Nuwejaar – Dag 11
“Encore, encore!”
Bybelteks(te)
ROMEINE 3
Daar is ʼn apokriewe verhaal oor ʼn bekende (en reeds gestorwe) opersanger wat op ʼn keer in die La Scala Operahuis in Italië gesing het. Toe hy klaar gesing, skree die gehoor “Encore! Encore!” en baie in sy noppies oor die ovasie, sing die man toe weer. Nog was dit nie die einde nie. Hulle encore hom weer en weer. En uiteindelik, poegaai gesing, sê hy vir die gehoor, hy is so bly hulle geniet sy sang so baie, maar hy kan nie meer nie. Staan een van die uitgelese gehoor op en sê toe: “Mr X, you shall-a sing-a it, until-a you sing-a it right!”
Ai soms voel elkeen van ons so. Kan ons dan niks reg doen nie? Moet ons elke keer dieselfde foute in die lewe maak? Selfs ʼn donkie stamp nie sy voet teen dieselfde klip nie. Hoekom leer ons nie uit ons foute nie?
Daar is egter ʼn ander verhaal van die twee ou omies wat elke aand huisgodsdiens gehou het en aan die einde ʼn Psalm gesing het maar so vals dat hoor en sien vergaan het. Op ʼn dag kom die bure toe daaraan en sê vir die omies dat hulle met plesier huisgodsdiens kan hou maar hulle moet tog net nie sing nie. So gesê en so gedaan. Een aand klop daar ʼn engel aan die deur en met trane in sy oë sê hy: “Hoekom sing julle nie meer nie?” “Maar ons sing dan so vals dat die bure gesê het ons moet ophou sing.” “Ai tog,” sê die engel. “Het julle dan nie geweet nie: elke aand as julle so vals sing het ʼn hele skare engele bokant die plafon gewag en elke vals nootjie omskep tot die allerskoonste hemelse klanke vir die Hemelse Vader se oor.”
So kom God en sy engele ons swakhede tegemoet, tot God se stem in ons uiteindelik “ryp tot ʼn lied” en ʼn hemelse simfonie God loof met met elke noot volmaak op sy plek.