Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 183

Jeremia 28–32, Psalm 53

Bybelteks(te)

Die vals profeet Gananja

1In daardie tyd, in die vyfde maand van die vierde regeringsjaar van koning Sedekia van Juda, dit was dus in die eerste deel van sy regering, het die profeet Gananja seun van Assur uit Gibeon vir my in die teenwoordigheid van die priesters en die hele volk in die huis van die Here gesê: 2“So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Ek sal die juk wat die koning van Babel julle oplê, verbreek. 3Oor twee jaar sal Ek al die voorwerpe uit my tempel, wat koning Nebukadnesar van Babel uit hierdie plek uit na Babel toe gevat het, hierheen laat terugbring. 4Ek sal ook vir koning Jojagin van Juda, seun van Jojakim, en al die ballinge van Juda wat deur Nebukadnesar na Babel toe gevat is, na hierdie plek toe terugbring, sê die Here, want Ek sal die juk wat Babel se koning julle oplê, verbreek.”

5Toe antwoord die profeet Jeremia die profeet Gananja in die teenwoordigheid van die priesters en die hele volk wat in die huis van die Here gestaan het. 6Die profeet Jeremia het gesê: “Ek sou dit ook graag so wou hê. Mag die Here dit doen. Mag die Here bevestig wat jy as profeet gesê het en die voorwerpe uit die huis van die Here en al die ballinge na hierdie plek toe terugbring uit Babel. 7Maar luister tog na wat ek nou gaan sê sodat jy en die hele volk dit kan hoor. 8Die profete uit die dae voor jou en my het lankal vir baie lande en oor groot koninkryke oorlog en rampe en peste aangekondig. 9Maar die profeet wat voorspoed aankondig, is net aanvaar as profeet wat werklik deur die Here gestuur is, wanneer so 'n profeet se woord uitkom.”

10Toe vat die profeet Gananja die juk van die profeet Jeremia se nek af en breek dit stukkend. 11Gananja het voor die hele volk gesê: “So sê die Here: So sal Ek oor twee jaar die juk verbreek wat deur koning Nebukadnesar van Babel gesit is op die nek van al die nasies.”

Die profeet Jeremia is toe daar weg.

12Nadat die profeet Gananja die juk op die profeet Jeremia se nek gebreek het, het die woord van die Here tot Jeremia gekom: 13Gaan sê vir Gananja: So sê die Here: Jy het houtjukke stukkend gebreek. In plaas daarvan sal jy ysterjukke dra. 14So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Ek sit 'n ysterjuk op die nek van al hierdie nasies: hulle sal vir koning Nebukadnesar van Babel dien. Hulle sal hom dien, en Ek stel ook die wilde diere tot sy beskikking.

15Die profeet Jeremia het toe vir die profeet Gananja gesê: Luister, Gananja! Die Here het jou nie gestuur nie. Jy laat hierdie volk staatmaak op leuens. 16Daarom, sê die Here, gaan Ek jou wegvee van die aarde af. Jy sal vanjaar nog sterf, want jy het opstand teen die Here gepreek.

17In die sewende maand van daardie jaar is die profeet Gananja dood.

'n Brief aan die ballinge

1Dit is 'n afskrif van die brief wat die profeet Jeremia uit Jerusalem gestuur het na die leiers van die ballinge wat nog oor was, en na die priesters en die profete en die hele volk wat deur Nebukadnesar uit Jerusalem na Babel toe weggevoer is. 2Jeremia het die brief gestuur nadat koning Jojagin en die koninginmoeder, die paleispersoneel en die amptenare van Juda en Jerusalem, die ambagsmanne en die bouers uit Jerusalem weg is. 3Jeremia het die brief gestuur met Elasa seun van Safan en met Gemarja seun van Gilkija wat deur koning Sedekia van Juda na koning Nebukadnesar van Babel toe gestuur is.

4So sê Ek, die Here die Almagtige, die God van Israel, vir al die ballinge wat Ek uit Jerusalem in ballingskap na Babel toe weggevoer het: 5Bou vir julle huise en bewoon dit, lê tuine aan en eet die opbrengs daarvan, 6trou en bring kinders in die wêreld, en laat hulle trou en kinders in die wêreld bring. Julle moet daar in Babel baie word, nie min nie. 7Bevorder die belange van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange.

8So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Moenie dat die profete en waarsêers daar by julle julle mislei nie. Moenie ag slaan op daardie drome wat julle so graag droom nie. 9Daardie mense tree sonder opdrag op as profete in my Naam. Ek het hulle nie gestuur nie, sê die Here.

10So sê die Here: Oor presies sewentig jaar sal Ek Babel straf en julle onder my sorg neem en dan sal Ek my belofte nakom om julle hier na Jerusalem toe terug te bring. 11Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting! 12Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor. 13Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra. 14Julle sal My ontmoet, sê die Here, en Ek sal julle terugbring uit die ballingskap uit. Ek sal julle bymekaarmaak tussen al die nasies uit en van al die plekke af waarheen Ek julle verstrooi het, sê die Here, en Ek sal julle terugbring na die plek toe waarvandaan Ek julle in ballingskap weggevoer het.

15Julle sou kon sê: “Nee, die Here het vir ons profete in Babel gegee,” 16maar so sê die Here oor die koning wat nou op die troon van Dawid sit en oor die hele volk wat in hierdie stad woon, julle volksgenote wat nie saam met julle in ballingskap weggevoer is nie, 17ja, so sê die Here die Almagtige: Ek laat oorlog, hongersnood en pes onder hulle los en Ek maak hulle soos oopgebarste vye wat so sleg is dat 'n mens dit nie kan eet nie. 18Ek sal die volk agtervolg met oorlog en met hongersnood en met pes. Ek maak hulle tot iets waarvoor al die koninkryke van die aarde sal skrik: onder al die nasies waaronder Ek hulle sal verstrooi, sal hulle naam gebruik word wanneer mense ander wil vervloek, wil bang maak, wil beledig of wil verneder.

19Hulle het nie na my waarskuwings geluister toe Ek my dienaars die profete vroeg en laat na hulle toe gestuur het nie, sê die Here. Julle ballinge het ook nie geluister nie, sê die Here.

20Hoor die woord van die Here, al julle ballinge wat Ek uit Jerusalem na Babel toe weggestuur het! 21So sê die Here die Almagtige, die God van Israel, vir Agab seun van Kolaja en vir Sedekia seun van Maäseja wat sonder opdrag in my Naam as julle profete optree: Ek sal hulle oorgee in die mag van koning Nebukadnesar van Babel, en hy sal hulle voor julle oë om die lewe bring. 22En hulle name sal as 'n vervloeking gebruik word deur al die Joodse ballinge in Babel, wat sal sê: “Mag die Here jou maak soos Sedekia en soos Agab vir wie die koning van Babel verbrand het.” 23Hulle het 'n afskuwelike ding in Israel gedoen: hulle het gehoereer met hulle bure se vrouens en ook vals in my Naam gepraat terwyl Ek hulle nie 'n opdrag gegee het nie. Ek weet dit, Ek is getuie daarvan, sê die Here.

24Vir Semaja die Negelamiet moet jy sê: 25So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Jy het op eie houtjie na die hele volk in Jerusalem briewe gestuur en ook na die priester Sefanja seun van Maäseja en na al die ander priesters toe en geskryf: 26“Die Here het jou as priester aangestel in die plek van die priester Jojada sodat jy kan toesig hou oor die huis van die Here. Jy moet elke malle wat as profeet optree, in die blok en in die nekyster sit. 27Waarom het jy nie nou vir Jeremia die man uit Anatot wat vir julle as profeet optree, tereggewys nie? 28Daarom het hy die boodskap hier na ons toe in Babel gestuur: die ballingskap sal nog lank aanhou. Bou huise en bewoon dit, lê tuine aan en eet die opbrengs daarvan.”

29Maar die priester Sefanja het hierdie brief vir die profeet Jeremia voorgelees, 30en toe het die woord van die Here tot Jeremia gekom: 31Stuur hierdie boodskap na al die ballinge toe. So sê die Here vir Semaja die Negelamiet: Omdat Semaja vir julle as profeet opgetree het hoewel Ek hom nie gestuur het nie, en hy julle op 'n leuen laat staatmaak het, 32daarom, so sê die Here, sal Ek vir Semaja die Negelamiet straf en ook sy nageslag. Hy sal geen familielid onder hierdie volk oorhê nie en hy sal nie deel in die goeie wat Ek vir my volk sal doen nie, sê die Here. Hy het opstand teen My gepreek.

Die Here sal die lot van Israel en Juda verander

1Dit is die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het.

2So sê die Here die God van Israel: Skryf alles wat Ek met jou gepraat het, in 'n boek. 3Daar kom 'n tyd, sê die Here, dat Ek die lot van my volk Israel en Juda sal verander en hulle sal terugbring om die land te besit wat Ek aan hulle voorvaders gegee het, sê die Here.

4Dit is die woorde wat die Here oor Israel en Juda gesê het.

5So sê die Here:

Ek hoor angskrete;

daar is vrees, nie vrede nie.

6Gaan kyk self, vra gerus:

Kan 'n man 'n kind in die wêreld bring?

Waarom sien Ek dan elke man

met sy hande op sy maag soos 'n vrou wat in kraam is?

Waarom het elke gesig doodsbleek geword?

7Daar wag ellende!

Dit is 'n vreeslike dag, sonder gelyke.

Dit is 'n tyd van swaarkry vir Jakob,

maar hy sal daaruit gered word.

8Daardie dag, sê die Here die Almagtige,

sal Ek die juk van die vyand afgooi van julle nekke af en julle vrymaak.

Julle sal nie meer uitlanders dien nie,

9want julle sal die Here julle God

en julle koning Dawid dien.

Ek sal hom koning maak oor julle.

10Moenie bang wees nie, my dienaar Jakob,

moenie skrik nie, Israel, sê die Here.

Ek red jou uit plekke wat ver weg is,

jou nakomelinge uit die land waar hulle ballinge is.

Jakob sal weer veilig wees en vrede hê,

niemand sal hom laat bang word nie.

11Ek is by jou, sê die Here,

Ek sal jou red!

Ek sal al die nasies uitwis

onder wie Ek jou verstrooi het,

maar Ek sal jou nie uitwis nie.

Ek sal jou nie ongestraf laat nie,

maar Ek sal jou regverdig straf.

12So sê die Here:

Jou wond is ongeneeslik,

jou siekte dodelik.

13Niemand kan jou saak stel nie;

daar is nie 'n raat vir jou sweer nie.

14Almal wat jou liefgehad het, het jou vergeet,

hulle gee nie vir jou om nie.

Ek het jou geslaan soos 'n vyand dit sou doen:

Ek het jou wreed gestraf,

want jou ongeregtigheid is groot,

jou sondes baie.

15Waarom skreeu jy oor jou wond,

oor jou siekte wat ongeneeslik is?

Ek het jou hierdie dinge aangedoen

omdat jou ongeregtigheid groot is,

jou sondes baie.

16Almal wat jou verteer, sal verteer word,

al jou teëstanders sal in ballingskap weggevoer word,

dié wat jou plunder, sal geplunder word,

dié wat jou as buit behandel, sal self buit word.

17Ek sal jou gesond maak,

jou wonde genees, sê die Here,

selfs al noem hulle jou:

Die stad wat verstoot is,

Sion vir wie niemand omgee nie.

18So sê die Here:

Ek sal die lot van Jakob se woonplekke verander,

Ek sal My ontferm oor die streke waar hy woon:

sy stad sal uit sy puin herbou word,

sy paleis sal staan waar hy hoort.

19Daar sal lofsange uit hulle kom,

feesliedere!

Ek sal my volk baie maak,

hulle sal nie minder word nie.

Ek sal eer aan hulle gee,

hulle sal nie geminag word nie.

20Sy kinders sal weer soos tevore wees,

die gemeente in hom sal 'n blywende plek hê

in my teenwoordigheid.

Ek sal almal straf wat hom verdruk.

21Sy leier sal een van sy eie mense wees,

sy regeerder sal uit sy eie kring kom.

Ek sal hom laat nader kom

en hy sal na My toe kom.

Wie is hy wat sy lewe sal waag

om na My toe te kom? sê die Here.

22Julle sal my volk wees,

en Ek sal julle God wees.

23Die toorn van die Here sal losbreek soos 'n storm,

dit sal maal soos 'n dwarrelwind

en losbars oor die koppe van die goddeloses.

24Sy gloeiende toorn sal nie bedaar

voordat Hy sy plan deurgevoer het nie.

Daar kom 'n tyd dat julle dit alles sal begryp.

1Daardie tyd, sê die Here,

sal Ek die God van al die stamme van Israel wees,

en hulle sal my volk wees.

2So sê die Here:

Israel, die volk wat aan die swaard ontkom het,

is begenadig in die woestyn,

hy sal na sy rusplek toe kom.

3Van ver af het die Here Hom aan Israel bekend gemaak:

Ek het jou nog altyd liefgehad,

daarom het Ek jou met geduld verdra.

4Ek sal aan jou kinders gee, Israel,

jy sal kinders in die wêreld bring.

Jy sal weer jou tamboeryne dra,

jy sal uitgaan om te dans saam met dié wat bly is.

5Jy sal weer wingerde plant op die Samariaberge,

die boere sal dit plant en die vrugte daarvan geniet.

6Die dag het aangebreek,

die dag waarop dié wat wag staan,

op die Efraimsberge sal roep:

“Kom ons gaan na Sion toe,

na die Here ons God toe.”

7So sê die Here:

Sing van blydskap oor Jakob, die leier onder die nasies,

juig oor hom!

Laat hoor julle loflied, en sê:

Red u volk, Here,

red wat van Israel oorgebly het!

8Ek laat kom hulle uit die land in die noorde,

Ek vergader hulle van die uithoeke van die aarde af:

onder hulle is blindes en kreupeles,

swanger vrouens en vrouens in kraam.

'n Groot gemeente sal hiernatoe terugkom.

9In trane sal hulle kom, met smeekgebede,

maar Ek sal hulle lei,

Ek sal hulle by waterstrome bring,

op 'n gelyk pad, niemand sal struikel nie,

want Ek het Israel se Vader geword,

Efraim is my eersgeborene.

10Hoor die woord van die Here, nasies,

vertel dit aan die verste eilande!

Julle moet sê:

Hy wat vir Israel verstrooi het, sal hom bymekaarmaak.

Die Here sal hom oppas soos 'n wagter sy trop skape oppas.

11Die Here het vir Jakob bevry,

hulle gered uit die mag van een wat sterker as hulle is.

12Hulle sal kom en op die Sionshoogte sing,

hulle sal straal van blydskap oor die goeie

wat deur die Here gegee word:

oor koring, wyn en olie,

oor die aanteel van kleinvee en grootvee.

Hulle sal floreer soos 'n tuin wat goed natgelei word,

hulle sal nie meer na water smag nie.

13Dan sal die jong meisies dans van blydskap

saam met die jong mans en die ou mans.

Ek sal hulle droefheid in vreugde verander,

Ek sal vir hulle uitkoms gee:

Ek sal hulle bly maak,

hulle sal geen kommer meer hê nie.

14Ek sal 'n oorvloed goeie kos vir die priesters gee,

my volk sal oorgenoeg hê aan die goeie wat Ek gee, sê die Here.

15So sê die Here:

'n Gekerm word op Rama gehoor,

'n gehuil vol hartseer:

Ragel treur oor haar kinders,

sy wil haar nie laat troos nie,

want haar kinders is weg.

16So sê die Here: Bly stil, moenie huil nie,

moenie trane in jou oë hê nie!

Vir al jou swaarkry sal jy vergoed word,

sê die Here,

jou kinders sal uit die vyand se land terugkom.

17Daar is 'n toekoms vir jou nageslag, sê die Here,

jou kinders sal na hulle besitting toe terugkom.

18Ek het duidelik gehoor hoe Efraim kla:

“U het my gestraf,

ek is ingebreek soos 'n kalf wat mak gemaak is.

Bring my terug na U toe dat ek my kan bekeer,

want U is die Here my God.

19Ek het weggedwaal, maar ek het berou gehad,

ek het tot insig gekom en myself vol berou op die heupe geslaan,

ek het my geskaam, ek het skande oor my gebring,

ek is verneder oor die sondes van my jeug af.”

20Efraim is nie my troetelkind nie,

'n kind in wie Ek My verlustig nie,

en tog, elke keer as Ek hom bestraf,

dink Ek met hartseer aan hom

en is Ek ontstel oor hom,

want Ek het hom baie lief,

sê die Here.

21Rig vir jou padwysers op,

bring vir jou rigtingborde aan,

hou jou oog op die grootpad,

op die pad wat jy moet loop.

Kom terug, Israel,

kom terug na jou stede toe.

22Hoe lank gaan jy nog talm,

jy wat so dikwels jou eie koers gaan?

Die Here skep iets nuuts in jou land:

Israel sal die Here liefhê.

23So sê die Here die Almagtige, die God van Israel:

Wanneer Ek hulle lot verander,

sal hulle weer in Juda en in sy stede sê:

Die Here sal jou seën, regmatige woonplek,

heilige berg!

24Mense sal saam woon in Juda en in sy stede,

boere en veewagters wat rondtrek.

25Ek gee nuwe krag aan dié wat moeg is,

Ek maak die moedelose weer vol moed.

26Dit is waarom Ek ingryp:

Ek het alles gesien,

Ek sal nie terugkom op my besluit nie.

27Daar kom 'n tyd, sê die Here,

dat Ek Israel en Juda weer sal vol maak met mense en diere.

28Ek was gretig om hulle uit te ruk en af te breek,

om hulle plat te slaan en te vernietig,

om rampe oor hulle te bring.

Ek sal net so gretig wees om hulle op te bou en hulle te plant, sê die Here. 29In daardie tyd sal hulle nie meer sê: “Die vaders het groen druiwe geëet, en die kinders se tande het stomp geword” nie. 30Elke mens sal oor sy eie sonde sterf: wie groen druiwe eet, se tande sal stomp word.

31Daar kom 'n tyd, sê die Here, dat Ek met Israel en Juda 'n nuwe verbond sal sluit. 32Dit sal nie wees soos die verbond wat Ek met hulle voorvaders gesluit het toe Ek hulle aan die hand gevat en uit Egipte laat trek het nie. Hulle het daardie verbond wat Ek met hulle gesluit het, verbreek al was Ek getrou aan hulle, sê die Here. 33Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here: Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees. 34'n Man sal nie meer vir sy buurman of vir sy broer voorhou: “Jy moet die Here dien” nie, want almal sal My dien, klein en groot, sê die Here. Ek sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie.

35So sê die Here,

Hy wat die son bedags laat skyn,

die maan en sterre beveel om snags te skitter,

Hy wat die see onstuimig laat word, wat sy golwe laat druis,

wie se Naam Here die Almagtige is:

36Eers as hierdie dinge uit my teenwoordigheid verdwyn, sê die Here, sal die nageslag van Israel ophou om vir altyd in my teenwoordigheid 'n nasie te wees.

37So sê die Here:

As die hemel daarbo afgemeet kan word

en as die fondamente van die aarde daaronder vasgestel kan word,

sal Ek die hele nageslag van Israel verwerp

oor alles wat hulle gedoen het, sê die Here.

38Daar kom 'n tyd, sê die Here, dat hierdie stad vir My herbou sal word van die Gananeltoring af tot by die Hoekpoort. 39Die maatlyn sal van daar af reguit loop tot by die Garebheuwel en dan sal dit swaai na Goa toe. 40Die hele dal waar lyke en as weggegooi word, en al die terrasse tot by Kedronspruit en ooswaarts tot by die Perdepoort sal aan die Here gewy wees. Dit sal nooit weer uitgeruk of platgeslaan word nie.

Jeremia koop grond

1Dit is die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het in die tiende regeringsjaar van koning Sedekia van Juda. Dit was die agtiende regeringsjaar van koning Nebukadnesar 2van Babel wie se leër juis toe vir Jerusalem beleër het. Die profeet Jeremia was in daardie tyd ingeperk in die binneplaas van die paleiswag van Juda. 3Koning Sedekia van Juda het vir Jeremia daar ingeperk en gevra: “Waarom sê jy die dinge as profeet? Jy sê: So sê die Here: Ek gee hierdie stad in die mag van die koning van Babel. Hy sal dit verower. 4Koning Sedekia van Juda sal nie vrykom uit die mag van die Galdeërs nie. Hy sal beslis uitgelewer word aan die koning van Babel en persoonlik met hom praat en hom met sy eie oë sien. 5Die koning van Babel sal vir Sedekia na Babel toe vat, en hy sal daar bly, sê die Here. Dit is my straf vir hom. As julle teen die Babiloniërs oorlog maak, sal julle die neerlaag ly.”

6Jeremia het vir Sedekia geantwoord: “Die woord van die Here het tot my gekom: 7Jou oom Sallum se seun Ganamel sal na jou toe kom en sê: ‘Koop my stuk grond wat in Anatot is vir jou, want volgens die lossingsreg moet jy dit koop.’

8“Soos die Here gesê het, het my neef Ganamel na my toe gekom in die binneplaas van die paleiswag en vir my gesê: ‘Koop tog my stuk grond wat in Anatot is in die gebied van Benjamin. Dit is jou reg om dit te besit, jy het die lossingsreg. Koop dit vir jou.’ Ek het toe geweet dit is die woord van die Here 9en ek het die stuk grond wat in Anatot is, by my neef Ganamel gekoop. Ek het vir hom twee honderd gram silwer afgeweeg. 10Nadat ek die kontrak geskryf en die seël daarop gesit het en dit deur getuies laat teken het, het ek die silwer vir hom afgeweeg op 'n skaal. 11Toe het ek die koopkontrak met die voorwaardes en die bepalings daarop, die kontrak met die seël en die afskrif sonder seël, gevat 12en in die teenwoordigheid van my neef Ganamel en van die getuies wat dit geteken het en van al die Judeërs wat in die binneplaas van die paleiswag gesit het, vir Baruk seun van Nerija, seun van Magseja, gegee.

13“In hulle teenwoordigheid het ek vir Baruk beveel: 14‘So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Vat hierdie dokumente, die koopkontrak met die seël en die afskrif sonder seël en sit hulle in 'n kleipot sodat hulle lank kan hou, 15want so sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Daar sal weer huise en grond en wingerde in hierdie land gekoop word.’

16“Nadat ek die koopkontrak vir Baruk seun van Nerija gegee het, het ek tot die Here gebid: 17Ag, Here my God, U het die hemel en die aarde gemaak deur u groot mag. Niks is vir U onmoontlik nie. 18U bewys u troue liefde aan duisende geslagte, maar U straf kinders vir die sondes van hulle ouers. Groot en magtige God, u Naam is Here die Almagtige. 19U besluite is magtig, u dade groot. U sien alles wat die mense doen. U gee aan elkeen wat hom toekom, U beloon elkeen volgens sy dade. 20Die tekens en wonders wat U in Egipte gedoen het, doen U nou nog in Israel en onder die mense. So maak U vir U 'n Naam tot vandag toe.

21“U het u volk Israel uit Egipte laat wegtrek met tekens en met wonders, met magtige dade en met wonderlike groot dade waarvoor mense vreesbevange was. 22U het hierdie land vir u volk gegee, die land wat U met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het om aan hulle te gee, 'n land wat oorloop van melk en heuning. 23U volk het gekom en dit in besit geneem, maar hulle was ongehoorsaam. Hulle het nie u wet onderhou nie, hulle het nie gedoen wat U hulle beveel het om te doen nie. Daarom het U al hierdie rampe oor hulle laat kom. 24Daar is beleëringswalle teen die stad opgegooi om dit te verower, en die stad is deur die swaard en hongersnood en pes oorgegee in die mag van die Galdeërs wat daarteen veg. Wat U gesê het, gebeur nou. U sien dit self. 25En tog sê U, Here my God, vir my: ‘Gaan koop vir jou 'n stuk grond met silwer en sorg dat jy getuies het,’ en dít noudat die stad in die mag van die Galdeërs gegee is.”

Ek sal my volk terugbring

26Die woord van die Here het tot Jeremia gekom: 27Ek is die Here die God van al die mense. Is iets vir My onmoontlik? 28So sê die Here: Ek gee hierdie stad in die mag van die Galdeërs, in die mag van koning Nebukadnesar van Babel. Hy sal dit verower. 29Die Galdeërs wat teen hierdie stad veg, sal dit aan die brand kom steek en dit afbrand, ook die huise waar die inwoners My getart het toe hulle vir Baäl wierook gebrand het op die dakke en waar hulle drankoffers vir ander gode uitgegiet het.

30Die mense van Israel en Juda het van jongs af net gedoen wat verkeerd is in my oë. Die Israeliete het My getart met goed wat hulle self gemaak het, sê die Here. 31Van die dag af dat hierdie stad gebou is, tot nou toe het dit my gloeiende toorn so laat ontvlam dat Ek die stad wil wegvee voor My. 32Die mense van Israel en Juda het My getart met al die verkeerde dinge wat hulle gedoen het, hulle, hulle konings, hulle amptenare, hulle priesters, hulle profete, elkeen in Juda, al die inwoners van Jerusalem. 33Hulle het hulle rug na My toe gedraai, nie hulle gesigte nie. Ek het hulle vroeg en laat geleer om goed te luister, maar hulle wou nie hoor nie, hulle wou nie uit straf leer nie. 34Hulle het hulle afskuwelike afgode in die huis gesit waaroor my Naam uitgeroep is en so het hulle my huis verontreinig. 35Hulle het hoogtes vir Baäl gebou in die Ben-Hinnomdal om hulle seuns en dogters vir Molek as offers te laat verbrand. Ek het hulle dit nie beveel nie; so 'n afskuwelike gedagte om vir Juda te laat sonde doen, het nie eens by My opgekom nie.

36Tog, so sê die Here die God van Israel vir hierdie stad waarvan julle sê dit sal deur die swaard en hongersnood en pes in die mag van die koning van Babel gegee word: 37Ek sal hulle bymekaarmaak uit al die lande waarheen Ek hulle verjaag het in my gloeiende toorn en in my groot woede. Ek sal hulle hierheen terugbring en hulle sal hier rustig kom woon. 38Hulle sal my volk wees en Ek sal hulle God wees. 39Ek sal hulle 'n onverdeelde hart en 'n vaste koers gee: hulle sal My altyd dien vir hulle eie beswil en vir dié van hulle kinders na hulle. 40Ek sal 'n blywende verbond met hulle sluit. Ek sal nooit ophou om aan hulle goed te doen nie en Ek sal in hulle die begeerte lê om My te dien en nie van My af weg te draai nie. 41Ek sal dit geniet om goed te doen aan hulle in my trou; met alles wat Ek is, sal Ek hulle weer in dié land vestig.

42So sê die Here: Soos Ek hierdie groot ramp oor hierdie volk gebring het, so sal Ek ook al die goeie wat Ek hulle beloof het, na hulle toe bring. 43Daar sal weer grond gekoop word in hierdie land waarvan julle sê: “Dit is verwoes, sonder mens of dier, oorgegee in die mag van die Galdeërs.” 44Grond sal vir silwer gekoop word, kontrakte sal geskryf word met seëls daarop en getuies daarvan. Dit sal gebeur in die gebied van Benjamin en in die omgewing van Jerusalem, in die stede van Juda: in die stede van die Bergland en van die Laeveld en in die stede van die Suidland. Ek sal hulle lot verander, sê die Here.

Daar is nie een wat goed doen nie

(Vgl. Ps. 14)

1Vir die koorleier: met fluitspel. 'n Gedig van Dawid.

2Die dwaas dink daar is geen God nie.

Dwase mense vernietig alles;

wat hulle doen, is 'n gruwel vir God.

Daar is nie een wat goed doen nie.

3Van die hemel af kyk God die mense deur

om te sien of daar één verstandige is,

één wat na die wil van God vra.

4Almal het afgedwaal,

die laaste een het ontaard,

daar is niemand wat goed doen nie,

selfs nie één nie.

5Julle wat onreg pleeg,

wat my volk opeet asof julle brood eet,

en wat weier om God te dien –

weet julle dan nie

6dat daar iets vreesliks met julle gaan gebeur,

so vreeslik soos nooit tevore nie?

God sal die bene van dié wat teen sy volk wil veg,

op die slagveld verstrooi.

Sy volk sal hulle op die vlug laat slaan,

want God het hulle verwerp.

7Ag, mag daar tog uit Sion vir Israel redding kom!

Wanneer God die lot van sy volk verander,

sal Jakob juig, sal Israel bly wees.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS