Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 11

Genesis 37–41, Johannes 20–21

Bybelteks(te)

Josef en sy drome

1Jakob het in Kanaän gebly, die land waar sy voorvaders ook as vreemdelinge gebly het. 2Hier volg die familiegeskiedenis van Jakob.

Josef was nog jonk, sewentien, toe hy kleinvee opgepas het saam met sy broers, die seuns van Bilha en Silpa, sy pa se vrouens. Josef het slegte stories oor sy broers by hulle pa aangedra.

3Van al sy seuns was Israel die liefste vir Josef, die seun wat in sy ouderdom gebore is, en daarom het hy vir Josef lang klere met moue gemaak. 4Toe sy broers sien dat hulle pa vir Josef liewer het as vir enige van hulle, het hulle 'n afkeer van Josef gekry en het hulle niks goeds oor hom gesê nie.

5Op 'n keer het Josef gedroom en dit vir sy broers vertel. Daarna was hulle afkeer van hom nog groter. 6Hy het vir hulle gesê: “Luister na die droom wat ek gehad het. Ons was op die land besig om gerwe te bind 7en skielik gaan staan my gerf regop en julle gerwe gaan staan daar rondom en hulle buig voor myne.”

8Toe sê sy broers vir hom: “Jy verbeel jou jy sal oor ons koning word. Dink jy dalk jy sal oor ons regeer?”

Oor sy drome en sy praatjies het hulle 'n nog groter afkeer van hom gekry.

9Hy het ook nog 'n ander droom gehad en hy het dit vir sy broers vertel. Hy het gesê: “Ek het weer gedroom. Die son en die maan en elf sterre het voor my kom buig.”

10Toe hy dit vir sy pa en sy broers vertel, het sy pa hom berispe en vir hom gesê: “Wat vir 'n soort droom is dit wat jy gehad het? Verbeel jy jou ek en jou ma en jou broers moet voor jou kom buig?”

11Sy broers was afgunstig op hom, en sy pa het aan die droom bly dink.

Josef word 'n slaaf

12Josef se broers het hulle pa se kleinvee gaan oppas in Sigem. 13Toe sê Israel vir Josef: “Kyk, jou broers pas die kleinvee op in Sigem. Ek wil jou na hulle toe stuur.”

Josef het geantwoord: “Goed, Pa!”

14Toe sê Israel vir hom: “Gaan kyk of alles nog reg is by jou broers en met die kleinvee en kom vertel my alles.”

Israel het hom van die laagte by Hebron af gestuur na Sigem toe. 15Hy het daar in die veld rondgesoek, en toe kom 'n man by hom en dié vra vir hom: “Wat soek jy?”

16Josef antwoord hom: “Ek soek my broers. Kan jy my dalk sê waar hulle die kleinvee oppas?”

17Toe sê die man: “Hulle het van hier af versit. Ek het gehoor hulle sê hulle wil na Dotan toe gaan.”

Josef is toe agter sy broers aan en hy het hulle by Dotan gekry.

18Hulle het hom al van ver af gesien en voor hy by hulle gekom het, het hulle ooreengekom om hom dood te maak. 19Hulle het naamlik vir mekaar gesê: “Kyk, daar kom die ou dromer aan. 20Kom ons maak hom dood en gooi hom in 'n put. Ons kan sê 'n roofdier het hom opgevreet. Dan sal ons sien wat word van sy drome.”

21Ruben het hulle hoor praat en omdat hy vir Josef wou red, het Ruben gesê: “Nee, ons moet hom nie doodmaak nie. 22Moenie moord pleeg nie. Gooi hom liewer in hierdie put hier in die veld. Moenie sy lewe neem nie.” Ruben het dit gesê sodat hy vir Josef kon red en hom na sy pa toe kon terugstuur.

23Josef het skaars by sy broers aangekom of hulle trek sy klere uit, die lang klere met moue wat hy aangehad het, 24en vat hom en gooi hom in die put. Dit was 'n droë put, sonder water. 25Daarna het hulle gaan sit en eet, en toe hulle weer sien, kom daar 'n klomp Ismaelitiese handelaars uit Gilead aan. Hulle was op pad na Egipte toe en op hulle kamele was daar gom, balsem en hars gelaai.

26Toe sê Juda vir sy broers: “Watter nut het dit vir ons om ons broer dood te maak en dit dig te hou? 27Kom ons verkoop hom aan die Ismaeliete. Ons moenie sy lewe neem nie, hy is ons broer, hy is bloedfamilie.”

Juda se broers het na hom geluister, 28en toe daar van die Midianitiese handelaars verbykom, het die broers vir Josef uit die put uit opgetrek en vir twintig stukke silwer aan die Ismaeliete verkoop en dié het hom Egipte toe gevat.

29Toe Ruben terugkom by die put, was Josef nie daar nie. Ruben het sy klere geskeur 30en teruggegaan na sy broers toe en vir hulle gesê: “Die kind is weg! Wat moet ek nou doen?”

31Maar sy broers het 'n boklam geslag en die klere van Josef gevat en in die bloed gedoop. 32Toe stuur hulle Josef se klere met 'n boodskap vir hulle pa: “Ons het dít opgetel. Kyk of dit dalk u seun se klere is.”

33Israel het dit herken en gesê: “Dit is my seun se klere. 'n Roofdier het hom opgevreet. Josef is opgevreet!”

34Jakob het sy klere geskeur en rouklere aangetrek. Hy het lank oor sy seun getreur. 35Al sy kinders het vir Jakob probeer troos, maar hy wou hom nie laat troos nie. Hy het gesê: “Ek sal bly treur oor my seun tot ek by hom in die dood is.”

So het Josef se pa bly treur oor hom.

36Die Midianiete het vir Josef in Egipte verkoop aan Potifar. Hy was aan die farao se paleis verbonde as hoof van die lyfwag.

Juda en Tamar

1Destyds het Juda weggetrek van sy broers af, in die rigting van Adullam waar hy by 'n man met die naam Gira uitgekom het. 2Daar het Juda vir Bat-Sua, 'n Kanaänitiese meisie, raakgeloop en met haar getrou. Hy het met haar gemeenskap gehad, 3en sy het swanger geword en 'n seun in die wêreld gebring. Juda het hom Er genoem. 4Sy het weer swanger geword en nog 'n seun in die wêreld gebring en hom Onan genoem. 5Toe Juda in Kesib was, het sy weer 'n seun in die wêreld gebring en hom Sela genoem.

6Juda het sy oudste seun Er laat trou met Tamar. 7Maar Er, Juda se oudste, was in die oë van die Here 'n slegte man, en die Here het hom laat sterf.

8Toe sê Juda vir Onan: “Gaan na jou broer se weduwee toe, jou skoonsuster, en trou met haar, en sorg dat daar kinders gebore word vir jou broer.”

9Onan het geweet dat die kinders wat gebore sou word, nie as syne beskou sou word nie, en daarom het hy elke keer as hy met die weduwee van sy broer gemeenskap gehad het, gesorg dat sy saad op die grond kom. Hy wou nie dat daar kinders vir sy broer gebore word nie. 10Maar wat Onan gedoen het, was verkeerd in die oë van die Here, en Hy het ook vir hom laat sterf.

11Toe sê Juda vir sy skoondogter Tamar: “Gaan terug na jou pa se huis toe en bly daar 'n weduwee totdat my seun Sela groot is.” Maar Juda het eintlik gedink: netnou sterf hý ook soos sy broers.

Tamar is toe weg en sy het in haar pa se huis gebly.

12'n Lang ruk hierná het Juda se vrou Bat-Sua gesterf. Nadat hy oor haar gerou het, is hy na Timna toe om sy kleinvee te laat skeer. Sy vriend Gira van Adullam is saam. 13Daar is aan Tamar vertel dat haar skoonpa na Timna toe gaan om sy kleinvee te laat skeer. 14Ondertussen het sy gemerk dat Sela al groot is, maar dat sy nog nie vir hom as vrou gegee is nie. Sy het toe haar rouklere tuis gelaat, haar gesig met 'n sluier toegemaak, haar vermom en by die poort van Enajim langs die Timnapad gaan sit.

15Juda het haar gesien en gedink sy is 'n prostituut. Haar gesig was mos toegemaak. 16Hy het na haar toe uitgedraai en vir haar gesê: “Kom! Ek wil met jou gemeenskap hê!”

Hy het nie besef dat dit sy skoondogter is nie.

Toe vra sy vir hom: “Wat sal jy my daarvoor betaal?”

17Hy het geantwoord: “Ek sal vir jou 'n boklam uit my kudde stuur,” maar sy sê: “Dan moet jy my solank 'n pand gee.”

18Toe vra hy: “Wat se pand kan ek jou gee?”

Sy het geantwoord: “Jou seëlring met die ketting en jou kierie.”

Hy het dit vir haar gegee en met haar gemeenskap gehad en sy het swanger geword.

19Sy is toe terug huis toe waar sy haar sluier afgehaal en weer haar rouklere aangetrek het. 20Juda het sy vriend, Gira van Adullam, gestuur met die boklam om die pand by haar te gaan haal, maar hy kon haar nie opspoor nie. 21Hy het navraag gedoen by die mense van die plek waar sy gesit het. Hy het gevra: “Waar is daardie tempelprostituut wat by Enajim langs die pad was?”

Hulle het hom geantwoord: “Hier by ons is nie 'n tempelprostituut nie.”

22Hy is toe terug en het vir Juda gesê: “Ek kon haar nie kry nie. En die mense van daardie plek sê self ook daar is nie 'n tempelprostituut by hulle nie.”

23Toe sê Juda: “Laat sy die goed hou. Netnou maak ek nog 'n gek van my. Ek sou die boklam stuur, maar jy kon die vrou nie kry nie.”

24Drie maande later is aan Juda vertel: “Jou skoondogter Tamar het haar soos 'n prostituut gedra en is swanger.”

Toe sê hy: “Bring haar uit dat sy kan verbrand word.”

25Maar toe hulle haar wou gaan haal, stuur sy 'n boodskap na haar skoonpa toe: “Die man aan wie hierdie goed behoort – ek het by hom swanger geword. Stel vas aan wie hierdie seëlring met die ketting en die kierie behoort.”

26Juda het dit herken en gesê: “Sy is onskuldig, ek nie! Ek moes my seun Sela aan haar as man gegee het.”

Juda het nooit weer met haar gemeenskap gehad nie.

27Toe die tyd van haar bevalling aanbreek, het dit geblyk dat sy 'n tweeling verwag. 28Toe die geboorte begin, het een van die twee sy hand uitgesteek en die vroedvrou het dit gegryp en 'n stukkie rooi garing daarom gebind. Sy het gesê: “Hierdie een is eerste.”

29Maar toe trek hy sy hand terug en sy broertjie kom. Toe sê sy: “Jy het met krag vorentoe gekom.”

Hy is toe Peres genoem.

30Daarna het die broertjie gekom om wie se hand die rooi garing was, en hy is Serag genoem.

Josef in Potifar se huis

1Josef is na Egipte toe gebring. Potifar, 'n amptenaar van die farao en hoof van die lyfwag, 'n Egiptenaar van geboorte, het vir Josef by die Ismaeliete gekoop wat hom Egipte toe gevat het. 2Die Here was by Josef en dit het baie goed gegaan met hom. Hy het in die huis van sy eienaar, die Egiptenaar, gebly. 3Toe Potifar, Josef se eienaar, sien dat die Here by Josef is en dat die Here alles wat Josef aanpak, laat slaag, 4was Potifar hom goedgesind. Hy het Potifar se persoonlike slaaf geword en Potifar het hom aangestel oor sy hele huishouding, en al sy besittings is onder Josef se sorg geplaas. 5Van toe af het die Here die huis van die Egiptenaar geseën. Dit was oor Josef dat die Here dit gedoen het. Die seën van die Here het gerus op al Potifar se besittings, dié in sy huis en dié in die veld. 6Hy het alles aan Josef oorgelaat en hom aan niks gesteur nie, behalwe aan sy kos.

Josef was fris gebou en mooi. 7Na sy bevordering in sy eienaar se huis het dié se vrou na Josef gekyk en vir hom gesê: “Kom slaap by my.”

8Maar hy wou nie en hy het vir sy eienaar se vrou gesê: “Meneer steur hom aan niks vandat ek hier is nie. Wat hy besit, het hy onder my sorg geplaas. 9Daar is niemand wat in hierdie huis meer gesag het as ek nie. Meneer het niks van my teruggehou nie, behalwe vir u, want u is sy vrou. Hoe kan ek so 'n verkeerde ding doen? Ek sal mos teen God sondig!”

10Sy het dag vir dag by Josef aangehou, maar hy het bly weier om by haar te gaan slaap. 11Op 'n dag toe Josef in die huis ingaan om sy werk te doen, was daar niemand van die ander slawe in die huis nie. 12Toe gryp Potifar se vrou hom aan sy klere en sê: “Kom lê by my.” Maar Josef het buitentoe gevlug, terwyl sy 'n stuk van sy klere in haar hand bly hou. 13Toe sy sien dat hy buitentoe gevlug het terwyl sy 'n stuk van sy klere in haar hand bly hou, 14roep sy die ander slawe van haar huis en sê vir hulle: “Kyk, Meneer het hierdie Hebreër na ons toe gebring om ons te kom verneder. Hy wou by my kom slaap, maar toe ek hard begin skree 15en hy hoor hoe hard ek aanhou roep, het hy buitentoe gevlug en hierdie stuk klere by my gelos.”

16Sy het die stuk klere by haar gehou tot Josef se eienaar huis toe gekom het. 17Sy het alles vir hom vertel en vir hom gesê: “Die Hebreeuse slaaf wat jy hier by ons ingebring het, het by my kom aanlê, 18maar toe ek hard aanhou roep, het hy buitentoe gevlug en hierdie stuk klere by my gelos.”

19Toe Josef se eienaar by sy vrou hoor wat sy slaaf alles aan haar gedoen het, was hy kwaad, 20en het hy vir Josef gevat en in die tronk gegooi waarin die mense was wat deur die koning gevange gehou is.

Terwyl Josef daar in die tronk was, 21was die Here by hom, en Hy het Josef sy troue liefde laat ondervind, sodat die tronkbewaarder hom goedgesind geword het. 22Hy het vir Josef in beheer geplaas van al die gevangenes in die tronk en van wat hulle moes doen. Josef was vir alles verantwoordelik, 23en die tronkbewaarder het nie meer na iets omgesien nie; alles was in Josef se hande, want die Here was by hom. Wat Josef ook al aangepak het, die Here het dit laat slaag.

Josef lê die skinker en die bakker se drome uit

1'n Ruk nadat Josef in die tronk gesit is, het 'n skinker en 'n bakker van Egipte se koning verkeerd opgetree teenoor hulle koning. 2Die farao het kwaad geword vir sy twee amptenare, die hoof van die skinkers en die hoof van die bakkers. 3Hy het hulle in dieselfde tronk laat sit waarin Josef opgesluit was, in die gebou van die koninklike lyfwag. 4Die hoof van die lyfwag het Josef vir hulle beskikbaar gestel: hy moes hulle bedien.

Toe hulle al lank in die tronk was, 5het die twee een nag gedroom. Die skinker en die bakker van die koning van Egipte het daar waar hulle in die tronk opgesluit was, elkeen sy eie droom gehad met sy eie uitleg. 6Josef het die volgende môre by hulle gekom en opgemerk dat hulle bedruk was. 7Hy het vir die twee wat saam met hom in die tronk was, die amptenare van die farao, gevra: “Waarom lyk julle vandag so bedruk?”

8Hulle het hom geantwoord: “Ons het elkeen 'n droom gehad en ons weet nie wat dit beteken nie.”

Toe sê Josef vir hulle: “God ken julle drome se uitleg. Vertel die drome vir my.”

9Die hoof van die skinkers het sy droom vir Josef vertel. Die skinker het gesê: “In my droom het ek 'n wingerdstok voor my gesien, 10en aan die wingerdstok was daar drie lote. Dit het kwalik gebot of daar was al blomme, en toe is die trosse druiwe ryp. 11Ek het die farao se beker in my hand gehad en ek het die druiwe gepluk en daarin uitgedruk. Toe gee ek die beker vir die farao.”

12Josef het vir die skinker gesê: “Dit is die uitleg: die drie lote is drie dae. 13Oor drie dae sal die farao aan jou aandag gee en jou in jou amp herstel. Jy sal weer vir die farao sy beker aangee soos vroeër toe jy sy skinker was. 14Maar wanneer dit goed gaan met jou, moet jy aan my dink en moet jy my 'n guns bewys. Jy moet my saak vir hom stel en sorg dat ek uit hierdie plek uitkom. 15Ek is uit die land van die Hebreërs gesteel en ook hier het ek niks gedoen waaroor hulle my in hierdie gat kon gooi nie.”

16Toe die hoof van die bakkers die gunstige uitleg hoor wat Josef gegee het, sê hy vir hom: “En nou ek! In my droom was daar drie mandjies met brood op my kop. 17In die boonste mandjie was daar 'n geurige baksel vir die farao. Maar die voëls het dit so uit die mandjie uit op my kop kom opvreet.”

18Josef het vir die bakker gesê: “Dit is die uitleg: die drie mandjies is drie dae. 19Oor drie dae sal die farao aan jou aandag gee, maar vir jóú sal hy aan 'n paal laat ophang en die voëls sal jou vleis van jou afvreet.”

20Drie dae later was dit die farao se verjaarsdag en hy het al sy amptenare op 'n groot ete onthaal. Daar voor sy amptenare het hy aandag gegee aan die saak van die skinker en die bakker. 21Hy het die hoof van die skinkers in sy amp as skinker herstel, en die skinker het weer vir die farao sy beker aangegee, 22maar hy het die hoof van die bakkers laat ophang. Dit alles het gebeur soos Josef vir die twee hulle drome uitgelê het.

23Maar die hoof van die skinkers het nie aan Josef gedink nie, hy het van Josef vergeet.

Josef lê die farao se drome uit

1Twee jaar later het die farao 'n droom gehad. Hy het gedroom hy staan langs die Nyl. 2Uit die rivier kom daar toe sewe mooi vet koeie uit en hulle gaan wei in die vleigras. 3Ná hulle kom daar toe sewe ander koeie uit die rivier uit. Hulle was lelik en maer en het langs die ander koeie op die rivierwal gaan staan. 4Toe vreet die lelike maer koeie die sewe mooi vettes op.

Daarna het die farao wakker geskrik.

5Hy het weer aan die slaap geraak en weer gedroom. Hy het gesien hoe sewe mooi vol are opskiet aan een stingel. 6Ná hulle kom daar toe sewe skraal are uit wat verskroei is deur die oostewind. 7Die skraal are sluk toe die sewe vol vet are in. Daarna het die farao wakker geskrik, en hy het besef hy het gedroom.

8Die môre was die farao onrustig oor die drome. Hy het al die waarsêers van Egipte en ook die raadgewers almal laat roep en vir hulle sy droom vertel. Maar niemand kon dit vir hom uitlê nie.

9Toe sê die hoof van die skinkers vir die farao: “Vandag moet ek u herinner aan die verkeerde ding wat ek vroeër gedoen het. 10U het toe kwaad geword vir u dienaars, vir my en vir die hoof van die bakkers, en u het ons laat opsluit in die tronk in die huis van die hoof van u lyfwag.

11“Daar het ons in een en dieselfde nag 'n droom gehad, elkeen sy eie droom met sy eie uitleg. 12Saam met ons was 'n Hebreeuse jongman, 'n slaaf van die hoof van die lyfwag. Ons het toe ons drome vir hom vertel, en hy het dit vir ons uitgelê. Hy het dit uitgelê volgens elkeen se droom. 13Soos hy dit vir ons uitgelê het, het dit daarna gebeur: vir my het hy in my amp laat herstel en die bakker het hy laat ophang.”

14Toe het die farao vir Josef laat roep en hulle het hom gou uit die tronk gehaal. Nadat hulle hom geskeer en ander klere aangetrek het, is hy na die farao toe.

15Die farao het vir Josef gesê: “Ek het 'n droom gehad, maar daar is niemand wat dit kan uitlê nie. Toe het ek van jou gehoor: jy lê 'n droom uit as jy hom hoor.”

16Josef het vir die farao gesê: “Nie ek nie! God gee dié goeie antwoord vir u.”

17Toe sê die farao vir Josef: “In my droom het ek op die wal van die Nyl gestaan. 18Toe kom daar sewe mooi vet koeie uit die rivier uit en hulle gaan wei in die vleigras. 19Ná hulle kom daar toe sewe ander koeie uit die rivier uit. Hulle was lelik en maer. Ek het nog nooit sulke lelike diere in Egipte gesien nie. 20Toe vreet die lelike maer koeie die eerste sewe, die vettes, op. 21Nadat hulle ingesluk was, kon jy dit nie aan die maeres merk nie: hulle het nog net so sleg gelyk as aan die begin.

“Toe het ek wakker geskrik.

22“Ek het daarna in 'n droom gesien: sewe mooi vol are het opgeskiet aan een stingel. 23Ná hulle kom daar toe sewe droë, skraal are uit wat verskroei is deur die oostewind. 24Die skraal are sluk toe die sewe mooi are in.

“Ek het dit vir die waarsêers vertel, maar niemand kon my iets sê nie.”

25Toe sê Josef vir die farao: “U het maar net een droom gehad. Wat God wil doen, het Hy aan u meegedeel.

26“Die sewe mooi koeie is sewe jaar en die sewe mooi are is sewe jaar. Dit is maar een en dieselfde droom. 27Die sewe maer, lelike koeie wat daarna uit die rivier gekom het, en die sewe skraal are wat deur die oostewind verskroei is, is ook sewe jaar, sewe jaar hongersnood.

28“Dit is wat ek bedoel het toe ek vir u gesê het dat God u laat sien het wat Hy wil doen.

29“Daar sal in die hele Egipte sewe jaar groot oorvloed kom. 30Dan breek daar sewe jaar hongersnood aan. Die mense sal die voorspoed wat daar in die hele Egipte was, vergeet en die hongersnood sal die land op sy knieë bring. 31Die hongersnood sal so straf wees dat 'n mens later niks meer van die oorvloed sal merk nie.

32“Die droom het twee keer na u toe gekom omdat die saak vas staan by God. Hy sal dit binnekort uitvoer.

33“Ek beveel aan dat u 'n verstandige en wyse man kies en hom in beheer plaas van die hele Egipte. 34Die farao moet dít doen: u moet beamptes vir die hele land aanstel en die land tydens die sewe jaar van oorvloed behoorlik organiseer. 35Hulle moet al die graan van die goeie jare wat aan die kom is, insamel en dit in graanskure bêre en bewaak sodat daar kos tot u beskikking is. 36Die graan moet vir die land in reserwe gehou word, dit moet vir die sewe jaar van hongersnood beskikbaar wees in Egipte. Dan sal die hongersnood nie die land uitroei nie.”

37Die farao en al sy amptenare het Josef se raad goedgevind. 38Toe sê die farao vir sy amptenare: “Waar kry ons so iemand, 'n man met die verstand van 'n god?”

39Die farao het daarop vir Josef gesê: “God het jou dit alles bekend gemaak. Daaruit is dit duidelik dat niemand soveel verstand en wysheid as jy het nie. 40Ek stel jou aan oor my paleis.

“My volk moet jou gehoorsaam. Net ek sal meer mag hê as jy.”

41Die farao het verder nog vir Josef gesê: “Kyk, ek stel jou aan oor die hele Egipte.”

42Toe haal die farao sy seëlring af en steek dit aan Josef se vinger. Die farao het vir Josef linneklere laat aantrek en 'n goue ketting om sy nek gehang 43en hom laat ry op die tweede beste wa van die farao. Daar is voor Josef uitgeroep: “Betoon hom eer!”

So is Josef oor die hele Egipte aangestel.

44Toe het die farao vir Josef gesê: “Ek bly die farao, maar sonder jou toestemming mag niemand in Egipte 'n vinger verroer of 'n voet versit nie.”

45-46Die farao het Josef Safenat-Paneag genoem en vir hom Asenat, dogter van Poti-Fera priester van On, as vrou gegee. Josef was dertig jaar oud toe hy in die diens van die farao die koning van Egipte getree het. Josef is van die farao af weg en het die land deurgegaan, die hele Egipte.

47Tydens die sewe jaar van oorvloed het die land 'n buitengewone groot oes gegee, 48en Josef het al die graan wat daar in hierdie jare in Egipte was, bymekaargebring en in graanskure gebêre: in elke stad is die graan uit die lande van daardie omgewing gebêre. 49Josef het so baie koring bymekaargemaak dat dit net soveel was as die sand van die see. Hy het later opgehou om aan te teken hoeveel daar was, want dit was te veel om te tel.

50Reeds voor die jare van hongersnood begin het, is daar vir Josef twee seuns gebore. Sy vrou Asenat, dogter van Poti-Fera priester van On, het hulle vir Josef in die wêreld gebring. 51Hy het die oudste Manasse genoem, “want,” het hy gesê, “God het my alles laat vergeet: al my swaarkry en alles wat my familie my aangedoen het.”

52Josef het sy ander seun Efraim genoem, “want,” het hy gesê, “God het my vrugbaar gemaak in die land waar ek verneder is.”

53Na die sewe jaar voorspoed in Egipte 54het die sewe jaar hongersnood begin. So het Josef dit destyds aangekondig. In al die lande was daar hongersnood, maar in die hele Egipte was daar kos, 55want toe die hongersnood Egipte tref en die mense vir die farao kos vra, het hy vir al die Egiptenaars gesê: “Gaan na Josef toe en doen wat hy sê.”

56Oor die hele wêreld was daar hongersnood, en toe dit straf word in Egipte, het Josef die graanskure oopgesluit en wat daarin was, aan die Egiptenaars begin verkoop. 57En toe die hongersnood straf word in die ander lande, het die mense van die hele wêreld Egipte toe gekom om koring te koop by Josef.

Die leë graf

(Matt. 28:1-8; Mark. 16:1-8; Luk. 24:1-12)

1Die Sondagmôre vroeg, toe dit nog donker was, kom Maria Magdalena by die graf en sien dat die klip van die graf af weggerol is. 2Sy hardloop toe en gaan na Simon Petrus en na die ander dissipel toe vir wie Jesus baie lief was, en sê vir hulle: “Hulle het die Here uit die graf weggevat, en ons weet nie waar hulle Hom nou begrawe het nie.”

3Petrus en die ander dissipel het toe uitgekom en na die graf toe gegaan. 4Die twee het saam begin hardloop, maar die ander dissipel het vinniger as Petrus gehardloop en eerste by die graf gekom. 5Toe hy vooroor buk, sien hy die doeke lê, maar hy het nie ingegaan nie. 6Ná hom het Simon Petrus ook daar aangekom, en hy het in die graf ingegaan. Hy sien toe die doeke daar lê, 7ook die doek wat om Jesus se kop was. Dié doek het nie by die ander doeke gelê nie, maar was eenkant afsonderlik opgerol. 8Daarna het die ander dissipel, wat eerste by die graf gekom het, ook ingegaan, en hy het dit ook gesien en geglo.

9Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie.

10Daarna het die dissipels weer huis toe gegaan.

Jesus verskyn aan Maria Magdalena

(Matt. 28:9-10; Mark. 16:9-11)

11Maar Maria het buite by die graf bly staan en huil. Terwyl sy huil, het sy vooroor gebuk om in die graf in te kyk. 12Toe sien sy twee engele met wit klere aan daar sit waar die liggaam van Jesus gelê het, een waar die kop en een waar die voete was. 13Hulle vra toe vir haar: “Mevrou, waarom huil jy?”

Sy antwoord hulle: “Omdat hulle my Here weggevat het en ek nie weet waar hulle Hom nou begrawe het nie.”

14Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en vir Jesus daar sien staan, maar sy het nie geweet dat dit Hy is nie. 15Jesus vra haar toe: “Mevrou, waarom huil jy? Vir wie soek jy?”

Sy het gedink dit is die tuinopsigter, en sy het vir hom gesê: “Meneer, as u Hom weggevat het, sê vir my waar u Hom begrawe het, en ek sal Hom daar gaan haal.”

16Jesus het vir haar gesê: “Maria!”

Sy draai na Hom toe en sê in Hebreeus vir Hom: “Rabboeni!” Dit beteken leermeester.

17Jesus sê toe vir haar: “Moet My nie vashou nie, want Ek het nog nie na die Vader toe opgevaar nie. Maar gaan na my broers toe en sê vir hulle: ‘Ek vaar op na my Vader toe, wat ook julle Vader is, na my God, wat ook julle God is.’ ”

18Maria Magdalena het toe vir die dissipels gaan sê: “Ek het die Here gesien!” En sy het ook vertel wat Hy vir haar gesê het.

Jesus verskyn aan sy dissipels

(Matt. 28:16-20; Mark. 16:14-18; Luk. 24:36-49)

19Daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar. Alhoewel die deure gesluit was omdat hulle bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!”

20Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy vir hulle. Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien.

21“Vrede vir julle!” sê Hy weer vir hulle. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”

22Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees! 23As julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God vergewe; as julle dit nie vergewe nie, word dit nie deur God vergewe nie.”

24Tomas, wat ook Didimus genoem is, een van die twaalf, was nie by die dissipels toe Jesus gekom het nie. 25Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!”

Maar hy sê vir hulle: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.”

Jesus en Tomas

26Ag dae later was Jesus se dissipels weer bymekaar, en Tomas was by hulle. Hoewel die deure gesluit was, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en gesê: “Vrede vir julle!”

27Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.”

28En Tomas sê vir Hom: “My Here en my God!”

29Toe sê Jesus vir hom: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.”

30Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. 31Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.

Jesus verskyn nog 'n keer aan sy dissipels

1Daarna het Jesus weer aan sy dissipels verskyn, by die See van Tiberias. Dit het só gebeur:

2Simon Petrus en Tomas, wat ook Didimus genoem is, Natanael van Kana in Galilea, die seuns van Sebedeus en nog twee ander dissipels was daar saam. 3Simon Petrus sê toe vir hulle: “Ek gaan visvang.”

“Ons gaan ook saam met jou,” sê hulle vir hom.

Hulle het gegaan en in die skuit geklim, maar daardie nag het hulle niks gevang nie.

4Toe dit al lig was, het Jesus daar op die strand gestaan, maar die dissipels het nie geweet dat dit Hy is nie. 5Jesus vra toe vir hulle: “Mense, het julle nie iets gevang om te eet nie?”

“Nee,” antwoord hulle Hom.

6Hy sê toe vir hulle: “Gooi die net aan die regterkant van die skuit uit, dan sal julle iets kry.”

Hulle het die net toe daar uitgegooi, en vanweë die groot klomp vis kon hulle hom nie weer intrek nie.

7Die dissipel vir wie Jesus baie lief was, sê toe vir Petrus: “Dit is die Here!”

Toe Simon Petrus hoor dat dit die Here is, het hy sy hemp aangetrek – want sy bolyf was kaal – en in die water gespring. 8Hulle was nie ver van die land af nie, net omtrent honderd tree. Die ander dissipels het met die skuitjie gekom en die net met die visse gesleep. 9Toe hulle aan land kom, sien hulle 'n vuur brand en 'n stuk vis daarop lê. Daar was brood ook. 10Jesus sê toe vir hulle: “Bring van die vis wat julle nou net gevang het.”

11Simon Petrus het toe in die skuit geklim en die net op die land getrek. Dit was vol groot visse, honderd drie en vyftig, en alhoewel daar so baie was, het die net nie geskeur nie.

12Toe sê Jesus vir hulle: “Kom eet.”

Nie een van die dissipels het sover gekom om vir Hom te vra: “Wie is U?” nie. Hulle het geweet dat dit die Here is. 13Jesus kom toe, neem die brood en gee dit vir hulle, en net so ook die vis.

14Dit was al die derde keer dat Jesus aan sy dissipels verskyn het nadat Hy uit die dood opgewek is.

Petrus kry opnuut sy opdrag

15Toe hulle klaar geëet het, vra Jesus vir Simon Petrus: “Simon seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle hier?”

“Ja, Here,” antwoord hy Hom, “U weet dat ek U liefhet.”

Hy sê toe vir hom: “Laat my lammers wei.”

16Jesus vra hom weer 'n tweede keer: “Simon seun van Johannes, het jy My baie lief?”

“Ja, Here,” antwoord hy Hom, “U weet dat ek U liefhet.”

Hy sê toe vir hom: “Pas my skape op.”

17Jesus vra hom die derde keer: “Simon seun van Johannes, het jy My lief?”

Petrus het bedroef geword omdat Jesus hom die derde keer gevra het: “Het jy My lief?”, en hy antwoord Hom: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.”

Hy sê toe vir hom: “Laat my skape wei. 18Dit verseker Ek jou: Toe jy jonger was, het jy self jou klere vasgemaak en gegaan waar jy wil; maar wanneer jy oud is, sal jy jou hande uitsteek, en iemand anders sal jou vasmaak en jou bring waar jy nie wil wees nie.”

19Dit het Jesus gesê en daarmee aangedui deur watter soort dood Petrus God sou verheerlik.

Daarna sê Hy vir hom: “Volg My!”

Die dissipel vir wie Jesus baie lief was

20Toe Petrus omdraai, sien hy die dissipel volg vir wie Jesus baie lief was, wat ook by die maaltyd na Jesus se kant toe oorgeleun en gevra het: “Here, wie is u verraaier?” 21Toe Petrus hom dan sien, vra Petrus vir Jesus: “Here, en wat van hom?”

22Jesus antwoord hom: “As Ek wil hê dat hy in die lewe moet bly totdat Ek weer kom, is dit nie jou saak nie. Volg jy My!”

23Die gerug het toe onder die broers versprei dat daardie dissipel nie sal sterwe nie. Jesus het egter nie vir Petrus gesê dat daardie dissipel nie sal sterwe nie, maar: “As Ek wil hê dat hy in die lewe moet bly totdat Ek weer kom, is dit nie jou saak nie.”

24Dit is die dissipel wat oor al hierdie dinge getuienis aflê en dit beskrywe het, en ons weet dat sy getuienis waar is.

25Daar is nog baie ander dinge wat Jesus gedoen het. Maar as dit een vir een beskrywe moet word, dink ek, sou die hele wêreld nie genoeg plek vir die boeke hê nie.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS