Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 112

1 KONINGS 1–5, SPREUKE 1

Bybelteks(te)

Dawid laat vir Salomo tot koning salf

1Koning Dawid was al baie oud en selfs as hulle hom goed toegemaak het, het hy nie warm geword nie. 2Sy amptenare sê toe vir hom: “Laat hulle vir U Majesteit 'n jongmeisie soek wat u kan bedien en oppas. Sy kan by u slaap, sodat u weer warm kan word.”

3Nadat hulle deur die hele gebied van Israel gaan soek het na 'n mooi meisie, het hulle vir Abisag, 'n meisie uit Sunem, gekry en haar na die koning toe gebring.

4Hierdie meisie was baie mooi en sy het die koning opgepas en versorg, maar die koning het nooit geslagsgemeenskap met haar gehad nie.

5Intussen het Adonia, seun van Dawid en sy vrou Gaggit, ewe hoogmoedig by homself gedink: ek gaan binnekort koning wees.

Hy skaf toe vir hom 'n strydwa met ruiters aan, en vyftig man om voor hom uit te hardloop.

6Sy vader het hom van kleins af nooit berispe of vir hom gevra: “Hoekom maak jy so?” nie. Adonia, die jonger broer van Absalom, was 'n baie mooi man. 7Hy het met Joab seun van Seruja en met die priester Abjatar onderhandel, en hulle het hom ondersteun. 8Maar die priester Sadok, Benaja seun van Jojada, die profeet Natan, Simeï, Reï en Dawid se lyfwagte was nie aan Adonia se kant nie.

9Adonia het skape, beeste en vetgemaakte kalwers geslag by Sogeletrots langs Rogelfontein en toe al die koning se seuns, sy broers, daarheen genooi, en ook al die manne van Juda wat in die koning se diens was. 10Maar hy het die profeet Natan, Benaja, die lyfwagte en sy broer Salomo nie genooi nie.

11Natan sê toe vir Batseba, Salomo se moeder: “Het jy gehoor Adonia seun van Gaggit het koning geword, en koning Dawid weet daar niks van nie! 12Laat ek jou nou goeie raad gee sodat jy jou eie lewe en jou seun Salomo s'n kan red. 13Gaan na koning Dawid toe en sê vir hom: ‘U Majesteit, u het mos vir my met 'n eed beloof my seun Salomo sal na u koning word en dit is hy wat op u troon sal sit. Hoe is dit dan dat Adonia nou koning geword het?’ 14En terwyl jy nog met die koning praat, sal ek agter jou inkom en die saak verder voer.”

15Toe het Batseba by die koning in sy kamer ingegaan. Die koning was baie oud, en Abisag die Sunemmitiese meisie was besig om die koning te versorg. 16Batseba het ingekom en voor die koning gebuig. Die koning sê toe: “Wat kan ek vir jou doen?”

17Sy sê vir hom: “U Majesteit, u het mos tog voor die Here u God vir my met 'n eed beloof dat my seun Salomo na u koning sal word, en dat dit hy is wat op u troon sal sit. 18Maar nou het Adonia koning geword sonder dat u iets daarvan weet. 19Hy het 'n klomp beeste en kalwers en skape geslag en hy het al die prinse en die priester Abjatar en vir Joab, die hoof van die leër, daarheen genooi. Maar vir Salomo het hy nie genooi nie. 20U Majesteit, die hele Israel kyk nou op na u om vir hulle aan te wys wie u troon ná u sal bestyg. 21Moet ek en my seun Salomo dan, nadat u in u graf gelê is, as misdadigers behandel word?”

22Terwyl sy nog met die koning praat, kom die profeet Natan daar aan. 23Iemand sê toe vir die koning: “Hier is die profeet Natan.”

Natan kom toe nader en buig diep voor die koning 24en sê: “U Majesteit, het u ooit gesê Adonia moet ná u koning wees en dit is hy wat op u troon moet sit? 25Hy het vandag gegaan en 'n klomp beeste en kalwers en skape geslag, en hy het al die prinse en die leërhoofde en die priester Abjatar genooi. Hulle eet en drink daar saam met hom en hulle roep: ‘Lank lewe koning Adonia!’ 26Maar vir my en die priester Sadok en Benaja seun van Jojada, en Salomo het hulle nie genooi nie. 27As hierdie optrede met u toestemming plaasvind, dan het u ons nie ingelig oor wie ná u op u troon moet sit nie.”

28Toe sê koning Dawid: “Roep vir Batseba hier na my toe.”

Sy het nader gekom en voor die koning gaan staan. 29Toe lê die koning 'n eed af en sê: “So seker as die Here leef wat my uit alle benoudheid verlos het: 30soos ek vir jou met 'n eed voor die Here die God van Israel bevestig het dat jou seun Salomo ná my koning sal word, en dat hy in my plek op die troon sal sit, so doen ek dit nou weer.”

31Batseba het voor die koning gekniel en gebuig en sy het gesê: “Mag koning Dawid baie lank lewe.”

32Toe gee koning Dawid opdrag: “Gaan roep vir my die priester Sadok en die profeet Natan en Benaja seun van Jojada.”

Toe hulle by die koning kom, 33sê hy vir hulle: “Vat my lyfwagte saam met julle en laat my seun Salomo op my eie muil ry. Vat vir Salomo na die Gihonfontein toe 34en laat die priester Sadok en die profeet Natan hom daar tot koning oor Israel salf. Dan moet julle die ramshoring blaas en roep: ‘Lank lewe koning Salomo!’ 35Julle moet agter hom aangaan, en hy moet binnegaan en op my troon gaan sit, want dit is hy wat my as koning opvolg. Ek gee opdrag dat hý heerser moet wees van Israel en Juda.”

36Benaja seun van Jojada sê toe: “So is dit, en mag die Here u God ook so sê. 37Mag Hy by Salomo wees soos Hy by u was. Mag Hy die heerskappy van Salomo nog groter maak as koning Dawid s'n.”

38Die priester Sadok, die profeet Natan en Benaja seun van Jojada en die koninklike lyfwag het toe so gemaak. Hulle het Salomo op koning Dawid se muil laat ry en hom by Gihonfontein gebring. 39Die priester Sadok het 'n horing vol olie uit die heiligdom saamgebring en hy het vir Salomo gesalf. Toe blaas hulle die ramshoring, en die mense roep: “Lank lewe koning Salomo!”

40Hulle gaan toe almal agter hom aan terwyl hulle op fluite blaas en juig dat die aarde daarvan dreun.

41Adonia en sy gaste was net klaar met eet toe hulle dit hoor. Toe Joab die ramshoring hoor, vra hy: “Wat is die stad so rumoerig?”

42Hy het nog gepraat toe Jonatan seun van die priester Abjatar daar aankom. Adonia sê toe vir hom: “Kom nader. Jy is mos 'n wakker man. Jy bring seker goeie nuus.”

43Jonatan het vir Adonia geantwoord: “Inteendeel! Koning Dawid het vir Salomo koning gemaak! 44Die koning het die priester Sadok, die profeet Natan, Benaja seun van Jojada, en die koninklike lyfwag saam met hom gestuur. Hulle het hom op die koning se muil laat ry, 45en die priester Sadok en die profeet Natan het hom by Gihonfontein tot koning gesalf. Daarvandaan het hulle met 'n gejuig teruggegaan. Dit is die rumoer wat julle in die stad gehoor het. 46Salomo sit nou op die troon. 47Die amptenare van die koning het ook gekom om koning Dawid geluk te wens. Hulle het gesê: ‘Mag u God vir Salomo nog beroemder maak as vir u en sy regering nog roemryker as dié van u.’ Die koning het op sy bed gekniel 48en gesê: Aan die Here die God van Israel kom die lof toe, Hy wat gegee het dat daar vandag iemand op my troon sit en dat my eie oë dit kan sien.”

49Toe het die gaste van Adonia almal verskrik opgespring en gemaak dat hulle wegkom. 50Omdat Adonia bang was vir Salomo, het hy aan die horings van die altaar gaan vashou. 51Iemand het vir Salomo kom vertel: “Adonia is bang vir u, koning Salomo. Hy klou aan die horings van die altaar vas en hy sê: Koning Salomo moet eers vir my met 'n eed bevestig dat hy my nie sal doodmaak nie.”

52“As hy hom goed gedra,” sê Salomo toe, “sal daar nie aan 'n haar op sy kop geraak word nie. Maar as hy kwaad doen, moet hy dood.”

53Koning Salomo het beveel dat hulle hom by die altaar moet gaan haal. Toe hy by koning Salomo kom, het Adonia voor hom gebuig. En Salomo sê vir hom: “Gaan bly by jou huis!”

Dawid se laaste bevele

1Toe Dawid se einde nader, het hy sy seun Salomo beveel: 2“Noudat ek die pad van alle mense moet gaan, moet jy sterk wees en soos 'n man optree. 3Hou jou aan wat die Here jou God jou voorskryf en lewe daarvolgens. Gehoorsaam sy voorskrifte, sy gebooie, sy bepalings en sy verordenings soos dit opgeskryf is in die wet van Moses. Dan sal jy voorspoedig wees in alles wat jy doen en oral waar jy gaan. 4Dan sal die Here sy beloftes vervul. Hy het vir my gesê: ‘As jou nakomelinge nougeset leef en met hart en siel aan My getrou bly, sal daar altyd een uit jou nageslag as koning oor Israel regeer!’

5“Jy weet self wat Joab seun van Seruja my aangedoen het, wat hy gedoen het met die twee leërhoofde van Israel, met Abner seun van Ner en met Amasa seun van Jitra: hy het hulle vermoor, hy het hulle in vredestyd doodgemaak asof daar oorlog was. Hy het hulle onskuldige bloed op die gordel om sy lyf en op die skoene aan sy voete laat spat. 6Doen met hom soos jy dit goedvind. Moenie sy lewe spaar net omdat hy oud is nie.

7“Jy moet goed wees vir die seuns van Barsillai van Gilead. Laat hulle van jou tafel af eet, want hulle het vir mý kos gebring toe ek vir jou broer Absalom gevlug het.

8“Daar is ook nog Simeï seun van Gera die Benjaminiet, uit Bagurim. Hy het my vreeslik gevloek toe ek die dag na Maganajim toe gegaan het en ons mekaar by die Jordaan teëgekom het. Ek het vir hom voor die Here met 'n eed bevestig dat ek hom nie om die lewe sal bring nie, 9maar jy moet hom nou nie verskoon nie. Jy is 'n wyse man en jy sal weet wat om met hom te maak dat hy met die dood gestraf word al is hy al oud.”

10Dawid is oorlede, en hy is begrawe in die Dawidstad. 11Die duur van sy regering oor Israel was veertig jaar. In Hebron was hy sewe jaar lank koning, en in Jerusalem drie en dertig jaar. 12Salomo het sy pa se troon bestyg en 'n stewige houvas op sy koningskap gekry.

Adonia wil met Abisag trou

13Adonia seun van Gaggit het na Batseba, Salomo se ma, toe gegaan. Sy het vir hom gevra: “Kom jy in vrede?”

“Ja,” sê hy, 14“ek kom net met u praat.”

“Praat maar,” sê sy.

15Hy sê toe: “U weet self dat die koningskap myne sou word, en dat die hele Israel na my opgesien het om te regeer. Maar dit het anders verloop, die Here het dit so bestem dat my broer koning geword het. 16Ek wil u nou net een guns vra, en u moet my dit nie weier nie.”

“Vra maar,” sê sy.

17“Koning Salomo sal mos na u luister,” sê hy toe. “Vra hom asseblief dat hy vir my die Sunemmitiese meisie Abisag as vrou gee.”

18“Goed,” sê Batseba, “ek sal jou versoek aan die koning oordra.”

19Toe Batseba by koning Salomo binnekom om Adonia se versoek te gaan stel, het Salomo opgestaan en voor haar gebuig. Hy gaan toe weer op sy troon sit en laat vir die koninginmoeder 'n stoel aan sy regterkant naderbring om op te sit.

20Sy sê: “Ek wil 'n klein gunsie van jou vra. Moet my dit nie weier nie.”

“My ma kan maar vra, ek sal nie vir haar nee sê nie,” het hy geantwoord.

21Sy sê toe: “Laat jou broer Adonia tog vir Abisag die Sunemmitiese meisie as vrou kry.”

22Toe sê koning Salomo vir sy ma: “Hoekom vra u dat hy vir Abisag moet kry? U kan dan net so wel die hele koningskap vir hom vra, want hy is my ouer broer, en die priester Abjatar en Joab seun van Seruja steun hom!”

23Toe het koning Salomo 'n eed voor die Here afgelê: “Mag God my met die dood straf as Adonia nie met sy lewe hiervoor boet nie! 24So seker as die Here leef, Hy wat my koning laat word het en my die troon van my pa laat bestyg het, en vir my 'n koningshuis gevestig het soos Hy beloof het, net so seker moet Adonia vandag nog dood!”

25Koning Salomo het vir Benaja seun van Jojada gestuur en dié het vir Adonia om die lewe gebring.

Abjatar word ontslaan

26Vir die priester Abjatar het die koning gesê: “Gaan na jou grond toe by Anatot! Jy moes eintlik ook doodgemaak gewees het, maar ek sal jou nie nou doodmaak nie, omdat jy die ark van die Here voor my pa uit gedra het, en omdat jy soveel saam met hom deurgemaak het.”

27Salomo het vir Abjatar ontslaan, sodat hy nie meer priester van die Here was nie. So het die oordeel wat die Here by Silo oor Eli se nageslag uitgespreek het, in vervulling gegaan.

Joab word om die lewe gebring

28Joab, wat 'n ondersteuner van Adonia was maar nie destyds vir Absalom gesteun het nie, het hiervan te hore gekom. Hy het na die heiligdom van die Here toe gevlug en daar die horings van die altaar vasgegryp. 29Toe koning Salomo verneem dat Joab na die heiligdom toe gevlug het en daar by die altaar is, het hy vir Benaja seun van Jojada beveel: “Gaan maak hom dood!”

30Benaja het na die heiligdom toe gegaan en vir hom gesê: “Die koning sê jy moet uitkom!”

Maar hy sê: “Nee, ek wil hiér sterf.”

Benaja het toe eers aan die koning gaan rapporteer wat Joab gesê het.

31Die koning sê toe vir Benaja: “Nes hy wil. Maak hom dood en begrawe hom. So sal jy my en my familie onthef van die blaam vir die moorde wat Joab gepleeg het. 32Die Here laat hom nou sy verdiende straf kry. Hy het twee manne doodgemaak sonder die medewete van my pa: Abner, seun van Ner en hoof van die leër van Israel, en Amasa, seun van Jitra en hoof van die leër van Juda, albei onskuldiger en beter mense as hy. 33Laat die skuld vir hulle dood vir altyd op Joab en sy nageslag rus, en mag die Here vir altyd vrede gee aan Dawid en sy nageslag en aan sy hele familie en aan sy troon.”

34Toe het Benaja seun van Jojada teruggegaan en vir Joab daar aangeval en hom doodgemaak. Hy is begrawe by sy huis in die veld.

35Koning Salomo het vir Benaja seun van Jojada in Joab se plek aangestel oor die leër, en in die plek van Abjatar het hy vir Sadok as priester aangestel.

Simeï word doodgemaak

36Die koning het vir Simeï laat haal en vir hom gesê: “Jy mag vir jou 'n huis in Jerusalem bou en hier woon, maar jy mag nie uit die stad gaan nie, dit maak nie saak waarheen nie. 37Die dag as jy hier uitgaan en jou voete oor Kedronspruit sit, is jy dood. Dit moet jy beslis weet. Dit sal jou eie skuld wees.”

38Simeï sê toe vir die koning: “Dit is goed so. Ek sal die bevel van die koning eerbiedig.”

Simeï het toe 'n hele tyd lank net in Jerusalem gebly, 39maar na drie jaar het twee van sy slawe weggeloop na koning Akis van Gat, seun van Maok, toe. Toe Simeï hoor dat sy slawe in Gat is, 40het hy sy donkie opgesaal en na Gat toe gegaan om sy slawe daar by Akis te soek. Simeï het net gegaan en sy slawe uit Gat uit teruggebring, 41maar toe Salomo hoor dat Simeï uit Jerusalem na Gat toe was en terug is, 42het hy hom laat kom en vir hom gesê: “Ek het jou dan 'n eed voor die Here laat aflê en jou gewaarsku: ‘Die dag as jy hier uitgaan, dit maak nie saak waarheen nie, is jy dood; dit moet jy beslis weet.’ Jy het nog vir my gesê: ‘Dit is goed so. Ek het gehoor.’

43“Waarom het jy jou dan nie aan hierdie eed voor die Here en die bevel wat ek jou gegee het, gehou nie?”

44Die koning het verder vir Simeï gesê: “Jy weet in jou hart watter leed jy my pa aangedoen het. Mag die Here daardie leed op jou eie kop laat afkom, 45maar mag dit met my voorspoedig gaan en mag die troon van Dawid vir altyd bestendig wees voor die Here.”

46Die koning het vir Benaja seun van Jojada gestuur, en dié het vir Simeï doodgemaak.

47So het Salomo 'n stewige houvas op die koningskap gekry.

Salomo trou met die farao se dogter

1Salomo het hom verbind aan die familie van die farao, die koning van Egipte. Hy het getrou met die dogter van die farao en haar in die Dawidstad laat woon totdat hy sy paleis en die tempel van die Here en die muur rondom die stad klaar gebou het.

Salomo gaan offer op Gibeon

(Vgl. 2 Kron. 1:2-13)

2In daardie dae het die volk nog altyddeur op die hoogtes geoffer, omdat daar nog nie 'n tempel vir die Naam van die Here opgerig was nie. 3Salomo het sy liefde vir die Here betoon deur alles te doen wat Dawid, sy pa, hom voorgeskryf het. Hy het egter nog op die hoogtes offers gebring.

4Koning Salomo het na Gibeon toe gegaan om daar te offer, omdat die vernaamste hoogte daar was. Salomo het op daardie altaar duisend brandoffers gebring.

5Daar in Gibeon het die Here die nag in 'n droom aan Salomo verskyn en vir hom gevra: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou gee?”

6Toe sê Salomo: “U het groot trou aan my vader Dawid bewys. Hy was in sy lewe getrou en gehoorsaam en opreg teenoor U. U het hierdie groot trou aan hom bewys en vir hom 'n seun gegee wat vandag op sy troon sit. 7Here my God, U het my koning gemaak in my vader Dawid se plek, maar ek is nog jonk en onervare 8en ek moet regeer oor die volk wat deur U uitgekies is, 'n groot volk, te veel om te tel. 9Gee my die gehoorsaamheid aan U dat ek u volk reg sal regeer en in alles insig sal hê, want wie kan uit homself hierdie groot volk van U regeer!”

10Die Here het dit goedgevind dat Salomo dít gevra het. 11Hy het vir hom gesê: “Omdat dít jou versoek is en jy nie vir jou 'n lang lewe, of rykdom, of die dood van jou vyande gevra het nie, maar insig in wat reg is, 12sal Ek aan jou versoek voldoen. Ek gee aan jou wysheid en insig soos niemand vóór jou gehad het of ná jou sal hê nie. 13Ook wat jy nie gevra het nie, gee Ek aan jou: rykdom en aansien, sodat daar onder die konings niemand soos jy sal wees solank jy leef nie. 14As jy jou in jou optrede hou aan my voorskrifte en gebooie soos jou vader Dawid gedoen het, sal Ek jou ook nog 'n lang lewe gee.”

15Toe Salomo wakker word, het hy besef dat die Here in 'n droom aan hom verskyn het. Hy is toe terug na Jerusalem toe, en daar het hy voor die verbondsark van die Here gaan staan en brandoffers en maaltydoffers gebring. Hy het ook 'n feesmaal vir al sy amptenare gegee.

Salomo se raad aan twee prostitute

16Op 'n keer het twee prostitute met 'n saak na die koning toe gekom.

17“U Majesteit,” sê die een vrou, “ek en hierdie vrou woon in dieselfde huis, en sy was by toe ek 'n kind in die wêreld gebring het. 18Drie dae daarna het sy ook 'n kind gekry. Ons was saam in die huis en daar was niemand anders nie; net ons twee was daar. 19Een nag is hierdie vrou se seuntjie dood; sy het hom doodgelê. 20Sy staan toe in die middel van die nag op en vat my seuntjie langs my weg terwyl ek slaap, en lê hom by haar neer, en haar seuntjie wat dood is, lê sy by my neer. 21Toe ek die môre opstaan om die kind te laat drink, toe is hy dood! Maar toe ek hom later in die môre goed bekyk, is dit nie my baba nie.”

22Toe sê die ander vrou: “Nee, die een wat lewe, is myne. Dis jou seuntjie wat dood is!”

En die eerste vrou sê: “Dis jou seuntjie wat dood is! Die een wat lewe, is myne!”

So het hulle voor die koning gestaan en stry.

23Die koning redeneer toe by homself: die een sê: “Die seuntjie wat lewe, is myne, joune is dood,” en die ander sê: “Nee, jou seuntjie is dood; die een wat lewe, is myne.”

24Toe beveel die koning: “Bring vir my 'n swaard!”

Hulle het die swaard gebring, 25en die koning het gesê: “Sny die kind wat lewe in twee stukke en gee vir elkeen van hulle 'n helfte!”

26Maar die ma van die kind wat lewe, begin toe by die koning smeek, want haar hart het inmekaar gekrimp oor die lot van haar baba, en sy sê: “Asseblief, U Majesteit, gee die seuntjie wat lewe vir haar, moet hom tog net nie doodmaak nie.”

Maar die ander vrou sê: “As ek hom nie kry nie, kry jy hom ook nie. Sny hom deur!”

27Toe sê die koning: “Moenie die kind doodmaak nie, maar gee hom vir die een dáár, sý is die ma!”

28Die hele Israel het gehoor van die uitspraak wat die koning gelewer het, en hulle het hoë agting vir die koning gekry, want dit het vir hulle duidelik geword dat hy van God self wysheid ontvang het om regsake uit te wys.

Salomo se hoofamptenare

1Salomo was koning oor die hele Israel. 2Sy hoofamptenare was die volgende:

Asarja seun van Sadok was hoëpriester;

3Eligoref en Agija, seuns van Sisa, was administratiewe beamptes;

Josafat seun van Agilud was die hoof uitvoerende beampte;

4Benaja seun van Jojada was hoof van die leër.

Sadok en Abjatar was priesters. 5Asarja seun van Natan was hoof van die streekbestuurders; Sabud seun van Natan was 'n priester en persoonlike raadgewer van die koning.

6Agisar was paleisopsigter;

Adoniram seun van Abda was in beheer van die dwangarbeid.

Salomo se streekbestuurders

7Salomo het twaalf streekbestuurders in die hele Israel aangestel met die oog op die onderhoud van die koning en sy hof. Elkeen was verantwoordelik vir een maand per jaar se onderhoud.

8Hulle name was:

Ben-Gur in die Efraimsberge;

9Ben-Deker in Makas, Saälbim, Bet-Semes en Elon-Bet-Ganan;

10Ben-Gesed in Arubbot, dit het Soko en die hele Geferstreek ingesluit;

11Ben-Abinadab in die hele berggebied van Dor; sy vrou was Tafat 'n dogter van Salomo;

12Baäna seun van Agilud in Taänak en Megiddo en ook in Bet-San wat grens aan Saretan onderkant Jisreël; dit is dus van Bet-San af tot by Abel-Megola en tot anderkant Jokmoam;

13Ben-Geber in Ramot in Gilead; hierby was ingereken die tentdorpe van Jaïr seun van Manasse in Gilead, en ook die Argobgebied in Basan, sestig groot stede met mure rondom en poortgrendels van brons;

14Aginadab seun van Iddo in Maganajim;

15Agimaäs in Naftali; hy was getroud met Basemat, ook 'n dogter van Salomo;

16Baäna seun van Gusai in Aser en Alot;

17Josafat seun van Paruag in Issaskar;

18Simeï seun van Ela in Benjamin;

19Geber seun van Uri in die Gileadstreek, dit is die vroeëre gebied van die Amoritiese koning Sihon, en van koning Og van Basan; in hierdie hele streek was daar net die een bestuurder.

Voorspoed tydens Salomo se regering

20Juda en Israel was so baie soos die sand aan die see. Hulle het volop te eet en te drink gehad, en hulle was gelukkig. 21Salomo het geheers oor al die koninkryke van die Eufraatrivier af tot by die gebied van die Filistyne, dit wil sê tot by die grens van Egipte. Hulle het belasting betaal en was onderhorig aan Salomo solank hy geleef het.

22Salomo se daaglikse kosvoorrade was vyf ton fynmeel en tien ton broodmeel, 23tien vetgevoerde beeste, twintig veldbeeste en honderd stuks kleinvee, behalwe nog takbokke, gemsbokke, ribbokke en vetgemaakte pluimvee.

24Salomo het geheers oor alles wes van die Eufraatrivier, van Tifsag af tot by Gasa, oor al die konings wes van die Eufraat. Na alle kante toe was daar vrede, 25en solank Salomo geleef het, het die Judeërs en die Israeliete van Dan af tot by Berseba veilig gewoon, elkeen met sy eie wingerdstok en sy eie vyeboom om onder te sit.

26Salomo het veertig duisend trekperde op stal gehad vir sy strydwaens en ook twaalf duisend ryperde.

27Die streekbestuurders het elkeen een maand per jaar vir koning Salomo en almal wat van sy tafel af geëet het, van kos voorsien. Hulle het gesorg dat niks ontbreek nie. 28Hulle het ook die gars en die hooi vir die ryperde en die trekperde gebring op die plekke wat met elkeen gereël was.

Salomo se wysheid

29God het aan Salomo baie groot wysheid en verstand gegee en insig in soveel sake as wat daar sand aan die see is. 30Salomo het meer wysheid gehad as al die ander mense, van die ooste af tot in Egipte. 31Hy het meer wysheid gehad as enigiemand anders, meer as Etan die Esragiet, en meer as Heman, Kalkol en Darda, seuns van Magol. Sy naam het bekend geraak onder al die nasies in die omtrek. 32Hy het drie duisend spreuke gemaak en duisend en vyf liedere gedig. 33Hy het verse gemaak oor bome en plante, van die seders op die Libanon tot die hisop wat uit die mure groei; hy het gedig oor diere, voëls, reptiele en visse.

34Van oral af het daar mense gekom om na Salomo se wysheid te luister, afgesante van al die konings wat gehoor het dat hy so 'n wyse man is.

Reëlings vir die bou van die tempel. Salomo en Hiram sluit 'n verdrag

(Vgl. 2 Kron. 2:1-16)

1Koning Hiram van Tirus het ook gesante na Salomo toe gestuur toe hy hoor dat hulle hom tot koning gesalf het in die plek van sy pa, want Hiram was altyd baie geheg aan Dawid.

2Toe rig Salomo die volgende versoek aan Hiram: 3“Dit is aan u bekend dat Dawid, my pa, nie 'n tempel vir die Naam van die Here sy God kon bou nie, omdat hy so dikwels in oorlog betrokke was. Die Here het hom die oorwinning oor al sy vyande gegee 4en nou het die Here ook vir my aan alle kante rus gegee. Daar is nêrens enige teëstander of gevaar wat my bedreig nie. 5Daarom het ek nou besluit om 'n tempel vir die Naam van die Here my God te bou. Dit sal die vervulling wees van die Here se belofte aan my pa toe die Here gesê het: ‘Jou seun wat Ek in jou plek sal laat regeer, hý sal 'n tempel vir my Naam bou.’ 6My versoek is nou dat u vir my sederhout op die Libanon laat kap. My eie arbeiders sal saam met u arbeiders werk. Ek sal ook aan u die loon betaal wat u vir u arbeiders vasstel, want soos u weet, het ons nie mense wat die houtkappery ken soos die Sidoniërs nie.”

7Hiram was baie bly toe hy hierdie versoek van Salomo ontvang. Hy het uitgeroep: “Geloof sy die Here vandag, omdat Hy vir Dawid 'n wyse seun gegee het om koning te wees oor hierdie groot volk!”

8Hiram het toe vir Salomo geantwoord: “Ek het u bestelling ontvang. Ek sal al die seder- en sipreshout lewer wat u wil hê. 9My werkers sal dit van die Libanon af see toe bring. Daar sal ek dit in vlotte bind en na die afgesproke plek toe laat bring en weer losmaak. U kan dit daarvandaan verder vervoer. U moet dan aan my kos voorsien vir my huishouding soos ek dit nodig kry.”

10So het Hiram aan Salomo seder- en sipreshout gelewer, soveel as wat hy nodig gehad het, 11en Salomo het jaar vir jaar aan Hiram drie duisend drie honderd ton koring gelewer vir die onderhoud van sy huishouding, en ook vier duisend vier honderd liter van die suiwerste olyfolie.

12Die Here het aan Salomo wysheid gegee soos Hy belowe het. Daar was 'n goeie verhouding tussen Hiram en Salomo, en hulle het 'n verdrag gesluit.

13Koning Salomo het vir die hele Israel dwangarbeid ingestel en so 'n arbeidsmag van dertig duisend man bymekaargebring. 14Hy het om die beurt elke maand tien duisend na die Libanon toe gestuur, sodat hulle elkeen een maand op die Libanon was en twee maande tuis. Adoniram het beheer gehad oor die dwangarbeid.

15Salomo het sewentig duisend draers en tagtig duisend klipkappers in die berge aan die werk gehad, 16behalwe nog die drie duisend drie honderd opsigters oor die werk, wat moes toesien dat die arbeiders die werk doen. 17Die koning het beveel dat hulle groot klip van goeie gehalte moes uitkap, sodat die fondamente van die tempel met gekapte klip gelê kon word. 18Die bouers van Salomo en van Hiram en die mense van Gebal het dit verder reggekap en dan die hout en die klippe reg gesit vir die bou van die tempel.

1Spreuke van Salomo seun van Dawid, koning van Israel.

2Dié spreuke is bedoel

om mense wysheid te leer en hulle te onderrig

sodat hulle sal weet

wanneer iemand verstandig praat.

3So sal hulle 'n behoorlike opvoeding ontvang en 'n sin vir regverdigheid, reg en billikheid.

4Wie nog nie kennis het nie, sal verstandig word,

jongmense sal leer om met kennis en oorleg op te tree.

5Selfs wyse mense kan na die spreuke luister

en so tot dieper insig kom.

Wie reeds die nodige kennis het, kan die kuns aanleer

6om spreuke en sinspelings,

woorde en raaisels van wyse mense te begryp.

7Kennis begin met die dien van die Here;

dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag.

8My seun, jy moet luister na die onderrig

wat jou vader jou gee;

moenie wat jou moeder jou leer,

verontagsaam nie:

9dit sal jou lewe versier soos 'n krans jou kop

en 'n kettinkie jou hals.

10As sondaars jou wil verlei, my seun,

moenie toegee nie.

11Hulle sal vir jou sê:

“Kom ons gaan lê iemand voor en vermoor hom,

ons oorval sommer iemand, al het hy ons niks gedoen nie;

12kom ons laat mense verdwyn soos die dood dit doen,

ons maak gesonde mense dood!

13Ons vat al wat waardevol is

en ons maak huise vol met wat ons roof.

14Jy kan deel in die buit,

dit sal ons almal s'n wees.”

15Moenie met hulle saamgaan nie, my seun,

bly van hulle pad af;

16hulle is daarop uit om kwaad te doen,

hulle wil gaan moord pleeg.

17'n Voël wat 'n net sien wat vir hom gespan is,

vlieg nie daarin vas nie,

18maar hierdie mense span vir hulleself 'n net,

hulle gaan hulle ondergang met oop oë tegemoet.

19So gaan dit met elkeen wat vat wat hom nie toekom nie:

rowery kos hom sy lewe.

20Wysheid is 'n vrou wat langs die straat staan en roep,

sy laat haar stem hoor op die stadspleine,

21sy roep bo die rumoer uit,

by die ingange van die stadspoorte sê sy wat sy te sê het:

22“Julle onkundiges,

hoe lank gaan julle nog vashou aan julle onkunde,

gaan die grootpraters hulle pratery geniet

en die swape 'n afkeer hê van kennis?

23As julle luister na my teregwysing,

gee ek julle my wysheid in oorvloed

en leer ek julle my woorde begryp.

24“Ek het geroep en julle wou nie luister nie,

ek het my hand uitgesteek en julle het dit nie gegryp nie.

25Julle het my raad alles in die wind geslaan,

julle wou julle nie laat teregwys nie.

26Daarom sal ek lag as die ongeluk julle tref,

ek sal met julle spot wanneer die angs julle oorval,

27wanneer daar nood en kwelling oor julle kom.

Die angs sal soos 'n storm oor julle kom,

die ongeluk sal julle tref soos 'n orkaan.

28Dán sal julle my roep en ek sal nie antwoord nie,

julle sal my soek en my nie kry nie.

29Julle het 'n afkeer van kennis gehad,

julle het geweier om die Here te dien,

30julle het my raad verontagsaam

en elke teregwysing van my geminag.

31Julle sal die vrugte van julle optrede pluk,

julle sal van julle eie planne walg.

32“Die onkundiges se dwaling kos hulle die dood,

die dwase word vernietig deur hulle selfversekerdheid,

33maar wie na my luister, sal veilig wees

en hoef geen ramp te vrees nie.”

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS