Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 116

1 KONINGS 20–22, SPREUKE 4–5

Bybelteks(te)

1 KONINGS 20

Agab verslaan die Arameërs

1Koning Ben-Hadad van Aram het sy hele leër laat bymekaarkom. Daar was twee en dertig konings by hom met ruitery en strydwaens. Hy het opgetrek teen Samaria en dit beleër. Tydens die beleg 2het hy boodskappers die stad in gestuur na koning Agab van Israel toe 3en vir hom laat weet: “So sê Ben-Hadad: Jou silwer en goud is myne. Jou mooiste vrouens en kinders is myne.”

4Die koning van Israel het geantwoord: “Dit is soos U Majesteit sê: Ek en alles wat myne is, behoort aan u.”

5Die boodskappers het toe weer na Agab toe gekom en gesê: “So sê Ben-Hadad: Ek het jou die boodskap gestuur dat jy jou silwer en goud, jou vrouens en kinders vir my moet gee. 6Nou ja, ek stuur môre my amptenare na jou toe. Hulle sal jou paleis en die huise van jou onderdane deursoek, en hulle sal beslag lê op alles wat hulle oë begeer en dit vir hulle vat.”

7Die koning van Israel roep toe al die leiers van die land bymekaar, en sê: “Kyk nou net! Hierdie man soek moeilikheid. Toe hy my vrouens en kinders en my silwer en goud geëis het, het ek nie geweier nie.”

8Al die leiers en die hele volk het gesê: “U moet nie nou gehoor gee nie. U mag nie inwillig nie!”

9Toe sê Agab vir Ben-Hadad se boodskappers: “Sê vir sy majesteit die koning: Alles wat u die eerste keer geëis het, sal ek gee, maar aan hierdie nuwe eis kan ek nie toegee nie.”

Die boodskappers het die antwoord vir Ben-Hadad gebring, 10en hy het terug laat weet: “Mag my gode my om die lewe bring as ek nie soveel manskappe met my saambring dat die stof van Samaria nie genoeg sal wees om hulle hande mee te vul nie.”

11Daarop het die koning van Israel opgemerk: “Die spreekwoord lui: Hy wat hom klaarmaak om te veg, moenie roem soos een wat klaar die oorwinning behaal het nie.”

12Toe Ben-Hadad dít hoor, was hy besig om saam met die ander konings in die tente te drink en hy sê vir sy offisiere: “Val aan!” en hulle het klaargemaak vir die aanval op die stad.

13'n Profeet het egter by koning Agab van Israel gekom en gesê: “So sê die Here: Sien jy daardie groot menigte? Ek gee hulle vandag in jou mag oor. Dan sal jy besef dat Ek die Here is.”

14Agab vra toe: “Deur wie gaan die Here dit doen?” en die profeet sê: “So sê die Here: Deur die jong soldate van die distrikshoofde.”

Agab vra toe: “Wie moet die geveg aanknoop?” en die profeet antwoord: “U.”

15Toe ontplooi Agab die distrikshoofde se jong soldate, twee honderd twee en dertig. Agter hulle het hy die leër, al die Israeliete, ontplooi, sewe duisend man. 16Dit was middag toe hulle uit die stad uitgaan, en Ben-Hadad was aan die drink in die tent, hy en die twee en dertig konings wat hom kom help het. 17Die jong soldate van die distrikshoofde het aan die voorpunt opgeruk, en daar is vir Ben-Hadad gesê: “Daar kom manskappe uit Samaria uit.”

18Hy sê toe: “Of hulle vrede soek of oorlog, vang hulle lewendig!”

19Intussen het die jong soldate van die distrikshoofde uit die stad getrek, en die leër agter hulle aan. 20Elkeen het sy man verslaan. Die Arameërs het op die vlug geslaan, en die Israeliete het hulle agtervolg.

Koning Ben-Hadad van Aram het te perd saam met 'n aantal ruiters weggekom.

21Die koning van Israel het uit sy stad gekom en die ruitery en die strydwamag verslaan. So het hy vir Aram 'n groot slag toegedien.

22Die profeet het weer by die koning van Israel gekom en vir hom gesê: “Gaan versterk u leër! Vra raad en dink goed na oor wat u doen, want vroeg volgende jaar val die koning van Aram u weer aan.”

Agab verslaan weer die Arameërs en sluit 'n verdrag met hulle

23Die raadgewers van die koning van Aram het intussen vir hom gesê: “Hulle gode is berggode en daarom was hulle sterker as ons. Ons moet hulle in die vlakte pak. Dan sal ons sterker wees as hulle. 24U moet só maak: onthef al die konings van hulle verantwoordelikhede en stel goewerneurs in hulle plek aan. 25Bring vir u self 'n leër op die been, net so sterk soos dié een wat verslaan is, met ruitery soos daardie en 'n strydwamag soos daardie. Dan pak ons hulle in die vlakte, en ons sal sterker wees as hulle.”

Ben-Hadad het na hulle raad geluister en so gemaak.

26Vroeg die volgende jaar het Ben-Hadad die Aramese leër laat bymekaarkom en na Afek toe opgetrek om teen Israel oorlog te maak.

27Die Israeliete was goed toegerus en het die Arameërs tegemoet getrek. Die Israeliete het teenoor die Arameërs kamp opgeslaan. Hulle was soos twee troppe bokke, en die wêreld was vol Arameërs.

28Die man van God het by die koning van Israel gekom en gesê: “So sê die Here: Omdat die Arameërs gesê het: ‘Die Here is 'n berggod, Hy is nie 'n god van die vlaktes nie,’ gaan Ek hierdie hele groot menigte in jou mag oorgee. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.”

29Sewe dae lank het die leërs so teenoor mekaar gelê. Op die sewende dag het die geveg losgebreek, en die Israeliete het honderd duisend voetsoldate van die Arameërs op dié een dag verslaan. 30Die res het die stad Afek in gevlug en die stadsmuur het op hulle omgeval. Hulle was sewe en twintig duisend man.

Ben-Hadad het ook die stad in gevlug en daar van kamer tot kamer weggekruip.

31Sy soldate sê toe vir hom: “Ons het gehoor die Israelitiese konings is genadig. Kom ons trek rouklere aan en bind toue om ons koppe en gee ons oor aan die koning van Israel. Miskien spaar hy u lewe.”

32Hulle trek toe rouklere aan en bind toue om hulle koppe en lewer hulleself uit aan die koning van Israel.

“Ben-Hadad onderwerp hom aan u,” sê hulle, “en hy vra dat u sy lewe moet spaar.”

Toe sê Agab: “Lewe hy nog? Hy is my broer!”

33Die manne het dit as 'n gunstige teken opgevat en haastig by sy opmerking aangesluit deur te sê: “Ben-Hadad ís u broer.”

Agab sê toe: “Gaan haal hom!”

Toe Ben-Hadad by hom kom, het Agab hom by hom op die strydwa laat klim.

34Daar het Ben-Hadad vir hom gesê: “Die stede wat my pa van jou pa afgevat het, sal ek teruggee. Jy mag ook vir jou 'n handelsbuurt inrig in Damaskus soos my pa in Samaria gedoen het.”

“En ek sal jou laat gaan,” sê koning Agab, “nadat jy 'n verdrag met my gesluit het.”

Ben-Hadad het toe 'n verdrag met hom gesluit, en Agab het hom laat gaan.

'n Profeet kondig Agab se vonnis aan

35'n Profeet het in opdrag van die Here vir 'n vriend gesê: “Slaan my tog!”

Maar hy het geweier om hom te slaan. 36Toe sê die profeet vir hom: “Jy was ongehoorsaam aan die opdrag van die Here, en daarom sal 'n leeu jou verskeur wanneer jy van my af weggaan.”

Toe hy van hom af weggegaan het, het 'n leeu op hom afgekom en hom verskeur.

37Die profeet kry toe iemand anders en sê: “Slaan my tog.”

Hy het die profeet geslaan; hy het hom selfs stukkend geslaan. 38Die profeet het die koning by die pad gaan staan en inwag: die profeet was onherkenbaar, hy het 'n verband oor sy oë gehad. 39Toe die koning daarlangs kom, het hy na die koning geroep en gesê: “Ek het oorlog toe gegaan. Daar het iemand 'n man na my toe gebring en gesê: ‘Pas hierdie man op! As hy ontsnap, kom jy in sy plek, of anders moet jy vier en dertig kilogram silwer betaal.’ 40Maar ek was met ander dinge besig en toe ek kyk, is hy nie meer daar nie!”

Die koning van Israel sê toe vir hom: “Jy het jou eie vonnis gevel.”

41Die profeet het die verband van sy oë afgeruk sodat die koning van Israel kon sien dat hy 'n profeet is. 42Hy sê toe vir die koning: “So sê die Here: Omdat jy die man wie se lewe Ek geëis het, vry laat weggaan het, sal jou lewe in die plek van sy lewe kom, en jou volk in die plek van sy volk.”

43Toe het die koning van Israel bedruk en kwaad huis toe vertrek en in Samaria aangekom.

1 KONINGS 20AFR83Maak oop in die Bybelleser

1 KONINGS 21

Nabot en sy wingerd

1Hierna het die volgende gebeur: Nabot die Jisreëliet het in Jisreël 'n wingerd gehad langs die paleis van koning Agab van Samaria.

2Agab het met Nabot gaan praat en vir hom gesê: “Gee jou wingerd vir my vir 'n kruietuin, want dit lê net langs my huis; dan gee ek jou 'n beter wingerd in die plek daarvan. Of as jy wil, sal ek jou daarvoor betaal.”

3Maar Nabot het vir Agab geantwoord: “Mag die Here my daarvan bewaar dat ek die erfgrond van my voorouers ooit aan u sou afstaan!”

4Hierop het Agab bedruk en kwaad huis toe gegaan omdat Nabot die Jisreëliet vir hom gesê het: “Ek sal nooit die erfgrond van my familie aan u afstaan nie.” Hy het op sy bed gaan lê met sy gesig na die muur toe en hy wou niks eet nie.

5Toe kom sy vrou Isebel na hom toe en vra vir hom: “Wat is jy so bedruk dat jy niks wil eet nie?”

6Hy vertel haar toe: “Ek het met Nabot die Jisreëliet gepraat en vir hom gesê: ‘Verkoop jou wingerd aan my, of as jy wil, sal ek jou 'n ander wingerd in die plek daarvan gee.’ Maar hy het gesê: Ek sal nooit my wingerd aan jou afstaan nie.”

7Toe sê sy vrou Isebel vir hom: “Jy is mos die een wat oor Israel regeer! Gaan eet nou en moet jou nie bekommer nie. Ék sal die wingerd van Nabot die Jisreëliet vir jou gee.”

8Sy skryf toe briewe in die naam van Agab en sit sy seëlafdruk daarop, en sy stuur die briewe aan die leiers en die ampsdraers van Nabot se stad.

9Sy het geskryf:

“Kondig 'n vasdag aan en laat Nabot heel voor in die vergadering sit. 10Laat twee gewetelose manne teenoor hom sit en laat hulle teen hom getuig: ‘Jy het 'n vloek uitgespreek teen God en teen die koning.’ Vat hom dan uit en gooi hom met klippe dood.”

11Die leiers en die ampsdraers in Nabot se stad het toe gedoen soos Isebel hulle beveel het in die briewe wat sy aan hulle gestuur het. 12Hulle het 'n vasdag aangekondig en vir Nabot heel voor in die vergadering laat sit. 13Toe kom sit daar twee gewetelose manne teenoor hom en hulle getuig teen Nabot in die vergadering en sê: “Nabot het 'n vloek uitgespreek teen God en teen die koning.”

Daarop vat hulle vir Nabot uit die stad uit en gooi hom met klippe dood.

14Hierna het hulle vir Isebel laat weet: “Nabot is met klippe doodgegooi.”

15Toe Isebel hoor Nabot is doodgegooi, sê sy vir Agab: “Gaan vat nou die wingerd van Nabot die Jisreëliet, wat hy nie aan jou wou verkoop nie. Nabot leef nie meer nie, hy is dood.”

16Toe Agab hoor Nabot is dood, het hy klaargemaak om Nabot die Jisreëliet se wingerd vir hom te vat.

Elia kondig vir Agab aan dat hy sal sterf

17Die woord van die Here het toe tot Elia die Tisbiet gekom en vir hom gesê: 18“Maak klaar en gaan ontmoet vir Agab wat in Samaria as koning oor Israel regeer. Hy is nou by die wingerd van Nabot, wat hy gaan vat het. 19Jy moet vir Agab sê: ‘So sê die Here: Jy het gemoor en nou vat jy ook nog?’ Sê verder vir hom: So sê die Here: Op dieselfde plek waar die honde die bloed van Nabot opgelek het, sal hulle jou bloed ook oplek. Ja, joune!”

20Toe Agab dit hoor, vra hy vir Elia: “Het jy my gekry, my vyand?”

Elia het geantwoord: “Ek het jou gekry. Die Here sê vir jou: ‘Omdat jy jou daaraan oorgegee het om te doen wat verkeerd is in my oë, 21gaan Ek 'n ramp oor jou bring en jou vernietig. Ek gaan al die manlikes in Agab se geslag sonder enige uitsondering uit Israel uitroei. 22Omdat jy My uitgetart het en omdat jy Israel laat sondig het, sal Ek met jou huis maak soos met die huis van Jerobeam seun van Nebat en soos met die huis van Baesa seun van Agija.’

23“En oor Isebel het die Here gesê: Die honde sal Isebel opvreet by die voorste muur van Jisreël. 24Wie uit Agab se familie in die stad sterf, die honde sal hom opvreet, en wie in die oop veld sterf, die roofvoëls sal hom vreet.”

25Daar was nooit iemand wat hom soos Agab daaraan oorgegee het om te doen wat verkeerd is in die oë van die Here nie. Sy vrou Isebel het hom daartoe aangehits. 26Agab het afskuwelik opgetree deur die afgode te dien net soos die Amoriete wie se besittings die Here aan die Israeliete gegee het.

27Toe Agab al hierdie woorde hoor, het hy sy klere geskeur en rouklere om sy lyf gehang en gevas. Hy het selfs met rouklere gaan slaap, en heeltyd bedruk rondgeloop. 28Daarom het die woord van die Here tot Elia die Tisbiet gekom en gesê: 29“Het jy gesien Agab het hom voor My verootmoedig? Omdat hy hom voor My verootmoedig het, sal Ek die ramp nie tydens sý lewe laat plaasvind nie. Tydens die bewind van sy seun sal Ek die ramp oor sy familie bring.”

1 KONINGS 21AFR83Maak oop in die Bybelleser

1 KONINGS 22

Miga waarsku vir Agab

(Vgl. 2 Kron. 18:1-34)

1Daar was drie jaar lank geen vyandigheid tussen Aram en Israel nie. 2In die derde jaar het koning Josafat van Juda na die koning van Israel toe gegaan. 3Die koning van Israel het vir sy amptenare gesê: “Julle weet goed Ramot in Gilead behoort aan ons, en tog doen ons niks om dit uit die mag van die koning van Aram terug te vat nie!”

4Die koning van Israel vra toe vir Josafat: “Sal jy saam met my optrek om oorlog te maak teen Ramot in Gilead?”

Josafat het hom geantwoord: “Ek en jy is een. My manskappe is jou manskappe, en my perde is jou perde. 5Maar,” het Josafat verder vir die koning van Israel gesê, “raadpleeg net eers die Here.”

6Die koning van Israel het toe die profete bymekaargeroep, omtrent vier honderd van hulle, en vir hulle gevra: “Moet ek teen Ramot in Gilead gaan veg? Of moet ek dit laat staan?”

Hulle het geantwoord: “Gaan gerus, die Here gee die stad aan die koning oor.”

7Josafat het egter gevra: “Is hier nie nóg 'n profeet van die Here dat ons hom ook kan raadpleeg nie?”

8Die koning van Israel sê toe vir Josafat: “Hier is nog een man deur wie ons die Here kan raadpleeg, maar ek haat hom, want hy voorspel vir my nooit iets goeds nie, net altyd die slegste. Dit is Miga seun van Jimla.”

Josafat sê toe: “Die koning moenie so praat nie.”

9Die koning van Israel roep toe 'n paleisamptenaar en sê: “Gaan haal gou vir Miga seun van Jimla!”

10Die koning van Israel en koning Josafat van Juda het elkeen in sy koninklike gewaad op sy troon gesit by die dorsvloer voor die poort van Samaria. Voor hulle was al die profete besig met hulle voorspellings. 11Sedekia seun van Kenaäna het vir hom 'n paar horings van yster gemaak en gesê: “So sê die Here: Met hierdie horings sal u die Arameërs stoot tot dit klaar is met hulle.”

12So het al die profete voorspel. Hulle uitspraak was: “Trek op teen Ramot in Gilead. U sal wen. Die Here gee die stad aan die koning oor.”

13Die boodskapper wat vir Miga gaan roep het, het vir hom gesê: “Kyk, die uitspraak van die profete was eenstemmig gunstig vir die koning. Laat joune nou tog dieselfde wees. Sê iets goeds!”

14Maar Miga sê: “So seker as die Here leef, wat die Here vir my sê, dit sal ek sê!”

15Toe Miga by die koning kom, sê dié vir hom: “Miga, moet ons teen Ramot in Gilead gaan veg? Of moet ons dit laat staan?”

“Gaan gerus,” antwoord Miga, “u sal wen. Die Here gee die stad aan die koning oor.”

16Maar die koning sê vir hom: “Hoeveel keer moet ek nog by jou daarop aandring dat jy vir my niks anders as die waarheid in die Naam van die Here moet sê nie!”

17Toe sê Miga:

“Ek het die hele Israel verstrooi op die berge gesien

soos skape wat nie 'n wagter het nie.

Die Here het gesê: Hulle het nie 'n koning nie,

laat hulle maar in vrede teruggaan,

elkeen na sy huis toe.”

18Die koning van Israel sê toe vir Josafat: “Ek het jou mos gesê hy voorspel vir my nie iets wat goed is nie, net die slegste.”

19En Miga praat verder: “Hoor die woord van die Here! Ek het die Here op sy troon sien sit met die hele hemelse leërmag wat weerskante van Hom staan. 20En die Here het gesê: ‘Wie sal vir Agab so ver kry dat hy na Ramot in Gilead toe gaan en daar sneuwel?’ Die een het toe dit gesê en die ander dat, 21totdat die gees vorentoe kom en voor die Here gaan staan en gesê het: ‘Ek sal hom so ver kry.’ En toe die Here vir hom vra: ‘Hoe?’ 22sê die gees: ‘Ek sal uitgaan en 'n leuengees word in die mond van al sy profete.’ Toe sê die Here: ‘Jy sal hom so ver kry. Gaan doen dit, jy sal dit regkry.’ 23So het die Here 'n leuengees in die mond van al hierdie profete van u laat kom, maar die Here het in werklikheid vir u 'n ramp aangekondig.”

24Toe kom Sedekia seun van Kenaäna nader en hy slaan vir Miga op die kakebeen en sê: “Met watter pad is die Gees van die Here van my af weg om met jou te praat?”

25En Miga antwoord: “Dit sal jy sien die dag as jy in een donker kamer na die ander probeer wegkruip.”

26Die koning van Israel het toe beveel: “Vat vir Miga weg en bring hom na Amon, die stadsbevelvoerder, en na prins Joas toe. 27Sê vir hulle die koning sê hulle moet hierdie man in die tronk sit en hom 'n skraal rantsoen kos en water gee tot ek behoue terugkom.”

28Maar Miga het gesê: “As u ooit behoue terugkom, het die Here nie deur my gepraat nie.” Verder het hy gesê: “Hoor dit, alle manskappe.”

29Die koning van Israel en koning Josafat van Juda is toe na Ramot in Gilead toe. 30Die koning van Israel het vir Josafat gesê: “Ek gaan my vermom voor ek in die geveg betrokke raak. Hou jy jou koninklike gewaad aan.”

Die koning van Israel het hom toe vermom en so die geveg ingegaan.

31Die Aramese koning het die aanvoerders van sy twee en dertig strydwaens opdrag gegee: “Spits die geveg toe op die koning van Israel, moenie aan die ander aandag gee nie, klein of groot.”

32Toe die aanvoerders van sy strydwaens vir Josafat sien, sê hulle: “Daar is die koning van Israel!” en hulle het op hom toegesak. Josafat het om hulp geroep. 33Die aanvoerders van die strydwaens het gesien dit is nie die koning van Israel nie en het die agtervolging gestaak.

34Iemand het egter losweg 'n pyl afgeskiet, en dié het die koning van Israel getref tussen die skubbe van sy harnas en die borsplaat.

Hy sê toe vir sy drywer: “Ruk die perde om en bring my uit die geveg uit. Ek is gewond.”

35Die geveg was dié dag egter so hewig dat die koning die hele tyd teenoor die Arameërs op sy strydwa moes bly staan. Teen laatmiddag is hy dood. Die bloed uit sy wond het in die bak van die strydwa ingeloop. 36Net voor sononder is daar in die kamp geroep: “Elkeen na sy stad toe, elkeen na sy land toe!”

37Die koning was al dood toe hy in Samaria aankom, en hulle het hom daar in Samaria begrawe.

38Toe hulle die strydwa uitspoel by die dam van Samaria waar die prostitute hulle was, het die honde sy bloed opgelek. Dit het gebeur in ooreenstemming met die woord van die Here.

39Die ander verhale oor Agab en alles wat hy gedoen het, en oor die huis met ivoorinlegwerk wat hy gebou het en oor al die stede wat hy gebou het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.

40Toe Agab oorlede is, het sy seun Ahasia hom as koning opgevolg.

Koning Josafat van Juda

(Vgl. 2 Kron. 20:31 – 21:1)

41Josafat seun van Asa het koning van Juda geword in die vierde regeringsjaar van koning Agab van Israel. 42Josafat was vyf en dertig toe hy koning geword het, en hy het vyf en twintig jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Asuba 'n dogter van Silgi.

43Hy het die pad van Asa, sy pa, geloop en daar nie van afgewyk nie. Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here. 44Die hoogtes het egter nie verdwyn nie, en die volk het nog steeds daarop offers gebring en wierook gebrand.

45Josafat het die vrede bewaar met die koning van Israel.

46Die ander verhale oor Josafat se regering, oor die heldedade wat hy gedoen en die oorloë wat hy gevoer het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda.

47Josafat het die tempelprostitute wat nog uit die dae van sy pa oorgebly het, uit die land verban.

48Daar was nie toe 'n koning in Edom nie; 'n goewerneur het as koning waargeneem.

49Josafat het skepe van Tarsis gekry waarmee hy goud wou gaan haal in Ofir. Dit het egter nie plaasgevind nie omdat die skepe skipbreuk gely het in Esjon-Geber. 50Ahasia seun van Agab het toe by Josafat aangedring: “Laat my manne saam met joune met die skepe vaar,” maar Josafat wou nie.

51Josafat is oorlede, en hy is begrawe in die familiegraf in die Dawidstad. Sy seun Joram het hom as koning opgevolg.

Ahasia koning van Israel

52Ahasia seun van Agab het in Samaria koning van Israel geword in die sewentiende regeringsjaar van koning Josafat van Juda. Hy het twee jaar oor Israel geregeer.

53Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het die pad geloop van sy pa en sy ma, en van Jerobeam seun van Nebat wat vir Israel laat sondig het. 54Hy het Baäl gedien en aanbid. Hy het ook die Here die God van Israel uitgetart, net soos sy pa gedoen het.

1 KONINGS 22AFR83Maak oop in die Bybelleser

SPREUKE 4

1Kinders, neem die opvoeding wat 'n vader julle gee, ter harte;

slaan daarop ag, sodat julle kan leer wat insig is,

2want wat ek julle leer, is goed;

moenie die onderrig wat ek gee, versmaai nie.

3Ek was ook eenkeer 'n kind,

my moeder se oogappel, haar enigste.

4My vader het my toe ook geleer en vir my gesê:

“Wat ek jou sê, moet jy vashou,

my voorskrifte moet jy uitvoer, sodat jy werklik kan lewe.

5Sorg dat jy wysheid bekom, en insig!

Moenie my woorde vergeet en daarvan afwyk nie;

6maak die wysheid jou metgesel, dit sal jou beskerm;

as jy dit liefhet, sal dit jou veilig bewaar.

7Die wysheid kom eerste.

Sorg dat jy wysheid bekom,

gee alles wat jy het, om insig te kry!

8Slaan dit hoog aan, dan sal dit aan jou aansien gee.

Dit sal jou 'n man van betekenis maak as jy dit vasgryp.

9Dit sal jou lewe versier,

dit sal vir jou 'n sierlike kroon wees.”

10Luister, my seun, en aanvaar wat ek jou sê;

dit sal jou lewensjare baie maak.

11Ek sal jou leer wat die pad van die wysheid is

en jou die regte koers laat loop.

12As jy loop, sal daar niks in jou pad wees nie,

en as jy hardloop, sal jy nie struikel nie.

13Hou vas aan wat ek jou leer, moet dit nie laat los nie;

bly daarby, want dit is jou lewe.

14Moenie agter die goddeloses aanloop nie,

vermy die pad van slegte mense.

15Los dit, moenie daarop loop nie,

draai weg, vermy die slegte mense;

16hulle kan nie slaap

as hulle nie kwaad gedoen het nie;

hulle lê wakker

as hulle nie iemand se ondergang bewerk het nie.

17Misdaad is hulle kos,

geweld hulle drank.

18Die pad van die regverdiges is soos helder oggendlig

wat groei en sterker word tot dit heeltemal dag is;

19die pad van die goddeloses is soos die donker:

hulle weet nie waaroor hulle sal struikel nie.

20My seun, hoor wat ek vir jou sê,

luister goed na my woorde!

21Moet dit nie vergeet nie,

hou dit altyd in gedagte,

22want dit beteken lewe vir dié wat daarna luister,

'n volle lewe vir hom wat dit besit.

23Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan,

want dit bepaal jou hele lewe.

24Weerhou jou van leuens,

moenie mense mislei nie.

25Hou jou oë op die pad vorentoe,

kyk reg voor jou uit.

26Baken jou koers af,

dan sal jy seker wees van elke tree.

27Moenie links of regs wegdraai nie,

weerhou jou van die verkeerde koers.

SPREUKE 5

1My seun, slaan ag op die wysheid wat ek jou leer,

luister na my goeie raad.

2Dan sal jy self ook met oorleg kan optree

en met die nodige kennis praat.

3Die slegte vrou se lippe drup van die heuning,

haar tong is gladder as olie,

4maar agterna is alles so bitter soos wildeals;

sy is so gevaarlik soos die skerpste swaard.

5Haar pad is dié van die dood,

elke stap saam met haar bring die ondergang nader.

6Sy hou jou weg van die pad van die lewe af,

sy laat jou dwaal, en jy weet dit nie.

7Luister na my, my seun,

bly by wat ek jou sê:

8Bly weg van haar af,

moenie naby haar huis se deur kom nie

9dat jy nie jou mooiste jare verspil nie,

jou beste jare aan 'n hartelose mens gee nie,

10dat vreemdes hulle nie vol eet

aan die vrug van jou arbeid nie,

dat dit waarvoor jy gewerk het,

nie in die huis van 'n ander beland nie.

11Jy sal lê en kreun as jou einde nader,

met die vleis aan jou liggaam weggevreet,

12en jy sal sê: “Ek het my opvoeding versmaai,

ek het my nie gesteur aan die onderrig nie.

13As ek maar geluister het na my leermeesters

en my ore oopgemaak het toe hulle my geleer het!

14Hier sit ek nou in die grootste ellende

voor die oë van almal.”

15Jy het tog self 'n vrou, jy het tog self 'n put met water:

drink die strome uit jou eie fontein.

16Moet jou fonteine dan ook die wêreld vol loop,

jou strome water oral heen vloei?

17Hulle is tog net joune,

en jy sal hulle nie met 'n ander wil deel nie.

18Sing die lof van jou eie fontein,

verheug jou oor jou eie vrou,

19so vol liefde, so mooi

soos 'n takbok, soos 'n ribbok.

Geniet voluit van haar liefkosings,

laat dit jou deurentyd bedwelm.

20Waarom sou jy jou laat bedwelm deur 'n slegte vrou, my seun,

waarom sou jy in die arms van 'n ander vrou gaan lê?

21'n Mens se lewe lê oop voor die Here,

elke tree wat jy gee, sien Hy.

22Die oortreding van die goddelose agterhaal hom,

hy draai hom vas in sy sonde.

23Hy sterf deur sy gebrek aan selfbeheersing,

sy dwaasheid het hom op die verkeerde pad gebring.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS