Maak ʼn verskil – Dag 22
Maak ʼn verskil deur lewend te word
Bybelteks(te)
1 PETRUS 2
ROMEINE 12
Die nuwe lewe in Christus
MATTEUS 23
Jesus kondig hulle straf aan
MATTEUS 25
“Kom na Hom toe, die lewende steen, wat deur die mense afgekeur is, maar deur God vir die ereplek uitverkies is. Laat julle as lewende stene opbou tot ʼn geestelike huis, om ʼn heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is.” 1 Petrus 2:4-5
Stel jou voor jy sien die mooiste, asemrowendste steen ooit. Dit is in alle opsigte ontsagwekkend: Dit is ʼn lewende steen. Dit is die mees uitsonderlike steen in ʼn huis wat van steen gebou is. Dit verhoog die prag van die huis en dit beskik oor ʼn besondere kwaliteit om al die ander stene in daardie gebou in plek te hou. Nie net dit nie, maar al die ander stene is ook lewend, en as jy versigtig kyk sal jy sien dat deur die prag wat van die mooiste een – die hoeksteen – weerkaats, al die ander stene besig is om te verander in iets buitengewoon, iets wat al hoe meer van die mooiste steen se prag bevat.
Laat dit jou nie met ʼn gevoel van ontsag en ekstase as jy besef dat dit hier oor Jesus en ons gaan nie?
Deur hierdie analogie gee Petrus ʼn wonderlike illustrasie van geestelike potensiaal wat ʼn werklikheid kan word wanneer ons na Jesus, die lewende Steen, gaan. Nie net word ons soos Hy nie, maar ons word ook ʼn integrale deel van sy werk wanneer Hy ons opbou as mense wat vir Hom uitverkies is en wat offervaardig leef om sy doel op aarde te volbring (Romeine 12:1).
Dit is ʼn fassinerende gedagte om te dink dat ons moet sterf om te leef. Alhoewel ons lewende wesens is, is ons dood as gevolg van die sonde totdat ons na Jesus toe kom, en Hy ons lewendig maak. Die eie ek moet egter sterf sodat ons kan leef om Hom te dien, maar wanneer ons hier op aarde sterf sal ons vir ewig saam met Hom in die hemel leef. Wanneer ons hier gesterf het, kan ons nie meer ʼn verskil op aarde maak nie. Die tyd om lewend te word, is nou, sodat ons ʼn verskil kan maak waar ons ook al geroep word om Hom te dien en vir solank ons tyd hier op aarde mag wees. Om God te dien, is ʼn voorreg wat aan die lewendes behoort en nie aan die dooies nie.
Jesus het die Fariseërs “witgeverfde grafte” genoem “wat van buite mooi lyk maar daarbinne vol doodsbene en allerhande onsuiwerheid is (…) van buite lyk julle vir mense vroom, maar van binne is julle vol huigelary en minagting van die wet.” (Matteus 23:27-28) Hy het hulle verder berispe: “Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars!” (vers 29) Hoe tragies is dit om wel God se wet te ken, maar nie die gees daarvan uit te leef nie en dus nie ʼn verskil maak nie.
ʼn Mens sien die verskil in Jesus se gelykenis van die getroue slaaf. Toe sy eienaar terugkom van sy reis, het hy die slaaf se toegewydheid en die verskil wat hy in sy afwesigheid gemaak het, met die volgende woorde geprys het: “Mooi so! Jy is ʼn goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!” (Matteus 25:21)
Wat hoop jy om eendag van die Here te hoor?