Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 141

1 KRONIEKE 21–25, PSALM 127

Bybelteks(te)

Dawid laat die volk tel

(Vgl. 2 Sam. 24:1-25)

1Satan was teen Israel. Hy het Dawid aangehits om 'n sensus van Israel te hou. 2Dawid het vir Joab en die gesaghebbers van die volk gesê: “Gaan maak 'n opname van Israel van die suide tot die noorde en doen aan my verslag dat ek kan weet hoeveel hulle is.”

3Toe sê Joab: “Selfs al sou die Here by sy volk honderd keer soveel byvoeg as wat hulle nou is, sal u mos nog koning wees! Hulle is mos almal u onderdane. Waarom wil u dit doen, U Majesteit? Waarom moet dit nou 'n sondelas op Israel word?”

4Maar die koning se bevel aan Joab het bly staan. Joab het vertrek, die hele Israel deurgegaan en na Jerusalem toe teruggekom, 5waar hy die resultaat van die volkstelling aan Dawid oorhandig het. Israel was in totaal een miljoen een honderd duisend weerbare man en Juda vier honderd en sewentig duisend. 6Die Leviete en die Benjaminiete het hy nie bygereken nie, want die bevel van die koning het vir Joab 'n gruwel gebly.

7In die oë van God was die saak verkeerd en Hy het Israel dan ook daaroor swaar gestraf. 8Dawid het teenoor God bely: “Ek het swaar gesondig toe ek hierdie ding gedoen het. Vergewe tog nou my oortreding! Waarlik, ek het baie dwaas opgetree.”

9Die Here sê toe vir Gad, die siener van Dawid: 10“Gaan sê vir Dawid: So sê die Here: Ek lê drie dinge aan jou voor. Kies vir jou een daarvan, dan sal Ek dit laat gebeur.”

11Gad het toe na Dawid toe gegaan en vir hom gesê: “So sê die Here: Kies 12drie jaar hongersnood, of om drie maande lank op die vlug te bly voor jou teenstanders en deur die swaard van jou vyand agterhaal te word, of drie dae waarin die swaard van die Here self en die pes in die land is en die engel van die Here dwarsoor die Israelitiese gebied verderf saai. Besluit nou watter antwoord ek moet terugbring aan Hom wat my gestuur het.”

13Dawid het vir Gad geantwoord: “Ek is in 'n hoek gedryf. Laat my liewer in die hand van die Here val, want sy genade is baie groot. Ek wil nie in die hand van 'n mens val nie.”

14Daarna het die Here 'n pes onder Israel laat uitbreek, en daar is sewentig duisend Israeliete dood. 15God het ook 'n engel na Jerusalem toe gestuur om dié uit te delg, maar terwyl hy besig was om verderf te saai, het die Here toegekyk en besluit om die straf nie verder te voer nie. Hy het vir die engel wat die verderf aanrig, gesê: “Dit is nou genoeg! Trek jou hand terug!”

Die engel van die Here het by die dorsvloer van Arauna die Jebusiet gestaan.

16Toe Dawid opkyk en die engel van die Here tussen hemel en aarde sien staan met sy ontblote swaard in die hand en oor Jerusalem uitgesteek, val Dawid en die leiers met rouklere aan op hulle knieë neer. 17Dawid het vir God gesê: “Dit is tog ék wat opdrag gegee het om 'n sensus van die volk te hou en ék wat gesondig het. Die herder het kwaad gedoen, maar hierdie kudde, wat het húlle gedoen? Here my God, tree tog teen my en my familie op, maar nie met 'n plaag teen u volk nie.”

18Die engel van die Here het toe vir Gad opdrag gegee om vir Dawid te sê hy moet vir die Here 'n altaar gaan oprig op die dorsvloer van Arauna die Jebusiet. 19Dawid het toe gegaan soos Gad hom in die Naam van die Here beveel het.

20Arauna was besig om koring uit te trap. Toe hy omdraai en die engel sien, het hy en sy vier seuns by hom weggekruip. 21Terwyl Dawid na Arauna toe kom, kyk Arauna af en sien hom. Hy het van die dorsvloer af gegaan en diep voor Dawid gebuig.

22Dawid sê toe vir hom: “Laat my die plek met die dorsvloer kry. Ek wil daarop vir die Here 'n altaar bou. Laat my dit kry vir die volle waarde daarvan, dat die plaag kan wegkom van die volk af.”

23Arauna het vir Dawid gesê: “U kan dit gerus maar vat, U Majesteit; doen wat u goedvind. Ek gee ook nog die beeste vir die brandoffer, die dorsslee vir hout en die koring vir die graanoffer. Ek gee alles.”

24Hierop het koning Dawid vir Arauna gesê: “Nee, ek koop dit beslis van jou vir die volle waarde. Ek kan nie van wat joune is vir die Here bring nie. Ek bring nie 'n brandoffer wat my niks kos nie.”

25Dawid het aan Arauna byna sewe kilogram goud vir die plek betaal 26en daar 'n altaar vir die Here gebou. Hy het brandoffers en maaltydoffers gebring en die Here aangeroep. Die Here het hom geantwoord deur vuur uit die hemel op die brandofferaltaar af te stuur. 27Daarna het die Here met die engel gepraat en hy het sy swaard in die skede teruggesit.

28Toe Dawid destyds gemerk het die Here antwoord hom daar op die dorsvloer van Arauna die Jebusiet, het hy daar bly offer. 29Die tabernakel van die Here wat Moses in die woestyn gemaak het en die brandofferaltaar was toe op die hoogte in Gibeon, 30maar Dawid was nie in staat om God daar te gaan raadpleeg nie, want hy is afgeskrik deur die swaard van die engel van die Here.

1 KRONIEKE 21AFR83Maak oop in die Bybelleser

1Dawid het toe gesê: “Die heiligdom van God, die Here, is nou hier by die dorsvloer en hier is ook die brandofferaltaar vir Israel.”

Dawid tref voorbereidings vir die bou van die tempel

2Dawid het die vreemdelinge wat in Israel woonagtig was, bymekaar laat bring en klipkappers aan die werk gesit om messelklippe reg te kap vir die bou van die huis van God. 3Hy het 'n massa yster vir die spykers van die poortdeure en vir kramme gereed gemaak, en ook 'n massa brons, te veel om te weeg. 4Daar was soveel sederhout dat dit nie gemeet kon word nie, want die Sidoniërs en Tiriërs het sederhout in oorvloed aan Dawid gelewer.

5Dawid het gesê: “My seun Salomo is nog jonk en sag, en die huis wat vir die Here gebou gaan word, moet indrukwekkend groots wees, 'n roem en 'n sieraad vir alle lande. Daarom tref ek maar vir hom die voorbereidings.”

So het Dawid voor sy dood 'n groot hoeveelheid materiaal gereed gemaak. 6Daarna het hy sy seun Salomo geroep en hom voorskrifte gegee oor die bou van 'n huis vir die Here die God van Israel. 7Hy het vir Salomo gesê: “My seun, ek was van gedagte om 'n huis vir die Naam van die Here my God te bou, 8maar die woord van die Here het tot my gekom en gesê: ‘Jy het bloed in strome laat vloei en groot oorloë gevoer. Jy mag nie vir my Naam 'n huis bou nie, want jy het voor my oë te veel bloed op die aarde laat vloei. 9Jy gaan 'n seun hê wat 'n man van vrede sal wees, want Ek sal hom rus gee van al sy vyande rondom hom. Daarom sal sy naam Salomo wees: Ek sal vrede en kalmte aan Israel gee tydens sy regering. 10Hy sal vir my Naam 'n huis bou. Hy sal vir My 'n seun en Ek vir hom 'n vader wees. Ek sal die troon van sy koninklike heerskappy oor Israel altyd stewig laat staan.’

11“Mag die Here dan nou by jou wees, my seun, en jou voorspoed gee dat jy die huis van die Here jou God kan bou soos Hy beloof het dat jy sal doen. 12Mag die Here jou tog net verstand en insig gee en die nodige opdragte in verband met Israel, dat jy die wet van die Here jou God kan nakom. 13Jy sal voorspoed hê net as jy sorg dra dat die voorskrifte en bepalings wat die Here vir Moses in verband met Israel gegee het, nagekom word. Wees sterk en staan vas. Moenie bang wees nie en moenie besorg wees nie. 14Onder al my swaarkry het ek vir die huis van die Here drie duisend vier honderd sewe en twintig ton goud en vier en dertig duisend twee honderd en sewentig ton silwer opsy gesit, en 'n massa brons en yster, te veel om te weeg. Ek het ook hout en klip gereed gemaak, en jy kan daar nog byvoeg. 15Daar is bowendien 'n menigte arbeiders tot jou beskikking: klipkappers, vakmanne in klip en hout, en allerlei ander vakmanne, bedrewe in enige tegniek. 16Daar is goud, silwer, brons en yster in onberekenbare hoeveelhede. Pak nou die werk aan, en mag die Here by jou wees.”

17Dawid het ook al die gesaghebbers van Israel beveel om sy seun Salomo te help: 18“Was die Here julle God nie by julle nie en het Hy julle nie op alle grense rus gegee nie? Hy het die inheemse bevolking van die land in my mag gegee, en die land is aan die Here en sy volk onderwerp. 19Gee nou hart en siel daaraan om aan die Here julle God gehoorsaam te wees, en begin bou aan die heiligdom van God die Here, sodat die verbondsark van die Here en die gewyde voorwerpe van God ingebring kan word in die huis wat vir die Naam van die Here gebou sal word.”

1 KRONIEKE 22AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dawid reël die diens van die priesters en die Leviete

1Toe Dawid oud word en sy einde begin nader, het hy sy seun Salomo koning oor Israel gemaak. 2Hy het ook al die ampsdraers van Israel, die priesters en die Leviete laat bymekaarkom. 3Toe hulle getel is, was die Leviete, die mans van dertig jaar en ouer, altesaam ag en dertig duisend. 4Van hulle moes vier en twintig duisend sorg dra vir die werksaamhede in die huis van die Here, en ses duisend die orde en regspraak behartig; 5vier duisend was poortwagte, en vier duisend moes sorg vir die lof van die Here op die instrumente wat daarvoor vervaardig is.

6Dawid het hulle ingedeel in groepe volgens die seuns van Levi: Gerson, Kehat en Merari.

7Onder die Gersoniete is Ladan en Simi gereken. 8Die seuns van Ladan was Jegiël, die hoof, Setam en Joël, hulle drie. 9Die seuns van Simi was Selomit, Gasiël en Haran, ook drie. Hulle was die familiehoofde van Ladan. 10Die seuns van Simi was Jagat, Sisa, Jeüs en Beria. Dit was die vier seuns van Simi. 11Jagat was hoof en Sisa tweede in rang. Jeüs en Beria het nie baie seuns gehad nie en vorm saam een diensgroep van die familie.

12Die seuns van Kehat was Amram, Jishar, Hebron en Ussiël, hulle vier. 13Die seuns van Amram was Aäron en Moses. Aäron is vir altyd afgesonder, hy en sy nageslag, om blywend die heilige diens in die Allerheiligste te verrig, om vir die Here wierookoffers te bring, Hom te dien en in sy Naam die seën uit te spreek. 14Wat Moses betref, die man van God, sy nageslag is by die stam Levi gereken. 15Die seuns van Moses was Gersom en Eliëser. 16Van die nageslag van Gersom was Subael die hoof. 17Van die nageslag van Eliëser was sy seun Regabja die hoof. Eliëser self het nie ander seuns gehad nie, maar Regabja het besonder baie gehad.

18Van die nageslag van Jishar was Selomit die hoof. 19Van die nageslag van Hebron was Jerija die hoof, Amarja die tweede, Jagasiël die derde en Jekamam die vierde. 20Van die nageslag van Ussiël was Miga die hoof en Jissija die tweede.

21Die seuns van Merari was Magli en Musi. Die seuns van Magli was Eleasar en Kis. 22Toe Eleasar gesterf het, het hy geen seuns gehad nie, net dogters. Hulle verwante, die seuns van Kis, het met hulle getrou. 23Die seuns van Musi was Magli, Eder en Jeremot, hulle drie.

24Dit is dan die Leviete volgens hulle families, die familiehoofde volgens hulle diensgroepe, soos hulle een vir een by name opgeneem is. Die Leviete van twintig jaar en ouer het die werksaamhede verrig in die diens van die huis van die Here.

25Dit het so gekom omdat Dawid gesê het: “Die Here die God van Israel het sy volk rus geskenk en Hy wil vir altyd in Jerusalem woon. 26Die Leviete hoef nie meer die tabernakel met al die toebehore vir sy diens te vervoer nie.”

27Dit is dus die getal Leviete van twintig jaar en ouer wat diens gedoen het soos Dawid dit kort voor sy dood gereël het. 28Hulle het die Aäroniete bygestaan in die diens van die huis van die Here. Hulle was verantwoordelik vir die voorhowe, die kamers, die reiniging van al die gewyde dinge en vir die werksaamhede van die tempeldiens. 29Hulle moes sorg vir die offerbrood, die meel vir die graanoffer, die ongesuurde brood, die bakplaat, die deegmengsel en vir elke inhouds- en lengtemaat. 30Hulle moes ook elke môre hulle plek inneem vir die dank en lof aan die Here, en so ook saans. 31Verder moes hulle help by die bring van al die offers vir die Here op sabbatte, nuwemaansfeeste en ander feestye. Dit moes voortdurend voor die Here geskied, volgens die reëlmaat wat daarvoor vasgestel is. 32So moes hulle al die nodige doen by die tent van ontmoeting, by die heiligdom, en saam met hulle ampsbroers die priesters in die diens van die huis van die Here.

1 KRONIEKE 23AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dawid deel die priesters in diensgroepe in

1Wat die Aäroniete betref, hulle afdelings moes dié van die seuns van Aäron gewees het: Nadab en Abihu, Eleasar en Itamar. 2Nadab en Abihu is egter dood vóór hulle pa en hulle het nie seuns gehad nie. Daarom het net Eleasar en Itamar die priesterskap gekry. 3Dawid het hulle met behulp van Sadok, uit die nageslag van Eleasar, en Agimelek, uit die nageslag van Itamar, in diensgroepe ingedeel vir die uitvoering van hulle pligte. 4Toe hulle vind dat die nageslag van Eleasar meer manlike hoofde het as die nageslag van Itamar, het hulle die nageslag van Eleasar onder sestien familiehoofde en die nageslag van Itamar onder ag ingedeel. 5Hulle het hulle deur loting ingedeel, die een groep by die ander, sodat daar ampsdraers van die heiligdom, ampsdraers vir God, uit die Eleasargeslag én uit die Itamargeslag gekom het. 6Die administratiewe amptenaar Semaja, 'n Leviet, seun van Netanel, het hulle opgeskrywe in teenwoordigheid van die koning, die amptenare, die priester Sadok, Agimelek seun van Abjatar en die familiehoofde van die priesters en die Leviete. Telkens is twee families vir Eleasar en een vir Itamar geneem.

7Die eerste lot het op Jojarib geval, die tweede op Jedaja, 8die derde op Garim, die vierde op Seorim, 9die vyfde op Malkija, die sesde op Mijamin, 10die sewende op Kos, die agste op Abia, 11die negende op Jesua, die tiende op Sekanja, 12die elfde op Eljasib, die twaalfde op Jakim, 13die dertiende op Guppa, die veertiende op Jesebab, 14die vyftiende op Bilga, die sestiende op Immer, 15die sewentiende op Gesir, die agtiende op Pisses, 16die negentiende op Petagja, die twintigste op Esegiël, 17die een en twintigste op Jakin, die twee en twintigste op Gamul, 18die drie en twintigste op Delaja en die vier en twintigste op Maäsja. 19Dit was die diensgroepe waarvolgens hulle vir die uitvoering van hulle pligte na die huis van die Here toe gekom het. Dit moes geskied volgens die orde wat Aäron, hulle pa, neergelê het in ooreenstemming met die bevel van die Here die God van Israel.

Die familiehoofde van die oorblywende Leviete

20Wat die oorblywende Leviete betref, hulle familiehoofde was die volgende: Subael uit die nageslag van Amram, Jegdeja uit die nageslag van Subael, 21Jissija uit die nageslag van Regabja, 22Selomit uit die nageslag van Jishar, en Jagat uit die nageslag van Selomit. 23Uit die nageslag van Hebron was daar vier: Jerija, Amarja, Jagasiël en Jekamam. 24Miga was uit die nageslag van Ussiël, en Samir uit dié van Miga. 25Jissija was Miga se broer, en Sagaria was die familiehoof uit die nageslag van Jissija. 26Die seuns van Merari was Magli en Musi. Uit die nageslag van Jaäsija, 27'n seun van Merari, was Soham, Sakkur en Ibri familiehoofde. 28Uit die nageslag van Magli was daar Eleasar, maar hy het nie seuns gehad nie. 29Jeragmeël was die familiehoof uit die nageslag van Kis. 30Die seuns van Musi was Magli, Eder en Jerimot.

Dit is dan die Leviete volgens hulle families. 31Hulle het ook, naas hulle broers, die nageslag van Aäron, deelgeneem aan die loting in teenwoordigheid van koning Dawid, Sadok, Agimelek en die familiehoofde van die priesters en die Leviete. Van elke familie is almal, van die hoof tot by sy jongste broer, ingereken.

1 KRONIEKE 24AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dawid reël die sangbegeleiding in die tempel

1Dawid en die amptenare in beheer het die seuns van Asaf, Heman en Jedutun vir 'n besondere diens afgesonder. Hulle was mense wat onder begeleiding van liere, harpe en simbale as profete opgetree het.

Hier volg besonderhede oor die manne wat 'n funksie gehad het in hierdie diens.

2Die seuns van Asaf, naamlik Sakkur, Josef, Netanja en Asarela, was onder leiding van Asaf wat as profeet in diens van die koning opgetree het.

3Die seuns van Jedutun, naamlik Gedalja, Seri, Jesaja, Simi, Gasabja en Mattitja, was al ses onder leiding van Jedutun, hulle pa, wat met begeleiding van die lier as profeet opgetree het in die dank en die lof aan die Here.

4Die seuns van Heman was Bukkija, Mattanja, Ussiël, Subael, Jerimot, Gananja, Ganani, Eliata, Giddalti, Romamti-Eser, Josbekasa, Malloti, Hotir en Magasiot. 5Hulle almal was seuns van Heman, die siener van die koning in godsdienstige sake, en hulle het hom groot aansien verleen. God het aan Heman veertien seuns en drie dogters gegee. 6Hulle het almal onder leiding van hulle pa die sang in die huis van die Here begelei op simbale, harpe en liere in die tempeldiens.

Asaf, Jedutun en Heman was in diens van die koning. 7Saam met hulle ampsgenote wat in sang ter ere van die Here onderrig was, was die getal opgeleides twee honderd ag en tagtig.

8Hulle is vir diens geloot volgens die reël dat oud en jonk gelyk is, of hy nou al opgelei of leerling was. 9Die eerste lot het op Josef, uit die nageslag van Asaf, geval; die tweede op Gedalja, 10die derde op Sakkur, 11die vierde op Seri, 12die vyfde op Netanja, 13die sesde op Bukkija, 14die sewende op Asarela, 15die agste op Jesaja, 16die negende op Mattanja, 17die tiende op Simi, 18die elfde op Asarel, 19die twaalfde op Gasabja, 20die dertiende op Subael, 21die veertiende op Mattitja, 22die vyftiende op Jeremot, 23die sestiende op Gananja, 24die sewentiende op Josbekasa, 25die agtiende op Ganani, 26die negentiende op Malloti, 27die twintigste op Eliata, 28die een en twintigste op Hotir, 29die twee en twintigste op Giddalti, 30die drie en twintigste op Magasiot, 31die vier en twintigste op Romamti-Eser. Elke groep, die leier, sy seuns en ampsgenote, was twaalf.

1 KRONIEKE 25AFR83Maak oop in die Bybelleser

As die Here die huis nie bou nie

1'n Pelgrimslied. Van Salomo.

As die Here die huis nie bou nie,

swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs.

As die Here die stad nie beskerm nie,

waak dié wat dit beskerm, tevergeefs.

2Tevergeefs dat julle vroeg opstaan

en laat gaan slaap

om met moeite 'n bestaan te maak.

Vir dié wat Hy liefhet,

gee die Here dit in hulle slaap.

3Seuns is geskenke van die Here,

kinders word deur Hom gegee.

4Soos pyle in die hand van 'n krygsman,

so is seuns wat gebore is toe hulle vader nog jonk was.

5Dit gaan goed met die man wat sy pylkoker so gevul het!

Sulke mense het niks te vrees

as hulle met die vyand in die stadspoort onderhandel nie.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS