Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 178

Jeremia 1–6

Bybelteks(te)

Die tyd van sy optrede

1Die woorde van Jeremia. Hy was 'n seun van Gilkija en 'n priester uit Anatot in Benjamin.

2Die woord van die Here het tot hom gekom tydens die regering van koning Josia van Juda, seun van Amon. Dit was in die dertiende regeringsjaar van Josia. 3Daarna het die woord van die Here tot Jeremia gekom tydens die regering van koning Jojakim van Juda, seun van Josia, en telkens tot die einde van die elfde regeringsjaar van koning Sedekia van Juda, seun van Josia. In die vyfde maand van daardie jaar is die inwoners van Jerusalem in ballingskap weggevoer.

Jeremia word tot profeet geroep

4Die woord van die Here het tot my gekom:

5Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel.

6“Ag, Here my God,” het ek geantwoord,

“ek kan nie goed praat nie, ek is nog te jonk.”

7Toe sê die Here vir my:

Jy moenie sê: “Ek is te jonk” nie.

Jy moet gaan na wie toe Ek jou ook al stuur,

en alles wat Ek jou beveel om te sê, moet jy sê.

8Moenie vir hulle bang wees nie,

want Ek is by jou, Ek sal jou red.

Dit is wat die Here gesê het.

9Hy het sy hand uitgesteek, my mond aangeraak

en vir my gesê:

Ek het nou my woorde in jou mond gelê.

10Kyk, Ek stel jou vandag aan oor nasies en oor koninkryke om af te breek en uit te roei, om te vernietig en plat te slaan, te bou en te vestig.

11Die woord van die Here het tot my gekom: Wat sien jy, Jeremia?

Ek het geantwoord: “Ek sien 'n amandeltak.”

12Die Here het geantwoord: Jy het reg gesien. Ek staan gereed om te doen wat Ek gesê het.

13Die woord van die Here het 'n tweede keer tot my gekom: Wat sien jy?

Ek het geantwoord: “Ek sien 'n kokende pot in die noorde en dit kantel oor hiernatoe.”

14Toe sê die Here vir my:

Van die noorde af gaan Ek 'n ramp stuur

oor almal wat in hierdie land woon.

15Ek gaan alle volke, alle koninkryke van die noorde af roep,

sê die Here.

Hulle konings sal elkeen sy troon kom oprig

voor die poorte van Jerusalem,

by die mure rondom die stad en by al die stede van Juda.

16Ek sal die mense van Juda straf vir al hulle sondes:

hulle het My verlaat, vir ander gode offers gebring

en voor hulle eie handewerk

in verering gebuig.

17Maak klaar, staan op, sê vir hulle alles wat Ek jou beveel. Moenie vir hulle skrik nie, want dan verpletter Ek jou voor hulle oë.

18Ek maak jou vandag 'n vestingstad, 'n ysterpilaar,

'n bronsmuur sodat jy staande kan bly teen die hele land, teen die koningshuis van Juda en al sy amptenare,

teen sy priesters en teen die bevolking.

19Hulle sal teen jou veg maar hulle sal jou nie oorweldig nie,

want Ek is by jou, sê die Here, Ek sal jou red.

My volk het My vergeet

1Die woord van die Here het tot my gekom: 2Gaan roep hierdie woorde uit sodat elkeen in Jerusalem dit kan hoor.

So sê die Here:

Ek onthou nog hoe getrou jy aan My was in jou jeug;

hoe lief jy My gehad het toe jy my bruid geword het,

toe jy My die woestyn in gevolg het,

in 'n wêreld waar niks geplant word nie.

3Israel was toe aan die Here gewy

soos die eerste vrugte van die oes.

Niemand wat hierdie vrugte geëet het, het ongestraf gebly nie,

rampe het hom getref, sê die Here.

4Hoor die woord van die Here, mense van Jakob,

al julle stamme van Israel!

5So sê die Here:

Waarin het Ek gefaal

dat julle voorvaders van My af weggedraai het,

dat hulle nikswerd afgode gedien het en so self niks geword het?

6Hulle het nie gevra: “Waar is die Here

wat ons uit Egipteland laat optrek het?” nie.

Hy het ons deur die woestyn gelei,

deur 'n droë wêreld vol slote,

deur 'n dor land vol doodsgevaar,

deur 'n land waardeur niemand trek en waarin geen mens woon nie.

7Ek het julle in 'n vrugbare land gebring

om die vrugte daarvan en die goeie dinge daarin te geniet,

maar toe julle in my land gekom het,

het julle dit verontreinig;

die land wat my eiendom is, is deur julle besoedel.

8Die priesters het nie gevra: “Waar is die Here?” nie,

dié wat my wil moes bekend maak, het My nie erken nie.

Die regeerders het hulle teen My verset,

die profete het in die naam van Baäl opgetree

en gode gedien wat nie kan help nie.

9Daarom kla Ek jou weer aan, sê die Here,

en ook jou nakomelinge kla Ek aan.

10Gaan na die Kittiëreilande toe en kyk 'n bietjie, stuur boodskappers na Kedar toe en dink goed na:

Het daar al ooit so iets gebeur,

11dat 'n nasie sy gode verruil het,

selfs al was hulle geen gode nie?

Maar my volk het My, hulle magtige God, verruil

vir gode wat nie kan help nie.

12Selfs die hemel moet daaroor skrik en beef en sidder! sê die Here.

13My volk het twee sondes begaan:

Hulle het My, die bron van lewende water, verlaat,

en hulle het vir hulle waterbakke uit klip gekap,

waterbakke wat gebars is en nie water hou nie.

14Het Israel 'n slaaf geword of is hy 'n slaaf gebore?

Waarom is hy dan buitgemaak?

15Waarom brul en grom die leeus so teen hom?

Waarom is sy land verwoes en lê sy stede in puin,

sonder inwoners?

16Die manne van Memfis en Tagpanges sal jou kop inmekaarslaan.

17Jy het jou dit self aangedoen

omdat jy My, die Here jou God, verlaat het

toe Ek jou op jou pad gelei het.

18Wat wil jy bereik deur na Egipte toe te gaan

en water uit die Nyl te gaan drink?

Wat wil jy bereik deur na Assirië toe te gaan

en water uit die Eufraat te gaan drink?

19Die kwaad wat jy gedoen het, sal jou straf word;

omdat jy van My af weggedraai het, sal jy daaronder ly.

Jy sal agterkom hoe rampspoedig dit is,

jy sal proe hoe bitter dit is om My,

die Here jou God, te verlaat,

om geen eerbied meer vir My te hê nie,

sê die Here God, die Almagtige.

20Jy het my gesag lankal verwerp,

jou van My losgemaak, geweier om My te dien;

jy het op elke hoë heuwel

en onder elke groen boom aan tempelprostitusie deelgeneem

en so die afgode gedien.

21Toe Ek jou geplant het,

was jy 'n goeie wingerdstok, opreg gekweek,

maar hoe het jy nie verander in onkruid,

in 'n wilde wingerdstok nie!

22Al sou jy jou was met loog of met hoe baie seep,

Ek sal nog die vlekke van jou sonde sien, sê die Here my God.

23Hoe kan jy dan sê: “Ek het my nie verontreinig nie,

ek het nie die Baäls gedien nie”?

Kyk hoe het jy jou gedra in die Hinnomdal.

Besef tog wat jy gedoen het!

Jy was soos 'n kameelkoei wat bul soek, wat kruis en dwars hardloop,

24soos 'n wildedonkie wat tuis is in die woestyn.

Jy was soos 'n bronstige kameelkoei wat die wind opsnuif,

wat onkeerbaar is in haar hittigheid.

Die bulle wat haar soek,

hoef hulle nie moeg te hardloop agter haar aan nie;

wanneer sy wil paar, kry hulle haar maklik.

25Moenie jou skoene stukkend loop agter die afgode aan nie,

jou keel laat droog word van die dors nie!

Maar jy sê: “Ek sal nie daarmee ophou nie!

Ek het die vreemde gode lief, ek wil hulle dien.”

26Soos 'n dief in die skande kom wanneer hy betrap word,

so sal die Israeliete in die skande kom:

hulle, hulle konings, hulle amptenare,

hulle priesters en hulle profete.

27Dit is hulle wat vir 'n stuk hout sê: “My vader,”

en vir 'n klip: “U het my in die wêreld gebring.”

Na My toe het hulle hulle rug gedraai in plaas van hulle gesig.

Dit is net wanneer 'n ramp hulle tref

dat hulle sê: “Kom red ons tog!”

28Waar is jou gode wat jy vir jou gemaak het?

Laat hulle jou kom red wanneer 'n ramp jou tref, as hulle kan!

Soveel stede as wat jy het, Juda, net soveel gode het jy.

29Waarom twis julle met My?

Julle het almal teen My in opstand gekom, sê die Here.

30Tevergeefs het Ek julle kinders gestraf,

hulle het nie 'n les daaruit geleer nie.

Soos leeus wat alles verskeur,

het julle julle profete doodgemaak.

31Slaan ag op die woord van die Here, my volk!

Was Ek dan vir Israel soos 'n woestyn

of soos 'n stikdonker land?

Waarom het my volk dan gesê:

“Ons rebelleer, ons wil U nie meer dien nie”?

32Vergeet 'n meisie haar juwele of 'n bruid haar trourok?

Tog het my volk My jare gelede al vergeet.

33Hoe geoefen is jy in die kuns om minnaars te soek;

jy het al so gewoond geraak aan die kwaad!

34Die some van jou klere is vol bloed,

die bloed van arm en onskuldige mense,

nie dié van mense wat jy op inbraak betrap het nie.

En ten spyte van dit alles 35sê jy:

“Ek is onskuldig; die Here is nie toornig op my nie.”

Maar Ek gáán jou straf omdat jy gesê het:

“Ek het nie gesondig nie.”

36Hoe laag het jy gedaal deur jou wispelturigheid!

Egipte sal jou net so in die steek laat

as wat Assirië jou in die steek gelaat het.

37Jy sal daarvandaan terugkom sonder dat jy jou sin gekry het,

want Ek het almal verwerp op wie jy vertrou het;

by hulle sal jy geen hulp kry nie.

Kom terug!

1Die Here vra: Mag 'n man

as hy van sy vrou skei

en sy hom verlaat en 'n ander man se vrou word,

na haar toe teruggaan?

Sou die land nie vreeslik verontreinig word nie?

En jy wat by so baie minnaars geslaap het,

wil jy na My toe terugkom? vra die Here.

2Kyk op na die heuweltoppe:

waar het jou minnaars nie by jou geslaap nie?

Langs die paaie het jy vir hulle gesit en wag

soos 'n Arabier in die woestyn,

en jy het die land verontreinig met jou onsedelikheid,

met jou slegte gedrag.

3Daarom het Ek die reënbuie teruggehou

en het die vroeë reëns nie gekom nie,

maar jy het soos 'n hoer geen berou getoon nie,

jy het geweier om jou te skaam.

4En nou noem jy My skielik: “My vader,”

en sê jy: “U is my vriend vandat ek 'n kind was.

5Sal U vir altyd kwaad wees, vir altyd toornig wees?”

Dit is wat jy gesê het,

maar jy het verkeerd bly doen net waar jy kon.

6Dit was tydens die regering van koning Josia. Die Here het vir my gesê: Het jy gesien wat die ontroue Israel gedoen het? Sy het op elke hoë berg en onder elke groen boom gaan ontug pleeg! 7Ek het gedink: nadat sy al hierdie dinge gedoen het, sal sy na My toe terugkom, maar sy het nie teruggekom nie. En haar ontroue suster Juda het dit alles aanskou.

8Toe Ek die trouelose Israel oor al haar ontrou verstoot en die skeibrief aan haar gegee het, het Ek gesien dat haar ontroue suster Juda nie afgeskrik is nie. Ook sy het gaan ontug pleeg. 9Dit was vir Israel niks om haarself en die land te verontreinig nie, sy het owerspel gepleeg met afgodsbeelde van klip en hout. 10En asof dit nie genoeg was nie, het haar ontroue suster Juda na My toe teruggekom, maar nie met volle oorgawe nie; dit was vals, sê die Here.

11Toe het die Here vir my gesê: Die trouelose Israel is minder skuldig as die ontroue Juda. 12Gaan roep hierdie woorde na die noorde toe uit en sê:

Trouelose Israel, kom terug, sê die Here.

Ek sal nie langer vir julle kwaad wees nie,

want Ek is getrou, sê die Here,

Ek bly nie vir altyd kwaad nie.

13Erken net jou skuld,

dat jy teen die Here jou God in opstand gekom het

deur onder elke groen boom vreemde gode te gaan dien

en so aan My ongehoorsaam te wees, sê die Here.

14Kom terug, kinders wat afgedwaal het, sê die Here. Ek maak julle my eiendom. Ek sal julle vat, een uit 'n stad en twee uit 'n familie, en julle na Sion toe bring. 15Ek sal vir julle herders gee na my hart, en hulle sal julle verstandig en met insig lei. 16Wanneer julle vrugbaar is en baie word in die land, in daardie dae, sê die Here, sal niemand meer uitroep: “Die verbondsark van die Here!” nie; dit sal nie meer in iemand se gedagte opkom nie, niemand sal dit eers meer noem of dit mis nie en niemand sal 'n nuwe maak nie. 17In daardie tyd sal hulle Jerusalem noem: “Die troon van die Here”, en al die nasies sal in Jerusalem bymekaarkom om die Naam van die Here te eer. Hulle sal nie hardkoppig bly nie. 18In daardie dae sal Juda by Israel aansluit en hulle sal saam uit die noordelike landstreek kom na die land wat Ek as besitting aan hulle voorvaders gegee het.

19Ek het gesê:

Hoe graag wil Ek jou 'n seun van My maak

en aan jou 'n lieflike land gee,

'n besitting liefliker as enigiets wat enige nasie het.

Ek het gesê: Noem My “Vader”,

en moet nooit weer van My af wegdraai nie.

20Maar soos 'n vrou wat ontrou is aan haar man,

so was julle, Israel, ontrou aan My, sê die Here.

21Hoor hoe smeek en huil die Israeliete op die heuweltoppe,

want hulle het die verkeerde pad geloop,

hulle het die Here hulle God vergeet.

22Kom terug, kinders wat afgedwaal het,

Ek wil 'n einde maak aan julle afdwaling.

Kyk, ons kom na U toe, want U is die Here ons God!

23Die lawaai op die heuwels, op die berge,

lewer niks op nie.

Die redding van Israel kom net van die Here ons God af.

24Van vroeg af al het die skandegod Baäl die vrug van ons

voorvaders se arbeid verteer, hulle kleinvee en hulle grootvee,

ook hulle seuns en hulle dogters.

25Ons wil in die aarde insink oor die skande,

ons wil wegkruip van skaamte,

want ons het teen die Here ons God gesondig,

ons en ons voorvaders,

van ons jeug af tot vandag toe.

Ons was ongehoorsaam aan die Here ons God.

1As jy jou wil bekeer, Israel,

moet jy jou tot My bekeer, sê die Here.

As jy jou afskuwelike afgode voor My wegvat,

moet jy nie meer dwaal nie.

2Wanneer jy 'n eed aflê en sê: “So seker as die Here leef,”

moet dit in waarheid wees,

moet jy reg laat geskied en reg doen.

Dan sal die nasies hulle seën van die Here verwag

en in Hom roem.

3So sê die Here vir die mense van Juda en Jerusalem:

Ploeg vir julle 'n braakland

en moenie in die dorings saai nie.

4Wy julle aan die diens van die Here,

en verwyder alle ontrou uit julle harte,

mense van Juda, inwoners van Jerusalem,

sodat my toorn oor julle bose dade nie losbreek soos 'n vuur

en bly brand sonder dat dit geblus word nie.

'n Ramp kom uit die noorde

5Vertel dit in Juda, maak dit in Jerusalem bekend en sê:

“Blaas die ramshoring in die land!”

Roep hard en sê:

“Kom bymekaar, laat ons in die vestingstede ingaan!”

6Swaai die vaandel: Na Sion toe!

Soek veiligheid, moenie talm nie!

Ek, die Here, laat onheil uit die noorde kom, 'n groot ramp.

7Die leeu het opgestaan uit sy lêplek,

die vernietiger van die nasies is op pad,

hy het uit sy blyplek uitgegaan om jou land te verwoes.

Jou stede sal in puin lê, sonder inwoners.

8Daarom, trek rouklere aan, huil en kerm,

want die toorn van die Here rus nog op ons.

9Daardie dag, sê die Here,

sal die koning en die amptenare se moed hulle begewe,

die priesters sal verslae staan

en die profete sal nie weet waarheen nie.

10Toe sê ek: “Ag, Here my God!

U het hierdie volk en Jerusalem bedrieg.

U het gesê: ‘Julle sal vrede hê,’

maar nou lê die swaard teen ons kele.”

11Daardie tyd sal daar vir hierdie volk en vir Jerusalem gesê word:

'n Gloeiende wind kom oor die heuweltoppe

uit die woestyn uit op my volk af,

maar nie om die kaf weg te waai en die koring skoon te waai nie.

12Ek bring die wind in sy volle krag oor hulle,

Ek gaan nou die oordeel oor hulle uitspreek.

13Kyk, die vyand kom so skielik soos wolke,

sy strydwaens kom soos 'n stormwind,

sy perde is vinniger as arende.

Ellende wag vir ons, dit is klaar met ons!

14Jerusalem, reinig jou hart van die kwaad,

dat jy behoue kan bly.

Hoe lank sal jy nog bose planne in jou omdra?

15Daar kom 'n boodskap uit Dan,

daar kom slegte nuus van die Efraimsberge af.

16Vertel dit aan die nasies, maak dit aan Jerusalem bekend:

Daar kom wagte uit 'n ver land,

hulle beveel hulle manskappe om die stede van Juda aan te val.

17Soos mense wat graanlande oppas, staan hulle rondom Jerusalem,

want hy het teen My gerebelleer, sê die Here.

18Jou eie optrede,

jou eie dade het hierdie dinge oor jou gebring,

dis jou eie boosheid wat dit so bitter maak,

wat jou in jou hart tref.

19O die krampe in my ingewande, o die benoudheid in my hart!

My hart bons wild, ek kan dit nie tot bedaring bring nie,

want ek het die geluid van die ramshoring gehoor,

en die oorlogskrete!

20Die val van die een stad na die ander word uitgeskreeu,

die hele land is verwoes.

Met een slag is my wonings vernietig,

in een oomblik my woonplekke.

21Hoe lank sal ek nog die vyande se vaandel sien,

die geluid van die ramshoring hoor?

22My volk tree dwaas op, hulle erken My nie,

hulle is moedswillige kinders, sonder enige begrip van wat Ek doen.

Hulle is net slim as dit kom by verkeerddoen,

van goeddoen wil hulle niks weet nie.

23Ek het na die land gekyk, en dit was onbewoonbaar,

na die hemel, en die lig was daaruit weg;

24ek het na die berge gekyk, en hulle het gebewe,

na al die heuwels, en hulle het geskud.

25Ek het gekyk, en daar was geen mens nie,

selfs die voëls het weggevlieg.

26Ek het gekyk, en die vrugbare grond het in woestyn verander,

al die stede het in puin gelê.

Dit is die Here wat dit in sy gloeiende toorn gedoen het!

27Ja, so sê die Here:

Die hele land sal verwoes wees,

maar Ek sal dit nie totaal vernietig nie.

28Daaroor moet die aarde treur

en die hemel daarbo donker word,

want Ek het my voorneme bekend gemaak,

Ek staan by my besluit, Ek sal nie van plan verander nie.

29Voor die geluid van ruiters en boogskutters uit

slaan elke stad op die vlug;

hulle hardloop die bosse in, hulle klim tussen die rotse in.

Elke stad lê verlate, sonder 'n enkele inwoner.

30Maar jy, verlatene, wat maak jy nou?

Wat klee jy jou met bloedrooi klere;

wat versier jy jou met goue versiersels,

waarvoor smeer jy oogverf aan!

Jy maak jou verniet mooi!

Jou minnaars het jou verwerp, hulle soek jou lewe.

31Ek hoor 'n geskreeu soos van iemand wat in kraam is,

'n benoude kreet soos van 'n vrou

wat haar eerste kind in die wêreld bring.

Ek hoor vir Sion wat na haar asem hyg,

wat haar hande smekend uitsteek en sê:

“Ellende wag vir my! Ek is weerloos teen my moordenaars!”

Israel en Juda het die Here geminag

1Loop op en af in die strate van Jerusalem,

kyk rond en let op;

gaan soek op sy pleine of julle daar iemand kry wat reg doen,

wat die waarheid soek.

Dan sal Ek Jerusalem se sonde vergewe.

2Selfs al lê hulle 'n eed af in die Naam van die Here,

bly dit 'n vals eed.

3En dit terwyl U waarheid eis, Here!

U het hulle geslaan,

maar hulle het hulle nie aan U gesteur nie;

U het hulle hard geslaan,

maar hulle het hulle nie laat leer nie,

hulle koppe was harder as klip,

hulle het geweier om hulle te bekeer.

4Ek het eers gedink:

dis maar die gewone mense wat so dwaas optree,

want hulle ken nie die wil van die Here nie,

hulle weet nie wat hulle God van hulle verwag nie;

5ek sal na die leiers toe gaan en met hulle praat,

want hulle ken die wil van die Here,

hulle weet wat hulle God van hulle verwag.

Maar ook hulle het almal in opstand gekom,

die gesag van God verwerp.

6Daarom sal leeus uit die bos hulle kom doodmaak,

wolwe uit die woestyn hulle kom verskeur,

en luiperds by hulle stede op die loer lê

om elkeen wat uit die stad uitgaan, te vang.

Hulle oortredings is baie, hulle het gedurig afgedwaal.

7Waarom sou Ek jou vergewe?

Jou inwoners het My verlaat, hulle sweer trou aan afgode.

Ek het hulle trou laat sweer aan My,

maar tog pleeg hulle egbreuk en drom hulle saam in bordele.

8Soos bronstige hingste het hulle geword,

hulle runnik elkeen agter sy naaste se vrou aan.

9Sal Ek hulle dan nie hieroor straf nie? vra die Here.

Sou Ek My nie wreek op 'n nasie soos hierdie nie?

10Klim op sy terrasse en kap die wingerde uit,

maar moenie alles vernietig nie;

sny af die ranke, want hulle is nie die Here s'n nie.

11Die mense van Israel en die mense van Juda

was ontrou aan My, sê die Here.

12Hulle het Hom geminag, hulle het gesê:

“Hy sal dit nie doen nie, daar sal geen kwaad oor ons kom nie

en ons sal nie oorlog of hongersnood beleef nie.

13Wat die profete sê, is wind,

dit is nie die woord van die Here nie.

Mag wat hulle sê, oor hulleself kom!”

14Die Here, die almagtige God, het vir my gesê:

Omdat hulle dit gesê het,

maak Ek my woorde in jou mond 'n vuur en hierdie volk hout,

sodat die vuur hulle verteer.

15Kyk, mense van Israel,

Ek laat 'n nasie uit 'n ver land teen julle optrek, sê die Here,

'n nasie wat lankal bestaan, van die ou tyd af,

'n nasie wie se taal julle nie ken nie,

wie se woorde julle nie verstaan nie.

16Hulle is dodelike boogskutters, almal dapper vegters.

17Hulle sal jou oeste en jou kos verteer,

jou seuns en jou dogters om die lewe bring,

jou kleinvee en jou beeste slag

en jou wingerdstokke en jou vyebome vernietig,

jou vestingstede waarop jy jou vertroue vestig,

met die swaard inneem.

18Maar ook in daardie dae, sê die Here, sal Ek nie 'n einde aan julle maak nie. 19As hulle vra: “Waarom het die Here ons God al hierdie dinge aan ons gedoen?” moet jy hulle antwoord: Net soos julle My, die Here, verlaat het en vreemde gode in julle eie land gedien het, so sal julle in 'n land wat nie aan julle behoort nie, vreemdes dien.

20Vertel dit aan die mense van Jakob, maak dit aan Juda bekend. Sê vir hulle:

21Luister hierna, dwase volk wat nie verstaan nie,

wat oë het maar nie sien nie, ore maar nie hoor nie.

22Het julle nie ontsag vir My nie, vra die Here,

is julle nie bang vir My nie,

vir My wat die sand as grens vir die see gestel het,

'n blywende grens wat dit nie kan oorsteek nie?

Die see kan bruis, maar dit kan nie verder gaan nie,

sy golwe kan dreun, maar hulle kom nie by die sand verby nie.

23Maar hierdie volk is rebels en opstandig,

hulle het in opstand gekom, My verlaat.

24Hulle het nie vir hulleself gesê:

“Ons moet die Here ons God dien wat ons die groot reëns gee,

die vroeë en die laat reëns, elkeen op die regte tyd,

wat vir ons gesorg het met oeste op die regte tyd” nie.

25Julle oortredings het dit laat verander,

julle sondes het die voorspoed van julle weerhou.

26Daar is goddelose mense onder my volk:

soos voëlvangers stel hulle strikke en wippe

om mense mee te vang.

27Soos 'n voëlvanger 'n hok vol voëls maak,

het hulle hulle huise volgemaak met bedrog;

dit is waarom hulle magtig en ryk is, 28vet en blink.

Hulle boosheid ken geen perke nie,

hulle laat die reg nie seëvier nie,

hulle verydel die reg van die weeskind

en behartig nie die regsaak van die armes nie.

29Sal Ek hulle nie hieroor straf nie? vra die Here.

Sou Ek My nie wreek op 'n nasie soos hierdie nie?

30Iets vreesliks en afskuweliks het in die land gebeur:

31die profete tree vals op,

die priesters regeer met hulle eie gesag,

en my volk hou daarvan!

Maar wat sal julle doen as die einde kom?

Jerusalem is 'n stad wat veroordeel is

1Mense van Benjamin,

gaan soek veiligheid buite Jerusalem,

blaas die ramshoring in Tekoa,

gee vuurseine by Bet-Kerem,

want daar dreig onheil uit die noorde, 'n groot ramp.

2Sion is soos 'n mooi maar verwénde dogter,

Ek sal hom vernietig.

3Konings sal na hom toe kom met hulle leërs,

hulle sal hulle tente rondom opslaan om teen die stad te veg,

elkeen sal 'n eie stuk inneem.

4Hulle sal sê: “Verklaar oorlog teen hom;

kom ons val hom helder oordag aan!

Nee, die dag is al verby, die aandskaduwees is al lank.

5Kom ons val hom in die nag aan en vernietig sy mooi huise!”

6So sê die Here die Almagtige:

Kap bome af en gooi 'n wal op teen Jerusalem.

Dit is die stad wat veroordeel is,

want verdrukking is daar aan die orde van die dag.

7Soos 'n put sy water vars hou,

so hou die stad sy boosheid vars;

al waarvan Ek daar hoor, is geweld en vernietiging,

al wat Ek sien, siekte en wonde.

8Jerusalem, neem die waarskuwing ter harte,

sodat Ek nie my rug vir jou draai nie,

sodat Ek jou nie 'n woesteny maak nie,

'n land waarin niemand woon nie.

9So sê die Here die Almagtige:

Oes die oorblyfsel van Israel af soos 'n mens 'n wingerd afoes,

bring jou hand soos 'n druiweplukker weer en weer terug na die ranke toe.

10Met wie sal ek praat, wie sal ek waarsku,

wie sal na my luister?

Hulle ore is doof, hulle is nie in staat om te hoor nie.

Hulle praat smalend oor die woord van die Here,

dit kan hulle nie skeel nie.

11Die toorn van die Here brand in my,

ek kan dit nie verduur nie!

Giet dit uit op die kinders in die straat

en op die jongmanne waar hulle bymekaarkom;

laat mans én vrouens daardeur verteer word,

selfs mense wat grys is, wat baie oud is.

12Hulle huise sal ander mense s'n word,

en ook hulle lande en hulle vrouens,

want Ek gaan die inwoners van die land straf, sê die Here.

13Almal, klein en groot, wil hulleself net verryk,

almal, selfs profete en priesters, is uit op bedrog.

14Hulle het 'n goedkoop raat vir die wonde van my volk.

Hulle sê net: “Alles is reg! Alles is reg!”

Maar niks is reg nie.

15Wanneer hulle aan die kaak gestel word

oor die gruwelike dinge wat hulle gedoen het,

skaam hulle hulle nie eens nie,

hulle weet nie van skaamte nie.

Daarom sal hulle tot 'n val kom soos al die ander voor hulle;

wanneer Ek hulle straf, sal hulle omkom, sê die Here.

16So sê die Here:

Staan by die kruispaaie en kyk,

en vra na die ou paaie.

Vra watter pad die beste is en loop dit,

dan sal julle rus vind.

Maar hulle het gesê: “Ons sal nie daardie pad loop nie.”

17Toe het Ek wagte oor julle aangestel en gesê:

Luister na die ramshoring!

Maar hulle het geantwoord: “Ons sal nie luister nie.”

18Daarom moet julle luister, nasies,

en kyk wat met hulle gaan gebeur.

19Luister, aarde! Ek bring onheil oor hierdie volk,

hulle sal die vrugte pluk van hulle planne,

want hulle het hulle nie aan my woorde gesteur nie,

hulle het verwerp wat Ek hulle geleer het.

20Waarom sou Ek omgee vir wierook uit Skeba

of kalmoes uit 'n ver land?

Ek aanvaar nie julle brandoffers nie,

Ek hou nie van julle offers nie.

21Daarom sê die Here:

Kyk, Ek lê in die pad van hierdie volk struikelblokke

dat hulle daaroor kan val;

vaders en kinders, vriende en bure sal omkom.

22So het die Here gesê:

Kyk, 'n volk kom uit 'n land in die noorde,

'n groot nasie staan op in 'n uithoek van die aarde.

23Hulle is gewapen met pyl en boog en swaard,

hulle is wreed en hulle spaar niemand nie.

Hulle krygsgeskreeu dreun soos die see,

hulle kom aan op hulle perde,

hulle soldate is reg vir die aanval op jou, Sion.

24Ons het die gerug oor hulle gehoor,

ons hande hang slap,

angs het ons beetgepak,

benoudheid soos die pyn van 'n vrou

wat 'n kind in die wêreld bring.

25Moenie in die veld ingaan nie,

moet ook nie met die pad langs loop nie,

want die wapens van die vyand jaag oral skrik aan.

26My volk, trek rouklere aan, rol in die as,

treur soos oor die dood van 'n enigste kind,

huil bittere trane, want die verwoester is op ons.

27Ek stel jou aan om my volk te toets,

Ek maak jou sterk; ondersoek en toets wat hulle doen.

28Hulle is almal hardkoppige rebelle,

hard soos brons en yster;

hulle loop mekaar en beswadder,

hulle is almal korrup.

29Die blaasbalk blaas,

maar die vuur kry nie die lood afgeskei nie;

die smelter smelt verniet,

hy kry die afvalstowwe nie uitgesmelt nie.

30Hulle bly weggooisilwer;

dit is wat hulle genoem word,

want die Here het hulle verwerp.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS