Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 18

Eksodus 14–18, Psalm 90

Bybelteks(te)

Die farao agtervolg die Israeliete

1Die Here het vir Moses gesê: 2“Beveel die Israeliete om weg te draai en kamp op te slaan naby Pi-Hagirot tussen Migdol en die see. Regoor Baäl-Sefon by die see moet julle kamp opslaan. 3Dan sal die farao dink die Israeliete het verdwaal en is deur die woestyn vasgekeer. 4Ek sal die farao weer koppig maak, sodat hy julle agtervolg, en Ek sal my mag laat geld teen hom en sy leër. Dan sal Egipte besef dat Ek die Here is.”

Die Israeliete het die bevele uitgevoer.

5Toe die koning van Egipte die berig kry dat die volk vir goed weg is, het sy houding en dié van sy amptenare teenoor die Israeliete verander. Die Egiptenaars het gesê: “Wat het ons aangevang dat ons die Israeliete laat trek het? Nou is ons hulle diens kwyt!”

6Die farao het sy strydwa laat inspan en sy leër saam met hom gevat. 7Hy het sy ses honderd beste strydwaens gevat, asook al die ander Egiptiese strydwaens, elkeen met 'n bemanning van drie. 8Die Here het die farao, die koning van Egipte, koppig gemaak sodat hy die Israeliete agtervolg het, maar die Israeliete het onder die beskerming van God verder getrek. 9Die Egiptenaars het hulle agtervolg, en al die strydwaens van die farao met bemanning en leërmag het hulle ingehaal terwyl hulle besig was om by die see kamp op te slaan, naby Pi-Hagirot regoor Baäl-Sefon.

10Toe die farao nader kom, sien die Israeliete skielik die Egiptenaars sit hulle agterna. Hulle het baie bang geword en benoud na die Here geroep.

11Hulle het vir Moses gesê: “Is daar nie begraafplek in Egipte nie dat jy ons saamsleep om in die woestyn te sterwe? Wat het jy ons aangedoen dat jy ons uit Egipte laat trek het? 12Ons het jou mos in Egipte gesê om ons te laat staan dat ons vir die Egiptenaars werk. Dit is vir ons beter om vir hulle te werk as om hier in die woestyn om te kom.”

13Maar Moses het die volk geantwoord: “Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red, want soos julle die Egiptenaars nou daar sien, sal julle hulle nooit weer sien nie. 14Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg.”

Die Here red die Israeliete

15Toe het die Here vir Moses gesê: “Waarom roep julle so benoud na My? Sê vir die Israeliete hulle moet verder trek. 16En jy, lig jou kierie op en steek jou hand oor die see uit en kloof dit oop sodat die Israeliete op droë grond kan deurgaan. 17Ek sal die Egiptenaars so koppig maak dat hulle die Israeliete sal agtervolg. So sal Ek my mag laat geld teenoor die farao en sy hele leër: strydwaens en bemanning. 18Wanneer Ek my mag laat geld teenoor die farao, sy strydwaens en hulle bemanning, sal Egipte besef dat Ek die Here is.”

19Die Engel van God wat altyd voor die Israeliete uit beweeg het terwyl hulle getrek het, het nou agter hulle plek ingeneem. Ook die wolkkolom wat voor hulle was, het agter hulle ingeskuif, 20tussen die Egiptenaars en die Israeliete. Aan die Egiptiese kant was die wolk donker en aan die Israelitiese kant het dit die nag verlig. Die hele nag deur het die twee groepe nie nader aan mekaar gekom nie.

21Moses het sy hand oor die see uitgesteek, en die Here het daardie hele nag die water met 'n sterk oostewind weggedryf, sodat die water oopgekloof en die see daar drooggelê is. 22Die Israeliete het op droë grond deur die see gegaan, en die water het weerskante van hulle soos 'n muur gestaan. 23Die Egiptenaars het hulle agternagesit: die farao se perde, strydwaens en bemanning is almal agter hulle aan die see in. 24In die vroeë môre het die Here uit die vuur- en wolkkolom afgekyk op die Egiptiese leër en verwarring onder hulle gesaai. 25Hy het die wiele van hulle strydwaens laat uitval, sodat hulle skaars kon beweeg.

Toe sê die Egiptenaars: “Ons moet wegkom van die Israeliete af, want die Here veg vir hulle teen Egipte.” 26Maar die Here het vir Moses gesê: “Steek jou hand uit oor die see sodat die water oor die Egiptenaars, oor hulle strydwaens en bemanning kan stroom.”

27Moses steek toe sy hand oor die see uit. Teen dagbreek het die see teruggestroom oor sy bodem en die Egiptenaars het hulle teen die water vasgevlug: die Here het hulle deur die see laat meesleur. 28Toe die water terugstroom, was die strydwaens en bemanning, die hele leërmag van die farao wat agter die Israeliete aan die see in is, tóé onder die water. Daar het nie een van hulle oorgebly nie.

29Maar die Israeliete het op droë grond deur die see gegaan en die water het weerskante van hulle soos 'n muur gestaan. 30Die Here het Israel daardie dag gered van Egipte, en die Israeliete het die Egiptenaars dood op die strand sien lê. 31Toe Israel sien hoe kragtig die Here teen Egipte opgetree het, is hulle met ontsag vir Hom vervul. Hulle het in die Here geglo en ook in Moses, sy dienaar.

Die Here is oorwinnaar in die stryd

1Toe het Moses en die Israeliete die volgende lied tot eer van die Here gesing:

“Ek wil tot eer van die Here sing

omdat Hy hoog verhewe is.

Perd en strydwa

het Hy in die see geslinger.

2Die Here is my krag

en my beskerming.

Hy het tot my redding gekom.

Hy is my God, Hom roem ek,

die God van my voorvaders,

Hom prys ek.

3Die Here is oorwinnaar in die stryd,

sy Naam is ‘die Here’!

4Die strydwaens van die farao en ook sy leër

het Hy in die see geslinger.

Die keur van Egipte se offisiere

is in die Rietsee gedompel.

5Watermassas het hulle oordek,

soos 'n klip het hulle in die dieptes afgesak.

6U regterhand, Here, gedug in sy krag,

u regterhand, Here, verpletter die vyand.

7U is hoog verhewe,

U vernietig wie teen U opstaan,

U laat u toorn woed, dit verteer hulle soos kaf.

8U wind het gewaai:

die water dam op,

strome staan regop soos 'n muur,

watermassas stol in die hart van die see.

9Die vyand sê: ‘Ek sal hulle agtervolg en inhaal, ek sal die buit verdeel, ek sal my sin kry, ek sal my swaard trek, my hand sal hulle verslaan.’

10“U laat u wind waai:

die see oordek hulle,

hulle sink soos lood in die magtige waters.

11Wie van die gode is soos U, Here?

Wie is soos U, so hoog geëer en heilig?

In lofsange word U vereer, Bewerker van wonderdade!

12U het u regterhand uitgesteek;

die aarde het die vyand ingesluk.

13Deur u trou het U die volk gelei

wat deur U verlos is,

hulle deur u krag gebring na u gewyde land toe.

14Die volke het dit gehoor en hulle het gesidder,

angs het die bewoners van Filistea beetgepak,

15die stamhoofde van Edom was verskrik,

die magtiges van Moab vreesbevange,

al die bewoners van Kanaän was lam geskrik.

16Vrees en angs het hulle oorval,

u magtige dade het hulle laat versteen

toe u volk deurtrek, Here,

toe die volk wat U u eie gemaak het, deurtrek.

17U het hulle ingebring, U het hulle geplant

op die berg wat aan U behoort.

Here, U het 'n plek vir u troon voorberei,

u hande, Here, het 'n gewyde plek gereed gemaak.

18Die Here regeer tot in ewigheid!”

19Waarlik, toe die perde van die farao met strydwaens en bemanning die see ingegaan het, het die Here die water van die see oor hulle laat terugvloei, maar die Israeliete het op droë grond daardeur gegaan.

Die lied van Mirjam

20Mirjam die profetes, suster van Aäron, het 'n tamboeryn gevat en al die vroue het met tamboeryne agternageloop en gedans. 21Mirjam het vir hulle voorgesing:

“Sing tot eer van die Here

omdat Hy hoog verhewe is.

Perd en ruiter

het Hy in die see geslinger.”

Bitter water word soet

22Moses het die Israeliete laat wegtrek van die Rietsee af en hulle het na die Surwoestyn toe gegaan. Hulle het drie dae lank die woestyn in getrek en geen water gekry nie. 23Toe hulle by Mara aankom, kon hulle nie die water drink nie, omdat dit bitter was. Daarom het hulle die plek Mara genoem.

24Die volk het by Moses gekla: “Wat moet ons drink?”

25Moses het die Here aangeroep, en die Here het hom 'n stuk hout gewys. Hy het dit toe in die water gegooi, en die water het soet geword.

Daar het die Here die volk op die proef gestel en daar het Hy vir hulle 'n vaste reël neergelê. 26Hy het gesê: “Julle moet goed luister na wat Ek, die Here julle God, sê! Julle moet doen wat reg is in my oë, gehoor gee aan my gebooie en alles doen wat Ek vir julle voorskryf. Dan sal Ek geeneen van die siektes waarmee Ek Egipte getref het, oor julle bring nie, want dit is Ek, die Here, wat julle gesond hou.”

27Daarna het hulle by Elim aangekom met sy twaalf fonteine en sewentig palmbome en daar by die water kamp opgeslaan.

Kos uit die hemel

1Nadat hulle Elim verlaat het, het die hele volk Israel in die Sinwoestyn aangekom wat tussen Elim en Sinai lê. Dit was op die vyftiende van die tweede maand nadat hulle uit Egipte getrek het. 2In die woestyn het die hele volk hulle teenoor Moses en Aäron begin verset 3en gesê: “As ons maar liewer in Egipte omgekom het deur die hand van die Here terwyl ons by die vleispotte kon sit en oorgenoeg kos kon hê om te eet! Nou het julle ons laat wegtrek tot in hierdie woestyn om die hele volk van honger te laat omkom.”

4Toe het die Here vir Moses gesê: “Let nou mooi op. Ek sal elke keer vir julle kos uit die hemel laat reën. Dan moet die volk elke dag gaan en dié dag se voorraad optel. So sal Ek toets of hulle my opdrag wil nakom of nie. 5As hulle op die sesde dag voorberei wat hulle ingebring het, moet dit dubbel soveel wees as wat hulle elke dag optel.”

6Toe sê Moses en Aäron vir al die Israeliete: “Vanaand sal julle besef dat dit die Here is wat julle uit Egipte bevry het, 7en môreoggend sal julle sien hoe magtig die Here is. Hy het gehoor dat julle julle teen Hóm verset. Dat julle julle teen óns verset, is niks nie.”

8Verder het Moses gesê: “As die Here vanaand vir julle vleis gee en môreoggend oorgenoeg kos om te eet, sal julle besef Hy het julle verset teen Hom opgemerk. Dit was nie teen ons nie, maar teen die Here dat julle julle verset het.”

9Moses het toe vir Aäron gesê: “Beveel die hele gemeente van Israel om voor die Here te kom staan, want Hy het hulle verset opgemerk.”

10Nadat Aäron dit vir hulle gesê het, kyk die Israeliete na die woestyn se kant toe om, en toe word die magtige teenwoordigheid van die Here sigbaar in die wolk.

11Die Here sê toe vir Moses: 12“Ek het die verset van die Israeliete opgemerk. Sê vir hulle: Teen skemeraand sal julle vleis eet en teen môreoggend sal julle oorgenoeg kos hê sodat julle kan besef dat Ek die Here julle God is.”

13Teen die aand se kant het daar kwartels aangevlieg gekom en hulle het die hele kamp vol gesit.

Die volgende oggend was daar 'n wolk rondom die kamp, 14en toe die wolk wegtrek, was die woestyn oortrek met fyn vlokkies soos ryp. 15Toe die Israeliete dit sien, sê hulle vir mekaar: “Wat is dit dié?” want hulle het nie geweet wat dit is nie. Toe sê Moses vir hulle: “Dit is die brood wat die Here vir julle gee om te eet. 16Die Here het beveel: Gaan maak dit bymekaar volgens elke gesin se behoefte, twee liter per kop. Elkeen moet vat volgens die getal mense in sy tent.”

17Die Israeliete het dit toe gaan optel, die een baie en die ander 'n bietjie, 18en toe hulle dit met 'n maatemmer afmeet, het dié met baie nie te veel nie, en dié met 'n bietjie nie te min gehad nie. Hulle het volgens elkeen se behoefte bymekaargemaak.

19Moses het toe vir hulle gesê: “Niemand mag iets daarvan laat oorskiet tot môreoggend nie.”

20Maar hulle het nie vir Moses geluister nie. Party het daarvan tot die volgende oggend laat oorstaan, maar daar het miet in gekom en dit het gestink. Moses was woedend oor wat hulle gedoen het. 21Hulle het dit vroeg elke oggend bymekaargemaak, volgens elkeen se behoefte, maar net as die son begin bak, het dit weggesmelt.

Reëlings vir die sabbat

22Op die sesde dag het hulle 'n dubbele porsie opgetel, vier liter vir elkeen. Toe al die leiers van die volk dit vir Moses kom vertel, 23sê hy vir hulle: “Dit is soos die Here gesê het: Môre is 'n rusdag, 'n gewyde sabbat van die Here. Maak alles gaar, bak wat julle wil bak, en kook wat julle wil kook, en wat oorbly nadat julle geëet het, moet julle wegsit en bewaar vir môre.”

24Hulle het dit weggesit tot die volgende oggend soos Moses beveel het, en dit het nie sleg geword of miet gekry nie.

25Toe het Moses gesê: “Eet dit nou vandag, want vandag is dit die sabbat van die Here. In die veld gaan julle niks kry nie. 26Ses dae moet julle dit bymekaarmaak, maar op die sewende dag, die sabbat, sal daar niks wees nie.”

27Tog het daar op die sewende dag van die mense uitgegaan om bymekaar te maak, maar hulle het niks gekry nie.

28Die Here sê toe vir Moses: “Hoe lank gaan julle nog weier om my bevele en opdragte te gehoorsaam? 29Ek het vir julle die sabbat gegee en daarom gee Ek vir julle op die sesde dag genoeg kos vir twee dae. Elkeen moet bly waar hy is en niemand mag op die sewende dag sy woonplek verlaat nie.”

30Die volk het op die sewende dag gerus.

'n Kruik vol manna word bewaar

31Die Israeliete het die kos manna genoem. Dit was wit soos koljandersaad en het soos heuningkoek gesmaak.

32Moses het ook nog gesê: “Die Here het beveel: 'n Volle twee liter manna moet vir die nageslag bewaar word sodat hulle die kos kan sien wat Ek julle in die woestyn gegee het nadat Ek julle uit Egipte bevry het.”

33Moses sê toe vir Aäron: “Vat 'n kruik en gooi twee liter manna daarin. Sit dit dan voor die Here neer sodat dit vir julle nageslag veilig bewaar kan word.”

34Aäron het dit voor die getuienis neergesit om dit in bewaring te hou soos die Here vir Moses beveel het.

35Die Israeliete het veertig jaar lank manna geëet; hulle het dit geëet totdat hulle bewoonde gebied bereik het, tot hulle by die grens van Kanaän gekom het.

36Die tweelitermaat waarmee die manna afgemeet is, was een tiende van die standaardmaat.

Water uit die rots

1Nadat die hele volk Israel uit die Sinwoestyn vertrek het, het hulle op bevel van die Here van plek tot plek gegaan totdat hulle by Refidim kamp opgeslaan het. Maar daar was geen water vir die volk om te drink nie. 2Toe het die volk met Moses rusie gemaak en gesê: “Gee jý vir ons water om te drink!”

En Moses antwoord hulle: “Waarom maak julle rusie met my? Waarom stel julle die geduld van die Here op die proef?”

3Maar die volk was dors en hulle het vir Moses verwyt: “Waarom het jy ons uit Egipte laat optrek om ons en ons kinders en ons vee van dors te laat omkom?”

4Daarna het Moses tot die Here geroep: “Wat moet ek met hierdie volk aanvang? Netnou gooi hulle my met klippe dood.”

5Toe sê die Here vir Moses: “Loop voor die volk verby en neem van die leiers van Israel saam. Vat ook die kierie waarmee jy op die Nyl se water geslaan het, en stap vooruit. 6Ek sal daar reg voor jou op die rots by Horeb staan. Dan moet jy teen die rots slaan, en daar sal water uitloop vir die volk om te drink.”

Moses het dit toe gedoen voor die oë van die leiers van Israel. 7Hy het die plek Massa en Meriba genoem omdat die Israeliete daar met Moses rusie gemaak het en ook omdat hulle die geduld van die Here op die proef gestel het toe hulle gesê het: “Is die Here by ons of nie?”

Oorlog teen Amalek

8Toe die Amalekiete by Refidim teen Israel kom veg het, 9het Moses vir Josua gesê: “Kies vir ons manskappe en gaan veg môre teen die Amalekiete. Dan sal ek op die top van die heuwel gaan staan met die kierie wat God my gegee het, in my hand.”

10Josua het toe gedoen wat Moses vir hom gesê het en hy het teen die Amalekiete gaan veg. Moses, Aäron en Hur het tot op die top van die heuwel uitgeklim. 11Solank Moses sy hand opgehou het, was Israel die sterkste, en wanneer sy hand gesak het, die Amalekiete. 12Maar Moses se arms het begin moeg word. Hulle het toe 'n klip gevat en dit agter hom neergesit sodat hy daarop kon gaan sit. Aäron en Hur het sy arms van weerskante af ondersteun sodat sy arms regop gebly het tot sononder. 13Josua het die Amalekiete heeltemal verslaan. 14Daarna het die Here vir Moses gesê: “Skryf hierdie woorde op in 'n boek as 'n blywende herinnering en lees dit vir Josua voor: Ek wil die Amalekiete heeltemal van die aarde af verdelg.”

15Moses het 'n altaar gebou en dit genoem: “Die Here gee my die oorwinning.”

16Verder het Moses gesê:

“Dit is die gedenkteken vir die oorwinning wat die Here gee.

Die Here voer oorlog teen Amalek van geslag tot geslag.”

Jetro besoek vir Moses

1Jetro, priester van Midian en skoonpa van Moses, het gehoor wat die Here God alles vir sy volk Israel en vir Moses gedoen het toe die Here die Israeliete uit Egipte bevry het. 2Toe Moses sy vrou Sippora destyds teruggestuur het, het sy skoonpa Jetro haar 3en haar twee seuns in sy huis geneem. Die naam van die een seun was Gersom, “want,” het Moses gesê, “ek woon as vreemdeling in 'n vreemde land.” 4Die naam van die ander was Eliëser, “want,” het Moses gesê, “die God van my voorvaders het my gehelp: Hy het my gered toe die farao my wou doodmaak.”

5Jetro, Moses se skoonpa, het met Moses se seuns en sy vrou na hom toe gegaan waar hy in die woestyn by die berg van God kamp opgeslaan het. 6Jetro het toe vir Moses laat weet: “Ek is jou skoonpa Jetro. Ek kom na jou toe met jou vrou en jou twee seuns.”

7Moses het toe sy skoonpa gaan ontmoet en voor hom gebuig en hom met 'n soen gegroet. Nadat hulle vir mekaar gevra het hoe dit gaan, het hulle in Moses se tent ingegaan. 8Daar het Moses vir sy skoonpa alles vertel wat die Here aan die farao en aan Egipte gedoen het ter wille van Israel, en ook van al die ontberings wat die Israeliete op pad gehad het en hoe die Here hulle bevry het. 9Jetro was bly om te hoor van al die goeie dinge wat die Here vir Israel gedoen het toe Hy hulle uit Egipte se mag bevry het.

10-11Toe het Jetro gesê: “Aan die Here kom die lof toe! Dit is Hy wat julle bevry het uit die mag van Egipte en die farao. Nou besef ek dat die Here groter is as enige ander god, want toe die Egiptenaars vermetel teen die volk van die Here opgetree het, het Hy hulle uit Egipte se mag bevry.”

12Jetro, Moses se skoonpa, het brandoffers en ander diereoffers vir God gebring, en daarna het Aäron en al die Israelitiese leiers gekom om saam met Moses se skoonpa aan die offermaaltyd deel te neem.

13Toe Moses die volgende dag gaan sit om hofsake te verhoor, het daar van die oggend af tot die aand toe mense vir hom gestaan en wag. 14Maar toe sy skoonpa sien wat Moses alles vir die volk doen, het hy gesê: “Waarom doen jy die volk dit aan? Waarom tree net jý op as regter, en al die mense moet van die môre af tot die aand toe vir jou staan en wag?”

15Moses het sy skoonpa geantwoord: “Die volk kom na my toe om na die wil van God te vra. 16As hulle in sake betrokke raak, kom hulle na my toe. Ek lewer dan uitspraak oor die geskille tussen hulle en maak terselfdertyd God se voorskrifte en wette aan hulle bekend.”

17Maar Moses se skoonpa sê vir hom: “Jy maak nie reg nie. 18Jy en al hierdie mense by jou sal totaal uitgeput raak. Die werk is te veel vir jou. Jy kan dit nie alleen behartig nie. 19Luister nou na my raad en mag God jou bystaan! Jy moet die volk se verteenwoordiger by God wees en alle sake voor Hom bring. 20Druk die volk die voorskrifte en wette op die hart, leer hulle die pad wat hulle moet loop en wat hulle moet doen. 21Verder moet jy onder die volk bekwame manne uitsoek, dienaars van die Here, mense wat die waarheid liefhet en nie hulle eie voordeel soek nie. Dan moet jy hulle oor die volk aanstel as leiers oor duisend, oor honderd, oor vyftig en oor tien. 22Hulle moet deurentyd vir die volk hofsittings hou. Die belangrike sake moet na jóú verwys word, en die geringes moet húlle oplos. Dit sal vir jou makliker wees as hulle die verantwoordelikheid saam met jou dra. 23As God jou beveel om dit so te doen, sal jy met die werk kan aanhou, en al hierdie mense sal dan tevrede huis toe gaan.”

24Moses het na sy skoonpa geluister en gedoen wat hy gesê het. 25Moses het bekwame manne uit Israel gekies en hulle aangestel as hoofde oor die volk: leiers oor duisend, oor honderd, oor vyftig en oor tien. 26Hulle het deurentyd hofsittings gehou. Die belangrike sake is na Moses verwys, en die geringes is deur die leiers verhoor.

27Moses het toe afskeid geneem van sy skoonpa, en sy skoonpa is terug na sy eie land toe.

Van ewigheid tot ewigheid is U God

1'n Gebed van Moses, die man van God.

Here, U was vir ons 'n toevlug

van geslag tot geslag.

2Voordat die berge gebore is,

voordat U die wêreld voortgebring het,

ja, van ewigheid tot ewigheid is U God!

3U laat die mens sterwe:

U sê net: “Word weer stof!”

4Duisend jaar is vir U soos gister as dit verby is,

soos een enkele wagbeurt in die nag.

5U maak 'n einde aan 'n mens,

hy gaan die doodslaap in.

Hy is soos gras wat in die môre afgesny word:

6in die môre is dit nog groen, maar dit word afgesny

en teen die aand is dit verlep en dit verdroog.

7Ons vergaan onder u toorn,

ons gaan te gronde onder u gramskap.

8U sien ons oortredinge raak,

U bring die sondes wat ons wou wegsteek, aan die lig.

9Onder u toorn vlieg ons dae

en skiet ons jare verby soos 'n gedagte.

10Ons lewe maar sewentig jaar,

of, as ons baie sterk is, tagtig,

en dié is vol swaarkry en leed.

Dit is gou verby,

ons vlieg na ons einde toe.

11Wie ken die krag van u toorn beter as u dienaars?

Wie ken u gramskap beter?

12Leer ons ons dae so gebruik

dat ons wysheid bekom.

13Hoe lank nog, Here, voordat U ons te hulp kom?

Ontferm U tog oor ons.

14Skenk ons elke dag u liefde in oorvloed,

dat ons ons lewe lank mag juig en bly wees.

15Soveel dae as dié waarin U ons verdruk het,

soveel jare as dié waarin ons gely het,

gee ons soveel jare van blydskap.

16Laat u werk vir ons duidelik word

en u grootheid vir ons kinders.

17Laat ons die goedheid van die Here ons God belewe:

hou die werk van ons hande in stand,

ja, die werk van ons hande, hou dit in stand.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS