Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 140

1 KRONIEKE 16–20, PSALM 29

Bybelteks(te)

Die feesviering met die inbring van die ark

(Vgl. 2 Sam. 6:17-19)

1Die Leviete het die ark van God ingebring en dit neergesit binne-in die tent wat Dawid daarvoor opgeslaan het. Daarna het hulle vir God brandoffers en maaltydoffers gebring. 2Nadat Dawid klaar 'n brandoffer en 'n maaltydoffer gebring het, het hy die volk geseën in die Naam van die Here. 3Hy het aan elke Israeliet, man en vrou, 'n ringbrood, 'n bietjie dadels en 'n tros rosyntjies laat uitdeel.

4Hy het ook van die Leviete aangewys om voor die ark van die Here diens te doen. Hulle moes die Here die God van Israel roem, loof en prys. 5Asaf was die leier, Sagaria was tweede in bevel. Verder was daar Jeïel, Semiramot, Jegiël, Mattitja, Eliab, Benaja, Obed-Edom en Jeïel, almal met harpe en liere. Asaf het die simbale geslaan. 6Die priesters Benaja en Jagasiël het aanhoudend op die trompette geblaas voor die verbondsark van God uit.

Die lied “Loof die Here”

(Vgl. Ps. 105:1-15; 96:1-13; 106:47-48)

7Dit was op daardie selfde dag dat Dawid die eerste keer die “Loof die Here” deur Asaf en sy ampsgenote laat sing het:

8Loof die Here. Roep Hom aan!

Maak aan die nasies bekend wat Hy gedoen het.

9Sing liedere, sing tot sy eer,

vertel van al sy magtige dade.

10Roem sy heilige Naam,

laat dié wat die teenwoordigheid van die Here soek, bly wees.

11Soek hulp en beskerming by die Here,

soek gedurig sy teenwoordigheid.

12Julle moet dink aan die magtige dade wat Hy gedoen het,

aan sy wonders, aan die reddingsdade op sy bevel,

13julle, nageslag van Israel, sy dienaar,

nakomelinge van Jakob vir wie Hy uitverkies het.

14Hy, die Here, is ons God,

sy reddingsdade strek oor die hele aarde.

15Onthou, sy verbond is vir altyd,

die belofte wat Hy aan duisende geslagte toegesê het,

16die verbond wat Hy met Abraham gesluit het,

sy eed aan Isak.

17Hy het dit vir Jakob bevestig as 'n vaste toesegging,

vir Israel as verbond wat altyd sal bestaan.

18Hy het gesê:

“Ek gee Kanaän vir jou

as grondgebied en eiendom,

19al is julle maar min,

net 'n paar mense, en vreemdelinge in die land.”

20Toe hulle van volk na volk geswerf het,

van die gebied van die een volk na dié van 'n ander,

21het Hy niemand toegelaat om hulle te verdruk nie,

en het Hy selfs konings ter wille van hulle gewaarsku:

22“Moenie aan my gesalfdes raak nie,

moenie my profete kwaad aandoen nie!”

23Sing tot eer van die Here, almal op aarde!

Verkondig elke dag sy reddingsdade!

24Vertel die nasies van sy mag,

al die volke van sy magtige dade.

25Die Here is groot, al die lof kom Hom toe,

ontsagwekkend is Hy bo alle gode.

26Al die gode van die volke is niks:

dit is die Here wat die hemele gemaak het.

27Majesteit en luister straal van Hom uit,

krag en vreugde vul die plek waar Hy is.

28Prys die Here, alle volke,

prys die Here om sy eer en mag!

29Prys die Here om die eer van sy Naam!

Kom na Hom toe, bring vir Hom offers!

Buig voor die Here by sy heilige verskyning;

30betoon eerbied aan Hom, almal op aarde.

Die wêreld staan vas, dit wankel nie.

31Die hemele moet bly wees en die aarde moet juig,

hulle moet onder die nasies verkondig: “Die Here regeer.”

32Die see en alles daarin moet druis,

die veld en alles daarop moet jubel,

33die bome in die bos moet hulle verheug

voor die Here, want Hy kom om oor die aarde te heers.

34Loof die Here, want Hy is goed,

aan sy liefde is daar geen einde nie!

35Julle moet sê: “Red ons, o God, ons Verlosser,

maak ons bymekaar, red ons van die nasies,

dat ons u heilige Naam kan loof

en ons in u lof kan verheug.”

36Aan die Here die God van Israel kom die lof toe

van ewigheid tot ewigheid!

Toe het die hele volk gesê: “Amen! Prys die Here!”

37Dawid het vir Asaf en sy ampsgenote daar voor die verbondsark van die Here laat bly om voltyds voor die ark diens te doen soos dit van dag tot dag nodig sou wees; 38so ook vir Obed-Edom met sy ag en sestig ampsgenote. Obed-Edom seun van Jedutun en Gosa was poortwagte. 39Dawid het die priester Sadok met sy ampsgenote die priesters voor die tabernakel van die Here op die hoogte in Gibeon laat bly 40om gereeld soggens en saans vir die Here brandoffers te bring op die brandofferaltaar, soos dit voorgeskryf is in die wet van die Here wat Hy Israel beveel het. 41Saam met hulle het hy Heman en Jedutun en die ander manne wat gekeur en by name aangewys is, daar laat bly om die Here te loof: “Want aan sy liefde is daar geen einde nie.” 42Heman en Jedutun was in beheer van die trompette en simbale en die ander instrumente om die lied ter ere van God te begelei. Die volgelinge van Jedutun was by die poort.

43Hierna is almal huis toe, en Dawid het teruggegaan om sy gesin te seën.

1 KRONIEKE 16AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dawid wil vir die Here 'n huis bou

(Vgl. 2 Sam. 7:1-29)

1Terwyl Dawid op 'n keer in sy huis sit, sê hy vir die profeet Natan: “Kyk, ek woon in 'n huis wat met sederhout versier is, maar die verbondsark van die Here staan in 'n tent.”

2Natan het Dawid geantwoord: “Doen gerus alles wat u in gedagte het. God is by u.”

3Dieselfde nag het egter iets gebeur: die woord van God het tot Natan gekom en vir hom gesê: 4“Gaan sê vir my dienaar Dawid: So sê die Here: Nie jý sal vir My die huis bou om in te woon nie. 5Van die dag af dat Ek Israel hierheen laat trek het tot vandag toe het Ek nie in 'n huis gewoon nie. Ek het van tent na tent en van woonplek na woonplek gegaan. 6Het Ek ooit terwyl Ek saam met die Israeliete rondgeswerf het, vir een van die leiers wat Ek beveel het om die leiding van my volk Israel op hom te neem, gesê: ‘Waarom bou julle nie vir My 'n huis wat met sederhout versier is nie?’

7“Nou moet jy vir my dienaar Dawid sê: So sê die Here die Almagtige: Ek het jou uit die weiveld agter die kleinvee weggevat om oor my volk Israel te heers. 8Oral waar jy gegaan het, was Ek by jou; al jou vyande het Ek voor jou oë uitgedelg. Ek het jou so beroemd gemaak soos die grotes op die aarde. 9Ek het 'n woonplek aan my volk Israel gegee en hom gevestig, sodat hy sonder vrees in sy plek kan woon. Slegte mense sal hom nie meer verdruk soos voorheen 10toe Ek leiers oor my volk Israel aangestel het nie. Ek sal al jou vyande onderwerp. Ek maak aan jou bekend dat die Here vir jou 'n koningshuis sal vestig. 11Wanneer jou tyd daar is om by jou voorvaders te rus, sal Ek een van jou nageslag, jou eie seun, koning maak en aan hom 'n bestendige koningskap gee. 12Hy sal vir My 'n huis bou en Ek sal sy troon blywend vestig. 13Ek sal vir hom 'n vader wees en hy sal vir My 'n seun wees. My trou sal Ek nie aan hom onttrek nie, soos Ek dit aan jou voorganger onttrek het. 14Ek gee hom 'n blywende plek in my huis en my koninkryk. Sy troon sal altyd voortbestaan.”

15Volgens hierdie openbaring het Natan die hele boodskap aan Dawid oorgedra.

16Daarna het koning Dawid ingegaan en voor die Here gaan sit en gesê: “Wie is ek, Here God, en wie is my nageslag dat U my so ver gebring het? 17Selfs dit was vir U nog nie genoeg nie, o God: U het ook nog vir die nageslag van u dienaar tot in die verre toekoms beloftes gemaak, U sien my as die man wat soos 'n duif die hoogtes bereik, Here God!

18“Wat sou ek, Dawid, nog verder vir U kon sê oor die eer wat u dienaar aangedoen word? U ken immers u dienaar. 19U het hierdie groot ding gedoen, Here, ter wille van u dienaar omdat dit u besluit en wil was, en boonop het U al dié groot dinge aan u dienaar bekend gemaak. 20Daar is niemand soos U nie, Here! Buiten U is daar geen God nie, van hoeveel gode ons ook al gehoor het. 21Watter volk is soos u volk Israel? Hulle is die een nasie op aarde wat U vir U as volk vrygemaak het. U het u Naam bekend gemaak deur aan nasies groot en vreeslike dinge te doen toe U hulle verdryf het voor u volk wat U uit Egipte vrygemaak het. 22U het u volk Israel vir altyd u volk gemaak. En U, Here, U het hulle God geword. 23En nou, Here, wat U oor u dienaar en oor sy nageslag gesê het, staan vas vir altyd. Doen tog soos U belowe het, 24sodat dit vas kan staan en u Naam vir altyd groot kan wees as daar gesê word: Die Here die Almagtige, die God van Israel, Hy is God van Israel. Die nageslag van u dienaar Dawid bestaan voort voor U.

25“My God, U het nadruklik vir u dienaar gesê dat U vir hom 'n huis sal vestig, en daarom het u dienaar die vrymoedigheid gehad om sy gebed tot U te rig.

26“En nou, Here, U is God. U het hierdie goeie beloftes aan u dienaar gemaak. 27U dring daarop aan om die huis van u dienaar te seën, dat dit vir altyd in u diens sal wees. U, Here, het geseën; daarom is dit vir altyd geseën.”

1 KRONIEKE 17AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dawid se oorloë en landsadministrasie

(Vgl. 2 Sam. 8:1-18)

1Hierna het Dawid die Filistyne verslaan en onderwerp. Hy het Gat en sy buitedorpe afgeneem van die Filistyne.

2Hy het ook die Moabiete verslaan, sodat Moab aan Dawid onderhorig geword het en aan hom belasting moes betaal.

3Toe Dawid sy mag aan die Eufraat gaan herstel het, het hy vir koning Hadad-Eser van Soba in die rigting van Hamat verslaan. 4Van hom het Dawid 'n duisend strydwaens, sewe duisend oorlogsperde en twintig duisend voetsoldate afgevat. Hy het perde vir honderd strydwaens uitgehou en al die ander se hakskeensenings afgesny. 5Die Arameërs van Damaskus het vir koning Hadad-Eser van Soba te hulp gekom, maar Dawid het twee en twintig duisend man van Aram verslaan. 6Hy het militêre poste in die gebied Aram-Damaskus ingerig, en die Arameërs het aan hom onderhorig geword en moes aan hom belasting betaal. Die Here het Dawid die oorwinning laat behaal net waar hy gegaan het.

7Dawid het die goue skilde van Hadad-Eser se offisiere afgevat en dit na Jerusalem toe gebring. 8In Tibgat en Kun, twee stede van Hadad-Eser, het hy op 'n groot hoeveelheid brons beslag gelê. Daarvan het Salomo die bronswaterbak, pilare en bronsware gemaak.

9Toe koning Toï van Hamat verneem dat Dawid die hele leër van koning Hadad-Eser van Soba verslaan het, 10het hy sy seun Joram na koning Dawid toe gestuur. Hy moes hom sy groete oorbring en hom gelukwens met sy oorwinning oor Hadad-Eser, want Hadad-Eser het kort-kort vir Toï aangeval. Hy het allerlei artikels van goud, silwer en brons saamgestuur. 11Koning Dawid het dit alles aan die Here gewy, en so ook die silwer en goud wat hy van al die nasies weggevoer het, van Edom, Moab, die Ammoniete, die Filistyne en Amalek.

12Abisai seun van Seruja het agtien duisend man van Edom in die Soutvlakte verslaan 13en in Edom besettingsposte ingerig, sodat die hele Edom onderhorig aan Dawid geword het. Die Here het vir Dawid gehelp net waar hy gegaan het.

14Dawid was koning oor die hele Israel en hy het sy hele volk met reg en billikheid geregeer. 15Joab seun van Seruja is aangestel oor die leër, en Josafat seun van Agilud was hoof uitvoerende beampte. 16Sadok seun van Agitub, en Agimelek seun van Abjatar was priesters, en Sausa was staatsekretaris. 17Jojada se seun Benaja is aangestel oor die koning se Filistynse lyfwag. Die ouer seuns van koning Dawid was in sy persoonlike diens.

1 KRONIEKE 18AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die Ammoniete beledig Dawid se boodskappers

(Vgl. 2 Sam. 10:1-14)

1Na hierdie gebeure is koning Nagas van die Ammoniete oorlede. Sy seun het hom opgevolg, 2en Dawid het gedink: ek wil met Nagas se seun Ganun op goeie voet bly, want sy pa was my goedgesind. Dawid het toe gesante gestuur om met hom deelneming te betuig oor die dood van sy pa. Toe die amptenare van Dawid in die land van die Ammoniete by Ganun kom om met hom deelneming te betuig, 3het die leiers van die Ammoniete vir Ganun gesê: “Dink u werklik Dawid vereer u vader deur boodskappers te stuur om met u te simpatiseer? Het sy amptenare nie eerder na u toe gekom om die land deur te kyk en hier onrus te stook en inligting in te samel nie?”

4Ganun het toe Dawid se gesante gevat, hulle kaal geskeer, hulle klere net onderkant die heupe afgesny en hulle gelos. 5Hulle is toe daar weg, en die nuus oor die manne is aan Dawid meegedeel. Hy het toe boodskappers na hulle toe gestuur, want die manne was baie skaam.

Die koning het laat weet: “Bly voorlopig in Jerigo totdat julle baard gegroei het en kom dan huis toe.”

Joab verslaan die Ammoniete

(Vgl. 2 Sam. 10:6-14)

6Die Ammoniete het geweet dat hulle hulle by Dawid in onguns gebring het. Daarom het Ganun en die Ammoniete vier en dertig ton silwer gestuur om vir hulle by die Arameërs van Mesopotamië en by die Arameërs van Maäka en by Soba bemande strydwaens en 'n berede mag te huur. 7Hulle het vir hulle twee en dertig duisend strydwaens gehuur. Daarmee saam het die koning van Maäka en sy leërmag gekom en hulle het regoor Medeba kamp opgeslaan. Die Ammoniete het ook bymekaargekom uit hulle stede en uitgetrek vir die oorlog.

8Toe Dawid dit hoor, het hy vir Joab met die hele leër gestuur, almal dapper manne. 9Die Ammoniete het opgeruk en hulle gevegslinies voor die stad opgestel. Die konings wat hulle kom help het, was in die oop veld. 10Joab het opgemerk dat hy aan twee kante sou moes veg, voor en agter. Hy het toe 'n aantal van die beste manne uit Israel gekies en teenoor die Arameërs laat stelling inneem. 11Die res van die leër het hy onder aanvoering van sy broer Abisai geplaas en hulle teenoor die Ammoniete laat stelling inneem.

12Hy het gesê: “As die Arameërs vir my te sterk is, moet jy my kom help, en as die Ammoniete vir jou te sterk is, sal ek jou kom help. 13Wees dapper, ja, laat ons almal dapper wees ter wille van ons volk en die stede van ons God. Mag die Here doen soos Hy dit goedvind.”

14Joab en sy manne het opgeruk om teen die Arameërs te veg, maar hulle het vir hom gevlug. 15Toe die Ammoniete gewaar dat die Arameërs vlug, het die Ammoniete ook voor sy broer Abisai op die vlug geslaan en die stad ingegaan. Joab is toe na Jerusalem toe.

Dawid verslaan die Arameërs

(Vgl. 2 Sam. 10:15-19)

16Toe die Aramese state sien dat hulle deur die Israeliete verslaan is, het hulle afvaardigings gestuur om die Arameërs oorkant die Eufraat te laat kom, en Sobak die hoof van Hadad-Eser se leër het die leiding geneem. 17Toe Dawid die berig kry, het hy die hele Israel bymekaargemaak en die Jordaan oorgesteek. Toe hy naby die Arameërs kom, het hy stelling ingeneem teenoor hulle. Pas het Dawid sy stellings teenoor die Arameërs reg gehad vir die geveg, of hulle val hom aan. 18Hulle het egter vir Israel gevlug. Dawid het sewe duisend van die strydwabemanning en veertig duisend voetsoldate van Aram om die lewe gebring. Hy het verder ook vir Sobak die hoof van hulle leër doodgemaak. 19Toe die manskappe van Hadad-Eser besef dat hulle deur Israel verslaan is, het hulle vrede gesluit met Dawid en aan hom onderhorig geword. Die Arameërs was hierna nie weer bereid om die Ammoniete te help nie.

1 KRONIEKE 19AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dawid onderwerp die Ammoniete

(Vgl. 2 Sam. 12:26-31)

1In die lente, die tyd waarin die konings gewoonlik uittrek om oorlog te maak, het Joab die leër uitgelei en die land van die Ammoniete verwoes. Daarna het hy Rabba gaan beleër, maar Dawid het in Jerusalem agtergebly. Nadat Joab vir Rabba ingeneem en verwoes het, 2het Dawid self gekom en die Ammonitiese koning se kroon van sy kop afgehaal. Dit was van goud, met 'n kosbare steen in, en die gewig van die kroon was sowat vier en dertig kilogram. Dit het nou op Dawid se kop gekom, en hy het ook 'n groot buit uit die stad weggeneem. 3Hy het die burgers van die stad weggevoer en hulle aan die werk gesit met saag, ysterbeitel en byl. So het hy teenoor al die Ammonitiese stede opgetree. Daarna het hy en al die burgers na Jerusalem toe teruggegaan.

Dawid se oorloë teen die Filistyne

(Vgl. 2 Sam. 21:18-22)

4Daarna het daar oorlog met die Filistyne in Geser uitgebreek. Daar het Sibbekai die Gusatiet vir Sippai, uit die Refaïetegeslag, verslaan en moes die Filistyne hulle onderwerp.

5In 'n ander geveg teen die Filistyne het Elganan seun van Jaïr vir Lagmi, die broer van Goliat uit Gat, verslaan. Sy spiessteel was so dik soos die dwarsbalk van 'n weefstoel.

6Op 'n ander keer was daar oorlog in Gat. Daar was 'n lang man met ses vingers aan elke hand en ses tone aan elke voet; saam was dit vier en twintig. Hy was ook 'n Refaïet van geboorte. 7Hy het die Israeliete getart, en toe het Jonatan, seun van Dawid se broer Samma, hom doodgemaak. 8Dit was dan die Refaïete wat in Gat gebore is. Dawid en sy manskappe het hulle laat sneuwel.

1 KRONIEKE 20AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die stem van die Here is magtig

1'n Psalm van Dawid.

Prys die Here, julle hemelinge!

Prys die Here om sy eer en mag!

2Prys die Here om die eer van sy Naam!

Buig voor die Here by sy heilige verskyning!

3Die stem van die Here weerklink oor die waters.

Dit is die magtige God wat die weer laat dreun;

die Here self is op die groot waters!

4Die stem van die Here is magtig,

die stem van die Here is vol majesteit.

5Die stem van die Here kloof die seders van die Libanon oop.

6Hy laat die Libanon bokspring soos 'n kalf en die Sirjon soos 'n jong bees.

7Die stem van die Here laat weerlig uitslaan.

8Die stem van die Here laat die woestyn bewe.

Die Here laat die Kadeswoestyn bewe.

9Die stem van die Here laat die wildsbokke ruk van skrik;

dit stroop die bosse kaal.

In sy paleis roep almal uit: “Hoe geweldig!”

10Die Here heers oor die watermassas,

Hy heers vir altyd as koning.

11Die Here gee krag aan sy volk;

die Here seën sy volk met oorvloed.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS