Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 179

Jeremia 7–12

Bybelteks(te)

'n Vals vertroue op die tempel

1Dit is die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het: 2Gaan staan in die poort van die huis van die Here en roep daar hierdie woorde uit: Al julle Judeërs wat by hierdie poorte ingaan om die Here te dien, hoor die woord van die Here!

3So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Maak julle lewe en julle dade reg, dat Ek julle kan laat bly in hierdie land. 4Moenie julle vertroue stel in leuens nie. Julle sê: “Ons is veilig! Dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel!” 5Maak liewers julle lewe en julle dade reg. Doen aan mekaar wat reg is, 6moenie vreemdelinge, weeskinders en weduwees onreg aandoen nie, moenie mense onskuldig om die lewe bring in hierdie land nie en moenie ander gode dien nie. Dit sal onheil oor julle bring. 7As julle aan My gehoorsaam is, sal Ek julle in hierdie plek laat bly, in hierdie land wat Ek vir altyd aan julle voorvaders gegee het. 8Julle vertrou op leuens wat julle niks gaan baat nie. 9Julle kan mos nie steel, moor, egbreuk pleeg, vals ede aflê, wierookoffers vir Baäl bring, ander gode dien vir wie julle glad nie ken nie, 10en My dan ook nog in hierdie tempel wat na my Naam genoem is, kom dien en sê: “Ons is veilig” nie! En dan gaan julle maar voort met al hierdie gruwelike dinge! 11Het hierdie huis wat na my Naam genoem is, vir julle 'n rowerspelonk geword? Ek het gesien wat julle doen, sê die Here.

12Gaan na Silo toe, na die plek waar Ek voorheen my Naam laat woon het, gaan kyk wat Ek aan hom gedoen het oor die sonde van my volk Israel. 13Julle het al hierdie dinge gedoen, sê die Here. Ek het vroeg en laat met julle gepraat, maar julle het nie geluister nie; Ek het julle geroep, maar julle het nie geantwoord nie. 14Daarom gaan Ek met hierdie huis wat na my Naam genoem is, en waarin julle julle vertroue stel, en met hierdie land wat Ek aan julle en aan julle voorvaders gegee het, net so maak soos Ek met Silo gemaak het. 15Ek sal julle verwerp soos Ek julle broers, die hele nageslag van Efraim, verwerp het.

My toorn sal bly brand

16Jy moenie vir hierdie volk bid nie. Moet My nie ter wille van hulle smeek en by My vir hulle voorspraak probeer doen nie. Ek sal nie na jou luister nie. 17Sien jy nie wat doen hulle in die stede van Juda en in die strate van Jerusalem nie? 18Kinders maak hout bymekaar, die mans steek vure aan en die vrouens knie deeg om koeke te bak vir die koningin van die hemel. Hulle bring ook drankoffers aan ander gode om My seer te maak. 19Is dit vir My wat hulle seermaak? vra die Here. Nee, hulle maak hulleself seer en hulle bring skande oor hulleself. 20Daarom, sê die Here my God, laat Ek my gloeiende toorn oor hierdie land kom, oor mens en dier, oor die bome in die veld en die opbrengs van die land. My toorn sal bly brand en nie tot bedaring gebring kan word nie.

21So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Bring nog meer brandoffers saam met julle offers en eet die vleis. 22Toe Ek julle voorvaders uit Egipte laat trek het, het Ek hulle nie beveel om vir My brandoffers en ander offers te bring nie. 23Maar wat Ek hulle beveel het, is: Julle moet My gehoorsaam. Dan sal Ek julle God wees en julle sal my volk wees. Maar julle moet leef soos Ek julle beveel sodat dit met julle goed kan gaan.

24Maar hulle het nie geluister nie en hulle aan My nie gesteur nie. Hulle was hardkoppig en moedswillig, hulle het hulle eie kop gevolg, sodat hulle versleg het in plaas van te verbeter.

25Vandat julle voorvaders uit Egipte getrek het tot vandag toe, het Ek vroeg en laat my dienaars die profete na julle toe gestuur. 26Maar die volk het nie na My geluister nie en hulle nie aan My gesteur nie, hulle het hardkoppig gebly en meer kwaad as hulle voorvaders gedoen. 27Al sê jy al hierdie dinge vir hulle, sal hulle nie na jou luister nie; al roep jy hulle, sal hulle jou nie antwoord nie. 28Sê vir hulle hulle is 'n nasie wat ongehoorsaam is aan die Here hulle God en wat hulle nie laat leer nie. Waarheid het verdwyn, dit word nie meer by hulle gehoor nie. 29Sny af die hare wat jy as nasireër laat groei het en gooi dit weg, sing op die heuwels 'n klaaglied, want die Here het die volk wat sy toorn laat ontbrand het, verwerp en verstoot.

Moorddal

30Die Judeërs het gedoen wat verkeerd is in my oë, sê die Here: hulle het hulle afskuwelike afgode gesit in die huis wat na my Naam genoem is en dit so ontwy. 31Hulle het die hoogte van Tofet in die Ben-Hinnomdal gebou om daar hulle seuns en dogters in die vuur te offer. Dit was teen my bevel, so iets het selfs nie in my gedagte opgekom nie. 32Daarom kom daar dae, sê die Here, dat hulle dit nie meer Tofet of Ben-Hinnomdal sal noem nie, maar Moorddal. Hulle sal daar mense begrawe omdat daar nie elders meer plek sal wees vir grafte nie. 33Daar sal die voëls en die wilde diere die lyke van die volk eet sonder dat iemand hulle verwilder. 34In die stede van Juda en in die strate van Jerusalem sal Ek 'n einde maak aan vreugde en gejuig, aan die vrolikheid van huweliksfeeste. Die land sal 'n puinhoop word.

1Daardie tyd, sê die Here, sal hulle die bene van die konings van Juda en dié van die land se amptenare, die priesters, die profete en die inwoners van Jerusalem uit hulle grafte haal 2en uitsprei voor die son, die maan en al die ander hemelliggame vir wie hulle lief was en gedien het, agter wie hulle aangeloop het, vir wie hulle geraadpleeg het en voor wie hulle gebuig het. Die bene sal nie weer bymekaargemaak en begrawe word nie; soos mis sal hulle bo-op die grond bly lê. 3Vir die res, vir almal wat daar miskien nog oor is, wat oorgebly het van hierdie slegte geslag in al die plekke waarheen Ek hulle verdryf het, sal die dood verkiesliker wees as die lewe, sê die Here die Almagtige.

Niemand het berou oor sy sonde nie

4Jy moet vir hulle sê: So sê die Here: Sal iemand val en nie opstaan nie, of wegdraai en nie terugdraai nie? 5Waarom draai hierdie volk weg van My af, en waarom hou Jerusalem aan om van My af weg te draai? Hulle hou vol met hulle bedrog, hulle weier om na My toe terug te draai.

6Ek het goed geluister en Ek het gehoor dat hulle nie die waarheid praat nie, niemand het berou oor sy sonde nie, niemand sê: “Wat het ek tog gedoen!” nie. Elkeen breek met vaart van My af weg soos 'n perd uit 'n geveg wegstorm.

7Die trekooievaar ken sy tye van kom en gaan, die tortelduif, die swaeltjie en die kraanvoël kom op 'n vaste tyd terug, maar my volk wil nie weet wat die Here vir hulle vasgestel het nie. 8Hoe kan julle sê: “Ons het wysheid, ons het die wet van die Here by ons”?

Dié wat die wet neerskryf, pleeg bedrog, hulle vervals die wet! 9Die wyse mense staan verslae, hulle is verbyster, in hulle eie net gevang. Hulle het die woord van die Here verwerp, en wat baat hulle wysheid hulle nou?

10Ek sal hulle vrouens aan ander gee en hulle grond aan nuwe eienaars, want almal, klein en groot, wil hulleself net verryk, almal, selfs profete en priesters, is uit op bedrog. 11Hulle het 'n goedkoop raat vir die wonde van my volk. Hulle sê net: “Alles is reg! Alles is reg!” Maar niks is reg nie.

12Wanneer hulle aan die kaak gestel word oor die gruwelike dinge wat hulle gedoen het, skaam hulle hulle nie eens nie, hulle weet nie van skaamte nie. Daarom sal hulle tot 'n val kom soos al die ander voor hulle; wanneer hulle rekenskap moet gee, sal hulle omkom, sê die Here. 13Wanneer Ek die oes by hulle kom insamel, sê die Here, is daar geen druiwe aan die wingerdstok en geen vye aan die vyeboom nie, selfs die blare is verdroog; daarom sal Ek my volk oorgee om vernietig te word.

14Waarom bly ons sit? Roep almal bymekaar, laat ons in die vestingstede ingaan en daar gaan omkom, want die Here ons God laat ons omkom. Hy gee ons gifwater om te drink, want ons het teen Hom gesondig. 15Ons wag dat alles moet regkom, maar dit gaan nie goed nie, ons wag op 'n tyd van verbetering, maar daar is net rede tot skrik. 16Van Dan af hoor 'n mens die gesnuif van die vyand se perde; die gerunnik van sy perde laat die hele land bewe. Die vyand kom en verteer die land en alles daarbinne, elke stad met sy inwoners.

17Ek stuur giftige slange onder julle in

om julle te pik, sê die Here,

adders wat niemand kan besweer nie.

Ek is in die rou

18My smart oorweldig my, ek is hewig ontsteld.

19Hoor hoe benoud roep my volk uit 'n ver land:

“Is die Here nie meer in Sion nie?

Is Sion se Koning nie meer in hom nie?”

Waarom tart hulle My met hulle afgodsbeelde,

met hulle vreemde nikswerd gode?

20“Die oes is af, die somer is verby, en ons is nog nie gered nie.”

21My volk se wonde is ook my wonde, ek is in die rou, deur angs oorweldig. 22Is daar nie balsem in Gilead nie? Is daar nie 'n dokter nie? Waarom het my volk nie gesond geword nie?

1Ag, was my kop maar vol water en my oë 'n fontein met trane, dan sou ek dag en nag huil oor my volksgenote wat gesneuwel het. 2Ag, was daar maar in die woestyn 'n herberg dat ek my volk hier kon agterlaat en van hulle af kon weggaan daarnatoe. Hulle is almal egbrekers, 'n klomp ontrou mense.

Ek sal hulle deur die smeltkroes laat gaan

3Hulle woorde tref mense soos pyle: bedrog het die oorhand in die land, nie die waarheid nie. Hulle gaan van kwaad tot erger, en My ken hulle nie, sê die Here.

4Wees selfs vir 'n vriend op jou hoede, moenie eens 'n broer vertrou nie. Elke broer is 'n onderkruiper en elke vriend 'n kwaadsteker. 5Hulle bedrieg mekaar, hulle praat nooit die waarheid nie, hulle is gewoond om te lieg, hulle kan nie ophou sonde doen nie. 6Verdrukking volg op verdrukking, bedrog op bedrog, hulle weier om My te erken, sê die Here. 7Daarom, so sê die Here die Almagtige, sal Ek hulle deur die smeltkroes laat gaan. Hoe kan Ek anders maak met my volk? 8Hulle tong is 'n dodelike pyl, dit lieg en bedrieg. Hulle praat met mekaar asof niks verkeerd is nie, maar in hulle binneste beplan hulle mekaar se ondergang. 9Sou Ek nie hieroor rekenskap van hulle eis nie? sê die Here. Sou Ek My nie wreek op so 'n nasie nie?

10Ek sal huil en kla oor die berge, Ek sal 'n klaaglied sing oor die weivelde in die woestyn. Hulle is verwoes, niemand kom daar verby nie, 'n mens hoor daar geen diere nie; al die voëls en diere het padgegee.

11Ek sal Jerusalem 'n hoop klippe maak, 'n woonplek van jakkalse. Ek sal die stede van Juda verlate plekke maak sonder inwoners.

12Waar is die wyse man wat dít kan verstaan? Met wie het die Here gepraat dat dié dit kan vertel? Waarom het die land te gronde gegaan, waarom is dit verwoes dat dit soos 'n woestyn is waar niemand verbygaan nie?

13Die Here het gesê: Dit is omdat hulle my wet verlaat het wat Ek hulle gegee het; hulle het nie na My geluister nie en my wet nie nagekom nie, 14hulle het agter hulle eie harde koppe aangegaan en agter die Baäls aan soos hulle voorvaders hulle geleer het. 15Daarom, so sê die Here die Almagtige, die God van Israel, gee Ek hierdie volk wildeals om te kou en gifwater om te drink. 16Ek sal hulle verstrooi onder nasies vir wie nóg hulle nóg hulle voorvaders geken het. Ek sal hulle met die swaard laat agtervolg totdat Ek hulle almal laat uitroei het.

17So sê die Here die Almagtige:

Luister goed! Roep al die klaagvroue dat hulle kom,

laat kom die vroue wat weet hoe om klaagliedere te sing.

18Hulle moet gou maak en 'n klaaglied oor ons sing,

sodat die trane uit ons oë loop,

ons oë nat is van die trane.

19Hoor hoe kla dit uit Sion;

hoe het die verwoesting ons getref,

hoe is ons verslaan!

Ons moet die land verlaat, ons huise word omgestoot.

20Vrouens, luister na die woord van die Here,

neem alles in wat Hy sê.

Leer julle dogters om te kla,

laat hulle mekaar klaagliedere leer:

21“Die dood het by ons vensters ingeklim,

in ons mooi huise ingekom,

dit roei die kinders uit op die strate,

die jongmense op die pleine.”

22Jy moet sê: So sê die Here:

Die lyke van die mense wat val,

sal soos hopies mis lê op die veld,

soos gerwe agter dié wat oes,

maar niemand sal hulle optel nie.

23So sê die Here:

Die wyse man moet nie in sy wysheid roem nie,

die soldaat nie in sy krag nie,

die ryk man nie in sy rykdom nie.

24Laat hom wat wil roem, daarin roem

dat hy insig het en My ken.

Ek is die Here.

Ek bewys liefde, reg en geregtigheid op die aarde,

want dit is wat Ek wil hê, sê die Here.

25Daar kom dae, sê die Here, dat Ek selfs almal wat besny is, gaan straf, 26of dit nou Egipte, Juda, Edom, die Ammoniete of Moab is, of die woestynbewoners wat hulle koppe aan die kante kaal skeer, want al hierdie volke is tog maar onbesnede, en die hele Israel is onbesnede van hart, hulle is ontrou aan My.

Die Here is nie soos die afgode nie

1Luister wat die Here vir julle sê, Israeliete!

2So sê die Here:

Moenie die gewoontes van die heidennasies aanleer nie.

Moenie bang wees vir die tekens aan die hemel nie,

want dit is die heidennasies wat daarvoor bang is.

3Hulle voorskrif om 'n god te kry, is sinloos:

hulle kap 'n boom in die bos af,

'n ambagsman kerf dit uit met 'n beitel,

4hy versier dit met silwer en goud,

met hamer en spyker slaan hy dit vas dat dit nie omkantel nie.

5Sulke gode kan net so min praat as 'n voëlverskrikker in 'n komkommerland; hulle moet gedra word, want hulle kan nie loop nie. Moenie vir hulle bang wees nie, want hulle het geen mag om goed of kwaad te doen nie.

6Waar is iemand soos U, Here?

U is groot, die mag van u Naam is groot.

7Wie sou U nie dien nie, Koning van die nasies?

Dit kom U toe.

Onder al die wyse mense, onder al die konings van die nasies,

is daar niemand soos U nie.

8Hulle is almal gekke en dwase,

want 'n stuk hout kan vir 'n mens niks leer nie.

9Die silwerbeslag kom uit Tarsis, die goud uit Ufas.

Dit is die werk van 'n ambagsman en 'n goudsmid,

die afgode is geklee in pers en rooi wolstof,

alles die werk van kunstenaars.

10Maar die Here is die ware God:

Hy is die lewende God, die Koning vir altyd;

van sy toorn bewe die aarde,

teen sy woede kan die nasies dit nie uithou nie.

11So moet julle vir hulle sê:

“Die gode wat nie die hemel en die aarde gemaak het nie,

sal van die aarde af verdwyn onder die hemel uit.”

12Dit is die Here wat met sy krag die aarde gemaak het,

wat met sy wysheid die wêreld gevestig het

en met insig die hemel oopgesprei het.

13Wanneer Hy sy stem laat hoor, druis die water in die hemel;

Hy laat die mis opstyg van die eindes van die aarde af,

Hy laat die weerlig slaan wanneer dit reën,

Hy laat die wind uit sy voorraadskure uitkom.

14Dan sien elke mens hoe dom,

hoe sonder kennis, hy is;

dan staan elke goudsmid verleë met sy afgodsbeeld,

want sy beeld is bedrog, daar is geen lewe in nie.

15Hulle is nikswerd gode, voorwerpe van spot,

hulle vergaan as die tyd van afrekening kom.

16Die God van Jakob is nie soos hulle nie,

Hy is die Skepper van alles en almal.

Israel is die volk wat aan Hom behoort.

Die Here die Almagtige is sy Naam.

Ek gaan die inwoners uit die land uit verdryf

17Jy wat beleër word, hou jou besittings gereed,

18want, so sê die Here,

Ek gaan die inwoners dié keer uit die land uit verdryf.

Die nood wat Ek oor hulle gaan bring,

sal niemand vryspring nie.

19Dan sal elkeen roep:

“Groot is my ellende, pynlik my wonde!

Ek kan net sê: Dit is my lyding, dit sal ek moet dra.”

20My tent is verwoes, sy toue afgeruk;

my seuns het my verlaat, hulle is nie meer daar nie,

daar is niemand om my tent weer op te slaan,

om my tentseile te span nie.

21Die herders het dwaas geword,

hulle het nie na die wil van die Here gevra nie;

daarom was hulle nie voorspoedig nie

en is hulle hele kudde verstrooi.

22Hoor! Daar kom 'n boodskapper,

en 'n groot gedruis uit 'n land in die noorde!

Hulle gaan die stede van Juda puinhope maak,

lêplekke van jakkalse.

Straf ons, maar nie in toorn nie

23Ek weet, Here, die mens kan nie self sy pad kies nie, niemand kan self sy koers bepaal nie.

24Here, straf ons soos ons verdien, maar nie in toorn nie, dat U ons nie tot niet maak nie.

25Wees toornig op die nasies deur wie U nie erken word nie,

oor die volke deur wie U nie aangeroep word nie,

want hulle het vir Jakob verteer,

hulle het hom verteer en vernietig en sy blyplek verwoes.

Israel en Juda het die verbond verbreek

1Dit is die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het:

2Luister na die bepalings van hierdie verbond en sê dit vir die mense van Juda en die inwoners van Jerusalem. 3Sê vir hulle: So sê die Here, die God van Israel: Vervloek is elkeen wat ongehoorsaam is aan die bepalings van hierdie verbond 4wat Ek julle voorvaders beveel het toe Ek hulle uit Egipte, uit die ystersmeltoond, bevry het. Ek het gesê: Luister na My en doen alles wat Ek julle beveel, dan sal julle my volk wees en Ek sal julle God wees. 5Só sal Ek die belofte bevestig wat Ek met 'n eed aan julle voorvaders gemaak het, dat Ek aan hulle 'n land sal gee wat oorloop van melk en heuning soos julle dit vandag het.

Ek het geantwoord: “Amen, Here.”

6Die Here sê toe vir my: Roep al hierdie woorde uit in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem: Luister na die bepalings van hierdie verbond en kom hulle na! 7Ek het julle voorvaders voortdurend vermaan, vandat Ek hulle uit Egipte gebring het tot nou toe. Ek het hulle voortdurend vermaan en gesê: Luister na My! 8Maar hulle het nie geluister nie, nie daarop ag geslaan nie; elkeen het koppig bly volhard in sy sonde. Daarom het Ek al die strawwe wat bepaal is in hierdie verbond, oor hulle gebring, die verbond wat Ek hulle beveel het om na te kom, maar wat hulle nie nagekom het nie.

9Die Here het vir my gesê: Die mense van Juda en die inwoners van Jerusalem het teen My saamgesweer: 10hulle is weer terug by die eerste sondes van hulle voorvaders; hulle weier om na my woorde te luister, hulle loop agter ander gode aan en dien hulle; Israel en Juda het die verbond verbreek wat Ek met hulle voorvaders gemaak het.

11Omdat dit so is, sê die Here, bring Ek 'n ramp oor hulle waaraan hulle nie sal kan ontkom nie. Hulle sal na My om hulp roep, maar Ek sal nie na hulle luister nie. 12Dan sal die inwoners van die stede van Juda en die inwoners van Jerusalem om hulp gaan roep na die gode vir wie hulle offers gebring het, maar die gode sal hulle nie red wanneer die ramp oor hulle kom nie.

13Jy het soveel gode gehad as wat jy stede het, Juda, en om te offer aan die skandegod, aan Baäl, het julle soveel altare opgerig as wat daar strate in Jerusalem was.

14En jy, Jeremia, moenie vir hierdie volk bid nie, moenie vir hulle pleit of bid nie, want as jy My aanroep wanneer die ramp hulle tref, sal Ek nie luister nie.

15Waarom wil die volk wat Ek liefhet, sy sondige planne in my tempel uitvoer? Kan baie mense en offervleis die ramp van jou afweer dat jy kan jubel?

16'n Groen olyfboom met mooi gevormde vrugte,

so het die Here jou genoem.

Maar as die hordes met 'n gedruis aankom,

sal hulle jou blare aan die brand steek

en jou takke kaal stroop.

17Die Here die Almagtige wat jou geplant het, het bepaal dat die ramp oor jou kom. Dit gebeur oor die kwaad wat die mense van Israel en Juda hulleself aangedoen het toe hulle My gekrenk het met hulle offerandes aan Baäl.

Jeremia stel sy saak vir die Here

18Dit is die Here wat my dit te kenne gegee het, daarom weet ek dit; U het my laat sien wat hulle doen. 19Ek was soos 'n mak lam wat weggelei word om geslag te word. Ek het nie besef dat hulle teen my saamsweer nie. Hulle het gesê: “Laat ons die boom met die sap in hom vernietig en hom uitroei uit die land van die lewendes, sodat niemand meer aan hom dink nie.” 20Here, Almagtige, regverdige Regter, wat hart en verstand toets, laat my sien hoe U op hulle wraak neem, want ek het my saak aan U toevertrou.

21Daarom, so sê die Here oor die mense van Anatot wat jou lewe soek en sê: “Jy mag nie in die Naam van die Here as profeet optree nie, want dan sal ons jou doodmaak,” 22so sê die Here die Almagtige: Ek sal hulle straf. Hulle jongmanne sal sterf deur oorlog, hulle seuns en hulle dogters sal sterf van honger. 23Nie een van hulle sal oorbly nie, want Ek sal 'n ramp oor hulle bring wanneer Ek hulle straf.

1Ek sal my saak vir U stel, want U is regverdig, Here. Ek sal punt vir punt my saak voor U lê: Waarom is die goddelose mense voorspoedig en het die ontrou mense geen sorge nie? 2U het hulle geplant; hulle het wortel geskiet, gegroei, ook vrugte gedra. Hulle neem u Naam graag op hulle lippe, maar U is nie in hulle hart nie. 3U ken my, Here, U sien my en toets my gesindheid teenoor U. Bring hulle om die lewe soos skape by die slagplek, sonder hulle af vir die slagting wat kom. 4Hoe lank moet die land droog lê, moet al die plante van die veld verdor? Die diere en die voëls vergaan oor die boosheid van die inwoners van die land wat sê: “Jeremia sal nie langer leef as ons nie.”

Die Here antwoord Jeremia

5As voetsoldate jou moeg hardloop, hoe sal jy teen perde kan hardloop? En as jy net in 'n vreedsame land veilig voel, hoe sal jy maak in die digte bos aan die Jordaan? 6Jou broers en jou familie, selfs hulle het jou verraai, hulle het ander teen jou gewaarsku. Moet hulle nie vertrou as hulle vriendelik met jou praat nie. 7Ek het my volk verlaat, hulle wat aan My behoort, prysgegee, die volk wat Ek liefhet, oorgegee in die mag van sy vyande. 8My eie volk het soos 'n leeu in die bos teenoor My geword, hulle het vir My gebrul, daarom het Ek 'n afkeer van hulle gekry. 9My eie volk is soos 'n hiëna teenoor My, met 'n klomp roofvoëls rondom; gaan maak al die roofdiere bymekaar, laat hulle kom vreet! 10Die baie regeerders het my wingerd verniel, my lande vertrap, my pragtige land 'n verlate woestyn gemaak, 11dit 'n woestyn gemaak wat treur, wat verlate voor My lê. Die hele land lê verlate, maar niemand steur hom daaraan nie.

12Oor al die heuwels in die woestyn kom rowers. Die swaard van die Here verteer van die een kant van die land tot by die ander. Geen mens of dier word met rus gelaat nie. 13My volk het koring gesaai maar dorings geoes, hulle moeite was tevergeefs. Hulle staan verslae, sonder oes, want die gloeiende toorn van die Here het hulle getref.

14So sê Ek, die Here, oor al die slegte buurvolke wat hulle vergryp het aan die eiendom wat Ek aan my volk Israel gegee het: Ek sal hulle uitruk uit hulle grondgebied, maar Ek sal die Judeërs tussen húlle uitruk, 15en nadat Ek die Judeërs uitgeruk het, sal Ek My weer oor hulle ontferm, en Ek sal elkeen laat terugkom na sy besittings en sy land toe. 16En as die buurvolke die gebruik van my volk aanleer om in my Naam 'n eed af te lê met die woorde: “So seker as die Here leef!” net soos hulle my volk geleer het om in die naam van Baäl 'n eed af te lê, sal hulle 'n plek kry onder my volk. 17Maar as hulle nie luister nie, sal Ek so 'n volk heeltemal uitruk en vernietig, sê die Here.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS