Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 124

JONA 1–4, HAGGAI 1–2

Bybelteks(te)

U is die Here, U doen wat U wil

1Die woord van die Here het tot Jona seun van Amittai gekom: 2“Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan, want Ek weet hoe sleg hy is.”

3Maar Jona het klaargemaak om na Tarsis toe te vlug, weg van die Here af. Jona is af Joppe toe, en daar het hy 'n skip gekry wat op vertrek was Tarsis toe. Hy het vir die reis betaal en aan boord gegaan om saam met die bemanning Tarsis toe te gaan, weg van die Here af.

4Maar die Here het 'n kwaai storm oor die see laat opkom. Daar was 'n baie sterk wind op die see, en die skip wou uitmekaar breek. 5Die matrose het bang geword, en elkeen het tot sy god om hulp geroep. Hulle het die vrag van die skip in die see gegooi om die skip ligter te maak. Maar Jona was onder in die skip waarheen hy afgegaan het om te gaan slaap. Hy het vas geslaap 6en die kaptein het na hom toe gegaan en vir hom gesê: “Wat is dit met jou dat jy lê en slaap? Staan op en bid tot jou god. Miskien sal hy aan ons dink en dan sal ons nie vergaan nie.”

7Toe sê die manne vir mekaar: “Kom ons trek lootjies sodat ons kan uitvind oor wie hierdie ramp ons tref.”

Hulle het lootjies getrek en Jona is aangewys. 8Toe vra hulle hom: “Vertel ons tog waarom hierdie ramp ons tref. Wat werk jy? Waarvandaan kom jy? Uit watter land en van watter volk is jy?”

9Jona het hulle geantwoord: “Ek is 'n Hebreër. Ek dien die Here die God van die hemel wat die see en die vasteland gemaak het.”

10Die manne het baie bang geword en vir Jona gesê: “Wat het jy nou aangevang?”

Hulle het te wete gekom dat hy van die Here af wegvlug: Jona het hulle dit self vertel. 11Toe vra hulle hom: “Wat moet ons met jou maak dat die see weer rondom ons kan kalm word?”

Die see het ondertussen al hoe onstuimiger geword.

12Jona het hulle geantwoord: “Vat my en gooi my in die see, dan sal dit kalm word rondom julle, want ek weet dit is oor my dat hierdie groot storm rondom julle woed.”

13Die manne het hard geroei om weer die vasteland te bereik, maar hulle kon nie, want die see het al hoe onstuimiger geword rondom hulle. 14Toe bid hulle tot die Here en sê: “Ag, Here, moet ons tog nie laat vergaan oor hierdie man nie. Moenie dat ons iemand onskuldig doodmaak nie. U is die Here, U doen wat U wil.”

15Hulle vat toe vir Jona en gooi hom in die see. Die storm op die see het toe bedaar.

16Die manne het toe baie bang geword vir die Here en hulle het vir Hom 'n offer gebring en geloftes afgelê.

Hulp kom net van die Here af

17Toe stuur die Here 'n groot vis om vir Jona in te sluk, en hy was drie dae en nagte in die vis se maag.

1Toe bid Jona daar binne-in die vis tot die Here sy God. 2Jona het gesê:

“In my nood het ek tot die Here geroep,

en Hy het my gebed verhoor.

Diep in die doderyk het ek hulp gevra,

en U, Here, het my gehoor.

3U het my die diepte ingegooi,

diep in die see, en die watermassa het my omring.

U het golf na golf oor my laat gaan.

4Ek het gedink ek het uit u gesig verdwyn,

maar tog sal ek weer u heilige tempel aanskou.

5Die waters het my toegevou,

die groot water het my omring,

seegras was om my kop gedraai.

6Ek het afgesak tot by die fondamente van die berge,

die aarde het my vir altyd toegesluit.

Maar U, Here my God, het my van die dood gered.

7Toe ek wou vergaan, het ek aan die Here gedink,

en my gebed het by U gekom, in u heilige tempel.

8Dié wat op nuttelose afgode vertrou,

verlaat Hom wat liefde aan hulle betoon.

9Terwyl ek 'n loflied sing, wil ek aan U 'n offer bring;

wat ek beloof het, sal ek doen.

Hulp kom net van die Here af.”

10Toe beveel die Here die vis, en hy het vir Jona op die vasteland uitgespoeg.

God het nie die ramp gestuur nie

1Die woord van die Here het 'n tweede keer tot Jona gekom:

2“Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan met die boodskap wat Ek jou sal gee.”

3Toe maak Jona klaar en gaan na Nineve toe soos die Here hom beveel het. Nineve was 'n baie groot stad: 'n mens het drie dae gevat om dit deur te stap. 4Jona het die stad ingegaan en 'n dag lank daar rondgestap en toe roep hy: “Nog net veertig dae en Nineve word verwoes!”

5Die mense van Nineve het toe in God geglo en hulle het 'n dag aangekondig om te vas. Groot en klein het rouklere aangetrek. 6Die berig het ook by die koning van Nineve uitgekom. Hy het van sy troon af opgestaan en sy koningsklere uitgetrek, rouklere aangetrek en op 'n ashoop gaan sit. 7Hy het in Nineve laat proklameer: “Die koning en sy raadgewers beveel dat mens en dier, grootvee en kleinvee, aan niks mag proe nie, dat hulle niks mag eet en nie water mag drink nie. 8Mens en dier moet rouklere aanhê, en die mense moet ernstig tot God roep en hulle van hulle verkeerde dade bekeer en berou hê oor die geweld wat hulle gepleeg het. 9Miskien sal God van plan verander en nie meer kwaad wees nie. Dan sal ons nie omkom nie.”

10Toe God sien wat hulle doen, en hoe hulle hulle bekeer van hulle verkeerde dade, het Hy afgesien van die ramp wat Hy gesê het Hy oor hulle sal bring. Hy het nie die ramp gestuur nie.

Het jy rede om kwaad te word?

1Hieroor was Jona baie ontevrede en hy het baie kwaad geword. 2Hy het tot die Here gebid en gesê: “Ag, Here, ek het dit geweet toe ek nog in my land was. Daarom het ek reg in die begin na Tarsis toe gevlug. Ek het geweet U is 'n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde. U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het.

3“Laat ek nou maar sterf, Here, want dit is vir my beter om te sterf as om te lewe.”

4Toe vra die Here vir hom: “Het jy rede om kwaad te word?”

5Jona is toe uit die stad uit. Hy het oos van die stad gaan sit en vir hom 'n skerm gebou. Hy het daaronder in die skaduwee gaan sit om te sien wat in die stad gebeur.

6Toe laat die Here God 'n komkommerplant opkom, en dit het bo-oor Jona gerank om skaduwee te gee vir sy kop en om hom van sy misnoeë te bevry. Jona was baie bly oor die komkommerplant.

7Die volgende môre met dagbreek laat God toe 'n wurm kom, en dit het aan die komkommerplant gevreet, sodat dit verdroog het. 8Toe die son opkom, het God 'n skroeiende sterk wind uit die ooste laat waai. Die son het vir Jona op sy kop gesteek, en hy het baie swak geword en gewens om maar liewer te sterf. Hy het gesê: “Dit is vir my beter om te sterf as om te lewe.”

9Toe vra God vir Jona: “Het jy rede om kwaad te word oor die komkommerplant?” en Jona antwoord: “Ek het rede genoeg: ek is besig om te sterf!”

10Die Here het vir Jona gesê: “Jy is besorg oor die komkommerplant waarvoor jy nie gewerk het nie en wat jy nie versorg het nie. Dit het oornag opgekom en oornag is dit dood. 11Maar Ek mag nie besorg wees oor die groot stad Nineve nie, 'n stad waarin daar meer as honderd en twintig duisend mense is wat nie weet wat reg of verkeerd is nie, en ook nog baie diere?”

Herbou my huis

1Die woord van die Here het deur die profeet Haggai gekom tot Serubbabel, seun van Sealtiël en goewerneur van Juda, en tot die hoëpriester Jesua seun van Josadak. Dit was op die eerste dag van die sesde maand in die tweede regeringsjaar van koning Darius.

2So sê die Here die Almagtige: Hierdie volk sê dit is nie nou die tyd om die tempel te herbou nie.

3Toe het die woord van die Here weer deur die profeet Haggai gekom: 4Is dit nou die tyd vir julle om in pragtige huise te woon terwyl my huis in puin lê? 5Daarom, so sê die Here die Almagtige: Neem ter harte wat met julle gebeur.

6Julle het baie gesaai, maar min geoes;

julle het geëet, maar nie genoeg gekry nie;

julle het gedrink, maar dors gebly;

julle het klere aangetrek, maar nie warm geword nie;

julle is soos 'n dagloner wat sy loon

in 'n stukkende beursie steek.

7So sê die Here die Almagtige: Neem ter harte wat met julle gebeur. 8Gaan haal hout in die berg en herbou my huis sodat Ek my eer kan ontvang en tevrede kan wees, sê die Here. 9Julle het 'n groot oes verwag, maar min gekry, en wat julle nog huis toe gebring het, het Ek laat verdwyn. Waarom? vra die Here die Almagtige. Omdat my huis in puin lê, terwyl elkeen van julle hard besig is om aan sy eie huis te werk. 10Dit is oor julle dat die hemel sy reën en die aarde sy opbrengs teruggehou het. 11Ek het droogte laat kom oor die land en oor die berge, oor die koring, die wyn en die olie en oor die opbrengs van die land, oor mens en dier en oor alles waarmee die mens hom besig hou.

12Toe het Serubbabel seun van Sealtiël, en die hoëpriester Jesua seun van Josadak, en almal wat van die volk oorgebly het, ter harte geneem wat die Here hulle God gesê het, wat die profeet Haggai in opdrag van die Here hulle God gesê het. Die volk was vervul met ontsag vir die Here.

13Haggai die boodskapper van die Here het in opdrag van die Here vir die volk gesê: Ek is by julle, sê die Here. 14Die Here het toe vir Serubbabel, seun van Sealtiël en goewerneur van Juda, en vir die hoëpriester Jesua seun van Josadak, en vir almal wat van die volk oorgebly het, aangevuur, en hulle het die werk aan die huis van hulle God, die Here die Almagtige, aangepak. 15Hulle het daarmee begin op die vier en twintigste van die sesde maand.

My Gees sal altyd by julle bly

1Op die een en twintigste van die sewende maand, in die tweede regeringsjaar van koning Darius, het die woord van die Here weer deur die profeet Haggai gekom: 2Vra tog vir Serubbabel, seun van Sealtiël en goewerneur van Juda, en vir die hoëpriester Jesua seun van Josadak, en vir almal wat van die volk oorgebly het: 3Wie van julle het gesien hoe mooi die vorige tempel was? Hoe lyk dié een vir julle? Lyk hy nie na niks in vergelyking met die vorige nie?

4Maar nou, Serubbabel, skep moed, sê die Here, en jy Jesua seun van Josadak, hoëpriester, skep moed, en julle almal, burgers van die land, skep moed, sê die Here! Begin met die werk, want Ek is by julle, sê die Here die Almagtige. 5My belofte wat Ek met die uittog uit Egipte aan julle gemaak het, sal Ek nakom: my Gees sal altyd by julle bly. Moenie bang wees nie!

6So sê die Here die Almagtige: Nog een keer, binnekort, sal Ek hemel en aarde, see en land laat bewe. 7Dan sal Ek al die nasies laat wakker skrik en hulle sal met hulle skatte kom en so sal Ek hierdie huis met rykdom vul, sê die Here die Almagtige. 8Aan My behoort al die silwer, aan My al die goud, sê die Here die Almagtige. 9Die roem van die tempel sal in die toekoms groter wees as in die verlede, sê die Here die Almagtige. Op hierdie plek sal Ek vrede gee, sê die Here die Almagtige.

10Op die vier en twintigste van die negende maand, in die tweede regeringsjaar van Darius, het die woord van die Here tot die profeet Haggai gekom: 11So sê die Here die Almagtige: Vra tog by die priesters leiding oor hierdie saak: 12As iemand vleis wat aan die Here gewy is, in die sak van sy klere dra, en hy raak met die sak aan brood of groente of wyn of olie of enige ander soort kos, sal dié dinge dan gewy wees?

Die priesters antwoord toe: “Nee!”

13Toe sê Haggai: As iemand wat onrein is deurdat hy aan 'n lyk geraak het, aan hierdie dinge sou raak, sou hulle dan onrein word?

Die priesters het geantwoord: “Ja, dit sal onrein word!”

14Haggai sê toe: Só is hierdie volk, hierdie nasie in my teenwoordigheid, sê die Here, só is alles wat hulle doen: elke offer wat hulle na my tempel toe bring, is onrein! 15Let daarom op wat in die verlede en tot nou toe gebeur het: voordat julle begin het om die tempel van die Here te herbou, 16het julle by 'n hoop koring gekom en net die helfte van wat julle geskat het, daaruit gedors. Julle het na 'n parskuip toe gegaan om vyftig vate vol te skep, maar julle het net twintig gekry. 17Ek het julle oes, die vrug van julle handewerk, swaar getref met brandkoring, heuningdou en hael, en nogtans het niemand hom tot My bekeer nie, sê die Here.

18Maar nou, let op wat van vandag af en verder sal gebeur, van die vier en twintigste dag van die negende maand af, die dag waarop die fondamente van die tempel van die Here gelê is. Let op! 19Is daar nog saad in die skuur? Tot nou toe het julle wingerde, julle vyebome, julle granaatbome en julle olyfbome nie gedra nie, maar van nou af sal Ek voorspoed gee!

20Op die vier en twintigste van die negende maand het die woord van die Here nog 'n keer tot Haggai gekom: 21Sê vir Serubbabel die goewerneur van Juda: Ek gaan die hemel en die aarde laat bewe. 22Ek gaan die trone van konings omgooi en die mag van die koninkryke van die nasies vernietig. Ek gaan strydwaens met bemanning en al omgooi. Perde met hulle ruiters sal omkom, die een sal die ander met die swaard doodmaak. 23Daardie dag sal Ek jou vat, sê die Here die Almagtige, en jou, my dienaar Serubbabel seun van Sealtiël, 'n seëlring maak, want Ek het jou uitgekies, sê die Here die Almagtige.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS