Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 113

1 KONINGS 6–10, SPREUKE 2

Bybelteks(te)

Die tempel word gebou

(Vgl. 2 Kron. 3:1-14)

1Vier honderd en tagtig jaar nadat die Israeliete uit Egipte getrek het, vier jaar nadat Salomo koning van Israel geword het, het hy begin bou aan die tempel van die Here. Dit was in die maand Sif, die tweede maand.

2Die tempel wat koning Salomo vir die Here gebou het, was dertig meter lank, tien meter breed en vyftien meter hoog.

3Die voorportaal aan die voorkant van die tempel was tien meter lank, net so lank as wat die tempel breed was. Die breedte daarvan was vyf meter.

4Salomo het in die tempel vensters aangebring met kosyne en met traliewerk voor.

5Rondom teen die muur van die tempel het hy 'n platform gebou. Dit het om die mure van die voorste en die binneste heiligdom gestrek, en daarop het hy verdiepings gebou. 6Die onderste verdieping was twee en 'n half meter breed, die middelste drie meter en die derde drie en 'n half meter. Hy het die tempelmuur so gebou dat dit aan die buitekant regoor elke verdieping nouer was as regoor die vorige, sodat hy nie nodig sou hê om die verdiepings in die tempelmuur self vas te bou nie.

7Vir die bou van die tempel is klaar gekapte klip uit die groewe gebruik. Daar was geen geraas van hamers, beitels of enige ander ystergereedskap by die tempel toe dit gebou is nie.

8Die ingang na die middelste verdieping was aan die suidekant van die tempel. 'n Mens kon ook deur 'n luik opgaan na die middelste verdieping toe en daarvandaan na die derde toe.

9Nadat Salomo die tempel klaar gebou het, het hy 'n dak van oorkruis gelegde sederbalke opgesit. 10Die platform wat hy buite om die hele tempel gebou het, was twee en 'n half meter hoog, en hy het dit met sederbalke aan die tempelmuur vasgesit.

11Die woord van die Here het tot Salomo gekom en gesê:

12“Jy bou nou die tempel. As jy volgens my voorskrifte leef en my bepalings uitvoer en jou aan al my gebooie hou en volgens hulle leef, sal Ek my beloftes wat Ek aan jou vader Dawid gemaak het, nakom teenoor jou. 13Ek sal tussen die Israeliete woon, Ek sal my volk Israel nie verlaat nie.”

14Nadat Salomo die tempel klaar gebou het, 15het hy die mure van die tempel aan die binnekant met sederplanke bedek; van die vloer af tot teen die dakbalke het hy dit met hout oorgetrek. Die vloer self het hy van sipresplanke gemaak.

16Hy het agter in die tempel tien meter afgeskort met sederplanke, van die vloer af tot teen die dak, en so aan die binnekant 'n binneste heiligdom ingerig, die Allerheiligste.

17Die groot vertrek, die voorste heiligdom, was twintig meter lank. 18Dit was aan die binnekant uitgevoer met sederhout, waarop kalbasse en blomknoppe uitgesny is. Alles was sederhout, daar was nie klip sigbaar nie.

19Hy het die binneste heiligdom binne in die tempel ingerig om die verbondsark van die Here daar te sit. 20Die binneste heiligdom was tien meter lank, tien meter breed en tien meter hoog. Salomo het dit oorgetrek met geslae goud, en die altaar voor die binneste heiligdom het hy met sederhout oorgetrek.

21Hy het ook die groot vertrek met geslae goud oorgetrek aan die binnekant, en hy het goue kettings gespan voor die binneste heiligdom, wat hy ook met goud oorgetrek het. 22Die hele vertrek, so groot soos hy was, is met goud oorgetrek, en ook die hele altaar by die binneste heiligdom.

23In die binneste heiligdom het hy twee gerubs van olyfhout aangebring, vyf meter hoog. 24Elke vlerk van die gerubs was twee en 'n half meter lank. Van punt tot punt was die vlerke van die een gerub dus vyf meter 25en net so ook die ander een s'n. Die twee gerubs was ewe groot en het eenders gelyk. 26Die een was vyf meter hoog, en die ander een ook. 27Salomo het die gerubs in die binneste vertrek gesit. Hulle vlerke was uitgestrek; die een se een vlerk het aan die een muur geraak en die ander se een vlerk aan die ander muur. Presies in die middel van die vertrek het hulle ander vlerke aan mekaar geraak. 28Salomo het die gerubs met goud oorgetrek.

29Rondom teen al die mure van die tempel het Salomo gerubs, palms en blomknoppe in houtsneewerk aangebring, in die binneste en in die buitenste vertrekke. 30Hy het ook altwee vertrekke se vloere met goud oorgetrek.

31Vir die binneste heiligdom het hy 'n dubbeldeur van olyfhout gemaak. Die kosyn het 'n vyfhoek gevorm. 32Op die twee deure van olyfhout het hy gerubs, palms en blomknoppe laat uitsny en dit met goud oorgetrek. Hy het die goud oor die gerubs en die palms aangebring. 33Dieselfde het hy gedoen by die ingang van die voorste heiligdom. Die kosyn was ook van olyfhout, maar daar het dit 'n vierhoek gevorm. 34Die twee dubbeldeure was van sipreshout. Op die twee vleuels van elke deur was sirkels uitgesny. 35Salomo het ook gerubs, palms en blomknoppe op die deure uitgesny en dit met goud oorgetrek. Die goud is in die uitgesnyde dele vasgeslaan.

36Hy het die binneste voorhof gebou van drie lae gekapte klip en een laag sederhout.

37Die fondament van die huis van die Here is gelê in die vierde jaar, in die maand Sif, 38en die tempel met al sy toebehore en sy hele inrigting is voltooi in die elfde jaar, in die maand Bul, die agste maand. Hulle het sewe jaar aan die tempel gebou.

Salomo se paleis

1Aan sy paleis het Salomo dertien jaar gebou voor hy heeltemal klaar was daarmee.

2Hy het ook die Libanonsbosgebou opgetrek, vyftig meter lank, vyf en twintig meter breed en vyftien meter hoog, op vier rye sederhoutpilare en met sederhoutbalke op die pilare. 3Bo-oor die verdiepings was daar 'n dak wat gerus het op vyf en veertig pilare, vyftien in 'n ry. 4Daar was drie rye vensters met kosyne, telkens drie vensters regoor mekaar. 5Al die deurkosyne was reghoekig en het lateie gehad. Daar was telkens drie deure regoor mekaar.

6Salomo het ook 'n pilaargang gebou, vyf en twintig meter lank en vyftien meter breed. Dit het 'n voorportaal aan die voorkant gehad, met pilare en 'n afdak voor.

7Salomo het ook 'n troonsaal ingerig, die regsaal, waar hy hofsake verhoor het. Dit was van die vloer af tot teen die dak met sederhout uitgevoer. 8Die gebou waar hy self gewoon het, was aan die binneplein agter die troonsaal en is op dieselfde manier gebou. Verder het hy 'n woonplek net soos die troonsaal gebou vir die farao se dogter met wie hy getroud was.

9Al die geboue van die fondament af tot teen die dak is opgerig van duursame klip wat volgens maat gekap en aan weerskante met die saag afgewerk is. Ook die gedeelte buitekant tot teen die groot voorhof is so gebou. 10Die fondamente was van groot, duursame klippe, klippe van vyf meter en vier meter. 11Bo-op was duursame klip, volgens maat gekap, en sederhout. 12Die mure van die groot voorhof rondom is gebou van drie lae gekapte klip en een ry sederhoutbalke, net soos die binneste voorhof van die huis van die Here en die voorportaal van die paleis.

'n Beskrywing van Hiram se werk

(Vgl. 2 Kron. 3:15-17; 4:2 – 5:1)

13Koning Salomo het die dienste bekom van Hiram van Tirus. 14Hiram was die seun van 'n weduwee uit die Naftalistam en sy pa was 'n Tiriër, 'n vakman in bronswerk. Hiram kon enige bronswerk met vaardigheid, insig en vernuf uitvoer. Hy het in diens van koning Salomo getree en alles gedoen wat dié hom opgedra het.

15Hiram het die twee bronspilare gegiet, nege meter hoog en ses meter in die omtrek. 16Hy het twee kapitele gemaak, in brons gegiet, om bo-op die pilare te sit. Elke kapiteel was twee en 'n half meter hoog. 17Daar was roosters met gevlegte kettingwerk aan die kapitele bo-op die pilare, sewe kettings aan elke kapiteel. 18Dit is hoe hy die pilare gemaak het. Op elke rooster teen die kapitele het hy rondom twee rye granate aangebring. 19Die kapitele bo-op die pilare by die voorportaal was in die vorm van blomkelke, twee meter hoog. 20Aan die bokant van die kapitele op die pilare net waar die kelke dikker word, teen die kante van die roosters, was rondom twee honderd granate in rye. 21Hiram het die pilare by die voorportaal van die tempel opgestel. Die een wat hy regs opgestel het, het hy Jakin genoem, en die een links Boas. 22Bo-op die pilare was die kapitele in die vorm van blomkelke. Daarmee was die werk aan die pilare afgehandel.

23Hy het ook die gegote waterbak gemaak, heeltemal rond, vyf meter in deursnee, twee en 'n half meter hoog, en met 'n omtrek van vyftien meter. 24Rondom onder die rand van die waterbak was twee rye kalbasse in reliëf, tien op elke halwe meter. Die kalbasse is saam met die waterbak in een stuk gegiet. 25Die waterbak het gerus op twaalf gegote beeste, drie na die noorde gerig, drie na die weste, drie na die suide en drie na die ooste. Die waterbak was bo-op hulle, en almal se agterkante was onder die bak in. 26Die wande van die waterbak was sowat nege sentimeter dik en sy rand was soos 'n beker se rand in die vorm van die kelk van 'n lelie. Dit kon vier en veertig kiloliter bevat.

27Hiram het tien waentjies van brons gemaak. Elke waentjie was twee meter lank, twee meter breed en een en 'n half meter hoog. 28Die waentjies is soos volg gemaak:

Hulle het sypanele gehad tussen die rame, 29en op die sypanele en die rame was daar leeus, beeste en gerubs. Bokant en onderkant die leeus en die beeste was kransies in reliëf. 30Elke waentjie het vier bronswiele gehad met brons-asse aan die vier voetstukke. Die waskom het gerus op staanders, gegiet met kransies aan die kante. 31Die opening aan die binnekant van die bostuk was 'n halwe meter diep. Die opening was rond en was saam met die raamwerk daarvan 'n driekwart meter in deursnee. Daar was ook graveerwerk rondom die opening. Die sypanele van die waentjies was vierkantig, nie rond nie. 32Die vier wiele was onder die sypanele, en die wiele se asse was aan die waentjie vas. Elke wiel was 'n driekwart meter in deursnee. 33Die wiele was gemaak soos strydwawiele, hulle asse en vellings en speke en nawe was alles van gietwerk. 34Die vier staanders aan die vier hoeke van elke waentjie het 'n geheel gevorm met die waentjie. 35Bo-op elke waentjie was daar 'n ronde staander, 'n kwart meter hoog, met plate aan die kante toegemaak. 36Hiram het op die plate van die staander en op die sypanele, oral waar daar plek was, gerubs, leeus en palms uitgesny, asook kransies rondom. 37So het hy die tien waentjies gemaak, gegiet in dieselfde vorm, almal eenders en ewe groot.

38Hy het tien waskomme van brons gemaak. Elkeen kon ag honderd en tagtig liter hou en was twee meter in deursnee. Daar was 'n waskom vir elkeen van die tien waentjies. 39Hy het vyf waentjies regs van die tempel gesit en vyf links. Die waterbak het hy regs van die tempel gesit, aan die suidoostekant.

40Hiram het die waskomme, die skoppe en die komme vir besprinkeling gemaak. So het hy al die werk afgehandel wat hy vir koning Salomo aan die huis van die Here moes doen: 41die twee pilare met die komvormige skywe, die kapitele bo-aan die twee pilare, en ook die roosters waarmee die skywe van die kapitele bo-aan die pilare toegemaak is; 42die vier honderd granate vir die twee roosters, 'n dubbele ry granate vir elke rooster waarmee die skywe van die kapitele bo-aan die pilare toegemaak is. 43Hy het ook die tien waentjies met die tien waskomme daarop gemaak, 44die waterbak met die twaalf beeste daaronder, 45die potte, die skoppe, die komme vir besprinkeling en al die toebehore van die heiligdom. Hiram het dit vir koning Salomo vir die huis van die Here gemaak van gepoleerde brons. 46Die koning het dit in die omgewing van die Jordaan, tussen Sukkot en Saretan, in kleivorms laat giet. 47Salomo het al die goed op hulle plekke laat sit. Daar is so baie brons gebruik dat dit nie geweeg kon word nie.

48Salomo het ook al die toerusting vir die huis van die Here laat maak: die goue altaar, die goue tafel vir die offerbrood; 49die kandelaars van suiwer goud, vyf regs en vyf links voor die binneste heiligdom; die blomkelke, die lampe en die goue pithouers; 50die bakke, die skêre, die komme vir besprinkeling, die panne en die vuurbakke, alles van suiwer goud. Ook die skarniere aan die deure van die binneste vertrek, die Allerheiligste, en dié aan die deure van die voorste heiligdom was van goud.

51Nadat al die werk wat koning Salomo aan die huis van die Here gedoen het, afgehandel was, het hy die gewyde gawes van Dawid, sy pa, ingebring. Die silwer en die goud en die toebehore het hy in die voorraadkamers van die huis van die Here gesit.

Die ark word in die tempel gesit

(Vgl. 2 Kron. 5:2-10,14)

1Daarna het Salomo die leiers van Israel, al die stamhoofde en die Israelitiese familiehoofde, by hom in Jerusalem bymekaargeroep om die verbondsark van die Here uit die Dawidstad, Sion, te laat uitbring. 2Al die manne van Israel het op die feesdag in die maand Etanim, die sewende maand, by koning Salomo vergader. 3Nadat al die leiers van Israel gekom het, het die priesters die ark opgetel 4en die ark, die tent van ontmoeting en al die toebehore van die heiligdom wat in die tent was, gedra. Die priesters en die Leviete het dit gedra. 5Koning Salomo en die hele gemeente van Israel wat saam met hom voor die ark was, het soveel kleinvee en beeste geoffer dat dit nie getel of bereken kon word nie. 6Toe het die priesters die verbondsark van die Here na sy plek toe gebring onder die vlerke van die gerubs in die binneste heiligdom van die tempel, dit is die Allerheiligste. 7Die gerubs se vlerke was oopgesprei oor die staanplek van die ark. Hulle het die ark en sy draaghoute aan die bokant bedek. 8Die draaghoute was so lank dat hulle punte gesien kon word van die voorkant van die binneste heiligdom af, maar hulle kon nie van buite af gesien word nie. Hulle is vandag nog daar. 9Daar was niks in die ark nie behalwe die twee plat klippe wat Moses by Horeb daarin gesit het toe die Here by die uittog van die Israeliete uit Egipte met hulle 'n verbond gesluit het.

10Toe die priesters uit die heiligdom kom, het 'n wolk die huis van die Here gevul. 11Daarom kon die priesters nie vir diens aantree nie. Dit was die magtige teenwoordigheid van die Here wat die huis van die Here gevul het.

Toespraak van Salomo

(Vgl. 2 Kron. 6:1-11)

12Toe het Salomo gesê:

“Die Here het gesê Hy wil in duisternis woon.

13Daarom, Here, het ek vir U 'n waardige huis gebou,

'n verblyf waar U altyd kan woon.”

14Daarna het die koning sy gesig na die hele gemeente van Israel toe gedraai en die hele gemeente van Israel geseën terwyl hulle daar staan. 15Hy het gesê: “Geloof sy die Here die God van Israel wat aan my vader Dawid 'n belofte gedoen het en dit deur sy mag vervul het. Die woorde van die Here was: 16‘Van die dag af dat Ek my volk Israel uit Egipte gebring het, het Ek uit al die stamgebiede van Israel nie 'n stad gekies waar 'n tempel gebou kan word sodat my Naam daar kan wees nie, maar Ek het vir Dawid gekies sodat hy oor my volk Israel kon regeer.’

17“My vader Dawid wou 'n tempel bou vir die Naam van die Here die God van Israel, 18maar die Here het vir my vader Dawid gesê: ‘Dat dit jou voorneme is om 'n tempel vir my Naam te bou – dit is goed dat jy die voorneme het. 19Maar nie jý sal die tempel bou nie; jou seun wat uit jou voortgekom het, hý sal die tempel vir my Naam bou.’

20“Die Here het die belofte nagekom wat Hy gemaak het. Ek het my vader Dawid se plek geneem en op die troon van Israel gekom soos die Here beloof het. Die tempel vir die Naam van die Here die God van Israel het ek gebou 21en die ark waarin die verbond van die Here is wat Hy met ons voorvaders gesluit het toe Hy hulle uit Egipte gebring het, het ek daar gesit.”

Gebed van Salomo

(Vgl. 2 Kron. 6:12-42)

22Toe gaan staan Salomo regoor die altaar van die Here, voor die hele gemeente van Israel, en strek sy hande uit na die hemel toe 23en sê: “Here, God van Israel, in die hemel of op die aarde is daar nie nog 'n God soos U nie. U hou U aan die verbond en U bly getrou teenoor u dienaars wat met volle oorgawe voor U lewe. 24U het U gehou aan wat U u dienaar, my vader Dawid, beloof het. U het die belofte gemaak en dit so soos dit vandag is, deur u woord en u mag vervul.

25“Here, God van Israel, bly dan nou by wat U u dienaar, my vader Dawid, beloof het toe U gesê het: ‘Ek sal sorg dat daar altyd iemand uit jou nageslag op die troon van Israel sal wees, mits jou nakomelinge let op hulle optrede en volgens my woord lewe, soos jy gemaak het.’

26“God van Israel, laat die belofte wat U aan u dienaar, my vader Dawid, gemaak het, ook verder vas staan.

27“Sou God werklik op die aarde woon? Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie, hoe dan nog hierdie tempel wat ek gebou het!

28“Hoor tog, Here my God, die gebed van u dienaar, hoor sy smeking, luister na die hulpgeroep, die gebed wat u dienaar vandag tot U rig. 29Hou hierdie tempel dag en nag onder u sorg, die plek waarvan U gesê het dat U u Naam daar wil vestig, sodat U die gebed kan hoor wat 'n dienaar van U na hierdie plek toe bid. 30Hoor tog die smeekbedes van u dienaar en u volk Israel wat hulle na hierdie plek toe bid, hoor dit tog uit u hemelse woonplek, en wanneer U dit hoor, vergewe tog!

31“As iemand sy naaste kwaad aandoen en dié hom 'n eedverpligting oplê om hom onder 'n vloek te plaas, en hy kom en spreek die eed uit voor u altaar in hierdie tempel, 32luister tog uit die hemel en gryp in en vel die beslissing oor u dienaars sodat die skuldige die straf vir sy dade dra en die onskuldige gelyk gegee word soos dit by sy onskuld pas.

33“As u volk Israel deur 'n vyand verslaan word omdat hulle teen U gesondig het en hulle kom tot inkeer en bely u Naam en bid tot U in hierdie huis en smeek U, 34luister tog uit die hemel en vergeef u volk Israel se sonde en laat hulle terugkom na die land wat U aan hulle voorvaders gegee het.

35“Wanneer die hemele toegesluit bly en daar nie reën is nie omdat hulle teen U sondig, en hulle bid na hierdie plek toe en bely u Naam terwyl hulle hulle van hulle sonde bekeer en vra dat U hulle gebed sal verhoor, 36luister tog uit die hemel en vergeef u dienaars en u volk Israel se sonde en gee reën op u land wat U aan u volk as besitting gegee het. So leer U hulle die goeie weg wat hulle moet bewandel.

37“Sou daar hongersnood in die land kom, sou daar pes uitbreek, brandkoring of roes, swerms sprinkane en voetgangers, sou dit gebeur dat die volk se vyande hom in sy stede hier in die land beleër, watter plaag of siekte hom ook al tref, 38luister tog na elke gebed, elke smeking wat van enige mens of van u hele volk Israel mag kom soos elkeen sy plaag te kenne gee en sy hande na hierdie tempel toe uitstrek; 39luister tog uit die hemel, u woonplek, vergeef en gryp in en gee aan elkeen wat hy verdien soos U sy hart ken, want net U ken elke mens se hart, 40sodat hulle aan U gehoorsaam sal wees die hele tyd dat hulle in die land leef wat U aan ons voorvaders gegee het.

41-42“Luister ook na die vreemdeling wat nie uit u volk Israel is nie en, omdat hy gehoor het van u groot Naam, u mag en krag, selfs uit 'n ver land kom en na hierdie tempel toe bid. 43Luister tog uit die hemel, u woonplek, en doen alles wat die vreemdeling U in sy gebed vra, sodat al die volke van die aarde u Naam kan ken en ook aan U gehoorsaam kan wees net soos u volk Israel, en dat hulle kan weet u Naam is uitgeroep oor hierdie tempel wat ek gebou het.

44“Sou u volk teen sy vyande uittrek in 'n oorlog wat deur U beveel is, en hulle bid tot U, die Here, in die rigting van hierdie stad wat U gekies het en die huis wat ek vir u Naam gebou het, 45luister tog uit die hemel na hulle gebed en hulle smeking en gee hulle die oorwinning.

46“Sou hulle teen U sondig, want daar is nie 'n mens wat nie sondig nie, en U in u verontwaardiging hulle aan 'n vyand oorgee, sodat hulle as gevangenes weggevoer word na die vyand se land toe, ver of naby, 47en hulle daar in dié land waar hulle gevangenes is, tot inkeer kom en hulle weer tot U wend en U daar in die land van hulle gevangenskap smekend aanroep: ‘Ons het gesondig, ons het verkeerd gedoen, ons is skuldig,’ 48en hulle tot U wend met hart en siel in die land van hulle vyande wat hulle gevange hou, en hulle bid tot U in die rigting van hulle land wat U aan hulle voorvaders gegee het en van die stad wat deur U gekies is en die tempel wat ek vir u Naam gebou het, 49luister tog uit die hemel, uit u woonplek, na hulle gebed en smeking en neem hulle straf weg 50en vergeef u volk wat teen U gesondig het, vergeef hulle al hulle opstandigheid teen U en laat dié wat hulle gevange hou, met hulle medelye hê, 51want hulle is u eie volk, U het hulle uitgelei uit Egipte, uit die smeltoond uit.

52“Wees tog ontvanklik vir die smeking van u dienaar en u volk Israel, verhoor tog elke gebed wat hulle tot U rig. 53U het hulle onder al die volke van die wêreld afgesonder as 'n volk vir U, Here. Dit het gebeur soos U, Here, deur u dienaar Moses gesê het toe U ons voorvaders uit Egipte gebring het.”

Salomo seën die volk

54Nadat Salomo klaar hierdie gebed en smeking tot die Here gerig het, het hy opgestaan van waar hy voor die altaar van die Here gekniel het met sy hande uitgestrek na die hemel toe. 55Hy het gaan staan en die hele gemeente van Israel hardop geseën:

56“Geloof sy die Here wat aan sy volk Israel 'n vaste woonplek gegee het soos Hy beloof het. Nie een van die goeie beloftes wat Hy deur sy dienaar Moses gemaak het, het onvervul gebly nie. 57Mag die Here ons God by ons wees soos Hy by ons voorvaders was. Mag Hy ons nooit verlaat of laat vaar nie. 58Mag Hy ons gewillig maak om altyd volgens sy wil te leef en ons te hou aan sy gebooie, sy voorskrifte en sy bepalings wat Hy ons voorvaders opgelê het. 59Mag hierdie woorde van my wat ek in my smeking voor die Here uitgespreek het, dag en nag by Hom, die Here ons God, wees, sodat Hy die reg van sy dienaar en van sy volk Israel sal handhaaf soos dit van dag tot dag nodig mag wees. 60Dan sal al die volke van die wêreld besef die Here is God; daar is nie 'n ander nie. 61Mag julle met volle oorgawe voor die Here ons God leef volgens sy voorskrifte en julle hou aan sy gebooie, so soos dit vandag is.”

62Die koning en die hele Israel het vir die Here offerandes gebring. 63Salomo het twee en twintig duisend beeste en honderd en twintig duisend stuks kleinvee as maaltydoffer geoffer. So het die koning en al die Israeliete die huis van die Here ingewy. 64Daardie dag het die koning die middelgedeelte van die voorhof wat reg voor die huis van die Here is, gewy, want daar het hy die brandoffer en die graanoffer en die vetgedeeltes van die maaltydoffers verbrand. Die bronsaltaar wat voor die tempel van die Here gestaan het, was te klein vir die brandoffer en die graanoffer en die vetgedeeltes.

65Salomo, en die hele Israel saam met hom wat gekom het van Lebo-Hamat af tot by Egiptespruit, 'n groot gemeente, het destyds sewe dae lank fees gehou ter ere van die Here ons God, en daarna weer sewe dae, veertien dae altesaam. 66Die dag daarna het Salomo die volk laat gaan. Hulle het hom gegroet en is terug huis toe, bly en gelukkig oor die goeie dinge wat die Here gedoen het aan sy dienaar Dawid en sy volk Israel.

Die belofte en dreigement van die Here

(Vgl. 2 Kron. 7:11-22)

1Nadat Salomo die tempel van die Here en die koninklike paleis klaar gebou en alles wat hy wou doen, voorspoedig afgehandel het, 2het die Here 'n tweede keer aan hom verskyn soos Hy by Gibeon aan hom verskyn het, 3en vir hom gesê: “Ek het jou gebed en jou smeking wat jy tot My gerig het, verhoor. Ek heilig hierdie tempel wat jy gebou het, sodat my Naam altyd daar sal wees. Ek sal altyd daarvoor sorg en daaraan dink.

4“En jy, as jy soos jou vader Dawid opreg en met oorgawe voor My leef en alles doen wat Ek jou beveel en my voorskrifte en bepalings nakom, 5sal Ek jou heerskappy oor Israel bestendig. So het Ek jou vader Dawid belowe: Daar sal altyd iemand uit jou nageslag wees om oor Israel te regeer.

6“Maar as julle en julle nageslag van My af wegdraai en my gebooie en my voorskrifte wat Ek julle gegee het, nie nakom nie en julle gaan dien ander gode en buig voor hulle, 7sal Ek Israel wegdryf uit die land wat Ek hulle gegee het, en sal Ek hierdie tempel wat Ek vir my Naam geheilig het, voor My wegvee. Ek sal Israel 'n spot en 'n skimp maak onder al die volke. 8Ja, hoe uitsonderlik hierdie tempel ook al was, elke verbyganger sal dan van verbasing sy asem intrek en fluit en vra: ‘Waarom het die Here dit gedoen aan dié land en dié tempel?’ 9En dan sal die mense antwoord: Omdat daardie volk die Here hulle God verlaat het, Hy wat hulle voorvaders uit Egipte gebring het. Hulle het hulle aan ander gode verbind en voor hulle gebuig en hulle gedien. Daarom het die Here al hierdie groot rampe oor sy volk gebring.”

Ander mededelings oor Salomo

(Vgl. 2 Kron. 8:1-18)

10Na afloop van die twintig jaar waarin Salomo die twee geboue opgerig het, die huis van die Here en die koninklike paleis, 11waarvoor koning Hiram van Tirus aan Salomo soveel sederhout, sipreshout en ook goud gelewer het as wat hy wou hê, het koning Salomo twintig stede in Galilea aan Hiram oorgedra.

12Toe Hiram hierdie stede wat Salomo aan hom oorgedra het, uit Tirus gaan besigtig, was hy teleurgestel 13en het hy gesê: “Wat se stede is dit wat jy vir my gee, my broer!”

Daarom dra dit tot vandag nog die naam “Kabulstreek”.

14Hiram het aan Salomo meer as vier ton goud gelewer.

15Vir die bou van die huis van die Here en die paleis, die terras en die muur van Jerusalem, en vir die herbou van die stede Hasor, Megiddo en Geser het koning Salomo van dwangarbeid gebruik gemaak.

16Die farao, die koning van Egipte, het Geser met sy leër ingeneem, dit aan die brand gesteek en die Kanaäniete wat die stad bewoon het, om die lewe gebring. Daarna het hy dit as bruidskat gegee vir sy dogter wat met Salomo getrou het.

17Salomo het Geser weer opgebou, en ook Bet-Goron-Onder, 18Baälat en Tamar in die woestyn, in die gebied van Juda; 19verder ook al die voorraadstede wat hy besit het, die stede vir die strydwamagte en die berede magte. Hy het ook al die bouwerk wat hy hom voorgeneem het, voltooi: dié in Jerusalem en ook dié op die Libanon en dwarsdeur die hele land waaroor hy geregeer het.

20Salomo het al die nie-Israeliete, die mense wat nog oor was van die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, 21afstammelinge van dié wat nie deur die Israeliete uitgeroei is nie en nog oor was in die land, opgeroep om dwangarbeid te doen. Dit is vandag nog so.

22Salomo het nie die Israeliete as arbeiders gebruik nie; hulle was sy soldate, sy lyfwag, sy amptenare, die aanvoerders van sy strydwabemannings, sy strydwamag en sy berede mag. 23Daar was ook nog die volgende getal uitvoerende beamptes oor wie koning Salomo beskik het: vyf honderd en vyftig wat gesag uitgeoefen het oor die werksmense.

24Nadat die dogter van die farao oorgetrek het van die Dawidstad af na die huis wat Salomo vir haar gebou het, het hy die terras gebou. 25Salomo het drie maal per jaar brandoffers en maaltydoffers gebring op die altaar wat hy vir die Here gebou het, en daarmee saam wierookoffers vir die Here gebrand. So het hy sy verantwoordelikheid in die tempel nagekom.

26Koning Salomo het ook skepe gebou in Esjon-Geber by Elat aan die kus van die Rietsee in Edom. 27Hiram het vir hom skepe gestuur en ervare seemanne. Hulle het saam met Salomo se manne 28na Ofir toe gevaar en daar vir koning Salomo meer as veertien ton goud gaan haal.

Die besoek van die koningin van Skeba

(Vgl. 2 Kron. 9:1-12)

1Die koningin van Skeba het gehoor wat van Salomo en die Naam van die Here vertel word en sy het toe self gekom om Salomo met moeilike vrae te toets. 2Sy het na Jerusalem toe gekom met 'n baie groot gevolg en ook kamele wat belaai was met kosbare kruie en 'n groot hoeveelheid goud en edelstene. Toe sy by Salomo kom, het sy met hom oor alles gepraat waaraan sy kon dink, 3en Salomo het vir haar 'n antwoord gehad op al haar vrae. Niks was vir die koning onverklaarbaar nie: hy kon haar op alles antwoord.

4Die koningin van Skeba het onder die indruk gekom van Salomo se wysheid, die tempel wat hy gebou het, 5die geregte op sy tafel, die manier waarop sy amptenare aangesit het, die bediening deur sy tafelbediendes, hulle monderings, sy skinkers en van die optog wanneer hy na die huis van die Here toe opgegaan het. Haar asem het daarvan weggeslaan. 6Sy het vir die koning gesê: “Wat ek in my land oor u en u wysheid gehoor het, is waar. 7Ek het nie geglo wat hulle vir my gesê het nie totdat ek gekom en myself oortuig het. Nou weet ek dat nie eers die helfte vir my vertel is nie. U het alles wat ek oor u wysheid en voortreflikheid gehoor het, ver oortref. 8Hoe bevoorreg is u mense en hoe bevoorreg is hierdie amptenare van u dat hulle gedurig in u diens staan en u wysheid aanhoor! 9Geloof sy u God, die Here, wat aan u soveel liefde bewys dat Hy u op die troon van Israel gesit het! Dit is omdat die Here Israel vir altyd liefhet dat Hy u as koning oor hulle aangestel het om die orde en die reg te handhaaf.”

10Sy het vir die koning meer as vier ton goud en 'n groot hoeveelheid kosbare kruie en edelstene gegee. Die kruie wat die koningin van Skeba vir koning Salomo gegee het, was meer as wat ooit die land ingekom het.

11Bowendien het die skepe van Hiram wat die goud uit Ofir gebring het, ook nog 'n groot hoeveelheid jenewerhout en edelstene gebring. 12Die koning het die jenewerhout gebruik vir relings by die huis van die Here en by die koninklike paleis, en vir die liere en harpe van die musikante. Daar is tot vandag toe nie sulke jenewerhout gesien nie.

13Vir die koningin van Skeba het koning Salomo alles gegee wat sy begeer en gevra het, buiten nog wat hy uit sy eie vir haar gegee het. Sy is toe terug na haar land toe, sy en haar gevolg.

Die rykdom, weelde en mag van Salomo

(Vgl. 2 Kron. 9:13-28)

14Salomo se jaarlikse inkomste aan goud het sowat drie en twintig ton beloop, 15behalwe nog wat die reisigers en handelaars en al die konings van Arabië en die Israelitiese goewerneurs ingebring het.

16Koning Salomo het twee honderd groot skilde van goud gemaak; hy het vir elke skild byna sewe kilogram goud gebruik. 17Hy het ook nog drie honderd klein skilde van goud gemaak; hier het hy sowat twee kilogram vir elke skild gebruik. Die koning het hulle opgestel in die Libanonsbosgebou.

18Verder het die koning 'n groot ivoortroon gemaak en dit met suiwer goud oorgetrek. 19Die troon het ses trappe gehad en die kopstuk agter was rond. Weerskante van die sitplek was daar armleunings, met 'n leeu langs elkeen. 20Twaalf leeus het op die ses trappe gestaan, ses aan elke kant. Daar is in geen ander koninkryk so iets gemaak nie.

21Al koning Salomo se drinkgerei was van goud. Alles wat in die Libanonsbosgebou gebruik is, was van fyngoud. Silwer was in Salomo se dae so volop dat dit nie as iets besonders beskou is nie. 22Die koning het 'n vloot gehad wat saam met dié van Hiram na Tarsis toe gevaar het. Om die drie jaar het die Tarsisvloot teruggekom, vol goud en silwer, ivoor, ape en bobbejane.

23Koning Salomo het al die konings van die aarde oortref in rykdom en wysheid. 24Die hele wêreld het geprobeer om hom te sien te kry en die wysheid wat God hom gegee het, aan te hoor. 25Elkeen het sy geskenk saamgebring: silwer- en goudware, mantels, wapenrusting, kosbare kruie, perde en muile. So het dit jaar vir jaar gegaan.

26Salomo het 'n mag van strydwaens en ruiters bymekaargebring. Hy het veertien honderd strydwaens en twaalf duisend ruiters gehad. Hy het hulle gestasioneer in die strydwaposte en by die paleis in Jerusalem. 27Silwer het hy in Jerusalem so alledaags soos klippe gemaak en seders soos die wildevyebome in die Laeveld. 28Perde is vir Salomo uit Egipte en Kewé ingevoer. Die handelaars wat deur die koning aangestel is, het hulle daar gaan koop vir die prys waarop ooreengekom is.

29Om 'n wa uit Egipte in te voer, het net minder as sewe kilogram silwer gekos, en 'n perd ongeveer een en 'n driekwart kilogram. Dieselfde pryse is aan die Hetitiese en die Aramese konings betaal. Die invoer het deur bemiddeling van die handelaars geskied.

1 KONINGS 10AFR83Maak oop in die Bybelleser

1My seun, neem aan wat ek jou sê,

maak wat ek jou voorskryf jou eie,

2hou jou ore oop vir die wysheid,

span jou in om te verstaan.

3Roep insig by,

vra na gesonde begrip.

4Soek dit soos jy silwer sou soek,

spoor dit op soos 'n verborge skat.

5Dan sal jy weet hoe om die Here te dien,

sal jy ontdek wat dit is om God te ken.

6Dit is die Here wat die wysheid gee,

uit sy mond kom die kennis en die insig.

7Hy laat eerlike mense sukses behaal

en Hy beskerm dié wat onberispelik lewe.

8Hy sien toe dat reg geskied,

Hy hou wag oor die pad van sy troue dienaars.

9As jy aanneem wat ek jou sê, sal jy insig kry

in wat regverdig en reg en billik is

en sal jy op die goeie pad bly.

10Die wysheid sal sy plek in jou lewe inneem,

kennis sal vir jou iets aangenaams word,

11oordeelkundigheid sal oor jou wag hou

en verstandigheid sal jou bewaak.

12Dit sal jou weghou van die verkeerde pad af

en van mense af wat verkeerde dinge verkondig,

13van dié af wat die regte paaie verlaat

om op donker paaie te loop.

14Hulle verheug hulle daarin om te doen wat sleg is

en juig die wandade van die slegte mens toe;

15hulle paaie is krom

en hulle koers is verkeerd.

16Die wysheid sal jou weghou van die slegte vrou af,

die vrou met die verleidelike praatjies,

17wat haar eie man verlaat

en die verbond van haar God vergeet het.

18Haar huis lei 'n mens na die dood toe,

haar spore bring jou by die dooies uit.

19Mense wat na haar toe gaan, kom nie een terug nie;

hulle kom nie weer op die paaie van die lewe nie.

20Loop jy liewer die pad van die goeie mense,

bly op die paaie van die regverdiges,

21want die opregtes sal die land bly bewoon,

dié wat onberispelik leef, sal ongehinderd gelaat word,

22maar slegte mense sal weggevee word uit die land,

bedrieërs sal uitgeroei word.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS