Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 142

1 KRONIEKE 26–29, PSALM 32, SPREUKE 13

Bybelteks(te)

Die poortwagte

1Wat betref die afdelings poortwagte was daar van die Koragiete Meselemja seun van Kore, uit die geslag van Asaf. 2Die oudste seun van Meselemja was Sagaria, die tweede Jediael, die derde Sebadja, die vierde Jatniël, 3die vyfde Elam, die sesde Joganan, die sewende Eljehoënai. 4Die oudste seun van Obed-Edom was Semaja, die tweede Josabad, die derde Joag, die vierde Sakar, die vyfde Netanel, 5die sesde Ammiël, die sewende Issaskar, die agste Peülletai. God het vir Obed-Edom besonderlik geseën. 6Sy seun Semaja het vader geword van seuns wat gesagsposisies in hulle familie beklee het, want hulle was bekwame mense. 7Die seuns van Semaja was Otni, Refael, Obed, Elsabad, en sy broers was Elihu en Semakja, knap mense. 8Hulle was almal uit die nageslag van Obed-Edom. Hulle sowel as hulle seuns en broers was bekwame manne, flink in die diens. Obed-Edom se groep was twee en sestig. 9Van Meselemja was daar agtien bekwame seuns en broers. 10Die seuns van Gosa, van die Merarigroep, het Simri as hoof gehad. Hy was nie die oudste nie, maar sy vader het hom as hoof aangestel. 11Die tweede was Gilkija, die derde Tebalja, die vierde Sagaria. Gosa het dertien seuns en broers gehad.

12Hierdie afdelings poortwagte, ingedeel volgens die manlike familiehoofde, het diens gedoen saam met hulle ampsgenote wat vir die huis van die Here moes sorg. 13Oud en jonk het op gelyke voet aan die loting vir elke poort deelgeneem volgens hulle families. 14Die lot vir die oospoort het op Meselemja geval. Toe hulle vir sy seun Sagaria, die verstandige raadgewer, die lot werp, is hy vir die noordpoort geloot. 15Die suidpoort is toegewys aan Obed-Edom, en die voorraadgebou aan sy seuns. 16Suppim en Gosa het die wespoort gekry, asook die Salleketpoort by die pad na die noorde toe. Die een wagbeurt het op die ander gevolg. 17By die oospoort was ses Leviete, by die noordpoort elke dag vier, by die suidpoort elke dag vier en by die voorrade elke keer twee. 18Wat die plein by die wespoort betref, was daar langs die pad vier en by die plein twee. 19Dit was dan die afdelings poortwagte, van die Korag- en die Merarigroep.

Die toesig oor die tempelskatte

20Sommige van hulle Levitiese ampsgenote het toesig gehou oor die tempelskatte en oor die wydingsgeskenke. 21-22Uit die Jegiëlgroep was daar Setam en sy broer Joël. Hulle was uit die nageslag van Ladan, dit is afstammelinge van die Gersonitiese lyn deur Ladan, en familiehoofde van Ladan die Gersoniet. Hulle was in beheer van die skatte van die huis van die Here.

23Uit die groepe van Amram, Jishar, Hebron en Ussiël 24was Subael, seun van Moses se seun Gersom, die hoofamptenaar belas met toesig oor die skatte. 25Sy ampsgenote het hulle afstamming teruggevoer op Eliëser deur Regabja, Jesaja, Joram, Sikri en Selomit. 26Hierdie Selomit en sy ampsgenote het toesig gehad oor al die wydingsgeskenke wat koning Dawid, die familiehoofde, die aanvoerders van duisend en honderd, en die leërhoofde aan die Here gewy het. 27Hulle het van die buit uit die oorloë gewy om die huis van die Here te onderhou. 28Alles wat die siener Samuel, Saul seun van Kis, Abner seun van Ner, en Joab seun van Seruja, gewy het, alles wat gewy is, was onder beheer van Selomit en sy ampsgenote.

Die handhawers van orde en regspraak

29Kenanja en sy seuns uit die Jishargroep was belas met werksaamhede buite die tempel. Hulle moes in Israel die orde handhaaf en vir die regspraak sorg.

30Van die Hebrongroep was Gasabja en sy ampsgenote, sewentien honderd bekwame manne, van die Jordaan af weswaarts belas met die opsig oor Israel vir alle werk van die Here en vir die koninklike diens. 31Van die Hebrongroep was Jerija die hoof volgens stamboom en familie. In die veertigste jaar van Dawid se regering is 'n opname van die Hebrongroep gemaak, en daar is in Jaser in Gilead bekwame manne onder hulle gevind. 32Jerija het twee duisend sewe honderd bekwame ampsgenote gehad, almal familiehoofde. Koning Dawid het hulle aangestel oor die stamme Ruben en Gad en oor die halwe Manassestam, vir alle sake wat in verband staan met die diens van God en met die diens aan die koning.

1 KRONIEKE 26AFR83Maak oop in die Bybelleser

Israelitiese familiehoofde in diens van die koning

1Hier volg 'n opgawe van die Israelitiese familiehoofde, die aanvoerders van duisend en honderd, en die toesighoudende amptenare wat in diens van die koning gestaan het met betrekking tot alles rakende die afdelings wat deur die jaar elke maand omgeruil het. Elke afdeling het uit vier en twintig duisend man bestaan. 2Jasobam seun van Sabdiël was in bevel van die eerste afdeling, dié vir die eerste maand. 3Hy was uit die Peresgroep en was gedurende die eerste maand hoof van al die leëraanvoerders. 4Dodai uit Agoag was in bevel van die afdeling vir die tweede maand. Sy afdeling se hoofaanvoerder was Miklot. 5Benaja seun van die hoëpriester Jojada was die derde leëraanvoerder, vir die derde maand. 6Hierdie Benaja was 'n sterk leier onder die dertig dapper manne van Dawid en in bevel van die dertig. Sy seun Ammisabad was na hom in bevel van die afdeling. 7Die vierde, vir die vierde maand, was Asael broer van Joab en ná hom sy seun Sebadja. 8Die vyfde, vir die vyfde maand, was die aanvoerder Samhut, uit Jisrag. 9Die sesde, vir die sesde maand, was Ira seun van Ikkes, uit Tekoa. 10Die sewende, vir die sewende maand, was Geles, uit Pelon in Efraim. 11Die agste, vir die agste maand, was Sibbekai, van Gusa uit die Seraggroep. 12Die negende, vir die negende maand, was Abiëser, uit Anatot in Benjamin. 13Die tiende, vir die tiende maand, was Marai, van Netofa uit die Seraggroep. 14Die elfde, vir die elfde maand, was Benaja, uit Piraton in Efraim. 15Die twaalfde, vir die twaalfde maand, was Geled, van Netofa uit die Otniëlgroep. Elkeen van hierdie afdelings was vier en twintig duisend sterk.

Die hoofde oor die twaalf stamme

16Die beheer oor die Israelitiese stamme was soos volg: Die hoofamptenaar Eliëser seun van Sikri was oor die Rubeniete; Sefatja seun van Maäka oor die Simeoniete; 17Gasabja seun van Kemuel oor Levi; Sadok oor die Aäroniete; 18Elihu, uit die broers van Dawid, oor Juda; Omri seun van Migael oor Issaskar; 19Jismaja seun van Obadja oor Sebulon; Jerimot seun van Asriël oor Naftali; 20Hosea seun van Asasja oor die Efraimiete; Joël seun van Pedaja oor die halwe Manassestam; 21Jiddo seun van Sagaria oor die halwe Manassestam in Gilead; Jaäsiël seun van Abner oor Benjamin; 22Asarel seun van Jerogam oor Dan. Dit was die manne in beheer van die Israelitiese stamme.

23Dawid het nie 'n opgawe van die Israeliete van twintig jaar en jonger laat maak nie, want die Here het beloof om Israel so baie soos die sterre van die hemel te maak. 24Joab seun van Seruja het begin om 'n opname te maak, maar dit nie afgehandel nie, want daardeur het die toorn van die Here teen Israel losgebreek. Daarom is die getal nie opgeneem in koning Dawid se annale nie.

Ander amptenare van Dawid

25Asmawet seun van Adiël was in beheer van die skatte van die koning. Jonatan seun van Ussia was in beheer van die skatte op die platteland, in die stede, dorpe en vestings. 26Esri seun van Kelub was in beheer van die arbeiders op die land wat die grond bewerk het. 27Simi uit Rama was in beheer van die wingerde, en Sabdi uit Sefam in beheer van die wynvoorrade in die wingerde. 28Baäl-Ganan uit Geder was in beheer van die olywe en wildevye in die Laeveld, en Joas in beheer van die olievoorrade. 29Sitrai uit Saron was in beheer van die vee wat in Saron gewei het, en Safat seun van Adlai in beheer van die vee in die laagtes. 30Die Ismaeliet Obil was in beheer van die kamele, en Jegdeja uit Meronot in beheer van die donkies. 31Die Hagareër Jasis was in beheer van die kleinvee. Dit was al die opsigters oor die besittings van koning Dawid.

32Dawid se oom Jonatan die raadgewer, 'n verstandige en geleerde man, en Jegiël seun van Gakmoni het die opvoeding van die prinse waargeneem. 33Agitofel was die raadgewer van die koning, en die Arkiet Gusai was die vriend van die koning. 34Agitofel is later opgevolg deur Jojada seun van Benaja en deur Abjatar. Joab was die koning se leërhoof.

1 KRONIEKE 27AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dawid se laaste opdrag oor die bou van die tempel

1Dawid het al die gesagsdraers van Israel laat bymekaarkom in Jerusalem: dié wat gesag gehad het oor die stamme, oor die afdelings in diens van die koning, oor duisend, oor honderd, oor al die koninklike besittings en vee, en verder sy seuns saam met die hoofbeamptes, die helde en al die manne van betekenis.

2Toe het koning Dawid opgestaan en gesê: “My broers, my volk, luister na my! Ek was van gedagte om 'n gebou op te rig as staanplek vir die verbondsark van die Here en as rusplek vir die voete van ons God. Ek het reeds voorbereidings vir die bouwerk getref, 3maar God het vir my gesê: ‘Jy sal nie vir my Naam 'n huis bou nie, want jy is 'n man van baie oorloë en jy het baie bloed vergiet.’

4“Die Here die God van Israel het my bo my hele familie verkies om my lewe lank koning oor Israel te wees. Hy het Juda gekies as leidende stam, uit die huis van Juda my familie, en Hy het onder my vader se seuns aan my die voorkeur gegee om oor die hele Israel te regeer. 5Uit al my seuns, want die Here het my baie seuns gegee, het Hy my seun Salomo gekies om te sit op die troon van waar die Here self oor Israel regeer. 6Hy het vir my gesê: ‘Jou seun Salomo sal vir My die tempel met sy voorhowe bou, want Ek het hom vir My as seun gekies, en Ek sal vir hom 'n vader wees. 7As hy volhou om my gebooie en bepalings na te kom soos nou, sal Ek sy koningskap sy lewe lank bevestig.’

8“Daarom gebied ek, Dawid, julle nou in teenwoordigheid van die hele Israel, die gemeente van die Here, en ten aanhore van ons God: Onderhou en ondersoek al die gebooie van die Here julle God, dat julle die goeie land kan bly besit en dit as 'n blywende erfenis aan julle kinders na julle kan nalaat. 9En jy, Salomo, my seun, jy moet die God van jou vader ken en Hom dien met jou hele hart en met 'n gewillige gemoed, want die Here ondersoek alle harte en ken die bedoeling van elke gedagte. As jy na Hom vra, sal Hy Hom deur jou laat vind, maar as jy Hom verlaat, sal Hy jou vir altyd verwerp. 10Besef nou dat die Here jou gekies het om 'n gebou as heiligdom op te rig. Pak nou die werk aan en doen dit!”

11Dawid het sy seun Salomo voorsien van 'n model van die voorportaal met die geboue wat daarby behoort: die voorraadkamers, soldervertrekke, binnevertrekke en die vertrek waarin die versoendeksel sou kom. 12Dit was 'n model van alles wat hy hom voorgestel het: van die voorhowe van die huis van die Here en van al die kamers rondom vir die tempelskatte en die wydingsgeskenke, 13vir die afdelings priesters en Leviete, vir al die werk verbonde aan die diens in die huis van die Here en vir al die gereedskap wat nodig was vir dié diens. 14Dawid het Salomo ook ingelig oor die presiese hoeveelheid goud wat nodig sou wees vir al die gereedskap vir elke soort diens, die presiese hoeveelheid vir al die silwergereedskap, oor al die gereedskap vir elke besondere werk, 15oor die presiese hoeveelheid vir die goue kandelaars met hulle goue lampe, die hoeveelheid wat nodig sou wees vir elke kandelaar met sy lampe, oor die silwerkandelaars, die presiese hoeveelheid vir 'n kandelaar met sy lampe al na gelang die funksie van die kandelaar, 16oor die hoeveelheid goud vir elkeen van die tafels met die offerbrood, die silwer vir die silwertafels, 17oor die vurke, komme en kanne van suiwer goud, oor die hoeveelheid vir elke goue beker en elke silwerbeker, 18oor die hoeveelheid gesuiwerde goud vir die wierookaltaar en oor die vorm van die rytuig, die gerubs van goud wat hulle vlerke moes uitsprei om die verbondsark van die Here te bedek. 19Dit alles, die hele uitvoering van die werk, het Dawid deur 'n openbaring van God te wete gekom en hy het dit op skrif gestel.

20Dawid het vir sy seun Salomo gesê: “Wees sterk, staan vas, begin die werk! Moenie bang wees nie en moenie besorg wees nie, want God die Here, my God, is by jou. Hy sal jou nie aan jouself oorlaat of jou verlaat nie, sodat jy al die werk vir die diens in sy huis kan afhandel. 21Die afdelings priesters en Leviete is gereed vir die volledige tempeldiens, en daar is vakmanne tot jou beskikking wat bedrewe is in al die soorte werk vir elke diens, terwyl die amptenare en die hele volk op jou bevele wag.”

1 KRONIEKE 28AFR83Maak oop in die Bybelleser

Skenkings vir die bou van die tempel

1Koning Dawid het die hele vergadering soos volg toegespreek: “My seun Salomo, die één wat deur God gekies is, is jonk en sag, maar die werk is groot. Hierdie paleis is nie vir 'n mens bedoel nie, maar vir God die Here. 2Met alles in my vermoë het ek vir die huis van my God materiaal gereed gebring: goud vir die goudwerk, silwer vir die silwerwerk, brons vir die bronswerk, yster vir die ysterwerk, hout vir die houtwerk, oniks met die gesteentes om daarrondom in te lê, steentjies vir mosaïekwerk, allerlei edelstene en 'n groot hoeveelheid marmer. 3Omdat die huis van my God my na aan die hart lê, skenk ek ook nog my besit aan goud en silwer bo en behalwe alles wat ek reeds vir die heiligdom gereedgebring het: 4honderd en drie ton goud, van Ofir se goud, en twee honderd en veertig ton gesuiwerde silwer om die mure van die vertrekke oor te trek 5en om die goud vir die goudwerk en die silwer vir die silwerwerk te voorsien, en vir al die werk wat deur die vakmanne gedoen moet word. Wie is nog gewillig om vandag sy hand oop te maak met 'n gawe aan die Here?”

6Die familiehoofde, die stamhoofde van Israel, die aanvoerders van duisend en van honderd, en die amptenare in beheer van die koning se dienste was almal gewillig. 7Hulle het vir die tempeldiens honderd een en sewentig ton goud, drie honderd twee en veertig ton silwer, ses honderd en sestien ton brons en drie duisend vier honderd sewe en twintig ton yster bygedra. 8Wie edelstene by hom gehad het, het dit aan die Gersoniet Jegiël gegee vir die tempelskat. 9Die volk was bly oor hulle gewilligheid, want hulle het die vrywillige gawes aan die Here met hulle hele hart gegee. Koning Dawid was ook baie bly.

'n Dankgebed van Dawid

10Dawid het 'n lofprysing aan die Here in teenwoordigheid van die hele vergadering uitgespreek. Sy woorde was: “Geloof sy U, Here, God van ons voorvader Israel, van ewigheid tot ewigheid. 11Die grootheid, Here, die krag, die glans, die roem en die majesteit behoort aan U, ja, alles in die hemel en op aarde. Aan U, Here, behoort die heerskappy; U is bo almal verhewe. 12Van U kom rykdom en eer. U heers oor alles. Mag en krag word deur U geskenk, en dit berus by U om enigiemand groot en sterk te maak. 13En nou loof ons U, ons God, ons prys u glansryke Naam, 14want wie is ek en wie is my volk dat ons die vermoë sou hê om sulke gawes te bring? Alles kom tog van U af en ons gee aan U wat ons van U gekry het. 15Net soos al ons voorvaders is ons by U sonder reg of aanspraak. Ons tyd op aarde is soos 'n skaduwee, dit gaan verby. 16Here ons God, al hierdie goed wat ons bymekaargemaak het om 'n huis vir u heilige Naam te bou, het ons van U gekry en dit behoort aan U. 17Ek weet, my God, dat U die hart ondersoek en dat U opregtheid wil hê. Ek het in opregtheid van hart al hierdie gawes gebring, en nou het ek met vreugde gesien hoe u volk wat hier teenwoordig is, sy gawes aan U bring. 18Here, God van ons voorvaders Abraham, Isak en Israel, behou vir altyd hierdie gesindheid in die gemoed van u volk. Rig hulle hart op U. 19Gee aan my seun Salomo dat hy met volle oorgawe u gebooie, u verordeninge, u voorskrifte sal hou, dat hy dit alles sal doen en die tempel wat ek beplan het, sal bou.”

Salomo word weer tot koning verklaar

20Daarna het Dawid vir die volle vergadering gesê: “Prys nou die Here julle God.” Die volle vergadering het toe die Here die God van hulle voorvaders geprys. Daarna het hulle voor die Here en die koning gekniel en in huldebetoon neergeval.

21Die volgende dag het hulle aan die Here as brand- en ander diereoffers duisend bulle, duisend ramme en duisend lammers geoffer, saam met die drankoffers wat daarby hoort. Daar was ook nog 'n menigte offers van die hele Israel. 22Hulle het daardie dag met uitbundige vreugde geëet en gedrink voor die Here. Vir die tweede keer het hulle ook vir Salomo seun van Dawid tot koning verklaar. Hulle het hom voor die Here tot koning gesalf en vir Sadok as priester. 23Salomo het sy plek ingeneem op die troon van die Here as koning in die plek van sy pa. Salomo was voorspoedig en die hele Israel was hom onderdanig. 24Al die amptenare en die lede van die lyfwag, en ook al koning Dawid se seuns, het 'n eed van trou aan koning Salomo afgelê. 25Die Here het Salomo hoë aansien in die oë van die hele Israel laat geniet en hom 'n koninklike verhewenheid geskenk wat nie een van die Israelitiese konings voor hom gehad het nie.

Oorsig oor Dawid se regering

26Dawid seun van Isai het oor die hele Israel geregeer. 27Hy het veertig jaar lank oor Israel geregeer. Hy was sewe jaar koning in Hebron en drie en dertig jaar in Jerusalem. 28Hy het op hoë ouderdom gesterf, na 'n vol lewe, ryk en geëerd. Sy seun Salomo het hom as koning opgevolg. 29Die geskiedenis van koning Dawid, van begin tot einde, is opgeteken in die geskrifte van die siener Samuel, dié van die profeet Natan en dié van die siener Gad, 30alles oor sy regering, sy heldedade en die tye wat oor hom, oor Israel en oor die koninkryke van die aarde heen gegaan het.

1 KRONIEKE 29AFR83Maak oop in die Bybelleser

U het my skuld vergewe

1'n Gedig van Dawid.

Dit gaan goed met die mens

wie se oortredings nie gestraf word nie,

wie se sonde vergewe word.

2Dit gaan goed met die mens

vir wie die Here die oortreding nie toereken nie

en in wie se gees daar geen valsheid is nie.

3Toe ek oor my sonde geswyg het,

het my liggaam uitgeteer soos ek heeldag om hulp geroep het.

4U hand het dag en nag swaar op my gedruk,

my krag het opgedroog soos water in somerhitte. Sela

5Toe het ek my sonde bely,

my oortreding nie weggesteek nie.

Ek het gesê:

“Voor die Here bely ek my opstandigheid;”

en U het my skuld vergewe. Sela

6Dit is waarom elke gelowige in 'n tyd van nood tot U bid;

selfs vloedwaters sal hom nie skielik oorval nie.

7U is vir my 'n skuilplek,

U beskerm my teen aanvalle,

U laat my oorwinningsliedere sing. Sela

8Ek wil jou onderrig

en jou die pad leer wat jy moet volg.

Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou.

9Moenie onverstandig wees nie, soos 'n perd of 'n muil

wat met 'n stang in die bek beteuel moet word as jy hom wil lei.

10Die goddelose het baie smarte,

maar wie op die Here vertrou,

dié omvou Hy met sy liefde.

11Verbly julle in die Here en juig, regverdiges,

jubel, alle opregtes.

1'n Wyse seun laat hom leer deur sy vader,

'n ligsinnige slaan nie eens op dreigemente ag nie.

2'n Mens kan voorspoedig word

deur altyd die regte woorde te gebruik;

onbetroubare mense is net uit op geweld.

3Wie sy mond in bedwang hou, behou sy lewe;

wie sy mond nie kan hou nie, gaan sy ondergang tegemoet.

4Die luiaard se honger word nie gestil nie;

hardwerkende mense het meer as genoeg om te eet.

5Die regverdige haat leuens;

die goddelose maak hom gehaat en veragtelik.

6Die opregte bly behoue

deur sy gehoorsaamheid aan die Here;

ongehoorsaamheid laat die sondaar te gronde gaan.

7Party mense hou hulle ryk maar het niks nie;

party doen hulle arm voor maar besit baie.

8Met sy rykdom moet 'n ryk man hom soms loskoop;

'n arm man kom nie in so 'n gevaar nie.

9Die lewe van die regverdiges is vol vreugde;

die lewenslig van die goddeloses word uitgedoof.

10Selfverheffing lei altyd tot twis;

dié wat goeie raad aanneem, het wysheid.

11Rykdom wat sommerso gekom het, verminder maklik;

wie bietjie vir bietjie bymekaarmaak, word ryk.

12'n Verwagting wat nie uitkom nie, maak 'n mens mismoedig;

'n begeerte wat vervul word, bring nuwe lewe.

13Wie hom nie aan die woorde van die Here steur nie,

sal die gevolge dra;

wie eerbied het vir sy gebooie, sal die goeie vrugte pluk.

14Wat wyse mense jou leer, is 'n bron van lewe;

dit laat jou die strikke van die dood vermy.

15Iemand wat goeie insig het, geniet goedgesindheid;

die pad van onbetroubare mense lei tot vernietiging.

16Alles wat 'n verstandige mens doen, word met kennis gedoen;

wie nie wysheid het nie, begaan een dwaasheid na die ander.

17'n Onbetroubare boodskapper kom in die moeilikheid;

'n gesant op wie jy kan staatmaak, stel sake weer reg.

18Armoede en vernedering wag vir iemand

wat hom nie wil laat leer nie,

wie 'n teregwysing ter harte neem, word geëer.

19'n Begeerte wat vervul is, bring vreugde.

Dwase het 'n afkeer daarvan om kwaad te vermy.

20Wie met wyse mense omgaan, kry self wysheid;

wie hom met dwase ophou, word self sleg.

21Teenspoed volg die sondaars op hulle pad;

die regverdige word met voorspoed vergoed.

22'n Goeie mens laat 'n erfenis na ook vir sy kleinkinders;

die besittings van die sondaar

kom in die hande van die regverdige.

23Grond wat die eerste keer geploeg is,

lewer genoeg kos vir die armes,

maar waar daar nie wet en orde is nie,

word die kos van hulle af weggevat.

24Wie sy seun nie straf nie, het hom nie lief nie;

as hy hom liefhet, sal hy hom straf wanneer dit nodig is.

25Die regverdige het meer as genoeg om te eet;

goddelose mense bly honger.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS