Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 16

Eksodus 1–6

Bybelteks(te)

Die vermeerdering van Israel in Egipte

1Hier volg die name van die Israeliete wat saam met Jakob na Egipte toe gekom het, elkeen met sy gesin: 2Ruben, Simeon, Levi en Juda; 3Issaskar, Sebulon en Benjamin; 4Dan, Naftali, Gad en Aser. 5Jakob het sewentig afstammelinge gehad. Josef was toe al in Egipte.

6Met verloop van tyd het hy en al sy broers, daardie hele geslag, gesterwe. 7Die Israeliete was vrugbaar en het vermeerder. Hulle het baie geword, so baie dat die land vol was van hulle.

Die farao probeer die getal van die Israeliete beperk

8Toe 'n nuwe koning wat nie van Josef geweet het nie, oor Egipte begin heers, 9het hy vir sy volk gesê: “Besef julle dat die Israeliete nou meer en sterker is as ons? 10Kom ons bedink 'n plan teen hulle sodat hulle nie kan vermeerder nie. Anders kan dit gebeur dat as daar oorlog uitbreek, hulle dalk by ons vyand aansluit om teen ons te veg en ons land te oorweldig.”

11Daar is toe slawedrywers oor hulle aangestel om hulle met dwangarbeid te onderdruk. Hulle moes die voorraadstede Pitom en Rameses vir die farao bou. 12Maar hoe meer die Israeliete onderdruk is, hoe meer het hulle geword en hoe meer het hulle oor die land versprei, in so 'n mate dat die Egiptenaars baie bang geword het vir hulle. 13Die Egiptenaars het slawe gemaak van die Israeliete 14en die lewe vir hulle bitter gemaak deur swaar werk met klei en bakstene en deur allerhande werk in die lande. Hulle moes onder dwang al die slawewerk vir Egipte doen.

15Die Egiptiese koning het vir die Hebreeuse vroedvroue Sifra en Pua gesê: 16“As julle 'n Hebreeuse vrou by geboorte bystaan en julle sien by die kraambed dat dit 'n seun is, moet julle hom doodmaak, maar as dit 'n dogter is, mag sy bly lewe.”

17Maar die vroedvroue het God gedien en nie gemaak soos die Egiptiese koning hulle beveel het nie: hulle het die seuntjies laat lewe.

18Die Egiptiese koning het die vroedvroue ontbied en vir hulle gevra: “Waarom doen julle dit? Waarom laat julle die seuntjies lewe?”

19Toe antwoord die vroedvroue die farao: “Die Hebreeuse vrouens is nie soos dié van Egipte nie, hulle is sterk van gestel: voordat die vroedvrou by hulle kom, is die kind al gebore.”

20As gevolg hiervan het die volk aanhou vermeerder en baie talryk geword.

God het toe die vroedvroue self ook voorspoedig gemaak. 21Omdat hulle Hom gedien het, het Hy vir hulle huisgesinne gegee.

22Daarna het die farao sy hele volk beveel: “Julle moet elke pasgebore seuntjie in die Nyl gooi, maar spaar die dogtertjies se lewe.”

Moses se geboorte en opvoeding

1'n Man uit die stam Levi was met 'n Levitiese meisie getroud. 2Die vrou het swanger geword en 'n seuntjie in die wêreld gebring. Toe sy sien hoe mooi is hy, het sy hom drie maande lank weggesteek. 3Langer kon sy hom nie wegsteek nie. Daarom het sy vir hom 'n biesiemandjie gekry en dit met klei en pik dig gemaak. Sy het die seuntjie daarin neergelê en dit tussen die riete aan die kant van die Nyl gesit. 4Sy suster het op 'n afstand gaan staan om te sien wat met hom gebeur.

5'n Dogter van die farao het afgegaan Nyl toe om te swem, en die jongmeisies wat haar vergesel, het aan die kant van die rivier geloop. Toe sy die mandjie tussen die riete sien, stuur sy haar diensmeisie om dit te gaan haal. 6Met die oopmaak sien sy dit is 'n seuntjie en hy huil. Toe kry sy hom jammer en dink: dit is seker een van die Hebreeuse seuntjies.

7Sy suster kom sê toe vir die farao se dogter: “Mag ek vir u 'n vrou gaan roep, 'n Hebreeuse vrou met 'n pasgebore baba, dat sy die seuntjie vir u kan laat drink?”

8Die dogter van die farao het haar geantwoord: “Ja, goed!”

Die meisie het toe die seuntjie se ma gaan roep.

9Toe beveel die farao se dogter die ma: “Neem hierdie seuntjie en laat hom vir my drink. Ek sal jou daarvoor betaal.”

Die vrou het die seuntjie geneem en vir hom gesorg. 10Toe hy oud genoeg was, het sy hom na die dogter van die farao toe gebring, wat hom as haar eie seun aangeneem het. Sy het hom Moses genoem, “want,” het sy gesê, “ek het hom mos uit die water gehaal.”

Moses slaan 'n Egiptenaar dood

11Toe Moses al 'n volwasse man was, het hy op 'n keer na sy eie mense toe gegaan en gesien dat hulle dwangarbeid verrig. Hy sien toe hoe een van sy eie mense, 'n Hebreër, deur 'n Egiptenaar geslaan word. 12Nadat Moses rondgekyk het en niemand gewaar het nie, het hy die Egiptenaar doodgeslaan en hom onder sand toegekrap.

13Die volgende dag gaan hy weer, en tot sy verbasing was daar twee Hebreeuse manne aan die baklei. “Waarom slaan jy aan jou broer?” vra hy vir die een wat die rusie begin het.

14“Wie het jou aangestel as baas en regter oor ons?” vra die ander. “Wil jy my miskien ook doodslaan, soos jy die Egiptenaar doodgeslaan het?”

Toe skrik Moses en hy dink: die ding het bekend geword.

15Toe dit by die farao uitkom, wou hy vir Moses laat doodmaak, maar Moses het van hom af weggevlug en in Midian gaan woon.

Terwyl hy daar by 'n put sit, 16het die sewe dogters van 'n priester van Midian kom water skep om die drinkbakke vol te maak en hulle pa se kleinvee te laat suip. 17Toe daar veewagters aankom en die dogters wegjaag, het Moses opgestaan en hulle gehelp en hulle kleinvee laat suip.

18Met hulle aankoms by hulle pa Reüel het hy gevra: “Hoe het julle dan vandag so gou gekom?” 19en hulle antwoord: “Daar was 'n Egiptenaar, en hy het ons gehelp teen die veewagters. Boonop het hy vir ons water geskep en die kleinvee laat suip.”

20Toe vra die priester vir sy dogters: “Waar is hy? Waarom het julle die man daar laat staan? Gaan nooi hom huis toe om by ons te kom eet.”

21Moses het ingewillig om by Reüel te kom woon, en is later met sy dogter Sippora getroud. 22Toe sy 'n seuntjie kry, het Moses hom Gersom genoem, “want,” het hy gesê, “ek woon as vreemdeling in 'n vreemde land.”

God hoor die Israeliete se geroep om hulp

23Die jare het verbygegaan, en die koning van Egipte het te sterwe gekom, maar die Israeliete het nog steeds gesug en gekreun onder die swaar werk. Hulle geroep om hulp het tot God opgegaan. 24God het hulle gekerm gehoor en aan sy verbond met Abraham, Isak en Jakob gedink. 25Hy het die nood van die Israeliete gesien en dit ter harte geneem.

God openbaar Hom aan Moses

1Moses het die kleinvee van sy skoonpa Jetro, 'n priester van Midian, opgepas. Hy het die kleinvee diep die woestyn in gejaag totdat hy by Horeb, die berg van God, gekom het.

2Toe verskyn die Engel van die Here aan hom in 'n vlam binne-in 'n doringbos. Terwyl hy kyk, sien hy dat die doringbos aanhou brand, maar nie uitbrand nie. 3En Moses sê vir homself: “Ek wil tog 'n bietjie nader gaan om hierdie wonderlike verskynsel te bekyk. Waarom brand die doringbos dan nie uit nie?”

4Toe die Here sien dat hy nader kom om te kyk, roep God na hom uit die doringbos: “Moses! Moses!”

En hy antwoord: “Hier is ek.”

5Die Here sê toe vir hom: “Moenie nóg nader kom nie. Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond.” 6Verder sê Hy: “Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob.”

Toe maak Moses sy gesig toe, want hy was bang om na God te kyk.

7Daarna sê die Here: “Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor die slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem. 8Daarom het Ek afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry en om hulle daarvandaan te laat trek na 'n goeie en uitgestrekte land, 'n land wat oorloop van melk en heuning. Dit is die land van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete. 9Die noodkrete van die Israeliete het My bereik, en Ek het ook aanskou hoe Egipte hulle verdruk. 10Daarom stuur Ek jou na die farao toe sodat jy my volk, die Israeliete, uit Egipte kan bevry.”

11Toe sê Moses vir God: “Wie is ék dat ek dit by die farao sou waag en dat ék die Israeliete uit Egipte sou bevry?”

12God het Moses geantwoord: “Ek sal by jou wees en die bewys dat Ek jou gestuur het, sal dít wees: wanneer jy die volk uit Egipte bevry het, sal julle My by hierdie berg aanbid.”

13Daarna sê Moses vir God: “Sê nou maar ek kom by die Israeliete en ek sê vir hulle: ‘Die God van julle voorvaders het my na julle toe gestuur,’ en hulle vra vir my: ‘Wat is sy Naam?’ wat moet ek dan vir hulle sê?”

14Toe sê God vir Moses: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.”

15Verder sê God vir Moses: “Jy moet ook nog vir die Israeliete sê: ‘Die Here die God van julle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, het my na julle toe gestuur.’ Dit is ewig my Naam, dit is die Naam waarmee Ek aangeroep moet word van geslag tot geslag.

16“Gaan roep nou die leiers van Israel bymekaar en sê vir hulle: ‘Die Here die God van julle voorvaders, die God van Abraham, Isak en Jakob, het aan my verskyn en gesê: Ek weet van julle en Ek weet ook wat julle aangedoen word in Egipte. 17Ek het besluit om julle te laat wegtrek uit die ellende van Egipte na die land van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, na 'n land wat oorloop van melk en heuning.’

18“Die leiers van Israel sal na jou luister, en dan moet jy en hulle na die Egiptiese koning toe gaan en vir hom sê: ‘Die Here die God van die Hebreërs het Hom aan ons geopenbaar. Laat ons asseblief drie dagreise ver die woestyn in trek om vir ons God, die Here, 'n offer te bring.’

19“Ek weet dat die Egiptiese koning julle nie sal laat gaan nie, selfs nie onder dwang nie. 20Dan sal Ek my hand uitsteek en Egipte teister met die wonderdade wat Ek in hom sal doen. Eers daarna sal die farao julle laat gaan. 21Ek sal ook sorg dat die Egiptenaars goed doen aan hierdie volk van My, sodat, as julle uiteindelik wegtrek, julle nie met leë hande sal gaan nie. 22Elke vrou moet van haar buurvrou of in die huis waar sy werk, silwer- en goue goed sowel as klere eis. Laat julle seuns en dogters dit dan as buit uit Egipte uit wegdra.”

1Maar toe sê Moses: “Sê nou die Israeliete glo my nie en hulle luister nie na my nie en hulle sê die Here het nie aan my verskyn nie?”

2Toe vra die Here vir hom: “Wat het jy in jou hand?”

“'n Kierie,” antwoord Moses.

3“Gooi die kierie op die grond!” sê die Here vir hom.

Toe hy dit op die grond gooi, word dit 'n slang, en Moses het daarvoor padgegee.

4Die Here sê toe vir Moses: “Steek jou hand uit en gryp hom aan sy stert.”

Moses steek sy hand uit en gryp hom, en skielik word dit weer 'n kierie in sy hand.

5Toe sê die Here: “Op grond hiervan sal hulle glo dat die Here die God van hulle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, aan jou verskyn het.

6“Steek nou jou hand in die vou van jou klere!”

Hy steek toe sy hand in en toe hy dit uittrek, was dit melaats, so wit soos sneeu.

7Hierna sê die Here: “Steek nou weer jou hand in jou klere.”

Hy steek toe weer sy hand in en toe hy dit uittrek, was dit gesond.

8Toe sê die Here: “As hulle jou na die eerste wonderwerk nie geglo het nie en hulle nie daaraan gesteur het nie, behoort hulle jou na hierdie een wel te glo.

9“As hulle jou ná hierdie twee wonderwerke nog nie glo nie en nie na jou luister nie, moet jy van die Nyl se water vat en op die grond uitgooi. Die water wat jy uit die Nyl gevat het, sal dan op die grond bloed word.”

10Toe sê Moses vir die Here: “Ag, Here, ek kan nie goed praat nie; ek kon nie vroeër nie en ek kan ook nie nou, hier waar U met my praat nie. Ek praat swaar, en my tong sukkel.”

11Daarna sê die Here vir hom: “Wie het aan die mens 'n mond gegee? Wie maak stom of doof of siende of blind? Is dit nie Ek, die Here, nie? 12Gaan nou, Ek sal jou help met die praat en jou leer wat jy moet sê.”

13Maar Moses antwoord: “Asseblief tog, Here, stuur liewer iemand anders.”

14Toe word die Here kwaad vir Moses en sê: “Aäron die Leviet is mos jou broer, en Ek weet hy kan sy woord goed doen. Hy is al op pad om jou te ontmoet en hy sal bly wees om jou weer te sien. 15Praat met hom en sê vir hom wat om te sê. Ek sal by jou wees as jy praat en by hom as hy praat en Ek sal julle leer wat om te doen. 16Wanneer hy namens jou met die volk praat, is hy jou segsman en jy die een wat hom sy opdragte gee. 17Hou nou die kierie waarmee jy die tekens moet gaan doen, by jou.”

Moses gaan terug na Egipte toe

18Daarna het Moses na sy skoonpa Jetro toe teruggegaan en vir hom gesê: “Ek wil graag teruggaan na my mense toe in Egipte om te sien hoe dit met hulle gaan.”

Jetro antwoord hom: “Gaan gerus.”

19In Midian het die Here aan Moses gesê: “Gaan nou terug na Egipte toe, want al die mense wat jou wou doodmaak, is al dood.”

20Toe is Moses met sy vrou en kinders na Egipte toe. Hy het sy vrou en kinders op 'n donkie laat ry en die kierie wat God hom gegee het, saamgevat.

21Die Here het vir Moses gesê: “Wanneer jy teruggaan Egipte toe, moet jy sorg dat jy al die wonderwerke waartoe Ek jou in staat gestel het, voor die farao doen. Maar Ek sal hom hardkoppig maak, en hy sal die volk nie laat gaan nie. 22Dan moet jy vir die farao sê: So sê die Here: Israel is my oudste seun. 23Ek het vir jou gesê: Laat my seun gaan sodat hy My kan aanbid. Maar jy het geweier om hom te laat gaan, en nou gaan Ek jou oudste seun doodmaak.”

24Waar Moses-hulle langs die pad oornag het, het die Here by hom gekom en wou Hy vir Moses doodmaak. 25Sippora vat toe 'n klipmes, sny haar seun se voorhuid af, raak daarmee aan Moses se voete en sê: “Jy is nou my bruidegom wat deur bloed beskerm word.”

26Die Here het Moses met rus gelaat net toe sy sê: “bruidegom wat deur bloed beskerm word.” Dit het betrekking op die besnydenis.

27Intussen het die Here vir Aäron opdrag gegee om Moses in die woestyn tegemoet te gaan. Hy het gegaan en hom by die berg van God aangetref en met 'n soen gegroet. 28Moses vertel toe vir Aäron van alles waarvoor die Here hom gestuur het, ook van al die tekens wat Hy hom beveel het om te doen. 29Moses en Aäron het gegaan en al die leiers van die Israeliete bymekaargeroep. 30Aäron het hulle alles vertel wat die Here vir Moses gesê het, en daarna het Moses die tekens voor die volk gedoen. 31Hulle het hom geglo. Toe hulle hoor dat die Here die nood van die Israeliete gesien het en Hom hulle lot aangetrek het, het hulle in aanbidding gebuig.

Moses en Aäron gaan na die farao toe

1Daarna het Moses en Aäron na die farao toe gegaan en gesê: “So sê die Here die God van Israel: Laat my volk gaan om tot my eer 'n fees in die woestyn te vier.”

2Maar die farao het geantwoord: “En wie is die Here nogal dat ek na Hom sal luister om Israel te laat gaan? Ek ken die Here nie, en ek sal Israel nie laat gaan nie!”

3Hulle sê toe: “Die God van die Hebreërs het Hom aan ons geopenbaar. Laat ons asseblief drie dagreise die woestyn in trek om 'n offer vir ons God, die Here, te bring, anders tref Hy ons dalk met die pes of die swaard.”

4Maar die koning van Egipte het vir hulle gesê: “Moses en Aäron, waarom hou julle die volk van hulle werk af weg? Gaan terug na julle werk toe! 5Julle mense is alreeds te veel en nou wil julle hulle ook nog laat ophou werk!”

6Dieselfde dag nog het die farao die slawedrywers van die volk en hulle opsigters beveel: 7“Julle mag nie meer soos vroeër vir die volk strooi gee om bakstene mee te maak nie. Laat hulle self gaan strooi bymekaarmaak, 8en julle moet van hulle dieselfde hoeveelheid stene as tevore bly eis. Julle mag niks verminder nie! Hulle is net lui, daarom hou hulle aan met neul: ‘Ons wil vir ons God gaan offer.’ 9Die werk moet vir die manne so swaar wees en hulle so besig hou dat hulle nie hulle ore uitleen vir allerhande leuens nie.”

10Toe het die slawedrywers en die opsigters van die volk vir hulle gaan sê: “So sê die farao: Julle kry nie meer strooi nie. 11Loop haal dit self waar julle dit ook al kan kry, maar aan die hoeveelheid werk word niks verminder nie.”

12Die volk het toe dwarsoor Egipte stoppels bymekaargemaak, 13en die slawedrywers het hulle aangejaag en gesê: “Julle moet nog elke dag net soveel lewer soos toe daar nog strooi verskaf is.”

14Boonop het die farao se slawedrywers die Israelitiese opsigters geslaan en vir hulle gesê: “Waarom het julle nie vandag net soos vroeër dieselfde hoeveelheid stene gemaak nie?”

15Die Israelitiese opsigters kom kla toe by die farao: “Waarom maak u so met u werksmense? 16Daar word nie meer strooi aan ons verskaf nie, en tog bly die drywers vir ons sê: ‘Maak bakstene!’ Ons word mishandel, maar eintlik lê die fout by ú mense.”

17Toe sê die farao: “Julle is lui! Lui! Dit is dié dat julle bly sê: ‘Ons wil vir die Here gaan offer.’ 18Loop! Gaan werk! Hulle sal nie meer vir julle strooi gee nie, maar julle kwota bakstene sal julle lewer.”

19Toe die farao vir die Israelitiese opsigters sê dat die daaglikse kwota bakstene nie verminder gaan word nie, het hulle besef watter ramp hulle getref het. 20Moses en Aäron het hulle buite ingewag, en toe die opsigters van die farao af by hulle kom, 21sê hulle vir Moses en Aäron: “Mag die Here julle straf omdat julle ons naam sleg gemaak het by die farao en sy amptenare en vir hulle 'n swaard in die hand gegee het om ons mee dood te maak.”

Moses word weer deur die Here na die farao toe gestuur

22Daarna het Moses weer na die Here gegaan en gesê: “Here, waarom werk U so sleg met hierdie volk? Waarom het U my nou eintlik gestuur? 23Van die eerste oomblik af dat ek by die farao gekom het om in u Naam te praat, het hy hierdie volk mishandel. Tog het U niks gedoen om u volk te red nie!”

24Toe sê die Here vir Moses: “Nou sal jy sien wat Ek met die farao gaan doen: Ek gaan hom dwing om my volk te laat gaan; ja, Ek gaan hom dwing om hulle uit sy land uit weg te jaag.”

1God het vir Moses gesê: “Ek is die Here! 2Ek het aan Abraham, Isak en Jakob verskyn as God die Almagtige, maar my Naam, die Here, het Ek nie aan hulle bekend gemaak nie. 3Tog het Ek my verbond met hulle gemaak, naamlik om die land Kanaän aan hulle te gee, 'n land waarvan hulle nie burgers was nie. 4Ek het die gekerm van die Israeliete, wat deur Egipte verkneg word, duidelik gehoor en Ek het aan my verbond gedink. 5Daarom moet jy vir die Israeliete sê: Ek is die Here. Ek sal julle van die dwangarbeid van Egipte bevry. Ek sal julle van die verknegting verlos, Ek sal julle vrymaak met mag en met groot reddingsdade. 6Ek neem julle aan as my volk en Ek sal julle God wees. Dan sal julle besef dat Ek, die Here, julle God is wat julle van die dwangarbeid van Egipte bevry. 7Ek sal julle bring na die land toe wat Ek met 'n eed aan Abraham, Isak en Jakob belowe het. Ek sal dit julle eiendom maak. Ek is die Here.”

8Dit het Moses toe aan die Israeliete vertel, maar in hulle moedeloosheid oor die harde werk het hulle nie na hom geluister nie.

9Toe sê die Here vir Moses: 10“Gaan praat met die farao, die koning van Egipte, dat hy die Israeliete laat trek uit sy land uit.”

11Maar Moses sê vir die Here: “Die Israeliete luister nie eens na my nie, hoe sal die farao nog na my luister? Ek praat juis nie maklik nie.”

12Nogtans het die Here vir Moses en Aäron na die Israeliete en na die farao, die koning van Egipte, toe gestuur met die opdrag om die Israeliete uit Egipte te bevry.

Leiers in die familie van Moses en Aäron

13Die volgende mense was leiers in die familie van Moses en Aäron: Ruben was die oudste seun van Israel. Ruben se seuns was Ganok, Pallu, Gesron en Karmi. Hulle was die familiehoofde van die stam Ruben.

14Die seuns van Simeon was Jemuel, Jamin, Ohad, Jakin, Sogar, en Saul, 'n seun van 'n Kanaänitiese vrou. Hulle was die familiehoofde van die stam Simeon.

15Nou volg die name van die seuns van Levi volgens hulle geslagsregisters: Gerson, Kehat en Merari. Levi het honderd sewe en dertig jaar oud geword. 16Die seuns van Gerson was Libni en Simi. Hulle het nageslagte gehad. 17Die seuns van Kehat was Amram, Jishar, Hebron en Ussiël. Kehat het honderd drie en dertig jaar oud geword. 18Die seuns van Merari was Magli en Musi. Dit was dan volgens die geslagsregisters die familiehoofde van die stam Levi.

19Amram het met Jogebed, 'n tante van hom, getrou, en hulle seuns was Aäron en Moses. Amram het honderd sewe en dertig jaar oud geword.

20Die seuns van Jishar was Korag, Nefeg en Sikri. 21Die seuns van Ussiël was Misael, Elisafan en Sitri.

22Aäron het met Eliseba 'n dogter van Amminadab, suster van Nagson, getrou, en hulle seuns was Nadab, Abihu, Eleasar en Itamar.

23Die seuns van Korag was Assir, Elkana en Abiasaf. Hulle was die familiehoofde van die Koragiete.

24Aäron se seun Eleasar het met een van die dogters van Putiël getrou, en hulle seun was Pinehas.

Dit was dan die familiehoofde van die stam Levi en hulle nageslagte.

25Dit is dié Aäron en Moses vir wie die Here gesê het: “Julle moet die stamme van Israel uit Egipte bevry.” 26En dit is hulle wat met die farao, die koning van Egipte, onderhandel het oor die bevryding van die Israeliete uit Egipte.

Die opdrag aan Moses

27Toe die Here in Egipte met Moses gepraat het, 28het Hy vir hom gesê: “Ek is die Here. Gaan sê vir die farao, die koning van Egipte, alles wat Ek vir jou gesê het.”

29Toe sê Moses vir die Here: “Ek praat swaar, die farao sal nie na my luister nie.”

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS