Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 126

HOSEA 1–7

Bybelteks(te)

1Die woord van die Here wat gekom het tot Hosea seun van Beëri tydens die regering van konings Ussia, Jotam, Agas en Hiskia van Juda en van koning Jerobeam van Israel, seun van Joas.

Die Israeliete is ontrou aan die Here

2'n Inleiding tot die woorde van die Here deur die diens van Hosea.

Die Here het vir Hosea gesê: Gaan trou met 'n prostituut wat buite-egtelike kinders het, want die land is besig om te hoereer, om heeltemal ontrou aan die Here te word.

3Hosea het toe met Gomer dogter van Diblajim gaan trou. Sy het swanger geraak en vir Hosea 'n seun in die wêreld gebring. 4Die Here sê toe vir Hosea: Noem die seun Jisreël, want Ek gaan binnekort die koningshuis van Jehu laat boet vir die bloedbad in die stad Jisreël en Ek gaan die koningskap in Israel tot niet maak. 5Dié dag sal Ek die leër van Israel vernietig in die Jisreëlvlakte.

6Gomer het weer swanger geraak en sy het 'n dogter gekry. Die Here het toe vir Hosea gesê:

Noem haar Sonder-ontferming,

want Ek gaan My nie weer oor Israel ontferm

en hulle sonde vergewe nie.

7Maar Ek sal My oor Juda ontferm en Ek, die Here hulle God, sal hulle red. Ek sal dit nie doen met wapens, oorlog, perde en ruiters nie.

8Nadat sy vir Sonder-ontferming gespeen het, het Gomer weer swanger geraak en 'n seun gekry. 9Die Here het gesê:

Noem hom Nie-my-volk-nie,

want julle is nie my volk nie

en Ek is nie julle God nie.

'n Nuwe toekoms vir Israel

10Tog sal die getal van die Israeliete in die toekoms wees soos die sand van die see wat nie getel of gemeet kan word nie. Waar nou vir hulle gesê word: “Julle is Nie-my-volk-nie,” sal vir hulle gesê word: “Julle is kinders van die lewende God.” 11Dan sal die Judeërs en die Israeliete weer een word en vir hulle een leier aanwys en die beheer van die land oorneem. Daardie dag sal Jisreël se val groot wees.

12Sê maar solank vir julle broers: “My volk,” en vir julle susters: “Dié vir wie daar ontferming is.”

Ek gaan haar laat boet

1Kla julle moeder aan, kla haar aan! Sy is nie meer my vrou nie, Ek is nie meer haar man nie. Sy moet ophou om ontrou te wees en sy moenie meer owerspel pleeg nie, 2anders trek Ek haar kaal uit en maak haar so weerloos soos op haar geboortedag. Ek sal haar soos 'n woestyn maak, soos 'n dor land, en sy sal van dors doodgaan. 3Ek sal My nie oor haar eerste kinders ontferm nie, want hulle is buite-egtelike kinders. 4Hulle moeder was 'n prostituut, sy het swanger geword omdat sy haar skandelik gedra het. Sy het bly sê: “Ek gaan na my minnaars toe. Dit is húlle wat sorg dat ek brood en water, wol en vlas, olie en drank het.”

5Daarom gaan Ek haar pad versper met doringtakke en haar afkamp sodat sy nie haar planne kan uitvoer nie, 6en as sy dan haar minnaars probeer opsoek en hulle nie raakloop nie, hulle soek en nie kry nie, sal sy dalk sê: “Ek sal na my eie man toe teruggaan, want ek was by hom beter versorg as nou.”

7Sy wou nie erken dat dit Ek is wat vir haar koring en wyn en olie en baie geld gee nie, geld wat sy in elk geval vir Baäl gebruik het. 8Daarom gaan Ek die koring en wyn wat sy by My kry, terughou in die oestyd. Ek gaan ook die wol en die vlas terugvat wat Ek haar gegee het om haar naaktheid te bedek. 9Ek gaan haar nou kaal uittrek voor die oë van haar minnaars. Nie een sal haar kan help nie. 10Ek gaan 'n einde maak aan al haar feesvreugde, haar huttefeeste, haar nuwemaansfeeste en haar sabbatsfeeste, al haar feeste. 11Ek gaan haar wingerde en haar vyebome verwoes, die dinge waarvan sy sê: “Dit is my beloning wat my minnaars my gee vir my dienste.” Ek gaan dit 'n boskasie maak en die wilde diere sal dit opvreet.

12Ek gaan haar laat boet vir al die kere dat sy die Baäls gedien het en vir hulle geoffer het, vir al die kere dat sy haar uitgedos het met ringe en versiersels en agter haar minnaars aangeloop het en My vergeet het, sê die Here.

Jy is my volk

13Tog sal Ek weer begin om haar die hof te maak. Ek sal haar na die woestyn toe bring en mooi dinge vir haar sê. 14Wanneer ons daar is, sal Ek weer vir haar wingerde gee, Ek sal die Akorlaagte 'n poort na 'n nuwe toekoms maak. Dan sal sy weer my liefde beantwoord soos toe sy jonk was, soos toe sy uit Egipte getrek het.

15Dié dag, sê die Here, sal jy vir My sê: “My man,” en My nie meer as 'n Baäl beskou nie. 16Ek sal sorg dat jy die name van die Baäls nie weer noem nie en dat jy hulle nooit weer aanroep nie.

17Dié dag sal Ek vir Israel 'n ooreenkoms sluit met die wilde diere, die voëls en alles wat op die grond kruip. Ek sal die wapens vernietig en 'n einde maak aan oorloë in die land sodat daar rus en vrede kan wees. 18Ek gaan jou my bruid maak vir altyd. Ek gaan jou aan My bind deur my weldade en my goeie sorg, deur my liefde en my ontferming. 19Ek gaan jou aan My bind deur my onverbreekbare trou sodat jy aan My, die Here, toegewy sal wees.

20Dié dag sal Ek antwoord, sê die Here. Ek sal die lug antwoord en dié sal die grond antwoord. 21En die grond sal antwoord met koring, wyn en olie vir Jisreël. 22Ek sal my ontferm oor Sonder-ontferming en haar vrugbaar maak in die land. Ek sal vir Nie-my-volk-nie sê: “Jy is my volk,” en hy sal vir My sê: “My God.”

Israel sal vra na die wil van die Here

1Die Here het vir my gesê: Gaan knoop weer 'n liefdesverhouding aan met 'n vrou wat vir ander mans lief is en egbreuk pleeg, net soos die Israeliete vir wie Ek, die Here, liefhet, ander gode aanhang en lief is vir rosyntjiekoeke.

2Ek het toe vir my 'n vrou gekry vir vyftien stukke silwer en honderd kilogram gars.

3Ek het vir haar gesê: “Jy moet 'n lang tyd tot my beskikking wees. Jy mag met niemand hoereer of trou nie, ek sal dit ook nie doen nie.” 4Net so sal die Israeliete 'n lang tyd moet klaarkom sonder 'n koning en amptenare, sonder offers en klippilare, sonder efodbeeld en afgodsbeeldjies.

5Daarna sal die Israeliete hulle bekeer. Hulle sal vra na die wil van die Here hulle God, en hulle sal hulle koning Dawid aanhang. Hulle sal vol eerbied terugkom na die Here toe en na die oorvloed toe wat Hy in die toekoms sal skenk.

Die priesters het die Here verlaat

1Israeliete, luister na die woord van die Here, want Hy kla die inwoners van die land aan:

Omdat trou, liefde en toewyding aan die wil van God in die land ontbreek, 2het vervloeking, valsheid, moord, diefstal en egbreuk hand oor hand toegeneem en is die vergieting van onskuldige bloed aan die orde van die dag. 3Dit is waarom die land verdor en al die inwoners van dors versmag saam met die wilde diere en die voëls, en waarom selfs die visse vrek.

4Niemand word ligtelik aangekla en tot verantwoording geroep nie, maar Ek gaan jóú mense aankla, Priester! 5Jy gaan vandag nog tot 'n val kom en die profeet gaan vannag nog saam met jou tot 'n val kom en Ek gaan selfs jou moeder om die lewe bring.

6My volk gaan onder omdat hulle nie aan My toegewy is nie. Omdat jy jou taak om hulle aan My toe te wy, verwerp het, verwerp Ek jou as my priester. Omdat jy die wil van jou God verontagsaam het, verontagsaam Ek die priesters wat onder jou dien.

7Hoe meer priesters daar is, hoe meer sondig hulle teen My. Ek sal die aansien wat hulle geniet, in vernedering verander.

8Hulle teer op die sonde van my volk. Hulle smag daarna dat die volk nog meer moet sondig.

9Maar dit sal met die priesters gaan soos dit nou met die volk gaan. Ek sal die priesters straf vir hulle optrede. Wat hulle probeer doen, sal Ek in die teendeel verander: 10as hulle offervleis eet, sal hulle honger bly, en as hulle aan tempelprostitusie deelneem, sal hulle nie kinders hê nie.

Omdat die priesters die Here verlaat het om hulle toe te lê op 11tempelprostitusie, en omdat wyn en drank hulle lewe in beslag neem, 12soek my volk leiding by 'n stuk hout, verwag my volk dat 'n stok dinge aan hom bekend sal maak. Omdat 'n hoergees die priesters beetgepak het en hulle aan hulle God ontrou geword het, 13bring hulle offers op die bergtoppe en offer hulle op die heuwels onder al die groot groen bome waar daar lekker skaduwee is. Dit is waarom julle dogters hoereer en julle skoondogters egbreuk pleeg.

14Ek gaan nie julle dogters straf omdat hulle hoereer nie en julle skoondogters omdat hulle egbreuk pleeg nie, want daardie priesters is besig om met die hoere af te paar en saam met die tempelprostitute te offer! Maar dié wat nie op my waarskuwing ag slaan nie, sal vernietig word.

Israel is koppig

15As jy hoereer, Israel, moet Juda dit nie ook doen nie. Juda, julle moenie die heiligdom by Gilgal besoek en na Bet-Awen toe gaan nie, en julle moenie daar 'n eed aflê in die Naam van die Here nie.

16Israel is so koppig soos 'n moedswillige koei. Moet die Here hulle dan nou versorg soos 'n herder sy skape in die veld versorg?

17Efraim is verknog aan afgodsbeelde; laat hom maar sy gang gaan.

18Wanneer sy regeerders klaar gesuip het, hoereer hulle op groot skaal. Hulle het skande hartstogtelik lief. 19'n Stormwind het vir Efraim in sy mag, sodat hy in die skande sal kom oor sy offers.

Teen die leiers en teen die volk

1Luister hierna, priesters!

Let op, leiers van Israel,

gee aandag, koningshuis!

Hierdie oordeelswoord is vir julle bedoel.

Julle is die wip in Mispa,

die oopgespreide vangnet op Tabor,

2die diep vanggat in Sittim.

Maar Ek gaan julle almal straf.

3Ek ken Efraim en Ek weet wat in Israel aangaan.

Omdat jy jou nou aan hoerery oorgegee het, Efraim,

is Israel verontreinig.

4Hulle dade maak dit vir hulle onmoontlik om na hulle God toe terug te keer, want 'n hoergees het by hulle posgevat en hulle is nie meer aan die Here toegewy nie.

5Israel se hoogmoed getuig teen hom, en Israel en Efraim sal saam tot 'n val kom oor hulle sonde. Selfs Juda het saam met hulle tot 'n val gekom. 6Met offers van kleinvee en beeste sal hulle na die wil van die Here kom vra, maar hulle sal nie antwoord kry nie, omdat Hy Hom aan hulle onttrek het. 7Hulle was ontrou aan die Here, want hulle het buite-egtelike kinders verwek. Hy gaan hulle binnekort vernietig. Binne 'n maand gaan Hy hulle gesaaides verwoes.

Die volk soek hulp op die verkeerde plek

8Blaas die ramshoring in Gibea,

die trompet in Rama!

Maak alarm in Bet-Awen!

Benjamin is agter jóú aan, Efraim.

9Jy gaan verwoes word op die dag van afrekening.

Ek maak aan die stamme van Israel bekend wat beslis gaan gebeur.

10Die leiers van Juda het beslag gelê op Israel se grond. Daarom het my toorn hulle soos 'n vloedgolf getref. 11Efraim is verdruk; sy reg is hom ontneem, want hy het kant gekies vir iemand wat hom nie kon help nie.

12Ek was vir Efraim soos 'n gewas en vir Juda soos beentering. 13Toe Efraim agterkom dat hy siek is en Juda dat hy 'n sweer het, het Efraim gaan hulp soek by Assirië en 'n afvaardiging gestuur na koning Jareb toe. Maar hý kon julle nie gesond maak of die sweer uitsny nie. 14Ek is soos 'n leeu teenoor Efraim, soos 'n roofdier teenoor Juda. Dit is Ek wat verskeur en my koers gaan, wat wegdra sonder dat iemand dit kan keer.

Ek gaan My terugtrek

15Ek gaan My in my woonplek terugtrek totdat hulle hulle skuld bely en vra na my wil. In hulle nood sal hulle my hulp kom vra.

1“Kom ons gaan terug na die Here, want Hý het ons verskeur maar sal ons weer gesond maak, Hý het ons geslaan maar sal weer ons wonde verbind. 2Hy sal ons na twee dae 'n nuwe lewe laat begin. Hy sal ons op die derde dag weer krag gee sodat ons in sy teenwoordigheid kan leef. 3Kom ons wy ons aan Hom toe, kom ons streef daarna om ons aan die Here toe te wy. Die Here sal verskyn, so seker as die son opkom, Hy sal na ons toe kom soos stortreën, Hy sal ons verkwik soos lentereëns die grond verkwik.”

4Wat moet Ek met jou doen, Efraim? Wat moet Ek met jou doen, Juda? Julle liefde is soos 'n môrewolkie: dit verdwyn so vinnig soos dou. 5Dít is waarom Ek julle met my profete gestriem het, julle met my woorde vernietig het. My straf oor julle kom so seker soos die lig, 6want Ek verwag liefde eerder as offers, toewyding aan My eerder as brandoffers.

Julle het die verbond met My verbreek

7Julle het weer die verbond met My verbreek soos destyds by die dorp Adam; daar was julle ontrou aan My.

8Gilead is 'n dorp vol mense wat onreg doen, 'n plek met bloed bevlek. 9Die klomp priesters is niks anders as 'n rowerbende nie: hulle pleeg moord op die Sigempad, hulle tree soos skurke op.

10Ek het iets afstootliks in die koningshuis van Israel gesien: daar vind die hoerery van Efraim plaas, daar word Israel verontreinig.

11Ook vir jóú, Juda, lê die tyd van afrekening voor.

1Terwyl Ek die lot van my volk wil verander, terwyl Ek bereid is om Israel te herstel, kom die oortreding van Efraim en die sonde van Samaria aan die lig. Hulle belieg mekaar, hulle breek in en steel, hulle beroof mekaar op straat. 2Hulle dink nie eens daaraan dat Ek al hulle sonde ken nie. Nou het hulle optrede hulle ingehaal, dit lê oop en bloot voor My.

Rebellie teen die koning

3Met hulle bose optrede en met hulle slinkse planne stel hulle die koning en sy amptenare tevrede; 4hulle is die een so onbetroubaar soos die ander. Hulle is soos 'n oond wat aanhou smeul wanneer die bakker ophou stook terwyl hy die deeg knie en daarna wag dat dit moet rys: 5by die fees van die vorige koning het hulle sy amptenare papdronk gemaak en was sy raadgewers onder die invloed van drank. 6Terwyl die rebelle die koning gehuldig het, het die verraad in hulle gesmeul soos 'n oond, deur die nag was hulle drif sluimerend, teen die môre het dit opgevlam. 7Hulle was almal soos 'n oond wat brand: so het hulle hulle regeerders verteer en het al hulle konings tot 'n val gekom. Maar nie een van hulle vra ooit na my wil nie.

Efraim vra nie na die wil van die Here nie

8Efraim is tussen die nasies, maar hy word self geknie. Efraim het soos 'n askoek geword wat verbrand het. 9Vreemdes het sy krag verteer, maar hy besef dit nie! Hy het muf geraak soos ou brood, maar hy besef dit nie.

10Israel se hoogmoed getuig teen hom. Hulle het nie teruggekeer na My, die Here hulle God, nie en het te midde van dit alles nie na my wil gevra nie. 11Efraim het geword soos 'n duif: dom en sonder verstand. Hulle het vir Egipte gekoer, maar Assirië toe gevlieg. 12Maar elke keer as hulle daarheen gaan, sal Ek my vangnet oor hulle gooi; Ek sal hulle soos voëls neertrek, Ek sal hulle vastrek sodra Ek die gedruis van die swerm hoor. 13Ellende wag vir hulle omdat hulle van My af wegvlug! Daar wag teëspoed vir hulle omdat hulle teen My in opstand is! Ek was bereid om hulle te red, maar hulle lieg vir My.

14Toe hulle na My om hulp geroep het, het dit nie uit die hart gekom nie, want hulle lê op hulle beddens en kerm en sny hulleself stukkend ter wille van koring en wyn. Hulle verset hulle teen My 15alhoewel Ek hulle gewaarsku het. Toe Ek hulle gehelp het, het hulle opstand beplan teen My 16en hulp gesoek by wat nie kon help nie. Hulle het so nutteloos geword soos 'n slap boog. Hulle leiers sal met die swaard afgemaai word, hulle sal die slagoffers word van die vervloeking wat hulle oor hulleself uitgespreek het as hulle aan my verbond ongehoorsaam sou wees. En Egipte sal daaroor lag.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS