Bible Society of South Africa
Louise Gevers

Maak ʼn verskil – Dag 7

Op julle merke, gereed, maak ʼn verskil!

Bybelteks(te)

1 PETRUS 1

Oproep om heilig te lewe

13Wees daarom verstandelik wakker en nugter, en vestig julle hoop volkome op die genade wat julle deel sal word by die wederkoms van Jesus Christus.

1 PETRUS 1:13AFR83Maak oop in die Bybelleser

1 PETRUS 5

Weerstaan die duiwel, God sal die krag gee

8Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.

1 PETRUS 5:8AFR83Maak oop in die Bybelleser

MATTEUS 28

19Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en

MATTEUS 28:19AFR83Maak oop in die Bybelleser

“Wees daarom verstandelik wakker en nugter, en vestig julle hoop volkome op die genade wat julle deel sal word by die wederkoms van Jesus Christus.” 1 Petrus 1:13

Was jy al ooit in ʼn situasie waar jy graag ʼn verskil deur ʼn positiewe bydrae wou maak, maar uiteindelik was jy teleurgesteld in jou bydrae en in jouself? Dit het al ʼn paar keer met my gebeur en ek wonder of dit net met my gebeur?

Kyk ek terug na een van hierdie kere wat my teleurgestel het, besef ek dat alhoewel ek daaroor gebid het en dit in geloof aangepak het, ek miskien nie my rol in die situasie goed deurdink het nie. Soms, êrens tussen gebed en doen, word ons aandag deur ander dinge afgelei en verloor ons soms ons fokus en dink nie nugter oor sake nie.

Onlangs, terwyl ek na die rugbywedstryd tussen ons nasionale span en die heersende wêreldkampioene gekyk het, het ek besef dat daar ʼn behoefte was aan mense wat verstandelik wakker is en nugter kan dink. Verwarring en ʼn gebrek aan fokus het meegebring dat ons span verskeie belangrike geleenthede verloor het om ʼn verskil in die wedstryd te kan maak.

Die feit is dat ons een honderd persent moet gee indien ons ʼn verskil wil maak en dit begin in ons denke. Dit is dus nie ʼn verrassing wanneer Petrus vir Christene die volgende sê nie: “Wees daarom verstandelik wakker en nugter, en vestig julle hoop volkome op die genade wat julle deel sal word …” Hy weet dat alhoewel God sy kinders toegerus het om sukses te behaal in die uitdagings van hierdie wêreld, praktiese instruksies tog nodig is, “want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ʼn brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.” (1 Petrus 5:8)

Ons moet die Here vra om ons te help om verstandelik wakker te wees. Dit sal ons ook help om nugter te kan dink. Ons moet ons swakhede voor ons hemelse Vader bely en vasstaan teen die aanvalle van die duiwel. Om verstandelik wakker te wees, nugter te dink, en ons hoop te vestig op dit waarvan ons deel sal word by die wederkoms van Christus, help ons om die uitkoms te verfyn.

Jesus het vir ons ʼn verskil in hierdie lewe gemaak. Hy het die kettings wat ons gevange hou, gebreek; Hy het ons van sonde bevry en ons uit die donkerte na die wonderlike lig gelei. Hy gee aan ons, sy volgelinge, die opdrag om dieselfde te doen. Jesus wil hê dat ons die sout en die lig vir die wêreld moet wees (Matteus 5:13-14) en Hy gee aan ons die opdrag: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” (Matteus 28:19)

Sal jy dit doen?

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS