Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 156

Nehemia 8–13

Bybelteks(te)

1Toe die sewende maand aanbreek, was die Israeliete dus oral in die stede.

2Die hele volk het soos een man bymekaargekom op die plein voor die Waterpoort en vir Esra die skrifgeleerde gevra om die wetboek van Moses waarin die bevele van die Here aan Israel opgeteken is, te bring. 3Die priester Esra het toe die wet voor die gemeente gebring, man en vrou, elkeen wat kon verstaan. Dit was op die eerste dag van die sewende maand. 4Hy het daaruit voorgelees op die plein voor die Waterpoort van ligdag af tot die middel van die dag ten aanhore van mans, vrouens en elkeen wat kon verstaan. Die aandag van die hele gemeente was by die wetboek.

5Esra die skrifgeleerde het op 'n houtverhoog gestaan wat vir dié doel gemaak was; regs langs hom het Mattitja, Sema, Anaja, Urija, Gilkija en Maäseja gestaan, en links van hom Pedaja, Misael, Malkija, Gasum, Gasbaddana, Sagaria en Mesullam.

6Esra het hoër gestaan as die hele gemeente en het die boek voor almal se oë oopgemaak. Toe hy dit oopmaak, het die hele gemeente opgestaan. 7Esra het die Here, die grote God, geprys en die hele gemeente het met die hande omhoog geantwoord: “Amen, amen.”

Toe kniel hulle en buig diep voor die Here. 8Die Leviete Jesua, Bani, Serebja, Jamin, Akkub, Sabbetai, Hodija, Maäseja, Kelita, Asarja, Josabad, Ganan en Pelaja het die wet aan die gemeente verduidelik terwyl die volk daar staan. 9Die Leviete het uit die boek, uit die wet van God, voorgelees en dit uitgelê. Hulle het die betekenis weergegee sodat die mense kon verstaan wat gelees word.

10Nehemia die goewerneur, die skrifgeleerde priester Esra en die Leviete wat die gemeente onderrig het, het vir die hele gemeente gesê: “Hierdie dag word gewy aan die Here julle God. Moenie treurig wees nie, moenie huil nie.” Dit was omdat die hele gemeente gehuil het by die aanhoor van die wet.

11Nehemia het verder gesê: “Gaan vier fees, eet en drink, en deel uit aan dié wat niks voorberei het nie. Hierdie dag word gewy aan ons Here. Moenie bedroef wees nie; as julle die Here met blydskap dien, sal Hy julle beskerm.”

12Die Leviete het al die mense gekalmeer met die woorde: “Wees rustig. Dit is 'n gewyde dag, moenie bedroef wees nie.”

13Die hele gemeente het toe gaan eet, lekkernye uitgedeel en groot feesgevier. Hulle het goed begryp wat vir hulle gesê is.

Die huttefees

14Die volgende dag het die familiehoofde van die hele gemeente en die priesters en Leviete by Esra die skrifgeleerde bymekaargekom om die inhoud van die wet te bestudeer. 15Hulle vind toe in die wet geskrywe dat die Here deur Moses opdrag gegee het dat die Israeliete in hutte moet woon vir die duur van die fees in die sewende maand, 16en dat hulle die oproep moet maak en dit in al die stede en in Jerusalem moet laat afkondig: “Gaan na die berge toe en bring olyftakke, olientakke, mirtetakke, palmtakke, takke met digte blare om hutte te maak soos dit voorgeskryf is.”

17Die mense het die takke gaan haal, en elkeen het vir hom 'n hut gebou, op die dak van sy huis of in sy binneplaas of in die voorhof van die tempel of op die plein by die Waterpoort of op die plein by die Efraimspoort.

18Die hele gemeente, die mense wat uit die ballingskap teruggekom het, het hutte gebou en daarin gaan woon. So het die Israeliete dit nie gedoen van die tyd van Josua seun van Nun af tot dié dag toe nie. Daar was baie groot vreugde. 19Van die eerste tot die laaste dag van die fees het hulle elke dag uit die wetboek van God voorgelees. Hulle het sewe dae lank feesgevier, en op die agste dag was daar die gebruiklike samekoms.

Die vasdag

1Op die vier en twintigste dag van dié maand het die Israeliete vir 'n vasdag bymekaargekom. Hulle het rouklere aangehad en daar was grond op hulle koppe. 2Die nakomelinge van Israel het hulleself afgeskei van alle nie-Israeliete en toe hulle plekke ingeneem en belydenis gedoen van hulle sonde en van die oortredings van hulle voorvaders. 3Hulle het op hulle plekke bly staan en het 'n kwart dag lank voorgelees uit die wetboek van die Here hulle God. Nog 'n kwart dag lank het hulle belydenis gedoen en voor die Here hulle God gebuig. 4Die Leviete Jesua, Bani, Kadmiël, Sebanja, Bunni, Serebja, Bani en Kenani het op die verhoog gaan staan en die Here hulle God hard om hulp aangeroep. 5Daarna het die Leviete Jesua, Kadmiël, Bani, Gasabneja, Serebja, Hodija, Sebanja en Petagja gesê:

“Kom, prys die Here julle God!

Hy is van ewigheid tot ewigheid.”

Toe het hulle u magtige Naam geprys,

verhewe bo alle lof en roem.

6Dit is U! U alleen is Here!

U het die hemel gemaak,

die hoogste hemel en sy hele leërmag,

die aarde en alles daarop,

die oseane en alles daarin.

U laat hulle almal lewe;

die hemelse leërmag buig voor U.

7U is die Here, die God

wat vir Abram gekies het,

hom uit Ur van die Galdeërs gebring het

en sy naam Abraham gemaak het.

8U het hom getrou teenoor U bevind,

met hom 'n verbond gesluit

dat U die land van die Kanaäniete,

die Hetiete en Amoriete,

die Feresiete, Jebusiete en Girgasiete,

aan sy nageslag sou gee,

en U het u belofte nagekom;

U is betroubaar.

9U het die nood van ons voorvaders in Egipte gesien,

gehoor toe hulle by die Rietsee om hulp geroep het,

10en groot, magtige dade gedoen, teen die farao,

teen sy amptenare en teen die mense in sy land,

want U het geweet dat hulle u volk met minagting behandel het.

U het die roem van u Naam groot gemaak,

so soos dit vandag nog is.

11U het die see gekloof voor hulle,

hulle kon op droë grond daardeur trek;

maar U het hulle agtervolgers in die vloedwaters gegooi soos 'n klip in magtige waters.

12Met 'n wolkkolom het U hulle bedags gelei,

met 'n vuurkolom snags

om vir hulle lig te maak op die pad

waar hulle langs moes trek.

13U het op Sinaiberg afgekom,

met hulle uit die hemel gepraat

en vir hulle bepalings vasgestel wat billik is,

wette wat vas staan,

voorskrifte en gebooie wat goed is.

14U het hulle geleer van u gewyde sabbat

en aan hulle gebooie, voorskrifte en 'n wet gegee

deur Moses, u dienaar.

15U het vir hulle brood gegee uit die hemel

toe hulle honger was,

vir hulle water uit 'n rots laat stroom

toe hulle dors was.

U het gesê hulle kan die land

in besit kom neem

wat U met 'n eed beloof het

om aan hulle te gee.

16Maar hulle, ons voorvaders, was vermetel,

hulle koppe was hard,

hulle het nie u gebooie gehoorsaam nie.

17Hulle het geweier om te luister,

hulle het nie die wonderdade onthou

wat U vir hulle gedoen het nie.

Hulle koppe was hard,

hulle het in verset gekom

en wou in hulle koppigheid terug na hulle slawerny.

Maar U is 'n God wat vergewe,

genadig, barmhartig,

lankmoedig, vol liefde.

U het hulle nie verlaat nie.

18Ook toe hulle vir hulle die kalfsbeeld gegiet het

en gesê het: “Hier is jou God

wat jou uit Egipte gebring het,”

en toe hulle skandelike dinge gedoen het,

19het U in u groot barmhartigheid

hulle nie in die woestyn gelos nie.

Die wolkkolom het bedags nie van hulle af weggedraai nie

maar hulle op die pad bly lei;

die vuurkolom was snags daar om vir hulle lig te maak

op die pad waar hulle langs moes trek.

20U het u goeie Gees gegee om hulle te onderrig,

U het u manna nie van hulle teruggehou nie,

U het vir hulle water gegee vir hulle dors.

21Veertig jaar lank het U vir hulle gesorg,

hulle het niks kortgekom in die woestyn nie.

Hulle klere het nie verslyt nie,

hulle voete het nie geswel nie.

22U het koninkryke, volke, aan hulle gegee,

gebiede aan hulle toegewys:

hulle het die land van Sihon in besit geneem,

die land van die koning van Gesbon,

en die land van koning Og van Basan.

23U het hulle nageslag so baie laat word

soos die sterre aan die hemel.

U het hulle gebring na die land

waarvan U aan hulle voorvaders gesê het

dat hulle dit in besit sal kom neem.

24Hulle kinders het gekom en die land in besit geneem.

U het die inwoners van die land, die Kanaäniete,

voor u volk laat buig

en hulle oorgegee in die mag van u volk.

U volk kon doen wat hulle wou

met die konings en die volke in die land.

25U volk het vestingstede beset

en vrugbare grond.

Hulle het beslag gelê op huise

vol kosbare goed,

putte wat klaar gegrawe was,

wingerde en olyfboorde,

vrugtebome in oorvloed.

Hulle het geëet, meer as genoeg, vet geword,

en hulle verlustig in u groot goedheid.

26Maar hulle het opstandig geword

en teen U in verset gekom,

hulle het u wet verwerp

en u profete doodgemaak

wat hulle gewaarsku het om na U terug te kom.

Hulle het skandelike dinge gedoen.

27Toe het U hulle oorgegee in die mag van hulle teëstanders,

dat dié hulle verdruk.

Toe dit sleg met hulle gaan,

het hulle na U geroep om hulp,

en U het uit die hemel hulle gebed verhoor.

In u groot barmhartigheid het U aan hulle redders gegee,

en dié het hulle gered uit die mag van hulle teëstanders.

28Maar toe hulle rus kry, het hulle weer teen U oortree,

en U het hulle in die mag van hulle vyande gelos

dat dié oor hulle kon heers.

Hulle het weer na U om hulp geroep,

en U het uit die hemel hulle gebed verhoor

en in u barmhartigheid het U hulle gered, keer op keer.

29U het hulle gewaarsku om terug te kom na u wet,

maar hulle was vermetel, ongehoorsaam aan u gebooie.

Hulle het gesondig teen u bepalings

wat 'n mens laat lewe as hy hulle nakom.

Hulle was moedswillig, hulle koppe was hard,

hulle was ongehoorsaam.

30U was geduldig met hulle, baie jare lank,

U het hulle gewaarsku deur u Gees,

deur middel van u profete,

maar hulle het nie geluister nie.

Toe het U hulle oorgegee in die mag van heidenvolke,

31maar in u groot barmhartigheid

het U hulle nie heeltemal uitgewis nie,

hulle nie verlaat nie.

U is 'n genadige, 'n barmhartige God.

32En nou, ons God, grote God,

magtig en ontsagwekkend,

U wat die verbond en die troue liefde in stand hou,

moet tog nie al dié ellende gering ag nie,

die ellende wat ons, ons konings, ons amptenare,

ons priesters, ons profete, ons voorvaders,

u hele volk, getref het

van die tyd van die Assiriese konings af

tot vandag toe.

33In alles wat oor ons gekom het, was U regverdig;

U het reg gedoen, ons verkeerd.

34Ons konings, ons amptenare,

ons priesters, ons voorvaders

het nie u wet gehoorsaam nie,

nie gelet op u gebooie, u verordeninge

waarmee U hulle gewaarsku het nie.

35Hulle konings het nog geregeer

en hulle het nog u groot goedheid geniet

wat U hulle gegee het

en in die wye, vrugbare land gewoon

wat U aan hulle gegee het;

al het hulle U nie gedien nie

en hulle nie bekeer van hulle slegte dade nie.

36Hier is ons vandag slawe,

ons is slawe in hierdie land,

die land wat U aan ons voorvaders gegee het

dat hulle die vrug daarvan en die goeie dinge daarin kan geniet.

37Sy ryke opbrengs behoort aan die konings

wat U oor ons aangestel het as gevolg van ons sondes;

die konings maak met ons en ons vee soos hulle wil.

Ons verkeer in groot nood.

Die onderneming

38Daarom gaan ons 'n skriftelike onderneming aan. Op die verseëlde dokument teken ons leiers, ons Leviete en ons priesters hulle name.

1Op die verseëlde dokument staan: Die goewerneur Nehemia seun van Gakalja en die priesters Sedekia, 2Seraja, Asarja, Jeremia, 3Pasgur, Amarja, Malkija, 4Gattus, Sebanja, Malluk, 5Garim, Meremot, Obadja, 6Daniël, Ginneton, Baruk, 7Mesullam, Abia, Mijamin, 8Maäsja, Bilga en Semaja.

9Die Leviete was Jesua seun van Asanja, Binnuï uit die Genadadgroep, en Kadmiël, 10met hulle ampsgenote, Sebanja, Hodija, Kelita, Pelaja, Ganan, 11Miga, Regob, Gasabja, 12Sakkur, Serebja, Sebanja, 13Hodija, Bani en Beninu. 14Die leiers van die volk was Paros, Pagat-Moab, Elam, Sattu, Bani, 15Bunni, Asgad, Bebai, 16Adonia, Bigwai, Adin, 17Ater, Hiskia, Assur, 18Hodija, Gasum, Besai, 19Garif, Anatot, Nebai, 20Magpias, Mesullam, Gesir, 21Mesesabel, Sadok, Jaddua, 22Pelatja, Ganan, Anaja, 23Hosea, Gananja, Gassub, 24Loges, Pilga, Sobek, 25Regum, Gasabna, Maäseja, 26Agija, Ganan, Anan, 27Malluk, Garim en Baäna.

28Die res van die gemeente, priesters, Leviete, poortwagte, sangers, tempelslawe en al die ander wat hulle van die heidenvolke afgeskei het met die oog op die wet van God, vrouens, seuns, dogters, almal wat reeds die nodige begrip gehad het, 29het hulle aangesluit by hulle ampsgenote en leiers. Hulle het 'n dure eed afgelê om te leef volgens die wet van God wat deur Moses, die dienaar van God, aan die volk gegee is, en om gehoorsaam te wees aan al die gebooie van die Here, ons Here, en aan sy bepalings en voorskrifte. 30Verder het hulle onderneem:

“Ons sal ons dogters nie met die heidenvolke laat trou nie en hulle dogters nie met ons seuns nie.

31“Wanneer die heidene handelsware of graan op die sabbatdag bring om te verkoop, sal ons dit nie op die sabbat of op enige gewyde dag van hulle koop nie.

“Ons sal die grond al om die sewende jaar onbewerk laat lê en alle skulde vryskeld.

32“Ons aanvaar die verpligting om elkeen elke jaar vier gram goud by te dra vir die dienswerk in die huis van ons God: 33vir die offerbrood, die gereelde graanoffer, die gereelde brandoffer, die offers op sabbatte, nuwemane, vasgestelde feestye en besondere gewyde dae, vir die sondeoffer om vir Israel versoening te doen, en vir al die werk in die huis van ons God.

34“Ons, priesters, Leviete sowel as die ander mense, het geloot om te bepaal wanneer dit elke familie se beurt is om, op die vasgestelde tyd elke jaar, die heffing van brandhout vir die altaar van die Here ons God na die huis van ons God toe te bring soos dit in die wet voorgeskryf is.

35“Ons sal die eerstelinge van ons gesaaides en die eerstelinge van al die vrugtebome elke jaar na die huis van die Here toe bring.

36“Soos dit in die wet voorgeskryf is, sal ons ons eersgebore seuns en die eersgeborenes van ons vee, van ons beeste sowel as van ons kleinvee, na die priesters toe bring wat in die huis van ons God diens doen.

37“Ons sal die eerste deeg ná die oes, ons offergawes en die eerstelinge van alles wat ons bome oplewer, van ons wyn en olie, na die opslagplekke van die huis van ons God bring vir die priesters, en die tiendes van ons gesaaides vir die Leviete.

“Die Leviete sal tiendes insamel in al die stede waar ons werk. 38'n Priester uit die nageslag van Aäron sal die Leviete vergesel wanneer hulle tiendes insamel. Die Leviete sal een tiende van die ingesamelde tiendes na die huis van ons God toe bring, na die opslagplekke by die voorraadkamer toe.

39“Die Israeliete en die Leviete sal die offergawes van koring, wyn en olie na die opslagplekke toe bring. Daar word die gereedskap vir die heiligdom gebêre, en daar is die diensdoende priesters, die poortwagte en die sangers.

“Ons sal die huis van ons God nie verwaarloos nie.”

'n Lys van die inwoners van Jerusalem

1Die leiers van die volk het in Jerusalem gewoon. Die ander mense het geloot om een uit elke tien in Jerusalem, die heilige stad, te laat woon. Die ander kon in die ander stede woon. 2Die volk het egter al die manne geprys wat aangebied het om in Jerusalem te woon.

3Hier volg 'n lys van die hoofde van die provinsie Juda wat in Jerusalem gewoon het. Israel, die priesters, die Leviete, die tempelslawe en die nakomelinge van die amptenare van Salomo het oral in die stede van Juda gewoon, elkeen op sy eie grond in sy eie stad.

4In Jerusalem het die volgende Judeërs en Benjaminiete gewoon:

Judeërs:

    Ataja seun van Ussia, seun van Sagaria, seun van Amarja, seun van Sefatja, seun van Mahalalel, uit die nageslag van Peres;
    5Maäseja seun van Baruk, seun van Kol-Gose, seun van Gasaja, seun van Adaja, seun van Jojarib, seun van Sagaria, seun van Siloni. 6Die nakomelinge van Peres wat in Jerusalem gewoon het, was altesaam 468, almal dapper manne.

7Nou volg die Benjaminiete:

    Sallu seun van Mesullam, seun van Joëd, seun van Pedaja, seun van Kolaja, seun van Maäseja, seun van Itiël, seun van Jesaja, 8en dan ook Gabbai en Sallai. Die Benjaminiete was 928. 9Joël seun van Sikri het die bevel oor hulle gevoer, en Juda seun van Senua was in bevel oor die Nuwe Stad.

10Priesters:

    Jedaja seun van Jojarib, en Jakin; 11Seraja seun van Gilkija, seun van Mesullam, seun van Sadok, seun van Merajot, seun van Agitub, was hoof van die tempel. 12Hulle ampsgenote, wat die dienswerk in die tempel gedoen het, was 822.
    Verder was daar Adaja seun van Jerogam, seun van Pelalja, seun van Amsi, seun van Sagaria, seun van Pasgur, seun van Malkija, 13met sy ampsgenote, 242 familiehoofde; en Amassai seun van Asarel, seun van Agsai, seun van Mesillemot, seun van Immer, 14met sy ampsgenote, 128 dapper manne. Die bevelvoerder oor hulle was Sabdiël seun van Gedolim.

15Leviete:

    Semaja seun van Gassub, seun van Asrikam, seun van Gasabja, seun van Bunni; 16Sabbetai en Josabad was hoofde van die Leviete en belas met die toesig oor die werk buite die tempel; 17Mattanja seun van Miga, seun van Sabdi, seun van Asaf, wat in beheer van die sang was, moes die lofprysing by die gebed behartig. Verder was daar Bakbukja, tweede in rang onder sy ampsgenote, en Abda seun van Sammua, seun van Galal, seun van Jedutun. 18Al die Leviete in die heilige stad was 284.

19Poortwagte:

    Akkub, Talmon en hulle ampsgenote wat by die poorte wag gehou het. Hulle was 172.

20Die res van Israel en van die priesters en Leviete het oral in die stede van Juda gewoon, elkeen op sy eie stuk grond. 21Die tempelslawe het op die Ofel gewoon. Hulle was onder die bevel van Siga en Gispa.

22Die gesagvoerder oor die Leviete in Jerusalem was Ussi seun van Bani, seun van Gasabja, seun van Mattanja, seun van Miga, uit die nageslag van Asaf wat die sangers was by die dienswerk in die tempel. 23Daar het 'n koninklike opdrag oor die sangers bestaan, 'n voorskrif oor hulle optrede soos dit elke dag moes geskied.

24Petagja seun van Mesesabel, uit die nageslag van Serag seun van Juda, was die gevolmagtigde van die koning vir alle sake van die volk.

Die nedersettings buite Jerusalem

25Wat betref die nedersettings met hulle boerderygebiede, daar het van die Judeërs in Kirjat-Arba en sy buiteposte gewoon, in Dimona en sy buiteposte, in Kabseël en die nedersettings by hom, 26in Jesua, in Molada, in Bet-Pelet, 27in Gasar-Sual, in Berseba en sy buiteposte, 28in Siklag, in Mekona en sy buiteposte, 29in En-Rimmon, in Sora, in Jarmut, 30in Sanoag en Adullam en die nedersettings by hulle, in Lakis en sy boerderygebied en in Aseka en sy buiteposte. Hulle was dus gevestig oor die gebied van Berseba af tot by Hinnomdal.

31Die Benjaminiete het gewoon in Geba, Mikmas, Aja, Bet-El en sy buiteposte, 32Anatot, Nob, Ananeja, 33Gasor, Rama, Gittajim, 34Gadid, Seboïm, Neballat, 35Lod, Ono en Vakmansdal. 36Afdelings Leviete het ook in Juda en Benjamin gewoon.

Priesters en Leviete

1Hier volg 'n lys van die priesters en die Leviete wat saam met Serubbabel seun van Sealtiël, en Jesua teruggekom het: Seraja, Jeremia, Esra, 2Amarja, Malluk, Gattus, 3Sekanja, Regum, Merajot, 4Iddo, Ginneton, Abia, 5Mijamin, Maädja, Bilga, 6Semaja, Jojarib, Jedaja, 7Sallu, Amok, Gilkija en Jedaja. Hulle was die hoofde van die priesters en van hulle ampsgenote in die tyd van Jesua.

8Die Leviete was Jesua, Binnuï, Kadmiël, Serebja, Juda en Mattanja. Mattanja en sy ampsgenote was verantwoordelik vir die lofsang. 9Hulle ampsgenote Bakbukja en Unni het regoor hulle diens gedoen.

10Jesua was die vader van Jojakim, Jojakim die vader van Eljasib, Eljasib van Jojada; 11Jojada was die vader van Jonatan en Jonatan die vader van Jaddua.

12Tydens die regering van Jojakim was die volgende manne hoofde van die priesterfamilies:

    Meraja was hoof van die familie Seraja, Gananja van Jeremia, 13Mesullam van Esra, Joganan van Amarja, 14Jonatan van Malluk, Josef van Sebanja, 15Adna van Garim, Gelkai van Merajot, 16Sagaria van Iddo, Mesullam van Ginneton, 17Sikri van Abia, Piltai van Mijamin en Maädja, 18Sammua van Bilga, Jonatan van Semaja, 19Mattenai van Jojarib, Ussi van Jedaja, 20Kallai van Sallu, Eber van Amok, 21Gasabja van Gilkija, Netanel van Jedaja.

22Die familiehoofde van die Leviete is in die tyd van Eljasib, Jojada, Joganan en Jaddua opgeskryf, die priesters tydens die regering van Darius die Pers.

23Die Levitiese familiehoofde is opgeskryf in die Kroniekboeke tot met die tyd van Joganan seun van Eljasib. 24Die hoofde van die Leviete was Gasabja, Serebja en Jesua seun van Kadmiël. Regoor hulle was hulle ampsgenote wat die Here moes loof en dank volgens die voorskrif van Dawid, die man van God. Die afdelings het regoor mekaar diens gedoen. 25Die ander was Mattanja, Bakbukja, Obadja en Mesullam.

Talmon en Akkub was poortwagte wat diens gedoen het by die voorraadkamers in die poorte.

26Hierdie mense het in die tyd van Jojakim seun van Jesua, seun van Josadak, en in die tyd van die goewerneur Nehemia en die skrifgeleerde priester Esra diens gedoen.

Die inwyding van die muur

27Met die oog op die inwyding van die muur om Jerusalem is die Leviete oral in hulle woonplekke opgespoor en na Jerusalem toe gebring. Hulle moes die inwyding feestelik vier met lofliedere en met die musiek van simbale, harpe en liere. 28Die sangers is bymekaargebring uit die omgewing van Jerusalem, uit die Netofanedersettings, 29uit Bet-Gilgal en uit die boerderygebiede van Geba en Bet-Asmawet. Die sangers se nedersettings was almal om Jerusalem gebou.

30Die priesters en die Leviete het eers hulleself gereinig en daarna die volk, die poorte en die muur.

31Ek het die leiers van Juda op die muur laat klim en toe twee groot kore saamgestel. Die een het ek suid op die muur langs laat gaan tot by die Vullispoort. 32Agter hulle het Hosaja en die helfte van die gesagvoerders van Juda geloop, 33en verder Asarja, Esra, Mesullam, 34Juda en Benjamin, Semaja en Jeremia, 35'n aantal priesters met trompette, Sagaria seun van Jonatan, seun van Semaja, seun van Mattanja, seun van Miga, seun van Sakkur, seun van Asaf, 36en sy ampsgenote Semaja, Asarel, Milalai, Gilalai, Maäi, Netanel, Juda en Ganani met die musiekinstrumente van Dawid, die man van God. Esra die skrifgeleerde was voor hulle. 37By die Fonteinpoort is hulle reguit op met die trappe na die Dawidstad toe, met die skuinste teen die muur bokant die paleis van Dawid langs tot by die Waterpoort aan die oostekant.

38Die ander koor het noord geloop. Ek en die ander helfte van die mense het gevolg al met die muur langs oor die Bakoondtoring tot by die Breë Muur, 39oor die Efraimspoort, die Ou Poort, die Vispoort, die Gananeltoring, die Toring-van-die-Honderd tot by die Skaappoort. By die Wagpoort het hulle gaan staan.

40Die twee kore het daarna in die tempel plek ingeneem, ek ook, en die helfte van die ampsdraers saam met my. 41Die priesters Eljakim, Maäseja, Mijamin, Miga, Eljoënai, Sagaria en Gananja het die trompette geblaas, 42en ook Maäseja, Semaja, Eleasar, Ussi, Joganan, Malkija, Elam en Eser. Die kore het gesing onder leiding van Jisragja.

43Daar is daardie dag baie offers gebring. Die mense was bly. God het hulle groot blydskap gegee. Ook die vrouens en kinders was bly. Jy kon die blydskap van Jerusalem ver hoor.

44Daardie dag is daar ook manne aangestel oor die voorraadkamers vir die offergawes, die eerstelinge en die tiendes, sodat daarin die deel opgeberg kon word wat volgens wet die priesters en die Leviete uit die boerderygebiede van die stede toekom. Die priesters en die Leviete wat diens gedoen het, het voordeel getrek uit die blydskap van Juda. 45Die priesters en die Leviete het die diensbeurte ter verering van hulle God en die diensbeurte om die reiniging te doen, waargeneem. Die werk van die sangers en die poortwagte is gereël volgens die voorskrif van Dawid en sy seun Salomo. 46Daar was reeds in die ou tyd, in die tyd van Dawid en Asaf, leiers van die sangers met die oog op die lof- en dankliedere ter ere van God. 47In die tyd van Serubbabel en Nehemia het die hele Israel vir die sangers en die poortwagte se onderhoud gesorg soos dit elke dag nodig was. Hulle het ook die offergawes vir die Leviete opsy gesit en die Leviete het dan weer dié van die priesters opsy gesit.

Afskeiding van nie-Israeliete

1Daardie dag is daar ten aanhore van die volk voorgelees uit die boek van Moses, en daar is geskryf gevind dat 'n Ammoniet of Moabiet nooit in die gemeente van God mag kom nie. 2Dit was omdat hulle nie brood en water aan die Israeliete wou gee nie en vir Bileam gehuur het om 'n vloek oor Israel uit te spreek. Ons God het die vloek in seën laat verander. 3Toe die volk dié wet hoor, het hulle almal wat van gemengde herkoms was, van Israel afgeskei.

Nehemia se tweede besoek: Hy sit vir Tobija uit 'n kamer by die tempel

4Tevore het die priester Eljasib, wat in beheer was van die opslagplek by die huis van ons God en familie van Tobija was, 5vir Tobija 'n groot kamer ingerig wat tevore gebruik was vir die graanoffer, die wierook, die offergereedskap, die tiendes van koring, wyn en olie, die aandeel van die Leviete, die sangers en die poortwagte, en die offergawe vir die priesters. 6Ek was nie in Jerusalem toe dit alles gebeur het nie, want in die twee en dertigste regeringsjaar van koning Artasasta van Babel is ek terug na die koning toe. Ek kon eers met verloop van tyd van die koning verlof vra 7en na Jerusalem toe kom. Toe ek uitvind watter verkeerde ding Eljasib gedoen het deur vir Tobija 'n kamer in die voorhof van die tempel in te rig, 8was ek baie kwaad. Ek het al Tobija se huisraad uit die kamer gegooi 9en opdrag gegee dat die kamer gereinig moet word. Daarna het ek die goed wat in die tempel gebruik is, en die graanoffer en die wierook daar teruggesit.

Nehemia herstel die Leviete se voorregte en diens

10Verder het ek uitgevind dat die Leviete nie hulle aandeel aan onderhoud ontvang het nie, en dat hulle en die sangers wat dienswerk moes doen, weg is, elkeen na sy eie grond toe. 11Ek het die ampsdraers sterk aangespreek en gesê: “Waarom is die tempel verwaarloos?” Daarna het ek die Leviete weer bymekaargemaak en in hulle poste teruggeplaas. 12Die hele Juda het daarna die tiendes van koring, wyn en olie ingebring na die voorraadkamers toe. 13Ek het die priester Selemja, die sekretaris Sadok en die Leviet Pedaja in beheer van die voorraadkamers geplaas, en hulle is bygestaan deur Ganan seun van Sakkur, seun van Mattanja. Hulle is as betroubaar beskou, en dit was hulle taak om die uitdeling aan hulle ampsgenote te doen.

14Onthou tog wat ek gedoen het, my God! Moet tog nie dat my liefdesdade wat ek vir die huis van my God en vir sy diens gedoen het, vergeet raak nie.

Nehemia tref maatreëls oor die sabbat

15Daardie tyd het ek in Juda gesien dat mense die wynpers op die sabbat trap, en vragte koring en ook wyn, druiwe, vye en allerhande pakke op donkies laai en in Jerusalem inbring op die sabbat. Ek het hulle gewaarsku om nie op dié dag kos te verkoop nie.

16Die Tiriërs wat in Jerusalem gewoon het, het vis en allerhande koopware ingebring en op die sabbat aan die Judeërs en in Jerusalem verkoop. 17Ek het die vooraanstaande burgers van Juda sterk aangespreek en vir hulle gesê: “Hoe kan julle so 'n verkeerde ding doen dat julle die sabbat ontheilig? 18Dit is presies wat julle voorvaders gedoen het, sodat ons God al hierdie onheil oor ons en oor hierdie stad gebring het! Nou vererger julle die toorn wat op Israel rus deur die sabbat te ontheilig!”

19Ek het toe opdrag gegee dat die poorte van Jerusalem gesluit moes word sodra dit daar begin donker word op die aand voor die sabbat en dat die poorte nie oopgesluit moes word voor ná die sabbat nie. Ek het van my eie dienaars by die poorte geplaas, sodat daar geen vrag op die sabbat sou inkom nie. 20Toe het die handelaars en smouse 'n keer of twee net buite Jerusalem geslaap. 21Ek het hulle gewaarsku en vir hulle gesê: “Waarom slaap julle hier teen die muur? As julle dit weer doen, sal ek julle straf.” Daarna het hulle nie weer op die sabbat gekom nie. 22Ek het die Leviete opdrag gegee om hulle te reinig en die poorte te kom bewaak sodat die sabbatdag heilig gehou sou word.

Onthou tog ook dit, my God, ontferm U oor my in u groot liefde!

Nehemia tree op teen dié wat met vreemde vrouens getroud is

23Daardie tyd het ek ook nog Judeërs gesien wat getroud was met vrouens uit Asdod en met Ammonitiese en Moabitiese vrouens. 24Van hulle kinders het die helfte Asdods gepraat of die taal van 'n ander volk. Judees kon hulle nie praat nie. 25Ek het met die mense geraas, hulle vervloek, party van hulle geslaan, hulle hare uitgetrek en hulle voor God 'n eed laat aflê: “Julle sal julle dogters nie laat trou met die heidene se seuns nie en hulle dogters nie met julle seuns of met julleself nie. 26Dit was tog hiermee dat koning Salomo van Israel gesondig het! Onder die groot nasies was daar nie 'n koning soos hy nie. Sy God het hom liefgehad en hom koning laat word oor die hele Israel, maar vreemde vrouens het ook vir hom laat sondig. 27En nou moet ons hoor dat julle hierdie groot kwaad begaan het en ontrou aan ons God geword het deur vreemde vrouens te trou!”

28'n Seun van Jojada seun van die hoëpriester Eljasib was die skoonseun van Sanballat die Goroniet. Ek het hom van my af weggejaag.

29Onthou hulle, my God; hulle het die priesterskap en die plegtige onderneming van die priesters en die Leviete besoedel.

30Ek het hulle gesuiwer van al wat vreemd was en diensbeurte vir die priesters en Leviete vasgestel, elkeen vir sy werk, 31en ook die heffings van hout op die vasgestelde tye, en die eerstelinge.

Onthou dit tot my voordeel, my God!

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS