Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 106

JESAJA 56–58, MATTEUS 17–19

Bybelteks(te)

Ek sal nog ander byvoeg

1So sê die Here:

Laat reg geskied, doen reg,

want die verlossing wat Ek bring, is al aan die kom,

en die redding wat Ek bewerk, gaan nou geopenbaar word.

2Dit gaan goed met die mens

wat die sabbat onderhou en dit nie ontheilig nie,

wat sorg dat hy niks verkeerds doen nie.

Dit gaan goed met die mens wat hom hieraan hou.

3'n Nie-Israeliet wat by die volk van die Here aangesluit het,

moenie dink: die Here sal my van sy volk afsny nie.

'n Ontmande moenie van homself dink:

ek is maar 'n droë boom nie.

4So sê die Here:

Aan die ontmandes wat my sabbatte onderhou,

wat kies vir wat Ek wil,

en wat lewe volgens my verbond,

5aan hulle sal Ek in my tempel en aan sy mure

'n teken gee, 'n erenaam wat beter is as seuns en dogters.

Ek sal aan sulke mense 'n naam gee

wat nie uitgewis sal word nie.

6Ek sal die nie-Israeliete wat by my volk aansluit

om My te dien, om my Naam lief te hê,

en om my dienaars te wees,

almal wat my sabbatte onderhou en dit nie ontheilig nie,

en wat lewe volgens my verbond,

7na my heilige berg toe bring.

Ek sal aan hulle vreugde gee in my huis van gebed,

hulle brandoffers, hulle offers

op my altaar sal vir My aanneemlik wees,

want my tempel sal uitgeroep word tot

'n huis van gebed vir al die volke.

8Die Here my God

wat die verstrooides van Israel bymekaarmaak, sê:

Ek sal nog ander byvoeg

by dié wat reeds bymekaargemaak is.

Hulle is herders sonder insig

9Kom verslind my volk, al julle wilde diere,

al julle diere in die bos!

10Dié wat oor my volk moet waak, is almal blind,

hulle weet niks nie.

Hulle is almal stom honde,

hulle kan nie blaf nie;

hulle lê net,

hulle wil net slaap.

11Hulle is gulsige honde,

hulle ken nie so iets soos genoeg kry nie.

Hulle is herders sonder insig,

hulle slaan elkeen sy eie koers in,

elkeen is op sy eie voordeel uit.

12Hulle sê: “Kom, hier is die wyn,

kom ons slaan die bier weg!

Môre sal soos vandag wees,

selfs nog baie beter.”

Julle is 'n broeisel leuenaars

1Die regverdige kom om,

en daar is niemand

wat dit ter harte neem nie;

dié wat aan die verbond getrou is,

sterf sonder dat iemand begryp

dat dit deur die boosheid in die wêreld is

dat die regverdiges sterf.

2Dié wat die reguit pad loop,

kom waar daar vrede is,

hulle rus in die graf.

3Maar kom julle nader hierheen,

kinders van 'n towerheks,

julle wat gebore is uit owerspel en hoerery!

4Met wie wil julle spot?

Teen wie wil julle grootpraat,

vir wie wil julle tong uitsteek?

Julle is niks anders as 'n klomp rebelle nie,

'n broeisel leuenaars!

5Julle dien die afgode

met julle wellus onder die groot bome,

onder elke groen boom.

Julle offer julle kinders in die laagtes

en onder die oorhangende rotse.

6Julle verkies die afgodsbeelde in die laagte,

daar soek julle julle deel.

Vir hulle bring julle drankoffers

en offer julle graanoffers.

Moet Ek My hiervoor oor julle ontferm?

7Op die hoë berge het jy 'n plek ingerig vir jou onsedelikheid

en daarheen opgeklim om offers te bring.

8Agter jou deure en aan jou kosyne

het jy beeldjies opgehang.

In jou ontrou aan My het jy jou kaal uitgetrek,

op jou bed geklim en vir jou minnaars plek gemaak.

Jy het jou verbind aan dié saam met wie jy graag geslaap het.

Jy het hulle naaktheid geniet.

9Jy het na Molek toe gegaan met olie

en met baie wierook;

jy het jou boodskappers na ver plekke toe gestuur,

selfs tot by die doderyk!

10Jou soekery het jou moeg gemaak;

tog het jy nie gesê: “Dit is sinloos!” nie.

Jou wellus het jou aanhou oorweldig,

daarom het jy nie opgehou nie.

11Vir wie was jy so bang en bevrees

dat jy vals geword het?

Jy dink nie meer aan My nie,

jy steur jou nie meer aan My nie.

Ek het lank geswyg

toe jy My nie meer gedien het nie,

12maar nou sal Ek jou skynheiligheid aan die kaak stel,

alles wat jy gedoen het,

en jou gode sal jou nie kan help nie.

13As jy om hulp roep,

moet jou spul gode jou kom red,

maar 'n wind waai hulle almal weg,

'n yl luggie vat hulle weg.

Maar wie by My skuil, sal die land besit

en my heilige berg as eiendom ontvang.

Ek sal hulle genees

14Die Here het gesê:

Vul die pad op, vul dit op, maak dit gereed!

Verwyder die struikelblokke uit die pad van my volk.

15So sê Hy wat hoog en verhewe is,

Hy wat ewig leef en wie se Naam die Heilige is:

Ek woon in 'n hoë en heilige plek

en Ek is by hom wat verdruk en nederig is.

Ek gee nuwe krag aan die nederiges,

Ek gee nuwe krag aan die verdruktes.

16Ek reken nie vir altyd sondes toe nie,

Ek bly nie vir altyd toornig nie,

want anders sou dit die einde beteken van die mens,

die mens aan wie Ek die asem gegee het.

17Ek het toornig geword oor my volk se sonde en hebsug,

Ek het hom geslaan en hom verlaat

omdat Ek toornig was.

Hy was opstandig en het sy eie koers ingeslaan.

18Ek het gesien wat met hom gebeur,

en Ek sal hom genees.

Dié van hom wat treur,

sal Ek lei en terugbring;

Ek sal vir hulle uitkoms gee.

19Ek stel hulle in staat om My weer te loof.

Vrede vir dié wat ver is, vrede vir dié wat naby is,

sê die Here.

Ek sal hulle genees.

20Maar die goddeloses is soos die onstuimige see

wat nie tot rus kan kom nie

en waarvan die golwe aanhou om slyk en modder uit te stoot.

21Vir die goddeloses is daar geen vrede nie,

sê my God.

Wys my volk op hulle oortredinge

1Die Here sê:

Roep uit volle bors,

moet niks verswyg nie!

Laat jou stem hoor, duidelik soos 'n ramshoring!

Wys my volk op hulle oortredinge,

die afstammelinge van Jakob op hulle sondes.

2Hulle vra wel elke dag na my wil,

asof hulle graag wil weet wat Ek van hulle verwag.

Hulle gee voor dat hulle 'n nasie is wat doen wat reg is

en hom aan die bepalings van sy God hou.

Hulle vra My wel om regverdige beslissings

asof hulle van my teenwoordigheid hou.

3Hulle vra:

“Waarom vas ons, maar U sien dit nie, verootmoedig ons ons, maar U gee nie aandag daaraan nie?”

Dit is omdat julle op die vasdae doen wat julle wil

en die mense wat vir julle werk, nog harder laat werk.

4Julle vasdae loop uit op twis en rusie,

julle dam mekaar met die vuis by.

Julle kan nie op hierdie manier vas

en dan verwag dat julle gebed verhoor sal word in die hemel nie.

5Is dit ál wat Ek op 'n vasdag wil hê:

net dat 'n mens homself verneder,

dat hy sy nek buig soos 'n biesie

en in sak en as sit?

Noem jy dít 'n vasdag,

'n dag waarvan die Here hou?

6Is die vas wat Ek wil hê, nie dít nie:

om dié wat onregverdig gevange gehou word, te bevry,

om die juk wat op mense druk, af te haal,

om verdruktes vry te maak,

om elke juk te breek?

7Is dit nie dat jy vir dié wat honger is,

van jou brood gee nie,

dat jy aan die armes en die dakloses 'n blyplek gee nie,

dat wanneer jy iemand sonder klere sien,

jy vir hom klere gee nie,

dat jy jou medemens nie aan sy lot oorlaat nie?

8Dan sal die lig vir jou deurbreek soos die rooidag,

jy sal gou herstel.

Hy wat jou red, sal voor jou uit gaan,

die mag van die Here sal agter jou aankom.

9Dan sal jy roep, en die Here sal antwoord,

jy sal om hulp roep, en Hy sal sê: Hier is Ek!

As jy sorg dat mense nie meer by jou verdruk word nie,

nie meer gedreig en vals beskuldig word nie,

10as jy jou wy aan dié wat honger het,

as jy voorsien in die behoeftes van dié wat in nood is,

sal die lig vir jou skyn wanneer dit donker is,

sal wat vir jou nag is, word soos die helder middag.

11Die Here sal jou altyddeur lei;

selfs in dor streke sal Hy in jou behoeftes voorsien.

Hy sal jou sterk maak.

Jy sal wees soos 'n tuin met volop water,

soos 'n fontein waarvan die water nie opdroog nie.

12Jou mense sal die ou puinhope herbou,

die fondamente herstel wat al geslagte lank bestaan.

Jy sal bekend staan as 'n volk wat sy afgebreekte mure herbou,

wat sy strate herstel sodat daar weer mense kan woon.

13As jy nie op die sabbat oortree nie,

op my heilige dag doen net wat jy wil nie,

as jy die sabbat 'n vreugde noem,

as jy die heilige dag van die Here in ere hou,

as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie,

nie te doen net wat jy wil nie,

en nie handel dryf nie,

14sal jy vreugde vind in die Here.

Ek sal jou die land weer in besit laat neem,

Ek sal jou laat eet van die opbrengs van die land van jou vader Jakob.

Ek, die Here, het dit gesê.

Die verheerliking op die berg

(Mark. 9:2-8; Luk. 9:28-36)

1Ses dae later het Jesus vir Petrus en Jakobus en sy broer Johannes saamgeneem en hulle op 'n hoë berg gebring waar hulle alleen was. 2Daar het sy voorkoms voor hulle oë verander: sy gesig het begin straal soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig. 3Skielik het Moses en Elia aan hulle verskyn en met Jesus gepraat.

4Toe sê Petrus vir Jesus: “Here, dit is goed dat ons hier is. As U wil, sal ek hier drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia.”

5Terwyl hy nog praat, het 'n helderligte wolk skielik sy skaduwee oor hulle gegooi, en 'n stem uit die wolk het gesê: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom.”

6Toe sy dissipels dit hoor, het hulle baie bang geword en op die grond neergeval. 7Maar Jesus het na hulle toe gekom, hulle aangeraak en gesê: “Staan op en moenie bang wees nie.”

8Toe hulle opkyk, het hulle niemand gesien nie, net Jesus alleen.

Die koms van Elia

(Mark. 9:9-13)

9Terwyl hulle van die berg afkom, het Jesus hulle beveel: “Wat julle gesien het, moet julle vir niemand vertel voordat die Seun van die mens uit die dood opgewek is nie.”

10Die dissipels vra Hom toe: “Waarom sê die skrifgeleerdes dan dat Elia eers moet kom?”

11“Elia kom wel om alles weer reg te maak,” antwoord Hy, 12“maar Ek sê vir julle Elia het al gekom, maar hulle het hom nie herken nie en met hom gemaak net wat hulle wou. So sal ook die Seun van die mens deur hulle mishandel word.”

13Toe het die dissipels verstaan dat Hy met hulle van Johannes die Doper gepraat het.

Jesus maak 'n seun gesond

(Mark. 9:14-29; Luk. 9:37-43)

14Toe hulle weer by die mense kom, het 'n man voor Hom kom kniel 15en gesê: “Here, ontferm U tog oor my seun, want hy is geestelik versteurd en hy ly verskriklik. Hy val dikwels in die vuur en dikwels in die water. 16Ek het hom al na u dissipels toe gebring, en hulle kon hom nie gesond maak nie.”

17“Ongelowige en ontaarde geslag,” het Jesus gesê, “hoe lank moet Ek nog saam met julle wees? Hoe lank moet Ek julle nog verdra? Bring hom hier vir My!”

18Jesus het die bose gees skerp aangespreek, en die bose gees het van die seun af weggegaan. Van daardie oomblik af het die seun gesond geword.

19Die dissipels het toe alleen na Jesus toe gekom en gevra: “Waarom kon ons hom nie uitdryf nie?”

20“Omdat julle geloof te klein is,” sê Hy vir hulle. “Dit verseker Ek julle: As julle maar geloof het so groot soos 'n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê: ‘Gaan staan daar anderkant!’ en hy sal gaan. Niks sal vir julle onmoontlik wees nie.”

Jesus kondig die tweede keer sy dood en opstanding aan

(Mark. 9:30-32; Luk. 9:43-45)

22Toe die dissipels weer in Galilea bymekaar was, het Jesus vir hulle gesê: “Die Seun van die mens gaan oorgelewer word in die hande van mense, 23en hulle sal Hom doodmaak, en op die derde dag sal Hy uit die dood opgewek word.”

Hieroor het hulle baie bedroef geword.

Die tempelbelasting

24By hulle aankoms in Kapernaum het die amptenare wat die tempelbelasting invorder, na Petrus toe gegaan en gesê: “Wat van julle leermeester? Betaal hy dan nie tempelbelasting nie?”

25“Ja, natuurlik,” antwoord hy.

Toe hy in die huis kom, was Jesus hom voor met die vraag: “Simon, hoe dink jy: Van wie vorder die konings van die wêreld tol of belastings in? Van hulle seuns of van ander mense?”

26Toe Petrus antwoord: “Van ander mense,” sê Jesus vir hom: “Dan is die seuns mos vrygestel. 27Maar ons moenie hierdie mense aanstoot gee nie. Gaan see toe en gooi hoek in, en die eerste vis wat byt, moet jy uittrek. As jy sy bek oopmaak, sal jy 'n silwermuntstuk daarin kry. Vat dit en betaal hulle die belasting vir My en vir jou.”

Die belangrikste in die koninkryk

(Mark. 9:33-37; Luk. 9:46-48)

1In daardie tyd het die dissipels by Jesus gekom met die vraag: “Wie is die belangrikste in die koninkryk van die hemel?”

2Hy het 'n kindjie nader geroep en hom tussen hulle laat staan 3en gesê: “Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie. 4Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel. 5En wie so 'n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My.”

Aanleiding tot afvalligheid

(Mark. 9:42-48; Luk. 17:1-2)

6“Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, van My afvallig maak, vir hom is dit beter as hy met 'n groot meulsteen aan sy nek in die diep see verdrink. 7Hoe jammer tog vir die wêreld dat daar dinge is wat die mens afvallig maak! Sulke dinge kom noodwendig, maar wee die mens deur wie dit kom.

8“As jou hand of jou voet jou van My afvallig maak, kap hom af en gooi hom van jou af weg. Dit is vir jou beter om vermink of kreupel die lewe in te gaan as om met altwee jou hande of voete in die ewige vuur gegooi te word. 9En as jou oog jou van My afvallig maak, ruk hom uit en gooi hom van jou af weg. Dit is vir jou beter om met een oog die lewe in te gaan as om met altwee oë in die vuur van die hel gegooi te word.”

Die gelykenis van die verlore skaap

(Luk. 15:3-7)

10“Julle moet nooit een van hierdie kleintjies minag nie, want Ek verseker julle dat hulle engele in die hemel gedurigdeur by my hemelse Vader is.

12“Hoe dink julle? As iemand honderd skape het en een van hulle raak weg, sal hy nie die nege en negentig daar in die bergveld laat staan en die een wat weg is, gaan soek nie? 13En as hy hom kry, verseker Ek julle, is hy blyer oor hom as oor die nege en negentig wat nie weggeraak het nie. 14So is dit ook nie die wil van julle Vader in die hemel dat een van hierdie kleintjies verlore moet gaan nie.”

'n Broer wat sondig

(Luk. 17:3)

15“As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen. 16Maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat alles wat gesê word, deur die woord van twee of drie getuies bevestig kan word. 17En as hy na hulle nie luister nie, sê dit vir die gemeente. As hy ook na die gemeente nie luister nie, moet jy hom as 'n heiden en 'n tollenaar behandel.

18“Dit verseker Ek julle: Wat julle ook al op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat julle ook al op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly. 19Verder verseker Ek julle: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry, 20want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.”

Die plig om te vergewe

21Daarna het Petrus na Jesus toe gekom en gevra: “Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?”

22Jesus antwoord hom: “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer. 23Daarom kan die koninkryk van die hemel vergelyk word met 'n koning wat besluit het om saam met sy amptenare hulle boeke na te gaan. 24Toe hy daarmee begin, is een amptenaar na hom toe gebring wat miljoene rand geskuld het. 25Hy kon dit nie betaal nie, en daarom het die koning beveel dat hy en sy vrou en sy kinders en alles wat hy het, verkoop en die skuld betaal moet word. 26Die man het voor hom neergeval en gesoebat: ‘Gee my tog uitstel; ek sal u alles terugbetaal.’ 27Die koning het hom jammer gekry, hom laat gaan en sy skuld afgeskryf.

28“Toe daardie man buite kom, het hy een van sy medeamptenare raakgeloop wat hom net 'n paar rand geskuld het. Hy het hom gegryp en gewurg, en gesê: ‘Betaal wat jy skuld!’ 29Sy medeamptenaar het voor hom neergeval en hom gesmeek: ‘Gee my tog uitstel, ek sal jou betaal.’ 30Maar hy wou nie en hy is daar weg om hom in die tronk te laat gooi totdat hy die skuld betaal het.

31“Toe sy medeamptenare sien wat gebeur het, was hulle diep teleurgesteld, en hulle het alles wat gebeur het, vir hulle koning gaan vertel. 32Die koning het hom laat haal en vir hom gesê: ‘Jou skurk! Al daardie skuld het ek vir jou afgeskryf omdat jy my gesoebat het. 33Moes jy nie ook jou medeamptenaar jammer gekry het soos ek jou jammer gekry het nie?’ 34Die koning was woedend en het hom oorgegee om gemartel te word totdat hy al die skuld betaal het.

35“So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.”

Gesprek oor egskeiding

(Mark. 10:1-12)

1Nadat Jesus klaar gepraat het, het Hy uit Galilea vertrek en in die gebied van Judea anderkant die Jordaan gekom. 2Groot menigtes het agter Hom aan gegaan, en Hy het hulle daar gesond gemaak.

3Daar was Fariseërs wat Hom op die proef wou stel, en hulle kom toe by Hom met die vraag: “Mag 'n man sommer oor enige ding van sy vrou skei?”

4Hy het hulle geantwoord: “Het julle nie gelees dat die Skepper hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie? 5Daarby het Hy gesê: ‘Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe en hulle twee sal een wees.’ 6Hulle is dus nie meer twee nie, maar een. Wat God dan saamgevoeg het, mag 'n mens nie skei nie.”

7Hulle vra Hom toe: “Waarom het Moses dan bepaal dat, as iemand sy vrou 'n skeibrief gee, hy van haar kan skei?”

8Hy antwoord hulle: “Dit is oor die hardheid van julle harte dat Moses julle toegelaat het om van julle vrouens te skei, maar dit was nie van die begin af so nie. 9Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor owerspel, en met 'n ander een trou, pleeg egbreuk.”

10Sy dissipels sê toe vir Hom: “As dit is hoe die saak met man en vrou staan, is dit beter om nie te trou nie.”

11Maar Hy sê vir hulle: “Wat julle nou sê, is nie vir almal moontlik nie, net vir dié aan wie dit gegee is. 12Daar is mense wat nie kan trou nie omdat hulle van hulle geboorte af so is, ander is deur mense so gemaak, en ander het self so gekies ter wille van die koninkryk van die hemel.

“Wie dit kan doen, laat hy dit doen.”

Jesus seën die kindertjies

(Mark. 10:13-16; Luk. 18:15-17)

13Die mense het kindertjies na Hom toe gebring dat Hy hulle die hande moet oplê en vir hulle moet bid. Sy dissipels het met hulle daaroor geraas.

14Maar Jesus het gesê: “Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle.”

15Nadat Hy hulle die hande opgelê het, het Hy daarvandaan weggegaan.

Die ryk jongman

(Mark. 10:17-31; Luk. 18:18-30)

16Daar het iemand na Hom toe gekom en gesê: “Meneer, watter goeie daad moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”

17Hy het vir hom gesê: “Waarom vra jy My uit oor wat goed is? Daar is net Een wat goed is. Maar as jy die ewige lewe wil ingaan, onderhou die gebooie.”

18“Watter gebooie bedoel u?” het hy vir Hom gevra.

Jesus het gesê: “Dit: Jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis aflê nie, 19eer jou vader en jou moeder en: jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

20“Dit alles het ek nagekom,” het die jongman gesê. “In watter opsig skiet ek nog te kort?”

21Jesus het hom geantwoord: “As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou besittings en gee die geld vir die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My.”

22Toe die jongman dit hoor, het hy bedruk weggegaan, want hy het baie besittings gehad.

23Jesus het toe vir sy dissipels gesê: “Dit verseker Ek julle: 'n Ryk mens sal moeilik in die koninkryk van die hemel kom. 24Ek stel dit nog sterker: Dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te kom as vir 'n ryke om in die koninkryk van God te kom.”

25Toe die dissipels dit hoor, het dit hulle geweldig ontstel, en hulle het gesê: “Wie kan dan gered word?”

26Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: “Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik.”

27Toe sê Petrus vir Hom: “Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal ons daarvoor kry?”

28Jesus antwoord hulle: “Dit verseker Ek julle: Wanneer alles nuut gemaak word, as die Seun van die mens op sy koninklike troon sit, sal ook julle wat My gevolg het, op twaalf trone sit en oor die twaalf stamme van Israel regeer. 29En elkeen wat ter wille van my Naam afgesien het van huise of broers of susters of vader of moeder of kinders of grond, sal honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe as erfenis kry.

30“Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.”

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS