Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 154

Psalms 36–39, Spreuke 15–16

Bybelteks(te)

Hoe kosbaar is u trou, o God!

1Vir die koorleier. Van Dawid, die dienaar van die Here.

2In die hart van die goddelose

het die opstand teen God die laaste woord.

Die goddelose het geen vrees vir God nie

3en praat net goed oor homself.

Hy is altyd daarop uit om kwaad te doen en om te haat.

4As hy praat, is dit kwaadwillig en vals;

verstandig wees en goed doen bestaan nie vir hom nie.

5Selfs as hy gaan lê, dink hy net kwaad uit;

hy bly op 'n pad wat nie reg is nie;

wat sleg is, verwerp hy nie.

6Here, u liefde reik tot in die hemel,

u trou tot in die wolke,

7u geregtigheid tot op die hoogste berge,

die reg wat U spreek, tot in die dieptes van die see.

U sorg vir mens en dier, o Here.

8Hoe kosbaar is u trou, o God!

U beskerm die mense wat by U skuil.

9In u huis geniet hulle oorvloed,

U laat hulle drink uit die strome van u goedheid.

10U is die bron van die lewe,

deur u lig lewe ons.

11Laat u liefde bly by dié wat U erken

en u trou by dié wat opreg is.

12Laat my nie onder die voete van eiegeregtige mense beland nie,

moenie dat goddeloses my hier wegdryf nie!

13Dié wat altyd onreg doen, val net daar waar hulle is;

hulle word platgeslaan en kan nie weer opstaan nie.

Laat jou lewe aan die Here oor

1Van Dawid.

Moet jou nie ontstel oor skelms

en jou kwel oor skurke nie,

2want soos gras vergaan hulle gou

en soos groenigheid verdwyn hulle sommer.

3Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is,

woon en werk rustig voort.

4Vind jou vreugde in die Here,

en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.

5Laat jou lewe aan die Here oor

en vertrou op Hom; Hy sal sorg.

6Hy sal jou onskuld laat deurbreek soos die son,

jou reg soos die helder lig van die middag.

7Daarom moet jy in stilte op die Here vertrou

en jou nie ontstel oor die voorspoedige lewe van 'n skelm nie.

8Moenie kwaad word nie, laat staan die woede,

moet jou nie ontstel nie: dit bring net ellende.

9Die skelms sal uitgeroei word,

maar dié wat hulle vertroue in die Here stel,

sal in besit bly van die land.

10Nog 'n rukkie en daar sal geen goddelose meer wees nie;

'n mens sal hom soek waar hy was,

maar hy sal nie daar wees nie.

11Dié wat nou verdruk word, sal die land besit

en hulle verlustig in hulle welvaart.

12Die goddelose soek die ondergang van die regverdige

en bedreig sy lewe.

13Die Here lag vir die goddeloses,

want Hy sien hulle dag kom.

14Die goddeloses trek die swaard en span die boog

om die hulpelose en die arme dood te maak,

om dié wat die regte pad loop, te vermoor.

15Die goddeloses se swaarde sal hulle eie harte tref

en hulle boë sal stukkend gebreek word.

16Die bietjie van die regverdige

is beter as die rykdom van talle goddeloses,

17want die mag van die goddeloses sal verbreek word,

maar die Here sal die hulp wees van die regverdiges.

18Die Here sorg vir die lewe van die opregtes,

en wat hulle besit, sal hulle behou so lank hulle lewe.

19In tyd van nood sal hulle nie verleë staan nie,

in tyd van gebrek sal hulle genoeg hê.

20Die goddeloses sal te gronde gaan,

die vyande van die Here sal tot niet gaan;

soos mooi weivelde wat in vlamme opgaan,

so sal hulle verdwyn.

21Die goddelose leen en betaal nie terug nie,

die regverdige kry jammer en help.

22Dié wat deur die Here geseën word, sal die land besit;

maar dié wat deur Hom vervloek is, sal uitgeroei word.

23Die Here bepaal die koers van die mens

met wie se pad Hy tevrede is, en Hy ondersteun hom.

24As so iemand val, bly hy nie lê nie,

want die Here help hom op.

25Ek was jonk en ek het oud geword,

maar nooit het ek 'n regverdige verlate gesien

of dat sy nageslag brood soek nie.

26Hy is altyd vrygewig, hy leen uit sonder rente:

met sy nageslag sal dit goed gaan.

27Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is,

dan sal jy die land altyd bewoon,

28want die Here het die reg lief

en sy troue dienaars verlaat Hy nie.

Hulle sal altyd behoue bly,

maar die nageslag van die goddeloses sal uitgeroei word.

29Die regverdiges sal die land besit

en altyd daarin woon.

30Wat die regverdige praat, is wysheid,

wat hy sê, stem ooreen met die reg.

31Die openbaring van sy God is in sy hart,

sy koers is nie onseker nie.

32Die goddelose lê die regverdige voor

en soek 'n kans om hom dood te maak,

33maar die Here los hom nie in die mag van die goddelose nie

en laat nie toe dat hy veroordeel word

as hy voor die regbank staan nie.

34Vertrou op die Here en bly op sy weë;

Hy sal jou weer laat opstaan om die land te besit,

en jy sal die ondergang van die goddeloses aanskou.

35Ek het al gesien dat 'n slegte, roekelose mens

geil opskiet soos 'n plant,

36en toe ek weer verbykom, was hy nie meer daar nie;

ek het hom gesoek en hy was nêrens nie.

37Maar let nou op die eerbare mens,

kyk na die opregte:

die regskape man, vir hom is daar 'n toekoms.

38Dié wat hulle teen die Here verset,

word voor die voet uitgewis,

die toekoms van die goddeloses word afgesny,

39maar die regverdiges word deur die Here gered.

Hy is hulle toevlug in tyd van nood.

40Die Here help hulle en Hy bevry hulle,

Hy bevry hulle van die slegte mense en red hulle,

want hulle skuil by Hom.

My sonde kwel my

1'n Psalm van Dawid. 'n Herinnering.

2Moet my tog nie in u toorn bly straf nie, Here,

en my langer in u gramskap tugtig nie.

3U pyle het my getref,

u hand lê swaar op my.

4Deur u toorn is daar nie meer 'n gesonde plek aan my liggaam nie,

deur my sonde is daar nie meer 'n heel plek aan my lyf nie.

5Ja, my ongeregtighede het my oorweldig

soos 'n las wat vir my te swaar is.

6My wonde stink en sweer,

en dít deur my eie dwaasheid.

7Ek is krom en inmekaar getrek,

ek loop die hele dag en treur,

8want my lyf brand van die koors

en daar is nie meer 'n gesonde plek aan my liggaam nie.

9Ek is gedaan en heeltemal platgeslaan,

my hart jaag en ek brul van die pyn.

10U weet waarna ek smag, Here, my gesmeek is vir U geen geheim nie.

11My hart jaag, my krag het ingegee,

ek kan nie eers meer sien nie.

12My siekte hou my familie en my vriende ver van my af,

en my bure kom nie naby my nie.

13Dié wat my lewe soek, stel vir my strikke,

dié wat daarop uit is om my kwaad aan te doen,

praat al klaar van my ondergang;

die hele dag deur dink hulle vals beskuldigings teen my uit.

14Maar ek hou my doof, ek hoor niks,

ek hou my stom, ek maak my mond nie oop nie.

15Ek het geword soos 'n man wat niks hoor nie

en wat niks het om te antwoord nie.

16Ek vertrou op U, Here,

U sal antwoord, Here my God.

17Ek vra U:

“Moenie dat hulle hulle verlustig in my leed

en hulle groot hou as die lyding vir my te veel word nie.”

18Ek kan dit byna nie meer uithou nie,

ek is nooit sonder pyn nie.

19Ek bely my ongeregtigheid,

my sonde kwel my.

20My vyande is vol lewenskrag

en daar is so baie wat my sonder rede haat,

21wat my kwaad vir goed vergeld

en teen my is omdat ek die goeie najaag.

22Moet my tog nie verlaat nie, Here,

my God, moenie ver van my af bly nie!

23Maak tog gou om my te help,

Here, my Redder!

U is my enigste hoop

1Vir die koorleier. 'n Belydenis. 'n Psalm van Dawid.

2Ek het gesê: “Ek wil sorgvuldig let op my lewe

en nie sondig met wat ek sê nie.

Ek wil nie 'n woord praat

as 'n slegte mens my teëstaan nie.”

3Ek was stom en sprakeloos,

ek het geswyg, nie gepraat nie,

maar my smart het al hoe groter geword.

4Daar was 'n brandpyn in my,

my smart het 'n vuur in my geword.

Toe móés ek praat.

5Maak tog aan my bekend wanneer my einde sal wees, Here,

en hoeveel dae daar vir my oor is,

sodat ek sal weet wanneer my lewe verby is.

6Kyk, U het bepaal dat my dae min sal wees,

in u oë is my lewensduur byna niks.

Ag, alle mense is maar verganklik. Sela

7Die mens leef soos in 'n droom

en hy sloof hom af vir niks.

Hy gaar op, maar weet nie wie dit sal kry nie.

8Is daar nog hoop vir my, Here?

U is my enigste hoop.

9Red my van al my teëstanders,

laat my nie die spot van dwase word nie.

10Ek kla nie, ek maak my mond nie oop nie,

want U het dit oor my gebring.

11Neem tog weg die smart waarmee U my getref het.

Die las wat U my opgelê het, laat my krag ingee.

12As U 'n mens die straf oplê wat sy sonde verdien,

verteer U hom soos 'n mot 'n kleed.

Ag, alle mense is verganklik. Sela

13Hoor tog my gebed, Here,

luister na my hulpgeroep;

moet tog nie koud staan teenoor my trane nie,

want ek is net op u beskerming aangewese;

U alleen sorg vir my, soos vir al my voorvaders.

14Neem tog u straf van my weg,

dat ek weer bly kan wees

voordat ek heengaan en nie meer daar is nie.

1'n Sagte antwoord laat woede bedaar;

'n krenkende woord laat woede ontvlam.

2Die woorde van wyse mense maak kennis iets begeerliks;

dwase mense sê net dwase dinge.

3Die Here sien oral;

Hy hou slegte en goeie mense dop.

4Kalmerende woorde bring lewe,

skynheilige woorde breek mense.

5'n Dwaas verag wat sy vader hom leer;

wie hom laat teregwys, is verstandig.

6In die huis van die regverdige is daar groot rykdom;

die inkomste van die goddelose is vir hom tot nadeel.

7Wyse mense versprei kennis met wat hulle sê;

dwase het verdraaide opvattings.

8Die Here het 'n afsku van die offers van goddeloses,

maar Hy aanvaar die gebede van opregtes.

9Die Here het 'n afsku van die lewenswyse van goddeloses;

maar Hy het dié lief wat volgens sy wil lewe.

10Wie die regte pad verlaat, sal swaar gestraf word;

wie teregwysing haat, sal sterf.

11Vir die Here is die doderyk

en die onderaardse diepte nie verborge nie,

hoeveel minder die gedagtes van mense.

12'n Ligsinnige mens hou nie daarvan

dat hy tereggewys word nie;

hy word nie 'n wyse mens nie.

13Blydskap laat 'n mens se gesig straal;

smart maak 'n mens terneergedruk.

14'n Verstandige mens is op soek na kennis;

'n dwaas voed homself met dwaasheid.

15Dit gaan altyd sleg met 'n bedrukte mens;

die blymoedige mens se hele lewe is 'n fees.

16Liewer min hê en die Here dien

as groot rykdom en bekommernis daaroor.

17Liewer net 'n bietjie groente en liefde daarby

as 'n vetgemaakte os en haat daarby.

18'n Humeurige mens soek skoor;

'n verdraagsame mens maak rusies uit die wêreld.

19'n Luiaard se pad is met dorings besaai;

'n opregte mens het 'n gelyk pad.

20'n Wyse seun maak sy ouers bly,

'n dwase mens minag hulle.

21Iemand wat verstand kortkom,

vind vreugde in sy dwaasheid;

'n mens met insig leef reg.

22Waar daar nie beraadslaging is nie, slaag planne nie;

dit slaag wanneer daar baie raadgewers is.

23'n Mens vind vreugde daarin as hy die antwoord het;

wat is beter as die regte woord op die regte tyd?

24'n Verstandige mens se pad loop boontoe, na die lewe toe;

hy ontkom die doderyk daar onder.

25Die Here breek die hoogmoedige se huis af

en beskerm die grond van die weduwee.

26Die Here het 'n afsku van bose planne;

aangename woorde is vir Hom aanneemlik.

27Wie hom verryk ten koste van 'n ander,

maak dat sy gesin verstoot word;

wie omkoopgeskenke weier, sal lewe.

28'n Regverdige mens dink voor hy antwoord;

goddelose mense sê net slegte dinge.

29Die Here is ver van die goddeloses af,

maar Hy hoor die gebed van die regverdiges.

30Stralende oë bring blydskap,

goeie tyding verkwik 'n mens.

31Wie op 'n teregwysing ag slaan, sal lewe

en 'n tuiste vind tussen mense wat wysheid het.

32Wie onderrig in die wind slaan, gee nie om vir homself nie;

wie op 'n teregwysing ag slaan, kry insig.

33Om die Here te dien, is om onderrig te word in wysheid;

nederigheid kom voor eer.

1'n Mens kan sy voornemens hê,

maar die laaste woord daaroor kom van die Here af.

2In sy eie oë is alles wat 'n mens doen, reg,

maar die Here ondersoek die gesindheid.

3Laat wat jy doen, aan die Here oor,

dan sal jou voornemens geluk.

4Die Here het alles gemaak met 'n doel,

ook die goddelose vir die dag van straf.

5Die Here het 'n afsku van 'n verwaande mens;

dit staan vas: so 'n mens sal nie ongestraf bly nie.

6Liefde en trou bring versoening

waar daar verkeerd gehandel is;

kwaad word vermy deur die Here te dien.

7As die Here tevrede is met 'n mens se lewe,

laat Hy selfs so 'n mens se vyande in vrede met hom lewe.

8Liewer min hê en reg lewe

as baie inkomste hê deur onreg.

9'n Mens beplan sy pad,

maar die Here bepaal hoe hy loop.

10As die koning praat, is dit met Goddelike gesag;

as hy uitspraak lewer, maak hy nie fout nie.

11Die norme vir die regspraak kom van die Here af;

Hy bepaal die maatstawwe.

12Konings het 'n afsku van verkeerde dade,

want 'n troon word deur regverdigheid bestendig.

13Eerlike mense geniet die koning se goedgesindheid;

hy hou van mense wat die waarheid praat.

14Die woede van die koning dra die boodskap van die dood;

'n wyse mens bring dié woede tot bedaring.

15As die koning vriendelik is, is jy seker van jou lewe;

sy goedgesindheid is soos 'n wolk wat lentereëns bring.

16Probeer liewer wysheid bekom as goud,

liewer insig as silwer.

17Opregte mense vermy die kwaad op hulle lewensweg;

wie nougeset lewe, hou homself in die lewe.

18Op hoogmoed volg ondergang,

op selfverheffing volg die val.

19Liewer eenvoud saam met nederiges

as om saam met hoogmoediges van roof te lewe.

20Wie ag gee op die woorde van die Here, sal voorspoed geniet;

wie op die Here vertrou,

met hom gaan dit goed.

21'n Mens wat met wysheid bedeel is, word verstandig genoem,

en as hy sy woorde reg kies, kan hy ook ander leer.

22Insig is 'n bron van lewe vir wie dit het;

onderrig deur dwase bly dwaasheid.

23'n Wyse mens praat verstandig

en kies sy woorde so dat hy ander kan leer.

24Aangename woorde is heuning,

soet en geneeskragtig vir die mens.

25Daar is 'n lewenswyse wat vir 'n mens reg kan lyk,

maar die uiteinde daarvan is die dood.

26'n Werker se honger laat hom werk,

sy behoefte aan kos dryf hom.

27'n Kwaadwillige mens bring net teenspoed;

wat hy sê, is soos 'n verterende vuur.

28Iemand wat die waarheid verdraai, veroorsaak twis,

iemand wat skinder, bring verwydering tussen vriende.

29Iemand wat niks ontsien nie, mislei sy naaste

en laat hom 'n verkeerde pad loop.

30Wie met sy oog knik, wil die waarheid verdraai;

wie sy lippe saampers, is vasbeslote oor 'n boosheid.

31Ouderdom is 'n sierlike kroon;

dit word bereik deur dié wat reg lewe.

32'n Geduldige mens het meer waarde as 'n bedrewe vegter,

'n mens met selfbeheersing meer as iemand wat 'n stad inneem.

33Mense kan loot,

maar die Here bepaal hoe dit uitkom.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS