Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 105

JESAJA 52–55, MATTEUS 16

Bybelteks(te)

Julle sal losgekoop word

1Word wakker, word wakker,

ruk jou reg, Sion.

Trek mooi klere aan,

Jerusalem, heilige stad!

Mense wat nie besny is nie

en mense wat onrein is, sal nie meer in jou kom nie.

2Skud die stof van jou af en staan op, Jerusalem,

jy wat 'n gevangene is.

Maak los die toue om jou nek, Sion,

jy wat 'n gevangene is.

3So sê die Here:

Ek het julle verkoop, maar nie vir geld nie;

julle sal losgekoop word, maar nie deur geld nie.

4So sê die Here my God:

In die begin het my volk afgegaan na Egipte toe

en daar gewoon as vreemdelinge;

later het Assirië hulle verdruk.

5En wat kry Ek nou hier in Babel? vra die Here.

My volk is sonder rede weggevoer,

hulle leiers huil, sê die Here.

My Naam word gedurig belaster.

6Daardie dag sal my volk my Naam bely:

dat Ek die Here is,

dat dit Ek is wat sê: Hier is Ek!

7Hoe wonderlik klink op die berge

die voetstappe van hom wat die goeie boodskap bring,

wat vrede aankondig, wat die goeie tyding bring,

wat redding aankondig,

wat vir Sion sê: “Jou God is Koning!”

8Hoor, jou wagte roep hard,

hulle jubel almal saam,

want hulle sien dat die Here na Sion toe terugkom.

9Jubel en juig, puinhope van Jerusalem,

want die Here het vir sy volk uitkoms gebring,

Hy het Jerusalem verlos.

10Die Here het sy heiligheid, sy mag, geopenbaar voor die oë van al die nasies.

Tot aan die uithoeke van die aarde

sal hulle die redding sien wat ons God bewerk het.

11Gee pad, gee pad, kom uit uit Babel!

Moenie aan iets raak wat onrein is nie.

Kom uit daar! Sorg dat julle rein is,

julle wat die tempelgereedskap dra.

12Julle hoef nie haastig pad te gee nie,

julle hoef nie soos vlugtelinge te vertrek nie:

Die Here gaan voor julle uit,

die God van Israel kom agter julle aan.

Oor óns sondes is hy verbrysel

13My dienaar sal voorspoedig wees.

Hy sal hoog in aansien wees, hy sal baie eer ontvang.

14Baie mense was ontsteld oor hom,

hy was so misvormd

dat hy nie meer soos 'n mens gelyk het nie,

nie meer die voorkoms van 'n mens gehad het nie.

15Maar hy gaan baie nasies laat opspring van verbasing.

Konings sal sprakeloos wees oor hom,

want hulle sal iets sien wat nie aan hulle vertel is nie,

hulle sal iets te wete kom

wat hulle nog nooit gehoor het nie.

1Wie sal ons glo as ons hiervan vertel?

Wie sal die mag van die Here hierin kan raaksien?

2Die dienaar was soos 'n loot wat voor die Here uitspruit,

soos 'n plant wat wortel skiet in droë grond.

Hy het nie skoonheid of prag gehad

dat ons na hom sou kyk nie,

nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie.

3Hy was verag en deur die mense verstoot,

'n man van lyding wat pyn geken het,

iemand vir wie die mense die gesig wegdraai.

Hy was verag, ons het hom nie gereken nie.

4Tog het hy óns lyding op hom geneem,

óns siektes het hy gedra.

Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word,

wat deur God geslaan en gepynig word.

5Oor óns oortredings is hy deurboor,

oor óns sondes is hy verbrysel;

die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom,

deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.

6Ons het almal gedwaal soos skape,

ons het elkeen sy eie pad geloop,

maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom.

7Hy is mishandel, maar hy het geduldig gebly,

hy het nie gekla nie.

Soos 'n lam wat na die slagplek toe gelei word

en soos 'n skaap wat stil is as hy geskeer word,

het hy nie gekla nie.

8Terwyl hy gely het en gestraf is,

is hy weggeneem,

en wie van sy mense het dit ter harte geneem

dat hy afgesny is uit die land van die lewendes?

Hy is gestraf oor die sonde van my volk.

9Hy het 'n graf gekry by goddeloses,

hy was by sondaars in sy dood

al het hy geen misdaad gepleeg nie

en al was hy nooit vals nie.

10Dit was die wil van die Here om hom te verbrysel,

om hom die pyn te laat ly.

As hy sy lewe as skuldoffer gee,

sal hy 'n nageslag hê en nog lank lewe,

deur hom sal die wil van die Here sy doel bereik.

11Ná sy bitter lyding sal hy weer die lig sien

en hy sal die Here ken.

My dienaar, die regverdige, sal baie mense regverdig maak:

hy sal die straf vir hulle sonde dra.

12Daarom gee Ek hom 'n ereplek onder die grotes.

Hy sal saam met magtiges die oorwinning vier

omdat hy hom in die dood oorgegee het

en as misdadiger beskou is,

omdat hy die sondes van baie op hom geneem het

en vir oortreders gebid het.

My liefde vir jou sal nooit verdwyn nie

1Jubel, onvrugbare vrou,

jy wat geen kinders

in die wêreld gebring het nie,

jubel en juig,

jy wat geen geboortepyne geken het nie,

want jy, verstote vrou, gaan nou meer kinders hê

as een wat getroud is, sê die Here.

2Maak groter die plek vir jou tent,

maak breër jou tentdoeke,

moenie suinig daarmee werk nie.

Maak langer die tentlyne

en slaan die tentpenne dieper in,

3want jy sal na alle kante toe uitbrei;

jou nageslag sal nasies verdryf

en in die stede wat nou verwoes is, gaan woon.

4Moenie bang wees nie,

jy sal nie weer in die skande kom nie,

moenie so verleë daar staan nie,

jy sal nie weer verneder word nie.

Jy sal die skande uit jou jong dae vergeet

en nie meer dink hoe jy verneder is

toe jy 'n weduwee was nie.

5Hy wat jou gemaak het, is jou man,

sy Naam is die Here die Almagtige.

Die Heilige van Israel is jou Verlosser;

Hy word die God van die hele wêreld genoem.

6Jy is 'n verstote en bitter bedroefde vrou,

maar die Here roep jou terug,

want hoe kan 'n man sy eie vrou vergeet? sê jou God.

7Net 'n oomblik het Ek jou verstoot,

in my groot liefde vat Ek jou terug.

8In 'n opwelling van toorn

wou Ek 'n kort tydjie niks met jou te doen hê nie,

maar Ek ontferm My oor jou

met 'n liefde wat nooit vergaan nie,

sê die Here, jou Verlosser.

9Soos met die waters van Noag is dit vir My:

soos Ek met 'n eed bevestig het dat die waters van Noag

nie weer die aarde sal oorstroom nie,

so bevestig Ek met 'n eed

dat Ek nie langer toornig op jou sal wees en jou sal straf nie.

10Berge kan padgee, heuwels kan wankel,

maar my liefde vir jou sal nooit verdwyn nie,

my vredeverbond met jou sal nooit wankel nie,

sê die Here, wat jou liefhet.

11Jy, verdrukte, bedreigde stad

vir wie daar nie uitkoms was nie,

Ek sal jou klippe vasmessel met goeie klei,

Ek maak jou fondamente van saffiersteen.

12Ek maak jou torings van robyne

en jou poorte van smarag,

jou hele stadsmuur van kosbare klip.

13Al jou inwoners sal leerlinge van die Here wees,

en hulle sal altyd vrede geniet.

14Geregtigheid sal in jou heers.

Jy hoef nie bang te wees vir verdrukking nie,

ook nie vir verskrikking nie,

want dit sal nie naby jou kom nie.

15As iemand jou aanval, het Ek hom nie gestuur nie;

wie jou aanval, sal die onderspit teen jou delf.

16Dit is Ek wat die ambagsman geskep het,

die ambagsman wat die vuur aanblaas

en allerhande wapens daarin smee.

Dit is Ek wat die verwoester geskep het om af te breek.

17Geen wapen wat gesmee word om jou aan te val,

sal iets uitrig nie;

elkeen wat vals teen jou getuig,

sal gestraf word.

Dit is hoe Ek, die Here,

vir my dienaars sorg.

Ek laat geregtigheid aan hulle geskied, sê die Here.

Ek wil met julle 'n ewige verbond sluit

1Kom, almal wat dors is, kom na die water toe,

selfs ook dié wat nie geld het nie, kom,

koop en eet;

ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal,

wyn en melk.

2Waarom betaal julle vir iets wat nie brood is nie,

waarom werk julle vir iets wat nie kan versadig nie?

Luister aandagtig na My, sodat julle kan eet wat goed is

en versadig kan word met die beste wat daar is.

3Gee aandag en kom na My toe,

luister, en julle sal lewe.

Ek wil met julle 'n ewige verbond sluit,

Ek wil my troue liefde aan julle betoon soos aan Dawid.

4Ek het hom 'n getuie gemaak vir die volke,

'n regeerder en gebieder van volke.

5Nou sal jy nasies ontbied wat jy nie geken het nie,

en nasies wat jou nie geken het nie,

sal na jou toe hardloop

ter wille van die Here jou God,

die Heilige van Israel,

omdat Hy jou in eer herstel het.

6Vra na die wil van die Here terwyl Hy nog te vinde is,

roep Hom aan terwyl Hy nog naby is.

7Die goddelose moet sy verkeerde pad laat staan,

die slegte mens sy slegte planne.

Hy moet hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom genadig wees;

hy moet hom tot ons God bekeer, Hy vergewe altyd weer.

8My gedagtes is nie julle gedagtes nie,

en julle optrede nie soos Myne nie,

sê die Here;

9soos die hemel hoër is as die aarde,

so is my optrede verhewe bo julle optrede

en my gedagtes bo julle gedagtes.

10Die reën en die sneeu kom uit die hemel uit

en dit gaan nie daarheen terug nie maar deurweek die aarde

en laat die plante bot en vrugte dra,

sodat daar saad is om te saai en brood om te eet.

11So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees:

dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie,

maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê

en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het.

12Julle sal met blydskap uit Babel wegtrek

en in vrede gelei word;

die berge en die heuwels sal voor julle uit jubel en juig

en al die bome in die veld sal hande klap.

13In die plek van 'n doringbos sal daar 'n sipres opskiet,

in die plek van 'n dissel sal daar 'n mirteboom opskiet.

Dit sal tot eer van die Here wees,

'n blywende teken wat nooit vernietig sal word nie.

'n Tweede versoek om 'n teken afgewys

(Mark. 8:11-13; Luk. 12:54-56; vgl. Matt. 12:38-42)

1Die Fariseërs en die Sadduseërs het gekom om Jesus op die proef te stel. Hulle het Hom gevra om vir hulle as teken uit die hemel 'n wonder te doen.

2Maar Hy antwoord hulle: “In die aand sê julle: ‘Daar kom mooi weer, want die lug is rooi;’ 3in die môre sê julle: ‘Vandag sal dit onweer wees, want die lug is dynserig rooi.’ Julle weet hoe om die voorkoms van die lug te beoordeel, maar die tekens van die tye kan julle nie onderskei nie. 4'n Slegte en afvallige geslag wil 'n teken hê, en geen teken sal aan hulle gegee word nie behalwe die teken van Jona.”

Hy het hulle daar gelaat en weggegaan.

Die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs

(Mark. 8:14-21)

5Die dissipels het na die oorkantste oewer toe gegaan, maar vergeet om brood saam te neem. 6Jesus het vir hulle gesê: “Pas op en wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs.”

7Hulle het toe met mekaar daaroor gepraat en gesê: “Dit is omdat ons nie brood saamgebring het nie.”

8Jesus het geweet wat hulle praat, en Hy sê vir hulle: “Kleingelowiges! Hoekom praat julle met mekaar daaroor dat julle nie brood het nie? 9Verstaan julle nog nie en onthou julle nie die vyf brode vir die vyf duisend en hoeveel mandjies vol julle bymekaargemaak het nie? 10En die sewe brode vir die vier duisend en hoeveel mandjies vol julle bymekaargemaak het nie? 11Hoe is dit dan dat julle nie verstaan dat Ek nie met julle oor brood gepraat het nie? Ek het gesê: Pas op vir die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs.”

12Toe het hulle verstaan dat Hy nie bedoel het dat hulle vir gewone suurdeeg op hulle hoede moet wees nie maar vir die leer van die Fariseërs en die Sadduseërs.

Die belydenis van Petrus

(Mark. 8:27-30; Luk. 9:18-21)

13Toe Jesus in die streke van Sesarea-Filippi kom, het Hy vir sy dissipels gevra: “Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?”

14Hulle antwoord: “Party sê Johannes die Doper, party Elia, party Jeremia of een van die profete.”

15“Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?”

16Simon Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.”

17“Gelukkig is jy, Simon Barjona,” het Jesus vir hom gesê, “want dit is nie 'n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is. 18En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. 19Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.”

20Toe het Jesus sy dissipels beveel om vir niemand te sê dat Hy die Christus is nie.

Jesus kondig die eerste keer sy dood en opstanding aan

(Mark. 8:31-33; Luk. 9:22)

21Van toe af het Jesus dit vir sy dissipels duidelik begin stel dat Hy Jerusalem toe moet gaan en baie moet ly onder die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifgeleerdes, en dat Hy doodgemaak moet word, en die derde dag uit die dood opgewek moet word.

22Petrus het Hom toe opsy geneem en Hom begin berispe: “Mag God dit verhoed, Here! Dit sal beslis nie met U gebeur nie.”

23Maar Jesus het na Petrus toe gedraai en vir hom gesê: “Moenie in my pad staan nie, Satan! Jy is vir My 'n struikelblok, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê.”

Om Jesus te volg

(Mark. 8:34 – 9:1; Luk. 9:23-27)

24Toe sê Jesus vir sy dissipels: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, 25want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry. 26Wat sal dit 'n mens help as hy die hele wêreld as wins verkry maar sy lewe verloor, of wat sal 'n mens gee in ruil vir sy lewe? 27Die Seun van die mens gaan saam met sy engele kom. Hy sal beklee wees met dieselfde heerlikheid as sy Vader en sal elkeen volgens sy dade vergeld. 28Dit verseker Ek julle: Daar is party van dié wat hier staan wat beslis nie sal sterwe voordat hulle die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie.”

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS