Die paasfees word weer gevier
1Hiskia het boodskappers gestuur oor die hele Israel en Juda en ook briewe geskryf aan Efraim en Manasse met 'n oproep om na die huis van die Here in Jerusalem te kom om die paasfees vir die Here die God van Israel te vier.
2Dit was nadat die koning met sy amptenare en die hele gemeente van Jerusalem daaroor beraadslaag het of hulle die paasfees in die tweede maand kon vier. 3Hulle kon dit nie op die vasgestelde tyd vier nie omdat daar nie genoeg priesters gewy was nie en die volk nie in Jerusalem bymekaar was nie. 4Die koning en die hele gemeente het dit goedgevind om dit so te doen. 5Hulle het besluit om 'n oproep te laat uitgaan in die hele Israel, van Berseba af tot by Dan, om die paasfees vir die Here die God van Israel in Jerusalem te kom vier, want daar was in dié tyd nie 'n groot gesamentlike fees soos dit destyds voorgeskryf is nie.
6Die hardlopers is toe op bevel van die koning die hele Israel en Juda deur met die briewe van die koning en sy amptenare, wat soos volg gelui het:
“Israeliete, kom terug na die Here, na die God van Abraham, Isak en Israel, dan sal Hy ook terugkom na julle wat vrygekom het en oorgebly het van die oorheersing deur die konings van Assirië. 7Moenie soos julle vaders en julle broers maak nie wat ontrou was teenoor die Here, die God van hulle voorvaders, sodat Hy van hulle iets gemaak het waaroor mense net die hande van verbasing inmekaar kan slaan, soos julle kan sien. 8Moenie hardkoppig wees soos julle vaders nie, onderwerp julle aan die Here, en kom na sy heiligdom toe wat Hy vir altyd geheilig het. Dien die Here julle God, dan sal sy toorngloed van julle af weggaan. 9As julle terugkom na die Here toe, sal julle broers en julle seuns medelye vind by dié wat hulle gevange weggevoer het en sal hulle na hierdie land toe terugkom. Die Here julle God is genadig en barmhartig. Hy sal nie afsydig staan as julle na Hom toe terugkom nie.”
10Die hardlopers het in die gebied van Efraim en Manasse en tot in Sebulon van stad tot stad gegaan, maar die mense het hulle uitgelag en gespot. 11Tog het mense in Aser, Manasse en Sebulon berou gekry en na Jerusalem toe gekom. 12Ook in Juda was die hand van God werksaam. Hy het hulle die koning en die amptenare se bevel wat op sy opdrag berus het, eendragtig laat gehoorsaam. 13Baie mense het in Jerusalem byeengekom, 'n baie groot gemeente, om die fees van die ongesuurde brood in die tweede maand te vier.
14Die mense het die altare wat oral in Jerusalem was, afgebreek, ook al die wierookaltare, en dit in die Kedrondal gegooi. 15Hulle het die paaslam geslag op die veertiende van die tweede maand. Die priesters en die Leviete het skaam gekry en hulle gewy en die brandoffers geoffer in die huis van die Here. 16Hulle het hulle plekke ingeneem volgens die orde wat vir hulle neergelê is in ooreenstemming met die wet van Moses, die man van God. Die priesters het die bloed gesprinkel wat die Leviete vir hulle aangegee het. 17In die gemeente was daar baie mense wat hulle nie gewy het nie, en die Leviete moes toe die paaslammers slag vir almal wat nie rein was nie, sodat ook húlle paaslammers aan die Here gewy kon wees. 18Die meeste van die baie mense uit Efraim, Manasse, Issaskar en Sebulon het hulle nie gereinig nie en het die paaslam geëet in stryd met wat voorgeskryf is. Maar Hiskia het vir hulle gebid: “Mag die Here in sy goedheid versoening doen vir 19elkeen wat aan God, die Here, die God van sy voorvaders, gehoorsaam wil wees, al is dit nie volgens die reinheidsvoorskrifte van die heiligdom nie.”
20Die Here het Hiskia se gebed verhoor en die volk nie gestraf nie.
21Die Israeliete wat in Jerusalem was, het die fees van die ongesuurde brood met groot vreugde sewe dae lank gevier. Die Leviete en die priesters het elke dag die mag van die Here geloof met begeleiding van musiek, 22en Hiskia het die Leviete geprys oor die bekwaamheid waarmee hulle dié kuns voor die Here beoefen het. Die fees is sewe dae lank gevier. Daar is maaltydoffers gebring en die Israeliete het die Here die God van hulle voorvaders geloof.
23Toe het die hele gemeente besluit om die fees met 'n week te verleng, en hulle het nog sewe dae met vreugde feesgevier. 24Koning Hiskia van Juda het duisend jong bulle en sewe duisend stuks kleinvee tot beskikking van die gemeente gestel, en die amptenare het nog duisend jong bulle en tien duisend stuks kleinvee bygesit. 'n Groot aantal priesters het hulleself gereinig. 25Daar was vreugde in die hele gemeente van Juda, onder die priesters en die Leviete, in die hele gemeente wat uit Israel gekom het, en ook onder die immigrante wat uit die land Israel gekom het en nou in Juda gewoon het. 26In Jerusalem was daar groot vreugde, want so iets was daar nie in Jerusalem van die tyd van koning Salomo van Israel, seun van Dawid, af nie. 27Toe die priesters en die Leviete opstaan en die seën uitspreek oor die volk, het God dit gehoor: hulle gebed het die heilige woning van God in die hemel bereik.