Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 12

Genesis 42–47

Bybelteks(te)

GENESIS 42

Josef se broers gaan koop koring in Egipte

1Toe Jakob verneem dat daar graan in Egipte is, sê hy vir sy seuns: “Waarom sit julle vir mekaar en kyk?” 2Hy het verder vir hulle gesê: “Ek het gehoor daar is graan in Egipte. Gaan soontoe en koop daar vir ons koring dat ons aan die lewe kan bly, anders sterf ons.”

3Tien broers van Josef is toe weg na Egipte toe om koring te gaan koop. 4Jakob het nie Josef se broer Benjamin saamgestuur nie, “want,” het hy gesê, “netnou gebeur daar iets met hom!”

5Die seuns van Israel het saam met ander mense gegaan wat ook koring in Egipte wou gaan koop omdat daar hongersnood was in die hele Kanaän.

6Josef was in beheer van Egipte en hy het self die graan aan die mense verkoop. Sy broers het dus na hom toe gegaan en diep voor hom gebuig. 7Toe hy sy broers sien, het hy hulle herken. Maar hy het hulle nie laat agterkom wie hy is nie. Hy het hulle bars aangespreek en gevra: “Waarvandaan is julle?”

Hulle het hom geantwoord: “Ons is van Kanaän. Ons kom koop graan.”

8Josef het sy broers herken, maar hulle het hom nie herken nie. 9Hy het aan sy drome van vroeër gedink en vir hulle gesê: “Julle is spioene. Julle het net kom kyk waar die land maklik ingeval kan word.”

10Maar hulle het vir hom gesê: “Nee, Meneer, ons is u onderdane. Ons het net kom graan koop. 11Ons almal het dieselfde pa. Ons is eerlike mense. Ons is nie spioene nie.”

12Josef sê toe vir hulle: “Dit is nie. Julle het net kom kyk waar die land maklik ingeval kan word.”

13Hulle het geantwoord: “Ons was twaalf broers. Ons het dieselfde pa, 'n man in Kanaän. Die jongste is nou nog by hom, en die een leef nie meer nie.”

14Toe sê Josef vir hulle: “Julle is wat ek vir julle gesê het, julle is spioene! 15Hieraan sal ek julle toets: So seker as die farao leef, julle sal nie hier weggaan voordat julle jongste broer hierheen gebring is nie. 16Stuur een van julle om hom te gaan haal. Julle ander sal gevange gehou word. So sal ek vasstel of julle die waarheid praat of nie. So seker as die farao leef: Julle is spioene.”

17Josef het hulle drie dae lank aangehou 18en op die derde dag sê hy toe vir hulle: “Ek dien God! Op hierdie voorwaarde kan julle bly lewe: 19as julle eerlike mense is, moet een van julle in die tronk agterbly. Julle ander moet dan graan wegbring vir julle honger huismense. 20Dan moet julle julle jongste broer na my toe bring. Dan sal ek julle glo, en julle sal nie sterf nie.”

Hulle het ingestem 21en vir mekaar gesê: “Dit het ons nou van alles wat ons destyds ons broer aangedoen het. Ons het sy angs gesien toe hy ons om genade gesmeek het, maar ons het nie geluister nie. Nou sit ons met dieselfde angs.”

22Toe sê Ruben vir hulle: “Ek het julle mos gesê julle moet julle nie aan die kind vergryp nie. Maar julle wou nie luister nie, en daarom word sy dood nou op ons gewreek.”

23Omdat Josef deur 'n tolk met hulle gepraat het, het hulle nie besef dat hy verstaan wat hulle sê nie. 24Josef het van hulle af weggegaan en gaan huil. Daarna het hy teruggekom na hulle toe en weer met hulle gepraat. Toe het hy vir Simeon gevat en hom voor hulle oë in die tronk gesit.

25Josef het opdrag gegee dat die broers se sakke vol koring gemaak moet word en dat elkeen se geld in die sakke teruggesit moet word. Daar moes ook padkos vir hulle gegee word. Alles is so gedoen vir hulle.

26Toe laai hulle die graan op hulle donkies en vertrek van daar af. 27Die aand toe een van die broers sy sak oopmaak om sy donkie te voer, sien hy die geld bo in die sak. 28Toe sê hy vir sy broers: “Kom kyk hier! My geld is teruggesit in die sak.”

Hulle was radeloos, en doodgeskrik sê hulle vir mekaar: “Wat het God ons nou aangedoen?”

29Toe hulle by hulle pa Jakob in Kanaän aankom, het hulle alles wat met hulle gebeur het, vir hom vertel: 30“Die man in bevel van daardie land het ons bars aangespreek en ons vir spioene gehou, 31maar ons het vir hom gesê dat ons eerlike mense is en nie spioene nie. 32Ons was twaalf broers en ons het dieselfde pa. Die een broer leef nie meer nie, en die jongste is by Pa in Kanaän. 33Maar die man in bevel van daardie land het vir ons gesê: Hieraan sal ek weet of julle eerlike mense is: een van julle moet hier by my bly. Julle ander moet die kos vir julle honger mense gaan wegbring. 34Bring dan julle jongste broer na my toe. Dan sal ek weet julle is nie spioene nie maar eerlike mense. Dan sal ek julle broer teruggee en mag julle vry rondbeweeg in die land.”

35Toe die seuns hulle graansakke leegmaak, kry elkeen sy beursie met geld in sy sak. Toe hulle dit sien, was hulle en hulle pa baie bang, 36en het hy vir hulle gesê: “Julle maak my kinderloos. Josef leef nie meer nie, Simeon is nie meer hier nie, en nou wil julle nog vir Benjamin ook wegvat! En ek ly daaronder.”

37Maar Ruben het vir sy pa gesê: “Pa kan albei my seuns om die lewe bring as ek nie vir Benjamin na Pa toe terugbring nie. Maak my verantwoordelik vir hom, en ek sal hom vir Pa terugbesorg.”

38Jakob het net gesê: “Sy broer is dood. My seun gaan nie saam met julle nie. Hy is al wat vir my oor is. As iets hom op die pad moet oorkom, sal ek deur julle toedoen in my ouderdom van verdriet sterf.”

GENESIS 43

Benjamin gaan saam Egipte toe

1Maar dit was 'n kwaai hongersnood, 2en toe die kos begin opraak wat die broers uit Egipte gebring het, sê hulle pa vir hulle: “Julle moet maar weer vir ons 'n bietjie kos gaan koop.”

3Juda het hom geantwoord: “Daardie man het ons nadruklik gewaarsku en vir ons gesê: ‘Julle kom nie weer hier by my sonder julle broer nie!’ 4As Pa instem en ons broer saam met ons stuur, sal ons vir Pa gaan kos koop. 5Maar as Pa nie instem om hom saam te stuur nie, sal ons nie gaan nie, want daardie man het vir ons gesê ons kom nie weer by hom sonder ons broer nie.”

6Toe sê Israel: “Waarom het julle my hierdie onreg aangedoen en vir die man vertel julle het nog 'n broer!”

7Hulle het gesê: “Die man het ons uitgevra na ons familie. Hy het gevra: ‘Leef julle pa nog? Het julle nog 'n broer?’ Ons het net geantwoord op hierdie vrae van hom. Hoe moes ons weet hy sou sê: ‘Bring julle broer hiernatoe’?”

8Juda het vir sy pa Israel gesê: “Stuur tog maar die kind saam met my sodat ons dadelik kan vertrek. Dan kan ons aan die lewe bly. So nie sterf Pa saam met ons en ons kinders. 9Ek waarborg hy sal terugkom. Pa kan hom van my eis. As ek hom nie vir Pa terugbring en hom hier voor Pa kom laat staan nie, sal ek vir altyd by Pa in die skuld wees. 10En as ons nie so getalm het nie, kon ons nou al twee keer terug gewees het.”

11Toe sê hulle pa Israel vir hulle: “Nou ja, as dit dan so is, moet julle dit maar doen. Vat van die beste wat ons land het saam in julle graansakke as 'n geskenk vir die man: 'n bietjie balsem, 'n bietjie heuning, gom, hars, neute en amandels. 12Julle moet die geld verdubbel wat julle saamvat. En die geld wat julle bo in die graansakke teruggebring het, moet julle ook saamvat. Dalk was daar 'n misverstand. 13Vat julle broer en maak klaar en gaan terug na die man toe. 14God die Almagtige sal sorg dat die man julle goedgesind is en julle ander broer terugstuur en ook vir Benjamin. En ek, as ek dan my kinders moet verloor, moet ek hulle maar verloor.”

15Die manne het toe die geskenk gevat en hulle het die geld wat hulle saamgevat het, verdubbel. Hulle het vir Benjamin gevat en klaargemaak en Egipte toe gegaan. Hulle het by Josef gekom, 16en toe hy sien Benjamin is by hulle, sê hy vir sy hoofamptenaar: “Vat die manne na my huis toe. Laat slag en laat 'n ete voorberei, want hulle moet vanmiddag by my eet.”

17Hy het toe gedoen wat Josef gesê het. Hy het die manne na Josef se huis toe gevat, 18en hulle het bang geword omdat hulle na Josef se huis toe gebring is. Toe sê hulle: “Dit is oor die geld wat die vorige keer in ons graansakke teruggesit is. Ons word hierheen gebring om ons te oorval en te oorrompel en van ons slawe te maak en ons donkies te vat.”

19By die deur van die huis het hulle die hoofamptenaar genader 20en vir hom gesê: “Ekskuus, Meneer, ons was al 'n vorige keer hier om kos te koop. 21En toe ons hier weg is en die aand ons graansakke oopmaak, lê elkeen se geld bo in sy sak. Dit was presies die regte bedrag. Maar ons het dit nou weer saamgebring, 22en ook nog geld om weer kos te koop. Ons weet nie wie die geld in ons sakke teruggesit het nie.”

23Toe sê die amptenaar vir hulle: “Wees gerus! Moenie bekommerd wees nie. Julle geld het by my uitgekom, en dit is julle God, die God van julle voorvaders, wat 'n skat in julle sakke gesit het.”

Die amptenaar het toe vir Simeon na hulle toe gebring.

24Nadat die amptenaar hulle in Josef se huis ingebring het, het hy vir hulle water gegee, en hulle het hulle voete gewas. Hy het ook hulle donkies voer gegee. 25Die broers het hulle geskenk gereed gehou vir wanneer Josef die middag kom, want hulle het gehoor dat hulle daar gaan eet. 26Toe Josef inkom, bring hulle vir hom die geskenk wat hulle saamgebring het, na die huis toe. Toe buig hulle diep voor hom.

27Josef het hulle toe gevra hoe dit gaan. Hy het gevra: “Hoe gaan dit met julle pa wat so oud is en van wie julle my vertel het? Leef hy nog?”

28Hulle het geantwoord: “Dit gaan goed met u onderdaan, ons pa. Hy leef nog.”

Hulle het weer voor Josef gebuig en hom so geëer. 29Toe Josef sy broer, sy ma se seun Benjamin, raaksien, vra hy: “Is dit julle jongste broer van wie julle my vertel het?” En Josef sê vir hom: “My seun, God sal jou genadig wees.”

30Toe het Josef haastig padgegee om eenkant te gaan huil, want sy gemoed was vol oor sy broer. Josef is na sy kamer toe en hy het daar gaan huil. 31Daarna het hy sy gesig gewas en teruggegaan. Hy was weer homself en hy het gesê: “Bedien die ete.”

32Hulle het vir Josef afsonderlik bedien en so ook die broers en die Egiptenaars wat daar by hulle geëet het, want die Egiptenaars het 'n afsku daarvan om dieselfde kos as die Hebreërs te eet. 33Die broers het teenoor Josef gesit, volgens hulle ouderdom: van die oudste af tot die jongste. Hieroor het die manne mekaar verbaas aangekyk. 34Elkeen se kos is van Josef se tafel af aangegee, maar Benjamin s'n was vyf keer meer as dié van die ander. Hulle het wyn gedrink en saam met Josef dronk geword.

GENESIS 44

Josef se silwerbeker in Benjamin se graansak

1Toe beveel Josef sy hoofamptenaar: “Maak die graansakke van die manne vol met net soveel kos as hulle kan vervoer, en sit elkeen se geld bo in sy sak. 2En my beker, my silwerbeker, moet julle bo in die sak van die jongste sit saam met die geld vir sy graan.”

Die hoofamptenaar het gedoen wat Josef gesê het. 3Ligdag die volgende môre is die manne toe met hulle donkies daar weg. 4Hulle was nog nie ver uit die stad uit nie, toe sê Josef vir sy hoofamptenaar: “Kom, sit die manne agterna. En as jy hulle ingehaal het, moet jy vir hulle vra: Waarom beantwoord julle die goeie met die slegte? 5Dit is die beker waaruit Meneer drink en waarmee hy voorspellings doen. Dis 'n lelike ding wat julle gedoen het.”

6Toe die hoofamptenaar hulle ingehaal het, het hy dit alles vir hulle gesê, 7maar hulle het vir hom gesê: “Waarom sê u so? Nie een van ons sal so iets aanvang nie. 8Die geld wat ons die vorige keer in ons graansakke ontdek het, het ons uit Kanaän uit vir u teruggebring. Waarom sou ons dan goud of silwer uit die huis van u hoof steel? 9Die een by wie iets van u hoof gekry word, kan doodgemaak word, en ons sal dan u slawe word.”

10Die hoofamptenaar het geantwoord: “Goed en reg! Dit sal wees soos julle sê, maar net die een by wie die beker gekry word, sal my slaaf word. Julle ander sal onskuldig wees.”

11Toe het elkeen gou sy sak op die grond neergesit en dit oopgemaak. 12Die hoofamptenaar het dit deurgesoek: hy het by die oudste s'n begin en by die jongste s'n laaste uitgekom en die beker in Benjamin se sak gekry. 13Toe skeur hulle hulle klere. Elkeen het weer sy donkie gelaai en hulle het omgedraai stad toe. 14Juda en sy broers het by Josef se huis aangekom. Hy was nog daar, en toe val hulle op die grond voor hom neer. 15Josef het vir hulle gesê: “Waarom het julle dit aangevang? Julle weet tog dat 'n man soos ek voorspellings moet doen!”

16Juda het geantwoord: “Wat kan ons vir Meneer sê? Wat kan ons antwoord en hoe kan ons onsself verontskuldig? God het ons sonde aan die lig gebring. Hier is ons, ons is Meneer se slawe: ons almal, saam met hom by wie die beker gekry is.”

17Toe sê Josef: “Dit laat ek nie toe nie. Dié een by wie die beker gekry is, sal my slaaf word, en julle kan ongehinderd na julle pa toe gaan.”

18Maar Juda het nader gekom na Josef toe en gesê: “Asseblief tog, Meneer! Laat ek tog net nog een keer iets sê. Moet tog nie vir my kwaad word nie! U is soos die farao self. 19Meneer het ons gevra of ons pa nog leef en of ons nog 'n broer het, 20en ons het vir Meneer gesê: ‘Ja, ons pa is oud. En op sy oudag het hy nog 'n jong seun wie se broer dood is. Die seun is die enigste wat van sy ma oorgebly het, en sy pa het hom lief.’ 21Maar u het gesê ons moet hom na u toe bring sodat u hom kan sien. 22Toe het ons vir Meneer gesê: ‘Die kind kan nie van sy pa af weggaan nie, en as hy sou weggaan, sou dit sy pa se dood beteken.’ 23Maar u het vir ons gesê u wil ons nie weer sien as ons jongste broer nie hierheen kom nie. 24En toe ons weer terug was by u onderdaan, ons pa, het ons hom vertel wat Meneer gesê het. 25Toe ons pa ons later weer vra om vir ons 'n bietjie kos te gaan koop, 26het ons vir hom gesê: ‘Ons kan nie gaan as ons jongste broer nie by ons is nie. Net as hy saamgaan, kan ons gaan, want as ons jongste broer nie by ons is nie, sal die man ons nie weer daar ontvang nie.’ 27Toe het u onderdaan, ons pa, vir ons gesê: ‘Julle weet my lieflingvrou het net twee seuns vir my in die wêreld gebring. 28Die een is van my af weg en ek moes aanvaar dat 'n roofdier hom opgevreet het, en ek het hom tot nou toe nog nie weer gesien nie. 29As julle nou ook nog hierdie jongste van my af wegvat en hy kom iets oor, sal julle my in my ouderdom laat sterf van verdriet.’ 30Wanneer ons dus by ons pa terugkom en die seun aan wie hy so geheg is, is nie by ons nie, 31ja, as hy moet sien die seun is nie daar nie, sal hy sterf. So sal ons ons pa wat 'n ou man is, van kommer laat sterf.”

32Juda het verder gesê: “Ek het vir my pa gewaarborg dat die seun sal terugkom. Ek het belowe ek sal vir altyd by my pa in die skuld wees as ek die seun nie terugbring nie. 33Hou my daarom dan nou hier as Meneer se slaaf in die plek van die seun, maar laat hý saam met sy broers teruggaan. 34Hoe kan ek sonder die seun by my pa aankom? Ek sal dit nie kan verdra om te sien dat so 'n smart hom tref nie.”

GENESIS 45

Josef sê vir sy broers wie hy is

1Josef kon homself nie langer bedwing voor die mense wat hom bedien het nie. Hy het hulle almal beveel om van hom af weg te gaan, en daar was van dié wat hom gedien het, nie een by hom toe hy hom aan sy broers bekend gemaak het nie. 2Hy het so hard gehuil dat die Egiptenaars en die mense in die farao se paleis dit gehoor het. 3Toe sê Josef vir sy broers: “Ek is Josef. Leef Pa werklik nog?”

Sy broers kon hom nie antwoord nie, hulle was te bang vir hom. 4Maar hy het vir hulle gesê: “Kom na my toe!” en toe hulle nader kom, sê hy: “Ek is julle broer Josef. Julle het my verkoop, en ek is Egipte toe gebring. 5Maar julle moet nou nie sleg voel of bang wees omdat julle my verkoop het nie, want God het my voor julle uit gestuur om lewens te red. 6Dit is nou maar die tweede jaar van hongersnood in die land. Daar lê nog vyf jaar voor waarin daar nie geploeg of geoes sal word nie. 7God het my voor julle uit gestuur om vir julle 'n oorblyfsel in hierdie land te laat oorbly, om julle aan die lewe te hou en sodat baie aan die dood sal ontkom. 8Dis nie júlle wat my hierheen gestuur het nie, maar God. Hy het my laat aanstel as die farao se raadgewer en as bevelhebber oor sy huis en as regeerder oor die hele Egipte. 9Gaan dadelik na Pa toe en sê vir hom: ‘So sê Pa se seun Josef: God het my aangestel as regeerder oor die hele Egipte. Kom na my toe. Moenie talm nie, 10kom bly in die Gosenstreek. Dan is Pa naby my: Pa en Pa se seuns en kleinseuns, die kleinvee en grootvee en alles wat Pa besit. 11Ek sal vir Pa daar onderhou, want daar lê nog vyf jaar hongersnood voor. So sal Pa nie verarm nie: Pa en Pa se familie en almal by Pa.’ 12Julle sien self, en my broer Benjamin sien dit ook: dis ek wat met julle praat. 13Julle moet vir Pa vertel van al my mag hier in Egipte en van alles wat julle gesien het. Maak gou en bring vir Pa hierheen.”

14Toe omhels Josef sy broer Benjamin en hy huil; ook Benjamin het op sy broer se skouer gestaan en huil. 15Josef het al sy broers gesoen en daar by hulle gestaan en huil. Eers daarna het sy broers met hom begin praat. 16Die mense het dit in die farao se paleis gehoor en gesê: “Josef se broers het gekom.”

Die farao en sy amptenare het dit goedgevind, 17en hy het vir Josef gesê: “Sê vir jou broers: So moet julle nou optree: saal julle rydiere op en gaan na Kanaän toe. 18Kry julle vader en julle gesinne en kom hier na my toe. Ek sal julle die beste deel van Egipte gee en julle sal die room van die land geniet. 19Jy moet hulle beveel: So moet julle optree: vat vir julle uit Egipte waens saam vir julle kinders en vrouens en laat julle vader op 'n wa ry en kom hierheen. 20Moenie sleg voel oor wat julle nie kan saambring nie, want julle sal hier die beste kry van wat Egipte het.”

21Die seuns van Israel het toe so gemaak. Josef het waens vir hulle saamgegee soos die farao beveel het. Josef het ook vir hulle padkos saamgegee. 22Hy het vir elkeen nuwe klere gegee, maar vir Benjamin het hy vyf stelle nuwe klere en nog drie en 'n half kilogram silwer gegee. 23Vir sy pa het hy tien donkies gestuur waarop die beste ware van Egipte gelaai was en tien donkiemerries waarop die beste koring en graan en kos gelaai was. Dit moes dien as padkos vir sy pa. 24So het Josef sy broers teruggestuur, en by hulle vertrek het hy vir hulle gesê: “Moenie langs die pad bang word en begin twyfel nie.”

25Hulle is toe uit Egipte weg en het in Kanaän by hulle pa Jakob aangekom. 26Hulle het vir hom gesê: “Josef leef nog. Hy regeer oor die hele Egipte.”

Jakob was stomgeslaan. Hy het hulle nie geglo nie. 27Toe vertel hulle vir hulle pa alles wat Josef vir hulle gesê het, en eers toe hy die waens sien wat Josef gestuur het om hom te kom haal, het hy begin belang stel. 28En hulle pa Israel het gesê: “Ek verlang niks meer nie. My seun Josef leef, en ek wil hom net sien voor ek sterf.”

GENESIS 46

Jakob trek Egipte toe

1Israel en almal by hom het vertrek. Hy het by Berseba gekom en daar 'n offer gebring aan die God van sy pa Isak. 2God het dié nag met Israel gepraat in 'n visioen en geroep: “Jakob, Jakob!”

Hy het geantwoord: “Hier is ek!”

3Toe sê God: “Ek is God, die God van jou vader. Moenie bang wees om na Egipte toe te gaan nie, want Ek sal jou daar 'n groot nasie maak. 4Ek gaan saam met jou Egipte toe, en Ek sal jou beslis weer hierheen laat terugkom. Wanneer jy sterf, sal Josef jou oë toedruk.”

5Toe Jakob uit Berseba wou vertrek, het die seuns van Israel hulle pa Jakob en hulle kinders en vrouens op die waens laat klim wat deur die farao gestuur is om op te ry. 6Hulle het hulle vee saamgevat en ook die ander besittings wat hulle in Kanaän bymekaargemaak het. So is Jakob en sy hele nageslag weg Egipte toe: 7sy seuns en kleinseuns was by hom, ook sy dogters en kleindogters. Hy het sy hele familie saamgevat Egipte toe.

8Hier volg die name van die Israeliete wat Egipte toe is:

Jakob en sy oudste seun Ruben 9en dié se seuns Ganok, Pallu, Gesron en Karmi.

10Simeon en sy seuns Jemuel, Jamin, Ohad, Jakin, Sogar en Saul, seun van 'n Kanaänitiese vrou.

11Levi en sy seuns Gerson, Kehat en Merari.

12Juda en sy seuns Sela, Peres en Serag. Juda se ander seuns, Er en Onan, het al in Kanaän gesterf. Peres se seuns was Gesron en Gamul.

13Issaskar en sy seuns Tola, Puwwa, Jasub en Simron.

14Sebulon en sy seuns Sered, Elon en Jagleël.

15Dit is die seuns wat Lea vir Jakob in Paddan-Aram in die wêreld gebring het. Sy het ook 'n dogter Dina gehad. Hulle almal saam was drie en dertig.

16Gad en sy seuns Sifjon, Gaggi, Suni, Esbon, Eri, Arod en Areli.

17Aser en sy seuns Jimna, Jiswa, Jiswi en Beria en hulle suster Serag. Die seuns van Beria was Geber en Malkiël.

18Dit is die seuns wat Silpa vir Jakob in die wêreld gebring het. Laban het haar vir sy dogter Lea gegee. Hulle almal saam was sestien.

19Josef en Benjamin was die seuns van Jakob se vrou Ragel. 20In Egipte is daar twee seuns vir Josef gebore. Asenat, dogter van Poti-Fera priester van On, het hulle vir hom in die wêreld gebring. Hulle was Manasse en Efraim.

21Benjamin se seuns was Bela, Beker, Asbel, Gera, Naäman, Egi, Ros, Muppim, Guppim en Ard.

22Dit is die seuns wat Ragel vir Jakob in die wêreld gebring het. Hulle almal saam was veertien.

23Dan en sy seun Sugam.

24Naftali en sy seuns Jagseël, Guni, Jeser en Sillem.

25Dit is die seuns wat Bilha vir Jakob in die wêreld gebring het. Laban het haar vir sy dogter Ragel gegee. Hulle almal saam was sewe.

26Afgesien van die vrouens van Jakob se seuns was daar ses en sestig afstammelinge van Jakob wat na Egipte toe is. 27In Egipte was daar reeds twee seuns vir Josef gebore. Jakob se afstammelinge was dus altesaam sewentig, en hulle was in Egipte.

Jakob en Josef ontmoet mekaar

28Jakob het vir Juda vooruit gestuur na Josef toe om hom te laat weet dat hy op pad is na Gosen toe. Nadat Jakob-hulle in Gosen aangekom het, 29het Josef sy wa laat inspan om sy pa Israel in Gosen te gaan ontmoet. Toe Josef hom sien, het hy hom omhels en lank so gestaan en huil. 30Toe sê Israel vir Josef: “Nou kan ek maar sterf. Ek het jou gesien. Jy lewe nog!”

31Josef het vir sy broers en vir sy hele familie gesê: “Ek wil vir die farao gaan sê my broers en my familie het uit Kanaän hier aangekom. 32Die manne is kleinveeboere, mense met vee, en hulle het hulle kleinvee en grootvee en alles wat hulle besit, saamgebring. 33As die farao julle nou laat roep en vir julle vra wat is julle nering, 34moet julle vir hom sê: ‘Van kleins af tot nou toe was ons veeboere, ons en ons voorvaders.’ Dan sal hy julle in Gosen laat woon, want die Egiptenaars het 'n afkeer van kleinveeboere.”

GENESIS 47

Jakob ontmoet die farao

1Josef is toe daar weg en hy het die farao gaan inlig. Josef het vir hom gesê: “My vader en my broers het met hulle kleinvee en grootvee en alles wat hulle besit, hier aangekom uit Kanaän. Hulle is nou in die Gosenstreek.”

2Josef het vyf van sy broers saamgevat en hulle aan die farao voorgestel, 3en hy het hulle gevra: “Wat is julle nering?” Hulle het hom geantwoord: “Ons is kleinveeboere, ons en ons voorvaders.”

4Verder het hulle vir die farao gesê: “Ons wil graag as vreemdelinge hier kom woon, want ons het nie meer weiding vir ons vee nie. Daar is 'n groot droogte in Kanaän. Laat ons toe om in Gosen te kom woon.”

5Toe sê die farao vir Josef: “Jou vader en jou broers het nou na jou toe gekom. 6Egipte is tot hulle beskikking. Jy moet hulle in die beste deel van die land laat woon; hulle kan in die Gosenstreek aanbly. En as jy weet van knap manne onder hulle, moet jy dié in bevel plaas van my vee.”

7Josef het ook sy pa Jakob gebring en hom aan die farao voorgestel. Toe Jakob hom gegroet het, 8vra hy vir Jakob: “Hoe oud is u?”

9Jakob het vir hom gesê: “Ek is nou al honderd en dertig jaar 'n vreemdeling hier op aarde. In vergelyking met dié van my voorvaders is dit maar min, en my lewensjare was vol swaarkry.”

10Toe groet Jakob die farao en vertrek.

11Josef het sy pa en broers in Rameses laat woon. Hy het vir hulle in die beste deel van Egipte eiendom gegee soos die farao hom beveel het. 12Hy het sy pa en broers, sy hele familie met kinders en al, van kos voorsien.

Josef se reëlings tydens die hongersnood

13Daar was nêrens meer kos in die land nie, want die hongersnood was swaar. Al die mense van Egipte en Kanaän het daaronder gely. 14Josef het ál die geld van die land in die hande gekry toe die mense van Egipte en Kanaän daarmee kom graan koop het. Hy het die geld na die farao se paleis toe gevat.

15Maar toe die geld in Egipte en in Kanaän opraak, het al die Egiptenaars vir Josef kom sê: “U moet vir ons kos laat kry. Waarom moet ons hier voor u doodgaan net omdat ons nie geld het nie?”

16Josef het vir hulle gesê: “As julle geld op is, moet julle maar julle vee bring, dan gee ek vir julle kos in ruil daarvoor.”

17Toe bring hulle hulle vee vir Josef, en hy gee vir hulle kos in ruil vir perde en kleinvee en beeste en donkies. Daardie jaar het hy hulle van kos voorsien in ruil vir al hulle vee. 18Aan die einde van daardie jaar, en die volgende jaar, het die mense weer by Josef gekom en vir hom gesê: “Ons kan dit nie vir Meneer wegsteek nie: ons geld is op en u besit reeds al ons vee. Ons het niks meer oor om vir u te bring nie, net onsself en ons grond. 19Waarom moet ons voor u oë doodgaan? Hier is ons, en daar is ons grond. Koop ons en koop ons grond in ruil vir kos. Ons sal die farao se slawe word en ons grond sal syne wees. Gee vir ons saad dat ons aan die lewe kan bly. En as ons nie sterf nie, sal ons grond nie onbewerk bly lê nie.”

20So het Josef al die grond vir die farao opgekoop. Al die Egiptenaars het hulle lande verkoop, want die hongersnood het hulle swaar gedruk. Die land het aan die farao behoort, 21en die volk het van die een uithoek van Egipte tot by die ander uithoek na die stede toe gekom, na Josef toe. 22Hy het net nie die priesters se grond gekoop nie, want hulle het 'n vaste inkomste van die farao gekry en hiervan het hulle geleef. Daarom het hulle nie hulle grond verkoop nie.

23Toe sê Josef vir die volk: “Ek het julle en julle grond nou vir die farao gekoop. Hier is vir julle saad. As julle dit nou op die lande saai, 24moet julle 'n vyfde van die opbrengs vir die farao afgee en vier vyfdes is julle s'n. Gebruik dit as saad vir die lande en as kos vir julle en vir wie in julle huise is en vir julle kinders.”

25Hulle het vir Josef gesê: “U het ons lewe gered. Meneer is ons goedgesind. Ons sal die farao se slawe wees.”

26Josef het hierdie reëling tot vandag toe 'n vaste instelling in Egipte gemaak: 'n vyfde van die opbrengs kom die farao toe. Net die priesters se grond is uitgesonder. Dit behoort nie aan die farao nie.

Jakob seën Josef se twee seuns

27Israel en sy seuns het in Egipte gebly, in die Gosenstreek. Hulle het dit as hulle eiendom ontvang en hulle was vrugbaar en hulle het baie geword. 28Jakob het sewentien jaar in Egipte gebly. Hy was dus toe honderd sewe en veertig jaar oud. 29Toe sy einde nader kom, het hy sy seun Josef geroep en vir hom gesê: “Bewys my nog 'n laaste guns. Sit jou hand onder my heup en beloof dat jy my met liefde en eerbied sal behandel en my nie in Egipte sal begrawe nie. 30Wanneer ek sterf, moet jy my uit Egipte wegvat en in die graf van my voorvaders gaan begrawe.”

Toe antwoord Josef: “Ek sal doen wat Pa vra.”

31En Jakob het vir hom gesê: “Bevestig jou belofte met 'n eed.”

Toe lê Josef vir hom 'n eed af, en Israel het daar op sy bed gebuig voor God.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS