Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 109

MATTEUS 20–25

Bybelteks(te)

Gelykenis van die arbeiders in die wingerd

1“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met die eienaar van 'n wingerd wat vroeg in die môre uitgegaan het om arbeiders vir sy wingerd te huur.

2“Nadat hy met die arbeiders ooreengekom het om hulle die gewone dagloon te betaal, stuur hy hulle om in sy wingerd te gaan werk. 3Teen nege-uur gaan hy weer uit en sien ander werkloos op die mark rondstaan, 4en hy sê vir hulle: ‘Gaan werk julle ook in my wingerd, en wat billik is, sal ek julle betaal.’ 5Hulle is toe soontoe. Teen twaalfuur en teen drie-uur het hy weer uitgegaan en dieselfde gedoen. 6Omtrent vyfuur gaan hy uit en kry ander wat daar rondstaan, en hy sê vir hulle: ‘Waarom staan julle heeldag werkloos hier rond?’ 7Hulle antwoord hom: ‘Omdat niemand ons gehuur het nie.’ ‘Gaan werk julle ook in my wingerd,’ sê hy toe vir hulle.

8“Toe dit aand word, sê die eienaar van die wingerd vir sy voorman: ‘Roep die arbeiders en betaal hulle hulle loon. Begin by die laastes en eindig by die eerstes.’

9“Dié wat teen vyfuur gehuur is, kom toe en kry elkeen die gewone dagloon. 10Die mense wat eerste gehuur is, het gedink hulle sou meer kry, maar toe hulle aan die beurt kom, kry hulle ook elkeen die gewone dagloon. 11Hulle vat toe die geld maar begin by die eienaar kla 12en sê: ‘Hierdie laastes het net een uur gewerk, en nou betaal u hulle dieselfde loon as vir ons wat die hele dag hard gewerk het in die warm son.’

13“Maar hy antwoord een van hulle: ‘Vriend, ek doen jou geen onreg aan nie. Het jy nie met my ooreengekom vir die gewone dagloon nie? 14Vat jou geld en gaan huis toe. Ek wil vir hierdie laaste een dieselfde gee as vir jou. 15Mag ek dan nie met my geld maak wat ek wil nie? Of is jy afgunstig omdat ek goed is?’

16“So sal die laastes eerste wees, en die eerstes laaste.”

Jesus kondig die derde keer sy dood en opstanding aan

(Mark. 10:32-34; Luk. 18:31-34)

17Terwyl Jesus na Jerusalem toe op pad was, neem Hy die twaalf dissipels opsy, en so in die loop sê Hy vir hulle: 18“Kyk, ons gaan nou Jerusalem toe. Daar sal die Seun van die mens aan die priesterhoofde en skrifgeleerdes oorgelewer word, en hulle sal Hom tot die dood veroordeel. 19Hulle sal Hom uitlewer aan die heidene, wat Hom sal bespot en gesel en kruisig. En op die derde dag sal Hy uit die dood opgewek word.”

Die versoek van Jakobus en Johannes

(Mark. 10:35-45; Luk. 22:24-30)

20Toe kom die vrou van Sebedeus met haar twee seuns by Jesus en kniel voor Hom om Hom 'n guns te vra.

21“Wat kan Ek vir u doen?” vra Hy vir haar.

Sy sê vir Hom: “Belowe my dat hierdie twee seuns van my in u koninkryk langs U mag sit, een aan u regterhand en die ander een aan u linkerhand.”

22Toe antwoord Jesus: “Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle die lydensbeker drink wat Ek gaan drink?”

“Ons kan,” antwoord hulle.

23Jesus sê toe vir hulle: “Ja, my beker sal julle drink. Maar om aan my regter- en my linkerhand te sit, daaroor besluit Ek nie; dit is vir dié vir wie my Vader dit gereed gemaak het.”

24Toe die tien ander dissipels dit hoor, was hulle kwaad vir die twee broers.

25Jesus roep hulle toe nader en sê: “Julle weet dat dit by die nasies so is dat die regeerders oor hulle baasspeel, en dat die groot manne die mag oor hulle misbruik. 26Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; 27en elkeen wat onder julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees. 28So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.”

Jesus maak twee blindes gesond

(Mark. 10:46-52; Luk. 18:35-43)

29Toe hulle uit Jerigo uitgaan, het 'n groot menigte Jesus gevolg. 30Twee blinde mans wat langs die pad gesit het, het gehoor dat Jesus verbykom. Toe roep hulle uit: “Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!”

31Die mense het met hulle geraas en gesê hulle moet stilbly, maar hulle het al hoe harder geroep: “Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!”

32Jesus het gaan staan, hulle geroep en gevra: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?”

33Hulle sê toe vir Hom: “Here, dat ons oë oopgaan.”

34Jesus het hulle innig jammer gekry en hulle oë aangeraak. Dadelik kon hulle sien en het hulle Hom gevolg.

Die intog van Jesus in Jerusalem

(Mark. 11:1-11; Luk. 19:28-38; Joh. 12:12-19)

1Toe hulle naby Jerusalem kom en Betfage aan die Olyfberg bereik, het Jesus twee dissipels vooruit gestuur 2en vir hulle gesê: “Gaan na die dorpie daar reg voor julle, en net soos julle inkom, sal julle daar 'n donkie kry wat vasgemaak is, en 'n vul by haar. Maak haar los en bring hulle vir My. 3En as iemand vir julle iets daaroor sê, antwoord dan: Die Here het hulle nodig, en Hy sal hulle gou weer terugstuur.”

4Dit het gebeur sodat die uitspraak van die profeet vervul sou word:

5“Sê vir Sion:

Kyk, jou Koning kom na jou toe; Hy is nederig en Hy ry op 'n donkie, op die vul van 'n pakdier.”

6Die twee dissipels het toe vooruit gegaan en gedoen wat Jesus hulle beveel het. 7Hulle het die donkie en die vul gebring, van hulle klere op die diere gesit, en Jesus het opgeklim. 8Die grootste deel van die skare het van hulle klere op die pad oopgegooi, en ander het takkies van die bome afgebreek en dit op die pad gestrooi. 9Die mense wat voor Jesus geloop het en dié wat agter Hom aan gekom het, het begin uitroep:

“Prys die Seun van Dawid!

Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!

Prys Hom in die hoogste hemel!”

10Toe Jesus in Jerusalem ingaan, het die hele stad in beroering gekom en gevra: “Wie is hierdie man?”

11Die skare het geantwoord: “Dit is die profeet Jesus van Nasaret in Galilea!”

Die reiniging van die tempel

(Mark. 11:15-19; Luk. 19:45-48; Joh. 2:13-22)

12Jesus het tempel toe gegaan en al die mense wat op die tempelplein koop en verkoop, daar uitgejaag. Die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers het Hy omgegooi 13en vir hulle gesê: “Daar staan geskrywe: ‘My huis sal 'n huis van gebed wees,’ maar julle maak dit 'n rowersnes.”

14Blindes en kreupeles het daar in die tempel na Hom toe gekom, en Hy het hulle gesond gemaak. 15Maar toe die priesterhoofde en die skrifgeleerdes die wonderlike dinge sien wat Hy doen, en ook die kinders wat in die tempel aanhou uitroep: “Prys die Seun van Dawid!” was hulle verontwaardig. 16Hulle sê toe vir Hom: “Hoor jy wat sê hulle daar?”

“Ja,” antwoord Jesus. “Het julle nooit gelees nie: U het daarvoor gesorg dat kinders en suigelinge u lof sing?”

17Toe het Hy hulle verlaat en uit die stad uitgegaan na Betanië toe, waar Hy die nag gebly het.

Jesus vervloek die vyeboom

(Mark. 11:12-14,20-24)

18Vroeg die môre op pad terug stad toe het Jesus honger gekry. 19Toe Hy 'n alleenstaande vyeboom langs die pad sien, gaan Hy daarheen, maar Hy het niks anders as blare daaraan gekry nie. Hy sê toe vir die boom: “Jy sal in der ewigheid nooit weer vrugte dra nie.”

En die vyeboom het dadelik verdroog.

20Toe die dissipels dit sien, was hulle verbaas en het hulle gevra: “Hoe het die vyeboom dan so skielik verdroog?”

21Daarop antwoord Jesus hulle: “Dit verseker Ek julle: As julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle kan doen wat Ek aan die vyeboom gedoen het. Meer nog: Julle sal vir hierdie berg kan sê: ‘Lig jou op en val in die see!’ en dit sal gebeur. 22As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die gebed vra.”

Die vraag oor Jesus se gesag

(Mark. 11:27-33; Luk. 20:1-8)

23Jesus het na die tempel toe gegaan, en terwyl Hy besig was om die mense te leer, kom die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk na Hom toe en vra: “Met watter gesag doen u hierdie dinge? En wie het u hierdie gesag gegee?”

24Toe antwoord Jesus hulle: “Ek gaan julle een ding vra, en as julle My daarop antwoord, sal Ek vir julle sê met watter gesag Ek hierdie dinge doen. 25Die doop van Johannes, waar het dit vandaan gekom: van God, of van mense af?”

Hulle redeneer toe onder mekaar: “As ons sê: ‘Van God af,’ sal hy vir ons sê: ‘Waarom het julle hom dan nie geglo nie?’ 26Maar as ons sê: ‘Van mense af,’ kom ons by die mense in die moeilikheid, want almal beskou Johannes as 'n profeet.”

27Toe antwoord hulle vir Jesus: “Ons weet nie.”

En Hy sê vir hulle: “Dan sê Ek ook nie vir julle met watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.”

Die gelykenis van die twee seuns

28“Wat sê julle hiervan? Daar was 'n man met twee seuns. Hy het vir die een gaan sê: ‘Seun, gaan werk vandag in die wingerd.’ 29‘Ek wil nie!’ antwoord hy, maar later het hy spyt gekry en tog gegaan. 30Die man het toe na die ander seun toe gegaan en vir hom dieselfde gesê. Hy het geantwoord: ‘Goed, Pa,’ maar hy het nie gegaan nie. 31Wie van die twee het gedoen wat hulle pa wou hê?”

Hulle sê: “Die eerste.”

Toe sê Jesus vir hulle: “Dit verseker Ek julle: Tollenaars en prostitute gaan eerder as julle in die koninkryk van God in. 32Johannes het gekom om julle die regte pad te wys, en julle het hom nie geglo nie, maar tollenaars en prostitute het hom geglo. Maar selfs toe julle dit sien, het julle nie agterna berou gekry en hom geglo nie.”

Die gelykenis van die boere en die wingerd

(Mark. 12:1-12; Luk. 20:9-19)

33“Luister na nog 'n gelykenis,” het Jesus gesê. “Daar was 'n grondbesitter wat 'n wingerd geplant en 'n klipmuur daar rondom gebou het. Hy het daarin ook 'n parskuip uitgekap en 'n wagtoring opgerig. Toe het hy dit aan boere verhuur en op reis gegaan. 34Toe dit tyd geword het vir die druiweoes, het hy van sy slawe na die boere toe gestuur om sy deel van die oes te gaan haal. 35Maar die boere het sy slawe gevang, die een geslaan, en 'n ander een doodgemaak en 'n ander een gestenig. 36Die eienaar het toe weer ander slawe gestuur, meer as die eerstes, maar die boere het met hulle net so gemaak. 37Heel laaste het hy sy seun na hulle toe gestuur met die gedagte: hulle sal tog my seun ontsien. 38Maar toe die boere die seun sien, sê hulle vir mekaar: ‘Dit is die erfgenaam dié. Kom ons maak hom dood en vat sy erfenis.’ 39Hulle het hom toe gegryp en hom uit die wingerd uitgegooi en doodgemaak.

40“As die eienaar van die wingerd terugkom, wat sal hy met daardie boere doen?”

41Hulle antwoord Hom: “Hy sal daardie slegte mense 'n vreeslike dood laat sterwe en die wingerd aan ander boere verhuur wat hom op die regte tyd sy deel van die oes sal gee.”

42Toe sê Jesus vir hulle: “Julle het tog al in die Skrif gelees:

“Die klip wat deur die bouers afgekeur is,

juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword.

Dit is deur die Here gedoen en is 'n wonder in ons oë.

43“Daarom sê Ek vir julle dat die koninkryk van God van julle weggeneem sal word en aan 'n volk gegee sal word wat die vrugte daarvan sal lewer.

44“Wie op hierdie klip val, sal verpletter word, en die een op wie hy val, sal hy vermorsel.”

45Toe die priesterhoofde en die Fariseërs Jesus se gelykenisse hoor, het hulle besef dat Hy op hulle sinspeel. 46Daarom wou hulle Hom gevange neem, maar hulle was bang vir die skare, omdat dié Hom as 'n profeet beskou het.

Die gelykenis van die bruilof

(Luk. 14:15-24)

1Jesus het weer in gelykenisse met die mense gepraat. 2Hy het gesê: “Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met 'n koning wat vir sy seun 'n bruilofsfees voorberei het. 3Hy het sy slawe uitgestuur om die genooides na die bruilof te roep, maar hulle wou nie kom nie. 4Toe stuur hy weer ander slawe met die opdrag: ‘Sê vir die genooides: Die maaltyd is reg; my beeste en vetgemaakte vee is geslag, en alles is gereed. Kom na die bruilof toe.’

5“Maar die genooides het hulle nie daaraan gesteur nie, en die een het na sy stuk grond en 'n ander een na sy werkplek toe gegaan. 6En party het sy slawe gegryp en mishandel en doodgemaak. 7Die koning het kwaad geword en sy leër gestuur om daardie moordenaars dood te maak en hulle stad aan die brand te steek.

8“Toe sê hy vir sy slawe: ‘Alles staan klaar vir die bruilofsfees, maar die genooides was dit nie werd nie. 9Gaan nou uit na die straathoeke en nooi soveel mense as wat julle teenkom, na die bruilofsfees toe.’ 10Toe het daardie slawe uitgegaan op die strate en almal wat hulle gekry het, bymekaargemaak, slegtes sowel as goeies. So het die feessaal vol gaste geword.

11“Toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar 'n man wat nie bruilofsklere aanhet nie, 12en hy sê vir hom: ‘Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder bruilofsklere aan?’ Maar die man kon niks antwoord nie. 13Toe sê die koning vir sy dienaars: ‘Bind sy hande en sy voete vas en gooi hom uit in die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.’

14“Baie is immers geroep, maar min is uitverkies.”

Die vraag oor die betaal van belasting

(Mark. 12:13-17; Luk. 20:20-26)

15Toe het die Fariseërs gaan besluit om Jesus met 'n vraag in 'n val te lok. 16Hulle stuur toe van hulle volgelinge saam met 'n aantal Herodiane om vir Hom te sê: “Meneer, ons weet dat u iemand is wat u mening eerlik uitspreek en getrou aan die waarheid die wil van God bekend maak sonder om mense in aanmerking te neem, want u let nie op die aansien van persone nie. 17Sê vir ons wat dink u: Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal, of is dit nie?”

18Maar Jesus het deur hulle valsheid gesien en vir hulle gesê: “Huigelaars! Waarom stel julle vir My 'n strik? 19Wys vir My die muntstuk waarmee die belasting betaal word.”

Hulle bring toe die muntstuk vir Hom, 20en Hy vra vir hulle: “Wie se kop en naam is hierop?”

21“Die keiser s'n,” antwoord hulle.

Jesus sê vir hulle: “Gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.”

22Toe hulle dit hoor, was hulle verbaas en het hulle Hom met rus gelaat en weggegaan.

Die vraag oor die opstanding uit die dood

(Mark. 12:18-27; Luk. 20:27-40)

23Op dieselfde dag het daar Sadduseërs by Jesus gekom. Dit is hulle wat beweer dat daar nie 'n opstanding is nie. Hulle vra Hom toe: 24“Meneer, Moses het gesê: ‘As iemand sterwe sonder om kinders te hê, moet sy broer met die weduwee trou en 'n nageslag vir sy broer verwek.’ 25Nou was daar by ons sewe broers. Die oudste het getrou en gesterwe. Omdat daar nie kinders was nie, het sy broer met die weduwee getrou. 26Dieselfde het gebeur met die tweede en die derde broer en uiteindelik met al sewe. 27En heel laaste van almal het die vrou ook gesterwe. 28Met die opstanding dan, wie se vrou sal sy wees? Al sewe het haar mos as vrou gehad.”

29Maar Jesus antwoord hulle: “Julle dwaal omdat julle nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie. 30Met die opstanding trou die mense nie meer nie, maar is hulle soos die engele in die hemel. 31En wat die opstanding van die dooies betref, het julle dan nie gelees wat God vir julle gesê het nie: 32‘Ek is die God van Abraham, die God van Isak, en die God van Jakob’? Hy is nie die God van dooies nie maar van lewendes.”

33Toe die skare dit hoor, was hulle verslae oor sy leer.

Die vraag oor die grootste gebod

(Mark. 12:28-34; Luk. 10:25-28)

34Toe die Fariseërs hoor dat Jesus die Sadduseërs die mond gesnoer het, het hulle bymekaargekom, 35en een van hulle, 'n wetgeleerde, het Hom met 'n vraag probeer vastrek. 36“Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?”

37Jesus antwoord hom: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. 38Dit is die grootste en die eerste gebod. 39En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ 40In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

Die vraag oor die Seun van Dawid

(Mark. 12:35-37; Luk. 20:41-44)

41Toe die Fariseërs bymekaar was, vra Jesus vir hulle: 42“Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is Hy?”

“Dawid s'n,” antwoord hulle Hom.

43Hy sê toe vir hulle: “Waarom het Dawid deur die ingewing van die Gees Hom dan ‘Here’ genoem? Hy sê tog:

44“ ‘Die Here het vir my Here gesê:

Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het.’

45“As Dawid self Hom ‘Here’ noem, hoe kan Hy dan Dawid se seun wees?”

46Niemand kon Hom daarop iets antwoord nie. Van dié dag af het niemand dit meer gewaag om Hom 'n vraag te stel nie.

Jesus waarsku teen die skrifgeleerdes en die Fariseërs

(Mark. 12:38-39; Luk. 11:43-46; 20:45-46)

1Toe het Jesus die menigte en sy dissipels toegespreek 2en gesê: “Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het die gesag om die wet van Moses te vertolk. 3Julle moet alles doen en onderhou wat hulle vir julle sê, maar hulle voorbeeld moet julle nie navolg nie, want hulle doen self nie wat hulle sê nie. 4Hulle bind swaar en ondraaglike laste saam en sit dit op die mense se skouers, maar self wil hulle nie 'n vinger verroer om dit te dra nie. 5Alles wat hulle doen, doen hulle net om deur mense gesien te word. Hulle maak die gebedsband om hulle voorkop breed, en die tossels aan hulle klere groot. 6Hulle hou van die ereplekke by die feesmaaltye, en van die voorste plekke in die sinagoges 7en om op straat deur die mense begroet en as ‘rabbi’ aangespreek te word.

8“Maar julle moet julle nie ‘rabbi’ laat noem nie; net Een is julle Leermeester en julle is almal broers. 9Moet niemand hier op aarde as ‘vader’ aanspreek nie, want Een is julle Vader: die Vader in die hemel. 10Julle moet julle nie ‘leiers’ laat noem nie, want Een is julle Leier: die Christus.

11“Maar die grootste onder julle moet bereid wees om die ander te dien. 12Wie hoogmoedig is, sal verneder word, en wie nederig is, sal verhoog word.”

Jesus veroordeel huigelary

(Mark. 12:40; Luk. 11:39-42; 20:47)

13“Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle sluit die deur van die koninkryk in die mense se gesig toe. Julle gaan self nie in nie, en julle verhinder dié wat wel wil ingaan.

15“Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle trek oor see en land rond om een bekeerling te maak, en as hy dit word, maak julle hom twee maal so ryp vir die hel as wat julle self is.

16“Ellende wag vir julle, julle wat ander wil lei en self blind is. Julle sê: ‘As iemand by die tempel 'n eed aflê, is hy nie aan sy eed gebind nie, maar as hy by die goud van die tempel 'n eed aflê, moet hy die eed nakom.’ 17Blinde dwase! Wat is belangriker: die goud of die tempel waardeur die goud geheilig word? 18Julle sê ook: ‘As iemand by die altaar 'n eed aflê, is hy nie aan sy eed gebind nie, maar as hy by die offergawe bo-op die altaar 'n eed aflê, moet hy die eed nakom.’ 19Julle blindes! Wat is belangriker: die offergawe of die altaar waardeur die offergawe geheilig word? 20Wie by die altaar 'n eed aflê, lê 'n eed af by die altaar en by alles wat daarop is. 21Wie by die tempel 'n eed aflê, lê 'n eed af by die tempel en by God wat daarin woon. 22En wie by die hemel 'n eed aflê, lê 'n eed af by die troon van God en by God wat daarop sit.

23“Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle gee tiendes van kruisement, anys en koljander, maar wat volgens die wet van God die swaarste weeg, laat julle na: geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid. Juis hierdie dinge moet 'n mens doen en die ander nie nalaat nie. 24Blinde leiers! Julle skep die muggie uit julle beker uit, maar julle sluk die kameel in.

25“Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binne is hulle vol hebsug en onmatigheid. 26Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker skoon, dan sal sy buitekant ook skoon wees.

27“Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle is soos witgeverfde grafte, wat van buite mooi lyk maar daarbinne vol doodsbene en allerhande onsuiwerheid is. 28So is julle ook: van buite lyk julle vir mense vroom, maar van binne is julle vol huigelary en minagting van die wet.”

Jesus kondig hulle straf aan

(Luk. 11:47-51)

29“Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle hou die grafte van die profete in stand en versier die gedenktekens van die vromes, 30en julle sê: ‘As ons in die dae van ons voorvaders gelewe het, sou ons nie medepligtig gewees het aan die vergieting van die bloed van die profete nie.’ 31Op dié manier erken julle self dat julle nakomelinge is van die moordenaars van die profete. 32Gaan maar aan, maak klaar wat julle voorvaders begin het!

33“Julle slange, addergeslag! Hoe sal julle ontkom aan die straf in die hel? 34Luister dus goed! Ek stuur profete, wyse manne en leraars na julle toe. Julle sal party van hulle doodmaak en kruisig, en party in julle sinagoges gesel en hulle van die een dorp na die ander vervolg. 35So sal julle verantwoordelik wees vir die bloed van al die vromes wat op die aarde uitgestort is, van die bloed van die onskuldige Abel af tot by die bloed van Sagaria seun van Berekja, vir wie julle tussen die tempel en die altaar vermoor het. 36Dit verseker Ek julle: Die straf vir al hierdie dinge sal op die mense van vandag neerkom.”

Klag oor Jerusalem

(Luk. 13:34-35)

37“Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos 'n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie! 38Kyk, nou word julle stad as puinhoop aan julle oorgelaat. 39Maar Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat die dag kom wanneer julle sal uitroep: Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!

Die profetiese rede: die tempel sal afgebreek word

(Mark. 13:1-2; Luk. 21:5-6)

1Toe Jesus van die tempel af weggaan, het sy dissipels nader gekom en sy aandag op die tempelgeboue gevestig. 2Maar Hy antwoord hulle: “Julle sien al hierdie dinge? Dit verseker Ek julle: Hier sal nie een klip op die ander bly nie; alles sal afgebreek word.”

Die profetiese rede: rampe en vervolging

(Mark. 13:3-13; Luk. 21:7-19)

3Nadat Jesus op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom toe en vra: “Sê vir ons, wanneer sal hierdie dinge gebeur en wat sal die teken van u koms en van die einde van hierdie wêreld wees?”

4Jesus antwoord hulle: “Pas op dat niemand julle mislei nie. 5Baie sal onder my Naam kom en sê: ‘Ek is die Christus,’ en hulle sal baie mense mislei. 6Julle sal die rumoer van oorloë en gerugte van oorloë hoor. Pas op, moenie verskrik word nie. Dit moet kom, maar dit is nog nie die einde nie. 7Die een nasie sal teen die ander te staan kom en die een koninkryk teen die ander; daar sal op baie plekke hongersnode en aardbewings wees. 8Al hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd.

9“Die mense sal julle oorlewer om mishandel te word, en hulle sal julle doodmaak. Julle sal deur al die nasies gehaat word omdat julle my Naam bely. 10In daardie tyd sal baie mense van die geloof afvallig word, en hulle sal mekaar verraai en mekaar haat.

11“Daar sal baie vals profete kom, en hulle sal baie mense mislei. 12Omdat die minagting van die wet van God sal toeneem, sal die liefde by baie verkoel. 13Maar wie tot die einde volhard, sal gered word. 14En hierdie evangelie van die koninkryk sal in die hele wêreld verkondig word, sodat al die nasies die getuienis kan hoor. Eers dan sal die einde kom.”

Die profetiese rede: die groot verdrukking

(Mark. 13:14-23; Luk. 21:20-24)

15“Wanneer julle ooreenkomstig die woord van die profeet Daniël die ding wat 'n gruwel is vir God en wat verwoesting aanrig, in die heilige plek sien staan – wie dit lees, moet dit goed begryp – 16dan moet dié wat in Judea is, die berge in vlug. 17Die man wat op die dakstoep sit, moet nie ingaan om sy goed uit die huis te gryp nie, 18en die man wat op die land is, moet nie omdraai om sy klere te gaan haal nie.

19“Dit sal bitter swaar gaan met die vrouens wat in daardie tyd swanger is en met dié wat nog klein kindertjies het. 20Bid dat julle nie in die winter of op 'n sabbatdag hoef te vlug nie, 21want in daardie tyd sal daar so 'n groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af nie was nie en ook nie weer sal wees nie. 22En as dit nie was dat God daardie tyd ingekort het nie, sou geen mens dit oorleef nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal God daardie tyd inkort.

23“As iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hier is die Christus!’ of: ‘Kyk, daar is Hy!’ moet julle dit nie glo nie. 24Daar sal vals christusse en vals profete na vore kom, en hulle sal groot tekens en wonderwerke doen om, as dit moontlik was, selfs die uitverkorenes te mislei. 25Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê. 26En as die mense vir julle sê: ‘Kyk, Hy is in die woestyn!’ moet julle nie daarheen gaan nie; of as hulle sê: ‘Hy is in die slaapkamer!’ moet julle dit nie glo nie. 27Die koms van die Seun van die mens sal wees soos 'n weerligstraal wat in die ooste uitslaan en die hele lugruim tot in die weste verlig.

28“Waar die aas ook al lê, daar sal die aasvoëls bymekaarkom.”

Die profetiese rede: die koms van die Seun van die mens

(Mark. 13:24-27; Luk. 21:25-28)

29“Kort na die verdrukking van daardie tyd

sal die son verduister word, en die maan sal nie skyn nie;

die sterre sal uit die ruimte val, en die kragte van die hemelruim sal ontwrig word.

30“Dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemelruim verskyn, en al die volke van die aarde sal verslae wees. Hulle sal die Seun van die mens op die wolke van die hemel sien kom met groot krag en majesteit. 31Die groot trompet sal weerklink, en Hy sal sy engele uitstuur om sy uitverkorenes bymekaar te maak uit die vier windstreke, van elke uithoek van die aarde af.”

Die profetiese rede: die voorbeeld van die vyeboom

(Mark. 13:28-31; Luk. 21:29-33)

32“Leer dit van die vyeboom as voorbeeld: wanneer sy takke begin sag word en hy blare kry, weet julle die somer is naby. 33So moet julle ook wanneer julle al hierdie dinge sien, weet dat die tyd naby is, voor die deur. 34Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal dit alles gebeur. 35Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.”

Die profetiese rede: die dag en die uur van die wederkoms

(Mark. 13:32-37; Luk. 17:26-30,34-35)

36“Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit. 37Soos dit in die dae van Noag was, sal dit ook wees by die koms van die Seun van die mens. 38In daardie dae voor die sondvloed het hulle soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het. 39Hulle het nie besef wat aan die gang was nie, totdat die sondvloed gekom en hulle almal weggesleur het. Net so sal dit gaan by die koms van die Seun van die mens. 40Dan sal twee mense op die land werk, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word. 41Twee vroue sal by die meul koring maal, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word. 42Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet watter dag julle Here kom nie.

43“Onthou dit: as die huiseienaar geweet het watter tyd van die nag die dief kom, sou hy wag gehou het en nie toegelaat het dat daar in sy huis ingebreek word nie. 44Om dieselfde rede moet julle ook altyd gereed wees, want die Seun van die mens kom op 'n uur dat julle dit nie verwag nie.”

Die profetiese rede: die getroue en die ontroue slaaf

(Luk. 12:41-48)

45“Wie is eintlik die getroue en verstandige slaaf vir wie sy eienaar oor sy ander slawe aangestel het om hulle op tyd kos te gee? 46Dit is die slaaf vir wie sy eienaar by sy tuiskoms so aan die werk sal kry. Gelukkig is hy! 47Dit verseker Ek julle: Hy sal hom aanstel oor alles wat hy besit.

48“Maar as dit 'n slegte slaaf is, sal hy by homself dink: my eienaar bly lank weg. 49Dan sal hy die ander slawe begin slaan en saam met die dronkaards eet en drink. 50Die eienaar van daardie slaaf sal op 'n dag kom dat hy dit nie verwag nie, en op 'n uur wat hy nie vooraf weet nie. 51Dan sal sy eienaar hom laat doodmaak en hom die lot van huigelaars laat deel. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.”

Die profetiese rede: die gelykenis van die tien meisies

1“Dan sal dit met die koninkryk van die hemel gaan soos met tien meisies wat hulle lampe gevat het om die bruidegom te gaan inwag. 2Vyf van hulle was onverstandig en vyf verstandig. 3Die onverstandiges het hulle lampe gevat maar nie ekstra olie met hulle saamgevat nie, 4terwyl die verstandiges saam met hulle lampe ook nog olie in houers gevat het. 5Toe die bruidegom lank wegbly, het hulle almal vaak geword en aan die slaap geraak.

6“In die middel van die nag was daar 'n geroep: ‘Hier kom die bruidegom! Gaan hom tegemoet!’ 7Toe staan al die meisies op en maak hulle lampe reg. 8Die onverstandiges sê toe vir die verstandiges: ‘Gee vir ons van julle olie, want ons lampe gaan dood.’ 9Maar die verstandiges antwoord: ‘Nee, daar is nie genoeg vir ons en vir julle nie. Gaan liewer winkel toe en koop vir julle olie.’

10“Terwyl die onverstandiges olie gaan koop het, het die bruidegom gekom. Dié wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof toe, en die deur is gesluit.

11“Later kom die ander meisies ook daar aan en roep: ‘Meneer, Meneer, maak vir ons oop!’ 12Maar die bruidegom antwoord: ‘Ek sê vir julle: Ek ken julle nie!’

13“Waak dan, omdat julle nie weet op watter dag en uur dit sal gebeur nie.”

Die profetiese rede: die gelykenis van die muntstukke

(Luk. 19:11-27)

14“Verder gaan dit soos met 'n man wat op reis wou gaan. Hy het sy slawe bymekaargeroep en sy besittings aan hulle toevertrou. 15Vir een het hy vyf goue muntstukke gegee, vir 'n ander twee, en vir 'n derde een. Hy het aan elkeen volgens sy bekwaamheid gegee en toe op reis gegaan.

16“Die een wat vyf goue muntstukke ontvang het, het dadelik daarmee gaan werk en 'n wins gemaak van nog vyf. 17So ook die een wat twee gekry het: hy het 'n wins gemaak van nog twee. 18Maar die slaaf wat een gekry het, het 'n gat in die grond gaan grawe en sy eienaar se geld daarin weggesteek.

19“Na 'n lang tyd het die eienaar van daardie slawe teruggekom en van hulle rekenskap gevra. 20Die een wat vyf goue muntstukke ontvang het, kom toe en bring die ander vyf saam, en sê: ‘Meneer, vyf goue muntstukke het u aan my toevertrou. Hier is dit met vyf ander wat ek wins gemaak het.’ 21Toe sê sy eienaar vir hom: ‘Mooi so! Jy is 'n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!’

22“Toe kom die een met die twee goue muntstukke en sê: ‘Meneer, twee goue muntstukke het u aan my toevertrou. Hier is dit met twee ander wat ek wins gemaak het.’ 23Sy eienaar sê toe vir hom: ‘Mooi so! Jy is 'n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!’

24“Toe kom die een wat een goue muntstuk ontvang het, en sê: ‘Meneer, ek ken u en weet dat u 'n harde man is, wat oes waar u nie gesaai het nie, en pluk waar u nie geplant het nie. 25Omdat ek bang was, het ek u muntstuk in die grond gaan begrawe. Hier het u u geld terug.’ 26Toe sê sy eienaar vir hom: ‘Jy is 'n slegte en 'n lui slaaf! Jy het geweet dat ek oes waar ek nie gesaai het nie, en pluk waar ek nie geplant het nie. 27Dan moes jy my geld in die bank gesit het, en ek sou dit by my koms met rente teruggekry het. 28Vat die muntstuk van hom af weg en gee dit aan die een wat die tien het. 29Aan elkeen wat het, sal meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word. 30En gooi die nuttelose slaaf uit in die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.’ ”

Die profetiese rede: die laaste oordeel

31“Wanneer die Seun van die mens in majesteit kom en al die engele saam met Hom, sal Hy op sy koninklike troon gaan sit. 32Al die volke sal voor Hom bymekaar gebring word, en Hy sal die mense van mekaar skei soos 'n wagter die skape van die bokke skei. 33Die skape sal Hy regs en die bokke links van Hom laat staan.

34“Dan sal die Koning vir dié aan sy regterkant sê: ‘Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit, 35want Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was 'n vreemdeling, en julle het My gehuisves; 36Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek.’ 37Dan sal dié wat die wil van God gedoen het, Hom vra: ‘Here, wanneer het ons U honger gesien en U gevoed, of dors en U iets gegee om te drink? 38En wanneer het ons U 'n vreemdeling gesien en U gehuisves, of sonder klere, en vir U klere gegee? 39Wanneer het ons U siek gesien of in die tronk en U besoek?’ 40En die Koning sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.’

41“Dan sal die Koning vir dié aan sy linkerkant sê: ‘Gaan weg van My af, julle vervloektes! Gaan na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is, 42want Ek was honger, en julle het My niks gegee om te eet nie; Ek was dors, en julle het My niks gegee om te drink nie; 43Ek was 'n vreemdeling, en julle het My nie gehuisves nie; sonder klere, en julle het My nie klere gegee nie; siek en in die tronk, en julle het My nie versorg nie.’ 44Dan sal hulle ook antwoord: ‘Here, wanneer het ons U honger of dors of 'n vreemdeling of sonder klere of siek of in die tronk gesien en U nie gehelp nie?’ 45En Hy sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.’ 46En hierdie mense sal die ewige straf ontvang, maar dié wat die wil van God gedoen het, die ewige lewe.”

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS