Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 123

JOËL 1–3, PSALM 138, HANDELINGE 2

Bybelteks(te)

Die dag van die Here is 'n dag van verwoesting

1Dit is die woord van die Here wat gekom het tot Joël seun van Petuel:

2Luister hierna, leiers van die volk,

gee aandag, al die inwoners van die land!

Het so iets al in julle tyd gebeur

of in dié van julle voorvaders?

3Vertel dit aan julle kinders,

en laat hulle dit weer aan húlle kinders vertel,

en dié weer aan húlle nageslag!

4Wat nie deur die eerste sprinkaanswerm opgevreet word nie,

word deur 'n volgende opgevreet;

wat nie deur dié opgevreet word nie, deur 'n derde,

en wat nie deur dié opgevreet word nie, deur 'n vierde.

5Word nugter, dronkaards, en huil;

kla oor die wyn

wat julle nie meer sal kry nie, al julle wynsuipers!

6'n Volk trek op teen my land;

die volk is sterk en sonder getal;

sy tande is soos dié van 'n leeu,

sy kakebene soos dié van 'n leeumannetjie.

7Hy het my wingerd verwoes,

my vyeboom afgebreek,

dit kaalgestroop en laat lê;

die lote se bas is afgevreet.

8Julle moet rou soos 'n bruid rou oor haar bruidegom.

9Die graanoffer en die drankoffer is weggeneem

uit die huis van die Here.

Die priesters wat in die diens van die Here staan, treur.

10Die weiding is weggevreet,

die veld treur.

Die koringoes is weggevreet,

van die wyn het daar niks gekom nie;

die olyfolie het verdwyn.

11Julle moet verslae staan, saaiboere,

oor die koring en die gars,

want die oes op die land is tot niet.

Kla, vrugteboere,

12die wingerd het verdor;

die vyeboom staan verdroog,

die granaat, die dadel en die appel,

ja, al die bome in die boord het verdor.

Daar het 'n einde gekom aan die vreugde van die mense.

13Trek rouklere aan, treur, priesters!

Kerm, julle wat diens doen by die altaar!

Dra julle rouklere selfs snags,

julle wat in die diens van my God is:

die graanoffer en die drankoffer is weggeneem

uit die huis van julle God.

14Bepaal 'n vasdag, roep die gemeente bymekaar,

bring die leiers en al die inwoners van die land

na die huis van die Here julle God toe.

Roep tot die Here!

15Die vreeslike dag!

Die dag van die Here is naby:

dit is 'n dag van verwoesting,

dit kom van die Almagtige af.

16Voor ons oë is ons kos weggevat;

blydskap en gejuig het uit die huis van ons God verdwyn.

17Die saad lê verskrompel onder die kluite,

die graanskure lê verlate,

die skure lê afgebreek,

want die koringoes het misluk.

18Die vee bulk en blêr:

die troppe beeste dwaal rond,

want hulle het niks om te vreet nie,

ook die kleinveetroppe kry swaar.

19Ek roep tot U, Here,

want 'n vuur het die weiveld verteer,

'n brand het al die bome in die veld weggebrand.

20Die diere in die veld wag op uitkoms van U af,

want die spruite het opgedroog,

'n vuur het die weiveld verteer.

Die dag van die Here is 'n dag van donkerte

1Blaas die ramshoring in Sion,

roep hard op my heilige berg.

Al die inwoners van die land sal bewe,

want die dag van die Here kom,

dit is naby:

2dié stikdonker dag, die dag van donker wolke

waarop die groot sterk nasie oor die berge uitsprei

soos die lig van die dagbreek uitsprei.

Só 'n sterk nasie was daar nog nooit

en sal daar nooit weer wees nie,

selfs nie in die verste toekoms nie.

3Die leër se voorhoede is 'n vuur wat verteer,

sy agterhoede 'n vlam wat brand.

Voor die koms van die sprinkaanswerm is die veld soos die tuin van Eden;

as hy verby is, is dit 'n onbewoonbare woestyn.

Hy laat niks oorbly nie.

4Sy manskappe lyk soos perde,

hulle galop soos ryperde.

5Op die bergtoppe dreun hulle soos strydwaens,

knetter hulle soos die vuur van 'n grasbrand

wanneer dit strooi verbrand,

rumoer hulle soos 'n groot leër wat klaarmaak om te veg.

6Voor hulle bewe die nasies,

almal word wit van angs.

7Hulle storm vorentoe soos dapper soldate,

hulle klim oor die stadsmure.

Elkeen gaan reg vorentoe,

hulle verander nie van rigting nie.

8Die een stamp nie teen die ander nie;

elkeen bly op sy pad.

Hoe hulle ook sneuwel voor die verdediging,

hulle raak nie van koers af nie.

9Hulle oorval die stad,

hulle hardloop oor die mure,

hulle storm die huise binne,

soos diewe klim hulle deur die vensters.

10Die aarde skrik vir hulle,

die hemel bewe;

die son en die maan word donker,

die sterre verloor hulle glans.

11Die Here laat sy stem weerklink voor sy leërmag uit.

Sy leër is ontsaglik groot,

dié wat die Here se bevel uitvoer, is sterk.

Die dag van die Here is 'n groot dag,

'n verskriklike dag;

wie is daarteen bestand?

Kom terug na My toe!

12Maar nou sê die Here:

Kom met julle hele hart terug na My toe,

vas, huil en treur!

13Skeur julle harte, nie julle klere nie.

Kom terug na die Here julle God toe:

Hy is genadig en barmhartig;

Hy is lankmoedig en vol liefde.

Hy is bereid om straf te herroep.

14Wie weet of Hy nie die straf sal herroep nie;

of Hy nie weer voorspoed sal gee nie

sodat daar weer graan- en drankoffers sal wees

vir die Here julle God!

15Blaas die ramshoring in Sion,

bepaal 'n dag om te vas,

roep die gemeente bymekaar.

16Roep die volk op,

reinig die gemeente,

laat die leiers bymekaarkom,

bring die kinders bymekaar,

selfs dié wat nog drink.

Die bruidegom moet uit sy kamer uitkom,

die bruid uit haar wittebroodskamer.

17Die priesters wat in die diens van die Here staan,

moet tussen die voorportaal en die altaar gaan staan en huil,

hulle moet sê:

“Betoon medelye met u volk, Here,

moenie die volk wat aan U behoort, tot 'n bespotting maak,

sodat die nasies met hulle sal spot nie.

Waarom moet daar onder die volke gevra word:

Waar is Israel se God?”

Die Here betoon medelye met sy volk

18Die Here het vir sy land opgekom,

Hy het medelye betoon met sy volk.

19Die Here het sy volk geantwoord:

Ek stuur vir julle koring en wyn en olie.

Julle sal oorgenoeg hê.

Ek sal julle nie weer tot 'n bespotting

onder die nasies maak nie.

20Hierdie vyand uit die noorde sal Ek wegvat van julle af,

Ek sal hom wegjaag na 'n droë en verwoeste land toe,

sy voorpunt sal in die Dooie See beland

en sy agterhoede in die Middellandse See.

Sy stank sal opstyg,

sy slegte reuk sal versprei,

want hy het hom groot gehou.

21Jy moenie bang wees nie, ploegland,

jy moet bly wees en juig,

want die Here het 'n wonder gedoen.

22Julle moenie bang wees nie, vee in die veld,

want die weiveld word groen,

die bome dra vrugte,

die vyebome en die wingerd staan in volle drag.

23Inwoners van Sion, julle moet bly wees

en juig tot eer van die Here julle God,

want Hy het die reëns betyds laat kom,

Hy het die vroeë en die laat reën soos voorheen gegee.

24Die dorsvloer lê vol koring,

die parskuipe loop oor van wyn en olie.

25Ek sal julle vergoed vir die tyd

van sprinkaanswerm op sprinkaanswerm

toe my groot leër wat Ek teen julle gestuur het,

julle verteer het.

26Julle sal oorgenoeg hê om te eet,

julle sal die Naam van die Here julle God prys,

Hy wat wonders vir julle gedoen het.

My volk sal nooit weer in die skande kom nie.

27Dan sal julle besef dat Ek by Israel is,

dat Ek die Here julle God is,

dat daar buiten My nie 'n ander is nie.

My volk sal nooit weer in die skande kom nie.

28Wanneer dit alles gebeur het,

sal Ek my Gees laat kom op al die mense,

julle seuns en julle dogters sal as profete optree,

julle oumense sal drome droom,

julle jong mans sal visioene sien.

29In daardie tyd sal Ek my Gees laat kom

selfs op dié wat nie in aansien is nie.

30Ek sal tekens gee, in die hemel en op die aarde:

bloed, vuur en rookwolke.

31Die son sal donker word,

die maan bloedrooi

en dan sal die groot, die vreeslike dag van die Here kom.

32Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.

Op Sionsberg en in Jerusalem sal daar uitkoms wees.

So het die Here beloof.

Dié wat deur die Here geroep is,

is by dié wat gered is.

Die nasies word gestraf

1-2In daardie tyd sal Ek

al die nasies bymekaarmaak;

dit is die tyd wanneer Ek die lot van Juda

en Jerusalem sal verander.

Dan sal Ek die nasies in die Josafatlaagte afbring

en daar sal Ek hulle straf

omdat hulle my volk, Israel wat aan My behoort,

onder die nasies verstrooi het

en my land vir hulle gevat het.

3Ek sal hulle straf

omdat hulle lootjies getrek het oor my volk,

omdat hulle 'n jong seun gegee het in ruil vir 'n hoer

en jong meisies verkoop het vir wyn om te drink.

4En júlle, Tirus en Sidon en die hele gebied van die Filistyne,

wat is julle vir My?

Wil julle julle op My wreek vir wat julle aangedoen is?

As julle julle op My wil wreek, sal Ek gou optree

en julle dade op julle eie kop laat afkom.

5Julle het my silwer en my goud gevat,

julle het my kosbare skatte in julle tempels gebring.

6Julle het die mense van Juda en Jerusalem

in Griekeland gaan verkoop,

julle het hulle ver weg uit hulle gebied uit weggevat,

7maar Ek sal hulle laat uitbreek uit daardie plek uit,

die plek waarnatoe julle hulle verkoop het,

en dan sal Ek julle dade op julle eie kop laat afkom.

8Ek sal julle seuns en dogters verkoop aan die mense van Juda,

en hulle sal julle kinders verkoop aan die mense van Skeba,

'n nasie wat ver van hier af is.

Die Here het dit gesê.

9Sê vir die nasies:

“Maak julle klaar vir 'n oorlog,

roep julle dapper manne op!

Al julle soldate moet opruk en nader storm.

10Maak swaarde van julle ploegskare,

en spiese van julle snoeiskêre.

Selfs die swakke moet sê: ‘Ek is 'n dapper soldaat!’

11Maak gou en kom, al julle nasies van die omgewing.”

Laat hulle bymekaarkom,

en bring u leërmag af daarheen, Here!

12Die nasies moet aanstorm

en opruk na die Josafatlaagte toe,

want dáár sal Ek sit

om al die nasies van die omgewing te straf.

13Hulle sondes is baie:

steek die sekel in, want die oes is ryp,

kom trap, die parskuip is vol,

die wynkuipe loop oor.

14Daar is mense en nogmaals mense in die beslissingslaagte,

want naby is die dag waarop die Here sal straf

in die beslissingslaagte.

15Die son en die maan sal donker word,

die sterre sal nie meer skyn nie.

16Die Here sal uit Sion brul,

Hy sal sy stem uit Jerusalem laat hoor,

en hemel en aarde sal bewe.

Die Here is 'n toevlug vir sy volk,

'n veilige vesting vir die Israeliete.

17Dan sal julle besef dat Ek, die Here, julle God is.

Ek woon op Sion, my heilige berg.

Dan sal Jerusalem heilig wees,

vreemde nasies sal nie meer daardeur trek nie.

18Daardie dag sal daar volop wyn wees op die berge,

oorvloed melk op die heuwels.

In al die slote van Juda sal daar water loop,

'n fontein sal uit die huis van die Here borrel

en die Sittimdal natlei.

19Egipte sal van droogte vergaan,

Edom sal 'n onbewoonbare woestyn word,

want hulle het die mense van Juda wreed behandel

en onskuldige bloed vergiet in hulle land.

20Maar Juda sal sonder ophou bewoon word

en Jerusalem vir altyd.

21Ek sal my volk se sonde vergewe,

die sonde wat Ek nog nie vergewe het nie,

en Ek, die Here, sal op Sion woon.

Die Here is hoog verhewe

1Van Dawid.

Ek wil U met my hele hart loof.

Laat die gode maar hoor;

dit is tot u eer dat ek sing.

2Ek wil na u heilige tempel toe buig

en u Naam roem om u liefde en trou,

want U het u Naam en u woord bo alles gestel.

3Toe ek na U geroep het, het U my gebed verhoor

en my nuwe krag gegee.

4Al die konings van die aarde sal U loof, Here,

wanneer hulle u woord hoor,

5hulle sal sing oor wat die Here gedoen het,

want die mag van die Here is groot.

6Ja, al is die Here hoog verhewe,

Hy gee om vir die nederige,

maar Hy sien van ver af deur die hoogmoedige.

7As die nood my oorval,

hou U my in die lewe teen die woede van my vyande in:

U strek u hand uit,

u regterhand red my.

8Die Here sal vir my alles goed laat afloop.

Aan u liefde, Here, is daar geen einde nie.

Moet tog nie die werk van u hande laat vaar nie.

Die uitstorting van die Heilige Gees

1Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. 2Skielik was daar 'n geluid uit die hemel soos van 'n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. 3Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het. 4Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen.

5Daar het godsdienstige Jode uit al die nasies onder die son in Jerusalem gewoon. 6Toe die mense die geluid hoor, het 'n groot skare saamgedrom. En omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word, het hulle nie geweet hoe hulle dit het nie. 7Verras en verbaas sê hulle toe: “Die mense wat daar praat, is tog almal Galileërs. 8Hoe hoor elkeen van ons dan sy eie moedertaal? 9Perse, Mediërs en Elamiete, sowel as die inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadosië, Pontus en die provinsie Asië, 10Frigië en Pamfilië, Egipte en die dele van Libië om Sirene, mense uit Rome, 11Jode sowel as heidene wat die Joodse geloof aangeneem het, Kretensers en Arabiere – ons hoor hulle in ons eie tale praat oor die groot dinge wat God gedoen het.”

12Hulle was almal verbaas en uit die veld geslaan. Party het vir mekaar gevra: “Wat kan dit tog beteken?”

13Maar party het gespot en gesê: “Hulle is dronk.”

Petrus se toespraak op die pinksterdag

14Toe staan Petrus saam met die elf ander apostels op en onder leiding van die Heilige Gees spreek hy die mense toe: “Jode en julle almal wat in Jerusalem woon, ek moet vir julle verduidelik wat gebeur het. Luister na wat ek gaan sê: 15Hierdie mense is nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar nege-uur in die môre. 16Nee, hier gebeur wat God deur die profeet Joël gesê het:

17“Só sal dit in die laaste dae wees, sê God:

Ek sal my Gees uitstort op alle mense:

julle seuns en julle dogters sal as profete optree;

julle jongmense sal gesigte sien;

julle oumense sal drome droom.

18Ja, op my dienaars en my dienaresse

sal Ek in daardie dae my Gees uitstort,

en hulle sal as profete optree.

19Ek sal tekens bo in die lug

en wonders onder op die aarde gee:

bloed en vuur en rookwolke.

20Die son sal pikdonker word

en die maan bloedrooi

voordat die groot en glorieryke dag van die Here kom.

21So sal dit dan wees:

elkeen wat die Naam van die Here aanroep,

sal gered word.

22“Israeliete, luister na hierdie woorde! God het Jesus van Nasaret aan julle bekend gestel deur die kragtige dade, die wonders en die tekens wat God Hom by julle laat doen het. Daarvan weet julle self. 23God het besluit en dit vooruit bepaal om Hom aan julle uit te lewer, en julle het Hom deur heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak. 24Maar God het Hom van die smarte van die dood verlos en Hom uit die dood laat opstaan. Dit was immers vir die dood onmoontlik om Hom gevange te hou. 25Van Hom sê Dawid:

“Ek het die Here altyd voor oë.

Hy is aan my regterhand; ek sal nie wankel nie.

26Daarom is my hart bly en my tong jubel,

ja meer, ek het die verwagting dat my liggaam sal lewe,

27want U sal my nie aan die doderyk oorlaat nie;

U sal nie toelaat dat u troue dienaar vergaan nie.

28U het my die paaie van die lewe geleer;

u teenwoordigheid sal my met vreugde vul.

29“Broers, wat ons voorvader Dawid betref, moet ek dit vir julle duidelik stel: Hy het gesterwe en is begrawe, en sy graf is nou nog hier by ons. 30Maar hy was 'n profeet en hy het geweet dat God met 'n eed aan hom belowe het dat een van sy nakomelinge op sy troon sou sit. 31Daarom het hy die opstanding van die Christus vooruit gesien en gesê:

“Hy is nie aan die doderyk oorgelaat nie,

en sy liggaam het nie vergaan nie.

32“God het hierdie Jesus uit die dood laat opstaan; daarvan is ons almal getuies. 33Hy is verhoog aan die regterhand van God en Hy het die Heilige Gees wat belowe is, van die Vader ontvang en uitgestort. Dit is wat julle nou sien en hoor. 34Dawid het nie na die hemel toe opgevaar nie, en tog sê hy:

“Die Here het vir my Here gesê:

Sit aan my regterhand

35totdat Ek jou vyande

aan jou onderwerp het.

36“Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak!”

Die eerste bekeerdes

37By die aanhoor hiervan is die mense diep getref en het hulle vir Petrus en die ander apostels gevra: “Wat moet ons doen, broers?”

38Toe antwoord Petrus hulle: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. 39Wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep.”

40Met nog baie ander woorde het Petrus getuig en hulle aangespoor: “Laat julle red tussen hierdie ontaarde mense uit.”

41Dié wat sy woorde aangeneem het, is gedoop, en omtrent drie duisend mense is op daardie dag by die getal van die gelowiges gevoeg. 42Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede.

Die eerste gemeente

43Die apostels het baie wonders en tekens gedoen, en dit het almal met diep ontsag vervul. 44Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. 45Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. 46Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, 47en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.

HANDELINGE 2AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS