Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 184

Jeremia 33–37, Spreuke 24

Bybelteks(te)

1Die woord van die Here het weer tot Jeremia gekom. Hy was toe nog ingeperk in die binneplaas van die paleiswag. 2So sê die Here, Hy wat die aarde gemaak en so gevorm het dat dit nie wankel nie, wie se Naam Here is:

3Roep My aan, Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie. 4So sê die Here die God van Israel oor die huise in hierdie stad en oor die konings van Juda se paleise wat afgebreek is, en oor die beleëringswalle en oor die wapens 5waarmee die Galdeërs teen julle kom veg het, die huise wat deur die Galdeërs vol gemaak is met die lyke van die mense wat Ek in my gloeiende toorn om die lewe wou bring toe Ek nie meer vir hierdie stad omgegee het nie omdat hy so baie sonde gedoen het: 6Ek sal hom heeltemal gesond maak en sy inwoners genees; Ek sal vir hulle 'n sterk veilige vesting bou. 7Ek sal die lot van Juda en Israel verander en vir hulle kinders gee soos vroeër. 8Ek sal hulle reinig van al die sondes waarmee hulle teen My oortree het en al hulle sondes vergewe waarmee hulle teen My oortree het, en in opstand gekom het. 9Dit sal my Naam groot maak en aan My blydskap verskaf, aan My lof en eer gee voor al die nasies van die aarde wanneer hulle hoor van al die goeie wat Ek vir my volk gedoen het. Die nasies sal bang wees en My dien oor al die goeie wat Ek doen en oor die vrede wat Ek vir Jerusalem gee.

10So sê die Here: Daar word nog gehoor dat julle van hierdie plek sê dit is verwoes, sonder mense en sonder diere. Maar in die stede van Juda en in die strate van Jerusalem wat verwoes en sonder mense en sonder inwoners en diere was, 11sal daar weer blydskap en vreugde wees, ook huweliksfeeste, die mense sal die Here die Almagtige loof. Dié wat dankoffers na die huis van die Here toe bring, sal sê:

“Loof die Here die Almagtige, want Hy is goed,

aan sy liefde is daar geen einde nie.”

Ek sal die lot van die land verander,

dit sal weer wees soos vroeër, sê die Here.

12So sê die Here die Almagtige: In hierdie plek wat so verwoes is dat geen mens of dier oorgebly het nie, en by al sy stede sal weer weiveld vir kuddes wees, lêplek vir kleinvee. 13In die stede van die Bergland, in dié van die Laeveld en in dié van die Suidland, in die gebied van Benjamin en in die omgewing van Jerusalem, en in die stede van Juda sal daar weer kleinvee wees om te tel, sê die Here.

14Daar kom 'n tyd, sê die Here, dat Ek die goeie belofte sal nakom wat Ek aan Israel en Juda gemaak het. 15In daardie dae, in daardie tyd, sal Ek vir Dawid 'n wettige afstammeling gebore laat word en hy sal in die land reg laat geskied en reg doen. 16In daardie dae sal Juda gered word en Jerusalem sal onbesorg woon en genoem word: Die Here verskaf reg aan ons.

17So sê die Here: Iemand uit die huis van Dawid sal altyd op die troon van Israel sit, 18en daar sal altyd Levitiese priesters wees om offers te bring: brandoffers en graanoffers.

19Die woord van die Here het tot Jeremia gekom: 20So sê die Here: As jy die verbond wat Ek met die dag en die nag gesluit het, kan verbreek sodat dag en nag nie meer op die regte tyd kom nie, 21sal die verbond verbreek word wat Ek met my dienaar Dawid gesluit het dat daar altyd vir hom 'n nageslag sal wees om as koning op Dawid se troon te heers. Dit geld ook die verbond wat Ek gesluit het met die Levitiese priesters wat in my diens is. 22Ek sal die nageslag van my dienaar Dawid en dié van die Leviete wat in my diens is, so baie maak soos die sterre wat nie getel kan word nie, en soos die sand van die see waarvan die hoeveelheid nie bereken kan word nie.

23Die woord van die Here het tot Jeremia gekom: 24Het julle agtergekom dat daar mense is wat sê: “Die Here het die twee stamme Juda en Levi wat Hy gekies het, verwerp”? Hierdie mense minag my volk en beskou hom nie meer as 'n volk nie. 25Maar so sê die Here: As Ek nie my verbond met die dag en die nag nakom nie en my voorskrifte vir die hemel en die aarde nie handhaaf nie, 26sal Ek die nageslag van Jakob en die nageslag van my dienaar Dawid verwerp en nie meer een uit sy nageslag vat om te regeer oor die nageslag van Abraham, Isak en Jakob nie. Ek sal hulle lot verander en medelye met hulle hê.

Koning Sedekia sal gevang word

1Die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het terwyl koning Nebukadnesar van Babel met sy hele leër en met al die koninkryke en volke van die lande waaroor hy geregeer het, oorlog gemaak het teen Jerusalem en die stede onder hom: 2So sê die Here die God van Israel: Gaan sê vir koning Sedekia van Juda, so sê die Here: Ek sal hierdie stad in die mag van die koning van Babel oorgee. Hy sal dit verbrand. 3Jy sal nie uit sy mag ontsnap nie, want jy sal beslis gevang en in sy mag oorgegee word. Jy sal die koning van Babel met jou eie oë sien en self met hom praat en dan sal jy na Babel toe gaan.

4Maar luister na die belofte van die Here, koning Sedekia van Juda! So sê die Here oor jou: Jy sal nie deur die swaard sterf nie. 5Jy sal in vredestyd sterf en soos die mense wierook gebrand het ter ere van jou voorvaders, die vroeëre konings wat jou voorgangers was, so sal die mense dit vir jou doen. Hulle sal oor jou treur en sê: “Ons arme koning.” Ek het hierdie belofte gemaak, sê die Here.

6Die profeet Jeremia het toe al hierdie woorde in Jerusalem oorgedra aan koning Sedekia van Juda. 7Dit was in die tyd toe die leër van die koning van Babel teen Jerusalem geveg het en teen al die stede van Juda wat nog weerstand gebied het, teen Lakis en Aseka, wat die enigste versterkte stede in Juda was wat nog oorgebly het.

Die Here laat sy volk vry om gestraf te word

8Die woord van die Here het tot Jeremia gekom nadat koning Sedekia 'n ooreenkoms met die hele volk wat in Jerusalem was, aangegaan het om hulle slawe vry te laat. 9Elkeen sou sy slaaf of slavin van Hebreeuse afkoms vrylaat, geen Judeër sou 'n volksgenoot as slaaf aanhou nie. 10Al die amptenare en die hele volk wat die ooreenkoms aangegaan het om hulle slawe en slavinne vry te laat sodat hulle nie meer diens moes lewer nie, het hulle vrygelaat. 11Maar die eienaars het agterna van gedagte verander en hulle slawe en slavinne wat vrygelaat was, gedwing om weer slawe en slavinne te wees en hulle mishandel. 12Toe het die woord van die Here tot Jeremia gekom: 13So sê die Here die God van Israel: Die dag toe Ek julle voorvaders uit die plek van slawerny, uit Egipte laat wegtrek het, het Ek 'n verbond met hulle gesluit: 14Aan die einde van sewe jaar moet julle elke Hebreeuse volksgenoot wat hom as slaaf aan julle verkoop het, vrylaat. Nadat hy julle ses jaar lank as slaaf gedien het, moet julle hom vrylaat en van julle af wegstuur. Maar julle voorvaders het nie na My geluister nie en hulle nie aan My gesteur nie.

15Julle het onlangs egter tot bekering gekom en gedoen wat reg is in my oë deur julle volksgenote wat slawe was, vry te laat. Julle het selfs 'n ooreenkoms voor My aangegaan in die huis waaroor my Naam uitgeroep is.

16Maar nou het julle weer van gedagte verander en my Naam onteer toe elkeen sy slaaf en slavin wat hy vrygelaat het om sy eie gang te gaan, gedwing het om weer julle slawe en slavinne te wees. En julle mishandel hulle.

17Daarom, so sê die Here: Julle het nie na My geluister nie. Julle het nie julle volksgenote vrygelaat nie. Daarom laat Ek julle nou vry, sê die Here, vry vir oorlog, vir pes en vir hongersnood, en Ek maak julle tot iets waarvoor al die koninkryke van die aarde sal skrik. 18Elkeen wat hom nie gesteur het aan die verbond met My en die voorwaardes van die ooreenkoms wat hulle in my teenwoordigheid aangegaan het, nie nagekom het nie, sal Ek maak soos die kalf wat julle met die verbondsluiting in twee stukke gesny en toe daartussendeur geloop het. 19Ek sal die leiers van Juda, die leiers van Jerusalem, die paleisamptenare, die priesters en al die landsburgers wat tussen die twee stukke van die kalf deur geloop het, 20in die mag van hulle vyande oorgee, in die mag van dié wat hulle lewe soek. Hulle lyke sal gevreet word deur voëls en roofdiere. 21Ek sal koning Sedekia van Juda en sy amptenare in die mag van hulle vyande oorgee, in die mag van dié wat hulle lewe soek, in die mag van die leër van die koning van Babel al het dit nou van jou af weggetrek. 22Ek sal hom 'n nuwe opdrag gee, sê die Here, Ek sal hom terugbring na hierdie stad toe. Hy sal teen die stad veg en dit inneem en verbrand. Ek sal al die stede van Juda verlate maak, sonder inwoners.

Die Rekabiete as voorbeeld vir die volk

1Die woord wat van die Here gekom het tot Jeremia in die regeringstyd van koning Jojakim van Juda, seun van Josia: 2Jy moet na die huis van die Rekabiete toe gaan en vir hulle sê om na die huis van die Here toe te kom, na een van die sykamers toe, en gee vir hulle wyn om te drink.

3Ek het toe vir Jaäsanja, seun van Jeremia seun van Gabassinja, en Jaäsanja se broers en al sy seuns, en al die Rekabiete gaan haal 4en hulle na die huis van die Here toe gebring na die kamer van die seuns van Ganan die man van God en seun van Jigdalja. Die kamer was langs dié van die amptenare wat bokant dié van die deurwagter Maäseja seun van Sallum was. 5Ek het kanne vol wyn en bekers voor die Rekabiete gesit en vir hulle gesê: “Hier is wyn, drink dit.”

6Maar hulle het geantwoord: “Ons drink nie wyn nie, want ons voorvader Jonadab seun van Rekab het ons beveel: ‘Julle mag nooit wyn drink nie, nie julle nie en ook nie julle kinders nie. 7Julle mag ook nie huise bou of graan saai of wingerde aanlê nie. Julle mag dit nie doen nie, want julle moet altyd in tente woon sodat julle lank kan bly woon in die land waar julle vreemdelinge is.’ 8Ons was gehoorsaam aan alles wat ons voorvader Jonadab seun van Rekab ons beveel het. Ons het nooit wyn gedrink nie, nie ons nie, nie ons vrouens nie, ook nie ons seuns en dogters nie. 9Ons het nie huise gebou om in te woon nie en ons het nog nooit 'n wingerd of saaigrond gehad nie. 10Ons het in tente gebly. Ons was gehoorsaam aan alles wat ons voorvader Jonadab ons beveel het, ons het dit gedoen. 11Net nou dat koning Nebukadnesar van Babel die land binnegeval het, het ons gesê: ‘Kom ons gaan na Jerusalem toe om weg te kom van die leër van die Galdeërs en dié van die Arameërs af.’ En nou bly ons in Jerusalem.”

12Die woord van die Here het toe tot Jeremia gekom: 13So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Gaan sê vir die mense van Juda en vir die inwoners van Jerusalem: Sal julle dan nooit leer om na my woord te luister nie? vra die Here. 14Jonadab seun van Rekab het sy kinders beveel om nie wyn te drink nie, en tot nou toe drink hulle dit nie, want hulle hou hulle aan sy woorde, hulle is gehoorsaam aan die bevel van hulle voorvader. Ek het vroeg en laat met julle gepraat, maar julle luister nie na My nie. 15Ek het vroeg en laat my dienaars die profete na julle toe gestuur om te sê: “Elkeen van julle moet hom van sy verkeerde dade bekeer. Julle mag nie agter ander gode aanloop en hulle dien nie. Julle moet goed doen sodat julle kan bly woon in die land wat Ek aan julle en aan julle voorvaders gegee het.” Maar julle het nie aandag gegee of na My geluister nie. 16Die nageslag van Jonadab seun van Rekab het hulle gehou aan die bevel wat hulle voorvader hulle gegee het, maar hierdie volk het nie na My geluister nie.

17So sê die Here die almagtige God, die God van Israel: Ek laat kom oor Juda en oor al die inwoners van Jerusalem al die rampe wat Ek oor hulle aangekondig het. Ek het met hulle gepraat, maar hulle het nie geluister nie, Ek het hulle geroep, maar hulle het nie geantwoord nie.

18Jeremia het toe vir die Rekabiete gesê: So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Julle het die bevel van julle voorvader Jonadab gehoorsaam en julle gehou aan sy bevele, julle het alles gedoen wat hy julle beveel het. 19Daarom, sê die Here die Almagtige, die God van Israel, sal daar altyd iemand wees uit die familie van Jonadab seun van Rekab om My te dien.

Jojakim verbrand die boekrol

1In die vierde jaar van koning Jojakim van Juda, seun van Josia, het hierdie woord van die Here tot Jeremia gekom: 2Vat vir jou 'n boekrol en skryf daarop al die woorde wat Ek oor Israel en oor Juda en oor al die nasies met jou gepraat het vandat Ek met jou begin praat het in die dae van Josia tot nou toe. 3As Juda hoor van al die rampe wat Ek oor hulle wil bring, sal elkeen hom miskien van sy verkeerde dade bekeer. Dan sal Ek hulle ongeregtighede en hulle sondes vergewe.

4Toe het Jeremia vir Baruk seun van Nerija geroep, en hy het al die woorde van die Here wat die Here vir Jeremia gesê het, opgeteken soos Jeremia dit gedikteer het. 5Daarna het Jeremia vir Baruk gesê: “Ek is ingeperk. Ek kan nie na die huis van die Here toe gaan nie. 6Gaan jy op 'n vasdag en lees die boekrol waarin die woorde van die Here is wat ek vir jou gedikteer het. Die volk wat in die huis van die Here is en die hele Juda wat uit hulle stede gekom het, moet dit kan hoor. Jy moet dit vir hulle lees. 7Miskien sal hulle dan by die Here pleit en sal elkeen hom bekeer van sy verkeerde pad. Die Here het aangekondig dat Hy in sy gloeiende toorn hierdie volk swaar sal straf.”

8Baruk seun van Nerija het toe alles gedoen wat die profeet Jeremia hom beveel het: hy het die boek met die woorde van die Here in die huis van die Here gaan lees.

9In die negende maand van die vyfde jaar van koning Jojakim van Juda, seun van Josia, is 'n vasdag in die teenwoordigheid van die Here vir die hele volk in Jerusalem aangekondig. Die hele volk het uit die stede van Juda in Jerusalem gekom. 10Baruk het toe die boek met die woorde van Jeremia begin lees in die huis van die Here, in die sykamer van Gemarja seun van die staatsekretaris Safan. Die hele volk kon dit hoor. Die sykamer was in die boonste voorhof by die ingang van die nuwe poort van die huis van die Here. 11Toe Miga seun van Gemarja, seun van Safan, al die woorde van die Here hoor uit die boek, 12het Miga na die staatsekretaris se kantoor in die paleis toe gegaan. Al die amptenare, Elisama die staatsekretaris, Delaja seun van Semaja, Elnatan seun van Akbor, Gemarja seun van Safan, Sedekia seun van Gananja en al die ander amptenare het daar gesit. 13Miga het vir hulle alles vertel wat hy Baruk vir die volk uit die boek hoor lees het.

14Toe stuur al die amptenare vir Jehudi seun van Netanja, seun van Selemja, seun van Kusi na Baruk toe om vir hom te sê: “Vat die boekrol waaruit jy vir die volk gelees het en kom hier.” Baruk seun van Nerija het toe die boekrol gevat en na hulle toe gegaan. 15Hulle het vir hom gesê: “Sit, en lees dit vir ons.”

Baruk het dit toe vir hulle gelees. 16Toe hulle alles hoor, het hulle bang geword en vir Baruk gesê: “Ons moet dit alles vir die koning gaan vertel.” 17Hulle het vir Baruk gevra: “Sê vir ons, hoe het jy dit alles geskryf? Het Jeremia dit gedikteer?”

18Baruk het hulle geantwoord: “Alles is vir my gedikteer en ek het dit met ink op die boekrol geskryf.”

19Die amptenare het vir Baruk gesê: “Gaan kruip weg, jy en Jeremia, en niemand moet weet waar julle is nie.”

20Die amptenare het die boekrol in die kantoor van die staatsekretaris Elisama gebêre en toe is hulle na die koning toe in die voorhof. Hulle het hom alles vertel. 21Toe stuur die koning vir Jehudi om die boekrol te gaan haal. Hy het dit uit die kantoor van die staatsekretaris Elisama gaan haal en vir die koning gelees in die teenwoordigheid van al die amptenare wat by die koning aan diens was. 22Dit was winter en die koning het in die sonkamer gesit met 'n bak gloeiende kole voor hom. 23Elke keer wanneer Jehudi drie of vier kolomme klaar gelees het, het die koning dit met 'n skrywersmes afgesny en op die vuur in die kolebak gegooi. Hy het so gemaak tot die hele boekrol in die vuur was.

24Die koning en al sy amptenare wat hierdie dinge gehoor het, het nie bang geword en hulle klere geskeur nie. 25Selfs toe Elnatan en Delaja en Gemarja by die koning daarop aangedring het om nie die boekrol te verbrand nie, het hy nie na hulle geluister nie. 26Toe beveel hy sy seun Jeragmeël en vir Seraja seun van Asriël en vir Selemja seun van Abdeël om die skrywer Baruk en die profeet Jeremia te arresteer. Maar die Here het hulle weggesteek.

27Nadat die koning die boekrol verbrand het met alles daarop wat Jeremia vir Baruk gedikteer het om te skryf, het die woord van die Here tot Jeremia gekom: 28Vat vir jou 'n ander boekrol en skryf daarop al die woorde van die vorige rol wat deur koning Jojakim van Juda verbrand is. 29Jy moet vir koning Jojakim van Juda sê: So sê die Here: Jy het die boekrol verbrand en gevra: “Waarom het Jeremia daarop geskryf die koning van Babel sal kom en hierdie land verwoes en sy mense en diere in ballingskap wegvat?” 30Daarom, so sê die Here oor koning Jojakim van Juda, sal sy nageslag nie op die troon van Dawid sit nie. Jojakim se lyk sal weggegooi word en oordag in die son lê en snags in die koue. 31Ek sal hom en sy kinders en sy amptenare straf oor hulle sonde. Ek sal oor hulle en oor die inwoners van Jerusalem en oor die mense van Juda al die rampe bring waarvan Ek gepraat het. Hulle het mos nie geluister nie.

32Jeremia het toe 'n ander boekrol gevat en vir die skrywer Baruk seun van Nerija gegee en vir hom gedikteer. Baruk het daarop alles geskryf wat op die boekrol gestaan het wat deur koning Jojakim van Juda verbrand is. Baruk het nog baie meer woorde soos daardie op die boekrol geskryf.

Die Babiloniërs sál Jerusalem verbrand

1Sedekia seun van Josia het vir Jojagin seun van Jojakim wat deur koning Nebukadnesar van Babel as koning van Juda aangestel is, as koning opgevolg. 2Sedekia en sy amptenare en die landsburgers het nie geluister na wat die Here vir hulle gesê het deur die profeet Jeremia nie.

3Koning Sedekia het vir Jukal seun van Selemja saam met die priester Sefanja seun van Maäseja na die profeet Jeremia toe gestuur om te vra: “Bid tog vir ons tot die Here ons God.”

4Jeremia kon vrylik tussen die volk rondbeweeg, want hy was toe nog nie in die tronk gesit nie. 5Die leër van die farao het uit Egipte vertrek, en toe die Galdeërs deur wie Jerusalem beleër is, dit hoor, het hulle van Jerusalem af weggetrek.

6Die woord van die Here het tot die profeet Jeremia gekom: 7So sê die Here die God van Israel: Julle moet vir die koning van Juda deur wie julle na My toe gestuur is om My te raadpleeg, sê: Pasop! Die farao se leër wat vertrek het om julle te kom help, sal terugtrek na sy land Egipte toe. 8Die Galdeërs sal omdraai en teen hierdie stad kom veg en dit inneem en verbrand.

9So sê die Here: Julle moet julle nie mislei en dink die Galdeërs het beslis van ons af padgegee nie. Hulle gee nie pad nie, 10en selfs al sal julle die leër van die Galdeërs verslaan wat teen julle kom veg, en daar bly net swaar gewondes in hulle tente oor, sal húlle kom en hierdie stad verbrand.

Jeremia word in die tronk gesit

11Nadat die leër van die Galdeërs van Jerusalem af padgegee het uit vrees vir die leër van die farao, 12wou Jeremia uit Jerusalem gaan op pad na die gebied van Benjamin toe om sy erfgrond in ontvangs te neem by die mense daar. 13Toe Jeremia by die Benjaminpoort uit Jerusalem wou uitgaan, het die wagte se leier, Jirija seun van Selemja, seun van Gananja, die profeet Jeremia gevange geneem en gesê: “Jy loop oor na die Galdeërs toe.”

14Maar Jeremia het vir hom gesê: “Dis 'n leuen! Ek loop nie oor na die Galdeërs toe nie.”

Maar Jirija wou nie na hom luister nie en het hom gevange geneem en na die koning se amptenare toe gebring. 15Hulle was kwaad vir Jeremia en het hom geslaan en toe in die staatsekretaris Jonatan se huis wat in 'n tronk verander is, in die tronk gesit. 16Daar is Jeremia in 'n put met sytonnels gesit waar hy lank gebly het.

17Later het koning Sedekia hom laat haal en in die geheim in die paleis vir hom gevra: “Is daar 'n woord van die Here af?”

Jeremia het hom geantwoord: “Daar is. Jy sal in die mag van die koning van Babel uitgelewer word.”

18Toe vra Jeremia vir koning Sedekia: “Watter misdaad het ek teen u gepleeg, of teen u amptenare of teen hierdie volk dat julle my in die tronk gesit het? 19Waar is die profete wat vir julle as profete opgetree het en gesê het die koning van Babel sal nie teen julle en teen hierdie land kom oorlog maak nie? 20Maar luister tog nou na my, U Majesteit die Koning, dat ek my versoek tot u kan rig: Moet my tog nie terugstuur na die huis van die staatsekretaris Jonatan toe nie. Ek wil nie daar sterf nie!”

21Koning Sedekia het toe beveel dat hulle vir Jeremia moet aanhou in die binneplaas van die paleiswag en elke dag vir hom brood moet gee uit Bakkerstraat totdat die stad se brood op was. Jeremia het toe in die binneplaas van die paleiswag gebly.

1Moenie slegte mense beny nie,

moenie by hulle wil wees nie;

2al waaroor hulle dink, is geweld,

en al waaroor hulle praat, is moeilikheid maak.

3Daar is verstand nodig om 'n huis te bou,

insig om sy fondamente te lê,

4kennis om sy kamers te vul

met allerhande kosbare en mooi goed.

5Dit is die wyse man wat sterk is,

die een wat kennis het, wat werklik mag het.

6Jy maak oorlog ná beraadslaging,

en die oorwinning kom deur baie raadgewers.

7Wysheid is bo 'n dwaas se begrip;

hy kan dit nie waag om sy mond oop te maak

waar leiers beraadslaag nie.

8Een wat beplan om kwaad te doen,

kry die naam van 'n knoeier.

9'n Dwaas se geknoei loop op niks uit nie;

mense verafsku 'n ligsinnige mens.

10As jy weifel op die dag van nood,

is jy nie opgewasse daarvoor nie.

11Red dié wat na hulle dood toe gesleep word,

dié wat val-val op pad is

om doodgemaak te word as jy nie keer nie.

12As jy sou sê: “Ons weet daar niks van af nie”,

sal God wat die gedagtes toets,

weet wat die waarheid is.

Hy wat oor jou wag hou, Hy weet

en Hy vergeld 'n mens vir wat hy gedoen het.

13Eet heuning, my seun, dit is lekker;

die stroop is soet in jou mond.

14So smaak die kennis, die wysheid ook;

as jy dié gekry het, het jy 'n toekoms,

en jou hoop sal jou nie ontneem word nie.

15Moenie soos 'n slegte mens die regverdige by sy huis gaan voorlê

en sy woonplek verwoes nie.

16Al val die regverdige hoeveel keer, hy staan weer op,

maar die goddeloses word deur rampe vernietig.

17Moet jou nie verheug oor jou vyand se val nie,

moenie juig wanneer hy ondergaan nie.

18Die Here sal sien wat jy doen, en dit sal verkeerd wees in sy oë,

en Hy sal jou vyand nie verder straf nie.

19Moet jou nie ontstel oor skelms,

jou kwel oor goddelose mense nie,

20want 'n slegte mens het nie 'n toekoms nie;

die lewenslig van die goddeloses word uitgedoof.

21Dien die Here, my seun, en ook die koning;

moet jou nie ophou met oproermakers nie.

22Hulle ondergang kom skielik;

niemand weet wanneer die Here

en die koning hulle vernietig nie.

23Wat nou volg, is ook afkomstig van wyse mense.

Dit is nie reg om partydig te wees in die regspraak nie.

24'n Regter wat 'n skuldige onskuldig verklaar,

sal deur die hele bevolking vervloek word,

deur almal verwens word.

25Maar met regters wat regverdig straf, sal dit goed gaan;

hulle sal geseën word met voorspoed.

26Iemand wat eerlik antwoord, is 'n ware vriend.

27Sit eers jou werk buite aan die gang

en bewerk jou lande; daarna kan jy huis bou.

28Moenie teen jou naaste getuig as hy jou nie rede gegee het nie;

moenie mense mislei met wat jy sê nie.

29Moenie sê: “Soos hy aan my gedoen het, sal ek aan hom doen,

ek sal hom terugbetaal vir wat hy gedoen het” nie.

30Ek het by 'n lui mens se land verbygestap,

by 'n onverstandige mens se wingerd:

31dit was heeltemal oortrek van die onkruid,

toegegroei onder die bossies,

en die klipmuur was omgeval.

32Toe ek dit sien, het ek daaroor nagedink

en daar iets uit geleer:

33nog 'n bietjie slaap, nog 'n bietjie sluimer,

nog 'n bietjie handevou om te slaap,

34en daar kom jou armoede aangestap,

daar oorval die gebrek jou soos 'n inbreker, sonder dat jy dit kan keer.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS