Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 110

MATTEUS 26–28

Bybelteks(te)

Jesus se dood word beplan

(Mark. 14:1-2; Luk. 22:1-2; Joh. 11:45-53)

1Nadat Jesus oor al hierdie dinge klaar gepraat het, het Hy vir sy dissipels gesê: 2“Julle weet dat dit oor twee dae paasfees is. Dan word die Seun van die mens oorgelewer om gekruisig te word.”

3In daardie tyd het die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk bymekaargekom in die woning van Kajafas, die hoëpriester. 4Hulle het daar saam planne gemaak om Jesus op 'n slinkse manier gevange te neem en dood te maak. 5Hulle het egter gesê: “Nie op die fees nie, sodat daar nie oproer onder die volk kom nie.”

Jesus word in Betanië gesalf

(Mark. 14:3-9; Joh. 12:1-8)

6-7Terwyl Jesus in Betanië in die huis van Simon die melaatse aan tafel was, het 'n vrou by Jesus gekom met 'n albaste fles baie kosbare reukolie en dit op sy kop uitgegiet.

8Toe die dissipels dit sien, was hulle verontwaardig. “Waarom so 'n verkwisting?” vra hulle. 9“'n Mens kon die reukolie vir baie geld verkoop het en dit vir armes gegee het.”

10Jesus het dit gemerk en vir hulle gesê: “Waarom maak julle dit vir die vrou moeilik? Sy het 'n goeie daad aan My gedoen. 11Die armes het julle altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie. 12Deur hierdie reukolie op my liggaam uit te giet, het sy My voorberei vir my begrafnis. 13Dit verseker Ek julle: Oral waar hierdie evangelie in die hele wêreld verkondig word, sal daar ook vertel word wat sy gedoen het, tot 'n herinnering aan haar.”

Judas onderneem om Jesus te verraai

(Mark. 14:10-11; Luk. 22:3-6)

14Toe het een van die twaalf dissipels, die een wat Judas Iskariot genoem is, na die priesterhoofde toe gegaan 15en gesê: “Wat sal julle my gee as ek sorg dat Jesus in julle hande kom?” Hulle het hom toe dertig silwermuntstukke betaal. 16Van toe af was hy op die uitkyk na 'n geskikte geleentheid om Jesus te verraai.

Die paasmaaltyd word voorberei

(Mark. 14:12-21; Luk. 22:7-14)

17Op die eerste dag van die fees van die ongesuurde brood kom die dissipels na Jesus toe en vra: “Waar wil U hê moet ons gaan regmaak vir U om die paasmaaltyd te eet?”

18Jesus het geantwoord: “Gaan in die stad na so en so toe en sê vir hom: ‘Ons Leermeester sê: My tyd is naby. In jou huis wil Ek saam met my dissipels die paasmaaltyd hou.’ ”

19Die dissipels het gemaak soos Jesus aan hulle opgedra het, en die paasmaaltyd voorberei.

Jesus wys sy verraaier aan

(Mark. 14:17-21; Luk. 22:21-23; Joh. 13:21-27)

20Toe dit aand geword het, het Jesus sy plek aan die tafel ingeneem saam met die twaalf. 21Terwyl hulle eet, sê Hy: “Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai.”

22Hulle was baie onthuts en een na die ander het Hom begin vra: “Dit is tog nie ek nie, Here?”

23Hy antwoord toe: “Die een wat saam met My sy brood in die skottel insteek, dit is hy wat My sal verraai. 24Die Seun van die mens gaan inderdaad sterwe soos daar oor Hom geskrywe staan; maar wee die man deur wie die Seun van die mens verraai word. Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie.”

25Toe sê Judas, sy verraaier: “Is dit miskien ek, Rabbi?”

Jesus antwoord: “Dit is soos jy sê!”

Die instelling van die nagmaal

(Mark. 14:22-26; Luk. 22:15-20; 1 Kor. 11:23-25)

26En terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee met die woorde: “Neem, eet; dit is my liggaam.”

27Toe neem Hy 'n beker, en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle en sê: “Drink almal daaruit, 28want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes. 29Ek sê vir julle: Van nou af sal Ek nie weer van hierdie wyn drink nie tot op die dag wanneer Ek saam met julle die nuwe wyn in die koninkryk van my Vader sal drink.”

30Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe.

Petrus sal Jesus verloën

(Mark. 14:27-31; Luk. 22:31-34; Joh. 13:36-38)

31Toe sê Jesus vir hulle: “Julle almal sal My vannag nog in die steek laat. Daar staan immers geskrywe:

“ ‘Ek sal die herder doodmaak,

en die skape van sy kudde sal uitmekaar gejaag word.’

32“Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek julle vooruitgaan na Galilea toe.”

33Daarop het Petrus vir Hom gesê: “Al sal hulle U ook almal in die steek laat, ék sal U nooit in die steek laat nie.”

34Toe sê Jesus vir hom: “Dit verseker Ek jou: Vannag nog, voordat die haan kraai, sal jy My drie maal verloën.”

35Petrus sê vir Hom: “Al moet ek saam met U sterwe, ek sal U beslis nie verloën nie!”

Al die ander dissipels het ook so gesê.

Jesus in Getsemane

(Mark. 14:32-42; Luk. 22:39-46; Joh. 18:1-2)

36Daarna kom Jesus met sy dissipels by 'n plek met die naam Getsemane, en Hy sê vir hulle: “Sit hier terwyl Ek daar gaan bid.”

37Hy het vir Petrus en die twee seuns van Sebedeus saamgeneem. Toe het Hy bedroef en beangs geword 38en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak saam met My.”

39Hy het 'n entjie verder gegaan en daar gekniel met die gesig teen die grond en gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.”

40Daarna kom Hy na die dissipels toe terug en kry hulle aan die slaap. Hy sê toe vir Petrus: “Kon julle nie eens een uur lank saam met My waak nie? 41Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is gewillig, maar die vlees is swak.”

42'n Tweede keer het Hy gaan bid en gesê: “My Vader, as hierdie lydensbeker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied.”

43Toe Hy terugkom, kry Hy hulle weer aan die slaap, want van die vaak kon hulle nie hulle oë oophou nie.

44Hy het hulle weer alleen laat bly en 'n derde keer gaan bid en dieselfde woorde gesê. 45Toe kom Hy na die dissipels toe terug en sê vir hulle: “Slaap en rus julle nog? Die uur het gekom. Die Seun van die mens word in die hande van sondaars oorgegee. 46Staan op, kom ons loop. Kyk, die man wat My verraai, is hier naby.”

Jesus word gevange geneem

(Mark. 14:43-50; Luk. 22:47-53; Joh. 18:3-12)

47Op daardie oomblik, terwyl Jesus nog praat, kom Judas, een van die twaalf, daar aan, en saam met hom was 'n groot klomp mense met swaarde en stokke. Hulle is deur die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk gestuur.

48Die verraaier het met die manne 'n teken afgespreek. Hy het gesê: “Die een wat ek soen, dit is hy. Gryp hom!” 49Hy het reguit na Jesus toe gegaan en gesê: “Goeiemôre, Rabbi,” en Hom gesoen.

50Maar Jesus sê vir hom: “Vriend, doen wat jy gekom het om te doen!”

Toe kom hulle vorentoe, gryp vir Jesus en neem Hom gevange.

51Een van dié wat saam met Jesus was, gryp toe sy swaard en trek dit uit. Hy slaan na die slaaf van die hoëpriester en kap sy oor af. 52Toe sê Jesus vir hom: “Sit jou swaard terug in sy plek, want almal wat na die swaard gryp, sal deur die swaard omkom. 53Of dink jy Ek kan nie my Vader om hulp vra nie? Hy sal dadelik vir My meer as twaalf legioene engele beskikbaar stel. 54Maar hoe sal die Skrif dan vervul word wat sê hoe die dinge moet gebeur?”

55Dit was toe dat Jesus vir die klomp mense gesê het: “Was dit vir julle nodig om met swaarde en stokke uit te gaan om My te vang asof Ek 'n rower is? Dag vir dag het Ek in die tempel gesit en die mense geleer, en julle het My nie gevange geneem nie. 56Maar dit alles het gebeur sodat die geskrifte van die profete vervul kan word.”

Toe het al sy dissipels Hom in die steek gelaat en weggehardloop.

Jesus voor die Joodse Raad

(Mark. 14:53-65; Luk. 22:54-55,63-71; vgl. Joh. 18:13-14,19-24)

57Die mense wat vir Jesus gevange geneem het, het Hom weggelei na Kajafas, die hoëpriester, waar die skrifgeleerdes en die familiehoofde bymekaargekom het. 58Petrus het op 'n afstand agter Hom aan gegaan tot by die binnehof van die hoëpriester se woning. Hy het ingegaan en daar by die wagte gaan sit om te kyk hoe dit afloop.

59Die priesterhoofde en die hele Joodse Raad het vals getuienis teen Jesus probeer kry sodat hulle Hom kon doodmaak. 60Baie vals getuies het na vore gekom, en tog kon die Raad niks teen Hom vind nie. Eindelik het daar twee vorentoe gekom 61en gesê: “Hierdie man het gesê: Ek kan die tempel van God afbreek en in drie dae weer opbou.”

62Toe staan die hoëpriester op en sê vir Hom: “Verweer jy jou glad nie? Wat van die getuienis wat hierdie mense teen jou inbring?”

63Maar Jesus het niks gesê nie. Die hoëpriester sê toe vir Hom: “Ek stel jou onder 'n eed by die lewende God dat jy vir ons moet sê: Is jy die Christus, die Seun van God?”

64Jesus antwoord hom: “Dit is soos u sê. Daarby sê Ek vir julle:

“Van nou af sal julle die Seun van die mens sien waar Hy aan die regterhand sit van Hom wat magtig is, en julle sal Hom sien kom op die wolke van die hemel.

65Toe skeur die hoëpriester uit verontwaardiging sy klere en sê: “Hy het God gelaster. Waarvoor het ons nog getuies nodig? Daar het julle nou net die godslasterlike woorde gehoor. 66Wat dink julle?”

Hulle het geantwoord: “Hy verdien die dood!”

67Toe het hulle in sy gesig gespoeg en Hom met die vuis geslaan. Hulle het Hom geklap 68en gesê: “Jy is mos 'n profeet, Christus! Sê vir ons, wie het jou geslaan?”

Petrus verloën Jesus

(Mark. 14:66-72; Luk. 22:56-62; Joh. 18:15-18,25-27)

69Petrus het buite in die binnehof gesit toe 'n diensmeisie na hom toe kom en sê: “Jy was ook saam met Jesus die Galileër.”

70Maar hy het dit voor almal ontken: “Ek weet nie waarvan jy praat nie.”

71Hy gaan toe na die uitgang van die binnehof. Daar sien 'n ander diensmeisie hom en sê vir dié wat daar staan: “Hierdie man was saam met Jesus van Nasaret.”

72Weer het Petrus dit ontken en met 'n eed gesê: “Ek ken die man nie!”

73'n Rukkie later kom die manne wat daar staan, na Petrus toe en sê: “Dit is waar, jy is ook een van hulle. 'n Mens kan dit aan jou spraak hoor.”

74Toe begin hy vloek, en hy sweer: “Ek ken die man nie!”

75En op daardie oomblik het daar 'n haan gekraai. Toe val dit Petrus by wat Jesus gesê het: “Voordat die haan kraai, sal jy My drie maal verloën.” En hy het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.

Jesus word aan Pilatus uitgelewer

(Mark. 15:1; Luk. 23:1-2; Joh. 18:28-32)

1Die môre vroeg het al die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk die besluit geneem om Jesus dood te maak. 2Hulle het Hom geboei en Hom toe weggebring en aan Pilatus, die goewerneur, uitgelewer.

Die dood van Judas

(Hand. 1:18-19)

3Toe Judas, die verraaier, sien dat Jesus tot die dood veroordeel is, het hy spyt gekry. Hy het die dertig silwermuntstukke teruggebring na die priesterhoofde en die familiehoofde toe 4en vir hulle gesê: “Ek het gesondig. Ek het 'n onskuldige man verraai.”

Maar hulle antwoord: “Wat het ons daarmee te doen? Dit is jou saak!”

5Judas het toe die geld in die tempel in gegooi, weggeloop en homself gaan ophang.

6Die priesterhoofde het die geld opgetel en gesê: “Dit is nie geoorloof om dit in die tempelfonds te stort nie, want dit is bloedgeld.”

7Hulle besluit toe om daarmee die grond van die pottebakker te koop as 'n begraafplaas vir vreemdelinge.

8Daardie stuk grond word tot vandag toe nog Bloedgrond genoem.

9Toe is die woord vervul wat die Here deur die profeet Jeremia gesê het:

“En hulle het die dertig silwermuntstukke geneem, dit is die prys wat die Israeliete ooreengekom het om vir hom te betaal, 10en hulle het dit uitbetaal vir die grond van die pottebakker. So het die Here dit aan my opgedra.”

Jesus voor Pilatus

(Mark. 15:2-5; Luk. 23:3-5; Joh. 18:33-38)

11Jesus is voor die goewerneur gebring en dié vra Hom: “Is jy die koning van die Jode?”

Jesus antwoord: “Dit is soos u sê.”

12Op die beskuldigings van die priesterhoofde en die familiehoofde het Hy niks geantwoord nie.

13Toe sê Pilatus vir Hom: “Hoor jy nie waarvan hulle jou alles beskuldig nie?”

14Maar Jesus het hom op geen enkele woord 'n antwoord gegee nie, sodat die goewerneur baie verbaas was.

Pilatus lewer Jesus oor om gekruisig te word

(Mark. 15:6-15; Luk. 23:13-25; Joh. 18:39 – 19:16)

15Die goewerneur het die gewoonte gehad om elke paasfees vir die mense een gevangene van hulle eie keuse los te laat. 16In daardie tyd was daar 'n berugte gevangene met die naam Jesus Barabbas. 17Aangesien die mense tog bymekaar was, het Pilatus hulle gevra: “Wie wil julle hê moet ek vir julle loslaat: Jesus Barabbas of Jesus wat Christus genoem word?” 18Hy het geweet dat die priesterhoofde Hom uit afguns uitgelewer het.

19Terwyl Pilatus op die regbank sit, het sy vrou vir hom 'n boodskap gestuur: “Moet tog niks met daardie onskuldige man te doen hê nie, want ek het vannag 'n vreeslike droom oor hom gehad.”

20Intussen het die priesterhoofde en die familiehoofde die mense oorgehaal om vir Barabbas vrylating te vra en vir Jesus die dood.

21Die goewerneur vra hulle toe: “Watter een van die twee wil julle hê moet ek vir julle loslaat?”

“Barabbas!” antwoord hulle.

22Pilatus sê vir hulle: “Wat moet ek dan doen met Jesus wat Christus genoem word?”

“Kruisig hom!” skreeu hulle almal.

23Hy vra: “Watter kwaad het hy dan gedoen?”

Maar hulle skreeu nog harder: “Kruisig hom!”

24Toe Pilatus sien dit help niks nie en dat daar eerder 'n oproer kom, het hy water gevat en voor die skare sy hande gewas en gesê: “Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie man. Dit is julle verantwoordelikheid.”

25Toe antwoord die hele volk: “Laat die skuld vir sy bloed op ons en ons kinders rus!”

26Pilatus het Barabbas toe vir hulle losgelaat; maar Jesus het hy laat gesel en Hom oorgelewer om gekruisig te word.

Die soldate bespot Jesus

(Mark. 15:16-20; Joh. 19:2-3)

27Daarna vat die soldate van die goewerneur vir Jesus in die ampswoning in en bring die hele leërafdeling rondom Hom bymekaar. 28Hulle trek toe sy klere uit en gooi Hom 'n pers mantel om. 29Hulle vleg 'n doringkroon en sit dit op sy kop en gee Hom 'n stok in sy regterhand. Toe bespot hulle Hom deur voor Hom te buig en te sê: “Ons groet u, Koning van die Jode!” 30Hulle het op Hom gespoeg en die stok gevat en Hom oor die kop geslaan. 31Nadat hulle Hom klaar bespot het, het hulle die mantel uitgetrek en weer sy eie klere vir Hom aangetrek. Toe lei hulle Hom weg om Hom te kruisig.

Jesus word gekruisig

(Mark. 15:21-32; Luk. 23:26-43; Joh. 19:17-27)

32Toe hulle uitgaan, kry hulle 'n man van Sirene met die naam Simon, en hulle het hom gekommandeer om Jesus se kruis te dra. 33Hulle kom toe by 'n plek wat Golgota genoem word; dit beteken Kopbeenplek. 34Daar het hulle Hom 'n mengsel van wyn en gal gegee om te drink, maar toe Hy dit proe, wou Hy dit nie drink nie.

35Hulle het Hom gekruisig en sy klere verdeel deur te loot. 36Daarna het hulle gaan sit en by Hom wag gehou.

37Bokant sy kop het hulle die aanklag teen Hom in skrif aangegee: “Dit is Jesus, die koning van die Jode.” 38Saam met Hom het hulle ook twee rowers gekruisig, een regs en die ander een links van Hom.

39Die mense wat daar verbygeloop het, het Jesus gelaster. Hulle het die kop geskud 40en gesê: “Jy wat die tempel afbreek en in drie dae opbou! Red jouself as jy die Seun van God is, en kom van die kruis af!”

41Net so het die priesterhoofde saam met die skrifgeleerdes en die familiehoofde ook gespot en gesê: 42“Ander het hy gered, maar homself kan hy nie red nie. Hy is mos die koning van Israel! Laat hy nou van die kruis afkom en ons sal in hom glo. 43Hy het op God vertrou; laat God hom nou red as Hy dan behae in hom het. Hy het immers gesê hy is die Seun van God!”

44Op dieselfde manier het die rowers wat saam met Hom gekruisig is, Hom ook beledig.

Jesus sterwe

(Mark. 15:33-41; Luk. 23:44-49; Joh. 19:28-30)

45Van twaalfuur af het daar duisternis oor die hele land gekom, en dit het tot drie-uur geduur. 46Teen drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?

47Party van dié wat daar gestaan het, het dit gehoor en gesê: “Hy roep vir Elia.”

48Een van hulle hardloop toe gou, vat 'n spons en maak dit vol suur wyn en hou dit op 'n stok vir Hom om te drink. 49Maar die ander sê: “Wag, laat ons kyk of Elia hom kom red.”

50Jesus het weer hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.

51Op daardie oomblik het die voorhangsel van die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur. Die aarde het geskud, en die rotse het uitmekaar gebars. 52Grafte het oopgegaan, en baie gelowiges wat dood was, is opgewek, 53en hulle het uit hulle grafte uitgegaan. Na Jesus se opstanding het hulle in die heilige stad gekom, waar hulle aan baie mense verskyn het.

54Toe die offisier en die soldate wat saam met hom vir Jesus bewaak het, die aardbewing sien en die dinge wat gebeur, het hulle baie bang geword en gesê: “Hierdie man was werklik die Seun van God.”

55Daar was ook baie vroue wat op 'n afstand gestaan en kyk het. Dit is hulle wat vir Jesus van Galilea af gevolg en vir Hom gesorg het. 56Onder hulle was Maria Magdalena, Maria die moeder van Jakobus en Josef, en die moeder van die seuns van Sebedeus.

Jesus word begrawe

(Mark. 15:42-47; Luk. 23:50-56; Joh. 19:38-42)

57Laat die middag het daar 'n ryk man aangekom. Dit was Josef van Arimatea, wat self ook 'n volgeling van Jesus was. 58Hy het na Pilatus toe gegaan en die liggaam van Jesus gevra, en Pilatus het beveel dat dit vir hom gegee moet word.

59Josef het die liggaam geneem en dit in skoon linne toegedraai 60en dit daarna neergelê in sy eie nuwe graf wat hy in die rots uitgekap het. Hy het 'n groot klip voor die ingang van die graf gerol en weggegaan. 61Maria Magdalena en die ander Maria was ook daar en het reg voor die graf gesit.

Die graf word bewaak

62Die volgende dag, die dag na die Vrydag, het die priesterhoofde en die Fariseërs by Pilatus gekom 63en vir hom gesê: “Meneer, ons onthou dat toe daardie bedrieër nog geleef het, hy gesê het: ‘Na drie dae sal ek uit die dood opgewek word.’ 64Gee dan bevel dat die graf drie dae veilig bewaak word, sodat sy dissipels hom nie dalk kom steel en vir die mense vertel: ‘Hy is uit die dood opgewek’ nie. Dan sal die tweede bedrog erger wees as die eerste.”

65Pilatus antwoord hulle: “Hier is vir julle 'n wag; gaan beveilig die graf so goed as julle kan.”

66Hulle het toe gegaan en die graf beveilig deur die klip te verseël en die wag daar te laat bly.

Jesus het opgestaan

(Mark. 16:1-8; Luk. 24:1-12; Joh. 20:1-8)

1Na die sabbatdag, toe dit die Sondagmôre begin lig word, het Maria Magdalena en die ander Maria na die graf gaan kyk.

2Skielik was daar 'n geweldige aardbewing. 'n Engel van die Here het van die hemel af gekom, na die graf toe gegaan, die klip weggerol en daarop gaan sit. 3Sy voorkoms was so blink soos weerlig en sy klere so wit soos sneeu. 4Van skrik vir hom het die wagte gebewe en soos dooies geword.

5Toe sê die engel vir die vroue: “Julle moet nie bang wees nie. Ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. 6Hy is nie hier nie, want Hy is uit die dood opgewek, soos Hy gesê het. Kom nader en kyk: daar is die plek waar Hy gelê het. 7Gaan gou en sê vir sy dissipels: ‘Hy is uit die dood opgewek, en Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle Hom sien.’ Dit is wat ek vir julle moes sê.”

8Hulle het toe haastig van die graf af weggegaan, bang maar baie bly, en hulle het gehardloop om dit aan die dissipels te vertel.

9Skielik het Jesus daar voor die vroue gestaan en hulle gegroet. Hulle het nader gekom, sy voete gegryp en Hom aanbid. 10Toe sê Jesus vir hulle: “Moenie bang wees nie. Gaan sê vir my broers hulle moet na Galilea toe gaan, en daar sal hulle My sien.”

Die berig van die wagte

11Terwyl die vroue op pad was, kom party van die wagte in die stad aan en vertel vir die priesterhoofde alles wat gebeur het. 12Die priesterhoofde het saam met die familiehoofde vergader en die volgende plan gemaak. Hulle het vir die soldate 'n groot som geld gegee 13en gesê: “Julle moet sê: ‘Sy dissipels het in die nag gekom en sy liggaam gesteel terwyl ons geslaap het.’ 14En as die goewerneur daarvan hoor, sal ons hom tevrede stel en sorg dat julle nie bekommerd hoef te wees nie.”

15Die wagte het toe die geld gevat en gemaak soos hulle voorgesê is.

Hierdie storie word tot vandag toe onder die Jode vertel.

Jesus se opdrag aan die dissipels

(Mark. 16:14-18; Luk. 24:36-49; Joh. 20:19-23; vgl. Hand. 1:6-8)

16Die elf dissipels het na Galilea toe gegaan na die berg waarheen Jesus hulle beveel het om te gaan. 17Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid, hoewel party getwyfel het. 18Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. 19Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en 20leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS