Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 138

1 KRONIEKE 6–10, PSALM 27

Bybelteks(te)

Die stam Levi

1Die seuns van Levi was Gerson, Kehat en Merari. 2Die seuns van Kehat was Amram, Jishar, Hebron en Ussiël. 3Die kinders van Amram was Aäron, Moses en Mirjam. Die seuns van Aäron was Nadab, Abihu, Eleasar en Itamar. 4Die geslag van Eleasar loop dan oor Pinehas, Abisua, 5Bukki, Ussi, 6Seragja, Merajot, 7Amarja, Agitub, 8Sadok, Agimaäs, 9Asarja en Joganan 10tot by Asarja wat priester was in die tempel wat Salomo in Jerusalem gebou het. 11Van Asarja af loop die geslag oor Amarja, Agitub, 12Sadok, Sallum, 13Gilkija, Asarja 14en Seraja tot by Josadak. 15Josadak is saam toe die Here Juda en Jerusalem deur Nebukadnesar laat wegvoer het.

Die Levitiese geslagte

16Die seuns van Levi was Gerson, Kehat en Merari. 17Hier volg die name van die seuns van Gerson: Libni en Simi. 18Die seuns van Kehat was Amram, Jishar, Hebron en Ussiël. 19Die seuns van Merari was Magli en Musi.

Die Levigeslagte volgens families is soos volg: 20onder Gerson val Libni, Jagat, Simma, 21Joag, Iddo, Serag en Jeatrai. 22Die Kehatgroep is Amminadab, Korag, Assir, 23Elkana, Abiasaf, Assir, 24Tagat, Uriël, Ussia en Saul. 25Die Elkanagroep is Amasai, Agimot, 26Elkana, Suf, Nagat, 27Eliab, Jerogam en Elkana. 28Die seuns van Samuel was Joël die oudste, en Abia die tweede. 29Die Merarigroep is Magli, Libni, Simi, Ussa, 30Sima, Gaggija en Asaja.

Die tempelsangers

31Dawid het die volgende manne aangestel om die sang waar te neem in die huis van die Here sodra die ark sy rusplek daar sou vind. 32Hulle het ook gesorg vir die sang voor die heiligdom, die tent van ontmoeting, totdat Salomo die huis van die Here in Jerusalem gebou het. Hulle het hulle dienste verrig volgens 'n vaste reëling. 33Die volgende manne het die diens verrig saam met hulle seuns: van die Kehatgroep was daar Heman die tempelsanger, seun van Joël seun van Samuel, 34wie se geslag teruggaan oor Elkana, Jerogam, Eliël, Togu, 35Suf, Elkana, Magat, Amasai, 36Elkana, Joël, Asarja, Sefanja, 37Tagat, Assir, Abiasaf, Korag, 38Jishar en Kehat tot by Levi seun van Israel. 39Heman se ampsgenoot Asaf het regs van hom gestaan. Asaf se geslag het teruggegaan tot by Levi oor Berekja, Sima, 40Migael, Maäseja, Malkija, 41Etni, Serag, Adaja, 42Etan, Simma, Simi, 43Jagat en Gerson. 44Hulle ampsgenote aan die linkerkant was die Merarigroep onder leiding van Etan, wie se geslag teruggaan oor Kusaja, Abdi, Malluk, 45Gasabja, Amasia, Gilkija, 46Amsi, Bani, Semer, 47Magli en Musi tot by Merari seun van Levi.

Geslag van Aäron

48Die tempelsangers se Levitiese ampsgenote is aangestel vir al die dienste van die heiligdom, die tempel van God. 49Aäron en sy seuns alleen het egter die offerdiens waargeneem by die brandofferaltaar en die wierookaltaar, die diens by die besondere gewyde offers. So het hulle versoening vir Israel gedoen in ooreenstemming met alles wat Moses, die dienaar van God, beveel het. 50Die geslag van Aäron was soos volg: Eleasar, Pinehas, Abisua, 51Bukki, Ussi, Seragja, 52Merajot, Amarja, Agitub, 53Sadok en Agimaäs.

Die woonplekke van die Leviete

(Vgl. Jos. 21:5-39)

54Verder volg nou ook hulle woonplekke volgens hulle tentdorpe in hulle gebied. Omdat die lot hulle aangewys het, is vir die seuns van Aäron, die Kehatgeslag, 55Hebron in Juda gegee met sy weivelde in sy omgewing. 56Die lande van die stad met sy dorpies is egter aan Kaleb seun van Jefunne gegee. 57Aan die Aärongeslag het hulle behalwe die asielstad Hebron ook nog gegee: Libna met sy weivelde, Jattir, Estemoa met sy weivelde, 58Golon met sy weivelde, Debir met sy weivelde, 59Asan met sy weivelde en Bet-Semes met sy weivelde, 60en in die Benjamingebied ook nog Geba, Alemet en Anatot, elkeen met sy weivelde. Hulle het altesaam dertien stede vir hulle geslagte gehad. 61Aan die oorblywende Kehatgeslagte het hulle met die lot tien stede in die gebied van die halwe Manassestam toegewys.

62Aan die Gersongeslagte het hulle in die stamgebiede van Issaskar, Aser en Naftali en in die stamgebied van Manasse in Basan dertien stede toegewys.

63Aan die Merarigeslagte het hulle met die lot twaalf stede toegewys in die stamgebiede van Ruben, Gad en Sebulon.

64Die Israeliete het vir die Leviete die stede saam met hulle weivelde gegee. 65Hulle het die stede wat opgenoem is, met die lot toegewys in die stamgebied van die Judeërs, die stamgebied van die Simeoniete en die stamgebied van die Benjaminiete.

66Wat die Kehatgeslagte betref, die stede waaroor hulle beskikking gehad het, was in die stamgebied van Efraim. 67Aan hulle is die asielstad Sigem in die Efraimsberge gegee saam met sy weivelde, sowel as Geser, 68Jokmeam, Bet-Goron, 69Ajalon en Gat-Rimmon, elkeen met sy weivelde. 70In die stamgebied van die halwe Manassestam is Aner met sy weivelde en Jibleam met sy weivelde aan die geslag van die oorblywende Kehatiete gegee.

71Die Gersoniete het in die stamgebied van die halwe Manassestam Golan in Basan met sy weivelde gekry sowel as Astarot met sy weivelde; 72in die stamgebied van Issaskar: Kedes, Daberat, 73Ramot en En-Gannim; 74in die stamgebied van Aser: Misal, Abdon, 75Gukok en Regob; 76in die stamgebied van Naftali: Kedes in Galilea, Gammon en Kirjatajim, elkeen met sy weivelde.

77Die oorblywende Merariërs het in die stamgebied van Sebulon gekry: Rimmon met sy weivelde en Tabor met syne; 78teenoor Jerigo, oos van die Jordaan, in die stamgebied van Ruben: Beser in die droëveld, Jahas, 79Kedemot en Mefaät, elkeen met sy weivelde; 80in die stamgebied van Gad: Ramot in Gilead, Maganajim, 81Gesbon en Jaser, elkeen met sy weivelde.

1 KRONIEKE 6AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die stam Issaskar

1Issaskar se vier seuns was Tola, Puwwa, Jasub en Simron. 2Die seuns van Tola was Ussi, Refaja, Jeriël, Jagmai, Jibsam en Samuel. Volgens die stamboom was hulle familiehoofde van Tola, en hulle was strydbare manne. In Dawid se tyd was die getal van die geslag twee en twintig duisend ses honderd. 3Die seun van Ussi was Seragja en die seuns van Seragja was Migael, Obadja, Joël en Jissija. Hulle vyf was almal hoofde. 4Daar was naas hulle ook nog volgens hulle familiestamboom leërafdelings van ses en dertig duisend altesaam. Hulle het baie vrouens en kinders gehad. 5Hulle stamgenote in al die Issaskargeslagte was sewe en tagtig duisend strydbare manne, almal in die register opgeneem.

Die stam Benjamin

6Benjamin het drie seuns gehad: Bela, Beker en Jediael. 7Die vyf seuns van Bela was Esbon, Ussi, Ussiël, Jerimot en Iri. Hulle was die familiehoofde en strydbare manne. In die register is van hulle twee en twintig duisend vier en dertig opgeneem. 8Die seuns van Beker: Semira, Joas, Eliëser, Eljoënai, Omri, Jeremot, Abia, Anatot en Alemet. Hulle was almal seuns van Beker. 9In die register tel hulle volgens hulle stamboom, hulle familiehoofde, strydbare manne, twintig duisend twee honderd. 10Die geslag van Jediael was Bilhan en sy seuns Jeüs, Benjamin, Ehud, Kenaäna, Setan, Tarsis en Agisagar. 11Hulle was almal seuns van Jediael. Hulle geslag was ingedeel volgens familiehoofde, en die strydbare manne, altesaam sewentien duisend twee honderd wat vir militêre diens opgeroep kon word. 12Hier hoort ook nog die Suppeërs en die Guppeërs, nakomelinge van Ir, en die Gusseërs, nakomelinge van Ager.

Die stam Naftali

13Naftali se seuns was Jagseël, Guni, Jeser en Sillem. Hulle was nakomelinge van Bilha.

Die stam Manasse

14Nou volg die geslag van Manasse. Sy vrou het Asriël in die wêreld gebring. Sy Aramese byvrou was die moeder van Makir, vader van Gilead. 15Makir het getrou met 'n vrou uit die Guppeërs en die Suppeërs, en sy suster se naam was Maäka. Die tweede seun se naam was Selofgad, maar hy het net dogters gehad. 16Makir se vrou Maäka was die moeder van 'n seun met die naam Peres, en sy broer se naam was Seres, en sy seuns was Ulam en Rekem. 17Die seun van Ulam was Bedan. Dit was dan die seuns van Gilead seun van Makir, seun van Manasse. 18Gilead se suster Moleket was die moeder van Ishod, Abiëser en Magla. 19Daar was ook seuns van Semida. Hulle was Agjan, Sekem, Likgi en Aniam.

Die stam Efraim

20Die seun van Efraim was Sutelag, dié se seun Bered, dié se seun Tagat, sý seun Elada, sý seun Tagat, 21sý seun Sabad en sý seun Sutelag. Daar was ook nog Eser en Elad, maar hulle is deur die mense van Gat wat van geboorte af in die Efraimitiese gebied was, doodgemaak. Dit het gebeur toe hulle die mense van Gat se vee gaan steel het. 22Eser en Elad se vader Efraim het lank oor hulle getreur, maar sy broers het hom kom troos. 23Toe hy daarna met sy vrou gemeenskap gehad het, het sy swanger geword en 'n seun gekry. Hy het hom Beria genoem, omdat dit gebeur het toe daar 'n swaar tyd in sy huis was. 24Sy dogter was Seëra. Sy het Bet-Goron-Onder en Bet-Goron-Bo gebou, en ook Ussen-Seëra. 25Beria se seuns was Refag en Resef. Resef se seun was Telag, en sý seun Tagan. 26Sý seun was Ladan, sý seun Ammihud, sý seun Elisama, 27sý seun Nun en sý seun Josua. 28Die gebied wat hulle besit en bewoon het, was Bet-El met die dorpies rondom hom, na die ooste toe Naära, na die weste toe Geser met die dorpies rondom hom, en verder Sigem met die dorpies rondom hom tot by Aja met sy dorpies.

Die woongebied van Manasse

29In besit van Manasse was Bet-San, Taänak, Megiddo en Dor, elkeen met sy dorpies. In dié plekke het die nageslag van Josef seun van Israel gewoon.

Die stam Aser

30Die seuns van Aser was Jimna, Jiswa, Jiswi en Beria. Hulle suster was Serag. 31Beria se seuns was Geber en Malkiël, wat die vader van Birsajit was. 32Geber was die vader van Jaflet, Semer en Gotam, en van hulle suster Sua. 33Die seuns van Jaflet was Pasak, Bimhal en Aswat; hulle was Jaflet se seuns. 34Die seuns van Semer was Agi, Roga, Gubba en Aram. 35Die seuns van sy broer Gotam was Sofag, Jimna, Seles en Amal. 36Die seuns van Sofag was Suag, Garnefer, Sual, Beri, Jimra, 37Beser, Hod, Samma, Silsa, Jitran en Beëra. 38Die seuns van Jitran was Jefunne, Pispa en Ara. 39Die seuns van Ulla was Arag, Ganniël en Risja. 40Hulle was almal afstammelinge van Aser, familiehoofde, uitgelese strydbare manne, vorstelike leiers. Hulle is in die register opgeneem vir aktiewe oorlogsdiens. Hulle was ses en twintig duisend man.

1 KRONIEKE 7AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die stam Benjamin

1Benjamin was die vader van Bela sy oudste, Asbel sy tweede, Agrag sy derde, 2Noga sy vierde, en Rafa sy vyfde.

3Bela se seuns was Ard, Gera, Abihud, 4Abisua, Naäman, Agoag, 5Gera, Sefufan en Guram. 6Nou volg die seuns van Egud. Hulle was familiehoofde van die inwoners van Geba en is as gevangenes weggevoer na Managat toe. 7Dit was Naäman, Agija en Gera wat weggevoer is. Gera was die vader van Ussa en Agigud. 8'n Sekere Sagarajim het in die Moabitiese gebied vader van kinders geword. Dit was nadat hy van sy vrouens Gusim en Baära geskei het. 9By sy vrou Godes was hy die vader van Jobab, Sibja, Mesa, Malkam, 10Jeüs, Sakeja en Mirma. Hierdie seuns van hom was familiehoofde. 11By Gusim was hy die vader van Abitub en Elpaäl. 12Die seuns van Elpaäl was Eber, Misam en Semed. Hy het Ono en Lod met sy omliggende dorpies gebou. 13Verder was daar nog Beria en Sema. Hulle was familiehoofde van die inwoners van Ajalon en dit was hulle wat die inwoners van Gat op die vlug gejaag het. 14Dan was daar ook nog Agjo, Sasak, Jeremot, 15Sebadja, Arad, Eder, 16Migael, Jispa en Joga, seuns van Beria. 17Sebadja, Mesullam, Giski, Geber, 18Jismerai, Jislia en Jobab was afstammelinge van Elpaäl. 19Verder was daar Jakim, Sikri, Sabdi, 20Eliënai, Silletai, Eliël, 21Adaja, Beraja en Simrat, afstammelinge van Simi. 22Jispan, Eber, Eliël, 23Abdon, Sikri, Ganan, 24Gananja, Elam, Antotija, 25Jifdeja en Penuel was afstammelinge van Sasak. 26Samserai, Segarja, Atalia, 27Jaäresja, Elia en Sikri was afstammelinge van Jerogam. 28Hierdie manne was die familiehoofde volgens hulle stamboom. Hulle was leiers en het in Jerusalem gewoon. 29In Gibeon het die vader van Gibeon gewoon. Sy vrou se naam was Maäka. 30Sy oudste seun was Abdon, en die ander was Sur, Kis, Baäl, Nadab, 31Gedor, Agjo en Seker. 32Miklot was die vader van Sima. Hulle het ook in Jerusalem gewoon, langs hulle stamgenote. 33Ner was die vader van Kis, Kis die vader van Saul, en Saul die vader van Jonatan, Malkisua, Abinadab en Es-Baäl. 34Meribbaäl was 'n seun van Jonatan en die vader van Miga. 35Die seuns van Miga was Piton, Melek, Tagrea en Agas. 36Agas was die vader van Jehoadda, en Jehoadda was die vader van Alemet, Asmawet en Simri. Simri was die vader van Mosa, 37en Mosa die vader van Bina. Dié se seun was Rafa, sý seun Elasa, en dié se seun Asel. 38Asel het ses seuns gehad. Hulle name was Asrikam, Bokeru, Ismael, Searja, Obadja en Ganan. Dit is al Asel se seuns. 39Sy broer Esek se seuns was Ulam, die oudste, Jeüs, die tweede, en Elifelet, die derde. 40Die seuns van Ulam was strydbare manne en boogskutters. Hulle het baie kinders en kleinkinders gehad, honderd en vyftig altesaam.

Al hierdie mense was afstammelinge van Benjamin.

1 KRONIEKE 8AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die Israelitiese families in Jerusalem na die ballingskap

1Die hele Israel is in registers opgeneem. Hulle name staan opgeteken in die annale van die konings van Israel.

Die Judeërs is na Babel toe weggevoer oor hulle troubreuk. 2Die eerste inwoners wat hulle daarna op hulle eie grond in hulle stede gevestig het, was naas die gewone Israeliete die priesters, die Leviete en die tempelslawe. 3In Jerusalem het daar van die Judeërs, Benjaminiete, Efraimiete en Manassers gewoon: 4Utai seun van Ammihud, seun van Omri, seun van Imri, seun van Bani, uit die seuns van Peres seun van Juda; 5van die mense van Silo: Asaja, die oudste seun, en sy seuns; 6van die afstammelinge van Serag: Jeüel en sy stamgenote, altesaam ses honderd en negentig; 7van die Benjaminiete: Sallu seun van Mesullam, seun van Hodauja, seun van Senua, 8en Jibneja seun van Jerogam, Ela seun van Ussi, seun van Mikri, en Mesullam seun van Sefatja, seun van Reüel, seun van Jibnija. 9Dan was daar ook nog hulle verwante volgens hulle stamboom, altesaam nege honderd ses en vyftig. Al hierdie manne was familiehoofde in hulle families.

Die priesters en die Leviete in Jerusalem

10Van die priesters was daar Jedaja, Jojarib, Jakin 11en Asarja seun van Gilkija, seun van Mesullam, seun van Sadok, seun van Merajot, seun van Agitub, die hoof van die tempel. 12Verder was daar Adaja seun van Jerogam, seun van Pasgur, seun van Malkija, en Masai seun van Adiël, seun van Jagsera, seun van Mesullam, seun van Mesillemot, seun van Immer. 13Hulle stamgenote, die hoofde van hulle families, was een duisend sewe honderd en sestig. Hulle was bekwame lede van die personeel vir die tempeldiens.

14Van die Leviete was daar Semaja seun van Gassub, seun van Asrikam, seun van Gasabja uit die Merarigeslag; 15en Bakbakkar, Geres, Galal, Mattanja seun van Miga, seun van Sikri, seun van Asaf; 16en Abda seun van Sammua, seun van Galal, seun van Jedutun, en Berekja seun van Asa, seun van Elkana, wat in nedersettings van die Netofaners gewoon het.

17Die poortwagte was Sallum, Akkub, Talmon, Agiman en hulle ampsgenote. Sallum was die hoof 18en is dit nou nog by die oostelike koningspoort. Hulle was voorheen poortwagte by die Levitiese kwartiere. 19Sallum seun van Kore, seun van Abiasaf, seun van Korag, en sy verwante uit sy familie die Koragiete was verantwoordelik vir die dienswerk van die drumpelwagte by die tent, net soos hulle vaders wagte was by die ingang tot die kamp van die volk van die Here. 20Vroeër was Pinehas seun van Eleasar hoof oor hulle. Die Here was by hom. 21Sagaria seun van Meselemja was wag by die ingang van die tent van ontmoeting. 22Dié wat as poortwagte uitgesoek is, was altesaam twee honderd en twaalf. Hulle is in die register opgeneem volgens hulle nedersettings. Dit is hulle wat nog deur Dawid en die siener Samuel in hulle amp benoem was. 23Hulle en hulle opvolgers was die wagte by die poorte van die huis van die Here, die tenthuis. 24Daar was wagte by die poorte in elkeen van die vier windrigtings: oos, wes, noord en suid. 25Hulle ampsgenote het in hulle eie nedersettings gebly en het hulle telkens sewe dae volgens 'n vaste program kom bystaan.

26Die vier hoofwagte was Leviete en was amptelik in bevel van die poortwagte. Hulle was ook verantwoordelik vir die kamers en die voorrade van die tempel. 27Hulle moes in die omgewing van die tempel slaap, want hulle was verantwoordelik vir die bewaking van die tempel en moes dit elke môre oopsluit. 28Party van die Leviete moes vir die offergereedskap sorg, want hulle moes elke keer die regte getal voorsien en die regte getal terugneem. 29Party van hulle moes vir die ander gereedskap sorg, al die gereedskap wat in die heiligdom gebruik is, en vir die meel, die wyn, die olie, die wierook en die speserye.

30Party lede van die priesterorde het die speserysalf gemeng. 31Een van die Leviete, Mattitja, en die oudste seun van die Koragiet Sallum, was amptelik verantwoordelik vir die bakkery. 32Van hulle ampsgenote uit die Kehatgeslag moes sorg dat die offerbrood elke sabbat reggesit word. 33Sommige Levitiese familiehoofde was verantwoordelik vir die tempelsang. Hulle het in die kamers gebly, en was vrygestel van ander diens sodat hulle voltyds aandag kon gee aan hulle taak.

34Dit is dan die Levitiese familiehoofde wat volgens hulle stamboom die leiers was. Hulle het in Jerusalem gewoon.

Die afkoms en geslag van Saul

35Jeïel die vader van Gibeon het in die stad Gibeon gewoon. Sy vrou se naam was Maäka. 36Sy oudste seun was Abdon, en verder was daar Sur, Kis, Baäl, Ner, Nadab, 37Gedor, Agjo, Seker en Miklot. 38Miklot was die vader van Sima. Hulle met hulle verwante het by hulle ampsgenote in Jerusalem gewoon.

39Ner was die vader van Kis, en Kis die vader van Saul. Saul was die vader van Jonatan, Malkisua, Abinadab en Es-Baäl. 40Jonatan se seun was Meribbaäl en Meribbaäl was die vader van Miga. 41Die seuns van Miga was Piton, Melek, Tagrea 42en Agas, vader van Jehoadda. Jehoadda was die vader van Alemet, Asmawet en Simri. Simri was die vader van Mosa, 43en Mosa die vader van Bina. Dié se seun was Refaja, sý seun Elasa, en sý seun Asel. 44Asel het ses seuns gehad. Hulle name was Asrikam, Bokeru, Ismael, Searja, Obadja en Ganan. Hulle was die seuns van Asel.

1 KRONIEKE 9AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die dood van Saul

(Vgl. 1 Sam. 31:1-13)

1Die Filistyne het Israel aangeval. Die Israeliete het vir hulle gevlug, en van die manskappe het op Gilboaberg gesneuwel. 2Toe het die Filistyne op Saul en sy seuns toegesak. Hulle het Saul se seuns Jonatan, Abinadab en Malkisua neergevel 3en toe die aanval op Saul toegespits. Die boogskutters het hom in die oog gekry en hy het bang vir hulle geword, 4en vir sy wapendraer gesê: “Trek jou swaard en steek my daarmee dood dat daardie heidene nie kom en my in oneer laat sterf nie.”

Maar sy wapendraer wou nie, want hy was baie bang. Saul vat toe self die swaard en val daarin. 5Toe sy wapendraer sien Saul is dood, val hy ook in sy swaard en sterf. 6So is Saul en sy drie seuns, ja, al sy seuns, saam dood.

7Die Israeliete wat in die laagte gewoon het, het gesien dat die manskappe gevlug het en dat Saul en sy seuns dood is. Hulle het toe hulle stede verlaat en ook gevlug, en die Filistyne het die stede beset en daar gaan woon. 8Toe die Filistyne die dag na die geveg die lyke kom stroop, kry hulle Saul en sy seuns daar waar hulle op Gilboaberg geval het. 9Die Filistyne het hom ook gestroop, sy kop en sy wapens saamgevat en dié in die land van die Filistyne rondgestuur om die goeie nuus aan hulle afgode en hulle mense bekend te maak. 10Daarna het hulle sy wapenrusting in hulle tempel gesit en sy kopbeen teen die Dagonstempel vasgeslaan.

11Toe die mense van Jabes in Gilead hoor wat die Filistyne alles met Saul gedoen het, 12het die weerbare manne almal gegaan en die lyk van Saul en dié van sy seuns na Jabes toe gebring. Hulle het hulle onder 'n groot boom in Jabes begrawe en daarna sewe dae lank gevas.

13Saul is dood oor die troubreuk wat hy teenoor die Here begaan het deurdat hy aan die bevel van die Here ongehoorsaam was, en ook deurdat hy raad gevra het by 'n gees 14in plaas van die Here te raadpleeg. Daarom het die Here hom doodgemaak en sy koningskap laat oorgaan op Dawid seun van Isai.

1 KRONIEKE 10AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die Here is my lig en my redder

1Van Dawid.

Die Here is my lig en my redder,

vir wie sou ek bang wees?

Die Here is my toevlug,

vir wie sou ek vrees?

2As misdadigers op my afstorm om my dood te maak,

my teëstanders en my vyande,

dan is dit juis húlle wat struikel en val.

3Al sou 'n leër teen my stelling inneem,

sal ek nie bang word nie.

Selfs al sou die aanval op my begin,

sal ek nog steeds vertroue hê.

4Net een ding het ek van die Here gevra

en dit sal ek najaag:

dat ek my hele lewe lank in sy huis mag woon

om sy goedheid te belewe

en daaroor na te dink in sy tempel.

5Op die dag van gevaar sal die Here my wegsteek in sy huis,

my veilig laat skuil in sy woonplek,

my hoog op 'n rots laat staan;

6ek sal in sy woonplek onder trompetgeklank my offers bring,

ek sal 'n lied sing,

ek sal sing tot die eer van die Here

terwyl ek neerkyk op die vyande rondom my.

7Luister tog na my, Here, as ek roep;

wees my genadig en verhoor my gebed.

8Ek onthou wat U gesê het:

“Julle moet My kom dien!”

Ek is hier om U te dien, Here.

9Moet U tog nie vir my verberg nie,

moet my tog nie wegstuur terwyl U toornig is nie,

want U was nog altyd my hulp.

Moet my tog nie verstoot en verlaat nie,

want U alleen is die God wat my red.

10Al sou my vader en my moeder my verlaat,

die Here sal my onder sy sorg neem.

11Leer my u wil, Here,

en lei my op 'n gelyk pad

sodat my vyande nie hulle sin kry nie.

12Moet my tog nie oorgee aan die venyn van my teëstanders nie,

want daar staan vals getuies teenoor my

en hulle blaas geweld teen my aan.

13As ek darem nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal sien in die land van die lewendes nie ...!

14Vertrou op die Here!

Wees sterk en hou goeie moed!

Ja, vertrou op die Here!

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS