Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 155

Nehemia 1–7

Bybelteks(te)

Nehemia kry berig oor Jerusalem

1Die verhaal van Nehemia seun van Gakalja.

Dit was in die maand Kislef, die twintigste jaar. Ek was in die vestingstad Susan. 2Ganani, een van my medeamptenare, het daar aangekom uit Juda, hy en 'n paar ander manne. Ek het by hulle navraag gedoen oor die Judeërs wat uit die ballingskap vrygelaat is en teruggegaan het, en oor Jerusalem, 3en hulle het vir my gesê: “Die ballinge wat teruggegaan het, beleef daar in die provinsie Juda groot ellende en smaad. Die muur van Jerusalem lê om, en die stadspoorte is verbrand.”

Die gebed van Nehemia

4By die aanhoor van dié woorde het ek gaan sit en gehuil en dae lank getreur. Ek het gevas en tot die God van die hemel gebid. 5Ek het gesê:

“Ag, Here, God van die hemel, groot en ontsagwekkende God wat u verbond en u troue liefde handhaaf teenoor dié wat vir U liefhet en u gebooie gehoorsaam, 6luister tog, gee tog ag op die gebed wat ek, u dienaar, sonder ophou tot U bid.

“Ek bid vir u dienaars, die Israeliete, ek doen belydenis van die sondes wat ons teen U begaan het. Ook ek en my familie het gesondig. 7Ons het U nie geëer nie, ons was ongehoorsaam aan die gebooie, die voorskrifte, die bepalings wat U aan u dienaar Moses gegee het.

8“Dink tog aan die belofte wat U aan u dienaar Moses gemaak het: ‘As julle ontrou is, sal Ek julle onder die volke verstrooi, 9maar as julle julle tot My bekeer en my gebooie gehoorsaam en nakom, sal Ek julle weer bymekaarmaak, al is julle oor die hele aarde versprei. Ek sal julle terugbring na die plek toe wat Ek gekies het om my Naam daar te laat woon.’

10“Hulle is u dienaars, u volk vir wie U met u groot mag en krag gered het. 11Ag, Here, luister tog na die gebed van u dienaar en na die gebed van u dienaars, hulle vir wie dit 'n vreugde is om u Naam te eer. Laat my tog voorspoedig wees met wat ek vandag wil doen. Laat hierdie man my simpatiek gesind wees.”

Ek was die koning se skinker.

Nehemia kry toestemming om Jerusalem te herbou

1Dit was in die maand Nisan, die twintigste jaar van koning Artasasta. Die wyn was voor hom, en ek moes dit optel en aan hom gee. Ek was nooit bedruk voor hom nie, 2maar dié dag sê die koning vir my: “Hoekom lyk jy so bedruk? Is jy dalk siek? Nie? Hartseer dan?”

Ek was baie bang, 3maar ek het vir die koning gesê: “Mag die koning baie lank lewe! Hoe sal ek dan nie bedruk lyk as die stad waar my voorvaders begrawe is, in puin lê en sy poorte verbrand is nie?”

4Toe sê die koning vir my: “Is daar iets wat jy my wil vra?”

Ek het 'n skietgebed opgestuur na die God van die hemel 5en toe vir die koning gesê: “As die koning dit goedvind, as u dienaar op u goedgesindheid mag reken, stuur my na Juda toe, na die stad waar my voorvaders begrawe is, sodat ek die stad kan herbou.”

6Die koningin het langs die koning gesit. Hy het vir my gevra: “Hoe lank sal jou reis duur en wanneer sal jy terug wees?”

Hy was die saak dus goedgesind, hy het my die opdrag gegee. Ek het vir hom 'n tyd aangedui 7en toe vir hom gevra: “As die koning dit goedvind, laat ek briewe kry aan die goewerneurs in Wes-Eufraat, sodat hulle my vrye deurgang kan gee tot ek in Juda aankom. 8Ek het ook 'n brief aan Asaf nodig, die opsigter oor die staatsbos, dat hy my kan voorsien van hout om die poorte van die vesting by die tempel te maak, en vir die stadsmuur en vir die huis wat ek sal bewoon.”

My God het sy goeie hand oor my gehou, en die koning het my versoek toegestaan. 9Ek het by die goewerneurs in Wes-Eufraat gekom en die briewe van die koning aan hulle oorhandig. Die koning het offisiere en ruiters met my saamgestuur.

10Toe Sanballat die Goroniet en Tobija die Ammonitiese amptenaar dit hoor, was dit vir hulle slegte nuus. Hulle het dit as 'n groot ramp beskou dat daar iemand gekom het wat iets goeds vir die Israeliete wou doen.

Die besluit om die muur te herstel

11Ek het in Jerusalem aangekom, en na ek drie dae daar was, 12is ek die nag stilletjies uit met 'n paar man by my. Ek het vir niemand gesê wat my God my in die hart gegee het om vir Jerusalem te doen nie. Behalwe my rydier het ek geen diere by my gehad nie. 13Ek is dié nag deur die Dalpoort na die Jakkalsfontein en die Vullispoort toe en het die mure van Jerusalem nagegaan waar hulle afgebreek was en ook die poorte wat verbrand was. 14Toe ek by die Fonteinpoort en die Koningsdam kom, was daar nie plek vir my rydier om verby te kom nie, 15en moes ek in die nag met die vallei op boontoe sodat ek die muur kon nagaan. Daarna het ek omgedraai en is ek weer deur die Dalpoort en terug huis toe.

16Die ampsdraers het nie geweet waarheen ek was en wat ek gedoen het nie. Tot dusver het ek niks laat blyk teenoor die Judeërs, die priesters, die vooraanstaande burgers, die ampsdraers of die ander wat die werk moes doen nie. 17Maar toe sê ek vir hulle: “Julle sien self die benarde toestand waarin ons sit. Jerusalem lê in puin en sy poorte is verbrand. Kom ons herbou die muur van Jerusalem, dat dié vernedering nie langer op ons rus nie.”

18Ek het hulle toe vertel hoe my God sy goeie hand oor my gehou het en wat die koning vir my gesê het. Hulle het gesê: “Kom ons bou!” en hulle het die goeie werk aangepak.

19Maar toe Sanballat die Goroniet, Tobija die Ammonitiese amptenaar en Gesem die Arabier hoor wat ons doen, het hulle ons uitgelag en smalend gevra: “Wat vir 'n ding is dit waarmee julle besig is? Wil julle in opstand kom teen die koning?”

20Ek het hulle geantwoord en vir hulle gesê: “Die God van die hemel sal ons laat slaag in wat ons doen. Ons, sy dienaars, gaan bou. Julle het nóg aandeel nóg reg in Jerusalem, en geen historiese band met hom nie.”

Die bouwerk begin

1Die hoëpriester Eljasib en sy ampsgenote die priesters het begin en die Skaappoort gebou. Hulle het die poort gewy en sy deure ingesit. Daarna het hulle gebou tot by die Toring-van-die-Honderd, dit gewy en toe verder gebou tot by die Gananeltoring. 2Die manne van Jerigo het die volgende stuk gebou en Sakkur seun van Imri die volgende. 3Die Senaäfamilie het die Vispoort gebou. Hulle het die houtwerk klaar gemaak en die deure, die skarniere en die sluitbalke ingesit. 4Meremot seun van Urija, seun van Kos, het die volgende stuk herstel, Mesullam seun van Berekja, seun van Mesesabel, die volgende, en Sadok seun van Baäna die volgende. 5Die volgende stuk is herstel deur die mense van Tekoa, maar hulle vooraanstaande mense was nie gewillig om swaar werk te doen vir hulle Here nie. 6Jojada seun van Paseag, en Mesullam seun van Besodja het die Ou Poort herstel. Hulle het die houtwerk klaar gemaak en die deure, die skarniere en die sluitbalke ingesit. 7Die volgende stuk is herstel deur Melatja van Gibeon en Jadon van Meronot, en deur die manne van Gibeon en Mispa wat in diens was van die goewerneur van Wes-Eufraat. 8Ussiël seun van Garhaja, en die smede het die volgende stuk herstel, en Gananja, een van die salfmengers, die volgende. Hulle het buite om Jerusalem gebou tot by die Breë Muur. 9Refaja, seun van Gur en gesagvoerder oor 'n halwe stadswyk van Jerusalem, het die volgende stuk herstel, 10en Jedaja seun van Garumaf die volgende, tot regoor sy huis. Die volgende stuk is herstel deur Gattus seun van Gasabneja. 11'n Volgende deel, tot by die Bakoondtoring, is herstel deur Malkija seun van Garim, en Gassub seun van Pagat-Moab. 12Sallum, seun van Loges en gesagvoerder oor 'n halwe stadswyk van Jerusalem, het die volgende stuk gebou, hy en sy dogters.

13Die Dalpoort is herstel deur Ganun en die inwoners van Sanoag. Hulle het die poort herbou, sy deure, skarniere en sluitbalke ingesit, en die stuk muur van vier honderd en vyftig meter tot by die Vullispoort gebou. 14Die Vullispoort self is herstel deur Malkija, seun van Rekab en gesagvoerder oor die stadswyk Bet-Kerem. Hy het die poort herbou en die deure, skarniere en sluitbalke ingesit. 15Die Fonteinpoort is herstel deur Sallun, seun van Kol-Gose en gesagvoerder van die stadswyk Mispa. Hy het die poort herbou, die dak opgesit en die deure, skarniere en sluitbalke ingesit, en verder ook die muur van die Kanaaldam herbou, van die Koningstuin af tot by die trappe wat uit die Dawidstad afkom. 16Nehemia, seun van Asbuk en gesagvoerder oor die halwe stadswyk Bet-Sur, het die volgende stuk herstel, tot regoor die Dawidsgrafte en tot by die gemesselde dam en die kwartiere van die lyfwag.

17Die volgende stuk is herstel deur die Leviete, die eerste deur Regum seun van Bani, en die ander deel deur Gasabja, die gesagvoerder oor die halwe stadswyk Keïla, namens sy wyk. 18Die volgende stuk is herstel deur hulle ampsgenote, die eerste deur Binnuï, seun van Genadad en gesagvoerder oor die ander helfte van die stadswyk Keïla, 19en die ander deel deur Eser, seun van Jesua en gesagvoerder oor Mispa. Dit was die deel van regoor die ingang van die wapenkamer af tot by die draai in die muur. 20Die volgende deel is herstel deur Baruk seun van Sabbai, van die draai af tot by die ingang na die hoëpriester Eljasib se huis. 21Die volgende stuk, van die ingang na Eljasib se huis af tot aan die anderkant van die huis, is herstel deur Meremot seun van Urija, seun van Kos.

22'n Volgende stuk is deur die priesters herstel, die eerste deur die manne van die omliggende gebied, 23die tweede deel deur Benjamin en Gassub, regoor hulle huise, die derde deel deur Asarja seun van Maäseja, seun van Ananeja, reg voor sy huis. 24Die volgende stuk, die deel van Asarja se huis af tot by die draai en verder tot in die hoek, is herstel deur Binnuï seun van Genadad. 25Palal seun van Usai het die stuk herstel van regoor die draai af, en ook die toring teen die boonste paleis by die Wagplein. Die volgende stuk is herstel deur Pedaja seun van Paros, 26en die tempelslawe wat op die Ofel gewoon het. Dit was die gedeelte tot regoor die Waterpoort aan die oostekant en die aangeboude toring.

27Die volgende deel, die stuk van regoor die groot aangeboude toring af tot by die Ofelmuur, is herstel deur die mense van Tekoa. 28Die stuk van bokant die Perdepoort af is deur die priesters herstel, elkeen die gedeelte regoor sy huis. 29Sadok seun van Immer het die volgende stuk, dié regoor sy huis, herstel, en Semaja, seun van Sekanja en opsigter van die Oospoort, die volgende stuk. 30Die volgende deel is herstel deur Gananja seun van Selemja, en Ganun die sesde seun van Salaf, en die volgende deur Mesullam seun van Berekja tot regoor sy kamer. 31Malkija, een van die smede, het die volgende stuk herstel, tot by die kwartiere van die tempelslawe en die handelaars, regoor die Inspeksiepoort en verder tot by die kamer bo-op die hoek. 32Tussen die kamer op die hoek en die Skaappoort het die smede en die handelaars die herstelwerk gedoen.

Pogings om die bouwerk tot stilstand te bring

1Toe Sanballat hoor ons bou die muur, was hy woedend. Hy het met groot ergernis smalend teen die Judeërs uitgevaar 2en vir sy medeamptenare en vir die soldate in Samaria gesê: “Waarmee is die arme Judeërs besig? Wil hulle vir hulle 'n stadsmuur bou? Wil hulle offerandes bring en in een dag klaarmaak? Wil hulle die klippe laat herleef uit daardie hope stof en as?”

3Tobija die Ammoniet het langs Sanballat gestaan en hy het gesê: “Laat hulle bou! Daardie klipmuur van hulle sal omval as 'n jakkals daarteen spring!”

4Hoor dit, ons God! Ons word bespotlik gemaak! Laat dié smaad op hulle eie kop afkom, laat hulle gevangenes word in 'n land van ballingskap! 5Moenie hulle oortreding vergewe nie, moenie dat hulle sonde ooit voor U uitgewis word nie! Hulle het die bouers beledig!

6Ons het bly bou aan die muur. Die hele muur was al halfpad opgebou. Die mense se hart was in die werk.

7Sanballat, Tobija, die Arabiere, die Ammoniete en die mense van Asdod was hewig ontsteld toe hulle hoor die herstel aan Jerusalem se mure vorder en die afgebreekte gedeeltes is byna klaar opgebou. 8Hulle het saamgesweer om Jerusalem te kom aanval en verwarring te stig.

9Ons het tot ons God gebid en dag en nag wagte teen hulle uitgesit.

10Die Judeërs het begin kla:

“Die draers se kragte gee in,

die puin is te veel.

Ons gaan dit nie regkry

om die muur klaar te bou nie.”

11Ons teenstanders het gedink: hulle sal niks weet of sien voor ons tussen hulle is en hulle doodmaak en die werk tot stilstand bring nie.

12Ons is egter keer op keer gewaarsku deur Judeërs wat naby ons vyande gewoon het en van oral af na ons toe gekom het. 13Ek het die volk, gewapen met swaarde, spiese en pyle en boë, familiegewys ingedeel en hulle stelling laat inneem agter die muur onderkant elke plek waar die muur nog nie hoog genoeg was nie. 14Daarna, toe ek agterkom dit is nodig, het ek die vooraanstaande burgers, die ampsdraers en die res van die volk toegespreek: “Moenie vir hulle bang wees nie. Dink aan die Here, groot en ontsagwekkend, en veg vir julle broers, julle seuns en julle dogters, julle vrouens en julle huise.”

15Ons vyande het gehoor dat ons van hulle planne weet en dat God dit verydel het, en ons kon almal teruggaan muur toe, elkeen na sy werk toe. 16Van daardie dag af was een helfte van my manne aan die werk en het die ander helfte die spiese, skilde, pyle en boë en harnasse gereed gehou. Die gesagvoerders het plek ingeneem agter elke familiegroep Judeërs 17wat aan die muur gebou het. Dié wat boumateriaal moes aandra, het met een hand die werk gedoen en met die ander hand 'n wapen vasgehou. 18Die bouers het elkeen sy swaard om die heupe vasgegord gehad. Die ramshoringblaser het naby my gebly. 19Ek het vir die vooraanstaande burgers, die ampsdraers en die res van die volk gesê: “Die werk is groot en uitgestrek, en ons is oor die hele muur uitgesprei, elkeen ver van die naaste man af. 20Waar julle ook al die ramshoring hoor blaas, daar moet julle by ons saamtrek. Ons God sal vir ons die stryd voer.”

21Ons het met die werk aangegaan, die helfte van die manne met spiese in die hand, van dagbreek af tot die sterre uitgekom het. 22Ek het dié tyd ook vir die volk gesê: “Elke man met sy handlanger moet in Jerusalem oornag, sodat hulle snags vir wagdiens en bedags vir die werk beskikbaar is.”

23Nie ek of my medeamptenare of my dienaars of die wagte by my het kans gekry om ons klere uit te trek nie en selfs by die water het ons ons wapens gereed gehou.

Hulp aan dié wat uitgebuit is

1Sekere mense en hulle vrouens het 'n ernstige klag teen hulle Judese volksgenote ingebring. 2Party het gesê: “Ons, ons seuns en ons dogters is baie. Ons moet koring in die hande kry om te eet en te lewe.”

3Party het gesê: “Ons moes vanweë die hongersnood ons lande, ons wingerde en ons huise verpand om koring in die hande te kry.”

4Party het gesê: “Ons moes geld leen om aan die koning die belasting op ons lande en ons wingerde te betaal. 5Ons en ons volksgenote, hulle seuns en ons seuns, is tog één, maar óns moet van ons seuns en ons dogters laat slawe word. Van ons dogters is al klaar slawe, en ons kan daar niks aan doen nie, want ons lande en ons wingerde is in ander se hande.”

6Ek was hewig ontsteld toe ek dié klag en dié beskuldigings hoor. 7Na ek dit oorweeg het, het ek die skuld op die vooraanstaande burgers en die ampsdraers gelê en vir hulle gesê: “Julle is besig om julle volksgenote uit te buit!”

Ek het bowendien 'n groot volksvergadering belê om hulle aan die man te bring 8en daar vir hulle gesê: “Ons het ons Judese volksgenote wat aan heidene verkoop was, teruggekoop sover dit vir ons moontlik was. Nou verkoop júlle julle volksgenote, en moet ons hulle ook uiteindelik terugkoop!”

Die manne het stilgebly; ek kon nie 'n woord uit hulle kry nie.

9Toe sê ek verder: “Dit is nie 'n goeie ding wat julle besig is om te doen nie. Julle moet tog eerbied vir ons God hê in julle optrede en nie ons vyande, die heidene, minagting vir ons laat kry nie! 10Ek, my medeamptenare en my helpers moes ook aan dié mense geld en koring leen. Maar laat ons tog die uitbuiting staak. 11Gee vandag nog hulle lande, wingerde, olyfboorde en huise vir hulle terug en skeld hulle ook nog een persent kwyt van die geld, die koring, die wyn en die olie wat julle aan hulle geleen het.”

12Hulle het gesê: “Ons sal dit teruggee en niks meer van hulle eis nie. Ons sal maak soos u gesê het.”

Ek het toe die priesters geroep en die burgers en amptenare onder eed laat onderneem om hiervolgens te handel. 13Self het ek my sakke uitgeskud en gesê: “Mag God elkeen wat nie woord hou nie, so uit sy huis en sy besittings uitskud, dat hy net so kaal uitgeskud en leeg is.”

Die hele vergadering het gesê: “Amen!” en hulle het die Here geprys. Die mense het toe gedoen wat ek gevra het.

Nehemia se onbaatsugtigheid

14Van die dag af dat ek aangestel is as goewerneur in Juda, van die twintigste jaar af tot die twee en dertigste jaar van koning Artasasta, twaalf jaar lank, het ek en my medeamptenare nie aanspraak gemaak op die goewerneurstoelae nie. 15Die vroeëre goewerneurs, almal voor my, het swaar eise aan die volk gestel. Hulle het behalwe brood en wyn elke dag ook nog vier honderd en sestig gram silwer geëis. Hulle amptenare het ook baas gespeel oor die volk. Ek het nie so gemaak nie, uit eerbied vir God. 16Ek het my volle gewig ingegooi by die werk aan hierdie muur, ek het nie lande gekoop nie, en al my helpers was hier by die werk saamgetrek. 17Honderd en vyftig man van die Judeërs en die amptenare en boonop die mense wat van die heidennasies rondom ons na ons toe gekom het, het aan my tafel geëet. 18Daar moes elke dag 'n bees, ses slagskape en 'n klomp voëls vir my gaargemaak word, en om die tien dae moes daar 'n groot hoeveelheid wyn vir die menigte kom. Nogtans het ek nie die goewerneurstoelae geëis nie, want die werk was alreeds 'n swaar las op hierdie volk.

19Onthou tog, my God, tot my voordeel, alles wat ek vir hierdie volk gedoen het!

Verdere pogings om die bouwerk tot stilstand te bring

1Sanballat, Tobija, die Arabier Gesem en die res van ons vyande het berig gekry dat ek die muur klaar gebou het en dat dit nêrens meer vervalle was nie. In dié stadium was die poortdeure egter nog nie gehang nie. 2Sanballat en Gesem laat my toe weet: “Kan ons mekaar in Kefirim, in die Onolaagte, ontmoet?”

Hulle plan was om my by te kom. 3Ek stuur toe boodskappers na hulle toe en sê: “Ek is besig met 'n groot werk. Ek kan nie kom nie. Hoekom moet die werk stilstaan terwyl ek dit laat lê om na julle toe te kom?”

4Hulle het dieselfde boodskap vier keer gestuur, en elke keer het ek dieselfde antwoord teruggestuur.

5Die vyfde keer stuur Sanballat toe 'n amptenaar na my toe met dieselfde boodskap, maar ook met 'n brief wat nie verseël was nie. 6Daarin was geskrywe:

“Onder die nasies word 'n gerug versprei, en Gesem bevestig dit, dat jy en die Judeërs 'n opstand beplan. Daarom bou jy die muur. Volgens die gerug wil jy koning word oor hulle, 7en jy het ook al profete aangestel om jou in Jerusalem tot koning oor Juda uit te roep. Die gerug wil dat die koning van Persië hiervan te hore sal kom. Kom nou, kom ons praat.”

8Ek het hom terug laat weet: “Niks van wat jy sê, is waar nie. Jy suig dit uit jou duim.”

9Hulle het almal geprobeer om ons die skrik op die lyf te ja, met die gedagte: Hulle sal die werk laat staan en dit sal nie klaarkom nie.

Sterk tog my hande, o God!

10Ek het by Semaja seun van Delaja, seun van Mehetabel, gekom waar hy homself in sy huis toegesluit het. Hy het vir my gesê:

“Kom ons ontmoet mekaar in die huis van God,

binne-in die tempel,

en laat ons dan die deure van die tempel sluit,

want daar kom mense om jou dood te maak,

hulle kom vannag om jou dood te maak.”

11Ek het gesê: “Sal 'n man soos ek vlug, iemand soos ek tempel toe gaan om te kan bly lewe? Ek sal nie gaan nie!”

12Ek het toe geweet dat God hom nie gestuur het nie, maar dat hy dié voorspelling teen my gemaak het omdat Tobija en Sanballat hom omgekoop het. 13Hy is omgekoop om my bang te maak sodat ek 'n misstap sou begaan en hulle die geleentheid gee om my te beskinder en my naam sleg te maak.

14My God, onthou wat Tobija en Sanballat gedoen het, en ook die profetes Noadja en die ander profete wat my wou bang maak.

Voltooiing van die muur

15Die muur is voltooi op die vyf en twintigste van die maand Elul, binne twee en vyftig dae. 16Toe al ons vyande dit hoor, en die nasies rondom ons dit sien, was hulle selfversekerdheid daarmee heen. Hulle het toe geweet ons doen hierdie werk met die hulp van ons God.

17In daardie selfde tyd het daar baie briewe van vooraanstaande Judese burgers na Tobija toe gegaan en briewe van hom af na hulle toe gekom. 18Baie Judeërs het noue bande met hom gehad, want hy was die skoonseun van Sekanja seun van Arag, en sy seun Joganan was getroud met 'n dogter van Mesullam seun van Berekja. 19Hulle het gedurig voor my gepraat van Tobija se goeie hoedanighede, en alles wat ek gesê het, aan hom oorgedra. Dan het hy briewe gestuur en my probeer bang praat.

1Toe die muur voltooi is, het ek die deure gehang en poortwagte, sangers en Leviete aangestel. 2Ek het Ganani, my ampsgenoot, en Gananja, die bevelhebber van die vesting, in bevel van Jerusalem geplaas. Gananja was 'n betroubare man wat eerbied vir God gehad het, meer as baie ander. 3Ek het hulle beveel: “Moenie die poorte van Jerusalem oopmaak voor die son warm is nie en maak die deure weer toe en grendel hulle terwyl die poortwagte nog op hulle pos is. Stel ook wagte aan uit die inwoners van Jerusalem, party op die wagposte en party voor hulle huise.”

Die lys van mense wat saam met Serubbabel teruggekom het

(Vgl. Esra 2)

4Die stad was uitgestrek en groot, met min mense daarin, en daar was nog nie genoeg huise gebou nie. 5My God het my die besluit laat neem om die vooraanstaande burgers, die amptenare en die ander mense te laat bymekaarkom vir opname in die familieregister. Ek het die register van dié wat eerste teruggekom het, in die hande gekry, en daarin die volgende opgeskryf gevind:

6“Hier volg 'n opgawe van die mense uit die provinsie Juda wat uit die ballingskap teruggekom het na Jerusalem en Juda toe, elkeen na sy eie stad toe. Hulle is weggevoer deur koning Nebukadnesar van Babel, 7en hulle het teruggekom saam met Serubbabel, Josua, Nehemia, Asarja, Raämja, Nagamani, Mordegai, Bilsan, Mispar, Bigwai, Regum en Baäna. Die getalle van die mense van die volk Israel:

“Ingedeel volgens families:

    8Paros 2 172, 9Sefatja 372, 10Arag 652, 11Pagat-Moab, uit die families van Josua en Joab, 2 818, 12Elam 1 254, 13Sattu 845, 14Sakkai 760, 15Bani 648, 16Bebai 628, 17Asgad 2 322, 18Adonikam 667, 19Bigwai 2 067, 20Adin 655, 21Ater, uit die familie van Hiskia, 98, 22Gasum 328, 23Besai 324, 24Garif 112.

“Ingedeel volgens plek van herkoms:

    25Gibeon 95, 26Betlehem en Netofa 188, 27Anatot 128, 28Bet-Asmawet 42, 29Kirjat-Jearim, Kefira en Beërot 743, 30Rama en Geba 621, 31Mikmas 122, 32Bet-El en Ai 123, 33Nebo 52, 34Elam 1 254, 35Garim 320, 36Jerigo 345, 37Lod, Gadid en Ono 721, 38Senaä 3 930.

39“Priesterfamilies:

    Jedaja, uit die huis van Jesua, 973, 40Immer 1 052, 41Pasgur 1 247, 42Garim 1 017.

43“Levitiese families:

    Jesua, uit die familie van Kadmiël, uit die Hodaujagroep, 74, 44sangers uit die Asafgroep 148, 45poortwagte uit die families van Sallum, Ater, Talmon, Akkub, Gatita en Sobai 138.

46“Tempelslawe met hulle families:

    Siga, Gasufa, Tabbaot, 47Keros, Sia, Padon, 48Lebana, Gagaba, Salmai, 49Ganan, Giddel, Gagar, 50Reaja, Resin, Nekoda, 51Gassam, Ussa, Paseag, 52Besai, Meünim, Nefusim, 53Bakbuk, Gakufa, Gargur, 54Baslut, Megida, Garsa, 55Barkos, Sisera, Temag, 56Nesiag en Gatifa.

57“Nakomelinge van die dienaars van Salomo, met hulle families:

    Sotai, Soferet, Peruda, 58Jala, Darkon, Giddel, 59Sefatja, Gattil, Pokeret-Sebajim en Amon.
    60Al die tempelslawe en die nakomelinge van die amptenare van Salomo was saam 392.
    61Uit Tel-Melag, Tel-Garsa, Kerub-Addan en Immer het mense teruggekom wat nie uit hulle familieverband en afstamming kon aantoon dat hulle deel van Israel is nie. 62Dit was die families van Delaja, Tobija en Nekoda, altesaam 642 mense. 63Van die priesterfamilies was daar ook nog dié van Gabaja, Kos en Barsillai, dié Barsillai wat getroud is met 'n dogter van die Gileadiet Barsillai en toe na hom vernoem is. 64Hierdie families het probeer vasstel of hulle in die registers opgeneem is, maar daar kon niks gevind word nie, en hulle is uit die priesterskap onthef. 65Die amptenaar wat met dié saak belas was, het beslis dat hulle nie van die gewyde gawes mag eet voordat 'n priester uitsluitsel gegee het met die urim en die tummim nie.

66“Die hele groep was in totaal 42 360, 67afgesien van hulle slawe en slavinne; dié was 7 337. Dan was daar ook nog 245 sangers en sangeresse, 69asook 435 kamele en 6 720 donkies.”

Bydraes vir die bou van die tempel

70Party familiehoofde het bydraes gegee vir die werk. Die goewerneur het vir die fonds ag en 'n half kilogram goud, vyftig komme en vyf honderd en dertig stelle priesterklere gegee. 71Van die familiehoofde het vir die werkfonds honderd ag en sestig kilogram goud en een en 'n kwart ton silwer bygedra. 72Die res van die mense het honderd ag en sestig kilogram goud, meer as 'n ton silwer en sewe en sestig stelle priesterklere gegee.

Die byeenkoms by die Waterpoort

73Die priesters, die Leviete, die poortwagte, die sangers, 'n deel van die volk, en die tempelslawe het hulle gevestig in die stede waar hulle vandaan gekom het. Dit het die hele Israel gedoen.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS