Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 153

Esra 7–10, Psalms 33 & 35

Bybelteks(te)

Esra kom op die toneel

1Dit was ná hierdie gebeurtenisse en in die regeringstyd van koning Artasasta van Persië dat Esra op die toneel gekom het. Hy was 'n seun van Seraja, en sy afstamming is teruggevoer oor Asarja, Gilkija, 2Sallum, Sadok, Agitub, 3Amarja, Asarja, Merajot, 4Seragja, Ussi, Bukki, 5Abisua, Pinehas en Eleasar tot by die hoëpriester Aäron. 6Hierdie Esra het uit Babel gekom en hy was 'n geleerde man, kundig in die wet van Moses wat deur die Here die God van Israel gegee is. Omdat die Here sy hand oor Esra gehou het, het die koning hom alles gegee wat hy van hom gevra het.

7In die sewende regeringsjaar van koning Artasasta het Esra en 'n aantal Israeliete, priesters, Leviete, tempelsangers, poortwagte en tempelslawe na Jerusalem toe teruggegaan. 8Esra het in Jerusalem aangekom in die vyfde maand, in die sewende regeringsjaar van die koning. 9Die vertrek uit Babel was vasgestel vir die eerste van die eerste maand, en op die eerste van die vyfde maand het Esra in Jerusalem aangekom. Sy God het hom beskerm. 10Esra het hom gewy aan die wet van die Here. Hy wou dit in die praktyk toepas en Israel elke voorskrif en bepaling leer.

Die volmag van Esra

11Hier volg 'n afskrif van die volmag wat koning Artasasta verleen het aan die geleerde priester Esra, wat op hoogte was van alles in verband met die gebod van die Here en met sy voorskrifte aan Israel:

12“Artasasta, koning oor ander konings, aan die priester Esra, die skrifgeleerde in die wet van die God van die hemel.

13“Ek gee hiermee opdrag dat enigiemand in my ryk wat tot die volk Israel, sy priesters of sy Leviete behoort en wat wil gaan, met jou saam na Jerusalem toe kan gaan. 14Jy word deur die koning en sy sewe adviseurs afgevaardig om aan die hand van die wet van jou God waarin jy onderleg is, vas te stel hoe sake in Juda en Jerusalem staan. 15Jy moet ook die silwer en die goud wegbring wat die koning en sy adviseurs as 'n vrywillige gawe gee aan die God van Israel wat sy woning in Jerusalem het. 16Verder moet jy al die silwer en die goud saamneem wat jy dwarsoor die provinsie Babel kan bekom, en ook die vrywillige gawes wat die volk en die priesters vir die tempel van hulle God in Jerusalem gee. 17Van dié geld moet jy met oorleg gebruik om bulle, ramme en lammers te koop, met die bybehorende graan- en drankoffers, en dan moet jy dit op die altaar van die tempel van julle God in Jerusalem offer. 18Die silwer en die goud wat oorbly, moet jy gebruik soos jy en jou ampsgenote dit goedvind volgens die wil van julle God. 19Die goed wat vir gebruik in die tempel van jou God bestem en aan jou oorhandig is, moet jy as geskenk aan God in Jerusalem gaan gee. 20Enigiets anders wat vir die tempel van jou God nodig mag wees, en wat jy moet voorsien, mag jy uit die koninklike skatkis vat.

21“Ek, koning Artasasta, beveel al die beamptes in beheer van die skatkis in Wes-Eufraat: Alles wat die priester Esra, skrifgeleerde in die wet van die God van die hemel, van julle vra, moet julle dadelik lewer, 22tot soveel as drie en 'n half ton silwer, sestien en 'n half ton koring, twee duisend twee honderd liter wyn, net soveel olie, en soveel sout as wat nodig is. 23Wat die God van die hemel ook al vir sy tempel vereis, moet met toewyding gedoen word, sodat sy toorn nie oor die ryk van die koning en sy seuns kom nie. 24Neem ook kennis dat julle nie gemagtig is om belasting, heffing of tol te eis van enige priester, Leviet, tempelsanger, poortwag, tempelslaaf of enigeen wat in die tempel van hierdie God werk nie.

25“Jy, Esra, moet volgens die wysheid waaroor jy beskik soos dit jou deur jou God gegee word, regeerders en regters aanstel wat die regspraak kan behartig vir al die mense in Wes-Eufraat, vir almal wat die wet van jou God ken. Vir dié wat dit nie ken nie, moet julle dit leer. 26Enigeen wat hom nie hou aan die wet van jou God en die wet van die koning nie, moet streng gestraf word, met die dood of met verbanning of met 'n boete of met gevangenisstraf.”

27Esra het toe gesê: “Geloof sy die Here, die God van ons voorvaders! Hy het die koning die besluit laat neem om die tempel in Jerusalem so goed toe te rus, 28en Hy het my die goedgesindheid van die koning, van sy adviseurs en van al sy magtige amptenare laat geniet. Ek was vol moed. Die Here my God het sy hand oor my gehou. Ek het toe die leiers onder die Israeliete bymekaar laat kom om saam met my te trek.”

Die mense wat saam met Esra teruggekeer het

1Die volgende familiehoofde het saam met my uit Babel vertrek tydens die regering van koning Artasasta. Hulle afstamming word ook aangegee:

    2Gersom uit die nageslag van Pinehas;
    Daniël uit die nageslag van Itamar;
    Gattus seun van Sekanja uit die nageslag van Dawid;
    3Sagaria uit die nageslag van Paros, en saam met hom 150 man wat in die register opgeneem was;
    4Eljehoënai seun van Seragja uit die nageslag van Pagat-Moab, en saam met hom 200 man;
    5Sekanja seun van Jagasiël uit die nageslag van Sattu, en saam met hom 300 man;
    6Ebed seun van Jonatan uit die nageslag van Adin, en saam met hom 50 man;
    7Jesaja seun van Atalia uit die nageslag van Elam, en saam met hom 70 man;
    8Sebadja seun van Migael uit die nageslag van Sefatja, en saam met hom 80 man;
    9Obadja seun van Jegiël uit die nageslag van Joab, en saam met hom 218 man;
    10Selomit seun van Josifja uit die nageslag van Bani, en saam met hom 160 man;
    11Sagaria seun van Bebai uit die nageslag van Bebai, en saam met hom 28 man;
    12Joganan seun van Katan uit die nageslag van Asgad, en saam met hom 110 man;
    13dié uit die nageslag van Adonikam was van die laastes;
    hulle was Elifelet, Jeïel en Semaja, en daar was 60 man saam met hulle;
    14verder was daar Utai en Sabud uit die nageslag van Bigwai, en saam met hulle 70 man.

Esra laat Leviete werf om saam te gaan

15Ek het hulle laat bymekaarkom by die rivier wat by Ahawa verbyloop. Ons het daar drie dae gekampeer, en ek het vasgestel dat daar priesters onder die mense was, maar ek kon geen Leviete vind nie. 16Ek het toe vir Eliëser, Ariël, Semaja, Elnatan, Jarib, Elnatan, Natan, Sagaria en Mesullam laat roep, almal leiers, en ook vir Jojarib en Elnatan, twee verstandige manne. 17Ek het hulle na Iddo, die leier in Kasifja, toe gestuur, en hulle gesê wat om vir Iddo en sy ampsgenote en vir die tempelslawe in Kasifja te sê sodat Iddo-hulle mense vir ons kon stuur wat in die tempel van ons God kon diens doen. 18Deur die goeie beskikking van ons God het hulle toe ook vir ons 'n verstandige man gestuur uit die nageslag van Magli seun van Levi, seun van Israel. Dit was Serebja, met sy seuns en sy ampsgenote, agtien altesaam. 19Verder het hulle ook vir Gasabja gestuur en saam met hom Jesaja uit die nageslag van Merari, met sy ampsgenote en hulle seuns, twintig altesaam. 20Van die tempelslawe wat nog deur Dawid en sy amptenare geskenk is om die Leviete van diens te wees, het daar twee honderd en twintig man gekom. Almal se name is opgeteken.

Esra en sy geselskap gaan terug

21Ek het daar by die Ahawarivier 'n vasdag uitgeroep om ons voor ons God te verootmoedig en Hom te bid om 'n voorspoedige reis vir onsself, ons afhanklikes en al wat ons besit het. 22Ek was skaam om vir die koning soldate en ruiters te vra om ons teen vyande langs die pad te help. Ons het vir die koning gesê ons God sorg goed vir almal wat Hom dien en Hy straf almal swaar wat Hom verlaat. 23Ons het dus gevas en die hulp van ons God gevra vir die onderneming, en Hy het ons gebede verhoor.

24Daarna het ek twaalf van die priesters se leiers uitgesoek, Serebja en Gasabja en tien van hulle ampsgenote saam met hulle, 25en toe die silwer en die goud en die tempelgereedskap volgens gewig onder hulle verdeel. Dit was die wydingsgeskenke vir die tempel van ons God wat geskenk is deur die koning en sy adviseurs en amptenare en deur al die Israeliete wat hulle nog in ballingskap bevind het. 26Ek het alles geweeg en aan hulle oorhandig: twee en twintig ton silwer, honderd stukke silwerware met 'n gesamentlike gewig van ag en sestig kilogram, drie en 'n half ton goud, 27twintig komme van goud met 'n gesamentlike gewig van ag en 'n half kilogram, en twee stukke van fyn gepoleerde brons, so kosbaar soos goud.

28Daarna het ek vir die twaalf priesters gesê: “Julle is aan die Here gewy, hierdie goed is ook aan Hom gewy. Die silwer en die goud is vrywillige gawes aan die Here die God van julle voorvaders. 29Wees wakker, pas dit op totdat julle dit uitweeg voor die hoofde van die priesters en die Leviete en voor die familiehoofde van Israel in Jerusalem binne in die tempelvertrekke.”

30Die priesters en die Leviete het toe die silwer, die goud en die tempelgereedskap wat afgeweeg is, in ontvangs geneem om dit na Jerusalem toe te vat, na die tempel van ons God toe.

31Ons het van die Ahawarivier af vertrek op die twaalfde van die eerste maand, op pad Jerusalem toe. Ons God het sy hand oor ons gehou en ons nie in die mag laat val van vyande en rowers langs die pad nie.

32Ons het in Jerusalem aangekom en daar drie dae gerus. 33Die vierde dag het ons die silwer en die goud en die tempelgereedskap gaan weeg in die tempel van ons God en dit aan die priester Meremot seun van Urija oorhandig in die teenwoordigheid van Eleasar seun van Pinehas. Die Leviete Josabad seun van Jesua, en Noadja seun van Binnuï was by hulle. 34Alles was daar en die gewig was reg, en die gewig is dié dag noukeurig opgeskryf.

35Die mense wat uit die ballingskap teruggekom het, het toe aan die God van Israel brandoffers gebring: twaalf bulle vir die hele Israel, ses en negentig ramme, sewe en sewentig lammers en twaalf bokke as 'n sondeoffer. Alles was brandoffers aan die Here.

36Die opdragte van die koning is aan die gevolmagtigde verteenwoordigers van die koning en aan die goewerneurs van Wes-Eufraat oorhandig, en hulle het van toe af bystand verleen aan die volk en aan die tempel.

Die verootmoediging en gebed van Esra

1Nadat dié dinge gedoen is, het die leiers van die gemeente vir my kom sê: “Die mense van Israel en die priesters en die Leviete het hulle nie afgesonder van die nie-Joodse bevolking met sy afskuwelike gebruike nie, en dié is nog dieselfde as dié van die Kanaäniete, Hetiete, Feresiete, Jebusiete, Ammoniete, Moabiete, Egiptenaars en Amoriete. 2Ons mense en hulle seuns het getrou met nie-Joodse vrouens; hulle het hierdie volk hom laat vermeng met heidene. Leiers en ampsdraers het die voortou geneem in dié trouelose optrede.”

3Toe ek dit hoor, het ek my klere geskeur, my hare en my baard uitgetrek en verslae gaan sit. 4Almal wat by die gedagte aan die opdragte van die God van Israel vreesbevange was oor dié troueloosheid van die mense uit die ballingskap, het by my kom staan. Ek het maar net verslae daar gesit, tot die tyd van die aandoffer toe. 5Maar teen die tyd van die aandoffer het ek daar opgestaan waar ek my met my geskeurde klere verootmoedig het, op my knieë geval en my hande in gebed uitgestrek na die Here my God.

6Ek het gebid: “My God, ek is te skaam, ek het nie die vrymoedigheid om my kop voor U op te tel nie. Ons sonde is hoog opgestapel, ons misdade staan hemelhoog. 7Van die tyd van ons voorvaders af tot vandag toe is ons bestaan vol oortredings teen U. Dit was deur ons sondes dat ons, ons konings en ons priesters in die mag van heidenkonings oorgegee is. Ons is doodgemaak, gevange geneem, geplunder; smaad het oor ons gekom en dit is nou nog daar.

8“Nou, 'n kort oomblikkie, het daar vir ons genade gekom van die Here ons God. Hy het die klompie van ons laat vrykom en ons hier in sy heilige plek vastigheid gegee. Ons God het ons weer laat lewe, ons 'n oomblik laat asem skep na ons slawerny.

9“Ons was slawe, maar ons God het ons nie slawe laat bly nie. Hy het die Persiese konings goedgesind gemaak teenoor ons, en hulle het ons die kans gegee: ons kon die tempel van ons God opbou, ons kon hom uit sy ruïnes laat herrys, ons het 'n toevlug gekry hier in Juda en Jerusalem.

10“Maar wat kan ons nou sê, ons God, na dié dinge? Ons het u gebooie oortree. 11U het ons deur u dienaars, die profete, beveel: Die land wat julle in besit gaan neem, is 'n onrein land. Die heidennasies het dit onrein gemaak. Hulle het dit van kant tot kant besmet met hulle afskuwelike, onrein optrede. 12Moenie julle dogters vir hulle seuns gee nie, moenie hulle dogters met julle seuns laat trou nie. Moet die heidennasies nooit vrede of voorspoed gun nie. Dan sal julle sterk staan en die goeie van die land geniet en dit as 'n blywende besitting aan julle kinders oordra.

13“Wat oor ons gekom het, het gekom deur ons slegte dade en ons baie oortredings teen U. Ons God, U was spaarsaam met die straf op ons sonde, U het van ons laat oorbly. 14En na alles wat oor ons gekom het, kom ons en steur ons ons weer nie aan u gebooie nie! Ons ondertrou met hierdie nasies wat so afskuwelik leef! Moet u toorn ons dan nie heeltemal vernietig nie, sodat niemand oorbly, niemand vrykom nie?

15“Here God van Israel, U is regverdig. U het die klompie van ons laat vrykom, so soos dit vandag is. Hier is ons voor U met ons oortredings, maar so kan niemand voor U staan nie.”

Die vreemde vrouens word weggestuur

1Terwyl Esra voor die tempel gekniel en gebid en belydenis gedoen het, het 'n groot aantal Israeliete rondom hom kom staan, mans, vrouens en kinders. Hy het gehuil en die mense het ook hard gehuil.

2Sekanja seun van Jegiël, uit die nageslag van Elam, het toe begin praat. Hy het vir Esra gesê: “Ons het troueloos gehandel teen ons God, ons het met vreemde vroue getrou, vroue uit die heidennasies. Tog is daar nog hoop vir Israel. 3Kom ons maak 'n plegtige onderneming teenoor ons God dat ons al dié vrouens en hulle kinders sal wegstuur. Laat ons doen wat u en dié wat vir die gebod van ons God eerbied het, ons aanraai in ooreenstemming met die wet. 4Die saak is in u hande. Ons ondersteun u. Staan op, pak dit aan en doen dit.”

5Esra het toe opgestaan en die leiers van die priesters en die Leviete en ook die hele Israel 'n eed laat aflê dat hulle dit sou doen. Hulle het die eed afgelê, 6en Esra is toe van die tempel af na die kamer van Joganan seun van Eljasib toe. Hy het daarheen gegaan maar niks geëet of gedrink nie, want hy was besig om te rou oor die troueloosheid van die ballinge wat teruggekom het.

7Al hierdie ballinge in Juda en Jerusalem is toe opgeroep vir 'n byeenkoms in Jerusalem. 8Die ampsdraers en die leiers het besluit dat al die besittings van enigiemand wat nie binne drie dae daar was nie, gekonfiskeer sou word en dat hy self afgesny sou word van die gemeente van ballinge wat teruggekom het. 9Die manne van Juda en Benjamin het almal binne die drie dae in Jerusalem bymekaargekom. In die negende maand, op die twintigste van die maand, was al die mense op die tempelplein. Dit het gereën, en hulle het gebewe van die koue, maar ook van die spanning.

10Toe staan die priester Esra op en sê vir hulle: “Julle het troueloos opgetree. Julle het met vreemde vrouens getrou en daardeur die oortredings van Israel teen God nog meer gemaak. 11Doen belydenis voor die Here die God van julle voorvaders en doen wat Hy wil hê: skei julle af van die heidennasies en die vreemde vrouens.”

12Die gemeente het eenparig hardop geantwoord: “Alles wat u sê, moet ons doen. 13Maar ons is baie mense, en dit is reëntyd. Ons kan nie hier onder die blote hemel bly staan nie. Dit is nie 'n werk van een of twee dae nie, want baie van ons het dié sonde begaan. 14Laat ons leiers namens die hele gemeente optree. Dan kan elkeen wat met 'n vreemde vrou getroud is, op 'n vasgestelde tyd uit ons stede kom saam met die gesagsdraers en die regters van die betrokke stad en die saak afhandel. So kan ons dan die toorn van ons God van ons af wegkeer.”

15Net Jonatan seun van Asael, en Jagseja seun van Tikwa, gesteun deur Mesullam en die Leviet Sabbetai, was teen die gedagte. 16Die ballinge wat teruggekom het, het die plan aanvaar. Die priester Esra het manne by die naam aangewys, die hoofde van al die families. Hulle het op die eerste dag van die tiende maand sitting geneem vir die ondersoek 17en het al die sake van die manne wat met vreemde vrouens getrou het, afgehandel gehad op die eerste dag van die eerste maand.

18Daar is gevind dat die volgende priesters met vreemde vrouens getroud is:

    Uit die familie van Jesua seun van Josadak en sy ampsgenote was daar Maäseja, Eliëser, Jarib en Gedalja; 19hulle het onderneem om van hulle vrouens te skei en het 'n ram as versoeningsoffer vir hulle misdaad teen God geoffer.
    20Uit die familie van Immer was daar Ganani en Sebadja.
    21Uit die familie van Garim was daar Maäseja, Elia, Semaja, Jegiël en Usija.
    22Uit die familie van Pasgur was daar Eljoënai, Maäseja, Ismael, Netanel, Josabad en Elasa.
    23Uit die Leviete was daar Josabad, Simeï, Kelaja, ook Kelita genoem, Petagja, Juda en Eliëser.
    24Uit die sangers was daar Eljasib, en uit die poortwagte Sallum, Telem en Uri.

25Verder was daar die volgende Israeliete:

    uit die Parosfamilie: Ramja, Jissija, Malkija, Mijamin, Eleasar, Malkija en Benaja;
    26uit die Elamfamilie: Mattanja, Sagaria, Jegiël, Abdi, Jeremot en Elia;
    27uit die Sattufamilie: Eljoënai, Eljasib, Mattanja, Jeremot, Sabad en Asisa;
    28uit die Bebaifamilie: Joganan, Gananja, Sabbai en Atlai;
    29uit die Banifamilie: Mesullam, Malluk, Adaja, Jasub en Seal-Jeremot;
    30uit die Pagat-Moabfamilie: Adna, Kelal, Benaja, Maäseja, Mattanja, Besaleël, Binnuï en Manasse;
    31uit die Garimfamilie: Eliëser, Jissija, Malkija, Semaja, Simon, 32Benjamin, Malluk en Semarja;
    33uit die Gasumfamilie: Mattenai, Mattatta, Sabad, Elifelet, Jeremai, Manasse en Simi;
    34uit die Banifamilie: Maädai, Amram, Uel, 35Benaja, Bedja, Keluhi, 36Wanja, Meremot, Eljasib, 37Mattanja, Mattenai en Jaäsai;
    38uit die Binnuïfamilie: Simi, 39Selemja, Natan, Adaja, 40Maknadbai, Sasai, Sarai, 41Asarel, Selemja, Semarja, 42Sallum, Amarja en Josef;
    43uit die Nebofamilie: Jeïel, Mattitja, Sabad, Sebina, Jaddai, Joël en Benaja.

44Al dié mense was met vreemde vrouens getroud, maar hulle het van die vrouens geskei en hulle kinders saam weggestuur.

Die Here sorg

1Jubel in die Here, regverdiges,

sing 'n loflied, opregtes!

2Loof die Here met die lier,

speel vir Hom op die harp!

3Sing vir Hom 'n nuwe lied,

speel met volle oorgawe, jubel dit uit!

4Wat die Here sê, gebeur,

alles wat Hy doen, staan vas.

5Hy het geregtigheid en reg lief,

die hele wêreld is vol van die Here se troue liefde.

6Deur die woord van die Here is die hemele gemaak,

deur sy bevel al die hemelliggame.

7Hy het die seewater laat saamkom soos in 'n dam,

die groot waters op een plek opgegaar.

8Die hele aarde moet die Here vrees,

al die bewoners van die wêreld moet vir Hom ontsag hê,

9want Hy het gepraat en dit was so,

Hy het beveel en dit was daar.

10Die Here verydel die planne van die nasies,

Hy laat hulle besluite op niks uitloop.

11Maar die planne van die Here staan vir altyd vas,

sy besluite van geslag tot geslag.

12Dit gaan goed met die nasie wie se God die Here is,

met die volk wat Hy vir Hom as sy eie gekies het.

13Die Here kyk uit die hemel

en sien al die mense.

14Van die plek waar Hy as koning sit,

sien Hy almal wat onder op die aarde woon.

15Dit is Hy wat hulle verstand gevorm het,

wat al hulle werk deurgrond.

16Dit is nie deur 'n groot leër dat 'n koning wen nie,

en nie deur groot krag dat 'n held behoue uitkom nie.

17Dit is nie waar dat die perd die oorwinning gee

en dat sy groot krag redding bring nie.

18Dit is die Here wat sorg vir dié wat Hom eer,

vir dié wat op sy mag vertrou

19om hulle van die dood te red

en hulle in die lewe te hou in hongersnood.

20Ons vertrou op die Here:

Hy is ons hulp en ons beskermer.

21Ja, in Hom is ons hart bly,

op sy heilige Naam vertrou ons.

22Hou u liefde oor ons, Here,

want ons stel ons vertroue in U.

Red my kosbare lewe

1Van Dawid.

Behartig my saak teen dié wat my aankla, Here,

tree op teen my vyande,

2gryp die skilde en kom help my.

3Vat die spies en keer my vervolgers.

Laat ek U hoor sê: “Ek red jou!”

4Laat hulle wat my lewe soek,

die slegste daarvan afkom en beskaamd staan.

Laat hulle wat my ondergang soek,

op die vlug slaan, teleurgestel in hulle verwagting.

5Laat die Engel van die Here hulle jaag soos kaf voor die wind.

6Maak hulle pad donker en glibberig

en laat die Engel van die Here hulle agtervolg,

7want hulle het nie rede gehad om vir my 'n strik te stel

en vir my 'n gat te grawe nie.

8Laat hulle einde skielik kom!

Laat hulle in hulle eie strik beland!

Laat hulle self in die gat val wat hulle gegrawe het!

9Maar ek sal juig in die Here,

ek sal jubel oor die redding wat Hy bring.

10My hele wese sê: “Here, wie is soos U

wat die swakke bevry van dié wat sterker is,

die swakke en die arme van dié wat hom beroof?”

11Dit is kwaadwillige getuies wat teen my optree.

Hulle beskuldig my van dinge waarvan ek niks weet nie.

12Hulle vergeld my kwaad vir goed,

hulle gebruik elke geleentheid om my by te kom.

13En tog, toe húlle siek was,

het ek getreur soos oor 'n sterfgeval:

rouklere aangetrek en myself gekasty deur nie te eet nie.

Ek het sonder ophou vir hulle gebid

14soos vir 'n vriend of 'n broer.

Ek het rondgeloop soos een wat oor sy moeder treur,

krom en in die rou.

15Maar nou dat ek in die moeilikheid is,

is dit vir hulle lekker en span hulle saam teen my.

Sonder dat ek weet waaroor,

skeur hierdie skoorsoekers my uitmekaar

en hulle kry nie end nie.

16Nou dat ek struikel, lag hulle daaroor;

nou kom dreig hulle my.

17Hoe lank, Here, sal U dit duld?

Red my kosbare lewe van die aanslag van hierdie mense

wat my soos leeus bedreig.

18Dan sal ek U in 'n volle vergadering dank

en voor die hele gemeente prys.

19Moenie dat hulle wat sonder rede my vyande is,

hulle verlustig in my leed nie.

Moenie dat dié wat my sonder aanleiding haat,

hulle verlustig in my leed nie.

20Hulle wil nie vrede hê nie,

hulle kom met vals beskuldigings teen vredeliewende mense.

21Hulle rek hulle monde teen my oop

en sê: “Ja, ons het dit self gesien.”

22Maar U het gesien dit is nie so nie, Here.

Moet tog nie swyg nie.

Moenie ver van my af bly nie, Here.

23Tree tog vir my in, my God.

Doen tog iets aan my saak, Here.

24U is regverdig, Here my God,

laat reg aan my geskied,

sodat hulle hulle nie in my leed verlustig nie.

25Moenie dat hulle vir hulleself sê:

“Dis mos wat ons wou gehad het” nie.

Moenie dat hulle sê: “Ons het hom vernietig” nie.

26Laat almal wat bly is oor my ellende,

teleurgestel word in hulle verwagting

en self in die ellende beland.

Laat oor hulle wat op my neersien,

skande en smaad kom.

27Maar dié wat wil hê ek moet vrygespreek word,

laat hulle juig en bly wees,

laat hulle altyd weer sê:

“Die Here is groot.

Hy sorg dat sy dienaar vrede het.”

28My tong sal nie stil word oor u trou nie,

dag vir dag sal ek U loof.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS