Bible Society of South Africa
Louise Gevers

Maak ʼn verskil – Dag 6

Maak ʼn verskil omdat jy Hom liefhet

Bybelteks(te)

1 PETRUS 1

8-9Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met 'n onuitspreeklike en heerlike blydskap.

1 PETRUS 1:8-9AFR83Maak oop in die Bybelleser

JAKOBUS 1

Versoeking en verleiding

12Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet.

JAKOBUS 1:12AFR83Maak oop in die Bybelleser

“Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ʼn onuitspreeklike en heerlike blydskap.” 1 Petrus 1:8-9

Het jy al ooit iemand liefgehad wat jy nog nooit ontmoet het nie? Sommige mense het sportsterre, filmsterre of koninklikes lief, soos moeder Teresa, prinses Diana of Hansie Cronjé. Hierdie “liefde” is waarskynlik eerder bewondering of heldeverering want dit wat hulle in hul lewens gedoen het, is inspirerend. Dit is nie ʼn liefde wat van beide kante kom nie. Ons weet dat dit moontlik is vir ʼn moeder om haar baba lief te kry wanneer hy nog in die baarmoeder is en hom dan vir die res van sy lewe lief te hê, maar ons weet ook dat sommige moeders hulle babas se lewens deur aborsie beëindig.

Petrus het waarlik deur die Heilige Gees ʼn diepe insig gekry in die omstandighede van Christene wat Jesus liefhet alhoewel hulle Hom nog nooit gesien het nie, en wat nou vir Hom vervolg word. Petrus het Jesus persoonlik geken en het vir drie jaar saam met Hom geleef en gewerk en hy het geweet dat hy Jesus liefhet. Hy het Jesus selfs in dié tyd verloën en het die vreugde van Jesus se vergifnis ervaar. Hy was teenwoordig by die kruisiging en het Jesus weer na sy opstanding gesien. In hierdie vers bemoedig hy Christene wat Hom nog nooit gesien het nie.

Kan jy met hierdie teksvers identifiseer?

Ek weet dat toe ek dit vir die eerste keer gelees het, was dit asof iemand wat my baie goed ken diep in my hart kon sien en toe my reaksie op Jesus, my Verlosser, beskryf het. Dit het my met vreugde vervul en daardie vers vervul my steeds met groot blydskap!

Indien ek egter toe dieper daaroor nagedink het, “… het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is”, sou hierdie wonderlike gewaarwording vir my meer sin gemaak het. Die wonderlike is dat om Christus aan te neem, is ʼn onmiddellike ervaring van Jesus se teenwoordigheid in ons lewens – die proses van verlossing begin nou hier op aarde reeds! Jesus seën ons nou reeds met oorvloedige lewe en verander ons uitkyk op alles. Volgens Johannes 10:10 weet ons waarheen ons op pad is en wat Hy ons beloof het. In Jakobus 1:12 staan geskryf: “Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet.”

Daar is so baie mense wat Jesus nie persoonlik ken nie en wat nog nie die blydskap, hoop en die grootste geskenk van die lewe ervaar nie. Wat kan jy doen om ʼn verskil vir hulle te maak?

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS