Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 157

Spreuke 17–19, Psalms 40–41

Bybelteks(te)

1Liewer 'n stukkie droë brood met vrede daarby

as 'n huis vol kos met 'n getwis daarby.

2'n Verstandige slaaf sal gesag kry oor 'n seun

wat 'n verleentheid is

en sal 'n erfgenaam word saam met die seun se broers.

3Silwer word in 'n smeltkroes gelouter en goud in 'n oond,

maar dit is die Here wat die gesindheid toets.

4Wie op onreg uit is, luister gretig na kwaadwillige woorde;

wie van valsheid hou, hoor graag woorde wat verderf saai.

5Wie met 'n arm mens spot, beledig sy Maker;

wie hom verheug oor die ongeluk van 'n ander,

sal self nie vrykom nie.

6Kleinkinders is vir oumense 'n trots;

vaders is vir hulle seuns 'n sieraad.

7Verstandige woorde soek jy nie by 'n dwaas nie,

nog minder leuens by 'n man van aansien.

8Vir wie dit gee, het omkoopgeskenke towerkrag;

vir hom moet dit sukses verseker waar hy ook gaan.

9Wie 'n verkeerde optrede teenoor homself verontagsaam,

soek goeie verhoudinge;

wie 'n saak bly ophaal,

bring verwydering tussen vriende.

10'n Enkele dreigement maak meer indruk op 'n verstandige mens

as honderd houe op 'n dwaas.

11'n Slegte mens is net op kwaad uit,

maar iemand sal gestuur word om hom te straf.

12'n Mens kan liewer 'n beerwyfie raakloop

wat van haar kleintjies beroof is,

as 'n dwaas met sy sotheid.

13As jy goed met kwaad vergeld,

sal die kwaad nooit uit jou huis wyk nie.

14Om rusie te begin, is om 'n damwal te breek;

staak liewer die getwis voor die vloed jou tref.

15Die Here het 'n afsku van wie die skuldige onskuldig verklaar

én van wie die onskuldige skuldig verklaar.

16Watter nut het dit as 'n dwaas geld in die hand het

om wysheid te koop en hy het nie verstand nie?

17Op 'n vriend se liefde kan jy altyd reken;

jou broer is daar met die oog op jou nood.

18Dit is 'n mens sonder insig wat borg staan,

wat instaan vir die skuld van sy naaste.

19Wie hou van aanstoot gee, hou van rusie;

wie homself hoog aanslaan, soek sy eie ondergang.

20'n Vals mens sal nie voorspoed hê nie;

wie die waarheid verdraai, sal ondergaan.

21Daar wag hartseer vir die vader van 'n dwaas;

wie 'n ongemanierde seun het, het geen vreugde nie.

22'n Vrolike mens is 'n gesonde mens,

'n neerslagtige mens raak uitgeput.

23'n Goddelose mens bied omkoopgeskenke aan en verdraai die reg.

24'n Verstandige mens hou hom besig met wysheid,

maar 'n dwaas se gedagte dwaal doelloos rond.

25'n Onverstandige seun is vir sy ouers 'n ergernis,

hy is vir hulle 'n bitter verdriet.

26Selfs al beboet jy 'n onskuldige mens net, is dit verkeerd,

en om 'n man van aansien te laat slaan, druis in teen die reg.

27Wie die kennis het, kan spaarsaam met sy woorde wees;

'n mens met insig bly kalm.

28As 'n dwaas nie praat nie, kan selfs hy aangesien word vir 'n wyse,

en as hy sy mond toehou, vir 'n verstandige mens.

1Die selfsugtige mens lewe net vir homself,

hy verwerp alle oorlegpleging.

2Die dwaas stel nie belang in insig nie,

hy wil net sy eie opinie bekend maak.

3Waar daar goddeloosheid kom, kom daar krenkende optrede,

en saam met die belediging kom die skande.

4Die woorde van 'n mens kan diep waters wees,

'n bruisende stroom, 'n bron van wysheid.

5Dit is nie goed om partydig te wees vir die skuldige

en om die onskuldige sy reg te ontsê nie.

6'n Dwaas praat hom in 'n rusie in,

hy soek slae met wat hy sê.

7'n Dwaas se mond is sy ondergang,

sy eie woorde is 'n dodelike strik.

8Skinderstories word gretig verslind;

mense sluk dit so maklik.

9Een wat nalatig is met sy werk

en een wat alles afbreek, is tweelingbroers.

10Die Naam van die Here is 'n sterk vesting;

die regverdige vind daar skuiling.

11Die ryk man sien sy besittings as sy vestingstad,

as 'n hoë muur wat hom beskerm.

12Op selfverheffing volg ineenstorting,

op nederigheid eer.

13Wie antwoord voor hy die vraag gehoor het,

is dwaas en kom in die skande.

14Moed laat 'n mens sy lyding dra;

as hy moed verloor het, kan niemand hom dit weer gee nie.

15'n Mens met insig doen kennis op;

wyse mense hou hulle ore oop vir kennis.

16'n Geskenk maak vir 'n mens die pad oop

en gee hom toegang tot mense met mag.

17Iemand wat in 'n regsaak eerste praat, is altyd onskuldig,

maar dan kom iemand anders en ondervra hom.

18Deur 'n beslissing van die Here te vra, kan rusies besleg

en sterk mense uitmekaar gemaak word.

19'n Veronregte broer is ontoegankliker as 'n vestingstad;

rusie is soos die sluitbalk van 'n fort.

20Deur die regte woorde te gebruik, kan 'n mens sy honger stil,

hy kan genoeg kry om te eet deur wat hy sê.

21Die tong het mag oor dood en lewe;

dié wat lief is om te praat, sal die gevolg dra.

22Wie 'n vrou kry, vind geluk

en geniet die goedheid van die Here.

23'n Arm mens pleit,

'n ryke antwoord skerp.

24Maats kan jou breek,

maar daar kan ook 'n vriend wees

wat nader is as 'n broer.

1Liewer arm wees en opreg lewe

as 'n leuenaar en boonop 'n dwaas.

2Ywer sonder kennis deug nie;

oorhaastigheid bring foute.

3Sy eie dwaasheid bring 'n mens op die verkeerde pad

en dan is hy kwaad vir die Here.

4Rykdom vergader baie vriende;

'n arm mens word van sy enigste vriend vervreem.

5'n Vals getuie bly nie ongestraf nie;

wie leuens kwytraak, kom nie vry nie.

6Almal soek die goedgesindheid van 'n man met mag,

elkeen is die vriend van iemand wat geskenke uitdeel.

7As 'n arm man se broers almal niks met hom te doen wil hê nie,

bly sy vriende ook van hom af weg,

en om hulle te soebat, help nie.

8Wie homself liefhet, sorg dat hy wysheid verwerf;

hy stel prys op insig sodat hy voorspoed kan geniet.

9'n Vals getuie bly nie ongestraf nie;

wie leuens kwytraak, gaan tot niet.

10Weelde pas nie by 'n dwaas nie,

nog minder behoort 'n slaaf oor mense van aansien te regeer.

11'n Verstandige mens beteuel sy humeur

en stel sy eer daarin om vergewensgesind te wees.

12'n Koning se woede is soos die brul van 'n leeu,

en sy goedgesindheid soos dou op die gras.

13'n Dwase seun is sy vader se ondergang;

die gekyf van 'n vrou is soos die gedrup uit 'n dak wat lek.

14Van sy ouers kan iemand 'n huis en besittings erf,

maar 'n verstandige vrou is 'n geskenk van die Here.

15Luiheid laat 'n mens diep slaap;

'n lui mens ly honger.

16Wie prys stel op die gebod van die Here, stel prys op sy eie lewe;

wie nie omgee hoe hy lewe nie, sterf.

17Wie hom oor 'n arm mens ontferm, gee 'n lening aan die Here,

en Hy sal hom ten volle vergoed.

18Behandel jou seun streng, dan is daar hoop,

maar moet jou nie te buite gaan en hom doodmaak nie.

19'n Opvlieënde mens boet vir wat hy doen,

maar as jy hom een keer help, sal jy dit elke keer weer moet doen.

20Luister na raad, aanvaar wat jou geleer word,

sodat jy uiteindelik wysheid kan hê.

21Al maak mense hoeveel planne,

wat die Here besluit, staan vas.

22'n Mens wy sy lewe aan wat hy begeer,

maar dit is beter om arm te bly as om te bedrieg.

23Wie die Here dien, se lewe is veilig;

so 'n mens slaap rustig, geen ramp tref hom nie.

24'n Luiaard steek sy hand in die skottel,

maar bring dit nie terug na sy mond toe nie.

25As jy 'n ligsinnige mens klap, leer dié wat nog onervare is, daaruit;

as jy 'n verstandige mens straf,

word hy nog verstandiger.

26'n Seun wat sy pa mishandel en sy ma verstoot,

is skaamteloos en veragtelik.

27My seun, hou gerus maar op met luister na wat jou geleer word

as jy jou nie wil steur aan verstandige raad nie.

28'n Kwaadwillige getuie maak 'n bespotting van die reg;

wat goddelose mense sê, bring onreg.

29Ligsinnige mense moet straf te wagte wees,

en dwase moet slae verwag.

Here, red my tog!

1Vir die koorleier. Van Dawid. 'n Psalm.

2Ek het gesmag na die hulp van die Here.

Hy het na my toe afgebuig

en my hulpgeroep gehoor.

3Hy het my uitgetrek uit die put van die dood,

uit die slymerige modder,

my op 'n rots laat staan

en my weer op vaste grond laat loop.

4Hy het my 'n nuwe lied in die mond gelê,

'n loflied vir ons God.

Baie sal daarvan hoor en Hom die eer toebring,

hulle sal op die Here vertrou!

5Dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel

en hom nie wend tot duister magte

en tot mense wat hulle met skyngode ophou nie.

6Here my God, U het baie wonderlike dinge gedoen;

U dink altyd aan ons;

daar is niemand soos U nie.

Ek sou daarvan wou vertel en daaroor praat,

maar dit is te veel om op te noem.

7Dit is nie diereoffers of graanoffers wat U wil hê nie,

nie brandoffers of sondeoffers wat U vra nie;

U wil gehoorsaamheid hê.

8Daarom het ek gesê: “Hier het ek gekom

soos dit in die boekrol vir my voorgeskrywe is.

9Om u wil te doen, my God, is my een begeerte,

u woord is my hele lewe.”

10Met blydskap het ek aan die gemeente vertel

U het my verlos.

Ek het nie stilgebly nie,

Here, U weet dit!

11Dat U verlos, het ek nie vir myself gehou nie,

ek het gepraat oor u trou en u hulp.

Oor u goedheid en u trou het ek in die gemeente nie stilgebly nie.

12Moet my tog nie uitsluit van u ontferming nie, Here,

laat u liefde en trou my voortdurend bewaak,

13want ramp op ramp het my oorval,

my ongeregtighede het my ingehaal;

ek weet nie meer waarheen nie.

Hulle is meer as die hare op my kop;

ek is moedeloos.

14Here, red my tog asseblief!

Here, kom my tog gou te hulp!

15Laat dié wat my lewe wil neem, self in die ellende beland,

teleurgestel in hulle verwagting;

laat dié wat graag my ondergang wil sien,

op die vlug slaan en beskaamd staan.

16Laat dié wat my spot,

verbysterd staan omdat hulle self in die ellende beland het.

17Laat almal wat by U hulp soek, jubel en bly wees oor U,

laat dié wat op u hulp staatmaak,

altyddeur sê: “Die Here is groot!”

18Ek is hulpeloos en arm,

maar die Here dink aan my.

U is my hulp en my redder;

my God, moet tog nie talm nie!

Here, wees my genadig

1Vir die koorleier. 'n Psalm van Dawid.

2Dit gaan goed met die mens wat omsien na die swakke.

Die Here sal hom red op die dag van nood,

3die Here sal hom beskerm en in die lewe hou;

die hele land sal praat oor hoe goed dit met hom gaan.

U sal hom nie uitlewer aan die wraaksug van sy vyande nie.

4Die Here sal hom bystaan in sy siekte.

As hy siek is, sal U hom genees.

5Ek het gesê: “Wees my genadig, Here!

Maak my tog gesond; ek het teen U gesondig.”

6My vyande wens my net die ergste toe:

“Wanneer gaan hy dood en verdwyn sy naam?”

7As iemand na my kom kyk, dink hy dis klaar met my.

Hy kom kyk hoe sleg dit gaan

en gaan vertel dit buite rond.

8Almal wat my haat, staan en fluister oor my,

hulle wens my net die ergste toe:

9dis 'n dodelike siekte wat hom getref het,

waar hy nou daar lê, sal hy nie weer opstaan nie!

10Selfs my boesemvriend op wie ek vertrou het,

wat altyd by my geëet het,

het my in die rug gesteek.

11Wees U my genadig, Here, en laat my hier opstaan,

dat ek aan hulle kan doen wat hulle aan my gedoen het.

12Dit weet ek: U het my lief,

my vyand sal nie oor my triomfeer nie.

13Ek is onskuldig, U hou my vas

en laat my altyd by U bly.

14Aan die Here, die God van Israel,

kom die lof toe tot in die allerverste toekoms.

Amen, ja, amen.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS