Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 17

Eksodus 7–13

Bybelteks(te)

1Maar die Here antwoord hom: “Kyk, Ek gee aan jou gesag oor die farao, en jou broer Aäron sal jou woordvoerder wees. 2Alles wat Ek jou beveel, moet jy aan jou broer Aäron oordra, en hy moet dit vir die farao vertel sodat hy die Israeliete kan laat trek uit sy land uit. 3Maar Ek sal die farao hardkoppig maak, sodat Ek baie tekens en wonders in Egipte kan doen. 4Hy sal wel nie na julle luister nie, maar dan sal Ek Egipte my mag laat ervaar: met groot reddingsdade sal Ek die stamme van my volk Israel uit Egipte bevry. 5As Ek Egipte tref, sal hulle besef dat Ek die Here is, en dan sal Ek Israel tussen hulle uit laat trek.”

6Moses en Aäron het gedoen presies wat die Here hulle beveel het.

7Moses was tagtig en Aäron drie en tagtig toe hulle met die farao gaan praat het.

8Verder het die Here vir Moses en Aäron gesê: 9“As die farao vir julle sê: ‘Doen bietjie 'n wonderteken,’ moet jy vir Aäron sê: Vat jou kierie en gooi dit voor die farao neer dat dit 'n groot slang word.”

10Toe Moses en Aäron by die farao kom, het hulle gedoen wat die Here beveel het: Aäron het sy kierie voor die farao en sy amptenare neergegooi en dit het in 'n groot slang verander. 11Die farao roep toe ook sy manne bymekaar wat dié soort ding ken, sy goëlaars. Dié Egiptiese towenaars doen toe met hulle towerkunste presies dieselfde: 12soos elkeen sy kierie neergooi, verander dit in 'n groot slang. Maar toe sluk Aäron s'n hulle s'n in!

13Tog het die farao koppig gebly en nie aan hulle versoek gehoor gegee nie, net soos die Here vooraf gesê het.

Die eerste plaag: water word bloed

14Die Here het vir Moses gesê: “Die farao bly onversetlik, hy hou aan weier om die volk te laat trek. 15Gaan môre vroeg na die farao toe; hy sal juis op pad wees water toe. Gaan wag vir hom langs die Nyl, met die kierie wat in 'n slang verander het, in jou hand. 16Sê dan vir hom: ‘Die Here die God van die Hebreërs het my na jou toe gestuur met die opdrag dat jy my volk moet laat gaan om My in die woestyn te dien, maar tot nou toe het jy nie gehoor gegee nie. 17So sê die Here: Deur wat nou gaan volg, sal jy weet dat Ek die Here is.’ Jy moet ook vir die farao sê: Met hierdie kierie in my hand sal ek op die Nyl se water slaan, en dit sal in bloed verander. 18Dan sal die vis in die Nyl vrek, en dit sal so stink dat die Egiptenaars nie die water sal kan drink nie.”

19Verder sê die Here vir Moses: “Sê vir Aäron: Vat jou kierie en swaai dit oor al die water van Egipte, oor sy kanale, riviere, moerasse en damme, dat dit bloed kan word. Daar sal bloed wees in die hele Egipte, selfs in die hout- en klipbakke.”

20Toe het Moses en Aäron gedoen presies wat die Here hulle beveel het. Aäron het sy kierie opgelig en voor die oë van die farao en sy amptenare op die Nyl se water geslaan, en al die water het in bloed verander. 21Die vis in die Nyl het gevrek en die Nyl se water het so gestink dat die Egiptenaars dit nie kon drink nie. Oral in Egipte was daar bloed.

22Maar die Egiptiese towenaars het met hulle towerkunste dieselfde gedoen, sodat die farao koppig gebly het. Hy het nie aan Moses-hulle se versoek gehoor gegee nie, soos die Here vooraf gesê het. 23Die farao het omgedraai na sy paleis toe sonder om hom daaraan te steur. 24Intussen het die hele Egipte langs die Nyl na drinkwater gegrawe omdat hulle nie die Nyl se water kon drink nie. 25Die toestand het 'n volle sewe dae geduur nadat die Here die Nyl getref het.

Die tweede plaag: paddas

1Daarna sê die Here vir Moses: “Gaan sê vir die farao: So sê die Here: Laat my volk gaan om My te dien. 2As jy weier om hulle te laat gaan, sal Ek jou hele gebied met 'n paddaplaag tref. 3Die Nyl sal wemel van die paddas. Hulle sal uitspring en in jou paleis kom, in jou slaapkamer, op jou bed, in jou amptenare se huise, tussen jou mense, in jou bakoonde en in jou skottels. 4Die paddas sal op jou en op jou mense en al jou amptenare spring.”

5Verder sê die Here vir Moses: “Sê vir Aäron: Swaai jou kierie oor die kanale, riviere en moerasse. Laat daar paddas kom oor Egipte.”

6Aäron swaai toe sy kierie oor al die water van Egipte en toe kom die paddas: Egipte was oortrek van hulle.

7Tog het die towenaars met hulle towerkunste dieselfde gedoen en ook paddas oor Egipte laat kom. 8Hierna roep die farao vir Moses en Aäron en sê: “Julle moet die Here bid dat Hy die paddas van my en my mense af wegvat. Dan sal ek die volk laat gaan dat hulle vir die Here kan gaan offer.”

9Moses antwoord toe: “Soos dit U Majesteit behaag. Wanneer sal ek vir u, u amptenare en u mense bid dat die paddas heeltemal van u en u huise af weggevat kan word, en daar net in die Nyl nog van hulle sal oorbly?”

10En die farao antwoord: “Doen dit môre.”

Toe sê Moses: “Goed, dan sal u besef dat daar geen god is soos ons God, die Here, nie. 11Die paddas sal van u af weggevat word, van u huise, u amptenare en u mense af; net in die Nyl sal daar nog paddas oorbly.”

12Moses en Aäron het van die farao af weggegaan en Moses het die Here aangeroep oor die paddas wat Hy oor die farao gebring het. 13Die Here het gedoen wat Moses gevra het, en die paddas het gevrek, in die huise, in die binneplase en op die lande. 14Die mense het dit hope-hope bymekaargehark, en die land het daarvan gestink.

15Maar toe die farao sien dat daar verligting gekom het, het hy weer onversetlik geword. Hy het nie aan Moses-hulle se versoek gehoor gegee nie, soos die Here vooraf gesê het.

Die derde plaag: muggies

16Daarna het die Here vir Moses gesê: “Sê vir Aäron: Swaai jou kierie en slaan op die grond dat daar muggies oor die hele Egipte kom.”

17Hulle twee het toe so gemaak. Aäron het die kierie geswaai en op die grond geslaan, en mens en dier was oortrek van die muggies. In die hele Egipte het elke krieseltjie stof 'n muggie geword.

18Die towenaars het dieselfde probeer doen met hulle towerkunste, dié keer om muggies voort te bring, maar hulle kon nie.

Mens en dier was oortrek van die muggies. 19Toe sê die towenaars vir die farao: “Dit is die vinger van God!”

Maar die farao het koppig gebly. Hy het nie aan Moses-hulle se versoek gehoor gegee nie, net soos die Here vooraf gesê het.

Die vierde plaag: steekvlieë

20Daarna het die Here vir Moses gesê: “Staan môreoggend vroeg op en gaan wag vir die farao by die water. Hy sal juis op pad wees soontoe. Sê vir hom: So sê die Here: Laat my volk gaan om My te dien, 21want as jy my volk nie laat gaan nie, sal Ek steekvlieë op jou loslaat, op jou amptenare, op jou mense en in jou huise. In die huise van die Egiptenaars en ook op hulle lande sal dit swerm van die steekvlieë. 22Maar dié dag sal Ek 'n uitsondering maak van die Gosenstreek waar my volk woon. Dáár sal nie 'n enkele steekvlieg wees nie, dat jy kan besef dat Ek, die Here, in die land is. 23Ek neem mý volk in beskerming, joune nie. Net môre sal hierdie wonder gebeur.”

24Die Here het dit toe gedoen. Groot swerms steekvlieë het in die paleis van die farao in gekom, in die huise van sy amptenare en oor die hele Egipte. Die land is daardeur lam gelê.

25Toe roep die farao vir Moses en Aäron en sê: “Julle kan vir julle God gaan offer, maar hier in dié land!”

26Maar Moses antwoord: “Dit kan ons nie doen nie, want ons offers aan ons God, die Here, gee aanstoot aan die Egiptenaars. As ons nou hier voor hulle oë offers bring wat vir hulle aanstootlik is, sal hulle ons mos met klippe doodgooi! 27Ons wil maar net drie dagreise ver die woestyn in gaan om aan ons God, die Here, te offer soos Hy ons beveel het.”

28Hierna sê die farao: “Dan laat ek julle nou maar gaan om in die woestyn vir julle God, die Here, te offer. Moet net nie te ver weg gaan nie, en bid vir my.”

29Toe antwoord Moses: “Ek gaan nou weg van u af en sal die Here bid dat die steekvlieë môre van u af padgee en van u amptenare en u mense af. U Majesteit moet nou net nie weer u woord breek deur die volk nie te laat gaan om vir die Here te offer nie!”

30Moses het weggegaan van die farao af en tot die Here gebid. 31Die Here het toe gedoen wat Moses gevra het en die steekvlieë van die farao af laat padgee, en van sy amptenare en sy mense af. Daar het nie een oorgebly nie.

32En tog het die farao ook hierdie keer onversetlik gebly en die volk nie laat gaan nie.

Die vyfde plaag: pes onder die vee

1Daarna het die Here vir Moses gesê: “Gaan sê vir die farao: So sê die Here die God van die Hebreërs: Laat my volk gaan om My te dien. 2As jy weier om hulle te laat gaan en hulle bly vashou, 3sal die Here sy mag toon met 'n baie swaar pes onder al jou vee in die veld: perde, donkies, kamele, beeste en kleinvee. 4Die Here sal onderskeid maak tussen die vee van Israel en dié van Egipte: daar sal nie 'n enkele stuk vee van die Israeliete vrek nie.”

5Die Here het 'n tyd vasgestel en Hy het gesê Hy sal dit die volgende dag in Egipte laat gebeur. 6Die volgende dag doen Hy dit toe ook, en al die vee van Egipte is dood, maar van die vee van die Israeliete is daar nie een dood nie. 7Die farao het navraag gedoen en jou werklik waar, nie 'n enkele stuk van die Israeliete se vee is dood nie.

Tog was die farao steeds onversetlik: hy het die volk nie laat gaan nie.

Die sesde plaag: swere

8Daarna het die Here vir Moses en Aäron gesê: “Skep hande vol roet uit 'n oond en laat Moses dit voor die farao in die lug opgooi. 9Dit sal 'n fyn poeier word oor die hele Egipte en dit sal dwarsoor Egipte op mens en dier swere veroorsaak wat aanhoudend etter.”

10Hulle het toe roet uit 'n oond gevat en voor die farao gaan staan. Toe Moses dit in die lug opgooi, kom daar op mens en dier swere wat aanhoudend etter.

11Die towenaars kon Moses dit nie eens probeer nadoen nie, want hulle was vol swere. Die swere het op al die Egiptenaars uitgekom, ook op die towenaars.

12Tog het die Here die farao nog steeds koppig laat bly. Hy het nie aan Moses en Aäron se versoek gehoor gegee nie, soos die Here vooraf vir Moses gesê het.

Die sewende plaag: hael

13Daarna het die Here vir Moses gesê: “Staan môreoggend vroeg op en gaan na die farao toe en sê vir hom: So sê die Here die God van die Hebreërs: Laat my volk gaan om My te dien, 14anders gaan Ek jou hierdie keer met 'n groot ramp tref en ook jou amptenare en jou mense. Dan sal jy besef dat daar op die hele aarde niemand soos Ek is nie. 15Na regte moes Ek nou al my hand uitgesteek het en jou en jou mense met 'n pes van die aarde af uitgewis het. 16Daar is net een rede waarom Ek jou nog laat lewe, en dit is dat Ek jou my mag kan wys en my Naam daardeur oor die hele wêreld geroem kan word. 17Nog steeds hou jy jou groot teen my volk en laat jy hulle nie gaan nie. 18Môre hierdie tyd gaan Ek 'n verskriklike swaar haelstorm laat losbars soos daar nog nooit in die bestaan van Egipte was nie. 19Laat nou al jou vee en alles wat buite is, na veiligheid bring. Al die mense en diere wat buite is en nie onder dak gebring is nie, sal deur die hael doodgeslaan word.”

20Die amptenare van die farao wat bang geword het toe hulle hoor wat die Here gesê het, het haastig hulle slawe en vee onder dak gebring, 21maar dié wat hulle nie aan sy woorde gesteur het nie, het hulle slawe en vee buite laat bly.

22Toe het die Here vir Moses gesê: “Steek jou hand in die lug op dat daar hael oor die hele Egipte kan kom oor mens en dier, en oor al die plante van Egipte.”

23Toe Moses sy kierie in die lug opsteek, het die Here donderslae en hael gestuur, en die blitse het tot op die grond geslaan. Die Here het die haelstorm oor Egipte laat losbars. 24Die hael het geval; tussen die hael deur het die een blits op die ander gevolg, so erg soos dit nog nooit was vandat daar mense in Egipte woon nie. 25Die hael het die hele Egipte getref, alles wat buite was, mens en dier. Al die plante is deur die hael weggeslaan, selfs al die bome is in repe geslaan. 26Net in die Gosenstreek, waar die Israeliete was, was daar nie hael nie.

27Die farao laat roep toe vir Moses en Aäron en sê vir hulle: “Nou erken ek ek was verkeerd. Die Here het reg, ek en my mense is skuldig. 28Bid tog tot die Here. Die donderslae en hael is vir ons te erg. Ek sal julle laat gaan. Julle hoef nie langer te bly nie.”

29Toe het Moses vir hom gesê: “Sodra ek uit die stad is, sal ek my hande in gebed na die Here uitsteek. Dan sal die donderslae ophou, en daar sal nie meer hael wees nie, dat u kan besef dat hierdie land aan die Here behoort. 30Wat u en u amptenare betref, ek weet u het nog nie ontsag vir God, die Here, nie.”

31Die vlas- en die garsoes is vernietig omdat die gars in die aar en die vlas in die knop was, 32maar die koring en die sorghum is nie vernietig nie omdat dit later ryp word.

33Moses is van die farao af weg uit die stad uit, en hy het sy hande in gebed na die Here uitgesteek. Die donderslae en die hael het opgehou en die stortbuie het bedaar.

34Toe die farao sien die reën, hael en donderslae hou op, het hy maar weer verkeerd gedoen. Hy en sy amptenare was onversetlik. 35Die farao het koppig gebly en die Israeliete nie laat gaan nie, soos die Here vooraf deur Moses gesê het.

Die agste plaag: sprinkane

1Daarna het die Here vir Moses gesê: “Gaan na die farao toe, want Ek het hom en sy amptenare onversetlik gemaak sodat Ek hierdie wonders van My onder hulle kan doen. 2Dan kan jy aan jou kinders en kleinkinders vertel wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het en watter wonders Ek onder hulle verrig het om julle te laat besef dat Ek die Here is.”

3Moses en Aäron het toe na die farao toe gegaan en vir hom gesê: “So sê die Here die God van die Hebreërs: Hoe lank gaan jy nog weier om jou aan My te onderwerp? Laat my volk gaan om My te dien! 4As jy weier om my volk te laat gaan, bring Ek môre 'n sprinkaanplaag oor jou land. 5Die land sal so toe wees onder hulle dat 'n mens nie die grond sal kan sien nie. Hulle sal elke groenigheidjie afvreet wat oorgebly het na die hael, selfs dié van elke boom wat weer uitloop. 6Hulle sal oral in jou paleise wees, in die huise van al jou amptenare en van elke Egiptenaar. So iets het julle en al julle voorvaders nog nooit gesien vandat hulle in die land is tot nou toe nie.”

Toe het Moses omgedraai en van die farao af weggegaan.

7Die amptenare sê toe vir die farao: “Hoe lank gaan dié man nog vir ons moeilikheid gee? Laat hulle nou maar gaan om hulle God, die Here, te dien, maar net die mans. U sien tog dat Egipte te gronde gaan.”

8Toe is Moses en Aäron na die farao toe teruggebring en hy sê vir hulle: “Gaan dien julle God, die Here! Maar wie gaan almal saam?”

9Moses antwoord: “Ons gaan almal, met ons jong manne en ons ou manne, met ons seuns en ons dogters, met ons kleinvee en ons grootvee, want ons moet vir die Here 'n fees gaan hou.”

10Maar die farao sê vir hulle: “Die Here is net so min met julle as wat ek julle vrouens en kinders saam met julle sal laat gaan. Julle het 'n verkeerde ding in die kop. 11So sal ek dit nie toelaat nie! Net die mans gaan! Gaan dien die Here; dit is mos wat julle nog altyd vra!”

Toe is hulle van die farao af weggejaag.

12Daarna het die Here vir Moses gesê: “Steek jou hand uit oor Egipte dat daar sprinkane oor die land kan kom om elke groen sprietjie op te vreet wat van die hael oorgebly het.”

13Toe steek Moses sy kierie oor Egipte uit, en die Here het daardie hele dag en nag 'n oostewind laat waai wat die sprinkane aangebring het. Die volgende môre was hulle daar. 14Hulle het oor Egipte gekom en die hele land vol gesit, 'n yslike groot sprinkaanswerm, soos daar nog nooit tevore was nie en hierna ook nie weer sal wees nie. 15Die land was toe onder hulle en dit was donker. Hulle het elke groen sprietjie in die land opgevreet, en alles wat na die hael aan die bome oorgebly het. Daar het geen groenigheid aan 'n boom of 'n plant in Egipte oorgebly nie.

16Die farao laat toe haastig vir Moses en Aäron roep en hy sê: “Ek het verkeerd gedoen teen julle God, die Here, en teen julle! 17Vergeef tog asseblief net hierdie keer my oortreding! Bid tot julle God, die Here, dat Hy hierdie dood afweer van my af.”

18Moses het van die farao af weggegaan en tot die Here gebid. 19Toe laat die Here die wind verander in 'n sterk westewind wat die sprinkane opgeskep het en in die Rietsee gegooi het. Daar het nie een enkele sprinkaan in die hele Egiptiese gebied oorgebly nie.

20Maar die Here het die farao weer koppig gemaak, en hy het die Israeliete nie laat gaan nie.

Die negende plaag: drie dae donker

21Daarna het die Here vir Moses gesê: “Steek jou hand in die lug op, dan sal dit donker word in Egipte, so donker dat 'n mens dit kan voel.”

22Moses het toe sy hand in die lug opgesteek, en drie dae lank was dit pikdonker oor die hele Egipte. 23Die mense kon mekaar nie sien nie en drie dae lank kon niemand iets uitrig nie, maar in al die woongebiede van die Israeliete was daar lig.

24Toe laat die farao vir Moses roep en sê: “Gaan dien die Here! Julle vrouens en kinders kan saamgaan, maar julle kleinvee en julle grootvee moet hier agterbly.”

25Maar Moses sê: “U sal tog nie vir ons brandoffers en ander diereoffers gee om aan ons God, die Here, te bring nie! 26Daarom gaan ons vee beslis met ons saam. Daar bly nie 'n kloutjie agter nie. Ons moet van die vee gebruik om ons God, die Here, te dien en voordat ons daar aankom, weet ons nog nie met watter offer ons Hom sal dien nie.”

27Maar die Here het die farao weer koppig gemaak, sodat hy hulle nie wou laat gaan nie.

Die tiende plaag word aangekondig

28Toe het die farao vir Moses gesê: “Maak dat jy hier wegkom! Sorg dat ek jou nie weer sien nie, want die oomblik dat ek jou weer sien, sterf jy!”

29Moses het geantwoord: “Soos u sê: u sal my nie weer sien nie.”

1Die Here het toe vir Moses gesê: “Met nog een plaag sal Ek die farao en Egipte tref, en dan sal hy julle hiervandaan laat gaan. Ja, hy sal julle onvoorwaardelik laat trek; hy sal julle selfs wegjaag hiervandaan. 2Gaan sê vir die volk elke man en vrou moet silwer- en goue goed van hulle Egiptiese bure eis.”

3Die Here het gesorg dat die Egiptenaars aan sy volk goed doen, en boonop het Moses groot aansien onder die Egiptenaars geniet, by die amptenare en die volk.

4Toe sê Moses vir die farao: “So sê die Here: Teen middernag sal Ek deur Egipte gaan, 5en elke eersgeborene in Egipte sal sterwe, van die kroonprins af, die eersgeborene van die farao, tot by die eersgeborene van die slavin wat koring maal, ja, selfs al die eerstelinge van die diere. 6In die hele Egipte sal daar so gehuil en gerou word soos nog nooit tevore nie en ook nie later nie. 7Maar onder die Israeliete sal niemand iets oorkom nie, nie 'n mens of 'n dier nie.

“Dan sal julle besef dat die Here 'n verskil maak tussen Egiptenaar en Israeliet. 8Al hierdie amptenare van u sal voor my kom buig en vra: ‘Jy en jou hele volk moet asseblief trek.’ Dan sal ek trek.”

Moses is toe woedend van die farao af weg.

9Daarna het die Here vir Moses gesê: “Die farao luister nie na julle nie sodat my wonders in Egipte nog meer kan word.”

10Moses en Aäron het al hierdie wonders voor die farao gedoen, maar die Here het die farao koppig gemaak, sodat hy die Israeliete nie uit sy land wou laat trek nie.

Die instelling van die paasfees

1In Egipte het die Here vir Moses en Aäron gesê: 2“Hierdie maand is vir julle die belangrikste maand; dit moet die eerste maand van die jaar word. 3Sê vir die hele gemeente van Israel: Elkeen moet sorg dat hy op die tiende van hierdie maand 'n lam vir sy gesin het, vir elke huisgesin een. 4As 'n huisgesin te klein is vir 'n lam, kan 'n man en sy naaste buurman dit onder mekaar verdeel volgens die getal persone. Julle moet die lam deel volgens elkeen se behoefte. 5Dit moet 'n jaaroud rammetjie wees, sonder liggaamsgebrek, 'n skaap of 'n bok. 6Julle moet hom goed oppas tot die veertiende van hierdie maand, en dan moet die hele gemeente van Israel teen laat middag slag. 7Julle moet van die bloed smeer aan die sykante en die bokant van die deurkosyn van elke huis waar julle die lam gaan eet. 8Nog dieselfde nag moet julle die vleis eet. Julle moet dit gebraai eet, saam met ongesuurde brood en bitter kruie. 9Julle moet dit nie rou of in water gekook eet nie, maar oor die vuur gebraai, met kop, pootjies, binnegoed en al. 10Julle mag niks daarvan tot die volgende môre laat oorbly nie. As daar die volgende môre tog iets oor is, moet julle dit verbrand. 11Julle moet dit haastig eet, aangetrek vir die reis, skoene aan die voete en kierie in die hand. Dit is die paasfees van die Here.

12“Daardie selfde nag sal Ek deur Egipte gaan om al die eerstelinge van die Egiptenaars, mens en dier, te tref. Met al die Egiptiese gode sal Ek afreken. Ek is die Here! 13Die bloed aan die huise waarin julle is, sal 'n teken wees: waar Ek die bloed sien, sal Ek die huis oorslaan, en die vernietigende slag waarmee Ek Egipte gaan tref, sal julle nie tref nie.

14“Hierdie dag moet vir julle 'n gedenkdag wees. Julle moet dit as 'n fees tot eer van die Here vier. Vir julle nageslag moet dit 'n vaste instelling wees wat hulle moet vier. 15Sewe dae lank moet die brood wat julle eet, ongesuurde brood wees. Reeds op die eerste feesdag moet julle ontslae raak van suurdeeg in julle huise, want elkeen wat in die sewe dae gewone brood eet, moet van Israel afgesny word. 16Op die eerste en die sewende dag moet daar 'n gewyde byeenkoms wees. Op hierdie dae mag geen werk gedoen word nie, behalwe dat vir elkeen iets te ete voorberei kan word.

17“Onderhou die fees van die ongesuurde brood, want die eerste dag van die fees is die presiese dag waarop Ek julle stamme uit Egipte sal bevry het. Julle en julle nageslagte moet dié dag altyd as 'n vaste instelling vier. 18In die eerste maand moet julle van die aand van die veertiende af ongesuurde brood eet tot op die aand van die een en twintigste van die maand. 19Sewe dae mag daar geen suurdeeg in julle huise wees nie, want elkeen wat gewone brood eet, sal van die gemeente van Israel afgesny word. Dit geld vir vreemdelinge sowel as vir gebore Israeliete. 20Julle mag glad nie gewone brood eet nie. In al julle woonplekke moet julle net ongesuurde brood eet.”

21Moses het toe al die leiers van Israel bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Gaan vang vir julle gesinne elkeen 'n lam uit en slag die paaslam! 22Neem 'n bossie hisop, doop dit in 'n bak met bloed en smeer die bloed aan die bokant en die sykante van die deurkosyn. Nie een van julle mag by sy deur uitgaan voor die volgende môre nie. 23As die Here verbykom om die Egiptenaars te tref, sal Hy die bloed aan die bokant en die sykante van die deurkosyn sien en dié deur oorslaan. Hy sal nie die dood in julle huise laat kom om julle te tref nie.

24“Julle en julle kinders moet altyd hierdie voorskrif eerbiedig. 25Wanneer julle in die land kom wat die Here vir julle gaan gee soos Hy beloof het, moet julle hierdie verpligting nakom. 26As julle kinders sou vra: ‘Wat beteken hierdie verpligting?’ 27moet julle sê: Dit is 'n paasoffer aan die Here omdat Hy in Egipte die Israeliete se huise oorgeslaan het. Terwyl Hy die Egiptenaars getref het, het Hy ons huise gespaar.”

Toe het die volk in aanbidding gebuig.

28Soos die Here vir Moses en Aäron beveel het, presies so het die Israeliete gedoen.

Tiende plaag: dood van die eersgeborenes

29Om middernag het die Here elke eersgeborene van Egipte laat sterf, van die kroonprins af, die eersgeborene van die farao, tot by die eersgeborene van die krygsgevangene in die tronk, selfs die eerstelinge van die diere. 30Toe die farao, al sy amptenare en al die Egiptenaars dié nag wakker word, het hulle almal bitterlik aan die huil gegaan, want daar was nie 'n enkele Egiptiese huis sonder 'n sterfgeval nie.

Die farao laat die Israeliete trek

31Dieselfde nag nog het die farao vir Moses en Aäron laat roep en gesê: “Gee pad onder my mense uit, julle twee en al die ander Israeliete! Gaan dien die Here soos julle gevra het! 32Vat julle kleinvee en julle grootvee soos julle gevra het, en trek! En bid dan dat dit met my ook goed mag gaan.”

33Die Egiptenaars het sterk by die volk daarop aangedring om gou uit die land pad te gee, “want,” het hulle gesê, “anders is ons almal dood!”

34Die volk het toe hulle brooddeeg, sonder suurdeeg, in skottels gesit, dit in hulle klere toegedraai en dit so op hulle skouers gedra. 35Verder het die Israeliete die opdrag van Moses uitgevoer, naamlik om van die Egiptenaars silwer- en goue goed sowel as klere te eis. 36Die Here het gesorg dat die Egiptenaars aan sy volk goed doen, sodat hulle uit Egipte as buit kon wegdra wát hulle ook al geëis het.

37Die Israeliete het van Rameses af na Sukkot toe getrek. Behalwe die afhanklikes was daar sowat ses honderd duisend weerbare manne te voet. 38Daar het ook 'n menigte mense van ander afkoms saamgegaan en ook groot troppe kleinvee en baie beeste.

39Met die deeg wat hulle uit Egipte saamgebring het, het hulle ongesuurde roosterkoeke gebak: dit was sonder suurdeeg omdat hulle uit Egipte gejaag is en nie kans gehad het om eers vir hulle padkos klaar te maak nie.

40Die Israeliete was vier honderd en dertig jaar in Egipte.

Voorskrifte in verband met die paasfees

41Na vier honderd en dertig jaar, presies op die dag waarop die fees nou gevier word, het die hele volk van die Here uit Egipte weggetrek. 42Dit was die nag waarin die Here oor hulle gewaak het en hulle uit Egipte bevry het. Daarom behoort dié nag aan die Here en moet alle Israeliete en hulle nageslagte dié nag wakker bly.

43Die Here het vir Moses en Aäron gesê: “Dit is die voorskrifte in verband met die paasfees: geen nie-Israeliet mag daarvan eet nie; 44'n slaaf wat deur iemand gekoop is, mag eers daarvan eet nadat hy besny is; 45geen bywoner of huurling mag daarvan eet nie. 46Dit moet geëet word in die huis waarvoor dit bedoel is. Van die vleis mag niks buitentoe geneem word nie. Geen been van die paaslam mag gebreek word nie. 47Die hele gemeente van Israel is verplig om die fees te vier. 48Die vreemdeling wat jou beskerming geniet en die paasfees van die Here wil vier, moet besny word, hy en al die mans en seuns by hom. Dan eers is hy soos 'n gebore Israeliet en kan hy daaraan deelneem. Iemand wat nie besny is nie, mag nie daarvan eet nie. 49Een en dieselfde bepaling moet geld vir die gebore Israeliet en vir die vreemdeling wat julle beskerming geniet.”

50Al die Israeliete het gedoen presies wat die Here vir Moses en Aäron beveel het.

51Presies op die dag waarop die fees nou gevier word, het die Here die stamme van Israel uit Egipte bevry.

Elke eersgeborene moet aan die Here gewy word

1Die Here het vir Moses gesê: 2“Julle moet elke eersgeborene aan My wy, elke eersteling wat in Israel gebore word, mens en dier. Dit is Myne.”

3Moses het vir die volk gesê: “Onthou die dag waarop julle uit Egipte, uit die plek van slawerny, weggetrek het, want dit is deur sy groot mag dat die Here julle daaruit bevry het. Julle mag op dié dag niks met suurdeeg in eet nie.

4“Julle vertrek vandag, op hierdie besondere dag in die maand Abib. 5Die Here het met 'n eed aan julle voorvaders belowe om vir julle die land van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Hewiete en Jebusiete te gee. Wanneer Hy julle bring in die land wat oorloop van melk en heuning, moet julle die volgende verpligting in hierdie maand nakom: 6sewe dae lank moet julle ongesuurde brood eet, en die sewende dag is 'n feesdag tot eer van die Here. 7Dit moet beslis ongesuurde brood wees wat julle die sewe dae lank eet. Dan mag daar geen gis of enige suurdeeg by julle in julle hele gebied wees nie. 8Op die feesdag moet elkeen vir sy kinders vertel: ‘Dit is oor wat die Here vir my gedoen het toe ek uit Egipte getrek het.’ 9Die fees moet vir julle wees soos 'n teken op die hand of 'n merk op die voorkop sodat julle altyd sal getuig dat die Here Hom aan julle geopenbaar het, want dit is met sy groot mag dat Hy julle uit Egipte bevry het. 10Julle moet hierdie voorskrif van jaar tot jaar op die bepaalde tyd nakom.

11“Wanneer die Here julle nou bring in die land van die Kanaäniete en dit aan julle gee, soos Hy met 'n eed aan julle en julle voorvaders belowe het, 12moet julle elke manlike eersteling wat gebore word, aan die Here wy, en ook elke manlike eersteling van julle vee vir die Here afstaan. 13Elke eerste hingsvulletjie van 'n donkie moet julle egter met 'n skaap loskoop. As julle hom nie kan loskoop nie, moet julle sy nek breek. Julle moet ook al julle eersgebore seuns loskoop. 14As julle kinders later sou vra: ‘Wat beteken dit?’ moet julle vir hulle sê: ‘Met groot mag het die Here ons uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry, 15want toe die farao te hardkoppig was om ons te laat trek, het die Here al die eerstelinge van die Egiptenaars laat sterwe, mens en dier. Om hierdie rede offer ons die manlike eersteling van elke dier aan die Here, maar koop ons elke eersgebore seun los.’ 16Soos 'n teken op die hand en 'n merk op die voorkop moet dit julle daaraan herinner dat die Here ons met groot mag uit Egipte bevry het.”

Die Here laat die volk met 'n ompad trek

17Toe die farao die volk laat trek het, het God hulle nie die pad na die land van die Filistyne toe laat vat nie, hoewel dit die kortste was, want Hy het gesê: “As die volk in 'n geveg betrokke raak, kan hulle dalk spyt kry en na Egipte toe teruggaan.”

18Daarom het God die volk met 'n ompad laat gaan, met die woestynpad in die rigting van die Rietsee.

Die Israeliete het goed georganiseerd uit Egipte getrek.

19Moses het die liggaam van Josef saamgevat, want Josef het die seuns van Israel dit destyds uitdruklik met 'n eed laat beloof. Hy het gesê: “God sal beslis later na julle omsien, en dan moet julle my liggaam van hier af saamvat.”

20Hulle het Sukkot verlaat en by Etam aan die rand van die woestyn kamp opgeslaan. 21Die Here het bedags met 'n wolkkolom voor hulle uit gegaan om vir hulle die pad te wys en snags met 'n vuurkolom om vir hulle lig te verskaf, sodat hulle dag en nag kon trek. 22Die wolkkolom bedags en die vuurkolom snags het altyd voor die volk gebly.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS