GENESIS 45
Josef sê vir sy broers wie hy is
1Josef kon homself nie langer bedwing voor die mense wat hom bedien het nie. Hy het hulle almal beveel om van hom af weg te gaan, en daar was van dié wat hom gedien het, nie een by hom toe hy hom aan sy broers bekend gemaak het nie. 2Hy het so hard gehuil dat die Egiptenaars en die mense in die farao se paleis dit gehoor het. 3Toe sê Josef vir sy broers: “Ek is Josef. Leef Pa werklik nog?”
Sy broers kon hom nie antwoord nie, hulle was te bang vir hom. 4Maar hy het vir hulle gesê: “Kom na my toe!” en toe hulle nader kom, sê hy: “Ek is julle broer Josef. Julle het my verkoop, en ek is Egipte toe gebring. 5Maar julle moet nou nie sleg voel of bang wees omdat julle my verkoop het nie, want God het my voor julle uit gestuur om lewens te red. 6Dit is nou maar die tweede jaar van hongersnood in die land. Daar lê nog vyf jaar voor waarin daar nie geploeg of geoes sal word nie. 7God het my voor julle uit gestuur om vir julle 'n oorblyfsel in hierdie land te laat oorbly, om julle aan die lewe te hou en sodat baie aan die dood sal ontkom. 8Dis nie júlle wat my hierheen gestuur het nie, maar God. Hy het my laat aanstel as die farao se raadgewer en as bevelhebber oor sy huis en as regeerder oor die hele Egipte. 9Gaan dadelik na Pa toe en sê vir hom: ‘So sê Pa se seun Josef: God het my aangestel as regeerder oor die hele Egipte. Kom na my toe. Moenie talm nie, 10kom bly in die Gosenstreek. Dan is Pa naby my: Pa en Pa se seuns en kleinseuns, die kleinvee en grootvee en alles wat Pa besit. 11Ek sal vir Pa daar onderhou, want daar lê nog vyf jaar hongersnood voor. So sal Pa nie verarm nie: Pa en Pa se familie en almal by Pa.’ 12Julle sien self, en my broer Benjamin sien dit ook: dis ek wat met julle praat. 13Julle moet vir Pa vertel van al my mag hier in Egipte en van alles wat julle gesien het. Maak gou en bring vir Pa hierheen.”
14Toe omhels Josef sy broer Benjamin en hy huil; ook Benjamin het op sy broer se skouer gestaan en huil. 15Josef het al sy broers gesoen en daar by hulle gestaan en huil. Eers daarna het sy broers met hom begin praat. 16Die mense het dit in die farao se paleis gehoor en gesê: “Josef se broers het gekom.”
Die farao en sy amptenare het dit goedgevind, 17en hy het vir Josef gesê: “Sê vir jou broers: So moet julle nou optree: saal julle rydiere op en gaan na Kanaän toe. 18Kry julle vader en julle gesinne en kom hier na my toe. Ek sal julle die beste deel van Egipte gee en julle sal die room van die land geniet. 19Jy moet hulle beveel: So moet julle optree: vat vir julle uit Egipte waens saam vir julle kinders en vrouens en laat julle vader op 'n wa ry en kom hierheen. 20Moenie sleg voel oor wat julle nie kan saambring nie, want julle sal hier die beste kry van wat Egipte het.”
21Die seuns van Israel het toe so gemaak. Josef het waens vir hulle saamgegee soos die farao beveel het. Josef het ook vir hulle padkos saamgegee. 22Hy het vir elkeen nuwe klere gegee, maar vir Benjamin het hy vyf stelle nuwe klere en nog drie en 'n half kilogram silwer gegee. 23Vir sy pa het hy tien donkies gestuur waarop die beste ware van Egipte gelaai was en tien donkiemerries waarop die beste koring en graan en kos gelaai was. Dit moes dien as padkos vir sy pa. 24So het Josef sy broers teruggestuur, en by hulle vertrek het hy vir hulle gesê: “Moenie langs die pad bang word en begin twyfel nie.”
25Hulle is toe uit Egipte weg en het in Kanaän by hulle pa Jakob aangekom. 26Hulle het vir hom gesê: “Josef leef nog. Hy regeer oor die hele Egipte.”
Jakob was stomgeslaan. Hy het hulle nie geglo nie. 27Toe vertel hulle vir hulle pa alles wat Josef vir hulle gesê het, en eers toe hy die waens sien wat Josef gestuur het om hom te kom haal, het hy begin belang stel. 28En hulle pa Israel het gesê: “Ek verlang niks meer nie. My seun Josef leef, en ek wil hom net sien voor ek sterf.”
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1983, 1992. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.