Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 181

Jeremia 18–22, Psalm 52

Bybelteks(te)

Soos klei in die pottebakker se hand

1Die woord van die Here het tot Jeremia gekom: 2Gaan af na die pottebakker se huis toe, Ek sal daar met jou praat.

3Ek is toe af na die pottebakker se huis toe, en hy was juis besig om iets op die skyf te maak. 4Maar die ding wat hy aan die maak was uit die klei, het misluk, en hy het toe iets anders gemaak soos hy dit wou hê.

5Toe kom die woord van die Here tot my: 6Kan Ek nie met julle doen wat hierdie pottebakker met die klei gedoen het nie, Israel? vra die Here. Soos klei in die pottebakker se hand, so is julle in my hand, Israel. 7Een oomblik kondig Ek aan dat Ek 'n nasie, 'n koninkryk sal afbreek, sal uitroei, sal vernietig. 8Maar wanneer dié nasie hom bekeer van sy boosheid waaroor Ek hom wou straf, sien Ek af van die straf wat Ek oor hom wou bring, 9en die volgende oomblik kondig Ek aan dat Ek die nasie en die koninkryk sal bou en sal vestig. 10Maar wanneer hy doen wat verkeerd is in my oë en ongehoorsaam is aan My, sien Ek af van die goeie wat Ek aan hom wou doen.

11Maar sê nou vir die mense van Juda en die inwoners van Jerusalem: So sê die Here: Ek berei vir julle 'n ramp voor, Ek is besig om 'n besluit oor julle te neem. Elkeen moet hom van sy verkeerde lewe bekeer. Maak julle lewe en julle dade reg. 12Maar hulle sal sê: “Dit help nie. Ons wil lewe soos ons wil, elkeen wil sy eie koppige, slegte lewe lei.”

13Daarom, so sê die Here:

Vra tog onder die nasies

of iemand al van so iets gehoor het!

Israel het 'n afstootlike ding gedoen.

14Is die kranse van die Libanon ooit sonder sneeu,

droog sy koue bergstrome wat uit ver plekke kom, ooit op?

15Tog het my volk My vergeet

en wierookoffers gebring vir gode wat nie bestaan nie,

gode wat my volk laat struikel het op sy pad,

op die pad wat hy van ouds af loop;

hy het op ompaaie begin loop,

op ongebaande weë.

16Hy het hierdie land iets gemaak wat mense met afgryse vervul,

iets waaroor hulle altyd van verbasing sal fluit.

Elkeen wat daar verbykom, sal van verbasing die kop skud.

17Soos die oostewind sal Ek my volk

voor die vyand uit verdryf;

die dag as die ramp hulle tref,

sal Ek my rug na hulle toe draai

en hulle nie raaksien nie.

Jeremia: Laat my vyande tot 'n val kom

18Van die mense het gesê: “Kom ons maak 'n plan met Jeremia. Daar sal altyd priesters wees om ons die wil van die Here te leer en wyse manne wat vir ons raad kan gee en profete by wie ons die boodskappe van die Here kan hoor. Kom ons voer 'n skinderveldtog teen hom en ons steur ons nie aan wat hy sê nie.”

19Gee tog ag op my, Here,

hoor wat sê my vyande!

20Goed word tog nie met kwaad vergeld nie!

Maar hulle grawe 'n gat vir my om in te val.

Neem tog in ag hoe ek voor U kom staan

en vir hulle gepleit het

dat u toorn teen hulle sal bedaar.

21Maar laat hulle kinders nou van honger sterf,

laat daar oorlog oor hulle kom.

Maak hulle vrouens kinderlose weduwees:

laat die mans sterf aan die pes

en laat die jongmanne in die oorlog sneuwel.

22Laat 'n bende hulle skielik oorval,

sodat die jammerkrete uit hulle huise sal weerklink.

Hulle het 'n gat gegrawe om my te vang,

hulle het vir my strikke gestel.

23U, Here, ken hulle planne om my dood te bewerk;

moenie hulle oortredings vergewe nie,

moenie hulle sonde ongestraf laat nie,

laat hulle tot 'n val kom voor U,

tree teen hulle op terwyl U nog toornig is.

Soos hierdie kleipot gebreek het

1Die Here het gesê: Gaan koop 'n kleipot en vat van die leiers van die volk en die priesters saam 2en gaan af na die Ben-Hinnomdal toe regoor die Potskerfpoort en kondig daar aan wat Ek vir jou sal sê.

3Jy moet sê: Hoor die woord van die Here, konings van Juda en inwoners van Jerusalem! So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Ek gaan oor hierdie plek 'n ramp bring wat elkeen wat daarvan hoor, se ore sal laat tuit. 4Julle het My verlaat en hierdie plek verontreinig deur hier vir ander gode offers te bring, gode waarvan julle, julle voorvaders en die konings van Juda nie voorheen geweet het nie. Julle het op dié plek baie onskuldige bloed vergiet, 5julle het vir Baäl hoogtes gebou en julle seuns as brandoffers vir Baäl verbrand, 'n ding wat Ek nie beveel het nie en nie oor gepraat het nie en wat nooit by My opgekom het nie.

6Daarom kom daar 'n tyd, sê die Here, dat dié plek nie meer Tofet of Ben-Hinnomdal genoem sal word nie, maar Moorddal. 7Op hierdie plek sal Ek 'n end maak aan die planne van Juda en Jerusalem. Ek sal hulle vyande hulle met die swaard laat afmaai, hulle oorlewer in die mag van mense deur wie hulle nie gespaar sal word nie, en Ek sal hulle lyke deur voëls en roofdiere laat opvreet. 8En hierdie stad maak Ek iets waaroor mense net met afgryse vervul kan word en kan fluit. Elkeen wat hier verbykom, sal van verbasing fluit oor alles wat die stad getref het. 9Jerusalem sal beleër word deur vyande wat nie sy inwoners sal spaar nie. Hulle posisie sal benard word: Ek sal hulle hulle eie kinders laat eet, en die mense sal mekaar eet.

10Jy moet dan die pot breek voor die oë van die mense wat met jou saam is, 11en jy moet vir hulle sê: So sê die Here die Almagtige: Soos hierdie kleipot gebreek het en nie heelgemaak kan word nie, so sal Ek hierdie volk en hierdie stad breek. Hulle sal van Tofet 'n begraafplaas maak omdat daar nie ander plek sal wees nie. 12Dit is wat Ek aan dié plek en sy inwoners sal doen, sê die Here: Ek sal die stad soos Tofet maak. 13Die huise in Jerusalem en die paleise van die konings van Juda sal soos die Tofetplek onrein wees, al die huise waar daar op die dakke wierookoffers gebring is vir die son, die maan en die sterre, en waar daar drankoffers uitgegiet is vir vreemde gode.

Teen Pasgur

14Nadat Jeremia teruggekom het van Tofet af waar die Here hom as profeet laat optree het, het hy in die voorhof van die huis van die Here gaan staan en vir al die mense daar gesê: 15So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Ek gaan nou oor dié stad en oor al die ander stede al die onheil laat kom wat Ek laat aankondig het, want die mense het koppig gebly en wou nie ag gee op wat Ek vir hulle gesê het nie.

1Die priester Pasgur seun van Immer, wat hoofopsigter oor die tempel was, het gehoor hoe Jeremia as profeet dié aankondiging doen. 2Pasgur het die profeet Jeremia geslaan en hom daarna laat vasskroef in die blok wat in die boonste Benjaminpoort van die huis van die Here was. 3Toe Pasgur vir Jeremia die volgende môre uit die blok haal, het Jeremia vir hom gesê: Die Here noem jou nie meer Pasgur nie maar Angs van Alle Kante, 4want, so sê die Here, Ek gaan jou 'n angs maak vir jouself en vir jou vriende. Hulle sal deur hulle vyande met die swaard afgemaai word terwyl jy kyk. Die hele Juda gee Ek oor in die mag van die koning van Babel: hy sal party in ballingskap wegvoer na Babel toe en party doodmaak. 5Al die rykdom van hierdie stad, al sy besittings, al wat hy het wat waardevol is, en al die skatte van die konings van Juda lewer Ek uit aan hulle vyande. Hulle sal alles plunder en roof en dit na Babel toe wegvat. 6Jy, Pasgur, en al die mense in jou huis sal ook in ballingskap weggevoer word. Jy sal in Babel kom en daar sterf, en daar sal jy en al jou vriende vir wie jy met leuens 'n profeet wou wees, begrawe word.

Jeremia: Ek gee my saak in u hande

7U het my mislei, Here, en ek het my laat mislei.

U was te sterk vir my, U het gewen.

Ek word heeldag uitgelag,

almal spot met my.

8Elke keer as ek my mond oopmaak, moet ek skree,

moet ek roep: “Daar is geweld, daar is verdrukking!”

Om die woord van die Here te moet aankondig,

beteken vir my net vernedering en bespotting heeldag deur.

9En wanneer ek dink ek sal my aan Hom nie steur nie

en nie meer in sy Naam praat nie,

dan word dit in my soos 'n vuur wat brand

en waarvan ek nie kan loskom nie.

Ek is moeg van weerstand bied daarteen,

ek kan nie meer nie.

10Ek hoor almal fluister: “Angs van alle kante!

Sê dit! Kom ons sê vir die koning wat Jeremia sê!”

Selfs my vriende wag dat ek tot 'n val kom!

Hulle sê: “Miskien loop hy in die val,

en dan kan ons hom bykom

en ons op hom wreek.”

11Maar U is by my, Here,

en U is magtig en sterk:

dit is dié wat my vervolg, wat sal val;

hulle sal nie wen nie.

Hulle sal teleurgestel staan,

want hulle sal nie in hulle doel slaag nie.

Die skande van hulle neerlaag sal nooit vergeet word nie.

12Here, Almagtige, u oordeel is reg,

U sien raak wat diep in 'n mens is.

Laat my sien hoe U my vyande straf

want ek gee my saak in u hande.

13Sing tot eer van die Here, loof Hom!

Hy red die arme uit die mag van slegte mense.

Jeremia: Vervloek is die dag waarop ek gebore is

14Vervloek is die dag waarop ek gebore is,

die dag waarop my ma my in die wêreld gebring het;

mag dié dag altyd sonder seën wees.

15Vervloek is die man wat vir my pa die berig gebring het:

“Jy het 'n seun,” 'n berig wat hom baie bly gemaak het.

16Mag dit met daardie man gaan soos met die stede

wat so genadeloos deur die Here verwoes is,

mag daardie man angskrete hoor in die môre,

oorlogskrete op die helder middag,

17omdat hy my nie doodgemaak het voor ek gebore is

sodat my ma my graf kon gewees het

en sy nooit in kraam kon kom nie.

18Waarom is ek gebore net om ellende en pyn te beleef

en my lewe lank verneder te word?

Wil julle lewe of wil julle sterwe?

1Die woord van die Here het tot Jeremia gekom toe koning Sedekia vir Pasgur seun van Malkija en die priester Sefanja seun van Maäseja na Jeremia toe gestuur het met die versoek: 2“Raadpleeg asseblief die Here namens ons, want koning Nebukadnesar van Babel val ons aan. Miskien doen die Here ook vir ons 'n wonder en laat Hy Nebukadnesar van ons af wegtrek.”

3Jeremia het vir hulle gesê: Julle moet vir Sedekia sê: 4So sê die Here die God van Israel: Ek gaan die wapens laat terugdraai wat daar nou in julle hande is en waarmee julle buitekant die mure teen die koning van Babel en teen die Galdeërs veg. Ek gaan dié wapens hier binne in die stad bymekaarbring 5en dan gaan Ek self teen julle veg met my groot mag en krag, in groot toorn, gramskap en woede. 6Ek gaan al wat in hierdie stad is, tref, mens en dier. Hulle sal aan die pes sterwe, 7en daarna, sê die Here, sal Ek koning Sedekia van Juda, sy amptenare en die mense in die stad wat pes, swaard en hongersnood vrygespring het, oorlewer in die mag van koning Nebukadnesar van Babel, in die mag van hulle vyande, in die mag van dié wat hulle lewe soek. Die vyand sal die inwoners van Jerusalem afmaai sonder om te verskoon, sonder om jammer te kry, sonder genade.

8Daarna het die Here vir Jeremia gesê: Jy moet vir hierdie volk sê: So sê die Here: Ek gee julle die keuse: wil julle lewe of wil julle sterwe? 9Wie in hierdie stad bly, sal sterf, deur die swaard of deur hongersnood of deur pes. Wie uitgaan en na die Galdeërs toe oorloop deur wie julle beleër word, sal lewe, al sal hy net met sy lewe daarvan afkom. 10Ek het besluit om hierdie stad swaar te straf en hom nie te spaar nie, sê die Here. Die stad word oorgegee in die mag van die koning van Babel, en hy sal dit afbrand.

11Vir die koningshuis van Juda moet jy sê: Hoor die woord van die Here, 12huis van Dawid! So sê die Here:

Sorg dat daar elke dag reg geskied,

red die mens wat beroof word

uit die mag van die uitbuiter.

As julle dit nie doen nie,

sal my toorn ontvlam soos 'n vuur

en brand sonder dat iemand dit kan blus.

Dit sal gebeur oor die sonde wat julle gedoen het.

13Ek is jou teenstander, Jerusalem, sê die Here,

jy wat hier bokant die dal op die klipplaat lê,

jy wie se inwoners sê niemand kan hulle aanval nie,

niemand kan hulle skuilplekke binnedring nie.

14Ek gaan hulle straf oor wat hulle gedoen het, sê die Here,

Ek gaan in die paleis 'n vuur aansteek wat alles rondom sal verbrand.

Teen die koning van Juda

1So het die Here gesê: Gaan na die paleis van die koning van Juda toe en dra hierdie boodskap daar oor. 2Jy moet sê: Hoor die woord van die Here, koning van Juda wat op die Dawidstroon sit, u en u amptenare en u volk wat deur hierdie poorte na u toe kom. 3So sê die Here: Handhaaf die reg en wees regverdig! Red dié wat beroof word, uit die mag van die uitbuiter, ook die vreemdeling, die weeskind en die weduwee. Moenie die reg vertrap nie, moenie geweld pleeg en moenie mense onskuldig om die lewe bring in hierdie plek nie. 4As julle stiptelik volgens my woord lewe, sal konings wat op die Dawidstroon sit, deur die poorte van hierdie paleis kom en hulle sal op waens en perde ry, hulle en hulle amptenare en hulle volk. 5Maar as julle nie na my woorde luister nie, bevestig Ek nou vir julle met 'n eed dat hierdie paleis 'n puinhoop sal word, sê die Here. 6So sê die Here oor die paleis in Juda:

Jy is vir my Gilead, die Libanonkruin,

maar Ek maak jou 'n woestyn,

soos stede sonder inwoners.

7Ek wys mense aan om jou te vernietig,

mense met hulle wapens.

Hulle sal jou mooi sederbalke opkap

en in die vuur gooi.

8Daar sal baie nasies by hierdie stad verbygaan en vir mekaar vra: “Waarom het die Here dit met hierdie groot stad gedoen?” 9Dan sal hulle antwoord: “Omdat die mense van hierdie stad nie die verbond met die Here hulle God gehou het nie en ander gode vereer en gedien het.”

10Moenie huil oor die koning wat dood is nie,

moenie oor hom rou nie.

Huil, ja, huil oor hom wat in ballingskap is,

want hy sal nie terugkom nie,

hy sal nie weer sy geboorteland sien nie.

11So sê die Here oor koning Sallum van Juda, seun van Josia, wat koning geword het in die plek van Josia, sy pa, maar wat van hierdie plek af weggegaan het: Hy sal nooit hierheen terugkom nie, 12want hy sal sterf in die plek waarheen hulle hom in ballingskap weggevoer het. Hy sal nooit weer hierdie land sien nie.

Teen Jojakim

13Ellende wag vir hom wat sy huis met onreg bou,

sy bokamers met minagting van die reg,

vir hom wat sy mense sonder betaling laat werk,

wat hulle nie hulle geld gee nie.

14Ellende wag vir hom wat sê:

“Ek wil my huis groot maak,

sy bokamers moet ruim wees.”

Hy breek vir hom groot vensters uit,

sit vir hom panele in van sederhout

en verf sy huis rooi.

15Maak dit van jou 'n koning

as jy jou inspan vir meer sederhout?

Jou pa het geëet en gedrink,

hy het reg laat geskied en reg gedoen

en dit het goed gegaan met hom.

16Hy het die saak behartig van die swakke en die arme,

en dit het goed gegaan.

Wie hierdie dinge doen, dien My,

sê die Here.

17Maar jy is net daarop uit om jou te verryk ten koste van ander,

jy kyk net waar jy mense onskuldig kan doodmaak,

waar jy kan verdruk en afpers.

18Daarom, so sê die Here

vir koning Jojakim van Juda, seun van Josia:

Hulle sal nie oor jou treur en sê:

“Ag, hoe jammer, my broer,

ag, hoe jammer, my suster!” nie.

Hulle sal nie oor jou treur en sê:

“Ag, ons koning, ag, sy majesteit!” nie.

19Hy sal soos 'n donkie begrawe word:

hy sal van hier af weggesleep word

en buite die poorte van Jerusalem weggegooi word.

Teen die koninginmoeder

20Gaan Libanon toe en vra hulp,

roep hard by Basan,

vra hulp by Abarim,

want al jou helpers is vernietig.

21Ek het jou gewaarsku toe jy nog gerus was,

maar jy het gesê: “Ek sal nie luister nie.”

Van jongs af was dit jou gewoonte

om nie na My te luister nie.

22Die wind sal almal wegwaai wat vir jou sorg,

jou helpers sal in ballingskap weggevoer word

en jy sal self die vernederende skande moet dra vir jou slegte lewe.

23Jy wat tussen die seders woon,

wie se nes gemaak is van Libanonhout,

jy sal kerm wanneer pyne jou tref,

pyne soos van 'n vrou in kraam.

Teen Jojagin

24So seker as Ek leef, sê die Here, al was jy, koning Jojagin van Juda, seun van Jojakim, 'n seëlring aan my regterhand, Ek sal jou uitruk. 25Ek sal jou uitlewer aan dié wat jou wil doodmaak, aan dié vir wie jy bang is: in die mag van koning Nebukadnesar van Babel en in die mag van die Galdeërs. 26Ek sal jou en jou ma wat jou in die wêreld gebring het, in 'n vreemde land gooi waar nie een van julle gebore is nie, en daar sal julle sterf. 27Julle sal nie terugkom na die land toe waarna julle sal verlang om terug te kom nie.

28Is hierdie man Jojagin 'n weggooiding,

'n gebreekte kleipot wat niemand wil hê nie?

Waarom is hy en sy kinders dan weggegooi?

Waarom is hulle gegooi in 'n land

waarvan hulle nie tevore geweet het nie?

29Land, land, land,

luister na die woord van die Here!

30So sê die Here:

Teken by die naam van hierdie man aan:

'n man sonder troonopvolger,

'n man wat in sy lewe niks sal bereik nie,

want niemand van sy nageslag sal op die Dawidstroon sit nie,

hy sal nie oor Juda regeer nie.

God is goed

1Vir die koorleier. 'n Gedig van Dawid, 2na aanleiding daarvan dat die Edomiet Doëg gekom en aan Saul vertel het: Dawid was in die huis van Agimelek.

3Jy wat jou groot hou,

jy spog verniet oor jou slegte dade!

Onthou, God sorg altyd vir my.

4Jy wil ander se ondergang bewerk,

met jou vlymskerp tong pleeg jy bedrog.

5Jy het die kwaad liewer as die goeie,

en die leuen liewer as die waarheid. Sela

6Jy saai graag verwarring met jou leuens!

7Maar God sal jou vir altyd vernietig.

Hy sal jou uitruk en wegsleep uit jou woonplek,

Hy sal jou wegruk uit die land van die lewendes. Sela

8As die regverdiges dit sien,

sal hulle met ontsag vervul word

en smalend van jou sê:

9“Dis nou die man

wat nie op God se krag wou steun nie,

maar op sy eie rykdom vertrou het

en hom sterk wou maak deur inhaligheid.”

10Maar ek staan sterk soos 'n welige olyfboom;

ek is in die huis van God

en ek steun altyd daarop dat Hy vir my sorg.

11Ek sal U altyd loof vir wat U gedoen het.

Voor u dienaars sal ek u Naam prys,

want U is goed.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS