekia het toe in die geheim 'n eed afgelê en vir Jeremia gesê: “So seker as die Here leef, Hy wat die lewe aan ons gee, ek sal jou nie doodmaak nie en ek sal jou ook nie uitlewer aan die mense wat jou wil doodmaak nie.”

17Jeremia het vir Sedekia gesê: “So sê die Here die almagtige God, die God van Israel: As jy uitgaan na die koning van Babel se offisiere toe, sal jy jou lewe red en hierdie stad sal nie verbrand word nie. Jy en jou familie sal bly lewe. 18Maar as jy nie na die koning van Babel se offisiere toe uitgaan nie, sal hierdie stad oorgegee word in die mag van die Galdeërs en hulle sal dit verbrand. Dan sal jy nie uit hulle mag vrykom nie.”

19Koning Sedekia het vir Jeremia geantwoord: “Ek is bang vir ons volksgenote wat na die Galdeërs toe oorgeloop het. Die Galdeërs kan my dalk aan daardie volksgenote uitlewer, en hulle kan my dalk aanrand.”

20Maar Jeremia het vir die koning gesê: “U sal nie uitgelewer word nie. Luister tog na die woord van die Here soos ek dit vir u meegedeel het. Dan sal dit goed gaan met u, en u lewe sal gespaar bly. 21Maar as u weier om uit te gaan, dit is wat die Here my laat sien het: 22al die vrouens wat nog oor is in die koning van Juda se paleis, sal uitgelei word na die koning van Babel se offisiere toe, en hulle sal sê:

“ ‘Die koning van Israel se beste vriende het hom mislei,

hulle het hom omgepraat;

hulle het hom van die wal af in die sloot gehelp

en hom toe in die steek gelaat.’

23“Al u vrouens en al u seuns sal uitgelei word na die Galdeërs toe en u sal nie uit hulle mag vrykom nie, want u sal deur die koning van Babel self gevange geneem word, en hierdie stad sal afgebrand word.”

24Sedekia het vir Jeremia gesê: “Niemand moet van hierdie gesprek weet nie. Dan sal jy nie doodgemaak word nie. 25As my amptenare uitvind dat ek met jou gepraat het en hulle kom sê vir jou: ‘Vertel vir ons wat jy en die koning gepraat het, moenie iets vir ons wegsteek nie, ons sal jou nie doodmaak nie. Wat het die koning vir jou gesê?’ 26moet jy vir hulle sê: Ek het by die koning kom pleit om my nie weer in die huis van Jonatan te sit om daar te sterf nie.”

27Die amptenare het toe ook na Jeremia toe gekom en hom uitgevra, maar hy het vir hulle gesê net soos die koning hom beveel het. Hulle het vir Jeremia toe met rus gelaat, want hulle kon niks uitvind nie. 28Jeremia het in die binneplaas van die paleiswag gebly totdat Jerusalem ingeneem is.

Die val van Jerusalem

Jerusalem is so ingeneem:

1In die tiende maand van die negende jaar van koning Sedekia van Juda het koning Nebukadnesar van Babel met sy hele leër na Jerusalem toe gekom en dit beleër. 2Op die negende van die vierde maand van die elfde jaar van koning Sedekia is die stadsmuur oopgebreek. 3Die koning van Babel se offisiere, Nergal-Sareser uit Sinmagir, hoof van die strydwamag, Nebu-Sarsekim die hoofamptenaar en al die ander offisiere van die koning van Babel het in die stad ingekom en by die Middelpoort gaan sit.

4Toe koning Sedekia van Juda en al sy soldate sien wat gebeur, het hulle op die vlug geslaan en in die nag met 'n pad deur die Koningstuin by die hek tussen die twee mure uitgegaan en met die pad na die Jordaanvallei toe probeer wegkom. 5Maar die leër van die Galdeërs het hulle agtervolg en vir Sedekia in die Jerigovlakte ingehaal en gevang. Hulle het hom na Nebukadnesar toe in Ribla in Hamat gebring en daar het hy Sedekia se vonnis uitgespreek. 6Die koning van Babel het die seuns van Sedekia voor sy oë doodgemaak in Ribla. Die koning van Babel het ook al die vername mense van Juda doodgemaak. 7Hy het Sedekia se oë uitgesteek en hom met bronskettings geboei om hom na Babel toe te vat.

8Die Galdeërs het die paleis en die huise van die volk afgebrand en die mure van Jerusalem platgeslaan. 9Nebusaradan, die hoof van die koning van Babel se lyfwag, het dié van die volk wat in die stad oorgebly het en dié wat na hom toe oorgeloop het, die hele volk wat nog oor was, in ballingskap weggevoer na Babel toe. 10Maar hy het die arm mense, dié uit die volk wat niks besit het nie, in Juda laat bly en daardie dag die wingerde en die lande aan hulle gegee.

11Koning Nebukadnesar van Babel het vir Nebusaradan die hoof van die lyfwag beveel: 12“Vang vir Jeremia, kyk goed na hom, moet hom nie kwaad aandoen nie en doen vir hom wat hy vir jou sê.”

13Nebusaradan die hoof van die lyfwag het toe vir Nebusasban die hoofamptenaar, en vir Nergal-Sareser die hoof van die strydwamag, en al die offisiere van die koning van Babel gestuur 14en hulle het vir Jeremia uit die binneplaas van die paleiswag gebring en hom aan Gedalja seun van Agikam, seun van Safan, oorhandig om hom huis toe te vat. Jeremia het daar tussen die volk gewoon.

15Die woord van die Here het tot Jeremia gekom terwyl hy nog 'n gevangene was in die binneplaas van die paleiswag: 16Gaan sê vir die Kussiet Ebed-Melek: So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Wat Ek oor hierdie stad bring, is tot sy ondergang, nie tot sy redding nie. En jy sal dit sien as dit gebeur. 17Maar daardie dag sal Ek jou red, sê die Here, en jy sal nie uitgelewer word aan die mense vir wie jy bang is nie. 18Ek sal jou laat ontkom, jy sal nie in die oorlog sneuwel nie. Omdat jy op My vertrou het, sal jy ontsnap, al sal jy net met jou lewe daarvan afkom, sê die Here.

Jeremia word vrygelaat

1Die woord wat van die Here af tot Jeremia gekom het nadat die hoof van die lyfwag Nebusaradan hom in Rama vrygelaat het. Nebusaradan het vir Jeremia laat uithaal tussen die gevangenes van Jerusalem en Juda wat as ballinge op pad was na Babel toe. Jeremia was met kettings geboei. 2Die hoof van die lyfwag het vir Jeremia laat haal en vir hom gesê: “Die Here jou God het gesê hierdie ramp sal oor hierdie plek kom, 3en Hy het dit laat gebeur soos Hy gesê het. Omdat julle gesondig het en ongehoorsaam was aan Hom, daarom het dié ramp julle getref. 4Maar ek gaan nou die kettings aan jou hande losmaak. As jy wil, kom saam met my na Babel toe, ek sal vir jou sorg. As jy nie met my wil saamkom Babel toe nie, ook goed. Die hele land is tot jou beskikking. Jy kan gaan waar jy dit goedvind, waar dit jou pas.”

5Nog voordat Jeremia kon antwoord, het Nebusaradan verder gesê: “Of gaan na Gedalja toe, seun van Agikam seun van Safan, wat deur die koning van Babel in bevel geplaas is van die stede van Juda. Bly by hom tussen jou mense, of gaan waar dit jou ook al pas.”

Die hoof van die lyfwag het vir Jeremia kos en geskenke gegee en hom laat gaan. 6Jeremia is toe na Gedalja seun van Agikam toe in Mispa. Hy het daar by hom gaan bly tussen die mense wat in die land oor was.

Die moord op Gedalja

(Vgl. 2 Kon. 25:22-26)

7Die bevelhebbers van die Israelitiese soldate wat nog in die veld was en hulle manskappe het gehoor dat die koning van Babel vir Gedalja seun van Agikam in bevel van die land geplaas het en dat hy die mans, vrouens en kinders wat van die armstes in die land was en wat nie na Babel toe verban is nie, aan Gedalja se sorg toevertrou het. 8Die bevelhebbers en hulle manskappe is toe ook na Gedalja toe in Mispa. Onder hulle was Ismael seun van Netanja, Joganan en Jonatan seuns van Kareag, Seraja seun van Tangumet, die seuns van Efai uit Netofa, en Jaäsanja seun van iemand uit Maäka, hulle met hulle manskappe. 9Gedalja seun van Agikam, seun van Safan, het die manne met 'n eed die versekering gegee dat hulle nie bang hoef te wees om hulle aan die Galdeërs te onderwerp nie: “Bly in die land en onderwerp julle aan die koning van Babel, dit sal goed gaan met julle. 10Ek gaan hier in Mispa bly om tot beskikking te wees van die Galdeërs wat hier na ons toe kom. Julle kan wyn, vrugte en olie bymekaarmaak en bêre en in die dorpe gaan woon wat julle beset.”

11Al die Judeërs wat in Moab en tussen die Ammoniete en in Edom en in ander lande was, het gehoor dat die koning van Babel party mense in Juda laat bly het en dat hy vir Gedalja seun van Agikam, seun van Safan, in bevel geplaas het oor hulle. 12Al dié Judeërs het toe uit al die plekke waarheen hulle verstrooi is, teruggekom na Juda toe en hulle het na Gedalja toe gegaan in Mispa. Hulle het 'n baie groot wyn- en vrugteoes ingesamel.

13Joganan seun van Kareag en al die bevelhebbers van die soldate wat nog in die veld was, het na Gedalja toe gekom in Mispa 14en vir hom gevra: “Weet jy dat koning Baälis van die Ammoniete vir Ismael seun van Netanja opdrag gegee het om jou te vermoor?”

Maar Gedalja seun van Agikam het hulle nie geglo nie. 15Joganan seun van Kareag het in die geheim aan Gedalja in Mispa 'n plan voorgelê: “Laat ek vir Ismael seun van Netanja gaan doodmaak. Niemand sal weet dat jy iets daarmee te doen het nie. Waarom moet hy jou kom vermoor en moet al die Judeërs wat om jou versamel het, uitmekaargejaag word en waarom moet wat daar nog van Juda oor is, tot niet gaan?”

16Maar Gedalja seun van Agikam het vir Joganan seun van Kareag gesê: “Jy doen dit nie! Dit is nie waar wat jy oor Ismael sê nie!”

1Ismael seun van Netanja, seun van Elisama, was uit die koninklike geslag en was een van die hoofamptenare van koning Sedekia. Hy en tien man het in die sewende maand na Gedalja seun van Agikam toe gekom in Mispa, en terwyl hulle daar saam geëet het, 2het Ismael seun van Netanja en die tien man wat by hom was, opgespring en vir Gedalja seun van Agikam, seun van Safan, doodgemaak. Gedalja was die man wat deur die koning van Babel in bevel van die land geplaas is. 3Ismael het ook al die Judeërs wat by Gedalja in Mispa was en die Galdese soldate wat daar was, doodgemaak.

Nog moorde deur Ismael

4Die dag ná die moord op Gedalja, toe niemand nog daarvan wis nie, 5kom daar tagtig mans uit Sigem, Silo en Samaria aan. Hulle baarde was afgeskeer, hulle klere geskeur en hulle was vol wonde wat hulle hulleself toegedien het. Hulle het graanoffers en wierook by hulle gehad wat hulle na die huis van die Here toe wou bring. 6Ismael seun van Netanja het hulle huil-huil uit Mispa tegemoet gegaan, en toe hy by hulle kom, sê hy vir hulle: “Kom saam na Gedalja seun van Agikam toe!”

7Maar toe hulle binne in die stad is, het Ismael seun van Netanja, hy en die manne wat by hom was, sewentig van die mans doodgemaak en in 'n put gegooi. 8Die ander tien mans het vir Ismael gesê: “Moet ons nie doodmaak nie, ons het koring en gars en olie en heuning wat in die veld weggesteek is!”

Hy het hulle toe laat staan en hulle nie saam met hulle vriende doodgemaak nie. 9Die put waarin Ismael die lyke gegooi het van die mans wat hy doodgemaak het, was dié een wat deur koning Asa gegrawe is toe hy deur koning Baesa van Israel beleër is. Ismael seun van Netanja het die put vol lyke gemaak.

Die bevryding van die mense wat deur Ismael weggevoer is

10Daarna het Ismael al die mense gevange geneem wat nog in Mispa oor was, die prinsesse en al die ander mense wat in Mispa oor was en wat deur die hoof van die lyfwag Nebusaradan onder die sorg van Gedalja seun van Agikam geplaas was. Ismael seun van Netanja het hulle gevange geneem en vertrek om na die Ammoniete toe te gaan. 11Toe Joganan seun van Kareag, en al die bevelhebbers van die soldate wat by hom was, hoor van al die gruweldade wat Ismael seun van Netanja begaan het, 12het hulle al hulle manskappe gevat en vertrek om vir Ismael seun van Netanja aan te val. Hulle het hom by die groot dam in Gibeon gekry. 13-14Al die mense by Ismael, die mense wat hy gevange uit Mispa weggevoer het, was bly toe hulle vir Joganan seun van Kareag en al die leëraanvoerders by hom sien. Hulle het omgedraai en teruggekom na Joganan seun van Kareag toe. 15Maar Ismael seun van Netanja het met ag man weggekom van Joganan af en is na die Ammoniete toe.

16Joganan seun van Kareag en al die leëraanvoerders by hom het al die mense saamgeneem wat oor was, al die mans, die soldate, die vrouens, kinders en ontmandes wat hy by Gibeon bevry het en wat deur Ismael seun van Netanja weggevoer was uit Mispa nadat hy vir Gedalja seun van Agikam vermoor het. 17Joganan-hulle het vertrek en by Gerut-Kimham naby Betlehem oorgebly met die bedoeling om na Egipte toe te gaan, 18weg van die Galdeërs af. Hulle was bang vir die Galdeërs omdat Ismael seun van Netanja vir Gedalja seun van Agikam vermoor het, die man wat deur die koning van Babel in bevel van die land geplaas was.

Die Here waarsku die oorgeblewe Judeërs om nie te vlug nie

1Al die leëraanvoerders, Joganan seun van Kareag, Asarja seun van Hosaja, al die mense, klein en groot, het na die profeet Jeremia toe gekom 2en vir hom gevra: “Doen tog asseblief wat ons vra, bid vir ons tot die Here jou God, vir ons almal wat oorgebly het. Soos jy ons hier sien, is ons die klompie wat oor is uit baie. 3Bid tog dat die Here jou God aan ons bekend maak waarheen ons moet gaan en wat ons moet doen.”

4Die profeet Jeremia het vir hulle gesê: “Ek het gehoor. Ek sal tot die Here julle God bid soos julle gevra het. Ek sal alles wat die Here vir julle wil sê, aan julle oordra. Ek sal niks vir julle wegsteek nie.”

5Hulle sê toe vir Jeremia: “Die Here self sal die betroubare en geloofwaardige getuie teen ons wees as ons nie alles doen wat die Here jou God jou opdra om vir ons te sê nie. 6Of dit nou goed of sleg vir ons is, ons sal gehoorsaam wees aan die Here ons God na wie toe ons jou stuur, sodat dit met ons goed sal gaan. Ons sal gehoorsaam wees aan die Here ons God.”

7Tien dae later het die woord van die Here tot Jeremia gekom. 8Hy het Joganan seun van Kareag, al die leëraanvoerders by hom en al die ander mense, klein en groot, geroep 9en vir hulle gesê: So sê die Here die God van Israel na wie toe julle my gestuur het om julle versoek aan Hom voor te lê: 10As julle in hierdie land bly, sal Ek julle bou en julle nie plat slaan nie, julle vestig en julle nie afbreek nie. Ek sal die ramp wat Ek oor julle gebring het, nie verder voer nie. 11Moenie so bang wees vir die koning van Babel nie, moenie vir hom bang wees nie, sê die Here, want Ek is by julle om julle te red en julle uit sy mag te bevry. 12Ek sal julle genadig wees, en daarom sal hy julle genadig wees en julle na julle land toe laat teruggaan. 13Maar as julle die Here julle God nie wil gehoorsaam nie, as julle sê julle wil nie in hierdie land bly nie, 14as julle sê: “Nee, ons wil Egipte toe waar ons nie oorlog sal sien nie, nie die ramshoring sal hoor blaas om te gaan veg nie en nie honger sal ly nie, ons wil daar gaan bly”, 15hoor dan die woord van die Here, julle wat van Juda oor is! So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: As julle vas besluit het om Egipte toe te gaan en julle gaan woon daar, 16sal die oorlog waarvoor julle bang is, julle daar in Egipte inhaal, en die hongersnood wat julle vrees, sal julle daarheen volg, en julle sal daar sterf. 17Ja, almal wat vasbeslote is om na Egipte toe te gaan en daar te woon, sal sterf deur oorlog, deur hongersnood en deur pes. Nie een van hulle sal vrykom en die rampe ontsnap wat Ek oor hulle sal bring nie. 18Ja, so sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Soos my toorn en my gramskap uitgestort is oor die inwoners van Jerusalem, so sal my toorn oor julle uitgestort word as julle na Egipte toe gaan. Julle name sal gebruik word wanneer mense ander wil vervloek, wil bang maak, iets slegs wil toewens of wil verneder, en julle sal hierdie plek nooit weer sien nie.

19Die Here het vir julle gesê, julle wat van Juda oor is: Moenie na Egipte toe gaan nie!

Toe sê Jeremia vir hulle: “Weet vir seker, ek waarsku julle vandag, 20julle maak 'n fout! Julle lewe is op die spel. Julle het my na die Here julle God toe gestuur en gevra: ‘Bid vir ons tot die Here ons God, sê vir ons alles wat die Here ons God sê, ons sal dit doen.’ 21Maar noudat ek vandag vir julle gesê het wat Hy sê, is julle ongehoorsaam aan die Here julle God, aan alles wat Hy my opgedra het om vir julle te sê. 22Weet nou verseker dat julle deur oorlog, deur hongersnood en deur pes sal sterf op die plek waar julle so graag wil gaan woon.”

Laat jou sorge aan die Here oor

1Vir die koorleier: met snarespel. 'n Gedig van Dawid.

2Hoor my gebed, o God,

moet tog nie onverskillig staan teenoor my smeking nie.

3Luister na my gebed en antwoord my:

my sorge gee my geen rus nie.

Ek is hewig ontsteld 4oor die dreigemente van my vyande

en oor die druk van slegte mense op my.

Hulle wil my met onreg breek;

verwoed stook hulle vyandskap teen my.

5My hart krimp inmekaar in my,

doodsangs oorval my,

6vrees en skrik oorweldig my,

my hele liggaam bewe.

7Ek het gedink: ag, as ek maar vlerke

soos 'n duif gehad het,

sou ek wegvlieg en 'n woonplek soek;

8ek sou ver wegvlieg

en in die woestyn gaan bly; Sela

9ek sou haastig probeer wegkom

van hierdie onstuimige wind, van hierdie storm af.

10Dryf hulle uitmekaar, Here,

maak hulle taal onverstaanbaar vir mekaar.

Ek sien geweld en oproer in die stad;

11dag en nag maal hulle rond op sy mure;

daarbinne is onreg en onheil.

12Daar heers wanorde in die stad,

op sy pleine is daar net verdrukking en bedrog.

13As dit nog my vyand was wat my smaad aangedoen het,

sou ek dit kon verdra;

as dit 'n teëstander was wat my wou verneder,

sou ek hom kon probeer vermy.

14Maar nou is dit jy, 'n man soos ek,

my maat en my goeie vriend.

15Ons was so nou aan mekaar verbonde;

opgewonde het ons saam na die huis van God toe gegaan.

16Mag die dood my vyande oorval!

Mag hulle onverwags neerdaal na die doderyk,

want in hulle huise en harte heers daar boosheid.

17Maar ek roep na God,

na die Here wat my sal red.

18In die aand, in die môre en in die middag,

heeldag kla en sug ek,

en Hy hoor my roep.

19Hy sal my lewe red en my die oorwinning gee,

al is daar so baie teen wie ek moet veg.

20God, wat van ewigheid af regeer,

sal hoor en hulle verneder

omdat hulle hulle nie bekeer nie

en Hom nie dien nie.

21My vyand het skaars 'n ooreenkoms gesluit

of hy verbreek sy beloftes van trou.

22Sy tong is gladder as botter,

maar daar is oorlog in sy hart;

sy woorde is so strelend soos olie,

maar hulle is swaarde wat reg is om te steek.

23Laat jou sorge aan die Here oor,

Hy sal vir jou sorg.

Hy sal die regverdige nie in die steek laat nie.

24Maar daardie mense, o God, U sal hulle in die graf in laat neerdaal.

Sulke moordenaars en bedrieërs

sal in die fleur van hulle lewe sterf.

Maar ek, op U vertrou ek.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS