1Dit is Wysheid self wat roep,
dit is Insig wat haar stem laat hoor.
2Op die hoogtes langs die pad,
by die kruispaaie, gaan sy staan,
3langs die stadspoorte, by die ingange,
skree sy dit uit:
4“Ek roep na julle, mense, ek roep na alle mense:
5Dié wat ervaring kortkom, kan verstandig word,
dié wat dwaas optree, kan insig kry.
6Luister, want wat ek sê, is die moeite werd,
elke woord van my is opreg.
7Ek praat net die waarheid,
ek het 'n afsku van wat verkeerd is.
8Elke woord uit my mond kan die toets deurstaan,
nie een het 'n verkeerde of vals bedoeling nie.
9Mense wat insig het, weet dat ek reguit praat,
wie die kennis het, weet wat ek sê, is reg.
10Aanvaar wat ek julle leer, dit is meer werd as silwer;
kennis is meer werd as die fynste goud.
11Ek, Wysheid, is kosbaarder as edelstene;
wat jy ook al as baie werd beskou,
teen my weeg dit nie op nie.
12“Ek, Wysheid, het die verstand,
ek het die kennis en die skranderheid.
13Om die Here te dien, is om te haat wat verkeerd is.
Daarom haat ek hoogmoed en hovaardigheid,
'n verkeerde lewe en slinkse woorde.
14Wie my het, het raad en behaal sukses,
ek verleen insig, ek is die een wat die mag gee.
15Met my hulp regeer konings goed
en laat maghebbers reg geskied;
16met my hulp heers die mense wat mag het,
die leiers, elkeen wat reg regeer.
17Ek het dié lief wat my liefhet;
dié wat my soek, vind my.
18Wie my het, het rykdom en eer,
het duursame en blywende besittings.
19Wat ek vir jou lewer,
is beter as goud, selfs fyn goud;
wat ek inbring,
is meer werd as die suiwerste silwer.
20Waar ek gaan, is daar geregtigheid,
my pad is dié van die reg.
21Ek maak dié wat my liefhet, ryk,
ek maak hulle skure vol.
22“Die Here het my geskep, Hy het met my begin;
ek is die eerste wat Hy gemaak het, lank, lank gelede.
23Ek is lankal daar, van die begin af,
voor die aarde daar was.
24Ek het gekom toe die groot waters nog nie daar was nie,
toe daar nog nie fonteine vol water was nie.
25Voor die berge hulle plek gekry het,
voor die rante het ek al gekom,
26voor die Here die aarde met sy vlaktes gemaak het,
voor Hy selfs die eerste grond gemaak het.
27Ek was daar toe Hy die hemelgewelf opgerig het,
toe Hy die horison oor die see afgemerk het,
28toe Hy die wolke daarbo gesit het,
die fonteine onder die diep water laat uitborrel het.
29Ek was daar toe Hy vir die see sy grens vasgestel het,
die waters aan sy wil onderwerp het,
toe Hy die fondamente van die aarde afgesteek het.
30Ek het my kennis by Hom gekry,
ek was elke dag sy vreugde;
die hele tyd het ek dit by Hom geniet.
31Ek het my verlustig in die wêreld wat Hy gemaak het,
die mense was vir my 'n vreugde.
32“Daarom, kinders, luister na my,
dit sal goed gaan met dié wat op my pad bly.
33Luister na wat ek julle leer,
moet dit nie verontagsaam nie,
dan sal julle ook wysheid hê.
34Dit sal goed gaan met die mens wat na my luister,
die mens wat elke dag na my huis toe kom
en op my drumpel staan en wag.
35Wie my vind, vind die lewe self
en geniet die guns van die Here.
36Maar wie my nie wil vind nie, doen homself skade aan;
wie my haat, hou van die dood.”