Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 125

HABAKUK 1–3, NAHUM 1–3

Bybelteks(te)

Opskrif

1'n Uitspraak van die Here wat Hy aan die profeet Habakuk geopenbaar het.

Habakuk se klag: Onreg

2Hoe lank moet ek om hulp roep

voordat U hoor, Here,

moet ek by U bly kla oor geweld

voordat U red?

3Waarom laat U my die onreg sien wat gedoen word,

waarom kyk U toe as daar soveel ellende is?

Oral rondom my is daar onderdrukking en geweld,

en word daar getwis en gebaklei.

4Die wet het nie meer krag nie,

en daar geskied nie meer reg nie.

Slegte mense het die oorhand oor die goeies,

en so word die reg verkrag.

Die antwoord van die Here: Ek gaan iets doen

5Die Here het geantwoord:

Kyk na die ander nasies:

julle sal verstom staan oor wat julle sien.

Ek gaan nog tydens julle lewe iets doen wat julle nie sal glo

as dit vir julle vertel word nie.

6Ek gaan die Galdeërs laat kom,

die wrede, woeste nasie

wat dwarsoor die aarde rondtrek

om lande te verower wat nie hulle s'n is nie.

7Hulle is 'n nasie wat vrees en ontsag inboesem,

hulle ken net een wet, een trots, hulle eie.

8Hulle perde is vinniger as luiperds,

vuriger as honger wolwe.

Hulle ruiters kom aan op 'n galop,

hulle kom van ver af,

hulle vlieg soos arende wat op hulle prooi neerskiet.

9Hulle hele leërmag kom om verwoesting te saai,

hulle kom aangestorm soos die oostewind

en maak krygsgevangenes bymekaar soos sand.

10Die Galdeërs dryf die spot met konings

en lag maghebbers uit.

Hulle lag oor al die vestingstede:

hulle gooi grondwalle teen die stede op en neem hulle in.

11Dan jaag hulle verder, hulle trek verby soos die wind.

Vir hierdie sondige nasie is sy eie mag sy god.

Habakuk se tweede klag: Waarom bly U stil?

12U is tog van altyd af daar, Here;

U is my heilige God;

ons sal nie sterwe nie.

U, Here, het die Galdeërs aangestel om die vonnis te voltrek,

U, ons Rots, het hulle die mag gegee om ons te straf.

13U oë is te rein om toe te kyk terwyl daar verkeerd gedoen word,

U kan tog nie sien dat daar ellende is en niks doen nie!

Waarom doen U dan niks aan die trouelose mense nie,

waarom bly U stil wanneer slegte mense dié vernietig

wat beter as hulle is?

14Hoe kan U mense behandel asof hulle visse is,

asof hulle kruipende insekte sonder leier is?

15Die Galdeërs vang mense met hoeke,

trek hulle vas in nette,

maak hulle bymekaar in treknette,

en juig en jubel oor die vangs!

16Die Galdeërs bring selfs offers vir hulle nette,

brand wierook vir hulle treknette,

want deur die nette leef hulle in weelde

en het hulle volop kos!

17Sal hulle maar deurentyd voortgaan om hulle nette uit te skud,

om nasies meedoënloos om die lewe te bring?

Die antwoord van die Here: Wie reg doen, sal lewe

1Ek wil op my uitkyktoring gaan staan,

my plek op die vestingmuur gaan inneem,

ek wil wag om te verneem wat die Here vir my sal sê

en wat ek moet antwoord wanneer mense my verwyt.

2Die Here het toe vir my gesê:

Skryf wat Ek aan jou gaan openbaar duidelik op kleitablette

sodat mense dit sommer in die verbygaan kan lees.

3Die openbaring geld vir 'n bepaalde tyd;

dit sal gou kom want dit kom beslis.

Jy moet net geduldig bly wag

as dit nie gou kom nie,

want dit kom beslis, dit sal nie uitbly nie.

4Dit is die boodskap:

Wie nie reg gesind is nie, sal sy verdiende loon kry,

maar wie reg doen, sal lewe omdat hy getrou bly.

Oordeel oor die Galdeërs

5'n Hooghartige mens wat hom deur sy rykdom laat mislei,

sal nie in sy doel slaag nie,

al is hy so gulsig soos die doderyk,

so onversadigbaar soos die dood,

al versamel hy al die nasies rondom hom,

al maak hy gevangenes van al die volke.

6Dieselfde volke sal spotliedjies oor hom sing

en met minagting na hom verwys.

Hulle sal sê:

Ellende wag vir hom wat hom verryk met goed wat nie syne is nie,

wat vir hom al meer goed inpalm wat verpand is. Hoe lank sal dit nog voortduur?

7Die tyd kom vinnig nader dat jy self in die skuld sal wees,

dat skuldeisers vir wie jy sidder, skielik voor jou sal staan

en jou sal kaalstroop.

8Jy het baie nasies geplunder,

maar nou sal dié wat oorgebly het, jou plunder,

want jy het baie bloed vergiet,

geweld gepleeg in baie lande, teen stede en teen hulle inwoners.

9Ellende wag vir hom wat hom ten koste van ander wou verryk en daardeur 'n ramp oor sy familie gebring het,

hy wat vir hom 'n hoë nes wou bou

juis om 'n ramp vry te spring.

10Met jou geknoei het jy jou familie se ondergang bewerk;

jy wou baie volke uitroei, maar daarmee het jy 'n einde aan jou eie lewe gemaak.

11Selfs die klippe in die mure skreeu oor wat jy gedoen het,

en die balke skreeu saam.

12Ellende wag vir hom wat 'n stad bou met moord,

wat 'n dorp aanlê met onreg.

13Dit is die Here die Almagtige wat dit beskik het dat dít

waarvoor volke gewerk het

in vlamme opgegaan het,

dat volke hulle tevergeefs afgesloof het.

14Soos waters die seebodem bedek,

so sal die magtige teenwoordigheid van die Here oral op die aarde geken word.

15Ellende wag vir hom wat, toe hy vir 'n ander drank gegee het,

dit met gif gemeng het

en hom dronk gemaak het

om na sy kaal geslagsdele te kan kyk.

16Jy sal self met skande in plaas van met eer oorlaai word,

jy sal self dronk word en jou ontbloot!

Die Here sal jou die oordeelsbeker wat in sy hand is, gee om te drink,

en jou eer sal in skande verander word.

17Jou geweld teen die Libanon sal jouself tref,

jou mishandeling van die diere op die Libanon

sal jouself vernietig.

Jy het baie bloed vergiet,

jy het geweld gepleeg teen baie lande, teen stede met hulle inwoners.

18Wat is die nut van 'n afgod?

Dit is maar net iets wat deur 'n mens gemaak is,

'n beeld waarvan net bedrog

te wagte kan wees.

Wat baat dit die maker om op sy maaksel te vertrou

as hy 'n afgod gemaak het wat nie eens kan praat nie?

19Ellende wag vir hom wat vir 'n stuk hout sê: “Word wakker!”

of vir 'n dooie stuk klip: “Staan op!”

Kan 'n afgod jou iets leer?

Al is hy met goud of silwer oorgetrek,

is daar geen lewe in hom nie.

20Die Here is in sy heilige tempel:

almal op aarde moet in sy teenwoordigheid stil wees!

Habakuk se gebed

1'n Gebed van die profeet Habakuk. Op die wysie van 'n klaaglied.

2Here, ek het gehoor wat van U vertel is

en ek is vervul met ontsag vir wat U gedoen het.

Doen dit tog ook in ons tyd,

laat u dade ook in ons tyd ervaar word,

ontferm U selfs in u toorn.

3God kom van Teman af,

die Heilige kom van Paranberg af. Sela

Die hemelruim is vol van sy majesteit,

die aarde vol van sy roem.

4Hy kom met die glans van die lig,

weerligte blits uit sy hand,

sy hand so vol mag.

5Voor Hom uit gaan die pes,

in sy voetstappe volg die dood.

6Wanneer Hy staan, skud die aarde;

wanneer Hy kyk, bewe die nasies.

Die eeue-oue berge verkrummel,

die ou-ou heuwels val inmekaar,

die berge waaroor Hy van ouds af gewandel het!

7Ek het gesien hoe onheil die tente van Kusan tref,

hoe die tentdoeke van Midian bewe.

8Was U kwaad vir die riviere, Here?

Het u toorn teen die strome ontvlam?

Het die see U woedend gemaak

dat U op u perde gery het,

op die strydwaens waarmee U oorwin?

9U het u boog uitgehaal

en met 'n eed die opdrag aan die pyle bevestig. Sela

U het die aarde oopgebreek en riviere laat stroom.

10Toe die berge U sien, het hulle gebewe,

stormwaters het verbygespoel,

die diep water het gedreun

en sy golwe hoog laat opslaan.

11Toe u vlieënde pyle blits

en u blink spies flikker,

het die son en die maan gaan stilstaan op hulle plek.

12In u gramskap stap U oor die aarde,

in u toorn vertrap U die nasies.

13U het uitgegaan om u volk te red,

om u gesalfde koning te red.

U verpletter die aanvoerder van die goddeloses,

U stroop hulle kaal van kop tot tone. Sela

14Met sy eie pyle deurboor U die aanvoerder

wanneer sy manskappe uitstorm om ons te verstrooi

terwyl hulle jubel soos dié wat die

ellendiges in hulle skuilplekke verslind.

15U trek deur die see met u perde

sodat die magtige waters bruis.

16Toe ek hierdie dinge hoor, het ek gesidder,

my lippe het gebewe,

my hele liggaam het lam geword,

my bene het aan die ruk gegaan.

Tog sal ek geduldig wag

dat die dag van die oordeel

moet kom oor die volk deur wie ons aangeval is.

17Al sou die vyeboom nie bot nie

en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie,

al sou die olyfoes misluk

en die lande geen oes lewer nie,

al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie

en die beeskrale sonder beeste wees,

18nogtans sal ek in die Here jubel,

sal ek juig in God, my Redder.

19Die Here my God gee vir my krag.

Hy maak my voete soos dié van 'n ribbok,

op hoë plekke laat Hy my veilig loop.

Vir die koorleier. Met snarespel.

Die opskrif van die boek

1'n Uitspraak teen Nineve. Die boek waarin die openbaring wat Nahum die Elkosiet ontvang het, opgeteken is.

Dit is klaar met jou!

2Die Here is 'n God wat baie begaan is oor sy volk,

'n God wat Hom wreek.

Die Here wreek Hom in sy gloeiende toorn,

die Here wreek Hom op sy teëstanders,

sy toorn ontvlam teen sy vyande.

3Die Here is lankmoedig,

maar sy krag is groot:

Hy laat geen skuldige ongestraf nie.

Hy kom in rukwind en storm,

wolke is die stof onder sy voete.

4Hy spreek die see aan en laat dit droog word,

Hy laat al die riviere opdroog.

Basan en Karmel verdor,

die groenigheid op die Libanon verwelk.

5Berge bewe voor Hom,

heuwels wankel;

die aarde, die wêreld en almal wat daarin woon,

deins terug wanneer Hy verskyn.

6Wie kan bly staan voor sy woede?

Wie kan sy gloeiende toorn weerstaan?

Sy gramskap breek deur soos 'n veldbrand.

Rotse word voor Hom uit uitmekaar gebreek.

7Die Here is goed,

Hy is 'n toevlug in tyd van nood,

Hy sorg vir dié wat by Hom skuil.

8Maar met 'n vloed wat alles meesleur,

vee Hy die plek weg waar Nineve lê,

jaag Hy sy vyande die duisternis in.

9Wat julle ook al teen die Here bedink,

Hy maak dit tot niet.

Daar sal nie weer verdrukking wees nie.

10Al is julle inmekaargevleg soos dorings,

en al is julle deurweek van drank,

julle sal soos kurkdroë stoppels verbrand word.

11Daar het een uit jou gekom, Nineve,

wat kwaad bedink teen die Here,

planne wat nie sal slaag nie.

12So sê die Here:

Al is hulle hoe sterk, hoe baie,

hulle sal afgemaai word en tot niet gaan.

Ek het jou verneder, my volk,

maar Ek sal jou nie weer verneder nie.

13Ek breek nou die juk wat op jou is,

Ek vernietig die bande wat jou bind.

14Maar oor jou, Nineve, beveel die Here:

“Jou naam sal nie meer genoem word nie!”

Ek vernietig die beelde in jou tempels,

Ek grawe jou graf, want dit is klaar met jou.

15Kyk daar, oor die berge kom 'n boodskapper aangehardloop

wat goeie nuus aankondig:

Vier jou feeste, Juda,

betaal jou geloftes!

Die verdrukker sal nie weer deur jou land trek nie,

hy is verslaan, vernietig.

Nineve word ontvolk

1Daar kom iemand wat jou sal verjaag, Nineve:

bewaak jou vestings,

hou dop die pad,

maak jou gereed vir die stryd,

monster al jou kragte!

2Die Here gaan die eer van Jakob, van Israel, herstel

soos dit vroeër was,

al is hulle kaal geplunder

en hulle wingerde verwoes.

3Die skilde van Nineve se aanvallers is rooi geverf,

hulle soldate het rooi uniforms aan.

Wanneer hulle gereedmaak om te veg,

blink hulle strydwaens soos vuur

en swaai hulle die spiese.

4Oor die paaie dreun die strydwaens,

hulle jaag oor die vlaktes;

hulle lyk soos fakkels,

soos blitse wat verbyskiet.

5Nineve maak staat op sy bevelvoerders,

maar hulle struikel as hulle aanstorm.

Hulle hardloop na die stadsmuur toe,

maar die vyand se stormram staan al!

6Die sluise van die kanale word oopgetrek,

en die paleis stort inmekaar.

7Dit staan vas: Nineve word ontvolk,

sy inwoners word weggevoer,

sy slavinne kla soos duiwe wat koer

en slaan hulleself op die bors.

8Nineve is soos 'n dam

waarvan die water uitloop.

“Staan, bly staan!” klink die bevel,

maar niemand draai om nie.

9Die aanvallers roep: “Buit silwer, buit goud!

Die voorraad is onuitputlik,

daar is nie 'n einde aan mooi goed nie.”

10Nineve is kaal geplunder, leeggedra, verniel,

sy mense is verslae, hulle knieë knak,

hulle kry krampe in die onderlyf,

almal is bleek van die skrik.

11Waar is die lêplek van die leeus nou,

die jagveld van die jong leeus?

Waar is die leeu en sy wyfie

wat onbevrees met hulle welpies rondgeloop het?

12Waar is die leeu wat gevang het vir sy kleintjies,

wat die nek van sy prooi vir sy wyfies gebreek het,

wat sy boerplek vol vleis gemaak het,

sy lêplek met wat hy gevang het?

13Ek tree teen jou op, Nineve, sê die Here die Almagtige.

Ek laat jou strydwaens in vlamme opgaan,

die swaard sal jou dapper leeus afmaai,

Ek vee alles wat jy bymekaargemaak het, van die aarde af,

jou gesante sal nie meer gehoor word nie.

Nineve, jy sal nie herstel nie

1Ellende wag vir jou,

bloedbevlekte stad;

jy is vol bedrog,

gevul met buit,

jy hou nie op met roof nie!

2Swepe klap,

wiele dreun,

perde jaag,

strydwaens vat net hier en daar grond;

3ruiters galop,

swaarde blink,

spiese blits.

Daar is baie gewondes,

hope dooies,

ontelbare lyke:

mense struikel oor hulle!

4Dit kom van die hoer Nineve se onsedelikheid,

die mooi vrou met haar toorkunste,

wat volke verwoes het met haar hoerery,

nasies met haar toorkunste.

5Ek tree teen jou op, sê die Here die Almagtige:

Ek sal al jou klere uittrek,

Ek sal volke jou kaal liggaam laat sien,

koninkryke die skande van jou naaktheid.

6Ek sal jou aan minagting prysgee,

Ek sal mis op jou gooi,

en van jou so 'n spektakel maak

7dat elkeen wat jou sien,

van jou af sal padgee en sê:

“Nineve is verwoes!

Wie is daar wat hom jammer kry?

Waar sal ek gaan soek na

mense wat jou kan troos?”

8Is jy beter as No-Amon,

die stad aan die Nyl,

omring deur water,

beskut deur massas water?

9Wat hom sterk gemaak het, was Kus en Egipte,

en hulle wás sterk!

Sy bondgenote was Put en Libië.

10Selfs No-Amon het 'n balling geword

en is in gevangenskap weggevoer;

ook sý babatjies is verpletter

op al die straathoeke;

sy aansienlikes is uitgeloot,

al sy vername manne is met kettings geboei.

11Ook jý sal dronk raak en beneweld word,

ook jý sal soek na 'n skuilplek teen die vyand.

12Al jou vestings is soos vyebome met ryp voorvye:

as die bome geskud word,

val die vye in die eter se mond!

13Jou manskappe is soos vroumense.

Die poorte van jou land staan wawyd oop vir jou vyande,

vuur verteer jou sluitbalke.

14Skep vir jou water vir die beleëring,

versterk jou vestings;

spring in die modder,

trap dit tot klei,

gryp die steenvorm!

15Selfs dáár sal die vuur jou verteer,

die swaard jou uitroei,

jou vernietig asof jy 'n sprinkaan is.

Word so baie soos sprinkane,

vermeerder soos sprinkaanswerms!

16Jy het mos meer handelaars gehad

as wat daar sterre aan die hemel is.

Maar as sprinkane vervel het, vlieg hulle weg,

17en jou wagte is soos treksprinkane,

jou bevelhebbers is soos 'n swerm sprinkane

wat op die klipmure sit solank dit koud is,

maar as die son opkom, vlieg hulle weg

en niemand weet waarheen nie!

18Jou regeerders sluimer, koning van Assirië,

jou vername mense slaap,

jou manskappe is verstrooi op die berge

en daar is niemand wat hulle bymekaarmaak nie.

19Jy is verwoes, en jy sal nie herstel nie,

jou wond is dodelik;

almal wat die tyding oor jou verneem,

klap hande daaroor,

want wie het nie almal voortdurend

onder jou wreedhede gely nie?

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS