Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 180

Jeremia 13–17, Psalm 49

Bybelteks(te)

Die linnegordel as beeld van Juda

1So het die Here vir my gesê: Gaan koop vir jou 'n linnegordel en maak dit om jou lyf vas. Jy moet dit nie laat nat word nie.

2Ek het die gordel gekoop soos die Here gesê het, en dit aangesit.

3Die woord van die Here kom toe weer tot my: 4Vat die gordel wat jy gekoop het, wat jy aanhet, en gaan na die Eufraat toe en steek dit daar weg in 'n klipskeur.

5Ek het gegaan en dit by die Eufraat weggesteek soos die Here my beveel het. 6Na 'n lang ruk het die Here vir my gesê: Gaan nou na die Eufraat toe en gaan haal die gordel wat Ek jou beveel het om daar weg te steek.

7Ek het toe na die Eufraat toe gegaan, daar gegrawe en die gordel uitgehaal uit die plek waar ek hom weggesteek het. Maar die gordel het begin vergaan en was nutteloos.

8Toe kom die woord van die Here tot my. 9So het die Here gesê: So sal Ek die groot hoogmoed van Juda en Jerusalem laat vergaan. 10Hierdie slegte volk wat weier om na my woord te luister, wat hulle eie harde koppe volg en agter ander gode aanloop en hulle dien en vereer, sal net so nutteloos word soos hierdie gordel. 11Soos 'n gordel stewig vas is om die lyf van 'n man, so het Ek al die mense van Israel en Juda aan My vasgemaak, sê die Here. Hulle moes my volk wees, hulle moes lewe tot my roem en eer en 'n sieraad vir My wees, maar hulle het nie geluister nie.

Almal sal verpletter word

12Sê vir hulle dit: So sê die Here die God van Israel: Elke kan moet vol wyn gemaak word. Dan sal hulle vir jou sê: “Weet ons dan nie dat elke kan vol wyn gemaak moet word nie?” 13Dan moet jy vir hulle sê: So sê die Here: Ek gaan al die inwoners van hierdie land dronk maak, ook die konings wat op die troon van Dawid sit en die priesters en die profete, ja, al die inwoners van Jerusalem. 14Ek sal hulle teen mekaar verpletter, vaders en kinders saam, sê die Here. Ek sal niemand spaar of verskoon nie, sonder ontferming sal Ek hulle uitroei.

Die Here sal dit stikdonker laat word

15Luister, gee aandag! Moenie so hoogmoedig wees nie: die Here het gepraat!

16Eer die Here julle God voordat dit donker word,

voordat julle julle in die skemer vasloop teen die berge.

Julle sal wag op lig, maar Hy sal duisternis bring,

Hy sal dit stikdonker laat word.

17Maar as julle nie luister nie, sal Ek in stilte huil oor julle hoogmoed, Ek sal huil en huil, trane stort omdat my kudde as ballinge weggevoer word.

Dit is jou lot

18Sê vir die koning en vir die koninginmoeder: Klim van die troon af, want julle sal nie meer julle sierlike krone dra nie. 19Die stede in die Suidland is beleër, niemand kan hulle ontset nie; die hele Juda word in ballingskap weggevoer, hulle moet almal weg. 20Kyk op, Jerusalem, kyk hoe kom hulle van die noorde af! Waar is die kudde wat aan jou toevertrou is, die kleinvee wat jou trots was? 21Wat sal jy sê as Ek mense oor jou aanstel wat jy geleer het, as mense wat jy as bondgenote beskou het, oor jou regeer? Sal dit nie vir jou net so pynlik wees soos vir 'n vrou wat 'n kind in die wêreld bring nie?

22Jy vra jou af: “Waarom het dit my oorgekom?”

Jy word kaal uitgetrek en verkrag oor jou baie oortredings.

23Kan 'n Kussiet sy vel verander of 'n luiperd sy vlekke? Sou julle kon doen wat goed is, julle wat so gewoond is aan die kwaad?

24Ek sal julle verstrooi soos kaf wat verbywaai in die woestynwind. 25Dit is jou lot, jou deel wat Ek vir jou afgemeet het, sê die Here, vir jou wat My vergeet het, wat op leuens vertrou het. 26Ook Ek sal jou kaal uittrek, sodat jou skandelike naaktheid bekend word, 27jou owerspel, jou wellus, jou skandelike hoerery. Op die heuwels, in die oop veld het Ek jou afskuwelike dade gesien. Ellende wag vir jou, Jerusalem, as jy jou nie reinig nie! Hoe lank gaan dit nog so bly?

Droogte, oorlog, hongersnood en pes

1Die woord van die Here het tot Jeremia gekom oor die groot droogte: 2Juda verdor, sy stede versmag, sy mense sit in rouklere op die grond, die hulpgeroep van Jerusalem weerklink. 3Die vername mense stuur hulle slawe om water te gaan haal. Dié kom by die putte, maar kry geen water nie; hulle bring hulle kruike leeg terug. Hulle is verslae en verleë, hulle koppe hang. 4In die hele land het daar geen reën geval nie. Omdat die grond niks oplewer nie, is die boere moedeloos, hulle koppe hang. 5Die takbok lam in die veld en gooi haar lam weg omdat daar nie gras is nie. 6Wildedonkies staan op die kaal heuwels en snuif die wind net soos jakkalse; hulle oë raak dof, want daar is nie meer gras nie.

7As ons sondes teen ons getuig, Here,

tree tog op ter wille van u Naam.

Ons het so baie keer van U af weggedraai,

ons het teen U gesondig.

8Hoop van Israel, Redder in tyd van nood,

waarom sou U wees soos 'n vreemdeling in die land,

soos 'n reisiger wat net 'n nag oorbly?

9Waarom sou U wees soos 'n man wat verskrik staan,

soos 'n soldaat wat nie in staat is om te help nie?

U is by ons, Here, ons behoort aan U, moet ons nie verlaat nie!

10So sê die Here vir hierdie volk: Hulle is lief om van My af weg te dwaal, hulle het hulle nie daarvan weerhou nie. Daarom is Ek, die Here, hulle nie meer goedgesind nie. Ek sal hulle nou hulle sonde toereken en rekenskap van hulle eis vir hulle oortredings.

11Die Here het vir my gesê: Moenie by My vir hierdie volk voorspraak doen nie. 12Wanneer hulle vas, sal Ek nie na hulle gesmeek luister nie; as hulle brandoffers en graanoffers bring, maak dit die volk nie vir My aanvaarbaar nie, want Ek sal met oorlog, met hongersnood en met pes 'n einde aan hulle maak.

13Maar ek het gesê: Ag, Here my God, die profete sê dan vir hulle hulle sal geen oorlog of hongersnood beleef nie en dat U sê: Ek sal vir julle blywende voorspoed gee in hierdie land.

14Die Here het vir my gesê: Die profete gee voor dat hulle in my Naam optree, maar Ek het hulle nie gestuur of beveel nie, Ek het nie eens met hulle gepraat nie. Dit is gesigte wat nie bestaan nie, nuttelose waarsêery, dit is bedrog wat hulle versin wat hulle vir julle aanbied as woorde van profete. 15Daarom sê Ek oor die profete wat in my Naam optree sonder dat Ek hulle gestuur het, wat beweer daar sal nie oorlog of hongersnood in hierdie land kom nie: Daardie profete sal deur oorlog en hongersnood aan hulle einde kom. 16Die volk vir wie hulle as profete opgetree het, sal in die strate van Jerusalem weggegooi lê, slagoffers van hongersnood en oorlog. Niemand sal hulle, hulle vrouens, hulle seuns of hulle dogters begrawe nie. Ek sal die kwaad wat hulle gedoen het, op hulle eie koppe laat afkom.

17Sê vir hulle dit:

Dag en nag, sonder ophou, vloei die trane uit my oë;

my volk ly aan sy wonde, hy is swaar getref.

18Wanneer ek uitgaan na die veld toe,

lê die lyke daar van dié wat met die swaard doodgemaak is;

wanneer ek in die stad kom,

lê daar die slagoffers van die hongersnood.

Profeet en priester trek in die land rond

sonder dat hulle weet wat om te sê.

19Het U Juda dan heeltemal verwerp?

Walg U vir Sion?

Waarom het U ons getref sonder dat iemand ons genees?

Waarom wag ons dat alles regkom, maar dit gaan nie goed nie,

wag ons op 'n tyd van verbetering,

maar daar is net rede tot skrik?

20Ons erken dat ons opstandig was, Here,

ons het teen U gesondig.

Ons bely ook die skuld van ons voorvaders.

21Ter wille van u Naam, Here, moet ons tog nie verwerp nie.

Moenie dat die plek waar u magtige teenwoordigheid regeer,

verag word nie.

Dink aan u verbond met ons, moet dit tog nie prysgee nie!

22Is daar onder die nikswerd gode van die nasies

een wat laat reën, wat die hemel sy reën kan laat gee?

Is dit nie U wat dit doen nie, Here ons God?

Ons vertrou op U, want dit is U wat al hierdie dinge doen.

1Die Here het vir my gesê: Al het Moses en Samuel self by My gepleit, sou Ek geen gevoel vir dié volk gehad het nie. Stuur hulle weg van my teenwoordigheid af, laat hulle gaan. 2En as hulle vir jou vra: “Waar moet ons dan heen?” moet jy vir hulle sê:

So sê die Here:

Wie vir pes bestem is, pes toe,

wie vir die swaard bestem is, swaard toe,

wie vir hongersnood bestem is, hongersnood toe,

wie vir ballingskap bestem is, ballingskap toe.

3Ek gee oor hulle opdrag aan vier soorte goed, sê die Here: die swaard om dood te maak, honde om die lyke weg te sleep, voëls en roofdiere om hulle op te vreet en te vernietig. 4Ek maak dié volk iets waarvoor al die koninkryke van die aarde sal skrik. Ek doen dit oor wat koning Manasse van Juda, seun van Hiskia, in Jerusalem gedoen het.

Ek het my volk met 'n gaffel uitgewan

5Wie sal vir jou jammer wees, Jerusalem,

wie sal medelye met jou hê?

Wie sal afdraai en kom vra hoe gaan dit met jou?

6Jy het My verwerp, sê die Here,

jy het al erger geword.

Daarom het Ek my hand teen jou uitgesteek

en jou verwoes.

Ek is moeg daarvan om jou straf te bly herroep.

7Ek het my volk met 'n gaffel uitgewan

in die stede in die land,

Ek het my volk se kinders weggevat, hom vernietig,

want hy het hom nie bekeer van sy bose lewe nie.

8Ek het sy weduwees meer laat word as die sand van die see,

Ek het op jongmanne se moeders

helder oordag 'n aanrander laat toesak,

Ek het skrik en angs hulle skielik laat oorval.

9Selfs die vrou wat sewe kinders gehad het,

het ineengestort en na asem gesnak,

haar son het ondergegaan toe dit nog dag was,

sy was kinderloos en reddeloos.

En wat daar van die volk oor is,

lewer Ek aan sy vyande uit om dood te maak,

sê die Here.

Jeremia: Almal vervloek my

10Ellende het my getref, Ma,

toe Ma my in die wêreld gebring het.

Ek is 'n man wat dwarsdeur die land

mense moet beskuldig en met hulle moet twis.

Ek het aan niemand iets geleen nie

en by niemand geleen nie,

tog vervloek almal my.

11Die Here het belowe:

Ek laat jou op die volk los, maar ten goede,

Ek sal vir jou by jou vyande voorspraak doen

in tyd van nood en rampe.

12Kan 'n mens yster breek,

yster uit die noorde, of brons?

Ek laat ander jou rykdom vat, Israel

13Ek laat ander jou rykdom, jou skatte vat, Israel,

nie omdat Ek iets in ruil daarvoor kry nie

maar omdat jy dwarsoor jou land gesondig het.

14Ek sal jou deur jou vyande laat wegvoer

na 'n land toe wat jy nie ken nie.

In my toorn sal daar 'n vuur losbreek,

en dit sal jou brand.

Jeremia: Ek kan nie meer op U reken nie

15U weet alles, Here:

dink aan my, neem my onder u sorg,

straf my vervolgers oor wat hulle aan my doen.

Moet tog nie u toorn laat voortduur en my laat sterf nie;

neem tog in ag dat dit oor U is dat ek beledig word.

16Ek het u woorde verslind toe hulle gekom het,

hulle was vir my 'n vreugde;

ek was bly daaroor dat u Naam oor my uitgeroep is,

Here, almagtige God.

17Ek kon nie sit waar daar gesels en gelag word

en dit saam geniet nie;

U het my in besit geneem en ek moes alleen sit,

vol van die verontwaardiging wat van U af kom.

18Waarom is daar nie 'n einde aan my pyn nie,

waarom is my wond ongeneeslik en wil dit nie gesond word nie?

Ek kan nie op U reken nie,

net so min as op 'n stroom wat nie standhoudend is nie.

Ek sal jou help en jou red

19Die Here het toe gesê:

As jy jou woorde terugneem,

sal Ek jou weer in my diens neem.

As wat jy sê, waarde sal hê

en nie onsin sal wees nie,

sal jy weer namens My kan praat.

Die mense moet jóú volg,

nie jy vir hulle nie.

20Ek maak jou vir hierdie volk 'n bronsmuur

waardeur hulle nie kan dring nie;

hulle sal teen jou veg, maar hulle sal jou nie oorweldig nie,

want Ek is by jou, sê die Here,

Ek sal jou help en jou red.

21Ek sal jou red uit die mag van slegte mense,

jou bevry van dié wat op geweld uit is.

Ek het geen medelye meer met julle nie

1Die woord van die Here het tot my gekom: 2Moenie trou en kinders hê in dié plek nie, 3want so sê die Here oor die kinders wat in dié plek gebore word en oor die ouers wat in dié land kinders kry: 4Hulle sal sterf aan verskriklike siektes; niemand sal oor hulle treur en hulle begrawe nie; hulle sal op die grond bly lê soos hope mis; of hulle sal omkom in oorlog of deur hongersnood, en hulle lyke sal deur voëls en roofdiere opgevreet word.

5Die Here het gesê: Jy moenie in 'n huis ingaan waar daar getreur word oor iemand wat dood is nie, jy moenie saam treur nie en moenie meegevoel betuig nie, want Ek het my vrede weggevat van dié volk af: Ek het hulle nie meer lief nie en Ek ontferm My nie meer oor hulle nie, sê die Here. 6Groot en klein in dié land sal sterf; niemand sal hulle begrawe en oor hulle treur nie, niemand sal homself stukkend sny of sy kop kaalskeer om sy droefheid te wys nie; 7niemand sal 'n stukkie brood deel met 'n bedroefde om hom te troos oor iemand wat dood is nie, niemand sal vir hom iets te drinke aanbied om hom te troos nie, nie eens oor 'n vader of moeder nie.

8Jy mag ook nie in 'n huis ingaan waar daar feesgevier word en saam aansit en eet en drink nie, 9want, so sê die Here die Almagtige, die God van Israel, Ek gaan voor julle oë, in julle leeftyd, 'n end maak aan die klanke van vrolikheid en blydskap in hierdie plek, ook aan dié van huweliksfeeste.

10Wanneer jy dit alles vir hierdie volk sê, sal hulle vir jou vra: “Waarom sê die Here sal Hy al hierdie groot rampe oor ons bring? Hoe het ons teen die Here ons God oortree, wat het ons teen Hom gesondig?”

11Dan moet jy vir hulle sê: Julle voorvaders het My al verlaat, sê die Here. Hulle het agter ander gode aangeloop en dié gedien en geëer. Julle voorvaders het My verlaat en my wet nie onderhou nie, 12en julle het erger aangegaan as hulle, julle het elkeen sy eie harde kop gevolg en nie na My geluister nie. 13Daarom sal Ek julle uit hierdie land uitdryf na 'n land toe waarvan julle nie weet nie en waarvan julle voorvaders ook nie geweet het nie. Daar sal julle dag en nag ander gode dien. Ek het geen medelye meer met julle nie.

Ek sal hulle terugbring na die land toe

14Daar kom 'n tyd, sê die Here, dat daar nie meer gesê sal word: “So seker as die Here leef wat vir Israel uit Egipte laat trek het” nie, 15maar: “So seker as die Here leef wat vir Israel uit die noordland laat trek het en uit al die lande waarheen Hy hulle verstrooi het.”

Ek sal hulle terugbring na die land toe wat Ek aan hulle voorvaders gegee het.

Ek gaan hulle eers dubbel laat boet

16Ek gaan baie vissers laat kom, sê die Here, en hulle sal die Israeliete vang. Daarna gaan Ek baie jagters laat kom, en dié sal op die Israeliete jag maak op elke berg en elke heuwel, in al die klipskeure. 17Ek sien alles wat die Israeliete doen, niks is vir My verborge nie, hulle oortredings kan nie vir My weggesteek word nie. 18Ek gaan hulle eers dubbel laat boet vir hulle oortredings en hulle sonde, want hulle het my land met hulle afstootlike dooie gode ontwy, hulle het my eie land volgemaak met hulle afskuwelike afgode.

Na U toe sal die nasies kom

19Here, my Sterkte, my Beskermer,

my Toevlug in tyd van nood,

na U toe sal die nasies kom

van die uithoeke van die aarde af

en hulle sal sê:

“Ons voorvaders het net vals gode gehad,

nikswerd en nutteloos.”

20Kan 'n mens vir hom gode maak?

Dit is mos nie gode nie!

21Daarom sal Ek die nasies my mag en my krag laat ken;

dié keer sal Ek hulle dit laat ken,

en hulle sal weet dat my Naam die Here is.

Ek sal jou vir jou vyande laat werk

1Die sonde van Juda is ingegraveer

met 'n ysterpen,

ingegrif met 'n diamantpunt op hulle harte

en op die horings van hulle altare.

2Selfs hulle nageslag onthou nog die altare van hulle voorvaders

en die gewyde pale by die groen bome

en op die hoë heuwels.

3My berg in die veld,

Ek laat ander jou rykdom, jou skatte vat

omdat jy dwarsoor jou land hoogtes gebou

en gesondig het.

4Jy sal deur jou eie toedoen die grond moet laat lê

wat Ek jou gegee het.

Ek sal jou vir jou vyande laat werk

in 'n land waarvan jy nie weet nie.

In my toorn sal daar 'n vuur teen julle losbreek,

en dit sal aanhou brand.

Wie van U af weggaan, kom bedroë daarvan af

5So sê die Here:

Daar rus 'n vloek op die mens

wat sy vertroue in mense stel,

wat sy krag soek by sterflike mense

en van My af wegdraai;

6hy is soos 'n kaal bossie in droë wêreld

wat nooit water kry nie;

'n bossie wat in 'n klipwoestyn staan,

in 'n brak wêreld waar niemand woon nie.

7Dit gaan goed met die mens

wat sy vertroue in die Here stel,

die mens vir wie die Here 'n veilige vesting is;

8so iemand is soos 'n boom wat by water geplant is

en sy wortels na die stroom toe uitstoot,

nie die hitte voel as dit kom nie

en altyd groen blare het;

'n droë jaar raak hom nie

en hy hou nie op om vrugte te dra nie.

9Die hart is bedriegliker as enigiets anders,

hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan?

10Ek, die Here, deurgrond en toets hart en verstand,

Ek laat die mens kry wat hy verdien,

wat hom toekom vir wat hy doen.

11'n Fisant wat broei op eiers wat hy nie gelê het nie,

dit is die mens wat op oneerlike wyse ryk word.

Hy sal sy rykdom moet agterlaat in die fleur van sy lewe,

sy uiteinde is dié van 'n dwaas.

12'n Magtige troon, van die begin af verhewe,

dit is die plek waar ons heiligdom staan!

13Here, Hoop van Israel,

wie van U af weggaan, kom bedroë daarvan af;

wie van U af wegdraai, is vir die dood opgeskryf,

want hulle verlaat die Here, die bron van die lewe.

Jeremia: Maak Ú my gesond, Here

14Maak Ú my gesond, Here, dan sal ek gesond wees!

Bevry Ú my, dan sal ek vry wees!

Dit is vir U wat ek wil loof.

15Die mense vra vir my: “Waar is die woord van die Here?

Laat dit tog kom!”

16Maar omdat ek nie wou ophou om 'n herder te wees

wat in u diens staan nie,

het ek nie die onheilsdag nadergewens nie.

U weet wat ek gesê het, dit is aan U bekend.

17Moet tog nie vir my 'n verskrikking word nie,

want U is my toevlug op die dag van rampe.

18Laat dié wat my vervolg, bedroë daarvan afkom,

nie ek nie!

Laat hulle vreesbevange word, nie ek nie!

Bring die dag van rampe oor hulle,

straf hulle met 'n dubbele straf!

Julle moet die sabbatdag heilig hou

19Die Here het vir my gesê: Gaan staan in die Volkspoort waardeur die konings van Juda in- en uitgaan, en ook in al die ander poorte van Jerusalem 20en sê: Hoor die woord van die Here, konings van Juda en al die mense van Juda en al die inwoners van Jerusalem wat deur hierdie poorte gaan! 21So sê die Here: Pas op! Julle lewens is op die spel! Moet niks op die sabbatdag dra en deur die poorte van Jerusalem bring nie, 22moet niks uit julle huise bring op die sabbatdag nie, moet geen werk doen nie. Hou die sabbatdag heilig soos Ek julle voorvaders beveel het. 23Hulle was ongehoorsaam en het nie geluister nie, hulle was hardkoppig, hulle wou nie luister en hulle laat leer nie.

24Maar as júlle aan My gehoorsaam is, sê die Here, en niks deur die poorte van hierdie stad dra op die sabbatdag nie, die dag heilig hou en geen werk doen op dié dag nie, 25sal daar altyd konings wees wat op die troon van Dawid sit en deur die poorte van die stad gaan met hulle amptenare. Die konings en hulle amptenare sal saam met die mense van Juda en die inwoners van Jerusalem op strydwaens en perde ry, en dié stad sal altyd bewoon word. 26Die mense sal uit die stede van Juda kom, uit die omstreke van Jerusalem, uit die gebied van Benjamin, uit die Laeveld, uit die Bergland, uit die Suidland, en hulle sal offers na die huis van die Here toe bring, brandoffers, graanoffers, wierook- en dankoffers.

27Maar as julle aan My ongehoorsaam is en nie die sabbatdag heilig hou nie en op dié dag goed deur die poorte van Jerusalem dra, sal Ek die poorte aan die brand steek, en die vuur sal die mooi huise in Jerusalem verteer sonder dat iemand dit kan blus.

Moet jou nie daaroor kwel dat mense ryk word nie

1Vir die koorleier. Van die Koragiete. 'n Psalm.

2Luister hierna, al julle volke,

gee aandag, julle almal wat die wêreld bewoon,

3elke mens, sonder uitsondering,

ryk en arm!

4My mond gaan suiwer wysheid praat;

wat ek gaan sê, sal van insig getuig,

5want ek hoor 'n woord wat my wysheid gee

en terwyl ek op die lier speel, wil ek 'n geheimenis verklaar.

6Waarom sou ek my in moeilike tye kwel

as ek bedreig word deur die onreg van bedrieërs,

7van mense wat net op hulle besittings vertrou

en met hulle groot rykdom spog?

8Een mens kan tog nie 'n ander loskoop van die dood

en aan God 'n losprys vir hom betaal nie?

9Die prys vir 'n mens se lewe is te hoog.

Wat hy kan betaal, sal nooit genoeg wees

10dat hy vir altyd sal lewe

en die dood nooit sal smaak nie.

11Elkeen sien dit tog:

wyse mense sterwe net soos dwase en sotte,

en laat hulle besittings aan ander na.

12Die graf is vir altyd hulle tuiste;

van geslag tot geslag is dit hulle woonplek,

al het hulle eenmaal grond op hulle naam gehad.

13Met weelde en al leef die mens nie vir altyd nie;

soos die diere, so kom die mens ook tot 'n einde.

14Dit is die lot ook van mense wat op hulleself vertrou,

die uiteinde van dié wat ingenome is met hulleself. Sela

15Soos skape is hulle bestem om te sterwe;

die dood is hulle wagter.

Sonder meer daal hulle in die graf in;

in die doderyk verdwyn alles waarop hulle vertrou het;

vir hulle bestaan dit nie meer nie.

16Maar vir my sal God loskoop uit die mag van die dood;

ek sal aan Hom behoort. Sela

17Moet jou nie daaroor kwel dat mense ryk word,

dat hulle besittings baie word nie,

18want as hulle sterf, neem hulle niks saam nie;

hulle besittings sal hulle nie volg nie.

19Al verlustig 'n mens hom in 'n voorspoedige lewe,

en al prys die mense hom omdat dit met hom goed gaan,

20soos sy voorvaders sal ook hy moet sterwe

en hy sal die lig nooit weer sien nie.

21Die mens wat met weelde en al 'n dwaas bly,

is soos 'n dier wat vergaan.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS