Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 127

Hosea 8–14

Bybelteks(te)

My toorn het losgebreek teen Samaria

1Maak alarm! Daar draai 'n roofvoël oor my huis! sê die Here. Israel het my verbond verbreek en hulle teen my wil verset. 2Hulle roep na My om hulp: “Ons is aan U toegewy, ons God! Ons is Israel.”

3Maar Israel het die goeie verwerp, daarom sal die vyand hom agtervolg.

4Hulle het hulle eie konings aangestel sonder my goedkeuring, hulle het leiers aangestel wat Ek nie erken nie. Hulle het vir hulleself afgodsbeelde gemaak van hulle silwer en goud, maar dit sal vernietig word.

5Samaria, jou goue kalf is afstootlik!

My toorn het losgebreek teen Samaria.

Hoe lank sal hulle voortgaan om onrein te bly 6as hulle dan deel is van Israel? En daardie ding, dit is deur 'n ambagsman gemaak, dit is nie 'n god nie! Van die kalf van Samaria sal daar net splinters oorbly.

7As mense wind saai, sal hulle 'n storm oes. As koring nie are skiet nie, kan dit geen oes lewer nie. As dit miskien tog iets sou oplewer, gaan vreemdes dit insluk.

8Israel is klaar ingesluk. In die oë van die nasies het hulle nou geword soos 'n ding wat niemand wil hê nie. 9En tog het die leiers by Assirië gaan hulp soek. Efraim is soos 'n eensame wildedonkie; hy het vir homself vriende gaan soek. 10Maar al sou hy ook vriende maak onder die nasies, sou dit niks baat nie, want Ek gaan hulle nou bymekaarjaag, en binnekort sal hulle soos donkies swaar dra aan die las van die koning van Assirië.

11Toe Efraim meer altare gebou het om sondeoffers te bring, het dit juis vir hom altare geword om op te sondig. 12Al sou Ek ook self vir hom ontelbare afskrifte van my wet gee, dit bly vir hom die wet van 'n onbekende. 13Hulle bring offers om hulle self te bevredig, hulle bring vleis sodat hulle dit self kan eet! Sulke offers is nie vir My, die Here, aanneemlik nie. Ek gaan Efraim se sonde teen hulle hou en hulle laat boet vir hulle oortredings: Efraim sal na Egipte toe moet teruggaan.

14Toe Israel sy Maker vergeet het, het Israel paleise begin bou, en Juda het meer vestingstede opgerig. Maar Ek sal in hulle stede 'n vuur laat losbreek en dit sal hulle mooi huise afbrand.

Die tyd van afrekening het gekom

1Staak jou feeste, Israel! Hou op om fees te vier soos die ander nasies! Jy was ontrou aan jou God. Jy was daarop uit om met jou tempelprostitusie op elke plek waar koring gedors word, groter oeste te probeer kry.

2Maar die dorsvloer en parskuip sal julle nie voed nie, en geen wyn sal daar uitgetrap word nie.

3Julle sal nie in die land van die Here bly nie, Efraim sal na Egipte toe teruggaan, en in Assirië sal hulle onrein kos moet eet.

4Hulle sal nie wyn uitgiet as drankoffers vir die Here nie, hulle sal geen offers aan Hom bring nie. Hulle kos sal so onrein wees soos kos uit 'n sterfhuis. Almal wat dit eet, sal onrein word, want hulle sal dit moet eet sonder dat dit in die huis van die Here gewy is.

5Hoe gaan julle die feestyd, die groot fees van die Here deurbring? 6Dié wat die verwoesting ontvlug, sal in Egipte bymekaargemaak en in Memfis begrawe word. Waar hulle silwerskatte begrawe lê, en in hulle woonplekke, sal onkruid en dorings groei. 7Die tyd van straf het aangebreek! Die tyd van afrekening het gekom! Israel sal dit besef.

Die profeet is deur God gestuur

Is die profeet dwaas? Is die man wat deur die Gees in besit geneem is, waansinnig? Hy is so omdat jou sonde so groot is en omdat jy so vyandig is teen hom.

8Die profeet is deur God gestuur om oor Efraim wag te hou, maar oral waar die profeet gaan, probeer hulle hom vastrek. Die vyandigheid hou nie eens in die huis van sy God op nie. 9Net soos in die tyd van Gibea is daar nie 'n einde aan hulle slegte dade nie. Die Here sal hulle sonde teen hulle hou, Hy gaan hulle laat boet vir hulle oortredings.

Hulle sal swerwelinge word onder die nasies

10Israel was vir My soos druiwe waarop 'n mens in die woestyn afkom. Ek het in julle voorouers die belofte gesien wat die heel eerste vrug aan 'n jong vyeboom inhou. Maar hulle het na Baäl-Peor toe gegaan en hulle verbind aan 'n god wat vir hulle in die steek laat, en hulle het net so afstootlik geword soos die ding wat deur hulle vereer is.

11Soos 'n voël wegvlieg, so sal Efraim se mag verdwyn: daar sal geen geboortes, geen swangerskappe en geen bevrugtings meer wees nie. 12En as hulle die kinders wat hulle reeds het, probeer grootmaak, sal Ek hulle heeltemal kinderloos maak, daar sal geen kind oorbly nie. Daar wag vir hulle ook ellende wanneer Ek hulle verlaat.

13Efraim was vir My soos 'n jong palmboom wat in vrugbare grond groei. Maar dieselfde Efraim sal sy kinders moet uitlewer aan die moordenaar!

14Gee aan hulle, Here, wat U wil, gee hulle kinderlose baarmoeders en borste sonder melk.

15Al hulle boosheid het by Gilgal begin. Ja, daar het Ek hulle al gehaat oor hulle goddelose dade. Ek sal hulle uit my huis wegjaag, Ek sal hulle nie meer liefhê nie. Al hulle leiers is in opstand teen My. 16Efraim is dodelik getref. Sy wortels het verdroog, hy kan nie meer enige vrugte dra nie. Ook al bring Efraim kinders in die wêreld, sal Ek die kinders laat sterf vir wie hulle so lief is.

17My God het hulle verwerp omdat hulle nie na Hom geluister het nie: hulle sal swerwelinge word onder die nasies.

Israel is vals

1Israel was 'n welige wingerdstok. Sy vrugte was geil. Hoe meer vrugte hy gedra het, hoe beter is daar vir die altare gesorg. Hoe beter dit met die land gegaan het, hoe mooier is die klippilare gemaak. 2Hulle is vals wanneer hulle hulle sonde bely. Maar die Here sal hulle altare afbreek, Hy sal hulle klippilare verwoes.

3Hulle sê: “Ons het nie 'n koning nie, want ons het nie die Here gedien nie. Maar wat sou 'n koning in elk geval vir ons kon doen?”

4Hulle praat net, hulle maak vals beloftes, hulle sluit verdrae. En intussen is hulle regspraak soos gifplante wat in die vore langs die land groei.

5Die inwoners van Samaria is bekommerd oor die goue kalf van Bet-Awen. Sy vereerders treur oor hom en sy priesters kerm oor hom. Hulle kerm oor sy rykdom wat van hom weggeneem is.

6Maar hy gaan self ook nog na Assirië toe gevat word as 'n geskenk vir koning Jareb. Efraim sal teleurgestel word, Israel sal daar bedroë van afkom met sy planne en al. 7Wanneer Samaria verwoes word, sal sy koning meegesleur word soos 'n stuk dryfhout op die water. 8Die hoogtes waar Israel gesondig en oortree het, sal woes word. Dorings en bossies sal groei waar die altare gestaan het. Dan sal Israel vir die berge sê: “Val ons toe!” en vir die heuwels: “Val op ons!”

9Die sonde van Israel kom uit die tyd van Gibea. Hulle het daarmee volhard. Die oorlog teen hierdie opstandige volk sal hulle in Gibea tref.

10Ek het besluit Ek sal hulle straf. Die nasies sal teen hulle versamel word omdat hulle met hulle twee groot sondes volhard het. 11Efraim was 'n mak vers wat daarvan gehou het om graan uit te trap. Toe Ek sien dat sy reeds sterk genoeg is, wou Ek haar inspan. Juda sou ploeg en Jakob sou eg.

12Ek het gesê: “Saai volgens my wil, en julle sal my liefde oes. Ploeg vir julle 'n nuwe land! Dit is nou die tyd om na my wil te vra sodat Ek kan kom en weldade oor julle uitgiet.”

13Maar julle het sonde ingeploeg en julle het vyandskap geoes. Julle het die vrug van julle valsheid geëet.

Omdat jy vertrou op jou eie planne en op jou baie soldate, 14sal oorlog teen jou volk losbreek en sal al jou vestingstede verwoes word. Soos Salman vir Bet-Arbel verwoes het toe moeders en kinders saam in die veldslag verpletter is, 15so sal hy met julle maak in Bet-El oor julle afskuwelike sonde. Met die eerste lig sal die koning van Israel al dood wees.

My liefde brand te sterk

1Toe Israel nog 'n kind was, het Ek hom al liefgehad, en Ek het hom, my seun, uit Egipte geroep.

2Maar toe die Baäls hulle roep, het Israel My verlaat en vir die Baäls gaan offer, vir afgodsbeelde offers gebring.

3Ek self het Efraim leer loop, Ek het hulle op my arms gedra, maar hulle wou nie erken dat dit Ek is wat vir hulle sorg nie.

4Ek het hulle met sorg en liefde gelei, Ek was vir hulle soos iemand wat die juk oplig as dit sy trekdier skaaf. Ek het na Efraim toe afgebuk en hom gereeld kos gegee, 5want Ek wou nie hê dat hy weer na Egipte toe moet teruggaan nie of dat Assirië oor hom moet heers nie. Maar Efraim het geweier om hom te bekeer.

6Daarom sal sy stede deur oorlog verwoes word en sy waarsêers uitgeroei word. Hulle sal deur die oorlog verteer word oor die raad wat hulle gegee het. 7Omdat my volk My verlaat het, sal party van hulle opgehang word en die ander sal die slawejuk moet dra, 'n juk wat nie afgegooi sal word nie!

8Maar hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou laat vaar, Israel? Hoe kan Ek jou vernietig soos Adma, met jou maak soos met Sebojim? Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk. 9Ek sal my gloeiende toorn bedwing, Ek sal nie so ver gaan en Efraim uitwis nie, want Ek is God, nie 'n mens nie. Ek is die Heilige wat by jou is, Ek sal nie met woede ingryp nie.

10Hulle sal die Here volg! Hy sal brul soos 'n leeu en wanneer Hy brul, sal sy kinders vol ontsag uit die weste kom. 11Vol ontsag sal hulle soos voëls uit Egipte vlieg en soos duiwe uit Assirië.

Ek sal hulle na hulle neste toe terugbring, sê die Here.

Israel moet die Here liefhê

1Efraim bedrieg My, Israel is vals teenoor My, Juda is nog altyd wispelturig in sy diens aan My, maar hy is getrou aan die afgode. 2Efraim hou hom op met wind, hy is aldag agter die oostewind aan. Hy hou aan met lieg en om sy eie ondergang te bewerk. Hy sluit 'n verbond met Assirië, maar stuur olie na Egipte toe.

3Die Here het 'n saak teen Juda, Hy gaan Jakob straf vir sy dade, hom laat boet vir wat hy gedoen het. 4Nog voor sy geboorte het hy al sy broer onderkruip en as volwasse man het hy met God gestoei. 5Jakob het met 'n Engel gestoei en gewen. Jakob het gehuil en van God hulp verwag: “By Bet-El sal Hy ons ontmoet, daar sal Hy met ons praat. 6Die Here is die almagtige God, die Here sal onthou.”

7Wat jy moet doen, is om na jou God toe terug te keer: jy moet Hom liefhê en sy bevele gehoorsaam, jy moet jou hoop altyd op jou God vestig.

8Efraim is 'n skelm handelaar: hy buit graag mense uit. 9En dan sê hy: “Ek is ryk, ek het myself ryk gemaak. Terwyl ek my besittings bymekaargemaak het, het ek niks gedoen wat verkeerd is nie.”

10Maar Ek is die Here jou God van Egipte se tyd af. Ek gaan jou weer in tente laat woon soos in die woestyntyd. 11Ek het nog altyd met die profete gepraat, Ek het hulle baie visioene laat sien, Ek het deur die profete in gelykenisse gepraat.

12Gilead was ook ryk, maar hy het heeltemal tot niet gegaan. Daar is bulle geoffer in Gilgal, maar dit sal nie verhoed dat ook hulle altare soos kliphope langs die lande word nie.

13Onthou Jakob moes na Aram toe vlug. Israel moes slawediens doen om vrouens te kry: omdat hy vrouens wou hê, moes hy skape oppas. 14Deur die diens van 'n profeet het Ek, die Here, vir Israel uit Egipte gelei, deur 'n profeet is hulle opgepas.

15Maar Efraim het My aangehou tart en verdien die dood. Ek sal hom straf vir sy skandelike gedrag.

1Daar was 'n tyd toe Efraim met gesag gepraat het, hy was die onbetwisbare leier in Israel. Maar hy het hom skuldig gemaak met Baäl en dit het vir hom die dood gebring. 2En nou hou hulle maar aan met sondig: hulle het vir hulle beelde gemaak, afgodsbeelde van silwer na eie smaak. Maar dit bly die handewerk van ambagsmanne! Van hierdie beelde sê hulle: “As 'n mens wil offer, moet jy hierdie kalwers soen.”

3Daarom sal hulle so vinnig verdwyn soos 'n môrewolkie, soos dou. Hulle sal weggewaai word soos kaf van 'n dorsvloer af, soos rook uit 'n skoorsteen.

4Ek is die Here jou God van die tyd van Egipte af. Jy het geen ander god geken nie en jy het geen ander redder gehad nie. 5Dit is Ek wat jou in die woestyn, in 'n dor land versorg het.

6Maar toe hulle by goeie weiding gebring is, het hulle hulle vol geëet, en toe hulle vol geëet was, het hulle hoogmoedig geword. Daarom het hulle My vergeet.

7Toe het Ek vir hulle geword soos 'n leeu, soos 'n luiperd wat vir hulle langs die pad voorlê. 8Ek sal hulle aanval soos 'n beerwyfie wie se kleintjies afgeneem is. Ek sal hulle borskaste oopskeur. Soos 'n leeu sal Ek hulle daar verslind. Roofdiere sal hulle uitmekaarskeur.

9Ek het jou vernietig, Israel, Ek wat jou eers gehelp het.

10Waar is jou koning dan nou? Laat hy jou help in al jou stede! Waar is jou regeerders van wie jy gesê het: “Gee vir my 'n koning en amptenare”? 11Ek gee vir jou 'n koning in my toorn en Ek vat hom weg in my woede!

Samaria sal boet

12Efraim se skuld is opgeskryf, sy sonde staan aangeteken. 13Toe die tyd vir sy geboorte gekom het, het hy nie die verstand gehad om op die regte oomblik gereed te wees vir die geboorte nie. 14Moet Ek hom red uit die mag van die dood? Moet Ek hom verlos uit die doderyk? Kom met jou peste, dood! Kom met jou plae, doderyk! Ek sal vir Efraim nie jammer kry nie.

15Al floreer Efraim ook soos 'n blom tussen die riete, die oostewind sal losbreek, 'n storm van die Here sal uit die woestyn kom en Efraim se waterbron sal opdroog, sy fontein sal gaan staan. Die storm sal al sy skatte en voorrade vernietig.

1Samaria sal boet, want hy is in opstand teen sy God. Die mans sal met die swaard doodgesteek word, die klein kindertjies sal verpletter word en die swanger vrouens sal oopgesny word.

Ek sal hulle ontrou genees

2Keer terug na die Here jou God, Israel, want jy het geval deur jou sonde. 3Bely julle sonde en kom terug na die Here toe. Sê vir Hom: “Vergewe tog al ons sonde en neem ons belydenis aan. Ons bely teenoor U: 4Assirië hou vir ons niks goeds in nie. Ons sal ons nie meer op wapens verlaat nie. Ons sal ook nie meer vir ons eie handewerk sê: ‘Ons god’ nie. By U alleen is daar liefde vir 'n weeskind.”

5Ek sal hulle ontrou genees. Ek sal hulle van harte liefhê. Wanneer my toorn van hom afgewend is, 6sal Ek vir Israel wees soos die dou. Hy sal bloei soos 'n lelie en hy sal so vas staan soos die Libanon. 7Hy sal geil groei. Hy sal so sterk wees soos 'n olyfboom en hy sal ruik soos die plante van Libanon. 8Dié wat voorheen by die Libanon gewoon het, sal terugkom. Hulle sal weer koring verbou. Hulle sal welig groei soos 'n wingerdstok. Die roem van Israel sal wees soos die wyn van die Libanon. 9Efraim, Ek wil niks te maak hê met afgodsbeelde nie. Ek het jou verneder, maar Ek sal jou weer onder my sorg neem. Ek is soos 'n groen sipres. Alles wat jy het, sal van My af kom.

Naskrif

10Wie wysheid het, sal op hierdie woorde ag slaan. Wie verstandig is, sal dit ter harte neem, want wat die Here doen, is reg. Die regverdiges lewe daarvolgens, en die opstandiges kom daardeur tot 'n val.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS