Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 114

1 KONINGS 11–15, SPREUKE 3

Bybelteks(te)

Die vrouens van Salomo

1Koning Salomo was lief vir baie uitlandse vrouens. Behalwe die dogter van die farao het hy ook vrouens uit die Moabiete, Ammoniete, Edomiete, Sidoniërs en Hetiete gehad. 2Dit was die nasies waarvan die Here vir die Israeliete gesê het: “Julle mag nie met hulle omgaan nie, en julle mag nie toelaat dat hulle met julle omgaan nie, want hulle sal julle net verlei om hulle gode te aanbid.”

Salomo het egter juis op hierdie vrouens verlief geraak.

3Hy het sewe honderd vrouens uit vorstelike families gehad, en ook nog drie honderd byvroue. Dit was sy vrouens wat hom verlei het. 4Veral in sy ouderdom het Salomo se vrouens hom verlei om ander gode te dien. Toe het hy die Here sy God nie meer met soveel toewyding gedien soos sy pa nie. 5Hy het Astarte, die godin van die Sidoniërs, en Milkom, die afskuwelike god van die Ammoniete, gedien.

6Salomo het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het nie aan die Here getrou gebly soos Dawid, sy pa, nie.

7Salomo het selfs op die berg teenoor Jerusalem 'n hoogte gebou vir die diens van Kemos, die afskuwelike god van Moab, en vir Molek, die afskuwelike god van die Ammoniete. 8Dieselfde ding het hy gedoen vir al sy uitlandse vrouens, sodat hulle wierook kon brand en offers kon bring vir hulle gode.

Die aankondiging van die rykskeuring

9Die toorn van die Here het teen Salomo ontvlam omdat hy nie meer die Here die God van Israel gedien het nie. Tevore het God twee keer aan hom verskyn 10en hom uitdruklik beveel dat hy nie ander gode mag dien nie. Salomo het hom egter nie gehou aan die opdrag van die Here nie. 11Daarom het die Here nou vir hom gesê: “Omdat dit so is dat jy jou nie hou aan my verbond en aan die voorskrifte wat Ek jou gegee het nie, sal Ek die koningskap van jou afskeur en vir 'n onderdaan van jou gee. 12Ter wille van jou vader Dawid sal Ek dit wel nie tydens jou lewe doen nie, maar Ek gaan dit tydens jou seun se lewe doen. 13Ek sal ook nie die hele koninkryk wegneem nie, maar ter wille van my dienaar Dawid en ter wille van Jerusalem wat Ék uitverkies het, gaan Ek een stam vir jou seun laat oorbly.”

14Die Here het iemand beskik wat teen Salomo in opstand gekom het. Hy was Hadad die Edomiet uit die koninklike familie van Edom. 15Toe Dawid vroeër teen Edom geveg het, het Joab, die hoof van die leër, die gesneuweldes gaan begrawe nadat hy al die mans in Edom doodgemaak het. 16Dit het Joab en die hele Israel ses maande gekos om al die mans in Edom om die lewe te bring. 17Hadad en 'n aantal Edomitiese mans, almal uit die hofhouding van sy pa, het egter in die rigting van Egipte gevlug. Hadad was toe nog 'n jong seun. 18Hulle het deur Midian getrek tot in Paran. Van daar af het hulle 'n aantal mans met hulle saamgevat en verder getrek tot hulle in Egipte by die farao, die koning van Egipte, aangekom het. Dié het vir Hadad 'n huis gegee, hom van voedsel voorsien en aan hom 'n stuk grond toegeken.

19Die farao het so baie van Hadad gehou dat hy hom laat trou het met sy skoonsuster, die suster van koningin Tagpenes. 20Sy het vir Hadad 'n seun in die wêreld gebring met die naam Genubat. Tagpenes het die seun in die farao se paleis versorg, waar hy saam met die farao se kinders grootgeword het.

21Toe Hadad in Egipte verneem dat Dawid te sterwe gekom het en dat Joab, die hoof van die leër, ook dood was, het hy vir die farao gesê: “Laat my toe om na my land toe terug te gaan.”

22Die farao sê toe vir hom: “Kom jy iets kort hier by my dat jy nou skielik na jou land toe wil teruggaan?”

“Nee,” sê hy, “maar laat my asseblief maar gaan.”

23God het nog iemand teen Salomo in opstand laat kom: Reson seun van Eljada, 'n onderdaan van koning Hadad-Eser van Soba wat vir die koning gevlug het.

24Reson het 'n groep mans om hom versamel, en hy was die leier van die bende. In die tyd toe Dawid die Arameërs uitgeroei het, het hulle na Damaskus toe gevlug. Hulle het in Damaskus gaan woon en Reson daar tot koning uitgeroep. 25Hy was vyandig teen Israel solank Salomo geleef het. Dit was nog behalwe die kwaad wat Hadad gedoen het. Reson was koning van Aram en hy het Israel verafsku.

26Daar was ook Jerobeam seun van Nebat, 'n Efratiet uit Sereda. Sy ma was Serua, 'n weduwee. Hy was 'n onderdaan van Salomo wat teen die koning in opstand gekom het. 27Dit het so gebeur: Salomo was besig om die terras te bou waarmee hy die opening in die muur van die Dawidstad toegemaak het. 28Jerobeam was 'n gesiene landsburger, en toe Salomo sien dat hy bekwaam is, het hy die toesig oor die dwangarbeid van die Josefstam aan hom opgedra.

29Dit was in hierdie tyd dat Agija, 'n profeet uit Silo, vir Jerobeam op die pad buite Jerusalem teëgekom het. Agija het 'n nuwe mantel aangehad, en terwyl net hulle twee daar in die veld was, 30vat Agija die nuwe mantel wat hy aangehad het, skeur dit in twaalf stukke 31en sê vir Jerobeam: “Vat vir jou tien stukke, want so sê die Here die God van Israel: So gaan Ek die koningskap afskeur van Salomo af. Ek gaan vir jou tien stamme gee; 32die orige stam sal syne bly ter wille van my dienaar Dawid, en ter wille van Jerusalem, die stad wat Ek tussen al die stamme van Israel uitgekies het. 33Maar Salomo het My verlaat en Astarte die godin van die Sidoniërs, Kemos die god van Moab, en Milkom die god van die Ammoniete, aanbid. Hy het nie meer geleef volgens my wil en gedoen wat reg is in my oë nie of my voorskrifte en bepalings nagekom soos sy vader Dawid gedoen het nie. 34Ek sal nogtans nie die hele koningskap van hom wegvat nie. Ek sal hom sy lewe lank koning laat bly ter wille van my dienaar Dawid wat Ek uitverkies het en wat hom aan my gebooie en voorskrifte gehou het, 35maar Ek gaan die koningskap van sy seun af wegvat. Ek gaan tien stamme vir jou gee 36en vir sy seun gaan Ek net een gee, sodat die troon van my dienaar Dawid bestendig sal wees in Jerusalem, die stad wat Ek verkies het om my Naam daar te vestig.

37“Ek gaan jou as koning aanstel, soos dit jou hartsbegeerte is. Jy sal oor Israel regeer. 38As jy gehoor gee aan alles wat Ek jou sal beveel, as jy jou lewe inrig volgens my wil, as jy doen wat reg is in my oë deurdat jy jou hou aan my voorskrifte en gebooie, soos my dienaar Dawid gedoen het, sal Ek by jou wees. Soos Ek Dawid se nageslag in stand hou, sal Ek joune ook in stand hou. Ek sal Israel aan jou gee 39en ter wille daarvan sal Ek die nageslag van Dawid verneder, maar nie vir altyd nie!”

40Hierna wou Salomo vir Jerobeam om die lewe bring. Jerobeam het egter na Egipte toe gevlug waar hy onder beskerming van koning Sisak van Egipte gebly het tot Salomo se dood.

Die dood van Salomo

(Vgl. 2 Kron. 9:29-31)

41Die ander verhale oor Salomo en alles wat hy gedoen het, en oor sy wysheid is opgeteken in die annale van Salomo.

42Salomo was veertig jaar koning in Jerusalem oor die hele Israel. 43Hy is oorlede, en hy is begrawe by sy pa in die Dawidstad. Sy seun Rehabeam het hom as koning opgevolg.

1 KONINGS 11AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die skeuring van die ryk

(Vgl. 2 Kron. 10:1-19)

1Rehabeam het na Sigem toe gegaan omdat die hele Israel daarheen gekom het om hom tot koning te kroon. 2Jerobeam seun van Nebat het die berig gekry toe hy nog in Egipte was waarheen hy vir koning Salomo gevlug het. Hy het daar gewoon, 3maar hulle het boodskappers gestuur en hom laat roep.

Hy en die hele Israel kom toe na Rehabeam toe en sê vir hom: 4“U vader het ons 'n swaar juk laat dra. As u nou die verpligtinge wat u vader ons opgelê het, minder maak en so die juk ligter maak wat hy ons laat dra het, sal ons u onderdane bly.”

5Rehabeam het vir hulle gesê: “Kom oor drie dae na my toe terug.”

Nadat die volk vertrek het, 6het koning Rehabeam die raad gevra van die ouer mense wat in diens van Salomo, sy pa, was tydens dié se lewe. “Wat meen julle moet ek hierdie mense antwoord?” het hy gevra.

7Hulle het vir hom gesê: “As u dit goed bedoel met hierdie volk en hulle tevrede stel en hulle 'n gunstige antwoord gee, sal hulle altyd u onderdane bly.”

8Maar hy het die raad wat die ouer mense hom gegee het, in die wind geslaan en die raad gevra van die jonger manne wat saam met hom grootgeword het en in sy diens was: 9“Wat meen júlle moet ons hierdie mense antwoord? Hulle het gevra ek moet die juk wat my pa op hulle gelê het, ligter maak.”

10Die jongmanne wat saam met hom grootgeword het, het vir hom gesê: “U moet die volk soos volg antwoord. Hulle het vir u gesê: ‘U vader het ons 'n swaar juk laat dra, maak u vir ons die juk ligter.’ U moet vir hulle sê:

“My pinkie is dikker as my pa se middellyf.

11My pa het 'n swaar juk op julle laat druk,

ek gaan die juk nog swaarder maak.

My pa het julle met swepe geslaan,

ek sal julle met gesels slaan.”

12Toe Jerobeam en die hele volk die derde dag by koning Rehabeam kom volgens sy opdrag “Kom oor drie dae na my toe terug”, 13het hy die volk dié harde antwoord gegee. Koning Rehabeam het die raad van die ouer mense in die wind geslaan 14en die volk geantwoord volgens die raad van die jonger manne:

“My pa het 'n swaar juk op julle gelê,

ek gaan die juk nog swaarder maak;

my pa het julle met swepe geslaan,

ek sal julle met gesels slaan.”

15Die koning het nie aan die versoek van die volk voldoen nie. Dit was 'n beskikking van die Here sodat Hy sy belofte kon hou wat Hy deur Agija van Silo aan Jerobeam seun van Nebat gegee het.

16Toe die Israeliete hoor dat die koning nie aan hulle versoek voldoen het nie, het hulle vir hom gesê:

“Dawid is nie deel van ons nie;

ons het niks aan Isai se seun nie!

Elkeen terug na sy woonplek toe, Israel!

Kyk nou maar na jou eie huis, Dawid!”

Israel is toe terug na sy eie woongebied toe.

17Rehabeam het net koning geword oor die Israeliete wat in die stede van Juda gewoon het.

18Koning Rehabeam het vir Adoniram wat in bevel van die dwangarbeid was, na Israel toe gestuur, maar die Israeliete het hom met klippe doodgegooi, en koning Rehabeam self het dit net-net reggekry om op sy strydwa te kom en na Jerusalem toe te vlug.

19So het Israel in opstand gekom teen die koningshuis van Dawid, en dit is vandag nog so.

Rehabeam se poging om die opstand te onderdruk

(Vgl. 2 Kron. 11:1-4)

20Toe die Israeliete verneem dat Jerobeam teruggekom het uit Egipte, het hulle hom na 'n volksvergadering toe laat kom en hom koning gemaak oor die hele Israel. Niemand behalwe die Judastam het die koningshuis van Dawid aangehang nie.

21Dadelik nadat Rehabeam in Jerusalem terug was, het hy honderd en tagtig duisend uitgesoekte manne uit die stamme Juda en Benjamin opgeroep om teen Israel te veg en die koningskap vir hom terug te wen. 22Maar die woord van God het tot Semaja, die man van God, gekom en gesê: 23“Sê vir koning Rehabeam van Juda, seun van Salomo, en vir die hele Juda en Benjamin, en vir die res van die volk: 24So sê die Here: Moenie optrek en teen die Israeliete, julle broers, veg nie. Gaan terug elkeen na sy huis toe, want wat gebeur het, kom van My af!”

Hulle het geluister na die woorde van die Here en teruggegaan huis toe soos Hy beveel het.

Jerobeam maak kalwerbeelde

25Jerobeam het Sigem in die Efraimsberge herbou en daar gaan woon. Later het hy daar weggetrek en Pniël herbou.

26Jerobeam het by homself gedink: netnou gaan die koningskap terug na die huis van Dawid; 27as hierdie volk na Jerusalem toe gaan om daar by die tempel van die Here te gaan offer, sal hulle weer hulle koning Rehabeam, koning van Juda, aanhang; hulle sal my doodmaak en weer agter koning Rehabeam aangaan.

28Koning Jerobeam het toe met sy raadgewers oorleg gepleeg en twee goue kalwerbeelde laat maak. Toe sê hy: “Julle het lank genoeg Jerusalem toe gegaan, Israel; hier is nou die beelde van julle God wat julle uit Egipte laat wegtrek het.”

29Jerobeam het die een beeld in Bet-El opgestel en die ander in Dan.

30Dit het die volk tot sonde verlei: hulle het selfs die een beeld na Dan toe begelei.

31Jerobeam het heiligdomme op die hoogtes gebou en hy het mense uit die volk wat nie Leviete was nie, as priesters aangestel.

32Verder het hy op die vyftiende dag van die agste maand 'n fees gehou net soos die fees in Juda. Hy het in Bet-El vir die kalwerbeelde wat hy gemaak het, offers gebring op die altaar, en hy het daar priesters aangestel vir die hoogtes wat hy ingerig het.

Jerobeam se afgodsdiens word veroordeel

33Op die vyftiende van die agste maand het Jerobeam 'n offer gebring op die altaar wat hy in Bet-El opgerig het. Hy het sommer self besluit oor die maand waarin die Israeliete die fees moes vier. Net toe hy daar op die altaar die offer aan die brand steek,

1 KONINGS 12AFR83Maak oop in die Bybelleser
1kom daar 'n man van God uit Juda aan wat op bevel van die Here na Bet-El toe gekom het. Jerobeam het nog by die altaar gestaan om die offer aan te steek, 2toe die man van God op bevel van die Here teen die altaar uitroep: “Altaar, altaar, so sê die Here: Daar sal uit die nageslag van Dawid 'n seun gebore word met die naam Josia, en hier op jou sal hy die priesters van die hoogtes slag wat op jou offers bring, en hier op jou sal mensbene verbrand word!”

3Terselfdertyd het hy 'n wonderteken aangekondig: “Dit is die teken wat die Here gee: hierdie altaar sal uitmekaar ruk sodat die as wat daarop is, op die grond val.”

4Toe koning Jerobeam hoor wat die man van God uitroep teen die altaar van Bet-El, het hy daar van die altaar af sy hand uitgesteek en gesê: “Gryp hom!”

Maar die hand wat hy uitgesteek het, het styf geword, en hy kon hom nie weer terugtrek nie. 5Die altaar het uitmekaar geruk, en die as het afgeval. Dit was die wonderteken wat die man van God aangekondig het op bevel van die Here.

6Toe sê die koning vir die man van God: “Bid tog tot die Here jou God om genade vir my sodat my hand weer kan reg word.”

Nadat die man van God tot die Here gebid het om genade, het die hand van die koning herstel net soos dit tevore was.

7Daarop sê die koning vir die man van God: “Kom saam met my huis toe en kom eet iets sodat ek jou kan beloon.”

8Maar die man van God antwoord: “Al sou u my die helfte van u koninkryk aanbied, kan ek nie saam met u gaan nie. Ek kan in hierdie plek niks eet of selfs water drink nie, 9want dit was die Here se bevel aan my: Jy mag daar niks eet nie en jy mag daar nie water drink nie; en jy mag nie met dieselfde pad terugkom as dié waarmee jy gegaan het nie!”

10Hy het 'n ander pad gevat en nie met dieselfde pad teruggegaan as dié waarmee hy na Bet-El toe gekom het nie.

11In Bet-El het daar 'n óú profeet gewoon. Sy seuns het hom kom vertel wat die man van God alles dié dag in Bet-El gedoen het. Ook wat hy vir die koning gesê het, het hulle vir hulle pa kom oorvertel.

12Hy vra hulle toe: “Met watter pad het hy teruggegaan?” want hulle het gesien watter pad die man van God wat van Juda af gekom het, gevat het.

13Hy sê toe vir sy seuns: “Saal vir my 'n donkie op.”

Nadat hulle dit gedoen het, is hy met die donkie daar weg 14agter die man van God aan. Toe die óú profeet die man van God kry waar hy onder 'n groot boom sit, sê hy vir hom: “Is jy die man van God wat van Juda af kom?”

“Ja,” antwoord hy.

15Die óú profeet sê toe vir hom: “Kom tog saam met my huis toe en kom eet iets.”

16Maar hy antwoord: “Ek kan nie saam met jou teruggaan en in jou huis ingaan nie. Ek mag by jou in hierdie plek niks eet en geen water drink nie, 17want die woord van die Here aan my was uitdruklik: Jy mag daar geen kos eet en geen water drink nie, en jy mag nie terugkom met dieselfde pad as dié waarmee jy gegaan het nie.”

18Die óú profeet sê toe vir hom: “Ek is ook 'n profeet net soos jy, en 'n engel het op bevel van die Here vir my gesê: Bring hom terug na jou huis toe en laat hy iets eet en sy dors les!”

Maar die óú profeet het vir hom gelieg. 19Toe gaan hy saam met die óú profeet terug huis toe en daar het die man van God iets geëet en water gedrink.

20Terwyl hulle nog aan tafel sit, het die woord van die Here gekom tot die profeet op wie se versoek die man van God omgedraai het. 21Die profeet het vir die man van God wat van Juda af gekom het, gesê: “So sê die Here: Omdat jy jou teen die Here verset het en nie die bevel van die Here jou God gehoorsaam het nie, 22maar teruggekom het en geëet en water gedrink het in dié plek waar die Here jou verbied het om te eet en water te drink, daarom sal jou liggaam nie in jou familiegraf begrawe word nie.”

23Nadat die man van God klaar geëet en gedrink het, het die profeet die man van God wat hy laat omdraai het, se donkie opgesaal. 24Die man van God het vertrek en onderweg het 'n leeu op hom afgekom en hom doodgemaak. Sy liggaam het daar in die pad gelê, die donkie het daar langsaan gestaan, en die leeu het langs die liggaam bly staan. 25Mense wat daarlangs gekom het, het die liggaam daar in die pad sien lê en die leeu wat langs die liggaam staan, en hulle het dit kom vertel in die stad waar die óú profeet gewoon het.

26Toe die óú profeet wat hom van sy pad af teruggebring het, dit hoor, sê hy: “Dit is die man van God wat die opdrag van die Here verontagsaam het. Nou het die Here beskik dat 'n leeu hom verskeur en doodmaak, soos Hy oor hom laat sê het.” 27Die profeet sê toe vir sy seuns: “Saal vir my 'n donkie op.”

Nadat hulle dit gedoen het, 28gaan hy en kry die liggaam daar in die pad, terwyl die donkie en die leeu daarby staan. Die leeu het nie die liggaam gevreet nie en hy het nie die donkie verskeur nie.

29Die profeet het die liggaam van die man van God op die donkie getel en dit na Bet-El die stad van die óú profeet toe gebring om daar oor hom te treur en hom te begrawe. 30Hy het die liggaam in sy eie graf begrawe, en hulle het oor hom getreur en gesê: “Ag, my broer.”

31Na die begrafnis het hy vir sy seuns gesê: “As ek te sterwe kom, moet julle my begrawe in dieselfde graf as dié waarin die man van God begrawe is. Sit my bene langs syne neer.

32“Wat hy op bevel van die Here oor die altaar in Bet-El en oor al die heiligdomme op die hoogtes by die stede van Samaria gesê het, sal beslis net so gebeur.”

33Jerobeam het hom hierna tog nie bekeer van sy verkeerde pad nie. Hy het aangehou om sommer uit die volk priesters vir die hoogtes aan te stel. Almal wat wou, het hy aangestel as priesters vir die hoogtes.

34Dit was die sonde van die huis van Jerobeam en dit sou daartoe lei dat sy koningshuis vernietig en van die aarde af verdelg sou word.

1 KONINGS 13AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die oordeel oor Jerobeam en sy huis

1In dié tyd het Abia, 'n seun van Jerobeam, siek geword. 2Jerobeam sê toe vir sy vrou: “Gaan vermom jou sodat die mense jou nie herken as Jerobeam se vrou nie. Gaan dan na Silo toe waar die profeet Agija is. Dit is hy wat gesê het dat ek koning sal word oor hierdie volk. 3Vat tien brode en koeke en 'n kruik heuning saam en gaan na hom toe. Hy sal vir jou sê wat met die kind gaan gebeur.”

4Jerobeam se vrou het so gemaak. Sy het na Silo toe gegaan en by Agija se huis aangekom. Agija kon nie meer sien nie, hy was al blind van ouderdom. 5Maar die Here het vir hom gesê: “Jerobeam se vrou kom jou raadpleeg oor haar seun wat siek is. Sê vir haar wat Ek vir jou sê.”

Toe sy inkom, wou sy nog maak asof sy iemand anders is, 6maar net toe Agija haar voetstappe hoor terwyl sy by die deur inkom, sê hy: “Kom binne, jy is die vrou van Jerobeam! Waarom maak jy asof jy iemand anders is? Ek het slegte nuus vir jou. 7Gaan sê vir Jerobeam: ‘So sê die Here die God van Israel: Ek het jou 'n vername man gemaak onder die mense en jou as heerser aangestel oor my volk Israel. 8Toe Ek die koningskap afgeskeur het van die huis van Dawid af, het Ek dit aan jou gegee. Maar jy was nie soos my dienaar Dawid wat hom aan my opdragte gehou het en wat sy hele lewe aan My toegewy het deur net te doen wat reg is in my oë nie. 9Jy het slegter opgetree as almal voor jou. Jy het vir jou ander gode gemaak, afgodsbeelde, om My uit te tart, en jy het jou rug vir My gedraai. 10Om dié rede bring Ek ellende oor die huis van Jerobeam. Ek sal al wat manlik is uit die nageslag van Jerobeam, wie ook al, uit Israel uitroei. Ek gaan heeltemal ontslae raak van die huis van Jerobeam, soos 'n mens van vuilgoed ontslae raak. 11Die een van Jerobeam wat in die stad omkom, die honde sal hom opvreet; en die een wat in die veld omkom, die roofvoëls sal hom vreet. Dit sal gebeur omdat die Here dit gesê het.’

12“Gaan jy nou maar huis toe. Sodra jy in die stad inkom, sal die kind sterf. 13Die hele Israel sal oor hom rou en hom begrawe. Hy sal ook die enigste van die familie van Jerobeam wees wat in 'n graf kom, want in die huis van Jerobeam het die Here die God van Israel net in hom iets goeds gevind.

14“Die Here sal self 'n koning oor Israel aanstel wat die geslag van Jerobeam dadelik, sonder versuim, sal uitroei. 15So sal die Here Israel tref soos vloedwater riet tref. Die Here sal Israel uitdryf uit hierdie goeie land wat Hy aan hulle voorvaders gegee het, en Hy sal hulle anderkant die Eufraat verstrooi omdat hulle gewyde pale gemaak het en die Here daarmee uitgetart het. 16Hy sal hulle prysgee oor die sonde wat Jerobeam gedoen het en wat hy Israel laat doen het.”

17Toe het Jerobeam se vrou teruggegaan Tirsa toe. Net toe sy oor die drumpel van die paleis stap, het die kind gesterf. 18Hulle het hom begrawe, en die hele Israel het oor hom gerou. Dit was in ooreenstemming met wat die Here gesê het deur sy dienaar die profeet Agija.

19Die ander verhale oor Jerobeam, oor sy oorloë en sy regering, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.

20Die duur van Jerobeam se koningskap was twee en twintig jaar. Hy is oorlede, en sy seun Nadab het hom as koning opgevolg.

Beoordeling van Rehabeam se koningskap

(Vgl. 2 Kron. 12:13-14)

21Rehabeam seun van Salomo was intussen koning van Juda. Rehabeam was een en veertig toe hy koning geword het en hy was sewentien jaar koning in Jerusalem, die stad wat deur die Here onder al die Israelitiese stamme gekies is om sy Naam daar te vestig. Rehabeam se ma was Naäma, 'n Ammonitiese vrou.

22Juda het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, en deur die sondes wat hulle gedoen het, het hulle die Here meer uitgetart as wat hulle voorvaders gedoen het. 23Hulle het vir hulle hoogtes gebou en klippilare en gewyde pale opgerig op elke hoë heuwel en onder elke groen boom. 24Daar was selfs manlike tempelprostitute in die land. Die hele Juda het dieselfde afskuwelike sondes gedoen as die nasies wat deur die Here verdryf is om vir die Israeliete plek te maak.

'n Egiptiese inval in Juda

(Vgl. 2 Kron. 12:1-11)

25In die vyfde jaar van Rehabeam se regering het koning Sisak van Egipte teen Jerusalem opgetrek. 26Hy het beslag gelê op die skatte in die huis van die Here en die paleis. Hy het alles gevat, ook die goue skilde wat Salomo laat maak het. 27Koning Rehabeam het toe bronsskilde in die ander se plek laat maak en dié oorhandig aan die offisiere van die wag wat by die ingang van die paleis diens gedoen het. 28Elke keer wanneer die koning na die huis van die Here toe gegaan het, het die wag die skilde gedra, en daarna het hulle die skilde teruggebring na die wagte se kamer toe.

Die dood van Rehabeam

(Vgl. 2 Kron. 12:15-16)

29Die ander verhale oor Rehabeam en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda.

30Daar was deurentyd oorlog tussen Rehabeam en Jerobeam.

31Rehabeam is oorlede, en hy is begrawe in die familiegraf in die Dawidstad. Sy ma was Naäma, 'n Ammonitiese vrou. Sy seun Abia het hom as koning opgevolg.

1 KONINGS 14AFR83Maak oop in die Bybelleser

Abia koning van Juda

(Vgl. 2 Kron. 13:1-20)

1In die agtiende regeringsjaar van Jerobeam seun van Nebat het Abia koning oor Juda geword, 2en hy het drie jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Maäka, 'n dogter van Abisalom. 3Abia het dieselfde sondes as sy pa gedoen, en hy was nie so getrou aan die Here as sy voorvader Dawid nie. 4Dit is ter wille van Dawid dat die Here sy God aan hom 'n nakomeling gegee het om in Jerusalem te regeer en die stad in stand te hou. 5Dit was omdat Dawid gedoen het wat reg is in die oë van die Here, en sy lewe lank nooit die opdragte van die Here verontagsaam het nie, behalwe in die geval van Urija die Hetiet.

6Gedurende Rehabeam se hele regering was daar oorlog tussen hom en Jerobeam.

7Die ander verhale oor Abia en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda. Daar was ook oorlog tussen Abia en Jerobeam.

8Abia is oorlede, en hy is begrawe in die Dawidstad. Sy seun Asa het hom as koning opgevolg.

Die godsdienstige maatreëls van Asa

(Vgl. 2 Kron. 14:2-7; 15:16-18)

9In die twintigste regeringsjaar van koning Jerobeam van Israel het Asa koning geword van Juda. 10Hy het een en veertig jaar in Jerusalem geregeer. Sy ouma was Maäka, 'n dogter van Abisalom.

11Asa het gedoen wat reg is in die oë van die Here, soos sy voorvader Dawid. 12Hy het die tempelprostitute uit die land verban en hy het al die afgodsbeelde verwoes wat sy voorgangers gemaak het. 13Hy het ook sy ouma Maäka as koninginmoeder afgesit omdat sy 'n Asjerabeeld, 'n walglike ding, laat maak het. Asa het die ding stukkend gekap en dit in die Kedrondal gaan verbrand. 14Die hoogtes het wel nie heeltemal verdwyn nie, maar Asa was sy lewe lank getrou aan die Here. 15Hy het die wydingsgeskenke van sy pa, en ook sy eie, in die huis van die Here gebring: silwer, goud en offergereedskap.

Asa sluit 'n verdrag met die Arameërs

(Vgl. 2 Kron. 16:1-6)

16Daar was deurentyd oorlog tussen Asa en koning Baesa van Israel.

17Tydens 'n veldtog teen Juda het Baesa die stad Rama in 'n vesting begin omskep om te verhoed dat mense die gebied van koning Asa van Juda kon binnekom of verlaat.

18Asa het toe al die silwer en goud gevat wat nog oor was in die skatkamers van die huis van die Here en die paleis, en koning Asa het dit met boodskappers vir Ben-Hadad gestuur. Ben-Hadad seun van Tabrimmon, seun van Gesjon, was koning van Aram in Damaskus.

Asa het die volgende boodskap saamgestuur: 19“Daar is 'n verdrag tussen u en my en daar was al een tussen ons ouers. Ek stuur vir u 'n geskenk van silwer en goud. Breek u verdrag met koning Baesa van Israel dat hy uit my land kan terugtrek.”

20Ben-Hadad het gehoor gegee aan koning Asa se versoek. Hy het sy leëraanvoerders gestuur om die stede van Israel aan te val, en hy het Ijon, Dan, Abel-Bet-Maäka en die hele Gennesaret saam met die hele gebied van Naftali verower. 21Toe Baesa dit hoor, het hy die bouwerk by Rama gestaak en in Tirsa gaan woon.

22Koning Asa het al die Judeërs opgeroep, hy het niemand verskoon nie, en hulle het die klip en hout wat Baesa vir die bouwerk in Rama gebruik het, weggedra. Die koning het dit gebruik vir bouwerk by Geba in Benjamin en by Mispa.

23Al die ander verhale oor Asa, oor sy dapper dade en oor alles wat hy gedoen het, en oor die stede wat hy laat bou het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda. Net dít kom nog by: in sy ouderdom het hy 'n kwaal aan sy voete opgedoen.

24Asa is oorlede, en hy is begrawe in die familiegraf in die Dawidstad. Sy seun Josafat het hom as koning opgevolg.

Nadab regeer as koning oor Israel

25In die tweede regeringsjaar van koning Asa van Juda het Nadab seun van Jerobeam koning geword oor Israel. Hy het twee jaar oor Israel geregeer. 26Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het die pad van sy pa geloop en dieselfde sonde gedoen as dié waarmee sy pa vir Israel laat sondig het.

27Baesa seun van Agija uit die nageslag van Issaskar het 'n sameswering teen hom gesmee. Terwyl Nadab en die hele Israel die Filistynse stad Gibbeton beleër het, het Baesa hom daar om die lewe gebring. 28Baesa het hom vermoor in die derde regeringsjaar van koning Asa van Juda en het hom as koning opgevolg. 29Dadelik nadat Baesa koning geword het, het hy die hele familie van Jerobeam uitgeroei. Hy het nie een lewend laat oorbly nie, maar hulle almal omgebring. Dit was in ooreenstemming met wat die Here deur sy dienaar Agija van Silo gesê het. 30Dit was die gevolg van die sondes wat Jerobeam gedoen het en wat hy Israel laat doen het. Daardeur het hy die Here die God van Israel uitgetart.

31Die ander verhale oor Nadab en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel. 32Daar was deurentyd oorlog tussen Asa en koning Baesa van Israel.

Die regering van Baesa

33Baesa seun van Agija het koning geword oor die hele Israel in die derde regeringsjaar van koning Asa van Juda en vier en twintig jaar in Tirsa geregeer. 34Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het die pad van Jerobeam geloop en dieselfde sonde gedoen as dié waarmee Jerobeam vir Israel laat sondig het.

1 KONINGS 15AFR83Maak oop in die Bybelleser

1My seun, wat ek jou leer moet jy nie vergeet nie,

hou vas aan wat ek jou voorskryf,

2want dit sal vir jou 'n lang lewe verseker,

dit sal maak dat jy 'n vol lewe het.

3Moenie dat liefde en trou by jou ontbreek nie;

leef daarmee saam,

maak dit 'n deel van jou lewe.

4So sal jy guns verwerf en byval vind

by God en mens.

5Vertrou volkome op die Here

en moenie op jou eie insigte staatmaak nie.

6Ken Hom in alles wat jy doen

en Hy sal jou die regte pad laat loop.

7Moenie dink jy het die wysheid in pag nie,

dien die Here en vermy wat sleg is:

8dit is die geneesmiddel vir jou,

die verkwikking vir jou liggaam.

9Vereer die Here met offerandes uit al wat jy besit

en met die beste uit jou oes,

10dan sal jou skure oorvol wees

en jou parskuipe oorloop van die wyn.

11My seun, aanvaar die straf wat van die Here kom

en moet jou nie teen sy teregwysing verset nie,

12want die Here straf die mens wat Hy liefhet

net soos 'n vader doen met sy seun.

13Dit gaan goed met die mens wat wysheid gevind het,

wat insig as sy deel ontvang het,

14want dit bring meer winste in as silwer

en lewer 'n groter opbrengs as goud.

15Dit het meer waarde as edelstene;

wat jy ook al as kosbaar beskou,

niks kan daarmee vergelyk word nie.

16Die wysheid gee met die een hand 'n lang lewe

en met die ander rykdom en eer.

17Die wysheid bring 'n ryk en 'n vol lewe.

18Dit is 'n bron van lewe vir wie dit aangryp,

dit gaan goed met dié wat daaraan vashou.

19Die Here het die fondament van die aarde met wysheid gelê

en die hemel gebou met insig.

20Deur sy kennis is die groot waters van mekaar geskei

en drup die wolke van vog.

21My seun, behou die takt en oorleg;

moet dit nie uit die oog verloor nie,

22dit sal vir jou 'n mooi lewe verseker

en soos 'n pragtige halssnoer vir jou wees;

23jy sal jou pad veilig loop

en jou voet nie stamp nie;

24jy sal nie bang hoef te wees as jy gaan slaap nie;

as jy gaan lê, sal jy rustig slaap.

25Moenie bang wees dat 'n ramp jou skielik sal oorval,

dat die storm wat vir slegte mense bedoel is,

jou sal tref nie,

26want die Here sal jou beskerm,

Hy sal sorg dat jy nie in 'n strik beland nie.

27Moenie 'n weldaad weerhou van iemand aan wie dit toekom,

terwyl dit in jou mag is om dit te bewys nie.

28Moenie vir iemand sê:

“Gaan eers terug en kom môre weer,

dan help ek jou,” as jy nou reeds kan help nie.

29Moenie kwaad teen iemand beplan

terwyl hy vol vertroue by jou woon nie.

30Moenie 'n man sommer aankla

as hy jou nie kwaad aangedoen het nie.

31Moenie 'n man wat sy mag misbruik, beny nie

en moenie self soos hy maak nie,

32want die Here het 'n afkeer van 'n slegte mens,

maar neem mense wat reg lewe, in sy vertroue.

33Die vloek van die Here rus op die huis van die goddelose,

maar Hy seën die woning van dié wat aan Hom getrou is.

34Met hooghartige spotters dryf Hy die spot,

maar Hy is goed vir dié wat beskeie is.

35Wyse mense verkry eer,

maar dwase kom al hoe meer in die skande.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS