Soos 'n herder versorg Hy sy kudde
1Die uitkoms is hier!
Die uitkoms is hier!
Dit, sê julle God, moet julle vir my volk sê.
2Bring vir Jerusalem die goeie tyding,
sê vir hom
sy swaarkry is verby,
hy het geboet vir sy sonde,
hy het van die Here die volle straf ontvang
vir al sy sondes.
3Iemand roep:
“Maak vir die Here 'n pad in die woestyn,
maak in die barre wêreld 'n grootpad vir ons God!
4Elke laagte moet opgevul word,
elke berg en rant moet gelykgrond word.
Elke bult moet 'n gelykte word
en elke koppie 'n vlakte.
5Dan sal die mag van die Here geopenbaar word;
al wat leef, sal dit sien.
Die Here self het dit gesê.”
6Iemand sê: “Roep!”
En ek vra:
“Wat kan ek roep?
Alle mense is soos gras,
alles waarop hulle staatmaak, is soos 'n veldblom:
7gras verdor en blomme verwelk
as die Here sy wind daaroor laat waai.”
Dit ís so, die volk is soos gras.
8Gras verdor en blomme verwelk,
maar die woord van ons God bly vir ewig.
9Klim op 'n hoë berg en roep hard, Sion,
jy wat die goeie tyding moet bring;
roep hard, Jerusalem,
jy wat die goeie tyding moet bring,
moenie bang wees nie.
Sê vir die stede van Juda:
“Julle God is hier!”
10Die Here God kom,
Hy is die Magtige, Hy regeer.
Hy bring die volk saam wat Hy Syne gemaak het,
dié wat aan Hom behoort, is by Hom.
11Soos 'n herder versorg Hy sy kudde:
die lammers maak Hy bymekaar in sy arms
en Hy dra hulle teen sy bors,
Hy sorg vir die lammerooie.
Met wie kan julle God vergelyk?
12Wie het die waters in die holte van sy hand afgemeet,
met die breedte van sy hand die maat van die hemel bepaal,
met 'n maatemmer die grond van die aarde afgemeet,
met 'n skaal die berge en die heuwels geweeg?
13Wie kan die Gees van die Here peil,
wie kan sy raadgewer wees?
14Vir wie raadpleeg Hy
dat dié Hom tot insig sou bring
en Hom sou leer wat om te doen?
Wie leer Hom en onderrig Hom
dat Hy met insig kan optree?
15Die nasies is vir Hom soos 'n druppel aan 'n emmer,
soos 'n stoffie op 'n skaal.
As Hy die eilande op 'n skaal sit,
is hulle soos stofdeeltjies.
16Al die hout op die Libanon
is nie genoeg vir vuur op die altaar nie
en al die wild nie genoeg vir 'n offer aan die Here nie.
17Al die nasies is soos niks teenoor Hom,
hulle is vir Hom minder as niks, asof hulle nie bestaan nie.
18Met wie kan julle God dan vergelyk?
Met watter beeld kan julle Hom gelykstel?
19'n Beeld word deur 'n ambagsman gegiet
en deur 'n smid met goud oorgetrek
en met silwerkettinkies versier.
20Wie te arm is vir so 'n offer aan sy god,
kies hout wat nie vrot nie
en soek vir hom 'n bedrewe ambagsman
om vir hom 'n beeld te maak wat nie omval nie!
21Weet julle dan nie,
het julle nie gehoor nie,
is dit nie van die begin af aan julle bekend gemaak nie,
het julle nie 'n begrip van hoe die aarde ontstaan het nie?
22God het sy troon bokant die hemelkoepel,
die aardbewoners is vir Hom soos sprinkane.
Hy span die hemel oop soos 'n tentdoek,
oop soos 'n tent vir die mense om onder te woon.
23Hy maak die vername mense tot niks,
die heersers van die wêreld asof hulle nie bestaan nie.
24Skaars is hulle geplant, skaars is hulle gesaai,
skaars het hulle wortelgeskiet,
of Hy blaas sy asem oor hulle, en hulle verdor,
die stormwind vat hulle weg soos stoppels.
25Met wie kan julle My dan vergelyk,
wie is soos Ek? vra die Heilige.
26Kyk op na die hemel:
wie het die sterre geskep?
Hy wat die hemelse leër laat uittrek in hulle volle getal,
dit is Hy wat hulle elkeen gemaak het.
Met sy groot krag, sy groot mag,
sorg Hy dat geeneen van hulle ontbreek nie.
27Waarom sê jy dan, Jakob,
waarom kla jy, Israel:
“Die Here sien nie raak wat van my word nie,
my reg gaan by my God verby”?
28Weet jy dan nie,
het jy nog nie gehoor nie?
Die Here is die ewige God,
Skepper van die hele aarde.
Hy word nie moeg nie,
Hy raak nie afgemat nie
en sy insig is ondeurgrondelik.
29Hy gee die vermoeides krag,
Hy versterk dié wat nie meer kan nie.
30Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat,
selfs manne in hulle fleur struikel en val,
31maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag.
Hulle vlieg met arendsvlerke,
hulle hardloop en word nie moeg nie,
hulle loop en raak nie afgemat nie.