Bible Society of South Africa
Louise Gevers

Maak ʼn verskil – Dag 21

Maak ʼn verskil deur te smag na dit wat goed is

Bybelteks(te)

1 PETRUS 2

2Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan opgroei en die saligheid verkry. 3Julle het immers ondervind dat die Here goed is.

1 PETRUS 2:2-3AFR83Maak oop in die Bybelleser

2 PETRUS 3

18Sorg daarenteen dat julle steeds toeneem in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.

Aan Hom behoort die heerlikheid, nou en tot in ewigheid! Amen.

2 PETRUS 3:18AFR83Maak oop in die Bybelleser

JESAJA 55

2Waarom betaal julle vir iets wat nie brood is nie,

waarom werk julle vir iets wat nie kan versadig nie?

Luister aandagtig na My, sodat julle kan eet wat goed is

en versadig kan word met die beste wat daar is.

“Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan opgroei en die saligheid verkry. Julle het immers ondervind dat die Here goed is.” 1 Petrus 2:2-3

Watter land jy ook al vandaan kom, daar is heel waarskynlik ʼn tradisionele dis wat mense met jou land assosieer. Baie mense hou daarvan om eksotiese disse te probeer, en sien soms met verwagting uit om sekere lande te besoek net om die oorspronklike kos te ervaar. Dit is egter interessant dat pasgebore babas regoor die wêreld hulle lewe met dieselfde kos begin – melk – en niemand sal dit oorweeg om vir hulle ʼn sny pizza, ʼn koeksister of ʼn bord kerrie en rys te gee nie!

Die rede hiervoor is eenvoudig: Om te groei en te floreer beteken dat dit belangrik is om te kry wat jy nodig het in elke stadium van jou lewe. Alhoewel ʼn pasgebore baba nog nie tande het nie en sy spysverteringstelsel nog onvolwasse is, weet hy wanneer hy honger is en dat hy baie kos nodig het, iets wat moedersmelk wonderbaarlik voorsien.

Reg van die begin is babas ʼn wonderwerk: bevrugting is ʼn wonderwerk; die kleintjie se ontwikkeling in die baarmoeder uit ʼn klein selletjie; die ongelooflike oomblik van geboorte wanneer hy vir die eerste keer asem haal, huil en op sy ma se bors geplaas word. Daar is baie wat hierdie babatjie instinktief doen wat hom in staat stel om aan die lewe te bly en te floreer, tot die groot verligting van sy onervare ouers! Die baba sal gereeld wakker word en huil omdat hy honger is, en nie weer aan die slaap raak voordat daardie behoefte nie bevredig is nie; en deur die melk wat hy inkry sal jy voor jou oë kan sien hoe hy groei.

Petrus gebruik hierdie analogie om sy lesers aan te moedig om te groei. Hulle het eerstehands die goedheid van die Here en die wonder van weergeboorte ervaar. Hy wil nou verseker dat hulle die regte beginsels in plek het sodat hulle in hierdie ervaring kan groei en in hulle geloof en verlossing kan floreer. “Sorg daarenteen dat julle steeds toeneem in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.” (2 Petrus 3:18) Hy wil dat hulle smag en verlang na die regte kos op die regte tyd, soos moedersmelk wat die gesondste bestanddele het en altyd die regte temperatuur is. Net soos ʼn baba moet hulle ook gereeld gevoed word – een keer ʼn week sal rampspoedig wees want die baba sal van honger doodgaan! “Luister aandagtig na My, sodat julle kan eet wat goed is en versadig kan word met die beste wat daar is.” (Jesaja 55:2b)

Hoekom smag na iets wat nie geskik is vir jou nie en jou nie sal bevredig nie, maar jou stelselmatig sal verswak en jou sal laat sterf?

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS