Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 169

Job 38–42

Bybelteks(te)

JOB 38

Die Here: Ek sal vra, antwoord jy My

1Toe het die Here vir Job aangespreek uit 'n stormwind uit:

2“Wie is dit wat besig is om my bedoelinge te dwarsboom

met woorde wat getuig dat hy geen insig het nie?

3Maak jou reg vir die stryd:

Ek sal vra, antwoord jy My.

4Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het?

Praat as jy die antwoord het.

5Wie het die aarde afgemeet? Weet jy dit?

Wie het 'n maatlyn oor hom gespan?

6Waarop is sy voetstukke neergesit?

Wie het hom aanmekaargesit

7daardie oggend toe die sterre saamgesing het

en al die hemelinge gejubel het?

8Wie het die see opgedam

toe hy begin uitborrel het?

9Ek het hom met wolke bedek,

hom met donkerte toegemaak.

10Ek het vir hom perke gestel,

hom agter slot en grendel gesit.

11Ek het gesê: ‘Tot hiertoe mag jy kom, nie verder nie;

hier is die grens van jou magtige golwe.’

12“Het jy, Job, in jou tyd die môre beveel om te kom?

Weet jy waar die daeraad vandaan kom,

13die daeraad wat lig oor die hele aarde bring

sodat die goddeloses nie in die donker kan bly skuil nie?

14Met die daeraad word die vorm van die aarde sigbaar,

dit neem vorm aan soos klere wat aangetrek word.

15Dan word die goddeloses hulle bestaan ontneem

en word hulle geweld beëindig.

16Het jy, Job, al gekom by die plek waar die seewater uitborrel,

en rondgestap op die bodem van die diepsee?

17Het jy die ingang van die doderyk gesien,

die plek van donkerte al bekyk?

18Kan jy 'n beeld vorm van die groot wye wêreld?

Praat as jy iets daarvan weet.

19Hoe loop die pad na die plek waar die lig woon?

En die donkerte, waar is sy woonplek?

20Kan jy die donkerte na sy gebied toe terugvat?

Ken jy die paaie na sy woongebied toe?

21Jy moet dit weet, jy wat maak of jy toe al gebore was,

of jy 'n lang lewe agter die rug het.

22Was jy al by die plek waar die sneeu gebêre word?

Het jy al die plek gesien waar die hael gebêre word,

23wat Ek opgegaar het vir 'n tyd van rampe,

vir die dag as Ek wil oorlog voer?

24Hoe loop die pad na die plek toe waar die lig sy oorsprong het

en die oostewind oor die aarde begin waai?

25Wie het vir die stortreën 'n pad oopgekap

en vir die donderwolke hulle koers bepaal

26sodat dit reën in 'n land waar nie mense is nie,

in 'n woestyn waar niemand woon nie

27en 'n droë, dor land deurnat word,

sodat daar groen gras uitspruit?

28Het die reën 'n vader?

Wie het die doudruppels in die wêreld gebring?

29Wie bring die ys te voorskyn?

Wie bring die ryp in die wêreld?

30Die water word so hard soos klip,

selfs die oppervlakte van die diepsee verys.

31Sou jy die Sewester met 'n band kon vasknoop

of die band van Orion kon losmaak?

32Kan jy die sterre op hulle tyd laat opkom,

kan jy die Beer met sy kleintjies laat uitkom?

33Weet jy hoe die hemelliggame werk?

Stel jy hulle invloed op die aarde vas?

34Kan jy jou stem tot by die wolke hoorbaar maak

sodat stortreën jou oordek?

35Kan jy weerligstrale uitstuur

dat hulle vir jou kom sê: ‘Hier is ons’?

36Wie gee verstand aan die ibis om teen die vloed te waarsku

of wie gee insig aan die haan om die dag aan te kondig?

37Wie het die kennis om genoeg wolke bymekaar te bring,

om hierdie waterkruike van die hemel om te keer

38wanneer die grond kliphard is

en daar net groot kluite lê?

JOB 39

1Kan jy vir 'n leeu sy prooi vang?

Kan jy vir hom genoeg gee om te eet

2wanneer hy in sy skuilplek gereed lê,

op die loer lê agter 'n bos?

3Wie gee vir 'n kraai die kos wat hy nodig het

wanneer sy kleintjies om hulp roep na God,

rondskarrel vir iets om te eet?

4Ken jy die tyd wanneer die klipspringers lam?

Staan jy en kyk waar die wildsbokke kleintjies kry?

5Kan jy vir hulle die draagtyd bepaal,

weet jy presies wanneer hulle moet lam?

6Hulle trek inmekaar, die bokkies word gebore,

die geboortepyne is gou verby.

7Die lammers groei en word groot in die veld,

hulle gaan weg en kom nie na die ooie toe terug nie.

8“Wie gee aan die wildedonkie sy vryheid

en laat hom ongebonde vryloop?

9Ek het vir hom die oop veld gegee om in te bly,

die brakbossies om in te wei.

10Hy bekommer hom nie oor die gewoel in die stad nie,

hy hoef nie te luister na die geskreeu van 'n drywer nie.

11Hy deurkruis die berge vir weiding,

hy snuffel elke groen sprietjie uit.

12“Sal die buffel gewillig wees om vir jou te werk?

Sal hy deur die nag by jou krip bly staan?

13Kan jy hom inspan en ploegvore met hom trek?

Kan jy hom lei om die land agter jou te eg?

14Sal jy jou op hom verlaat vir sy reusekrag?

Sal jy dit aan hom oorlaat om vir jou 'n oes te lewer?

15Sal jy op hom vertrou om jou graan te oes

en op jou dorsvloer bymekaar te bring?

16“Die vlerke van die volstruis klap vrolik

net soos dié van die ooievaar en die valk,

17maar sy lê haar eiers op die grond

en broei hulle uit op die sand.

18Sy dink nie daaraan dat hulle stukkend getrap kan word nie,

dat wilde diere haar eiers kan breek nie.

19Sy maak haar kuikens hard groot, asof hulle nie haar eie is nie;

as haar moeite dan tevergeefs was, skrik dit haar nie af nie.

20God het nie vir haar wysheid gegee nie,

sy het geen verstand nie,

21maar wanneer sy met vlerke omhoog hardloop,

lag sy die perd en sy ruiter uit.

22“Gee jý vir die perd sy krag,

sit jý vir hom maanhare aan?

23Het jý gemaak dat hy kan spring soos 'n sprinkaan,

dat hy almal bang maak met sy trotse gesnork?

24Hy kap die grond met sy pote en trippel rond,

met krag skiet hy vorentoe, die geveg in.

25Bang wees bestaan vir hom nie, hy skrik nie,

hy deins nie terug vir oorlog nie.

26In die koker aan sy sy ratel die pyle,

die spies en die swaard blink in die son.

27Opgewonde en oorgehaal kap-kap hy die grond,

hy kan nie wag vir die blaas van die trompet nie.

28By die blaas van die trompet runnik hy,

hy weet die geveg kom,

hy ken die offisiere se bevele en hulle krygskrete.

29“Is dit deur jou insig dat 'n valk vlieg,

dat hy sy vlerke na die suide toe span?

30Is dit op jou bevel dat 'n aasvoël hoog opvlieg

en sy nes in die hoogte gaan bou?

31Hy woon op die rotse, hy bly daar,

op die spits en die kranse.

32Van daar af soek sy oë na kos,

van ver af sien hy dit.

33Sy kuikens vreet bloederige vleis,

en waar iets doodgaan, is hy.”

Die Here: Wil jy vir God teregwys?

34Die Here het verder vir Job gesê:

35“Wil jy 'n saak maak teen die Almagtige en Hom bestraf?

Wil jy vir God teregwys? Antwoord Hom dan!”

Job: Nou sal ek stilbly

36Job het toe vir die Here gesê:

37“Ek is nie opgewasse teen U nie.

Hoe sou ek U kon antwoord?

Ek sal liewer stilbly.

38Ek het gepraat, maar ek kon nie 'n antwoord vind nie,

ek het weer geprobeer, maar nou sal ek stilbly.”

JOB 40

Die Here: Het jy die mag wat Ek het?

1Die Here het weer vir Job aangespreek uit die stormwind uit:

2“Maak jou reg vir die stryd:

Ek sal vra, antwoord jy My.

3Wil jy my beslissing tot niet maak?

Wil jy My skuldig verklaar sodat jy vrygespreek kan word?

4Het jy die mag wat Ek het?

Kan jy jou stem uit die onweer laat hoor soos Ek?

5Tree dan op met jou trots en jou groot mag,

handel in jou majesteit en heerlikheid.

6Laat brand dan jou gloeiende toorn,

sien elke trotsaard raak en sit hom op sy plek,

7sien elke trotsaard raak en verneder hom,

trap die goddeloses plat.

8Begrawe hulle almal,

lê hulle weg in die graf.

9Dan sal Ek teenoor jou erken

dat jy jou deur jou eie mag kan red.

10“Kyk die seekoei:

Ek het hom gemaak toe Ek jou gemaak het,

hy vreet gras soos 'n bees.

11Daar is krag in sy liggaam,

die spiere in sy lyf is sterk.

12Sy stert is so reguit soos 'n seder.

Sy boudspiere is inmekaar gevleg.

13Die bene in sy lyf is soos bronspype,

soos stukke yster.

14Onder alles wat Ek gemaak het, staan hy eerste,

net sy Maker kan hom verslaan.

15Die berge lewer vir hom die water

en al die wilde diere speel daar.

16Hy lê tussen waterplante,

hy skuil tussen die riete in die moeras.

17Die skaduwee van die waterplante is sy skuiling,

rondom hom is rivierpopuliere.

18As die rivier sterk word, skrik dit hom nie af nie,

hy bly rustig al styg die Jordaan hoe hoog.

19Wie kan hom van voor af pak,

wie kan 'n vangtou aan sy neus sit?

20“Kan jy 'n krokodil met 'n hoek vang

of hom 'n tou in die bek sit?

21Kan jy 'n lyn deur sy neus steek

of sy kakebene met 'n hoek vastrek?

22Sal hy jou soebat om genade

of by jou mooipraat?

23Sal hy 'n ooreenkoms met jou aangaan

om vir altyd jou slaaf te wees?

24Sal jy hom kan mak maak soos 'n voëltjie

of kan jy hom met 'n lyn vasmaak vir jou dogtertjies?

25Sal handelaars oor 'n prys vir hom kan kibbel?

Sal hy onder kopers verdeel kan word?

26Sal jy harpoene deur sy vel kan gooi

of hom met 'n haak aan die kop kan vang?

27Pak hom gerus met kaal hande:

jy sal die geveg onthou,

jy sal nie weer probeer nie.

28Jy sal die slegste daarvan afkom.

Wanneer jy hom sien,

is jy al klaar oorweldig.

JOB 41

1Hy is wreed as jy hom wakker maak.

“Wie wil dan nog teen Mý standhou?

2Wie wil aan Mý eise stel dat Ek iets aan hom verskuldig is?

Alles onder die hemel behoort aan My.

3“Ek wil nog verder praat oor die krokodil,

oor sy krag en sy liggaamsbou.

4Wie kan sy bek oopmaak?

Wie kan met 'n toom naby sy tande kom?

5Wie kan sy kakebene oopbreek,

sy kakebene met die verskriklike tande?

6Op sy rug lê die skubbe in rye

vas aan mekaar gesluit:

7die een so teen die ander

dat die wind nie daardeur kan waai nie;

8die een is vas aan die ander,

hulle kleef aan mekaar en kan nie geskei word nie.

9As hy nies, spat die vonke,

sy oë is so rooi soos die daeraad.

10Daar kom vuur uit sy bek,

die vonke waai deur die lug.

11Daar trek rook uit sy neusgate,

soos uit 'n kokende pot op 'n vuur.

12Sy asem steek vure aan,

daar skiet vlamme uit sy bek.

13Daar is groot krag in sy nek;

wie hom sien, word deur angs oorval.

14Sy vleis is saamgepak asof dit aan hom gegiet is,

dit gee nie mee nie.

15Sy hart is so hard soos klip,

so hard soos 'n maalklip.

16Sterkes vlug as hy die water roer.

By die eerste rimpeling gee hulle pad.

17Wie hom met die swaard steek, rig niks uit nie,

ook nie met 'n spies, 'n pyl of 'n assegaai nie.

18Yster is vir hom soos strooi,

brons soos vrot hout.

19Met pyl en boog jaag jy hom nie op die vlug nie,

klippe uit 'n slingervel is vir hom niks nie.

20Aan 'n knopkierie steur hy hom nie,

hy lag as 'n swaard op hom afkom.

21Die skubbe aan sy onderkant het punte soos potskerwe,

soos 'n dorsslee maak dit merke op die modder.

22Hy laat die diep water kook soos in 'n pot,

hy laat die water van die meer skuim.

23Agter hom lê 'n blink streep op die water,

lê die diep water wit van die skuim.

24Op die grond is niemand sy gelyke nie,

hy is 'n ondier sonder vrees.

25Hy kyk met minagting na diere groter as hy,

hy is baas selfs oor al die groot diere.”

JOB 42

Job: In sak en as

1Daarna het Job vir die Here gesê:

2“Nou weet ek dat U tot alles in staat is

en dat U kan uitvoer wat U besluit.

3Wie is dit wat u bedoelinge wou dwarsboom

sonder dat hy die insig gehad het?

Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie:

u wonderdade was te groot vir my,

ek het dit nie verstaan nie.

4U het mos gesê: Luister terwyl Ek praat,

Ek sal vra, antwoord jy My.

5Tot nou toe het ek net gehoor

wat mense van U sê,

maar nou het ek U self gesien,

6en nou verag ek myself,

nou sit ek vol berou, in sak en as.”

Die Here: Job sal vir julle bid

7Nadat Hy met Job gepraat het, het die Here vir Elifas die Temaniet gesê: “Ek is kwaad vir jou en jou twee vriende, want julle het nie die waarheid oor My gepraat soos my dienaar Job nie. 8Vat sewe bulle en sewe ramme en gaan na my dienaar Job toe en offer dit as 'n brandoffer vir julleself. My dienaar Job sal vir julle bid, en Ek sal sy gebed verhoor en julle nie straf vir julle dwaasheid nie. Julle het nie die waarheid oor My gepraat soos my dienaar Job nie.”

Job het 'n vol lewe gehad

9Elifas die Temaniet, Bildad die Suagiet en Sofar die Naämatiet het gedoen wat die Here gesê het, en die Here het Job se gebed verhoor. 10Nadat Job vir sy vriende gebid het, het die Here die omstandighede van Job verander en hom twee keer soveel gegee as wat hy gehad het. 11Al sy broers en susters en sy vriende wat hom vroeër geken het, het gekom en saam met hom in sy huis geëet. Hulle het hulle medelye kom betoon en hom getroos oor al die rampe wat die Here oor hom gebring het. Elkeen het vir hom 'n stuk silwer en 'n goue ring gegee. 12Die Here het die laaste deel van Job se lewe voorspoediger gemaak as die eerste: hy het veertien duisend stuks kleinvee, ses duisend kamele, twee duisend beeste en 'n duisend donkies gekry, 13en ook sewe seuns en drie dogters. 14Die oudste dogter het hy Jemima genoem, die tweede Kesia en die derde Keren-Puk. 15Nêrens in die land was daar vroue so mooi soos Job se dogters nie. Hulle pa het hulle saam met hulle broers laat erf. 16Job het nog honderd en veertig jaar gelewe. Hy het sy kinders en kindskinders tot in die vierde geslag gesien. 17Job het toe gesterf. Hy was oud en het 'n vol lewe gehad.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS