Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 152

Esra 1–6

Bybelteks(te)

Die proklamasie van Kores

(Vgl. 2 Kron. 36:22-23)

1In die eerste regeringsjaar van koning Kores van Persië is die belofte vervul wat die Here by monde van Jeremia uitgespreek het: die Here het koning Kores van Persië laat besluit om dwarsoor sy ryk 'n proklamasie te laat afkondig. Die proklamasie, wat ook skriftelik was, het soos volg gelui:

2“Koning Kores van Persië maak bekend: Die Here die God van die hemel het al die koninkryke van die aarde aan my gegee. Hy het my beveel om vir Hom 'n tempel in Jerusalem in Juda te bou. 3Enigiemand onder julle wat aan sy volk behoort – mag sy God by hom wees – mag na Jerusalem in Juda toe gaan en die tempel gaan bou vir die Here die God van Israel. Hy is God in Jerusalem. 4Elkeen wat van dié volk nog oor is, waar hy ook al tydelik gewoon het, moet deur die mense van sy omgewing voorsien word van die nodige silwer, goud, gebruiksgoed en vee, tesame met 'n vrywillige gawe vir die tempel van God in Jerusalem.”

Die voorbereiding vir die terugkoms

5Die familiehoofde van Juda en Benjamin, asook die priesters en die Leviete, elkeen in wie God die voorneme gegee het, het toe klaargemaak om die huis van die Here in Jerusalem te gaan bou. 6Al hulle bure het hulle hande gesterk deur silwerware en goud, gebruiksgoed, vee en allerlei kosbaarhede te gee, bo en behalwe al die vrywillige gawes. 7Koning Kores het ook die goed laat haal wat in die huis van die Here was en wat Nebukadnesar uit Jerusalem weggevat en in die tempel van sy god gesit het. 8Koning Kores van Persië het dit aan Mitredat, die sekretaris van die tesourie, laat oorhandig, en dié het 'n lys daarvan gemaak vir Sesbassar, hoof van die stam Juda. 9Die volgende stukke was op die lys: 30 goue bakke, 1 000 silwerbakke, en – toe dit weer getel is – nog 29 by, 1030 goue komme, 410 silwerkomme na hertelling, en 'n 1 000 ander stukke. 11Daar was altesame 5 400 stukke goud en silwer. Sesbassar het alles saamgevat toe hy die ballinge van Babel af na Jerusalem toe gebring het.

Die mense wat saam met Serubbabel teruggekom het

(Vgl. Neh. 7:6-69)

1Hier volg 'n opgawe van die mense uit die provinsie Juda wat uit die ballingskap teruggekom het na Jerusalem en Juda toe, elkeen na sy eie stad toe. Hulle is na Babel toe weggevoer deur koning Nebukadnesar van Babel, 2en hulle het teruggekom saam met Serubbabel, Jesua, Nehemia, Seraja, Reëlaja, Mordegai, Bilsan, Mispar, Bigwai, Regum en Baäna. Die getalle van die mense van die volk Israel was soos volg:

3Ingedeel volgens families:

Paros 2 172, 4Sefatja 372, 5Arag 775, 6Pagat-Moab, uit die families van Jesua en Joab, 2 812, 7Elam 1 254, 8Sattu 945, 9Sakkai 760, 10Bani 642, 11Bebai 623, 12Asgad 1 222, 13Adonikam 666, 14Bigwai 2 056, 15Adin 454, 16Ater, uit die familie van Hiskia, 98, 17Besai 323, 18Jora 112, 19Gasum 223, 20Gibbar 95.

21Ingedeel volgens plek van herkoms:

Betlehem 123, 22Netofa 56, 23Anatot 128, 24Bet-Asmawet 42, 25Kirjat-Jearim, Kefira en Beërot 743, 26Rama en Geba 621, 27Mikmas 122, 28Bet-El en Ai 223, 29Nebo 52, 30Magbis 156, 31nog 'n Elam 1 254, 32Garim 320, 33Lod, Gadid en Ono 725, 34Jerigo 345, 35Senaä 3 630.

36Priesterfamilies:

Jedaja, uit die huis van Jesua, 973, 37Immer 1 052, 38Pasgur 1 247, 39Garim 1 017.

40Levitiese families:

Jesua en Kadmiël, uit die Hodaujagroep, 74, 41sangers uit die Asafgroep 128, 42poortwagte uit die families van Sallum, Ater, Talmon, Akkub, Gatita en Sobai, almal saam 139.

43Tempelslawe met hulle families:

Siga, Gasufa, Tabbaot, 44Keros, Sia, Padon, 45Lebana, Gagaba, Akkub, 46Gagab, Salmai, Ganan, 47Giddel, Gagar, Reaja, 48Resin, Nekoda, Gassam, 49Ussa, Paseag, Besai, 50Asna, Meünim, Nefusim, 51Bakbuk, Gakufa, Gargur, 52Baslut, Megida, Garsa, 53Barkos, Sisera, Temag, 54Nesiag en Gatifa.

55Nakomelinge van die dienaars van Salomo, met hulle families:

Sotai, Soferet, Peruda, 56Jala, Darkon, Giddel, 57Sefatja, Gattil, Pokeret-Sebajim en Ami.

58Al die tempelslawe en die nakomelinge van die dienaars van Salomo was saam 392.

59Uit Tel-Melag, Tel-Garsa, Kerub-Addan en Immer het mense teruggekom wat nie uit hulle familieverband en afstamming kon aantoon dat hulle deel van Israel is nie. 60Dit was die families van Delaja, Tobija en Nekoda, altesaam 652 mense.

61Van die priesterfamilies was daar ook nog dié van Gabaja, Kos en Barsillai, dié Barsillai wat getroud is met 'n dogter van die Gileadiet Barsillai en toe na hom vernoem is. 62Hierdie families het probeer vasstel of hulle in die registers opgeneem is, maar daar kon niks gevind word nie, en hulle is uit die priesteramp onthef. 63Die amptenaar wat met dié sake belas was, het beslis dat hulle nie van die gewyde gawes mag eet voordat 'n priester uitsluitsel gegee het met die urim en tummim nie.

64Die hele gemeente was in totaal 42 360, 65afgesien van hulle slawe en slavinne; dié was 7 337. Dan was daar ook nog 200 sangers en sangeresse.

66Die mense het 736 perde, 245 muile, 67435 kamele en 6 720 donkies gehad.

Bydraes vir die bou van die tempel

68Met hulle aankoms by die tempelterrein in Jerusalem het 'n aantal familiehoofde vrywillige bydraes gegee vir die oprigting van die huis van die Here op sy oorspronklike plek. 69Hulle het volgens hulle vermoë vir die boufonds gegee, iets meer as 'n halwe ton goud, byna drie ton silwer en honderd stelle priesterklere.

Die byeenkoms in Jerusalem. Die brandofferaltaar en die huttefees

70Die priesters, die Leviete en 'n deel van die volk, asook die sangers, die poortwagte en die tempelslawe het hulle gevestig in die stede waar hulle vandaan gekom het. So het die hele Israel gedoen.

1Toe die sewende maand aanbreek, was die Israeliete dus oral in die stede. Hulle het egter soos een man in Jerusalem bymekaargekom, 2en daar het Jesua seun van Josadak en sy ampsgenote die priesters, en Serubbabel seun van Sealtiël en sy helpers die altaar van die God van Israel weer opgebou. Die altaar was bedoel vir die brandoffers soos dit voorgeskryf is in die wet van Moses, die man van God. 3Ten spyte van hulle vrees vir die ander bevolkingsgroepe in die land het hulle die altaar op sy oorspronklike plek opgerig en daarop brandoffers vir die Here gebring, soggens en saans. 4Hulle het ook die huttefees gevier soos dit voorgeskryf is en elke dag die vasgestelde hoeveelheid brandoffers gebring. 5Behalwe die gereelde brandoffers het hulle van toe af ook die offers by die nuwemaansfeeste en al die vasgestelde gewyde feeste van die Here gebring, en ook elkeen se vrywillige offers aan die Here. 6Hulle het brandoffers vir die Here begin bring op die eerste dag van die sewende maand.

Die fondamente van die tempel

Die fondamente van die tempel van die Here was nog nie gelê nie. 7Hulle het toe klipkappers en ander vakmanne gehuur en die Sidoniërs en Tiriërs met kos, drank en olie betaal om uit die Libanon sederhout met die see langs na Joppe toe te bring. Dit was in ooreenstemming met die vergunning van koning Kores van Persië.

8In die tweede jaar na hulle aankoms by die tempelterrein in Jerusalem, in die tweede maand, het Serubbabel seun van Sealtiël, Jesua seun van Josadak, en hulle helpers, die priesters, die Leviete en almal wat uit die ballingskap na Jerusalem toe teruggekom het, met die werk begin. Hulle het die Leviete van twintig jaar en ouer aangestel om toesig te hou oor die werk aan die huis van die Here. 9Jesua, sy seuns, sy ampsgenote, die Judeërs Kadmiël en sy seuns, en ook die Leviete uit die nageslag van Genadad met hulle seuns en ampsgenote was saam in bevel van die mense wat die werk aan die tempel moes uitvoer.

10Toe die bouers die fondamente van die tempel van die Here klaar gelê het, het die priesters in ampsdrag reggestaan met trompette, en die Leviete van die Asafgroep met simbale, om die Here te loof soos koning Dawid van Israel bepaal het. 11Hulle het die Here begin loof en dank: “Want Hy is goed, aan sy liefde vir Israel is daar geen einde nie.”

Die hele volk het dit tot lof van die Here uitgejubel, want die fondamente van die huis van die Here was gelê. 12Baie van die oueres onder die priesters, die Leviete en die familiehoofde wat nog die eerste tempel geken het, het hardop aan die huil gegaan toe hulle sien hoe die fondamente van hierdie tempel gelê word. Baie ander het luidkeels van vreugde gejubel. 13Niemand kon die gehuil tussen die blye gejubel deur hoor nie, so hard het die mense gejubel. Dit kon van ver af gehoor word.

Teenstand teen die bou van die tempel

1Vyande van Juda en Benjamin het gehoor dat die ballinge besig is om 'n tempel te bou vir die Here die God van Israel. 2Hulle kom toe na Serubbabel en die familiehoofde toe en sê vir hulle: “Laat ons saam met julle bou. Ons vereer dieselfde God as julle. Ons bring vir Hom offers van die tyd van koning Esarhaddon van Assirië af deur wie ons hiernatoe gebring is.”

3Maar Serubbabel en Jesua en die ander familiehoofde van Israel het vir hulle gesê: “Julle bou nie saam met ons aan die tempel van ons God nie. Ons alleen sal vir die Here die God van Israel bou. Ons het die opdrag van die koning self gekry, koning Kores van Persië.”

4Die nie-Israelitiese inwoners van die omgewing het toe die volk van Juda probeer moedeloos en bang maak om met die bouwerk aan te gaan. 5Hulle het selfs amptenare omgekoop om die bouplanne in die wiele te ry. Dit het aangehou van die tyd van koning Kores van Persië af tot die regeringstyd van koning Darius van Persië. 6Aan die begin van die regering van Ahasveros het hulle selfs 'n geskrewe klag teen die inwoners van Juda en Jerusalem ingedien.

7In die regeringstyd van koning Artasasta van Persië het Bislam saam met Mitredat, Tabeël en sy ander bondgenote 'n brief aan die koning geskrywe. Die dokument was in die Aramese skrif en in die Aramese taal.

8Later het die hoofamptenaar Regum en die sekretaris Simsai 'n skrywe teen Jerusalem aan koning Artasasta gerig. 9Die skrywe was in die naam van die hoofamptenaar Regum, die sekretaris Simsai en die res van hulle bondgenote, die regters, die goewerneurs, die amptenare uit Persië, Erek, Babel en Susan, dit is Elam, 10en die mense van die ander volke wat deur die groot en beroemde Asenappar weggevoer is en gevestig is in die stede van Samaria en in die res van Wes-Eufraat. 11Hier is 'n afskrif van die brief wat hulle aan die koning gestuur het:

“Aan koning Artasasta.

“Van u onderdane, die mense van Wes-Eufraat.

12“Ons bring tot die koning se kennis dat die Judeërs wat daar van u af na ons toe getrek het, nouliks in Jerusalem aangekom het of hulle het begin om dié rebelse, slegte stad te herbou. Hulle is besig om die mure op te bou. Die fondamente is klaar gelê. 13Nou moet die koning daarvan kennis neem dat as hierdie stad herbou en sy mure herstel is, hulle nie belasting, heffing of tol sal betaal nie. Die koning sal skade ly aan inkomste. 14Ons het 'n plig teenoor die paleis en dit pas ons nie om toe te sien dat die koning in sy eer aangetas word nie. Daarom laat ons die koning weet 15dat as u in die annale van u voorgangers laat soek, u daar sal vind dat hierdie stad 'n rebelse stad was wat konings en provinsiale owerhede skade laat ly het. Van ouds af is daar revolusie gestook. Dit is waarom die stad verwoes is. 16Ons bring tot die koning se kennis dat as dié stad herbou en sy mure herstel word, daar vir u in Wes-Eufraat niks sal oorbly nie.”

17Die koning het soos volg geantwoord:

“Aan die hoofamptenaar Regum, die sekretaris Simsai en hulle bondgenote wat in Samaria en die res van Wes-Eufraat woon: Voorspoed!

18“Die skrywe wat julle aan ons gestuur het, is vertaal en aan my voorgelees. 19Op my bevel is daar ondersoek gedoen en gevind dat daardie stad van ouds af teen konings in opstand was. Daar is voortdurend rebellie en revolusie gestook. 20Magtige konings het oor Jerusalem geregeer en gesag uitgeoefen oor die hele Wes-Eufraat. Daar is belasting, heffing en tol aan hulle betaal. 21Gee dus opdrag dat daardie manne gekeer word. Daardie stad mag nie herbou word voor ek opdrag gee nie. 22Sorg dat julle nie nalatig is in dié saak nie, sodat die koningshuis nie nog groter skade ly nie.”

23Toe 'n afskrif van die brief van koning Artasasta voorgelees is aan Regum en aan die sekretaris Simsai en hulle bondgenote, is hulle haastig Jerusalem toe, na die Judeërs toe, en het hulle die werk met mag en geweld tot stilstand gebring.

Die bou van die tempel word hervat

24Die werk aan die tempel in Jerusalem is gestaak, en dit het bly lê tot die tweede regeringsjaar van koning Darius van Persië.

1In dié tyd het twee profete opgetree, Haggai en Sagaria seun van Iddo. Hulle het die Judeërs in Juda en Jerusalem aangespreek in die Naam van die God van Israel. 2Daarna het Serubbabel seun van Sealtiël, en Jesua seun van Josadak weer begin bou aan die tempel in Jerusalem. Die profete van God het hulle bygestaan en hulle ondersteun.

Die navraag van Tattenai en die antwoord van Darius

3Toe het goewerneur Tattenai van Wes-Eufraat, Setar-Bosnai en hulle bondgenote na die Judeërs toe gekom en vir hulle gevra: “Van wie het julle opdrag gekry om dié tempel te herbou en sy timmerasie op te sit?” 4Verder wou hulle weet: “Wat is die name van die manne wat dié gebou herstel?”

5Maar God het 'n oog gehou oor die Judese leiers, en die werk is toegelaat om aan te gaan tot tyd en wyl daar aan Darius verslag gedoen is en daar van hom 'n beslissing oor die saak ontvang is.

6Hier volg nou 'n afskrif van die brief wat goewerneur Tattenai van Wes-Eufraat, Setar-Bosnai en hulle ampsgenote, die goewerneurs in Wes-Eufraat, aan koning Darius gestuur het. 7Hulle het aan hom verslag gedoen en soos volg geskryf:

“Aan koning Darius. Alle voorspoed!

8“Ons bring tot die koning se kennis dat ons na die provinsie Juda toe gegaan het en daar by 'n groot tempel uitgekom het. Dit word gebou van gekapte klip en die balke word al op die mure gelê. Die werk word met ywer gedoen en vorder vinnig. 9Ons het toe by die mense wat die leiding neem, navraag gedoen. Ons het vir hulle gesê: ‘Van wie het julle opdrag gekry om dié tempel te bou en sy timmerasie op te sit?’ 10Ons het ook hulle name gevra om vir u inligting op skrif te stel watter manne hulle leiers is.

11“Hulle het ons soos volg geantwoord: Ons is dienaars van die God van die hemel en die aarde. Ons is besig om die tempel te herbou wat vroeër baie jare hier gestaan het. Dit is deur 'n groot koning van Israel opgerig en voltooi. 12Maar ons voorvaders het die toorn van die God van die hemel op hulle laat kom, en Hy het hulle oorgegee in die mag van die Galdeër koning Nebukadnesar van Babel wat die tempel verwoes het en die volk na Babel toe weggevoer het. 13Koning Kores van Babel het egter in sy eerste regeringsjaar opdrag gegee dat die tempel herbou moet word. 14Koning Kores het ook die goue en die silwergoed wat aan die tempel behoort en wat Nebukadnesar uit die tempel in Jerusalem verwyder en in die tempel van Babel laat sit het, weer uit die tempel in Babel laat haal en dit aan Sesbassar oorhandig, die man wat hy as goewerneur aangestel het. 15Sy opdrag aan Sesbassar was: ‘Vat hierdie goed terug na die tempel toe in Jerusalem en bou die tempel weer op sy oorspronklike plek.’ 16Dié Sesbassar het toe gekom en die fondamente van die tempel in Jerusalem gelê. Van daardie tyd af tot nou toe word daar gebou, maar dit is nog nie klaar nie.

17“As die koning dit dan nou goedvind, laat ondersoek doen in die koninklike argief daar in Babel en stel vas of dit so is dat koning Kores opdrag gegee het dat hierdie tempel in Jerusalem weer gebou moet word. Laat ons dan weet wat die koning se beslissing is.”

1In opdrag van koning Darius is daar toe ondersoek gedoen in die argiewe in Babel waar die dokumente gebêre word, 2en in Agmeta die hoofstad van die provinsie Medië is daar so 'n geskrif gevind. Daarin het gestaan:

“Proklamasie:

3“In sy eerste regeringsjaar het koning Kores 'n bevel uitgevaardig in verband met die tempel in Jerusalem. Die tempel moet herbou word as 'n plek waar offers gebring word. Die fondamente moet versterk word en die gebou moet dertig meter hoog en dertig meter breed wees, 4met telkens drie lae gekapte klip en een laag hout. Die koste moet gedra word deur die koninklike skatkis. 5Die goue en die silwergoed wat aan die tempel behoort en wat Nebukadnesar uit die tempel in Jerusalem verwyder en na Babel toe gebring het, moet teruggegee word. Dit moet teruggevat word na die tempel toe in Jerusalem waar dit hoort en daar in die tempel gesit word.”

6Koning Darius het toe soos volg laat skryf:

“Aan goewerneur Tattenai van Wes-Eufraat, Setar-Bosnai en hulle ampsgenote, die goewerneurs in Wes-Eufraat.

“Julle moet daar wegbly. 7Laat die werk aan daardie tempel ongehinderd voortgaan. Laat die goewerneur van die Judeërs en hulle leiers die tempel bou waar hy moet wees. 8Ek gee hiermee ook opdrag wat julle moet doen om daardie Judese leiers te help met die bou van die tempel: Sonder versuim en nougeset moet die koste aan daardie manne uitbetaal word uit die koninklike fondse, die belasting van Wes-Eufraat. 9Wat ook al nodig is volgens die priesters in Jerusalem, moet aan hulle gegee word: jong bulle, ramme en lammers vir die offers aan die God van die hemel, koring, sout, wyn en olie. Dit moet elke dag gedoen word, sonder om oor te slaan, 10sodat hulle vir die God van die hemel offers kan bring wat vir Hom aanneemlik is en kan bid dat die lewens van die koning en sy seuns gespaar mag word. 11Ek beveel verder dat enigiemand wat hierdie opdrag oortree, deurboor sal word met 'n balk wat uit sy eie huis geruk is, en dat sy huis afgebreek moet word. 12Mag die God wat sy Naam op daardie plek laat woon, elke koning en elke volk tot 'n val bring wat hierdie bevel oortree of 'n hand lig om daardie tempel in Jerusalem te beskadig. Ek, Darius, het opdrag gegee. Dit moet presies so uitgevoer word!”

Die voltooiing en inwyding van die tempel

13Goewerneur Tattenai van Wes-Eufraat, Setar-Bosnai en hulle ampsgenote het toe gedoen presies wat koning Darius hulle beveel het. 14Die Judese leiers het met die bouwerk aangegaan. Danksy die optrede van die profete Haggai en Sagaria seun van Iddo het hulle goed gevorder. So kon hulle die gebou klaar maak soos die God van Israel hulle dit opgedra het en soos konings Kores, Darius en Artasasta van Persië beveel het.

15Die tempel is voltooi op die derde dag van die maand Adar, in die sesde jaar van die regering van koning Darius. 16Die Israeliete, die priesters, die Leviete en die ander wat uit die ballingskap teruggekom het, het die inwyding van die tempel met vreugde gevier. 17Hulle het met die inwyding van die tempel honderd bulle, twee honderd ramme en vier honderd lammers geoffer, en as sondeoffer vir die hele Israel ook nog twaalf bokramme, een vir elke stam van Israel. 18Hulle het die priesters ingedeel in afdelings en die Leviete in diensgroepe vir die diens van God in Jerusalem soos dit in die boek van Moses voorgeskryf is.

Paasfees

19Die ballinge wat teruggekom het, het die paasfees gevier op die veertiende van die eerste maand. 20Die priesters en die Leviete het hulle sonder uitsondering gereinig en almal was rein. Die Leviete het die paaslam geslag vir almal wat uit die ballingskap teruggekom het en vir hulle ampsgenote die priesters en vir hulleself. 21Die paaslam is geëet deur die Israeliete wat uit die ballingskap teruggekom het en deur elkeen wat hom van die onreinheid van die heidene in die land afgeskei het om die Here die God van Israel te dien. 22Hulle het die fees van die ongesuurde brood sewe dae met vreugde gevier. Die Here het hulle dié vreugde geskenk toe Hy die gesindheid van die koning van Assirië teenoor hulle verander het, en dié hulle hande gesterk het in die werk aan die tempel van die God van Israel.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS