Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 139

1 KRONIEKE 11–15, PSALM 28

Bybelteks(te)

Dawid word tot koning gekroon en neem Jerusalem in

(Vgl. 2 Sam. 5:1-3,6-10)

1Die hele Israel het gesamentlik na Dawid toe gekom in Hebron en gesê: “Ons is tog almal u eie mense! 2Selfs in die tyd toe Saul koning was, was u tog maar die een wat vir Israel in die oorlog aangevoer het. Die Here u God het vir u gesê:

“Jy moet vir my volk Israel 'n herder wees,

ja, jy moet heerser oor my volk Israel wees.”

3So het al die leiers van Israel by die koning in Hebron gekom. Toe het Dawid in Hebron in teenwoordigheid van die Here 'n verdrag met hulle gesluit. Daarna het hulle vir Dawid daar tot koning oor Israel gesalf. Dit was in ooreenstemming met die belofte van die Here deur Samuel.

4Dawid en die hele Israel het toe opgetrek teen Jerusalem, dit is Jebus. Die Jebusiete, oorspronklike inwoners van die land, het toe daar gewoon. 5Die inwoners van Jebus het vir Dawid gesê: “Hier sal jy nie inkom nie.”

Tog het Dawid die Sionsvesting ingeneem: dié is nou die Dawidstad. 6Dawid het destyds gesê: “Enigeen wat die eerste 'n Jebusiet neervel, word leier en aanvoerder!”

Joab seun van Seruja het toe eerste die stad ingegaan en hy het leier geword.

7Omdat Dawid toe in die vesting gaan woon het, noem hulle dit die Dawidstad. 8Hy het die stad rondom uitgebou, van die terras af verder, en Joab het die res van die stad herstel. 9Dawid het al hoe sterker geword, en die Here die Almagtige was by hom.

Dawid se dapper manne

(Vgl. 2 Sam. 23:8-39)

10Nou volg iets oor die leiers van Dawid se dapper manne. Hulle was sterk ondersteuners van sy koningskap en saam met die hele Israel het hulle hom op die troon geplaas, soos die Here aan Israel beloof het.

11Hier is 'n lys van die dapper manne: Jasobam seun van Gakmoni was hoof van die dertigtal. Hy het met sy spies drie honderd man in een veldslag laat sneuwel.

12Eleasar seun van Dodo uit Agoag was onder hom. Hy was een van die drie helde. 13Hy was by Dawid in Efes-Dammim toe die Filistyne daar vir die geveg bymekaargekom het. Daar was 'n stuk land vol gars, en toe die manskappe op die vlug slaan vir die Filistyne, 14het die drie dapper manne binne in die land stelling ingeneem en dit behou. Hulle het die Filistyne verslaan, en so het die Here vir hulle 'n groot oorwinning gegee.

15Op 'n keer het drie ander van die dertig leiers na Dawid toe gekom by die rots by die Adullamgrot. Die Filistynse kamp was in die Spooklaagte opgeslaan. 16Dawid was toe in 'n bergskuiling en die Filistyne het Betlehem beset. 17Dawid het baie dors geword en gesug: “Ag, as iemand my tog net water uit die put in Betlehem se poort kon laat drink!”

18Die drie het toe deur die Filistynse kamp geglip en water gaan skep uit die put in Betlehem se poort. Hulle het dit vir Dawid gebring, maar hy wou dit nie drink nie. Hy het dit as 'n offer vir die Here uitgegiet 19en gesê: “Mag God my daarvan bewaar dat ek dit sou drink. Sou ek die bloed van hierdie manne ten koste van hulle lewens wou drink? Hulle het dit met lewensgevaar gebring, en ek durf dit nie drink nie.”

Dit is wat die drie helde gedoen het.

20Joab se broer Abisai was die leier van hierdie drie. Hy het met sy spies drie honderd man laat sneuwel. So het hy vir hom onder die drie naam gemaak. 21Hy het 'n ereplek gehad in die tweede drietal en was hulle aanvoerder, maar een van die driemanskap het hy nie geword nie.

22Benaja seun van Jojada was die seun van 'n krygsman. Hy was 'n man van baie dade, afkomstig uit Kabseël. Dit is hy wat die twee sterk manne van Moab doodgemaak het, en hy wat op 'n sneeudag in 'n put afgeklim en die leeu wat daarin was, doodgemaak het. 23Hy het ook 'n Egiptenaar wat twee en 'n kwart meter lank was, doodgemaak. Die Egiptenaar het nogal 'n spies in sy hand gehad, so dik soos die dwarsbalk van 'n weefstoel, terwyl Benaja hom net met 'n stok gepak het. Hy het die spies uit die Egiptenaar se hand geruk en hom met sy eie spies van kant gemaak. 24Dit het Benaja seun van Jojada gedoen. So het hy vir hom onder die drie helde naam gemaak. 25Hy het 'n hoër rang gehad as die res van die dertig, maar een van die driemanskap het hy nie geword nie. Dawid het hom oor sy lyfwag aangestel.

26Die dapper manne was: Asael broer van Joab; Elganan seun van Dodo uit Betlehem; 27Samma uit Garod; Geles uit Pelet; 28Ira seun van Ikkes uit Tekoa; Abiëser uit Anatot; 29Sibbekai uit Gusa; Ilai uit Agoag; 30Marai uit Netofa; Geled seun van Baäna uit Netofa; 31Ittai seun van Ribai uit Gibea in Benjamin; Benaja uit Piraton; 32Hiddai uit Nagale-Gaäs; Abi-Albon uit Bet-Araba; 33Asmawet uit Bagurim; Eljagba uit Saälbon, 34die seuns van Jasen uit Gison; Jonatan seun van Sage uit Harar; 35Agiam seun van Sarar uit Harar; Elifal seun van Ur; 36Gefer uit Mekera; Agija uit Pelon; 37Gesro uit Karmel; Naärai seun van Esbai; 38Joël broer van Natan; Mibgar seun van Hagri; 39Selek die Ammoniet; Nagrai uit Beërot, wapendraer van Joab seun van Seruja; 40Ira uit Jeter; Gareb uit Jeter; 41Urija die Hetiet; Sabad seun van Aglai; 42Adina seun van Sisa uit Ruben, 'n Rubenitiese hoofman, in bevel van dertig; 43Ganan seun van Maäka; Josafat die Mitneër; 44Ussia uit Astarot; Sama en Jeïel, seuns van Gotam uit Aroër; 45Jediael seun van Simri; sy broer Joga uit Tis; 46Eliël uit Magawi; Jeribai en Josauja, seuns van Elnaäm; Jitma die Moabiet; 47Eliël, Obed en Jaäsiël uit Soba.

1 KRONIEKE 11AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die volgelinge van Dawid wat in Siklag by hom aangesluit het

1Die volgende manne het al in Siklag by Dawid aangesluit toe hy nog verban was deur Saul seun van Kis. Hulle het tot Dawid se groep dapper manne behoort en was sy strydmakkers in die oorlog. 2Hulle was bewapen met pyl en boog en kon ewe goed met die regter- as met die linkerhand slingervel gooi en boog skiet. Hulle was van Saul se stamgenote uit Benjamin. 3Die leier was Agiëser; verder was daar Joas seun van Semaä uit Gibea; Jesiël en Pelet, seuns van Asmawet; Beraka, Jehu uit Anatot, 4Jismaja uit Gibeon, 'n held onder die dertig helde en selfs beter as hulle; Jeremia, Jagasiël, Joganan, Josabad uit Gedera, 5Elusai, Jerimot, Bealja, Semarja, Sefatja uit Garif; 6Elkana, Jissija, Asarel, Joëser en Jasobam uit Korag; 7Joëla en Sebadja, seuns van Jerogam, uit Gedor.

8Daar het ook van die Gadiete oorgeloop na Dawid toe, na sy bergskuiling toe in die woestyn. Hulle was helde, krygsmanne, reg vir oorlog, bewapen met 'n groot skild en 'n spies, vreesaanjaend soos leeus en so vinnig soos wildsbokke op die berge. 9Eser was die hoof, Obadja tweede in rang, Eliab derde, 10Mismanna vierde, Jeremia vyfde, 11Attai sesde, Eliël sewende, 12Joganan agste, Elsabad negende, 13Jeremia tiende, Makbannai elfde. 14Hulle was van die mense uit Gad, hoofmanne van die leër; die kleinste van hulle kon man-alleen staan teen honderd, die grootste teen duisend. 15Dit was hulle wat in die reëntyd die Jordaan oorgesteek het toe hy vol was tot oor altwee sy walle en al die laagtes oos en wes volgestoot het.

16Toe daar van die Benjaminiete en Judeërs na Dawid toe gekom het in die bergskuiling, 17het hy na hulle toe uitgekom en geroep: “As julle in vrede na my toe gekom het om my te help, is ons bondgenote en is ek bereid om julle leier te wees, maar as julle gekom het om my aan my vyande te verraai, terwyl ek geen misdaad begaan het nie, mag die God van ons voorvaders dit dan raaksien en julle straf.”

18Daarna het die Gees vir Amasai, die leier van die dertig, in besit geneem, en hy het gesê:

“Vír u, Dawid!

Bý u, seun van Isai!

Vrede, vrede vir u,

en vrede vir hom wat by u staan,

want u God help u!”

Dawid het hulle toe aanvaar en hulle opgeneem onder die leiers van sy bende.

19Uit Manasse het mense na Dawid toe oorgeloop toe hy saam met die Filistyne op die veldtog teen Saul uitgetrek het. Hy het egter nie die Filistyne gehelp nie, want hulle regeerders het hom doelbewus weggestuur. Hulle het gesê: “Hy sal na sy koning Saul toe oorloop met ons koppe.”

20Dawid is toe na Siklag toe en daar het die volgende mense uit Manasse na hom toe oorgeloop: Adnag, Josabad, Jediael, Migael, Josabad, Elihu en Silletai, leiers van afdelings in Manasse. 21Hulle het Dawid gehelp en het aanvoerders van sy bende geword, want hulle was almal strydbare manne. 22Daar het van dag tot dag mense by Dawid aangekom om hom te help, totdat dit 'n groot leër geword het, 'n magtige leër.

Die volksleër wat in Hebron by Dawid aangesluit het

23Hier volg die getalle van die hoofmanne van die gewapende mag wat in Hebron na Dawid toe gekom het om die koningskap van Saul op hom oor te dra volgens die wil van die Here:

24Judeërs, gewapen met grootskild en spies: 6 800, ten volle gewapen; 25van die Simeoniete, strydbare manne gereed vir aktiewe diens: 7 100; 26van die Leviete: 4 600; 27ook nog Jojada, die Aäronitiese vors met 3 700 man by hom, 28en die jong Sadok, 'n strydbare man, met sy familie onder 22 aanvoerders; 29van die Benjaminiete, Saul se stamgenote: 3 000. Tot in dié stadium het die meeste van hulle trou gebly aan die huis van Saul.

30Van die Efraimiete was daar 20 800, almal strydbare manne, gesiene mense in hulle families; 31van die halwe Manassestam: 18 000 wat afgevaardig was om Dawid te kom koning maak; 32van die Issaskarstam, die mense wat die tekens van die tye verstaan het en geweet het wat Israel te doen staan: 200 van hulle hoofmanne en al hulle stamgenote onder hulle bevel; 33van Sebulon: 50 000 man wat slaggereed was en met alle wapens toegerus was vir die oorlog. Sonder om twee keer te dink, het hulle saam in 'n geveg ingestorm. 34Van Naftali was daar 1 000 aanvoerders en saam met hulle 37 000 man met grootskild en spies; 35van die Danniete: 28 600 gewapende man; 36van Aser: 40 000 man, slaggereed en gewapen; 37van oorkant die Jordaan af, van die Rubeniete, Gadiete en die halwe Manassestam: 120 000, toegerus met alle wapens. 38Al hierdie krygsmanne het saamgestaan en met volle oorgawe na Hebron toe gekom om Dawid koning oor die hele Israel te maak. Die hele res van Israel was dit daarmee eens dat Dawid koning gemaak moes word. 39Drie dae lank was hulle daar by Dawid en het hulle geëet en gedrink, want hulle volksgenote het hulle onthaal. 40Hulle verwante selfs van Issaskar, Sebulon en Naftali af het kos aangebring op donkies, kamele, muile en beeste. Daar was volop meel, vyekoeke, rosyntjiekoeke, wyn en olie, grootvee en kleinvee, want daar was groot vreugde in Israel.

1 KRONIEKE 12AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dawid se eerste poging om die ark na Jerusalem toe te bring

(Vgl. 2 Sam. 6:1-10)

1Daarna het Dawid met die aanvoerders van duisend en dié van honderd beraadslaag, met elke leier. 2Hy het vir die volle volksvergadering van Israel gesê: “As julle dink dit is goed, en as die Here ons God sy goedkeuring gee, laat ons die saak nou aanpak en boodskappers stuur na ons ander volksgenote toe in al die gebiede van Israel, dat hulle, en saam met hulle die priesters en die Leviete wat in hulle dorpe met weivelde woon, hier by ons moet bymekaarkom. 3Dan bring ons die ark van ons God na ons toe terug; in Saul se tyd het ons ons nie daaroor bekommer nie.”

4Die volle vergadering het hom bereid verklaar om dit te doen, want die hele volk het gedink dis reg. 5So het Dawid dan die hele Israel, van Sigorspruit aan die Egiptiese grens af tot by Lebo-Hamat, bymekaargebring om die ark van God in Kirjat-Jearim te gaan haal.

6Dawid en die hele Israel het opgetrek na Baäla toe, na Kirjat-Jearim toe wat in Juda lê, om die ark te gaan haal. Dit is die ark van die Here God wat oor die gerubs troon; sy Naam is oor die ark uitgeroep. 7Hulle het die ark van God op 'n nuwe wa vervoer van die huis van Abinadab af. Ussa en Agjo het die wa gedrywe. 8Dawid en die hele Israel het uitbundig voor die ark van God uit gedans, begelei deur liedere, liere, harpe, tamboeryne, simbale en trompette.

9Toe hulle by Nakon se dorsvloer kom, het Ussa die ark met sy hand teëgehou, want die osse het gestruikel. 10Die toorn van die Here het teen Ussa ontvlam; die Here het hom getref omdat hy met sy hand aan die ark geraak het, en hy het daar langs die ark gesterf. 11Dawid was diep ontsteld omdat die Here vir Ussa so weggeskeur het en hy het daardie plek genoem Ussa-se-Skeur. Dit is nou nog die naam. 12Dawid het daardie dag bang geword vir God en gesê: “Hoe kan ek die ark van God nou na my toe bring?”

13Hy het toe nie die ark na hom toe in die Dawidstad laat inkom nie en het dit laat wegdraai na die huis van Obed-Edom toe wat uit Gat afkomstig was. 14Die ark van God het drie maande in Obed-Edom se huis gestaan, en God het hom en alles wat hy gehad het, voorspoedig gemaak.

1 KRONIEKE 13AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die paleis van Dawid en die uitbreiding van sy gesin

(Vgl. 2 Sam. 5:11-16)

1Koning Hiram van Tirus het 'n afvaardiging na Dawid toe gestuur, en ook sederhout, geskoolde messelaars en skrynwerkers om vir hom 'n huis te bou. 2Dawid het toe besef dat die Here hom as koning oor Israel bevestig het, want sy koningskap het hoë aansien gekry ter wille van die Here se volk Israel. 3In Jerusalem het Dawid met nog vrouens getrou en het hy die vader van nog seuns en dogters geword. 4Hier is die name van die kinders wat in Jerusalem vir hom gebore is: Sima, Sobab, Natan, Salomo, 5Jibgar, Elisua, Elpelet, 6Noga, Nefeg, Jafia, 7Elisama, Eljada en Elifelet.

Veldslae teen die Filistyne

(Vgl. 2 Sam. 5:17-25)

8Toe die Filistyne verneem dat Dawid tot koning oor die hele Israel gesalf is, het hulle almal teen hom opgetrek. Dawid het dit gehoor en hulle tegemoet getrek. 9Die Filistyne het in die Spooklaagte aangekom en daar ontplooi. 10Dawid het God geraadpleeg en gevra: “Moet ek teen die Filistyne opruk? Sal U hulle in my mag oorgee?”

Die Here het hom geantwoord: “Trek op, Ek gee hulle aan jou oor.”

11Die Filistyne het toe opgetrek na 'n groot kloof en daar het Dawid hulle verslaan. Dawid het daarna gesê: “God het my vyande met my hand gekloof soos water 'n wal kloof!”

Dit is waarom hulle daardie plek Grootkloof noem. 12Die Filistyne het in hulle haas selfs hulle gode daar gelos. Dawid het opdrag gegee dat die gode verbrand moet word, en dit is gedoen.

13Toe die Filistyne weer 'n keer in die laagte ontplooi, 14het Dawid God weer geraadpleeg. God het vir hom gesê: “Moenie agter hulle aan optrek nie; maak 'n omsingelingsbeweging van hulle af weg en val hulle aan regoor die melkbosse. 15Wanneer jy 'n geritsel in die toppe van die melkbosse hoor, moet jy aanval, want dan trek God voor jou uit om die leër van die Filistyne te verslaan.”

16Dawid het gemaak soos God gesê het, en hulle het die Filistyne verslaan van Gibeon af tot by Geser. 17Dawid se roem het na alle lande toe versprei, en die Here het al die nasies vir hom ontsag laat kry.

1 KRONIEKE 14AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dawid bring die ark na Jerusalem toe

(Vgl. 2 Sam. 6:12-20)

1Dawid het vir hom huise opgerig in die Dawidstad. Hy het ook 'n plek vir die ark van God gereed gemaak en 'n tent daarvoor opgeslaan. 2Dit was toe dat Dawid bepaal het dat niemand behalwe die Leviete die ark van God mag dra nie, omdat die Here hulle uitgekies het om sy ark te dra en vir altyd daarby diens te doen. 3Dawid het die hele Israel in Jerusalem laat bymekaarkom om die ark van die Here na die plek toe te bring wat hy daarvoor reggemaak het. 4Hy het die Aäroniete en die Leviete laat bymekaarkom: 5van die Kehatgroep was daar die leier Uriël met sy honderd en twintig ampsgenote, 6van die Merarigroep die leier Asaja met sy twee honderd en twintig, 7van die Gersongroep die leier Joël met sy honderd en dertig, 8van die Elisafangroep die leier Semaja met sy twee honderd, 9van die Hebrongroep die leier Eliël met sy tagtig, 10en van die Ussiëlgroep die leier Amminadab met sy honderd en twaalf ampsgenote.

11Toe het Dawid die priesters Sadok en Abjatar en die Leviete Uriël, Asaja, Joël, Semaja, Eliël en Amminadab geroep 12en vir hulle gesê: “Julle is die familiehoofde van die Leviete. Reinig julle en julle ampsgenote en bring die ark van die Here die God van Israel na die plek toe wat ek daarvoor reggemaak het. 13Omdat julle dit nie die eerste keer al gedoen het nie, het die Here ons God iemand van ons weggeskeur, want ons het nie op die regte manier na die wil van God gevra nie.”

14Die priesters en die Leviete het hulle toe gereinig om die ark van die Here die God van Israel te gaan haal. 15Die Leviete het die ark van God met draaghoute op hulle skouers gedra soos Moses beveel het in ooreenstemming met die opdrag van die Here.

16Verder het Dawid die hoofde van die Leviete beveel om hulle ampsgenote, die sangers, te laat aantree met musiekinstrumente, harpe, liere en simbale, om die feesvreugde hard te laat weergalm. 17Die Leviete het toe die volgende manne laat aantree: Heman seun van Joël; uit sy ampsgenote Asaf seun van Berekja; uit die Merarigroep hulle ampsgenoot Etan seun van Kusaja. 18Hulle is bygestaan deur hulle ampsgenote van laer rang, die poortwagte Sagaria, Jaäsiël, Semiramot, Jegiël, Unni, Eliab, Benaja, Maäseja, Mattitja, Elifele, Mikneja, Obed-Edom en Jeïel. 19Die sangers Heman, Asaf en Etan het die kopersimbale geslaan. 20Sagaria, Jaäsiël, Semiramot, Jegiël, Unni, Eliab, Maäseja en Benaja het die harpe met die hoë toon bespeel. 21Mattitja, Elifele, Mikneja, Obed-Edom, Jeïel en Asasja het die liere met die laer toon ter begeleiding bespeel. 22Kenanja was leier van die Leviete wat die drawerk gedoen het. Hy het die werk gereël, want hy het geweet hoe. 23Berekja en Elkana was poortwagte by die ark. 24Die priesters Sebanja, Josafat, Netanel, Amasai, Sagaria, Benaja en Eliëser het die trompette geblaas voor die ark van God uit. Obed-Edom en Jegija was ook poortwagte by die ark.

25Dawid, die leiers van Israel en die aanvoerders van duisend het die verbondsark van die Here in feestelike stemming uit die huis van Obed-Edom gaan inbring.

26Hulle het sewe bulle en sewe ramme geoffer om God se hulp te vra vir die Leviete wat die verbondsark van die Here gedra het. 27Dawid het 'n mantel van fyn linne aangehad, so ook al die Leviete wat die ark gedra het, die sangers, en Kenanja, wat in bevel was van die sangers. Dawid het ook nog 'n linneskouerkleed gedra. 28So het die hele Israel die verbondsark van die Here ingebring met feeskrete, ramshoring- en trompetgeskal, simbaalslae en die musiek van harpe en liere. 29Terwyl die verbondsark van die Here die Dawidstad ingekom het, het Saul se dogter Mikal deur die venster afgekyk. Sy het koning Dawid gesien terwyl hy spring en dans, en sy het hom in stilte verag.

1 KRONIEKE 15AFR83Maak oop in die Bybelleser

Aan die Here kom die lof toe

1Van Dawid.

Ek roep na U, Here, my Rots,

moet tog nie doof wees vir my nie.

As U bly swyg, sal ek wees soos 'n sterwende.

2Hoor my smeekstem

as ek na U roep om hulp,

as ek my hande in gebed uitsteek na die allerheiligste deel van u tempel.

3Moet my tog nie uitroei saam met die goddeloses,

die mense wat onreg doen nie.

Hulle praat vriendelik met hulle bure,

maar daar is kwaadwilligheid in hulle harte.

4Vergeld hulle volgens hulle dade

en volgens hulle skandelike gedrag.

Vergeld hulle volgens die werk van hulle hande

en laat hulle kry wat hulle verdien,

5want hulle let nie op die dade van die Here

en op die werk van sy hande nie.

Daarom sal Hy hulle afbreek

en nooit weer opbou nie.

6Aan die Here kom die lof toe,

want Hy het my smeekstem gehoor.

7Die Here is my sterkte en my beskermer,

op Hom het ek vertrou.

Hy het my gehelp.

Daarom is ek bly en wil ek Hom loof met my lied.

8Die Here is 'n sterkte vir sy volk,

'n veilige beskutting vir sy gesalfde.

9Red u volk en seën dié wat aan U behoort;

wees vir hulle 'n herder

en sorg altyd vir hulle.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS