Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 182

Jeremia 23–27, Spreuke 23

Bybelteks(te)

Die regverdige koning

1Ellende wag vir julle, herders deur wie die skape uit my kudde doodgemaak en verstrooi word, sê die Here. 2Daarom, so sê die Here die God van Israel oor die herders wat my volk moet versorg: Julle het my skape uitmekaargejaag en verstrooi, julle het hulle nie opgepas nie, en daarom gaan Ek julle straf vir al die verkeerde dade wat julle gedoen het, sê die Here. 3Maar Ek sal self dié van my kudde wat oorgebly het, gaan bymekaarmaak in al die lande waarheen Ek hulle verstrooi het. Ek sal hulle terugbring na hulle weiveld toe waar hulle vrugbaar sal wees en baie sal word. 4Dan sal Ek herders oor hulle aanstel, en dié sal hulle versorg, en hulle sal nie meer bang of verskrik wees nie en hulle sal nie meer wegraak nie, sê die Here.

5Daar kom 'n tyd, sê die Here,

dat Ek vir Dawid 'n regverdige spruit sal laat opskiet,

'n koning wat verstandig sal regeer.

Hy sal die reg eerbiedig

en regverdig regeer in sy land.

6In sy tyd sal Juda gered word

en sal Israel veilig woon.

Sy naam sal wees:

Die Here regeer regverdig oor ons.

7Daar kom 'n tyd, sê die Here, dat die mense nie meer sal sê: “So seker as die Here leef wat vir Israel uit Egipte laat trek het nie”, 8maar hulle sal sê: “So seker as die Here leef wat die nageslag van Israel met sorg teruggebring het uit die land in die noorde en uit al die lande waarheen Hy hulle verstrooi het.”

Dan sal hulle weer in hulle eie land woon.

Profeet en priester is albei godloos

9Teen die profete:

My hart is stukkend geslaan, my hele liggaam bewe.

Ek is soos 'n dronk mens,

soos iemand wat deur drank oorweldig is.

Ek het so geword deur die Here,

deur sy heilige woorde.

10Die land het vol mense geword wat hoereer;

deur die vervloeking wat op die land rus,

het hy verdroog,

het die weiveld verdor.

Die koers wat die profete inslaan, is verkeerd,

hulle misbruik hulle mag.

11Profeet en priester is albei godloos,

Ek tref hulle sondes selfs in my huis aan,

sê die Here.

12Daarom sal hulle pad glibberig word,

hulle sal weggelei word na donker plekke toe,

daar sal hulle val.

Ek sal 'n ramp oor hulle bring

wanneer Ek hulle straf, sê die Here.

13Ek het iets afstootliks onder Samaria se profete gesien:

hulle tree in Baäl se naam op as profete

en verlei my volk Israel.

14Ek het iets afskuweliks onder Jerusalem se profete gesien:

hulle hoereer, hulle lieg en bedrieg,

hulle help dié wat verkeerd doen,

met die gevolg dat niemand hom van sy verkeerde dade bekeer nie.

Hulle het almal vir My soos Sodom geword,

Jerusalem se inwoners het soos Gomorra geword.

15Daarom, so sê die Here die Almagtige oor die profete:

Ek sal hulle galbitter kos laat eet

en gifwater laat drink,

want van Jerusalem se profete af

het godloosheid deur die hele land versprei.

16So sê die Here die Almagtige:

Julle moenie luister na wat die profete sê nie,

die profete wat vir julle as profete optree.

Hulle wek vals verwagtings by julle,

hulle praat oor visioene wat hulle self uitdink,

nie oor wat die Here sê nie.

17Hulle hou aan om vir dié wat My minag,

te sê: “Die Here sê daar sal vrede vir julle wees.”

Vir dié wat hardkoppig is, sê hulle:

“Daar sal nie 'n ramp oor julle kom nie.”

18Wie het in die raadskamer van die Here gestaan?

Wie het alles gesien?

Wie het gehoor wat Hy sê?

Ja, wie het na sy woord geluister,

wie het dit gehoor?

19Kyk, die gramskap van die Here laat 'n stormwind waai,

'n orkaan sal op die goddeloses afkom.

20Die toorn van die Here sal nie ophou

voordat Hy sy plan uitgevoer het

en gedoen het wat Hy besluit het nie.

Daar kom 'n tyd dat julle dit alles goed sal verstaan.

21Ek het nie hierdie profete gestuur nie,

tog het hulle met 'n boodskap rondgehardloop;

Ek het nie met hulle gepraat nie,

tog het hulle as profete opgetree.

22As hulle in my raadskamer gestaan het,

sou hulle my woorde aan my volk meegedeel het

en my volk van hulle verkeerde koers af laat wegdraai het,

van hulle sondige dade af.

23Ek is nie 'n God wat net naby is nie, sê die Here,

Ek is 'n God wat ook ver weg is.

24Niemand kan in 'n geheime plek wegkruip

sonder dat Ek hom sien nie, sê die Here.

Ek is oral in die hemel en op die aarde, sê die Here.

25Ek het gehoor wat sê die profete wat sonder opdrag in my Naam as profete optree. Hulle sê: “Ek het 'n droom gehad, ek het 'n droom gehad!”

26Hoe lank sal die profete wat sonder opdrag optree, die profete wat leuens uitdink om te verkondig, nog aanhou hiermee? 27Hulle dink hulle sal my volk my Naam laat vergeet met die drome wat hulle vir mekaar vertel, net soos hulle voorvaders my Naam deur die Baäl vergeet het. 28Die profeet wat 'n droom gehad het, mag vertel wat hy gedroom het, maar hy wat my woord ontvang het, moet my woord eerlik oordra. 'n Mens kan nie strooi met die beste koring vergelyk nie, sê die Here. 29My woord is soos vuur, sê die Here, soos 'n hamer waarmee klippe stukkend gebreek word.

30Daarom, sê die Here, is Ek teen die profete wat herhaal wat ander sê en dan voorgee dat dit van My af kom. 31Kyk, sê die Here, Ek is teen dié profete wat hulle eie stories vertel en dan sê: “Die Here sê so.” 32Kyk, sê die Here, Ek is teen dié profete wat drome wat nie plaasgevind het nie, as openbaring oorvertel, want hulle lei my volk op 'n dwaalspoor met hulle leuens en hulle praatjies. Ek het nie hierdie profete gestuur nie, Ek het hulle ook nie beveel om as profete op te tree nie. Hulle help my volk hoegenaamd nie, sê die Here.

33Jeremia, wanneer die volk of 'n profeet of 'n priester vir jou vra: “Wat is die uitspraak van die Here?” moet jy vir hulle vra: “Wat is die uitspraak?” Die Here sê: Ek steur My nie meer aan julle nie. 34Die profeet of die priester of die volk wat sê: “Die uitspraak van die Here,” moet weet Ek sal hom en sy familie straf. 35Julle vra vir mekaar, elkeen vir sy volksgenoot: “Wat antwoord die Here?” of: “Wat sê die Here?” 36Julle moenie meer verwys na die uitspraak van die Here nie, want elkeen maak sy eie woorde tot uitspraak van die Here. So verdraai julle die woorde van ons God, die Here die Almagtige, die lewende God.

37Julle vra vir die profeet: “Wat antwoord die Here jou?” of: “Wat sê die Here?” 38Al sê julle ook: “Dit is die uitspraak van die Here,” sê die Here nou: Julle sê: “Hierdie woorde is 'n uitspraak van die Here,” ten spyte daarvan dat Ek julle verbied het om te sê: “'n Uitspraak van die Here.” 39Daarom sal Ek julle heeltemal vergeet, Ek sal My nie meer aan julle steur nie, en ook nie aan die stad wat Ek aan julle en julle voorvaders gegee het nie. Ek wil julle nie meer sien nie. 40Ek sal vir altyd vernedering oor julle bring, blywende skande wat nie vergeet sal word nie.

Twee mandjies vye

1Die Here het my twee mandjies vye laat sien voor die tempel. Dit was bestem vir die tempel van die Here. Ek het die gesig gesien nadat koning Nebukadnesar van Babel vir koning Jojagin van Juda, seun van Jojakim, saam met die amptenare van Juda en die ambagsmanne en die bouers uit Jerusalem uit in ballingskap weggevoer het en hulle in Babel gebring het. 2Die een mandjie was vol goeie vye, so lekker soos voorvye. Die ander mandjie was vol slegte vye, so sleg dat 'n mens dit nie kon eet nie.

3Toe vra die Here vir my: Wat sien jy, Jeremia? en ek antwoord: “Vye. Die goeies is baie goed en die slegtes baie sleg, hulle is so sleg dat 'n mens hulle nie kan eet nie.”

4Die woord van die Here het tot my gekom: 5So sê die Here die God van Israel: Ek beskou die ballinge van Juda wat Ek vir hulle beswil uit hierdie plek uit na Galdeërland toe gestuur het, as net so goed as hierdie goeie vye. 6Vir hulle beswil sal Ek my oog oor hulle hou en Ek sal hulle na hierdie land toe terugbring. Ek sal hulle opbou, nie afbreek nie, Ek sal hulle plant, nie uitruk nie. 7Ek sal hulle die insig gee om My te ken. Ek is die Here! Hulle sal my volk wees, en Ek sal hulle God wees, want hulle sal heelhartig na My toe terugkom.

8Maar, so sê die Here, Ek sal koning Sedekia van Juda en sy amptenare en dié mense van Jerusalem wat oorgebly het, dié wat in hierdie land agterbly en dié wat in Egipte wil gaan woon, maak soos die slegte vye wat so sleg is dat 'n mens hulle nie kan eet nie. 9Ek sal vir Sedekia-hulle maak tot iets slegs, iets waarvoor al die koninkryke van die aarde sal skrik; in al die plekke waarheen Ek hulle sal verstrooi, sal hulle naam gebruik word wanneer mense ander wil verneder, wil spot, wil verkleineer of wil vervloek. 10Ek sal oorlog, hongersnood en pes onder hulle loslaat totdat hulle uitgeroei is uit die land wat Ek aan hulle en hulle voorvaders gegee het.

Sewentig jaar in ballingskap

1In die vierde regeringsjaar van koning Jojakim van Juda, seun van Josia, dit was die eerste regeringsjaar van koning Nebukadnesar van Babel, het daar 'n woord tot Jeremia gekom teen die hele volk Juda. 2Die profeet Jeremia het toe vir die hele volk Juda en vir al die inwoners van Jerusalem gesê: 3Van die dertiende jaar van koning Josia van Juda, seun van Amon, af tot nou toe, drie en twintig jaar lank, het die woord van die Here tot my gekom. Ek het vroeg en laat met julle gepraat, maar julle het nie geluister nie. 4Die Here het vroeg en laat sy dienaars die profete na julle toe gestuur, maar julle het nie geluister nie, julle het nie eers probeer luister nie. 5Hy het gesê: Julle moet julle bekeer van julle slegte lewe en van julle verkeerde dade. Dan sal julle bly woon in die land wat die Here lank gelede al vir altyd aan julle en julle voorvaders gegee het. 6Julle mag nie ander gode aanhang, dien en vereer nie. Julle mag My nie tart met die afgodsbeelde wat julle gemaak het nie, want dan sal Ek rampe oor julle bring.

7Maar julle het nie na My geluister nie, sê die Here. Julle het My bly tart met die afgodsbeelde wat julle gemaak het, en so het julle 'n ramp oor julleself gebring.

8So sê die Here die Almagtige: Omdat julle nie geluister het na wat Ek gesê het nie, 9vat Ek al die volke van die noorde, sê die Here, en Ek stuur hulle en my dienaar koning Nebukadnesar van Babel en Ek laat hulle optrek teen hierdie land en sy inwoners en teen al die nasies van die omgewing. Ek sal hulle uitroei en Ek sal hulle name vir altyd laat gebruik wanneer mense ander wil bang maak, wil skrikmaak of wil vervloek. Hulle lande sal vir altyd puinhope wees. 10Ek sal blydskap en vreugde van hulle af wegvat: die huweliksfeeste, die klank van die maalklippe en die lig van die lampe. 11Hierdie land sal 'n verlate puinhoop word en al hierdie nasies sal sewentig jaar lank die koning van Babel se onderdane wees.

12Maar wanneer die sewentig jaar om is, sal Ek die koning van Babel en daardie nasie in Galdeërland straf vir al hulle sondes, sê die Here. Ek sal hulle land vir altyd verwoes laat lê. 13Dan sal Ek alles wat Ek teen daardie land gesê het, alles wat in hierdie boek opgeteken staan en wat Jeremia as profeet teen daardie nasies aangekondig het, oor daardie land bring. 14Daardie nasies sal die onderdane word van baie nasies en van sterk konings. Ek sal hulle straf ooreenkomstig hulle dade en ooreenkomstig die afgodsbeelde wat hulle gemaak het.

Die oordeelsbeker

15So het die Here die God van Israel vir my gesê: Vat hierdie beker uit my hand. Dit is gevul met die wyn van my toorn. Jy moet al die nasies na wie toe Ek jou stuur, daaruit laat drink. 16Wanneer hulle dit drink, sal hulle waggel en slinger: dit is oorlog wat Ek onder hulle loslaat.

17Ek het die beker uit die hand van die Here gevat en al die nasies na wie toe Hy my gestuur het, laat drink 18om hulle te verwoes en om hulle name dan te laat gebruik wanneer mense ander wil bang maak, wil skrikmaak of wil vervloek: Jerusalem, die stede van Juda, sy konings en sy amptenare; 19die farao van Egipte, sy onderdane, sy amptenare, sy volk 20en die gemengde bevolking in Egipte; al die konings van Us, al dié van die Filistynse stede Askelon, Gasa, Ekron en wat van Asdod oorgebly het; 21Edom, Moab en die Ammoniete, 22al die konings van Tirus, Sidon, die kusstreke oorkant die see; 23Dedan, Tema, Bus, almal wat hulle koppe aan die kante kaal skeer; 24al die konings van Arabië en dié van die gemengde bevolking wat in die woestyn woon; 25al die konings van Simri, Elam en Medië, 26al die konings van die noorde, dié wat naby is en dié wat ver is, een na die ander, al die koninkryke wat oor die hele aarde versprei is. Heel laaste moet die koning van Sesak die beker drink.

27Jy moet vir hulle sê: So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Drink en word dronk en braak en val! Julle sal nie opstaan nie. Dit sal gebeur deur die oorlog wat Ek onder julle sal loslaat. 28Wanneer hulle weier om die beker uit jou hand te vat om te drink, moet jy vir hulle sê: So sê die Here die Almagtige: Drink sal julle drink! 29Kyk, Ek begin 'n ramp bring oor die stad waaroor my Naam uitgeroep is, en wil julle los uitstap, sonder om gestraf te word? Nee, Ek het die oorlog teen al die bewoners van die aarde ingeroep, sê die Here die Almagtige.

30Jy moet as profeet optree teen hulle en dit alles vir hulle sê:

Die Here brul in die hoogte,

Hy laat sy stem hoor in sy heilige woonplek,

Hy brul hard teen sy weiveld,

Hy roep van vreugde soos dié wat druiwe trap,

Hy sing 'n klaaglied oor al die bewoners van die land.

31Die klank sal trek tot in die uithoeke van die aarde,

want die Here kla die nasies aan,

Hy sal al die mense straf,

die goddeloses aan die oorlog uitlewer,

sê die Here.

32So sê die Here die Almagtige:

Daar trek 'n ramp van nasie tot nasie,

'n groot storm steek op van die uithoeke van die aarde af.

33Daardie dag sal dié wat deur die Here verslaan is, van die een uithoek van die aarde af tot in die ander uithoek lê. Niemand sal oor hulle treur nie, hulle sal nie bymekaargemaak en begrawe word nie. Hulle sal soos mis op die grond bly lê.

34Huil, herders, roep om hulp,

rol in die stof, leiers van die kudde!

Die dag het gekom dat julle geslag word.

Julle sal tot 'n val kom.

Ek sal julle stukkend slaan al is julle soos kosbare erdewerk.

35Daar sal nie vir die herders 'n plek wees

waarheen hulle kan vlug nie,

die leiers van die kudde sal nie kan ontsnap nie.

36Luister hoe skreeu die herders,

hoe huil die leiers van die kudde,

want die Here vernietig hulle weiveld.

37Die weivelde waar daar vrede was,

word uitgewis deur die gloeiende toorn van die Here.

38Die herder sal sy hut verlaat

soos die leeu van sy lêplek af padgee.

Hulle land sal verlate wees.

Die toorn wat alles platvee,

die gloeiende toorn van die Here sal dit alles doen.

Jerusalem sal soos Silo verwoes word

1Kort nadat Jojakim seun van Josia koning van Juda geword het, het hierdie woord van die Here gekom:

2So sê die Here: Gaan staan in die voorhof van die huis van die Here en praat met al die mense wat uit al die stede van Juda kom om in die huis van die Here te aanbid. Jy moet alles wat Ek jou beveel, vir hulle sê. Jy mag nie 'n enkele woord weglaat nie. 3Miskien sal hulle luister en hulle van hulle verkeerde lewe bekeer. Dan sal Ek die straf herroep wat Ek oor hulle wou bring oor hulle sondige dade. 4Jy moet vir hulle sê: So sê die Here: Julle moet na My luister en my wil doen wat Ek aan julle bekend gemaak het. 5Julle moet luister na wat my dienaars die profete sê, my profete wat Ek vroeg en laat na julle toe gestuur het sonder dat julle na hulle geluister het. 6As julle dit nie doen nie, sal Ek hierdie huis soos Silo maak en Ek sal hierdie stad maak tot iets waarmee al die volke van die wêreld ander vervloek.

7Die priesters, die profete en die hele volk het Jeremia hierdie dinge hoor sê in die huis van die Here. 8Toe Jeremia klaar vir die volk alles gesê het wat die Here hom beveel het om vir hulle te sê, het die priesters en die profete en die hele volk hom gepak en gesê: “Jy moet beslis sterf! 9Waarom tree jy in die Naam van die Here op as profeet en sê dan dat hierdie huis soos Silo sal word en dat hierdie stad verwoes sal word en sonder inwoners sal wees?”

Die hele volk het in die huis van die Here om Jeremia saamgedrom. 10Toe die amptenare van Juda al hierdie dinge verneem, is hulle van die paleis af na die tempel toe. Hulle het by die nuwe poort van die tempel gaan sit, 11en die priesters en die profete het vir hulle en vir die hele volk gesê: “Hierdie man moet die doodvonnis kry, want hy het as profeet hierdie dinge teen die stad gesê. Julle het dit self gehoor.”

12Toe antwoord Jeremia al die amptenare en die hele volk: “Die Here het my gestuur om as profeet op te tree teen hierdie huis en teen hierdie stad en om alles te sê wat julle gehoor het. 13Maar as julle nou goed doen en julle gedrag en optrede verander en luister na wat die Here julle God vir julle sê, sal Hy die straf herroep wat Hy oor julle aangekondig het. 14Ek is in julle mag. Maak met my wat goed en reg is in julle oë. 15Onthou net: As julle my doodmaak, sal julle die straf vir onskuldige bloedvergieting oor julle en oor hierdie stad en sy inwoners bring, want dit is so dat die Here my teen julle gestuur het om al hierdie dinge te sê sodat julle almal dit kan hoor.”

16Toe sê die amptenare en die hele volk vir die priesters en die profete: “Hierdie man mag nie die doodvonnis kry nie, want hy het met ons gepraat in die Naam van die Here ons God.”

17Daar het ook van die leiers van die land gekom en vir die hele volksvergadering gesê: 18“Miga van Moreset het in die dae van koning Hiskia van Juda as profeet opgetree en vir die hele volk van Juda gesê: So sê die Here die Almagtige:

“Sion sal soos 'n land geploeg word,

Jerusalem sal 'n puinhoop word,

die tempelberg 'n hoogte vol bossies.

19“Het koning Hiskia van Juda en die hele Juda toe vir Miga doodgemaak? Het Hiskia nie die Here gedien en om genade gesmeek nie? Het die Here nie die straf herroep wat Hy oor hulle aangekondig het nie? Ons is besig om 'n groot ramp oor ons te bring.”

20Daar was nog iemand wat in die Naam van die Here as profeet opgetree het, Urija seun van Semaja uit Kirjat-Jearim. Hy het as profeet opgetree teen hierdie stad en teen hierdie land en dieselfde dinge as Jeremia gesê.

21Toe koning Jojakim en al sy soldate en al sy amptenare hoor wat Urija sê, wou die koning hom doodmaak, maar Urija het dit te hore gekom en bang geword en Egipte toe gevlug. 22Koning Jojakim het toe vir Elnatan seun van Akbor en die manskappe by hom na Egipte toe gestuur, 23en hulle het vir Urija in Egipte gaan haal en na koning Jojakim toe gebring. Hy het toe vir Urija met 'n swaard om die lewe gebring en sy lyk in die plek gegooi waar die gewone mense begrawe is.

24Agikam seun van Safan was aan Jeremia se kant, met die gevolg dat hy nie aan die volk uitgelewer is sodat hulle hom kon doodmaak nie.

Dien die koning van Babel

1Kort nadat Sedekia seun van Josia koning van Juda geword het, het hierdie woord van die Here tot Jeremia gekom: 2So het die Here vir my gesê: Maak vir jou jukke met skeie en stroppe en sit een daarvan op jou nek. 3Die ander moet jy na die konings van Edom, Moab, Ammon, Tirus en Sidon toe stuur met die boodskappers wat na koning Sedekia van Juda in Jerusalem gekom het. 4Beveel die boodskappers om vir hulle konings te sê: So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Julle moet vir julle konings sê: 5Deur my groot krag en met my magtige dade het Ek die aarde, die mense en die diere wat op die aarde is, gemaak en Ek gee dit aan wie Ek wil. 6Ek gee al hierdie lande nou in die mag van my dienaar koning Nebukadnesar van Babel. Ek gee ook al die wilde diere aan hom vir sy gebruik. 7Al die nasies sal hom dien, hom en sy seun en sy kleinseun, totdat ook die dag vir sy land sal kom, en dan sal baie nasies en sterk konings hom onderwerp. 8Die nasie of koninkryk wat nie vir koning Nebukadnesar van Babel wil dien en onder die juk van Babel se koning wil buig nie, sal Ek met oorlog en met hongersnood en met pes straf, sê die Here. Ek sal hulle uitroei deur Nebukadnesar.

9Julle moenie luister na julle profete, julle besweerders, julle droomuitlêers, julle towenaars, julle goëlaars wat vir julle sê om nie die koning van Babel te dien nie. 10Dit is vals profete wat vir julle optree, en daardeur sal julle ver weggevat word uit julle land uit. Ek sal julle verban en julle sal omkom. 11Maar die nasie wat onder die juk van Babel se koning buig en hom dien, sal Ek in sy vaderland laat bly, sê die Here, en hy sal sy land bewerk en daar woon.

12Ek het dieselfde opdrag gegee aan koning Sedekia van Juda. Ek het gesê: Buig onder die juk van Babel se koning en dien hom en sy volk en bly so aan die lewe. 13Waarom wil jy en jou volk sterf deur die oorlog en die hongersnood en die pes waarmee Ek, die Here, elke nasie wat nie die koning van Babel wil dien nie, gedreig het? 14Moenie luister na die profete wat vir julle sê julle moenie die koning van Babel dien nie. Dit is vals profete wat vir julle optree. 15Ek het hulle nie gestuur nie, sê die Here. Hulle tree in my Naam op as profete, maar hulle bedrieg julle, en daarom sal Ek julle verban en sal julle omkom, julle en julle profete.

16Toe het ek, Jeremia, vir die priesters en hierdie hele volk gesê: So sê die Here: Moenie luister na julle profete nie. Hulle sê vir julle: “Die voorwerpe uit die huis van die Here sal baie gou teruggebring word uit Babel.” Daardie profete lieg vir julle. 17Moenie na hulle luister nie. Dien die koning van Babel, en bly lewe. Waarom moet hierdie stad verwoes word? 18As hulle werklik profete is en as die woord van die Here by hulle is, laat hulle dan by die Here die Almagtige pleit dat die voorwerpe wat nog in die huis van die Here is en dié in die koning van Juda se paleis en dié in Jerusalem, nie na Babel toe gevat word nie. 19So sê die Here die Almagtige van die pilare en die waterbak en die staanders, van al die ander voorwerpe wat nog oor is in hierdie stad, 20van alles wat koning Nebukadnesar van Babel nie saam met koning Jojagin van Juda, seun van Jojakim, en al die vername mense uit Juda en Jerusalem in ballingskap na Babel toe weggevoer het nie: 21-22dit sal na Babel toe gevat word en dit sal daar bly tot Ek dit weer onder my sorg sal neem, sê die Here. Dan sal Ek dit gaan haal en terugbring na hierdie plek toe. Dit is wat die Here die Almagtige, die God van Israel, sê van die voorwerpe wat nog oor is in die huis van die Here en in die paleis van die koning van Juda en in Jerusalem.

1As jy aansit om saam met 'n hoë amptenaar te eet,

wees tevrede met wat jou voorgesit word

2en bedwing jou as jy 'n groot eetlus het.

3Moenie sy lekker kos begeer nie;

dit kan jou duur te staan kom.

4Moet jou nie afsloof om ryk te word nie

en moenie jou sin vir waardes verloor nie.

5Jy het nog skaars die rykdom gesmaak of dit is weg;

dit kry vlerke en vlieg die lug in soos 'n arend.

6Moenie by 'n suinige mens gaan eet nie,

moenie sy lekker kos begeer nie,

7want hy bly uitreken hoeveel dit hom kos.

Dit is hoe hy is.

Hy moedig jou aan om te eet en te drink,

maar hy bedoel dit nie.

8Jy sal naar word van wat jy eet

en jou komplimente sal verkwis wees.

9Moenie 'n dwaas probeer reghelp nie;

hy sal jou verstandige raad met minagting behandel.

10Moenie grense verlê wat lankal daar is nie,

moenie weeskinders se grond vat nie,

11want hulle Beskermer is magtig,

Hy sal hulle saak teen jou behartig.

12Gee aandag aan wat ek jou voorskryf,

luister goed na wat ek jou leer.

13Moenie huiwer om 'n kind te straf nie,

want as jy hom slaan, red jy sy lewe.

14Jy moet hom juis slaan

om hom van die dood te red.

15My seun, as jy 'n wyse mens word,

sal dit my baie vreugde verskaf.

16Ek sal juig as wat jy sê, altyd reg is.

17Moenie afgunstig wees op sondaars nie;

wees altyd ywerig om die Here te dien;

18dan sal jy 'n toekoms hê

en jou hoop sal jou nie ontneem word nie.

19Luister, my seun, soek die regte insig:

bly op die regte pad;

20moet jou nie ophou met suiplappe en vrate nie,

21want die suiplap en die vraat word arm;

dronkenskap laat jou in vodde loop.

22Wees gehoorsaam aan jou vader en moeder, jy is hulle kind;

en moet hulle nie verag as hulle oud geword het nie.

23Hou by die waarheid, moet daar nie van afstand doen nie;

hou by wysheid, by selfbeheersing, by insig.

24'n Vader van 'n kind wat reg doen, voel baie gelukkig;

'n wyse seun verskaf sy vader groot vreugde.

25Mag ook jóú vader dié vreugde hê,

mag ook jóú moeder wat jou in die wêreld gebring het, so gelukkig wees!

26Glo my, my seun, en onthou wat ek jou leer:

27'n slegte vrou is soos 'n gevaarlike afgrond,

'n ander man se vrou is soos 'n put waaruit jy nie kan kom nie;

28sy lê op die loer soos 'n rower,

sy laat die een man na die ander 'n egbreker word.

29Wie is dit wat sug en steun,

wat rusie maak en kla,

onnodig seerkry en bloedbelope oë het?

30Dit is dié wat tot laat sit en drink,

dié wat aanhou proe aan drank.

31Moenie dat die wyn jou verlei as dit so rooi is,

so vonkel in die beker,

so lekker smaak nie.

32Agterna pik hy soos 'n slang,

spoeg hy gif soos 'n kobra.

33Dan sien jy vreemde dinge

en praat jy verkeerde dinge;

34dit voel of jy op die oop see lê,

of jy bo-op 'n seilskip se touwerk lê,

35en jy dink:

ek het dan nie seergekry toe hulle my geslaan het nie;

ek het nie gevoel toe hulle my aangeval het nie!

Wanneer word ek wakker?

Ek wil maar weer iets gaan soek om te drink.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS