Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 144

2 KRONIEKE 1–5, PSALM 72

Bybelteks(te)

Koning Salomo se wysheid

(Vgl. 1 Kon. 3:1-15)

1Salomo seun van Dawid het 'n stewige houvas op sy koningskap gekry. Die Here sy God was by hom en het hom groot mag gegee. 2Salomo het die hele Israel opgeroep: die bevelhebbers oor duisend en honderd, die regters, elke leiersfiguur in die hele Israel, al die familiehoofde. 3Salomo en die hele gemeente saam met hom het toe na die hoogte toe by Gibeon gegaan. Die tent van die ontmoeting met God wat Moses, die dienaar van die Here, nog in die woestyn gemaak het, was toe daar. 4Die ark van God was egter nie daar nie. Dawid het dit in sy dae uit Kirjat-Jearim laat bring na die plek toe wat hy daarvoor reggemaak het, want hy het daarvoor in Jerusalem 'n tent laat opslaan. 5Die bronsaltaar wat Besaleël seun van Uri, seun van Gur, gemaak het, was opgestel voor die tabernakel van die Here. Salomo en die gemeente het die Here gaan raadpleeg. 6Salomo het daar op die bronsaltaar offers gebring voor die Here wat in die tent van ontmoeting teenwoordig is. Hy het 'n duisend brandoffers daar gebring.

7Daardie nag het God aan Salomo verskyn en vir hom gesê: “Vra wat Ek jou moet gee.”

8Salomo sê toe vir God: “U het groot trou aan my vader Dawid bewys en my in sy plek koning gemaak. 9Vervul nou, Here God, u belofte aan my vader Dawid, want U het my koning gemaak oor 'n volk so baie soos die stof van die aarde. 10Gee my nou wysheid en kennis dat ek hierdie volk reg kan lei, want wie kan uit homself hierdie groot volk van U regeer?”

11God het vir Salomo geantwoord: “Omdat jy dít besluit het en jy nie rykdom, besittings, aansien of jou vyande se lewens gevra het nie, en ook nie 'n lang leeftyd nie, maar wysheid en kennis waarmee jy my volk oor wie Ek jou koning gemaak het, kan regeer, 12daarom word die wysheid en kennis aan jou geskenk. Maar Ek gee jou bowendien rykdom, besittings en aansien soos die konings voor jou nie gehad het nie en dié ná jou ook nie sal hê nie.”

13Daarna het Salomo van die hoogte in Gibeon af, van die tent van ontmoeting af, na Jerusalem toe teruggegaan. Hy was nou koning oor die hele Israel.

Die militêre mag en die rykdom van Salomo

(Vgl. 1 Kon. 10:26-29)

14Koning Salomo het 'n mag van strydwaens en perde opgebou. Hy het veertien honderd strydwaens en twaalf duisend perde besit, waarvan hy party in strydwaposte en ander by die paleis in Jerusalem gestasioneer het. 15Die koning het goud en silwer in Jerusalem so volop gemaak soos klippe, en seders so volop soos wildevyebome in die Laeveld. 16Sy perde was afkomstig uit Egipte en Kewé. Die handelaars van koning Salomo het hulle in Kewé gaan koop vir die prys waarop ooreengekom is. 17Uit Egipte is 'n strydwa vir net minder as sewe kilogram silwer ingevoer en 'n perd vir een en 'n driekwart kilogram. Dieselfde pryse is aan al die Hetitiese en Aramese konings betaal. Die invoer het deur bemiddeling van die handelaars geskied.

2 KRONIEKE 1AFR83Maak oop in die Bybelleser

Salomo tref voorbereidings vir die bou van die tempel

(Vgl. 1 Kon. 5:1-18)

1Salomo was van voorneme om 'n tempel vir die Naam van die Here te bou, en 'n paleis vir homself. 2Vir dié doel het hy sewentig duisend draers en tagtig duisend klipkappers in die berge aan die werk gesit, met drie duisend ses honderd opsigters oor hulle.

3Verder het hy die volgende boodskap gestuur aan koning Hiram van Tirus: “U het destyds met my vader Dawid 'n ooreenkoms aangegaan en vir hom seders gelewer om vir hom 'n paleis te bou om in te woon. 4Nou wil ek 'n tempel bou vir die Naam van my God, die Here, en dit aan Hom wy. Daar sal ons Hom eer met wierookoffers, met offerbrood wat voortdurend daar is, en met brandoffers, elke môre en elke aand, elke sabbat, elke nuwemaan en elke vasgestelde feestyd van ons God, die Here. Dit is 'n permanente verpligting wat op Israel rus. 5Die tempel wat ek wil bou, gaan groot wees, want ons God is die grootste van alle gode. 6Wie sou eintlik die vermoë hê om vir Hom 'n tempel te bou as die hemel, die hoogste hemel self, Hom nie kan bevat nie? En wie is ek eintlik dat ek, behalwe om Hom met offers te eer, vir Hom ook 'n tempel wil bou?

7“Stuur nogtans vir my 'n vakman in die bewerking van goud, silwer, brons en yster en van pers, bloedrooi en blou wol. Hy moet ook vaardig wees in graveerwerk en moet saamwerk met die vakmanne hier by my in Juda en Jerusalem wat deur my vader Dawid gewerf is. 8Stuur vir my verder ook nog seder-, sipres- en jenewerhout van die Libanon af. Ek weet immers hoe vaardig u arbeiders is in die kap van Libanonbome. My eie arbeiders sal saam met u arbeiders werk. 9Hulle moet vir my groot hoeveelhede hout regmaak, want die tempel wat ek wil bou, moet groot en indrukwekkend wees. 10Vir u arbeiders, die boswerkers wat die bome moet kap, sal ek die volgende voedselvoorrade lewer: drie duisend drie honderd ton koring, twee duisend ses honderd en veertig ton gars, vier honderd en veertig kiloliter wyn en vier honderd en veertig kiloliter olie.”

11Koning Hiram van Tirus het Salomo soos volg skriftelik geantwoord: “Dit was 'n liefdesdaad van die Here aan sy volk dat Hy u koning oor hulle laat word het!” 12Verder het Hiram geskrywe: “Geloof sy die Here die God van Israel, wat die hemel en die aarde gemaak het! Hy het aan koning Dawid 'n wyse seun gegee wat die verstandigheid en insig aan die dag lê om vir die Here 'n tempel te wil bou en vir homself 'n paleis. 13Ek stuur hiermee 'n vakman met die nodige kennis, my meestervakman Hiram. 14Hy is die seun van 'n vrou uit Dan, en sy pa is uit Tirus. Hy is vaardig in die bewerking van goud, silwer, brons, yster, klip, hout, pers en blou wol, linne en bloedrooi wol. Bowendien kan hy enige graveerwerk doen en in samewerking met u en u vader Dawid se vakmanne, enige ontwerp uitvoer wat aan hom voorgelê word. 15As u nou vir ons die koring, gars, olie en wyn stuur soos u onderneem het, 16sal ons al die hout wat u nodig het, in die Libanon kap en dit in vlotte met die see langs vir u na Joppe toe bring. U kan dit dan na Jerusalem toe laat vervoer.”

17Salomo het 'n opname laat maak van al die nie-Israeliete in Israel. Dit was ná die opname wat Dawid, sy pa, reeds van hulle laat maak het. Daar is gevind dat hulle een honderd drie en vyftig duisend ses honderd is. 18Hy het toe sewentig duisend van hulle as draers en tagtig duisend as klipkappers aan die gang gesit in die berge. Daar was drie duisend ses honderd opsigters om die manne aan die werk te hou.

2 KRONIEKE 2AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die bou van die tempel

(Vgl. 1 Kon. 6:1-38; 7:15-51)

1Salomo het begin bou aan die huis van die Here in Jerusalem. Dit was op Moriaberg waar die Here aan Dawid, sy pa, verskyn het, op die plek wat Dawid laat regmaak het, waar die dorsvloer van Arauna die Jebusiet was. 2Hy het begin bou op die tweede van die tweede maand, in die vierde jaar van sy regering.

3Die grondplan waarvolgens Salomo die tempel van God gebou het, was soos volg: die lengte volgens die ou maat was dertig meter, en die breedte tien meter.

4Die voorportaal aan die voorkant van die tempel was tien meter lank, net so lank as wat die tempel breed was. Die hoogte daarvan was sestig meter. Salomo het dit aan die binnekant met suiwer goud oorgetrek.

5Die groot vertrek het hy met sipreshout uitgevoer, met egte goud oorgetrek en daarop palms en kettings laat uitsny. 6Hy het die vertrek versier met kosbare edelstene. Die goud was Parwajimgoud. 7So het hy die hele vertrek met goudplaat oorgetrek, die balke, drumpels, mure en deure daarvan, en aan die mure het hy ook nog gerubs laat uitsny.

8Die Allerheiligste het hy tien meter lank gemaak, net so lank as wat die gebou breed was. Die breedte daarvan was ook tien meter. Hy het die vertrek met egte goud oorgetrek, sowat twintig ton. 9Die goue spykers het bietjie meer as 'n halwe kilogram geweeg. Ook die bovertrekke het hy met goud oorgetrek.

10In die Allerheiligste het hy twee gerubs gemaak, gegote stukke, en hulle ook met goud oorgetrek. 11Die vlerke van die gerubs was saam tien meter lank. Die een gerub se een vlerk het aan die een muur van die vertrek geraak, en sy ander vlerk aan dié van die ander gerub. 12Die een vlerk van die ander gerub het aan die ander muur van die vertrek geraak, en sy ander vlerk was vas aan die ander gerub s'n. Elke vlerk was twee en 'n half meter lank. 13Die vlerke van hierdie gerubs het dus tien meter ver gereik. Hulle het op hulle eie voetstukke gestaan met die gesigte na die groot vertrek toe.

14Die voorhangsel het hy gemaak van blou, pers en bloedrooi wol en van linne, en daarop gerubs laat uitwerk.

15Voor die tempel het hy twee pilare opgerig, sewentien en 'n half meter hoog, met 'n kapiteel van twee en 'n half meter op elkeen. 16Hy het kettings gemaak vir 'n krans en dit bo-aan die pilare aangebring. Daarna het hy honderd granate gemaak en aan die kettings vasgesit. 17Die pilare het voor die tempel gestaan, een regs en een links. Die regterkantste het hy Jakin genoem en die linkerkantste Boas.

2 KRONIEKE 3AFR83Maak oop in die Bybelleser

1Hy het die bronsaltaar gemaak, tien meter lank, tien meter breed en vyf meter hoog. 2Hy het ook die gegote waterbak gemaak, heeltemal rond, vyf meter in deursnee, twee en 'n half meter hoog en met 'n omtrek van vyftien meter. 3Onderom die rand van die waterbak was twee rye beeste in reliëf, tien op elke halwe meter. Die beeste is saam met die waterbak in een stuk gegiet. 4Die waterbak het gerus op twaalf gegote beeste, drie na die noorde, drie na die weste, drie na die suide en drie na die ooste gerig. Die waterbak was bo-oor hulle, en almal se agterkante was onder die bak in. 5Die waterbak was nege sentimeter dik en sy rand was soos 'n beker se rand in die vorm van die kelk van 'n lelie. Dit kon ses en sestig kiloliter bevat.

6Hy het tien waskomme gemaak en vyf aan die regterkant en vyf aan die linkerkant gesit. Daarin spoel hulle die offergereedskap af. Die waterbak is vir die priesters om in te was. 7Hy het tien goue kandelaars gemaak volgens voorskrif en hulle in die voorste heiligdom gesit, vyf aan die regterkant en vyf aan die linkerkant. 8Hy het tien tafels gemaak en in die voorste heiligdom gesit, vyf aan die regterkant en vyf aan die linkerkant. Hy het honderd goue komme vir besprinkeling gemaak. 9Hy het die voorhof van die priesters ingerig en die groot binneruimte, met deure vir die binneruimte. Albei se deure het hy met brons oorgetrek. 10Die waterbak het hy aan die regterkant, suidoos van die tempel, opgestel.

11Hiram het die potte, die skoppe en die komme vir besprinkeling gemaak. So het hy die werk afgehandel wat hy vir koning Salomo aan die tempel van God moes doen: 12die twee pilare met die komvormige skywe en die kapitele bo-aan die twee pilare, en ook die roosters om die twee skywe van die kapitele bo-aan die pilare toe te maak; 13die vier honderd granate vir die twee roosters, 'n dubbele ry granate vir elke rooster om die skywe van die kapitele bo-op die pilare toe te maak. 14Hy het ook die waentjies en die waskomme op die waentjies gemaak, 15die waterbak met die twaalf beeste daaronder, 16die potte, skoppe en vurke. Al die nodige toerusting het die meestervakman Hiram vir koning Salomo vir die huis van die Here vervaardig van gepoleerde brons. 17Die koning het hulle in die omgewing van die Jordaan, tussen Sukkot en Saretan, in kleivorms laat giet. 18Salomo het so 'n groot hoeveelheid van al hierdie goed laat maak dat die brons nie geweeg kon word nie.

19Salomo het ook al die toerusting vir die tempel van God laat maak: die goue altaar, die tafels vir die offerbrood; 20die kandelaars met die lampe wat volgens voorskrif voor die binneste heiligdom aan die brand gehou moes word, alles van suiwer goud; 21die blomkelke, die lampe en die goue pithouers, alles heeltemal van goud; 22die skêre, die komme vir die besprinkeling, die panne en die vuurbakke, alles van suiwer goud. Ook die ingang van die tempel, sy deure, die binnekant van die Allerheiligste en die deure van die voorste heiligdom was van goud.

2 KRONIEKE 4AFR83Maak oop in die Bybelleser

1Nadat al die werk wat Salomo aan die huis van die Here gedoen het, afgehandel is, het hy die besondere wydingsgeskenke van Dawid, sy pa, ingebring. Die silwer en goud en al die toebehore het hy in die voorraadkamers van die tempel van God gesit.

Die ark word in die tempel gesit

(Vgl. 1 Kon. 8:1-9)

2Daarna het Salomo die leiers van Israel, die stamhoofde en die Israelitiese familiehoofde in Jerusalem bymekaargeroep om die verbondsark van die Here uit Sion, die Dawidstad, te laat uitbring. 3Al die manne van Israel het by die koning bymekaargekom op die feesdag in die sewende maand. 4Nadat al die leiers van Israel gekom het, het die Leviete die ark opgetel 5en die ark, die tent van ontmoeting en al die toebehore van die heiligdom wat in die tent was, gedra. Die Levitiese priesters het dit gedra. 6Koning Salomo en die hele gemeente van Israel wat saam met hom voor die ark was, het soveel kleinvee en beeste geoffer dat dit nie getel of bereken kon word nie. 7Toe het die priesters die verbondsark van die Here na sy plek toe gebring onder die vlerke van die gerubs in die binneste heiligdom van die tempel, dit is die Allerheiligste. 8Die gerubs se vlerke was oopgesprei oor die staanplek van die ark. Hulle het die ark en sy draaghoute aan die bokant bedek. 9Die draaghoute was so lank dat hulle punte by die ark verby gesteek het aan die voorkant van die binneste heiligdom, maar hulle kon nie van buite af gesien word nie. Hulle is vandag nog daar. 10Daar was niks in die ark nie behalwe die twee plat klippe wat Moses by Horeb gemaak het toe die Here by die uittog van die Israeliete uit Egipte met hulle 'n verbond gesluit het.

11Al die aanwesige priesters het hulle gereinig, ongeag hulle diensbeurte. Toe die priesters uit die heiligdom uitkom, 12het die Levitiese sangers oos van die altaar reggestaan met simbale, harpe en liere. Hulle was almal daar: Asaf, Heman en Jedutun met hulle volgelinge en ampsgenote. Hulle het hulle linneklere aangehad, en by hulle was omtrent honderd en twintig priesters, trompetblasers. 13Presies gelyk, soos een man, het die trompetblasers en die sangers die lof en dank aan die Here laat weerklink. Die klank van trompette, simbale, allerhande instrumente en die loflied ter ere van die Here het opgeklink: “Want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.” Op daardie oomblik het 'n wolk die huis van die Here gevul. 14Daarom kon die priesters nie vir diens aantree nie. Dit was die magtige teenwoordigheid van die Here wat die tempel van God gevul het.

2 KRONIEKE 5AFR83Maak oop in die Bybelleser

Mag die koning lank lewe

1Van Salomo.

Leer tog die koning, o God,

om te regeer volgens u wil,

leer die koning om die reg te handhaaf

soos U dit wil,

2sodat hy regverdige beslissings oor u volk sal vel

en aan die verdruktes reg laat geskied.

3Laat berge en rante hulle verbly

oor die vrede en reg vir die volk.

4Laat die koning die reg van die verdruktes onder die volk beskerm,

laat hy armes te hulp kom en verdrukkers verbrysel,

5sodat die mense U kan dien so lank as die son

en die maan daar is, van geslag tot geslag.

6Mag die koning vir sy mense wees soos die reën vir die plante,

soos swaar reëns wat die aarde deurdrenk.

7Mag die reg onder sy regering floreer

en mag daar vir altyd groot voorspoed wees.

8Mag hy heers van see tot see,

van die Eufraat af tot in verre lande.

9Mag die woestynbewoners voor hom kniel

en sy vyande voor hom in die stof kruip.

10Mag die konings van Tarsis en die kuslande geskenke bring,

die konings van Skeba en Seba aan hom belasting betaal.

11Mag alle konings voor hom buig

en al die nasies hom dien.

12Hy sal die arme red wat om hulp roep,

die verdrukte en dié wat geen helper het nie;

13hy sal hom oor die swakke en die behoeftige ontferm,

die lewens van die arm mense beskerm.

14Hy sal hulle van onderdrukking en geweld bevry;

hulle lewens sal kosbaar wees in sy oë.

15Mag die koning lank lewe,

mag daar vir hom goud uit Skeba gebring word;

mag die mense gedurig vir hom bid

en die hele dag seënbedes vir hom uitspreek.

16Mag daar volop graan in die land wees,

mag dit selfs bo-op die bergtoppe wuif,

mag die oes so welig wees soos die Libanon,

die graan so geil opskiet soos gras in die veld.

17Mag die koning se naam altyd onthou word,

mag sy roem duur so lank as die son daar is,

sodat al die nasies hulle in sy regering verlustig en hom prys!

18Geloof sy God die Here, die God van Israel.

Dit is net Hy wat magtige dade doen!

19Mag sy verhewe Naam vir altyd geloof word,

mag die hele wêreld vol wees van sy majesteit.

Amen, ja, amen.

20Hier eindig die gebede van Dawid, seun van Isai.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS