Maak ʼn verskil – Dag 4
Maak ʼn verskil deur geloof
Bybelteks(te)
1 PETRUS 1
Die lewende hoop en die egte geloof
HEBREËRS 11
Wat geloof is
HEBREËRS 11
EKSODUS 14
Die Here red die Israeliete
“Nou het ons ʼn lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word. En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word.” 1 Petrus 1:3(b)-5
Gister het ons verwys na hoop en hoe dit soms die enigste ding is waaraan mense kan vashou wanneer alles lyk asof dit verlore is. Vlugtelinge oor die wêreld heen soek skuiling buite hulle geboorteland gedryf deur die hoop om êrens veiligheid vir hulle en hulle gesinne te vind. Dikwels is daar ʼn ander element wat by hoop gevoeg kan word: geloof. Vandag kyk ons hoe geloof en hoop met mekaar skakel.
In Hebreërs 11:1 lees ons: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” En in Hebreërs 11:6 staan geskryf: “As ʼn mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.”
Dit was sekerlik geloof gekoppel met hoop om haar kinders te red, wat ʼn dapper moeder gelei het om met haar klein kindertjies duisende kilometers van Rwanda na Suid-Afrika te stap. Slegs die Here kon hulle help om van die gruwels en geweld in hulle eie land te ontsnap en veilig by hulle bestemming aan te kom. Hy het dit gedoen en dit het hulle lewens verander!
Mense wat in geloof handel, maak ʼn verskil want hulle kan die groter prentjie sien en hulle “sien” verder as hulle beperkte omstandighede. Hulle vestig hulle hoop in Iemand groter as hulleself. Wanneer ons ons geloof en hoop in God vestig, word ons deur die krag van God beskerm en sal Hy voortgaan om ons te beskerm totdat Jesus weer kom en die saligheid volkome geopenbaar word. Maar ons geloof moet aktief wees. Dit was vir my ʼn verrassing om te sien dat die manier hoe Moses in geloof opgetree het, soortgelyk was as wat die geval dikwels met ons is.
Moses het deur geloof die Israeliete uit Egipte gelei. Hy het God geken en wou aan Hom gehoorsaam wees. Maar na hulle vertrek het die Egiptenare hulle agtervolg en die Israeliete was beangs toe hulle dit besef (sou ons nie ook bang gewees het nie) en het God aangeroep om hulle te red. “Toe het die Here vir Moses gesê: ‘Waarom roep julle so benoud na My? Sê vir die Israeliete hulle moet verder trek. En jy, lig jou kierie op en steek jou hand oor die see uit en kloof dit oop sodat die Israeliete op droë grond kan deurgaan.’ ” (Eksodus 14:15-16)
God het die volmaakte plan vir hulle veiligheid gehad, maar Moses en die Israeliete het die uitvoer daarvan belemmer omdat hulle in vrees stilgestaan het in stede van om vorentoe te beweeg. Eers toe hulle gehoorsaam het, en letterlik in geloof vorentoe beweeg het, is hulle gered.
Verhinder ons nie ook soms God se volmaakte plan omdat ons te bang is om te doen wat Hy ons sê om te doen nie? Indien ons ʼn verskil wil maak, is dit noodsaaklik om aktief in ons geloof te wees en om te verseker dat ons daarin groei.